S v Vokaendleleni (486/1994) [1995] ZASCA 90 (8 September 1995)


Saak nr 486/94 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

DANIEL VOKAENDLELENI APPELLANT

-en-

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: Hefer, Vivier ARR et Van Coller Wn AR. VERHOOR: 31 Augustus 1995. GELEWER: 8 September 1995.

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2

VIVIER AR:

Die appellant is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling deur Swart R en assessore aan moord (aanklag 1) en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie (aanklagte 2 en 3) skuldig bevind. Op die moordaanklag is hy tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis. Op aanklagte 2 en 3, wat saamgeneem is vir doeleindes van vonnis, is hy tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis en dit is gelas dat een jaar daarvan moet saamloop met die vonnis op aanklag 1. Met die nodige verlof appelleer die appellant na hierdie Hof teen sy skuldigbevinding op al drie aanklagte.

Die staatsaak teen die appellant was dat hy en ene Chere om ongeveer elfuur die aand van 28 Mei 1993 in 'n kroeg in Bekkersdal, Westonaria, in 'n stryery oor bier betrokke geraak het. Die appellant het die kroeg verlaat, kort daarna temggekeer met 'n

3

vuurwapen in die hand en sonder meer een skoot afgevuur wat die oorledene, die 29-jarige Job Sobidi, in die bors getref het. Die oorledene is ongeveer sewe weke later, op 14 Julie 1993, in die hospitaal oorlede aan die beserings wat hy as gevolg van die skietwond opgedoen het. Die appellant se saak, daarenteen, was dat hy nie die skoot gevuur het wat die oorledene getref het nie en dat hy nie in besit was van die betrokke vuurwapen en ammunisie nie. Sy weergawe was dat Chere sonder enige rede 'n aggressiewe houding teenoor hom ingeneem het in die kroeg, dat Chere 'n vuurwapen uitgehaal het en dat hulle om besit daarvan gestoei het toe die skoot afgaan terwyl Chere nog steeds die vuurwapen in sy hand gehad het.

Die meerderheid van die Verhoorhof het die staatsgetuienis oor die skietvoorval aanvaar en bevind dat die appellant na die stryery met Chere na buite is om die vuurwapen in die hande te kry

4

en dat hy dit daarna doelbewus in die rigting van die oorledene afgevuur het in die kroeg vol mense. Die meerderheid het die moontlikheid aanvaar dat die appellant na 'n ander persoon as die oorledene gemik het maar het bevind dat hy die moontlikheid voorsien het dat hy die oorledene noodlottig kon tref en onverskillig teenoor die intrede van hierdie gevoïg gestaan het. Die meerderheid het bevind dat die appellant se getuienis ernstige weersprekings en onwaarskynlikhede bevat wat so ver strek dat sy weergawe nie redelik moontlik waar kan wees nie. Die meerderheid het voorts bevind dat die vereiste oorsaaklikheidsverband tussen die skietwond en die oorledene se dood wel deur die Staat bewys is.

Namens die appellant is eerstens in hierdie Hof betoog dat die meerderheid van die Verhoorhof verkeerdelik die staatsgetuienis oor die skietvoorval aanvaar en dié van die appellant verwerp het. Dit is gevolglik nodig om kortliks na die getuienis te verwys.

5

Zagie Mosito het getuig dat sy moeder die eienaar van die kroeg is, dat hy die betrokke aand daar gewerk het en dat hy die appellant goed ken as 'n gereelde klant. Om ongeveer elfuur die aand was hy besig om glase af te dek van die tafels toe die appellant by die kroeg inkom met 'n vuurwapen in die hand. Die kroeg is 'n lang smal vertrek met die toonbank aan die een smal kant. Zagie het verduidelik dat die tafels in 'n ry vanaf die toonbank in die middel van die vertrek geplaas was met stoele rondom elke tafel, en dat hy by die tweede tafel vanaf die kroeg, ongeveer regoor die deur waar die appellant ingekom het, besig was. Die deur is net langs die toonbank. Volgens Zagie het die appellant sonder om iets te sê 'n skoot afgevuur in die rigting van die mense by die ry tafels. Daar was op hierdie stadium ongeveer twintig mense in die kroeg. Na die skoot het die appellant uitgehardloop, gestruikel en geval en Benjamin Mogoje het hom

6

gegryp. Terwyl hulle stoei, het ene Lefty daar aangekom en die vuurwapen by die appellant afgeneem met die woorde dat dit aan hom behoort. Lefty en die appellant het daarna saam die perseel verlaat. Toe Zagie terugkeer na die kroeg het hy die oorledene in 'n bloedkol op die vloer sien lê en gehelp om hom na die Leratong-hospitaal te vervoer.

Zagie se getuienis word gestaaf deur dié van Benjamin Mogoje en Joseph Lekgatle. Lefty het nie getuig nie omdat hy, voïgens die ondersoekbeampte, nie opgespoor kon word nie. Benjamin het getuig dat hy die aand diens gedoen het as veiligheidswag buite die kroeg en dat hy die klante moes deursoek voor hulle die kroeg binnegaan. 'n Onbekende persoon het daar gekom met iets wat soos 'n vuurwapen gelyk het in sy hand. Omdat hy bang was, het hy nie die persoon deursoek nie. Kort nadat die persoon die kroeg binnegegaan het, het hy 'n skoot

7

gehoor en die persoon het uitgekom met die vuurwapen nog steeds in sy hand. Die persoon het geval en Benjamin het bo-op hom gespring. Hulle het gestoei om besit van die vuurwapen. Lefty het daar opgedaag en die vuurwapen by die persoon afgeneem en gesê dat dit aan hom behoort. Lefly en die persoon is saam daar weg. Joseph se getuienis was dat hy om ongeveer elfuur die betrokke aand by 'n tafel naby die kroegtoonbank gesit en in die rigting van die buitedeur gekyk het. 'n Persoon wat hy nie geken het nie, het by die deur ingekom met 'n vuurwapen in die hand waarmee hy 'n skoot geskiet het in die rigting waar die oorledene later op die vloer aangetref is. Die aanvaller het uitgegaan, geval en Benjamin het met hom gestoei totdat Lefty die vuurwapen by hom afgeneem het.

Abraham Mosweu ("Chere") het getuig dat hy en die appellant saam grootgeword en drie strate van mekaar af gewoon

8

het. Hy was die betrokke aand in die kroeg en het by 'n tafel ongeveer in die middel van die kroeg gesit. Die appellant het oorkant hom by dieselfde tafel gesit. Chere het afgebuk om sy skoen vas te maak en toe hy orent kom, sien hy dat 'n bottel bier van hom weg is. 'n Woordewisseling het tussen hom en die appellant ontstaan oor wat van die bier geword het. Die appellant het opgestaan en eers by 'n ander groepie gaan sit en toe die kroeg verlaat. Die oorledene het langs Chere kom sit en hulle het 'n bier gedeel. Later het Chere opgestaan en gedans. Tenvyl hy dans het die appellant by die kroeg ingekom en sonder om iets te sê 'n skoot afgevuur in die rigting waar die oorledene nog gesit en Chere vroeër gesit het.

Die appellant se getuienis was dat hy 'n gereelde klant by die betrokke kroeg is en die mense daar goed ken. Die aand van die voorval het hy tussen nege- en tienuur daar gekom, twee biere

9

gekoop en by die tweede tafel vanaf die toonbank gaan sit. Die kroeg was vol mense, meer as die twintig wat Zagie geskat het. Terwyl hy besig was om sy eerste bier te drink het 'n groep van ses persone na sy tafel gekom en om hom kom staan. Twee lede van die groep, Chere en Lefty, het hy goed geken. Die oorledene, wat hy nie geken het nie, was ook 'n lid van hierdie groep. Chere het hom daarvan beskuldig dat hy 'n Inkatha-lid is, op hom gespoeg en sy vinger teen sy voorkop gedruk. Chere het 'n beweging met sy regterhand gemaak waarop hy Chere se hand met albei sy hande gegryp het omdat hy vermoed het dat Chere 'n mes wou uithaal. 'n Stoeiery het gevolg waartydens die ander lede van die groep hom in die rigting van die buitedeur gestoot en een hom met 'n mes in die rug gesteek het. Terwyl hulle stoei het hy op 'n stadium Chere se regterhand omhoog gedruk en 'n skoot het afgegaan. Hy het toe vir die eerste keer besef dat Chere 'n vuurwapen in sy

10

regterhand het en dat 'n skoot daarmee afgevuur is. Toe die skoot klap het hy geval, opgespring en weggehardloop. Hy het nie gesien dat iemand deur die skoot getref is nie. Hy het ontken dat daar 'n stoeiery buite die kroeg was. Hy het verder getuig dat Zagie, Benjamin en Joseph nie een die betrokke aand daar was nie en dat hulle 'n komplot gesmee het om hom valslik te beskuldig. Chere en Lefty is lede van die Inkatha-party waarby Zagie ook betrokke is, terwyl hyself weier om betrokke te raak by dié party se bedrywighede. Verder is al die staatsgetuies bang vir Chere.

Namens die appellant is betoog dat die síaatsgetuienis vol weersprekings en onwaarskynlikhede is en dat die Staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie. Die belangrikste teenstrydighede waarop gesteun is, is die volgende: Zagie, Ben en Joseph meld nie een dat die appellant vroeér die aand in die kroeg was en uitgegaan het voordat hy weer teruggekeer en geskiet het nie,

11

terwyl dit wel die geval was volgens Chere; laasgenoemde het getuig dat klante nie deursoek is voordat hulle die kroeg binnegegaan het nie terwyl die ander staatsgetuies getuig het dat Benjamin wel die klante deursoek het; volgens Chere het sommige klante gedans terwyl daar volgens Zagie en Joseph geen dansery was nie; Zagie het getuig dat Joseph die betrokke aand in die kroeg gehelp en mense bedien het terwyl Joseph self getuig het dat hy moeg was en bloot 'n bier daar gedrink het. Die Verhoorhof het breedvoerig met elkeen van hierdie teenstrydighede gehandel en tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie wesenlik van aard is nie. Ek stem saam. Soos die Verhoorhof sal ek dit verbasend vind as almal in 'n kroeg dieselfde waarnemings en herinnering het oor wie wat gedoen het.

Dit is betoog dat dit onwaarskynlik is dat die appellant vir Chere sou wou skiet bloot op grond van Chere se beskuldiging oor

12

die verdwyning van sy bier en verder dat hy dit ten aanskoue van 'n kroeg vol mense sou doen. Op sy eie getuienis, egter, het die appellant die aand baie gedrink en was hy onder die invloed van drank. Sy optrede kan dus nie beoordeel word aan die hand van hoe 'n mens normaalweg sou gehandel het nie. Dit is voorts betoog dat die getuienis oor Benjamin se heldhaftigheid na die skietery onwaarskynlik is in die lig van sy eie getuienis dat hy voorheen bang was om die appellant te deursoek. Die getuienis was egter dat toe die appellant uitkom hy gestruikel en geval het. Ek vind dit nie onwaarskynlik dat Benjamin toe kans gesien het om hom te pak nie.

Ander aspekte van die staatsaak wat namens die appellant as onwaarskynlik bestempel is, is Lefty se aankoms op die toneel, die versuim van die skare om die appellant te arresteer en Zagie se getuienis dat geen wapens vir sekuriteitdoeleindes by die kroeg

13

aangehou word nie. Ek vind die getuienis wat op hierdie aspekte gegee is, geensins onwaarskynlik nie en dit is gevolglik nie nodig om iets meer hieromtrent te sê nie.

Die appellant se weergawe, aan die ander kant, is so onoortuigend en onwaarskynlik dat dit met reg deur die Verhoorhof verwerp is. Ek verwys na enkele aspekte. Sy storie oor waarom die groep hom aangeval het, is totaal onsinnig. Hulle is lede van die Inkatha-beweging maar beskuldig hom terselfdertyd dat hy 'n lid is van dieselfde beweging. Verder is dit moeilik om te aanvaar dat hy Chere se hand kon gegryp en 'n heel tydjie met hom gestoei het sonder om die vuurwapen in sy hand te sien. Volgens die mediese getuienis het die koeël die oorledene se liggaam met 'n afwaartse trajek getref, wat daarop dui dat die oorledene gesit het toe hy geskiet is. Dit strook nie met die appellant se getuienis dat die oorledene een van die groep was wat hom omsingel het nie.

14

Die betoog namens hom dat die oorledene op 'n stadium die groepie aanvallers verlaat en gaan sit het voor die skoot gevuur is, was nie oortuigend nie. Volgens die appellant het hy skaars by die kroeg aangekom toe die skietery plaasvind. Nogtans getuig hy onomwonde dat Zagie, Joseph en Benjamin nie een daar was nie. Dit is skaars denkbaar dat getuies wat nie eers op die toneel was nie, sou saamspan om hom valslik te inkrimineer. Daar is geen feitebasis vir hierdie moontlikheid nie.

Ek is gevolglik van mening dat daar geen rede bestaan om met die Verhoorhof se aanvaarding van die staatsgetuienis en sy verwerping van die appellant se weergawe in te meng nie. Daarvolgens is dit duidelik dat die appellant die skoot gevuur het wat die oorledene getref het en dat hy dit met die vereiste opset by moontlikheidsbewussyn gedoen het.

Die verdere vraag is of die skietwond regtens die dood van

15

die oorledene veroorsaak het. Binne 'n uur nadat die oorledene geskiet is, het hy 'n noodoperasie in die Leratong-hospitaal ondergaan. Volgens die mediese getuienis het die koeël sy borskas in die vyfde tussenribspasie binnegedring. Dit is deur die diafragma, hartsak en maag; daarna het dit die hoofslagaar na, en die hoofaar vanaf die miït deurboor, uitgebreide kneusing van die pankreas veroorsaak en is uiteindelik deur die eerste lumbale rugwerwel en rugmurg by die liggaam uit. Dr Serfontein, wat die operasie gedoen het, het getuig dat die milt verwyder en al die ander skade chirurgies herstel is behalwe dié aan die pankreas, rugwerwel en rugmurg. Hy het verduidelik dat alhoewel die koeël nie die pankreas self getref het nie, dit so na aan die pankreas verby is dat die skokgolf daarvan die kneusing veroorsaak het. Sulke beserings word as baie emstig beskou en is lewensgevaarlik. Die pankreas vervaardig verteringsensieme en so 'n besering kan

16

met verloop van tyd tot die vorming van 'n sist bevattende verteringsensieme lei wat die pankreas kan vernietig, veral wanneer dit bars en die ensieme vrystel. In so 'n geval volg die dood onmiddellik. Dr Serfontein het sekere post-operatiewe nasorg voorgeskryf wat daarop neergekom het dat die pasient geen vaste voedsel inneem nie sodat die pankreas kan herstel. Die skade aan die rugmurg het die permanente verlamming van die oorledene onder die vlak van die eerste lumbale rugwerwel tot gevolg gehad.

Op 31 Mei 1993 is die oorledene, wat 'n mynwerker was, oorgeplaas na die GoldGelds West-hospitaal waar sy toestand stabiel gebly en hy klinies goeie vordering gemaak het. Op 3 Junie 1993 is hy oorgeplaas na die spinale eenheid by die Rand Mutual-hospitaal vir sy rehabilitasie as 'n parapleeg waar hy gebly het tot sy dood op 14 Julie 1993.

In laasgenoemde hospitaal het die oorledene volgens alle

17

aanduidings goeie vordering gemaak tot twee dae voor sy dood. Op 12 Julie 1993 is bloed in sy urine gevind, hy het gebraak en het mucus deur die rektum passeer. Daar was geen ander uitwendige teken van enige probleem nie. Hy is deur Dr Hooper, die hoof van die spinale eenheid, ondersoek en 'n urineweg-infeksie, wat algemeen voorkom onder parapleë, is gediagnoseer. Die oorledene het nie op behandeling reageer nie en sy toestand het verswak. Die volgende dag, 13 Julie 1993, het die braking voortgeduur en hy het nou ook diarree gehad. Verdere medikasie en binne-aarse voeding is toegedien maar sy toestand het verder verswak. Vroeg die oggend van 14 Julie 1993 het hy gekla van pyn in sy buik en X-strale is geneem. Dit het 'n abnormaliteit in die boonste gedeelte van die buikholte in die omgewing van die trajek van die skietwond getoon. Die radioloog het aanbeveel dat 'n serum-amulase gedoen word om te bepaal of van die ensieme van

18

die pankreas nie uit die pankreas lek nie. Daar is aanbeveel dat 'n sg CAT-scan van die buikholte gedoen word maar die oorledene het gesterf voordat dit gedoen kon word. Ten spyte daarvan dat die hulp van 'n aantal senior dokters, insluitende spesialiste, ingeroep is, het die oorledene gedurende die middag van 14 Julie 1993 gesterf. Die meganisme van sy dood was 'n hartstilstand as gevolg van elektrolitiese wanbalans weens dehidrasie.

Die oorledene was volgens 'n toets wat voor sy dood gedoen is, 'n draer van die HlV-virus en gevolglik is geen volledige lykskouing gehou nie. Die oorsaak van dood in 'n geval van manslag hoef egter nie noodwendig deur direkte getuienis of mediese getuiems, gebaseer op 'n post mortem ondersoek, bewys te word nie (S v Blom 1939 AD 188 op 208).

Die meerderheid van die Verhoorhof het bevind dat die oorledene se dood veroorsaak is deur die besering van die pankreas,

19

alternatiewelik deur 'n ander besering in sy buikholte, wat in beide

gevalle direk gevolg het op die skietwond. Die meerderheid het

bevind dat selfs al is die spesifieke onmiddellike oorsaak van dood

nie bewys nie, alle moontlike oorsake direk in verband staan met

die skietwond, en dat die moontlikheid van 'n novus actus

interveniens wat nie met die skietwond en die gevolge daarvan

verband hou nie, op suiwer spekulasie berus.

Die eerste vraag wat beantwoord moet word by die vasstelling

van die vereiste oorsaaklikheidsverband is of daar "feitelike

veroorsaking" op die grondslag van die conditio sine qua non

bewys is. In S v Daniels en 'n Ander 1983 (3) SA 275 (A),

wat 'n strafappèl was, het Jansen AR hieromtrent die volgende

op 331 B-D gesê :

"Daar kan weinig twyfel bestaan dat in ons regspraak die bepaling van 'feitelike' oorsaaklike verband op die grondslag

van die conditio sine qua non geskied Sonder sodanige

verband tussen die dader se handeling en die beweerde,

20

gewraakte gevolg is daar in die algemeen geen aanspreeklikheid nie. Aan die ander kant is dit ook duidelik dat 'n dader nie aanspreeklik gestel behoort te word vir alle gevolge waarvan sy handeling 'n conditio sine qua non is nie - sy aanspreeklikheid sou dan te wyd strek en die grense van redelikheid, billikheid en regverdigheid oorskry. Beleidsoorwegings verg dat iewers 'n grens gestel moet word."

Die aard van die ondersoek na die "feitelike veroorsaking" is as volg deur Corbett HR in Intemational Shipping Company (Pty) Ltd v Bentley 1990 (1) SA 680(A) op 700 E-I gestel :

"The enquiry as to factual causation is generally conducted by applying the so-called 'but-for' test, which is designed to determine whether a postulated cause can be identiGed as a causa sine qua non of the loss in question. In order to apply this test one must make a hypothetical enquiry as to what probably would have happened but for the wrongful conduct of the defendant. This enquiry may involve the mental elimination of the wrongful conduct and the substitution of a hypothetical course of lawful conduct and the posing of the question as to whether upon such an

21

hypothesis plaintiff s loss would have ensued or not. If it would in any event have ensued, then the wrongful conduct was not a cause of the plaintiff s loss; aliter, if it would not so have ensued. If the wrongful act is shown in this way not to be a causa sine qua non of the loss suffered, then no legal liability can arise. On the other hand, demonstration that the wrongful act was a causa sine qua non of the loss does not necessarily result in legal liability. The second enquiry then arises, viz whether the wrongful act is linked sufficiently closely or directly to the loss for legal liability to ensue or whether, as it is said, the loss is too remote. This is basically a juridical problem in the solution of which considerations of policy may play a part. This is sometimes called 'legal causation'."

In Bentley se saak was 'n deliktuele eis ter sprake maar, met die nodige aanpassings, geld wat in die aangehaalde passasie gesê is, eweneens in 'n strafsaak. Sien verder S v Mokgethi en Andere 1990(1) SA 32(A)op 39D-H.

By 'n beoordeling van die feite van die huidige saak kan daar, na my mening, geen twyfel bestaan nie dat die skietwond 'n

22

conditio sine qua non was van die oorledene se dood. Die koeël

het die oorledene se buikholte deurdring en lewensgevaarlike skade daar aangerig. Al die simptome wat die oorledene die laaste paar dae van sy lewe getoon het, het direk betrekking gehad op sy buikholte. Die medici was dit eens dat die oorïedene waarskynlik gesterf het as gevolg van 'n pankreas- of 'n ander besering van die buik wat deur die skietwond veroorsaak is. Dit is gevolglik nie nodig om te bepaal watter spesifieke besering die dood veroorsaak het nie. Dit is egter duidelik dat die oorledene nie sou gesterf het as die appellant hom nie geskiet het nie.

Namens die appellant is verskeie ander moontlike oorsake van dood geopper wat onverwant is met die skietwond, soos dat die oorledene weens 'n urineweg-infeksie of gastritis of vigs gesterf het. Wat die eerste moontlikheid betref het Dr Hooper uitdruklik getuig dat die infeksie binne 'n dag heeltemal opgeklaar het en dat dit in

23

elk geval 'n direkte gevolg van die skietwond was. Wat die moontlikheid van gastritis betref, het Dr Hooper getuig dat stoelgang-toetse getoon het dat die oorledene nie gastritis gehad het nie. Hierdie getuienis is streng gesproke hoorsê maar daar is geen feite-basis hoegenaamd vir 'n redelike moontlikheid van die bestaan van gastritis nie. Dieselfde geld vir die suggestie dat die oorledene aan vigs gesterf het, wat in elk geval, volgens die mediese getuienis, nie 'n oorsaak van dood kan wees nie.

Die volgende vraag is of die skietwond regtens die oorledene se dood veroorsaak het. In die Mokgethi-saak, supra, op 39 J -40 I, het Van Heerden AR na die verskillende kriteria vir die bepaling van juridiese kousaliteit verwys, soos die afwesigheid van 'n novus actus interveniens, "proximate cause", "direct cause", voorsienbaarheid en adekwate veroorsaking en as volg voortgegaan (op 40 I - 41 A):-

24

"Wat die onderskeie kriteria betref, kom dit my ook nie voor dat hulle veel meer eksak is as 'n maatstaf (die soepele maatstaf) waarvolgens aan die hand van beleidsoorwegings beoordeel word of 'n genoegsame noue verband tussen handeling en gevolg bestaan nie. Daarmee gee ek nie te kenne nie dat een of selfs meer van die kriteria nie by die toepassing van die soepele maatstaf op 'n bepaalde soort feitekompleks subsidiêr nuttig aangewend kan word nie; maar slegs dat geen van die kriteria by alle soorte feitekomplekse, en vir die doeleindes van die koppeling van enige vorm van regsaanspreeklikheid, as 'n meer konkrete afgrensingsmaatstaf gebruik kan word nie."

Namens die appellant is betoog dat die skietwond in die huidige saak nie as regsoorsaak van die oorledene se dood geld nie omdat die nalatigheid van die personeel van die Leratong-hospitaal 'n novus actus interveniens daarstel. Dié nalatigheid sou daarin bestaan dat die ander twee hospitale waarin die appellant daarna opgeneem is, nie verwittig is van die oorledene se pankreasbesering nie. Daar is betoog dat indien die personeel by die Rand Mutual-

25

hospitaal bewus was van hierdie besering hulle betyds die nodige behandeling kon gegee en sodoende die oorledene se dood verhoed het.

Dr Serfontein het getuig dat daar geen medikasie of operatiewe ingrepe bestaan vir die behandeling van 'n pankreasbesering nie. Die ondersteunende terapie wat hy voorgeskryf en waarna ek reeds verwys het, is mee volgehou totdat die oorledene in die Rand Mutual-hospitaal opgeneem is. Op geen stadium voor die laaste paar dae van sy lewe het die oorledene enige simptome getoon wat daarop gedui het dat sy pankreasbesering nie herstel het nie. Dr Hooper, wat in beheer was van die oorledene se behandeling in die Rand Mutual-hospitaal, het getuig dat die medici by hierdie hospitaal toe daarop bedag was dat die oorledene moontlik pankreatitis of 'n sist van die pankreas ontwikkel het as gevolg van die skietwond, maar dat daar

26

niks was wat hulle kon doen om die oorledene se lewe te red nie. Dit is duidelik dat daar geen nalatigheid aan die kant van die personeel van enige van die drie hospitale was nie.

Ek is gevolglik van mening dat daar geen sprake is van enige novus actus intervenies nie en dat daar 'n genoegsame noue verband bestaan tussen die skietwond en die oorledene se dood om die appellant daarvoor regtens aanspreeklik te hou.

Die appellant is gevolglik tereg skuldig bevind en die appèl word afgewys.

W VIVIER AR.

HEFER AR)

Stem saam. VAN COLLER WN AR)

▲ To the top