S v De Lange en 'n Ander (35/1994) [1995] ZASCA 94 (14 September 1995)


Saak Nr 35/94 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

JOHANNES JACOBUS DE LANGE Eerste Appellant

JOHANNES RUDOLPH STRAUSS Tweede Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, NESTADT, ARR et SCOTT Wn AR

VERHOOR: 25 Augustus 1995

GELEWER: 14 September 1995

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR

2

Die twee appellante is in die Streekhof te

Vanderbijlpark daaraan skuldig bevind dat hulle

vervalste twintig rand note uitgegee het. Eerste

appellant se skuldigbevinding was op twee klagtes. Die

betrokke oortredings is onderskeidelik gepleeg op 17

Oktober 1991 en 3 November 1991. In albei gevalle is

een noot uitgegee. Die tweede appellant is skuldig

bevind to v 'n enkele oortreding gepleeg op 18 Oktober

1991. Hy het ook een vervalste noot uitgegee. Die

eerste appellant is op elk van die twee klagtes tot

twee jaar gevangenisstraf gevonnis, maar daar is gelas

dat die twee vonnisse saamloop. Sy effektiewe

gevangenisstraf is dus twee jaar. Die tweede appellant

is gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf, waarvan een

jaar op gepaste voorwaardes opgeskort is. 'n Appèl na

die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling teen die

vonnisse het misluk. Met die nodige verlof kom die

3

appellante nou in hoër beroep na hierdie hof.

Namens die appellante is eerstens betoog, op gesag van S v Marx 1989 (1) SA 222 (A) op 225 (B-J), dat daar oneweredige vonnisse op die appellante opgelê is met betrekking tot misdade wat wesentlik ewe blaamwaardig was. Ek stem nie saam nie. Die eerste appellant is aan twee oortredings skuldig bevind en is effektief 'n jaar gevangenisstraf vir elk opgelê. Die tweede appellant het 'n enkele oortreding begaan waarvoor hy twee jaar gevangenisstraf, met een jaar opgeskort, ontvang het. Dit kom my 'n heeltemal redelike manier voor om te onderskei tussen die erns van die appellante se onderskeie oortredings.

Verder is betoog dat die vonnisse in elk geval te swaar was. Dit is geykte reg dat 'n hof van appèl nie met 'n verhoorhof se vonnisoplegging inmeng tensy daar 'n onbehoorlike diskresie-uitoefening aan die kant van

4

die verhoorhof was nie. In die onderhawige geval word daar nie betoog dat die streeklanddros enige mistasting begaan het nie. Die argument is dat die vonnisse so skokkend onvanpas was dat afgelei kan word dat die verhoorhof nie sy diskresie behoorlik uitgeoefen het nie. Die appellante is aangekla ingevolge art 2(c) van die Wet op Voorkoming van Vervalsing van Betaalmiddele, 16 van 1965. Kragtens art 2(i) van die Wet is 'n oortreder strafbaar met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens vyftien jaar. Terloops, dit mag wees dat die appellante eerder aangekla moes gewees het van 'n oortreding van art 34 (l)(a) van die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank, 90 van 1989, maar dit sou geen verskil aan die bevoegde straf gemaak het nie, en die appellante het hul nie oor enige gebrek in die klagstaat bekla nie. Die belangrike punt is dat die uitgifte van vervalste banknote as 'n baie ernstige

5

misdaad deur die wetgewer beskou word, en die streeklanddros het hierdie faktor tereg in aanmerking geneem. Aan die ander kant was hy ook bedag daarop dat die huidige oortredings net met enkele banknote te doen gehad het.

Die persoonlike omstandighede van die twee appellante is die volgende. Die eerste appellant is 35 jaar oud. Hy is 'n eerste oortreder. Hy is getroud en het twee kinders. Hy is in vaste werk. Die tweede appellant is 'n jong man van 22 jaar en ook 'n eerste oortreder. Hy het vaste werk maar geen afhanklikes nie. Hierdie persoonlike omstandighede is uiteraard strafversagtend. Die verhoorlanddros was egter bewus hiervan, en het dit in ag geneem. Dit is vir my onmoontlik om te sê dat hy nie genoeg gewig daaraan geheg het tot so 'n mate dat dit as 'n mistasting aangeteken kan word nie.

6

Ek meen dus dat daar geen gronde is waarop die

streeklanddros se diskresie-uitoefening aangeveg kan word nie. Die appèlle van altwee appellante word afgewys.

E M GROSSKOPF, AR

NESTADT, AR

SCOTT, Wn AR Stem saam

▲ To the top