Hoogland Boerdery (Edms) Bpk v Coldcor (Edms) Bpk; Aswanestaal (Edms) Bpk v Hoogland Boerdery (Edms) Bpk (600/1991) [1995] ZASCA 93 (14 September 1995)


Saak Nr 600/91 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak tussen:

*1 HOOGLAND BOERDERY (EDMS) BPK Eerste Appellant en

COLDCOR (EDMS) BPK Respondent

* 2 ASWANESTAAL (EDMS) BPK Tweede Appellant

en

HOOGLAND BOERDERY (EDMS) BPK Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, VIVIER, VAN DEN HEEVER,

HARMS et OLIVIER, ARR VERHOOR: 15,16 Augustus 1995 GELEWER: 14 September 1995

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR

2

Op 12 Desember 1988 het 'n brand uitgebreek in 'n koelkamer op die plaas Hoogland in die distrik Ceres, Wes-Kaap. Aansienlike skade is aangerig aan die struktuur en inhoud van die koelkamer en aanliggende geboue. Die brand het ontstaan as gevolg van sweiswerk wat op nalatige wyse in die koelkamer gedoen is deur 'n werknemer van Aswanestaal (Edms) Beperk ("Aswane"). Aswane was 'n subkontrakteur van Coldcor (Edms) Beperk ("Coldcor"), wat in 1986 kragtens ooreenkoms sekere installasies in die betrokke koelkamer aangebring het. Die eienaar van die plaas, Hoogland Boerdery (Edms) Beperk ("Hoogland"), het in die Kaapse Provinsiale Afdeling aksie ingestel teen Coldcor en Aswane vir vergoeding van die skade wat deur die brand veroorsaak is. Sy aksie teen Coldcor was gebaseer op kontrakbreuk en dié teen Aswane op onregmatige daad. Na 'n lang verhoor het die verhoorhof (Lategan R) die eis teen

3

Coldcor afgewys - die eiser het nie bewys dat die installasie waaraan Aswane se werknemer gewerk het toe die brand ontstaan het, 'n deel gevorm het van die werk wat Coldcor ingevolge die partye se ooreenkoms moes verrig nie. Die eis teen Aswane, daarenteen, het geslaag. Die hof het bevind dat Aswane middellik aanspreeklik was vir sy werknemer se onregmatige en nalatige optrede. Die verhoorhof het aan beide Hoogland en Aswane verlof verleen om na hierdie hof te appelleer - Hoogland t o v die afwysing van sy eis teen Coldcor, en Aswane t o v die uitspraak teen hom. Met betrekking tot albei die eise was die omvang van Hoogland se skade ook in geskil.

Nadat verlof om te appelleer verleen was, was daar 'n lang vertraging voordat die oorkonde van die verrigtinge geliasseer en sekuriteit verskaf is. Albei voornemende appellante (d w s, Aswane en Hoogland) het

4

lywige petisies om kondonasie van hul versuim ingedien. Hierdie petisies is bestry. Mettertyd het Hoogland 'n verdere band van die oorkonde aangebied, tesame met nog 'n petisie om kondonasie. Dit ook word bestry.

Wat tans voor ons dien is die onderskeie petisies om kondonasie, en, indien hulle slaag, die twee appelle.

'n Belangrike faktor by die beoordeling van die aansoeke om kondonasie is die twee petisionarisse se vooruitsigte op sukses in hul appelle. Ek behandel hierdie aspek eerste.

Ter aanvang is dit nodig om die feite van die saak meer volledig uiteen te sit. Die maatskappy Hoogland (wat destyds 'n ander naam gehad het) is in 1970 deur Mnr J S Alberts ("Alberts Snr") aangekoop. Sedert 1987 is hy en sy seuns Johan en André die enigste aandeelhouers. Alberts Snr het 'n beherende aandeel. Hy

5

en die twee seuns is direkteure van die maatskappy, maar in die praktyk het hy die finale seggenskap in die bestuur van die maatskappy.

Die belangrikste bate van die maatskappy is die plaas Hoogland. Dit is net meer as 1000 hektaar groot. Die vernaamste boerderyproduk is appels wat op die plaas verpak en daarvandaan bemark en versend word. Die boerdery, verpakking en bemarking word bedryf deur Johan en André Alberts, wat op die plaas woon. Alberts Snr woon in Constantia.

Daar is 'n koel- en pakstoorkompleks op die plaas wat bestaan uit 'n hele aantal geboue. Hierdie kompleks is oor die jare vergroot en verbeter.

Gedurende Mei 1986 het Alberts Snr en Coldcor onderhandelinge aangeknoop oor die bou van 'n nuwe koelkamer op die plaas. Coldcor is verteenwoordig deur sy alleen-aandeelhouer en besturende direkteur, Mnr L

6

L Strydom ("Strydom"). Alberts Snr sou self reël vir die betonfondament van die beplande koelkamer en Strydom is versoek om 'n kwotasie te verskaf vir die staalkonstruksie, verkoelingsapparaat en vals plafon. 'n Vals plafon is 'n konstruksie wat onder die dak van 'n koelkamer aangebring word om die sirkulasie van verkoelde lug te bevorder. Die verkoelingsapparaat word dan tussen die vals plafon en die dak geplaas. Om by die verkoelingsapparaat te kom is dit gewoonlik nodig om 'n loopvlak van metaal langs die verkoelingsapparaat te bou wat ' n mens dan deur middel van ' n leer van onder kan bereik. Die loopvlak word op Engels 'n "cat walk" genoem. In die getuienis is op Afrikaans na 'n "katloop" verwys. Volgens die Bouwoordeboek van die Vaktaalburo van die S A Akademie vir Wetenskap en Kuns moet 'n mens liewer praat van 'n brugvoetpaadjie, kruipgang of looplys. Ek sal laasgenoemde woord

7

gebruik. Eienaardig genoeg is die leer wat na die looplys lei (Engels "cat ladder") volgens dieselfde bron 'n katleer, en ek sal so daarna verwys.

Ek keer terug na die onderhandelinge tussen Alberts Snr en Strydom. Strydom was nie ingerig om die hele projek te behartig nie en het kwotasies van sub-kontrakteurs aangevra vir die staalwerk en die installering van die verkoelingsapparaat. Op grond van hierdie kwotasies het Coldcor 'n formele kwotasie vir die hele opdrag opgestel. Op 6 Junie 1986 het Strydom vir Alberts Snr besoek en die kwotasie aan hom oorhandig. Alberts Snr het gemeen dat sommige van die pryse te hoog was en het nie die kwotasie aanvaar nie.

Aan die begin van September 1986 het Alberts Snr en Strydom weer bymekaargekom. Alberts het gesê dat hy self sou reël vir die installering van die verkoelingsapparaat deur 'n maatskappy Grenco (SA)

8

(Edms) Beperk ("Grenco"). Hy wou 'n laer kwotasie t o v die beoogde nuwe koelkamer (en veral die staalwerk) hê, asook 'n kwotasie met betrekking tot sekere ander werk. Strydom het voortgegaan en verdere kwotasies gekry. Na gelang daarvan het Strydom 'n nuwe kwotasie, gedateer 8 September 1986, voorberei. Alberts Snr en Strydom het hierdie kwotasie bespreek. Dit is nie nodig om hul bespreking in besonderheid uiteen te sit nie. Wat van kernbelang in hierdie saak is, is dat die partye toe ooreengekom het dat daar ook 'n vals plafon in 'n bestaande koelkamer ingebou sou word. Hierdie bestaande koelkamer word as koelkamer 1 beskryf om dit te onderskei van koelkamer 2, die nuwe koelkamer wat opgerig sou word, en inderdaad opgerig is. Grenco sou ook in koelkamer 1 verkoelingsapparaat installeer.

Na bespreking het Alberts Snr en Strydom ooreengekom oor watter werk gedoen sou word en teen

9

watter prys. Strydom het op sy beurt 'n kontrak met Mnr A C Swanepoel ("Swanepoel") van Aswane aangegaan waarkragtens laasgenoemde as sub-kontrakteur die staalwerk sou behartig. Ingesluit in die werk wat Aswane sou doen was die oprigting van 'n vals plafon in koelkamer 1.

Mettertyd is die werk voltooi. Volgens Mnr C von W Hamman van Aswane was hul werk, wat die vals plafon met 'n looplys en 'n katleer in koelkamer 1 ingesluit het, reeds op 10 of 11 November 1986 afgehandel. Op daardie tydstip was die verkoelingsapparaat nog nie daar nie. Grenco het sy werk eers teen die einde van Februarie 1987 voltooi.

Hoogland was ontevrede met sommige van die werk wat Aswane gedoen het en het geweier om die volle prys aan Coldcor, sy kontraksparty, te betaal totdat alle gebreke herstel was. Korrespondensie het hieroor gevolg

10

tussen Hoogland en Coldcor en tussen Coldcor en Aswane. Al die besonderhede is nie relevant nie. Sekere herstelwerk is gedoen, maar die Albertse was nog nie tevrede nie. Op 12 Desember 1988 het Mnr Isak Louw met 'n span werkers gekom om die finale afrondingswerk in koelkamers 1 en 2 te doen. Isak Louw is 'n voorman by Aswane. Hy het nie verder as Sub B op skool gevorder nie en is ongeletterd maar het 17 jaar diens by Aswane gehad. Die looplys in koelkamer Iwas oorspronklik deur hom geïnstalleer. Daar is 'n feitedispuut oor wat presies sy opdrag op 12 Desember was, en ek kom later daarop terug. Dit is egter gemene saak dat hy inderdaad werk gedoen het aan die looplys in koelkamer 1. Hierdie looplys het aan weerskante van die verkoelingsapparaat oor die hele lengte van die koelkamer geloop. Sy paralelle gedeeltes is met 'n dwarsstuk verbind. Toegang tot die looplys is verkry met 'n katleer teen

11

die noordelike muur aan die binnekant van die koelkamer. Louw het op 12 Desember eers gewerk aan die regterkantse looplys, soos 'n mens by die katleer opkom. Die reling was nie regop nie. Louw het die reling losgeskroef, plaatjies ingesit en dit weer vasgeskroef. Die probleem was toe opgelos. Die reling aan die linkerkant was ook gebrekkig maar die probleem daar was verskillend. Daar het die reling skeefgetrek omdat dit vasgesweis was aan die pype van die verkoelingsapparaat. Wie dit gedoen het, is nie duidelik nie, en ek kom later daarop terug. Volgens Louw was die aanhegting gedoen met vier ysterpypies wat elk aan sy een kant vasgesweis was aan die reling en aan sy ander kant aan 'n verkoelingspyp. André Alberts het getuig dat die reling direk aan 'n pyp vasgesweis was. In die loop van die argument is daar allerweë aanvaar dat Louw se weergawe korrek was. Louw het eers

12

die pypies losgesny met 'n slypmasjien. Daarna het hy hulle verleng sodat die reling nie weer skeefgetrek sou word nie, en hulle begin terug aansweis. Terwyl hy hiermee besig was het die brand uitgebreek. Dit is klaarblyklik veroorsaak deur vonkies van die sweismasjien wat op die onbedekte polistireen geval het waarmee die mure bekleed was vir insulasie. Polistireen is hoogs ontvlambaar.

Dit is duidelikdat Isak Louw nalatig was deur nie behoorlike voorsorg teen brand te tref nie en dat die brand, met die daaropvolgende skade, deur sy nalatigheid veroorsaak is. Soos reeds gemeld het die hof a quo egter bevind dat Coldcor nie kontraktueel vir die brandskade aanspreeklik is nie. 'n Ontleding van die getuienis en, in besonder, van die onderhandelinge tussen Alberts Snr en Strydom het aangetoon, so het die hof bevind, dat Coldcor inderdaad nooit gekontrakteer

13

het om 'n looplys in koelkamer 1 op te rig nie. Enige gebreke in die looplys, en skade wat veroorsaak is deur die poging om die gebreke te herstel, kon dus nie op Coldcor se brood gesmeer word nie. Aswane was,soos ook reeds gemeld, in 'n ander posisie. Hy is middellik aanspreeklik gehou ex delicto vir Louw se optrede.

Die kern van die saak, lyk dit vir my, lê opgesluit in wat presies Isak Louw se werkopdrag op 12 Desember was en wat die algemene bestek van sy verpligtinge was. Dit sou helderheid kon gee oor hoe sy werk op daardie dag ingepas het by sy werkverhouding met Aswane en by enige kontraktuele verpligtinge wat Aswane en Coldcor moontlik gehad het. As die feite sou aantoon dat Aswane nie middellik aanspreeklik was vir Louw se onregmatige daad nie sou dit nie alleen vir Aswane van aanspreeklikheid onthef nie - die hof se feitebevindinge sou ook 'n antwoord kon bied op die

14

vraag of Isak Louw se optrede as kontrakbreuk tussen Coldcor en Hoogland beskou kan word. Soos reeds aangedui is daar 'n botsing in die getuienis oor wat die ware feite in hierdie verband is, en dit is gepas dat ek ter aanvang iets omtrent die getuies se geloofwaardigheid sê.

Die geloofwaardigheid van die drie Albertse het in die gedrang gekom veral na aanleiding van hul getuienis oor die omvang van Hoogland se skade. Dit is gemene saak dat daar hoeveelhede pakmateriaal en appels in die brand vernietig is. By die bepaling van die werklike omvang van hierdie skade het Hoogland staatgemaak op 'n beweerde voorraadopname wat Andrè Alberts op 7 Desember 1988 (d w s, kort voor die brand) sou gemaak het. In Andrè Alberts se dagboek van 30 November 1988 verskyn daar 'n inskrywing "onthou neem stock - Pappa wil data hê". Hierdie inskrywing, het Andrè getuig, het hy

15

gemaak toe Alberts Snr hom gevra het om 'n voorraadopname te maak. Die resultaat van die voorraadopname, sê hy, verskyn in die dagboek onder die datum 7 Desember. Dit is nie nodig om hierdie inskrywing te herhaal nie. Dit gee besonderhede oor 'n groot hoeveelheid appels, 'n paar aartappels, en 'n klomp pakmateriaal. Hierdie voorraad is, volgens Andrè se getuienis, in die brand vernietig.

'n Groot deel van die verhoor is daaraan gewy om aan te toon dat hierdie syfers bedrieglik was. Die getuienis oor hoe en hoekom hierdie opname gedoen sou word was op sigself botsend en ongeloofwaardig. Daarbenewens het Aswane daarin geslaag om, wat die appels betref, aan te toon deur verwysing na die totale oes, die hoeveelhede wat aan kopers gelewer is, die verkoping van die oes in ander jare, e d m, dat die verlies nie naasteby so groot kon gewees het as deur

16

Hoogland beweer nie. Ook wat die pakmateriaal betref was die beweerde voorraadopname klaarblyklik vals. Afgesien weereens van die intrinsieke gebreke in die getuienis was daar objektiewe bewyse dat die syfers nie korrek kon wees nie. So, byvoorbeeld, was daar sekere tipes pakmateriaal wat in algemene gebruik was en waarvan daar volgens Andrè Alberts meer in die brand vernietig was as die totaal wat gedurende die vorige drie jaar aangekoop was. Dit is dus nie verbasend dat die verhoorhof André Alberts se getuienis oor die voorraadopname verwerp het nie. Daar is nie namens Hoogland betoog dat die verhoorhof hierdeur gefouteer het nie. Die saak moet dus benader word op die basis dat André Alberts 'n oneerlike getuie was wat valse getuienis gelewer het en dit probeer staaf het met bedrieglike inskrywings in sy dagboek.

Van Johan Alberts het die hof a quo die volgende

17

gesê:

"Johan Alberts het nie 'n goeie indruk as getuie gemaak nie. Sy antwoorde was dikwels vaag en ontwykend onder kruisverhoor en hy is dikwels gedwing om terug te gaan op wat hy aanvanklik beweer het."

Een spesifieke aspek waaroor die hof hom gekritiseer

het is sy samespanning met sy broer André in hul

getuienis oor presies hoe die appelpalette gepak was in

koelkamer 1 op 7 Desember 1988 terwyl hul nie een

werklik kon onthou of geweet het wat die posisie was

nie. Hierdie kritiek is m i geregverdig, en daar was

ook ander aspekte van sy getuienis wat nie aanvaarbaar

was nie. Ek hoef egter nie verder hierop in te gaan

nie, aangesien die hof se beskouing oor Johan se

ongeloofwaardigheid ook nie voor ons aangeveg is nie.

Alberts Snr se geloofwaardigheid speel net 'n

geringe rol by die huidige geskilpunte en ek behandel

dit later wanneer ek sy relevante getuienis bespreek.

18

Dit bring my dan terug by die feitegeskil m b t Isak Louw se werk op 12 Desember 1988. Die belangrikste getuies namens Aswane was Swanepoel en Louw self.

Swanepoel het getuig dat Aswane se werk, insluitende die oprigting van die looplys in koelkamer 1, teen die einde van November 1986 voltooi is. Op 12 Desember het Aswane 'n faktuur aan Coldcor gestuur vir die werk. Coldcor het nie die volle bedrag betaal nie omdat, so is hy meegedeel, Hoogland nie tevrede was nie en 'n deel van die kontraksprys teruggehou het. In 'n brief van 12 Mei 1987 van Coldcor het Strydom uiteengesit watter foute toe nog herstel moes word. Een was " 'Cat walks' moet verstewig word." Swanepoel het nie geweet na watter looplyste verwys word en wat presies die klagte was nie. Op 27 Mei het hy die plaas Hoogland besoek. Daar het hy Alberts Snr en sy twee seuns aangetref. Alberts Snr het sekere klagtes

19

uitgewys wat nie nou ter sake is nie. Daarna het Alberts Snr saam met Swanepoel en Johan na koelkamer 2 geloop. Swanepoel en Johan het ingegaan. Johan het gekla dat die vals plafon nie behoorlik vasgeheg was nie en gesê dat die posisie in koelkamer 1 dieselfde was. Wat die looplys in koelkamer 2 betref, het Johan gekla dat die handrelings krom loop. Hy het geen klagte oor die looplyste in koelkamer 1 gehad nie, en hulle het nie koelkamer 1 op daardie dag besoek nie. Daar is ooreengekom dat Swanepoel die werk sou kom doen wanneer Hoogland hom laat weet dat die koelkamers afgeskakel kon word.

Swanepoel het niks gehoor voordat hy weer 'n brief van Coldcor gedateer 18 Februarie 1988 gekry het nie. Daarin word hy versoek om die uitstaande werk te voltooi.

Swanepoel het Hoogland gebel om vas te stel dat

20

die koelkamers se verkoeling afgeskakel was en het vir Isak Louw op 29 April 1988 gestuur om die uitstaande werk te doen. Sy opdrag was om die vals plafonne in koelkamers 1 en 2 te heg en om die handreling van die looplys in koelkamer 2 te verstewig. Hy het geen opdrag t o v die looplys in koelkamer 1 gehad nie aangesien Swanepoel geen klagte daaroor ontvang het nie. By Louw se terugkeer het Louw aan Swanepoel verslag gedoen dat die relings van die looplys in koelkamer 2 verstewig was, maar dat Hoogland nog nie tevrede was nie aangesien die looplys self onstabiel was. Louw het 'n metode aan Swanepoel voorgestel om die looplys te verstewig en Swanepoel het daarmee saamgestem.

Teen Julie of Augustus 1988 het Strydom weer vir Swanepoel gebel om te sê dat Hoogland steeds weier om te betaal tensy sekere werk herstel is. Swanepoel is plaas toe, en Alberts Snr het sy klagtes uitgewys. Dit

21

het nie betrekking gehad op die looplys in koelkamer 1 nie. Swanepoel het vir Alberts Snr gesê dat daar ook nog werk in koelkamer 2 was (nl die verstewiging van die looplys) maar dat Aswane nie kon werk tensy die verkoeling afgeskakel word nie, en gevra dat Alberts Snr hom moes laat weet wanneer dit kon geskied. Hulle is op daardie noot uitmekaar.

Teen Desember 1988 het Aswane begin gretig word om die uitstaande gelde te in. Op 8 Desember het Swanepoel en Louw na die plaas Hoogland gegaan sodat Swanepoel vir Louw kon wys wat nog gedoen moet word. Toevallig het hulle Johan Alberts daar aangetref. Johan, Swanepoel en Louw het deurgestap om vas te stel hoe presies die uitstaande werk gedoen sou word. Swanepoel het toe verneem dat Louw inderdaad by sy vorige besoek nie die vals plafon in koelkamer 1 geheg het nie. Daar was besluit dat Louw op 12 Desember sou kom, en dat die

22

verkoeling op daardie dag afgeskakel sou wees sodat hy in die twee betrokke koelkamers kon werk. Gedurende hierdie besoek was daar geen verwysing na die looplys in koelkamer 1 nie.

Vir huidige doeleindes is die belangrike van Swanepoel se getuienis dat hy nie bewus was van enige gebrek aan die looplys in koelkamer 1 nie, en dat Louw nie op 12 Desember 1988 opdrag gehad het om enige werk aan hierdie looplys te doen nie. Dit word bevestig deur Louw. Volgens sy getuienis was sy enigste opdrag m b t koelkamer 1 om die vals plafon beter te heg.

Op 12 Desember, kort na sy aankoms op die plaas, het Louw, volgens sy getuienis, vir Andrè Alberts laat roep om die verkoeling af te skakel. Nadat dit gedoen was het Louw na koelkamer 1 gegaan om die vals plafon te heg. Andrè Alberts het saamgestap en voor hom by die katleer opgeklim. Toe hulle bo kom het Andrè Alberts

23

hom aangesê om die regterkantse relings reg te maak. Hy het dit gedoen op die wyse wat reeds hierbo beskryf is. Nadat hy klaar was, het Andrè Alberts weer kom kyk, en sy tevredenheid uitgespreek. Hulle het toe na die linkerkantse relings gekyk. Daar was die probleem, soos reeds gemeld, die vashegting aan die verkoelingspyp. Louw het getuig dat hy nie hierdie vashegting gedoen het nie, dat die verkoelingspype inderdaad nog nie daar was toe hy die looplys ingebou het nie, en dat die tipe werk klaarblyklik nie deur enige werknemer van Aswane gedoen is nie. Louw het aan Andrè Alberts gesê dat die aanhegting nie deur Aswane gedoen is nie, maar Andrè het hom nogtans aangesê om die aanhegtings los te maak, hulle langer te maak en dan weer vas te heg. Andrè het vir hom gesê dit maak nie saak hoe hy dit losmaak en weer vasheg nie, solank hy dit doen. Later, onder kruisverhoor, het Louw gesê dat Andrè hom spesifiek

24

aangesê het om dit weer vas te sweis. Hoe dit ook al sy, Louw het die buisies losgemaak, verleng, en weer begin vassweis, en daardeur die brand veroorsaak.

Om op te som, die getuienis namens Aswane behels die volgende:

1. Voor 12 Desember 1988 was daar geen klagtes oor
die looplys in koelkamer 1 nie. Louw het gevolglik geen
opdrag gehad om aan daardie looplys te werk nie.

  1. Dit was nie Aswane wat die looplys aan die verkoelingspype vasgeheg het nie, en nóg Swanepoel nóg Louw was voor 12 Desember 1988 bewus van die vashegting.

  2. Andrè Alberts het Louw die opdrag gegee om die buisies waarmee die looplys vasgeheg was, los te maak en weer vas te maak (of selfs weer vas te sweis).

Hoogland se getuienis verskil heelwat van dié van Aswane. Andrè Alberts getuig dat Swanepoel 'n slag op

25

die plaas was toe Alberts Snr en altwee seuns

teenwoordig was. Dit kan moontlik die besoek van 27 Mei

1987 wees waarna Swanepoel verwys. Op daardie dag, sê

André, is aan Swanepoel uitgewys dat die looplyste in

albei koelkamers "pateties opgesit" was. "Hulle was

gemaak van yster wat pap was. Die handreling ... was

heeltemal los gewees." Op 14 Maart 1988 het hy 'n brief

aan Coldcor geskryf waarin hy kla dat die werk nog

onvoltooid is. In die brief word gesê dat die foute ook

aan Swanepoel uitgewys is, maar dat niks verder aan die

saak gedoen is nie. Die beweerde foute word gelys, en

daaronder verskyn:

"Die 'catwalk' in beide koelkamers is van so 'n gehalte aangesit dat dit nie deur ons goedgekeur kan word nie."

Terloops kan gemeld word dat Strydom ontken dat hy

hierdie brief ontvang het, en ek kom later hierop

terug.

26

Toe Louw op 12 Desember op die plaas gekom het, gaan André se getuienis voort, het Louw gesê dat hulle aan die looplyste kom werk, en gevra dat die verkoeling in koelkamer 1 vir daardie doel afgeskakel word. Koelkamer 2 se looplyste was reeds vantevore ten volle herstel. Die werkers het dan ook uit hul eie aan die looplys in koelkamer 1 begin werk. Later is Andrê weer na die koelkamer. Iemand was besig om op die stoor se vloer te slyp en André het hom aangesê om dit buite te gaan doen. Andrê is toe op na Louw bo op die looplys. Die werkers was besig om aan die regterkantse looplys te werk. Andrê het weer geloop. Plus-minus drie-uur se kant het hy weer gaan kyk. Die werkers was toe besig om ' n plan te beraam om die reling los te kry van die verkoelingspyp. Louw het vir André gevra hoe hulle dit moes doen. André het geantwoord dat hy nie vir hulle kon sê hoe hulle hul werk moet doen nie, en het

27

bygevoeg: "Isak, net so lank jy nie sweis in die koelkamer nie, en ook nie 'grind' in die koelkamer nie en ook nie met 'n 'cutting torch' sny nie." Hy het Louw 'n handsaag aangebied. Louw het gesê dat hy 'n kannetjie water en 'n nat lap het waarmee hy 'n brand kon voorkom, maar Andrè het herhaal dat hy verbied was om te sweis, te "grind" of met 'n "cutting torch" te werk. Dit was die derde keer wat hy hierdie waarskuwing herhaal het. In sy hoofgetuienis was dit nie duidelik wanneer die tweede keer was nie, maar hy het onder kruisverhoor verder hierop uitgebrei. Toe hy afklim sien hy 'n werker opklim met die drade van 'n sweisapparaat. Andrê het hom uit die koelkamer uitbeveel, en hom gesê dat hy reeds vir Louw opdrag gegee het om nie in die koelkamer te sweis nie.

Kort daarna het André 'n telefoonoproep van Alberts Snr ontvang waarin hy gevra is na sy

28

voorraadopname van die appels. Hy het ook vir sy pa vertel dat Aswane se mense daar was, en Alberts Snr het hom gemaan om toe te sien dat daar nie in die koelkamer gesweis word nie. Andrè het hom verseker dat hy reeds driekeer vir Louw so 'n opdrag gegee het. 'n Rukkie daarna het die brand uitgebreek.

Johan Alberts getuig oor Swanepoel se besoek in die middel van 1988. Hy beaam dat hulle net by koelkamer 2 was, maar getuig dat hy aan Swanepoel gesê het dat die looplys in koelkamer 1 dieselfde gebreke gehad het as dié in koelkamer 2, en dat Swanepoel onderneem het om albei reg te maak.

Alberts Snr beaam Andrè se getuienis dat hy 'n telefoonoproep op 12 Desember gemaak het hoewel daar 'n mate van verskil in die besonderhede is.

Aan die hand van die bogemelde getuienis het die verhoorhof die volgende bevindinge gemaak:

29

(a) Die vashegting van die looplysreling aan die
verkoelingspyp is nie deur Aswane of enige van sy
werkers gedoen nie. Hierdie bevinding is nie voor ons
aangeveg nie.

  1. Nóg Swanepoel nóg Louw het geweet van die koppeling vandie handreling met die verkoelingstelsel toe Swanepoel vir Louw op 12 Desember 1988 uitgestuur het om op die plaas te gaan werk. Hierdie bevinding is ook nie aangeveg nie.

  2. Swanepoel se opdrag aan Louw was gerig op werk aan koelkamer 2 se looplyste. Wat koelkamer 1 betref, was sy opdrag slegs om aan die vals plafon te werk, en nie die looplyste nie. Hierdie bevinding was wel in geskil.

(d) Die hof kon nie op 'n oorwig van
waarskynlikhede bevind of Andrê Alberts aan Louw opdrag
gegee het om die aanhegting af te sny en dan weer aan

30

te heg nie. Beide getuies se weergawes hieromtrent is inherent ewe waarskynlik en daar is geen omringende faktore wat die skaal beslissend na een of ander kant swaai nie. Andrè Alberts het egter nie spesifiek opdrag gegee dat Louw moes sweis nie. Hierdie bevindings van die hof a quo is deur beide Hoogland en Aswane aangeveg.

Ek behandel vervolgens die bevinding gemeld in paragraaf (c). Namens Hoogland is betoog dat die getuienis van Andrè en Johan Alberts oor hul klagtes t o v die looplys in koelkamer 1 aanvaar moet word en dié van Swanepoel en Louw verwerp moet word. Die Albertse se getuienis word, so is betoog, gestaaf deur 'n aantal faktore. Daar is eerstens die brief van 14 Maart 1988 waarin spesifiek verwys is na looplyste "in beide koelkamers". Soos ek hierbo genoem het, ontken Strydom dat hy ooit die brief ontvang het. Die enigste

31

getuienis dat die brief gestuur was kom van Andrè. Hy het nie eers 'n afskrif daarvan gehad nie. Al wat hy kon sê is "hy kom uit my 'computer' uit". Onder hierdie omstandighede is daar geen rede om Strydom se getuienis in twyfel te trek nie. Afgesien van die moontlikheid dat die brief gewoon in die pos kon weggeraak het is dit ook moontlik dat Andrè hierdie "brief" later gefabriseer het. Gesien die manier waarop hy ander rekords vervals het is dit maklik denkbaar.

Dan word verwys na 'n verklaring aan versekeraars deurene Burden, Aswane se besturende direkteur, waarin aangedui word dat dit o m Louw en sy span se taak was om die looplys in koelkamer 1 te verstewig. Burden self het nie getuig nie, en hy het duidelik geen direkte kennis van die aangeleentheid gehad nie. Daarbenewens was Swanepoel met vakansie toe hierdie verklaring gemaak was. Hoe en waar Burden onder hierdie indruk

32

gekom het, wat volgens Swanepoel verkeerd was, is nie duidelik nie. Die verklaring verleen sekerlik 'n mate van stawing aan Hoogland se saak maar onder die omstandighede kan dit m i nie beslissend wees nie.

Verder maak Hoogland staat op algemene waarskynlikhede. Dit is duidelik dat daar inderdaad gebreke aan die looplys in koelkamer 1 was. Volgens Swanepoel is die Albertse puntenerige, klaerige mense, en die getuienis staaf hierdie beskouing. Is dit dan waarskynlik dat hulle talle klagtes sou hê, onder meer oor die looplys in koelkamer 2, maar niks sou rep oor die looplys in koelkamer 1, wat ook gebrekkig was nie? Hierdie is m i 'n gewigtige argument. Daarbenewens word tereg betoog dat Swanepoel en Louw se getuienis oor gebreke wat op 12 Desember nog in die looplys in koelkamer 2 voorgekom het, en hul getuienis dat die vals plafon in koelkamer 1 toe nog nie behoorlik geheg

33

was nie, ook sekere onwaarskynlikhede inhou.

Hoewel hierdie faktore in ag geneem moet word by die opweging van die getuienis bied hulle m i nie regverdiging om Swanepoel se getuienis te verwerp ten gunste van dié van die Albertse nie. Die verhoorhof het Swanepoel se getuienis in hierdie verband aanvaar. Benewens die bogemelde punte van kritiek skyn Swanepoel, op skrif altans, 'n bevredigende getuie. Daarenteen was die Albertse, soos ek reeds aangetoon het, oor die algemeen ongeloofwaardig, en is daar ook, soos ek later sal aantoon, ooglopende gebreke in hul getuienis oor die gebeure op 12 Desember 1988. Dit is dus onmoontlik om die hof se aanvaarding van Swanepoel se getuienis omver te werp, en die saak moet m i op daardie grondslag beslis word.

Wat Louw betref, is sy getuienis op 'n hele paar aspekte gekritiseer. Ek het reeds gewys op sy bewering,

34

vir die eerste keer in kruisverhoor gemaak, dat André Alberts hom spesifiek aangesê het om die buise vas te sweis. Die verhoorhof het hierdie bewering tereg nie aanvaar nie. Daar was ook ander swakhede in sy getuienis. So byvoorbeeld het hy gesê dat hy nie die vals plafon in koelkamer 1 kon klink nie omdat dit nat was. Selfs Swanepoel het toegegee dat dit onsin was. Louw het probeer ontken dat hy vir die brand verantwoordelik was, klaarblyklik sonder redelike gronde. Sy getuienis oor die manier waarop hy die linkerkantse reling reggemaak het was anders in kruisverhoor as wat dit in hoofverhoor was. 'n Mens moet dus versigtig wees om Louw se getuienis goedsmoeds te aanvaar.

Die vraag is dan: hoe weeg Hoogland se getuienis op teen dié van Louw? André en Johan is bewese leuenaars. Daarbenewens is André se getuienis oor wat

35

presies op 12 Desember gebeur het verwarrend en onwaarskynlik. Hierbo het ek sy getuienis in hoofverhoor uiteengesit. Onder kruisverhoor het hy moeilikheid ondervind om te verduidelik hoe en waarom hy soveel waarskuwings aan Louw gerig het. Oor die algemeen klink sy getuienis hieromtrent na minstens 'n growwe oordrywing. Sy getuienis, asook dié van Alberts Snr, oor die inhoud van laasgenoemde se telefoonoproep, is ook onaanvaarbaar. Soos reeds gemeld het die verhoorhof tereg bevind dat daar nooit 'n afspraak was dat Andrè 'n voorraadopname sou doen nie. Dit volg dat die getuienis oor hierdie oproep, wat na bewering met hierdie opname verband gehou het, onmiddellik ongeloofwaardig is. Daarbenewens is daar verskeie teenstrydighede tussen die getuienis van André en dié van Alberts Snr.

Oor die opdrag wat Louw sê Andrè aan hom gegee het

36

om die reling weer vas te heg, is Andrè se getuienis

ewe onbevredigend. In 'n polisieverklaring gedateer 20

Desember 1988 sê Andrè onder meer (ek het 'n paar

spelfoute gekorrigeer):

"Ek het toe vir hom (Louw) gesê dat hy die ou relings moet lossaag en dat hy glad nie in die koelkamer moet sweis of sny met 'n vlam nie. Hy wou ook weet hoe hy die nuwe reling moes vassit waarop ek hom meegedeel het dat hy dit met boute of enige ander manier behalwe as om te sweis." (My beklemtoning).

Onder kruisverhoor is hierdie aspek ook ondersoek.

Die oorkonde bevat o m die volgende:

"MNR CARSTENS: ... Ek wil by u weet toe u nou vir hulle voorgestel het -dis nou vir Isak Louw - dat daar 'n ystersaag gebruik moet word om die pype los te kry en hy nou nie van u uitnodiging gebruik gemaak het nie, hoe het u gedink sou hy die pype . . . vaskry? Sou hy die pyp weer vaskry aan die

'catwalk' nadat hy dit losgemaak het? Wel, ek

het nie geweet of hy die pyp weer gaan vasmaak nie.

Maar het u nie vir hom gesê hy moet die pyp

weer vasmaak nie? Ek het geen instruksies vir

hulle gegee nie, absoluut niks.

Het hy nie vir u gevra hoe hy die pyp weer
gaan vaskry nie? Nee, hy het net gevra hoe

37

moet hy die pyp weer loskry.

Is u seker? Korrek.

Het u nie 'n suggestie gehad dat hulle die

pyp moet vasmaak deur boute te gebruik nie?

Korrek.

O, ek dog u sê u het nie vir hom gesê hy moet

die pyp vaskry en hy het nie gevra nie. Wat ek

vir hom gesê het, U Edele, is hy het vir my gevra hoe hy die pyp moet loskry. Toe het ek vir hom daardie drie items [d w s, die drie handelinge wat verbode was in die koelkamer] genoem. Toe vra hy vir my maar - toe vra Isak Louw vir my weer maar hoe moet hy die pype los kry. Toe sê hy - toe sê ek vir hom: 'Isak, jy kan met graagte my ystersaag kom leen, dan kan jy die pyp los saag. En hoe jy verder werk hierso, hoe jy dit gaan vasmaak met boute of moere, maak my nie saak nie, jy moet jou eie werk klaarmaak.'" (My beklemtoning)

Hierdie passasie is nie alleen teenstrydig met die

polisieverklaring nie, maar is ook inherent

onbevredigend. Dit is bv onwaarskynlik dat Louw

aanhoudend sou vra hoe hy die pyp moet losmaak, en nie

sou probeer uitvind hoe hy dit weer moet vasmaak nie.

Dit is verder onwaarskynlik dat Andrè ongevraag

voorstelle sou doen oor hoe die pyp weer vasgemaak moes

word, tensy natuurlik albei partye veronderstel het dat

38

dit inderdaad gedoen moes word, iets wat Andrê ontken. En die voorstel dat die vashegting gedoen kon word met boute of moere sonder om te sweis klink vir my vergesog.

Ook die algemene waarskynlikhede staaf Louw se weergawe. Hy het volgens Swanepoel se aanvaarde getuienis geen opdrag van Aswane gehad om hoegenaamd aan die betrokke looplys te werk nie. Dit spreek dus feitlik vanself dat hy 'n opdrag van Andrê moes ontvang het om die looplys reg te maak. Die aanhegting van die reling is nie deur Louw gedoen toe hy oorspronklik die looplys ingebou het nie en hy het dit vir die eerste keer daardie dag gesien. Dit was vir hom duidelik dat dit nie Aswane se werk was nie, en daar was geen rede hoekom hy ander mense se gebrou sou probeer regmaak nie. Verder was daar geen praktiese manier waarop hy dit kon gedoen het sonder om te sweis nie. Dit klink

39

ondenkbaar dat hy op sy eie sonder opdrag van Andrè die werk sou doen, en dan nog ook op 'n manier wat Andrè herhaaldelik verbied het. Watter moontlike rede sou daar hiervoor wees? En in hierdie verband is dit ook ter sake dat, behalwe die werk wat Aswane as sub-kontrakteur vir Coldcor gedoen het, hy gedurende dieselfde tydperk ander werk op Hoogland in direkte opdrag van die Albertse gedoen het. Gesien die tipe mense waarmee 'n mens te doen het is dit nie onwaarskynlik dat Andrè Alberts aan Isak Louw sou wou voorsê oor wat hy moet doen nie, en ook nie dat Louw na hom sou luister nie.

Ek kan dus nie saamstem met die verhoorhof se bevinding wat ek hierbo as (d) aangedui het nie. Myns insiens staaf die waarskynlikhede Louw se getuienis dat Andrè Alberts hom opdrag gegee het om die aanhegting los te sny en weer vas te maak. Ek stem egter wel saam

40

dat daar nie bewys is dat Andrê uitdruklik aan hom opdrag gegee het om dit vas te sweis nie. Aan die ander kant glo ek nie dat André hom verbied het om te sweis nie, en meen ek trouens dat albei persone waarskynlik aanvaar het dat daar gesweis sou word. Dit was die metode wat vantevore gebruik was en daar is niks om aan te dui dat daar 'n praktiese alternatief was nie. En hoewel dit klaarblyklik gevaarlik is om in so 'n koelkamer te sweis, toon die getuienis duidelik dat met die bouwerk in 1986 tot 1987 al die kontrakteurs, d w s, Coldcor, Aswane en Grenco, in die koelkamer gesweis het. Dit was dus 'n normale werkswyse en die probleem het in die huidige geval ontstaan bloot omdat behoorlike voorsorgmaatreëls nie teen brand getref was nie.

Ek mag net in die verbygaan byvoeg dat Hoogland as getuie ene Leon Louw geroep het, wat getuig het dat

41

André Alberts hom in 1987 of 1988 vertel het dat 'n

mens nooit in 'n koelkamer sweis nie. Die omstandighede

waaronder dit plaasgevind het was totaal anders as dié

in die onderhawige geval. Die toelaatbaarheid van

hierdie getuienis is voor ons gedebatteer, maar myns

insiens is die relevantheid en gewig daarvan so gering

dat dit in alle geval geen verskil aan my

gevolgtrekking kan maak nie.

Ek kom nou by die vraag of Louw, op grond van die

feite hierbo behandel, binne sy diensbestek opgetree

het toe hy die brand gestig het. Die beginsels wat hier

van toepassing is, is al herhaaldelik deur hierdie hof

uiteengesit. Die tradisionele beginsels is onlangs weer

in Minister of Law and Order v Ngobo 1992 (4) SA 822

(A) bevestig en word kernagtig soos volg gestel deur

Kumleben AR op bl 827B:

"The critical consideration is ... whether the wrongdoer was engaged in the affairs or business

42

of his employer. ... It has been consistently recognised and applied, though - since it lacks exactitude - with difficulty when the facts are close to the borderline."

In die onderhawige geval was Louw 'n werknemer van

Aswane en het hy in die loop van sy diens na Hoogland

gegaan. Dit was nie deel van sy opdrag om die looplys

in koelkamer 1 te herstel nie, maar as hy foute gevind

het in Aswane se werk sou dit seker binne sy

werksbestek geval het om sodanige foute reg te maak,

selfs al het hy nie 'n spesifieke opdrag daarvoor gehad

nie. Die fout wat hy gevind het aan die linkerkantse

looplys was egter nie deur Aswane geskep nie. Iemand

anders het die reling aan die verkoelingspyp vasgeheg.

Louw was dus nie geroepe om enigiets daaromtrent te

doen nie. Volgens Swanepoel se onbetwiste getuienis was

Louw nie gemagtig of geregtig om foute reg te maak wat

deur ander mense veroorsaak is nie, veral nie waar daar

risiko's aan sodanige werk verbonde was nie. En, soos

43

ek hierbo bevind het, het Louw die werk gedoen, nie omdat hy beskou het dat dit sy plig as werknemer van Aswane was nie, maar omdat Andrè Alberts hom aangesê het om dit te doen, volgens Louw, op 'n aggressiewe en intimiderende manier. Louw het dus nie as werknemer van Aswane opgetree nie. Hy het 'n opdrag van Andrè Alberts uitgevoer wat hom buite sy pligte teenoor Aswane geneem het.

Die hof a quo het tot 'n ander gevolgtrekking gekom deur soos volg te redeneer. Die losmaak van die reling het buite Louw se diensbestek geval, maar geen skade het daaruit voortgevloei nie. Nadat die reling losgemaak was moes dit verstewig word, en hierdie onstewigheid was as gevolg van swak werk wat oorspronklik deur Aswane gedoen is. Louw het derhalwe as Aswane se werknemer opgetree toe hy weer die aanhegting vasgesweis het. Ek kan nie met hierdie

44

beredenering saamstem nie veral gesien die wyse waarop die linkerkantste reling verstewig is. Myns insiens is dit onrealisties om te onderskei tussen die losmaak en die vassweis van die buisies. Dit was glad nie binne Louw se werksbestek om die brouwerk te probeer regmaak nie. Beide die losmaak en die vasmaak is gedoen in opdrag van Andrè Alberts, en geen werk sou aan hierdie reling gedoen gewees het as Andrè nie daarop aangedring het nie.

Ek meen dus dat Louw nie binne sy diensbestek opgetree het toe hy aan die linkerkantse deel van die looplys gewerk het nie. Dit volg dus dat die verhoorhof m i gefouteer het deur Aswane middellik aanspreeklik te hou vir Louw se nalatige optrede.

Ook wat Coldcor betref is hierdie bevinding m i beslissend. Hoogland se eis teen Coldcor word soos volg in die besonderhede van vordering geformuleer. Daar

45

word eers beweer dat die partye ooreengekom het dat Coldcor sekere konstruksiewerk vir Hoogland sou verrig, waarby ingesluit is die oprigting van 'n vals plafon met looplyste in koelkamer 1. Dan word beweer dat dit 'n stilswyende term van hierdie ooreenkoms was dat "die werk wat [Coldcor] ingevolge daarvan moes uitvoer, behoorlik en sonder nalatigheid verrig word." Die kontrakbreuk waarop staatgemaak word is dat 'n werknemer van Aswane, wat as subkontrakteur "sekere werk verrig het ter uitvoering van [Coldcor] se verpligtinge ingevolge die kontrak met [Hoogland], in die loop van die uitvoering van sodanige werk nalatiglik veroorsaak het dat 'n brand in een van [Hoogland] se koelkamers ontstaan het". Ek sal veronderstel (anders as wat die verhoorhof bevind het) dat daar wel 'n kontrak tussen Hoogland en Coldcor was vir die oprigting van die betrokke looplys. Die

46

bevinding hierbo beteken egter dat Louw m i nie besig was met die uitvoering van werk ontstaande uit hierdie kontrak toe hy die brand veroorsaak het nie. Dit volg dus dat as daar so 'n kontrak was, Hoogland nie bewys het dat Coldcor kontrakbreuk gepleeg het nie.

Dit bring my dan weer by die petisies om kondonasie. Ek is nie van plan om breedvoerig op die feite in te gaan nie. Hulle kan soos volg opgesom word. Verlof om te appelleer is verleen op 16 Oktober 1991. Op 5 Desember het al die partye ooreengekom dat uitstel verleen word vir die indiening van die oorkonde tot 31 Maart 1992. Die twee appellante, Hoogland en Aswane, het ooreengekom om saam te werk met die voorbereiding van die oorkonde. Daar is besluit dat Mnr van Zijl, Aswane se prokureur, die nodige reëlings sou tref en dat die koste gedeel sou word. Die koste van 'n rekord voorberei deur die amptelike oorskrywers, Sneller

47

Opnames (Kaap) (Edms) Beperk ("Snellers"), sou aansienlik wees, en op 3 Januarie 1992 noem Hoogland se prokureur (Mnr Visagie) aan van Zijl dat hy dit miskien goedkoper elders sou kon laat doen. Teen Februarie het die pogings om dit goedkoper te laat doen vrugteloos geblyk. Visagie het Van Zijl toe versoek om Snellers opdrag te gee om 'n rekord voor te berei.

Op 12 Maart 1992 skryf Coldcor se prokureur (Mnr Dower) aan Visagie dat hy verneem het dat geen opdrag nog aan Snellers gegee is om 'n rekord voor te berei nie. Visagie het met Van Zijl hieroor in aanraking gekom en op 23 Maart is die nodige opdrag uiteindelik gegee. Pogings om die partye (en veral Coldcor) se toestemming tot verdere uitstel van die indiening te verkry het misluk. Op 22 April 1992 skryf Visagie aan Dower dat hy beoog om binnekort 'n petisie om kondonasie te rig. Dit was nadat Dower 'n hele paar

48

briewe oor die vertraging aan visagie geskryf het. Vir die doeleindes van die petisie het Visagie probeer om 'n beëdigde verklaring van Van Zijl te kry, maar tevergeefs. Op 1 Junie 1992 skryf Visagie aan Van zijl dat Aswane nie sekuriteit verskaf het nie en nie die rekord betyds ingelewer het nie, en dat Aswane se appèl verval het. Op 4 Junie beteken Hoogland 'n aansoek om kondonasie aan Coldcor. Dit was by wyse van kennisgewing van mosie. Op 14 Julie is dieselfde aansoek by wyse van petisie beteken. In hierdie aansoeke moes Hoogland sonder Van Zijl se hulp klaarkom.

Intussen het die voorbereiding van die rekord voortgegaan, maar daar was probleme met die verkryging en oortik van sommige van die bewysstukke. Vertragings is ook veroorsaak deur pogings van die partye om ooreen te kom oor die weglating van sekere bewysstukke.

49

Op 4 Augustus 1992 is afskrifte van die oorkonde aan Coldcor se advokate verskaf. Daar was egter heelwat gebreke in die oorkonde en liassering daarvan is vertraag deurdat Aswane nog nie sekuriteit verskaf het nie. Vroeg in September 1992 het die griffier geweier om die oorkonde te aanvaar vanweë gebreke daarin.

Op 28 April 1993 is 'n petisie om kondonasie deur Aswane aan Hoogland beteken.

Verdere pogings is aangewend om die gebreke in die oorkonde te herstel en op 27 Mei 1993 is die oorkonde geliasseer by die griffiér en deur haar aanvaar. Dower was egter steeds ontevrede oor sekere aspekte daarvan, en in Desember 1994 is 'n verdere band geliasseer saam met 'n verdere petisie om kondonasie.

In September 1994 is daar verdere beëdigde verklarings namens Aswane geliasseer. Hiervolgens blyk dit dat Van Zijl sedert Oktober 1991 onder

50

doktersbehandeling was weens simptome soos

slaaploosheid, swak konsentrasie, moegheid en

spierswakheid. Na vele konsultasies en laboratorium

ondersoeke het sy dokter in Februarie 1993 gediagnoseer

dat hy aan "chronic viral fatigue syndrome" ly. Hierdie

toestand word as volg beskryf deur sy geneesheer, Dr P

J Louw:

"Chronic viral fatigue syndrome can be described as a chronic immunologically mediated inflammatory process of the central nervous system. This condition causes mental and physical debility resulting in an inability to perform normally and even to attend to minor day to day tasks."

Mnr J Rabie, wat destyds die senior vennoot van Aswane

se prokureurs was, het getuig dat Van Zijl 'n ervare

prokureur was en dat hy vir Rabie beindruk het as 'n

ywerige en konsensieuse vennoot. Gedurende of omtrent

Mei 1992 het hy egter begin agterkom dat Van Zijl nie

altyd na wens optree nie, maar Van Zijl kon hom oortuig

dat daar geen ernstige probleme was nie. Die posisie

51

het versleg, maar Van Zijl het steeds volgehou dat hy sy werk onder beheer het. Van Zi jl het ook te alle relevante tye 'n kandidaat prokureur en twee professionele assistente voltyds tot sy beskikking gehad.

Van Zijl was vir die laaste gedeelte van Desember 1992 tot ongeveer 20 Januarie 1993 met vakansie. By sy terugkeer was dit duidelik dat daar iets ernstigs met hom skort. Rabie het toe ook vir die eerste keer bewus geword van Van Zijl se siektetoestand en het Dr Louw geskakel. Dr Louw het die toestand verduidelik, en aanbeveel dat Van Zijl op siekteverlof gaan. Wesentlik het Van Zijl daarna nie weer vir Aswane se prokureurs gewerk nie.

Dit is op grond van bogenoemde feite dat die petisies om kondonasie beslis moet word. Wat Hoogland betref, meen ek om die redes wat ek hierbo gegee het

52

dat sy petisies nie kan slaag nie omdat daar geen redelike vooruitsigte op sukses op appèl is nie. Namens Coldcor is betoog dat Hooglandgelas moet word om koste op die skaal van prokureur en eie kliënt m b t die aansoeke om kondonasie te betaal. Daar was inderdaad aansienlike vertragings met die indiening van die rekord. In 'n mate was dit veroorsaak deur Van Zijl se toestand, maar Hoogland se prokureurs kan nie vrygespreek word van versuim van hul eie nie. Daarbenewens was dit altyd moontlik vir Visagie om sy reëling met Van Zijl te beëindig en self te sorg vir die voorbereiding en indiening van die oorkonde. Na versigtige oorweging meen ek egter dat Visagie se nalate nie so ernstig was dat dit 'n bevel van prokureur-kliënt koste regverdig nie.

Aswane se petisie om kondonasie is op 'n verskillende grondslag. Ek meen dat Aswane se appèl op

53

meriete behoort te slaag. Die vraag is dus of die versuim so erg was dat kondonasie geweier moet word ten spyte van die goeie vooruitsigte op sukses. Eerstens moet daarop gelet word dat die versuim te wyte is aan Aswane se prokureurs, nie Aswane self nie. Aswane was steeds begerig om die appél voort te sit. Natuurlik, in gepaste omstandighede kan die versuim van 'n litigant se prokureur daartoe lei dat kondonasie geweier word selfs waar die vooruitsigte op sukses goed is, maar dit sal slegs in besonder ernstige gevalle gebeur. In die onderhawige geval het Visagie en Van Zijl saamgewerk om die rekord te laat voorberei, en was Visagie in staat vanweë sy besondere posisie as prokureur vir die ander appellant om 'n mate van beheer en invloed oor die voorbereiding van die rekord uit te oefen. Hy kon ook by Van Zijl se vennote gaan kla het oor Van Zi j 1 se laksheid en dit sou miskien sy onvermoë om sy werk na

54

behore te doen, vroeër blootgestel het. 'n Mens kan verstaan dat Visagie 'n mate van toeskietlikheid teenoor 'n kollega openbaar het, maar dit is 'n faktor wat tog in aanmerking geneem kan word by die bepaling van Aswane se blaamwaardigheid. Dit blyk nou dat Van Zijl destyds nie gesond was nie. Vir hom persoonlik is dit nie 'n verskoning nie. Hy behoort nie die taak te onderneem het en daarmee voortgegaan het as hy dit nie kon behartig nie. Dit verminder egter wel die blaamwaardigheid van sy kliënt en vennote wat die opdrag in goeie trou in sy hande gelaat het. Onder al die omstandighede moet Aswane se petisie om kondonasie na my mening slaag.

Ten laaste is daar 'n kwessie van koste in die hof a quo. Daar sal onthou word dat Hoogland se getuienis oor Andrê Alberts se beweerde voorraadopname verwerp is en dat die skadeberaming wat daarop gebaseer is dus ook

55

nie deur die verhoorhof aanvaar is nie. Aswane het versoek dat Hoogland derhalwe gelas moes word om een-derde van Aswane se koste op die prokureur-kliënt skaal te betaal. Die verhoorhof was nie bereid om 'n prokureur-kliënt kostebevel te maak nie, maar het gelas dat Hoogland die koste van agt dae van die verhoor (wat die beraamde tyd was wat hierdie geskilpunt in beslag geneem het) betaal op die gewone party en party skaal. Aangesien Aswane se appêl nou slaag sal Hoogland uiteraard al Aswane se verhoorkoste moet betaal, en die bevel met betrekking tot agt dae val dus weg. Daar is egter weer betoog dat 'n kostebevel op die prokureur-kliënt basis aangewese is. Dit is geykte reg dat die verhoorhof 'n diskresie m b t koste gehad het. Ek meen nie dat daar genoegsame redes is om die uitoefening van sy diskresie in hierdie geval omver te werp nie. Die volgende bevele word dus uitgereik.

56

Hoogland Boerdery (Edms) Beperk teen Coldcor (Edms) Beperk

Die petisionaris se petisies om kondonasie word afgewys met koste, wat insluit die koste verbonde aan die appèl. Die koste van twee advokate word toegelaat. Aswanestaal (Edms) Beperk teen Hoogland Boerdery (Edms) Beperk

1. Die petisionaris se petisie om kondonasie word
toegestaan. Die petisionaris moet die koste van
opposisie betaal insluitende die koste van twee
advokate.

2. Die appèl word gehandhaaf met koste,
insluitende die koste van twee advokate. Die verhoorhof
se vonnis word tersyde gestel en vervang met die
volgende:

Eiser se eis teen Tweede Verweerder word van die

57

hand gewys met koste, insluitende die koste van twee advokate.

E M GROSSKOPF, AR

VIVIER, AR

VAN DEN HEEVER, AR HARMS, AR OLIVIER, AR Stem saam

▲ To the top