S v Greeff (640/1994) [1995] ZASCA 95 (14 September 1995)


Saak Nr 640/94 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ALFONSO DEON GREEFF Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, NESTADT, ARR et SCOTT, Wn AR

VERHOOR: 25 Augustus 1995 GELEWER: 14 September 1995

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR

2

Die appellant is in die landdroshof van Benoni

skuldig bevind aan 'n oortreding van art 122(2)(a) van die Padverkeerswet, 29 van 1989, deurdat hy 'n voertuig op 'n openbare pad bestuur het terwyl die konsentrasie alkohol in 'n monster bloed wat van sy liggaam geneem is, nie minder as 0,08 gram per 100 milliliter was nie, te wete 0,2 7 gram per 100 milliliter. Hy is gevonnis tot 18 maande korrektiewe toesig. 'n Appèl na die Transvaalse Provinsiale Afdeling teen sy skuldigbevinding het misluk. Met verlof van die hof a quo kom hy nou in hoër beroep na hierdie hof.

Die staatsgetuienis by die verhoor kan soos volg opgesom word. Eers is bewys gelewer dat 'n bloedmonster binne die voorgeskrewe tyd nadat die appellant 'n voertuig op 'n openbare pad bestuur het, van hom getrek is ingevolge art 122(3) van die Padverkeerswet en dat die monster na die Forensiese Chemie Laboratoria van die Departement van Nasionale Gesondheid en

3 Bevolkingsontwikkeling in Johannesburg geneem is.

Daarna het die vervolging 'n sertifikaat ingevolge art

212(4) (a) van die Strafproseswet, 51 van 1977,

ingehandig waarin ene Mandisa Lobelo verklaar het

  1. dat hy sekere kwalifikasies as skeikundige het;

  2. dat hy in die diens van die Staat as 'n forensiese analis is;

(c) dat hy 'n bepaalde bloedmonster (dit is gemene
saak dat dit dié van die appellant was) onderwerp het
aan 'n proses wat bedrewenheid in skeikunde vereis; en

(d) dat hy bepaal het dat die konsentrasie van
alkohol in die bloedmonster 0,27 gram per 100
milliliter bloed was.

Na inhandiging van die sertifikaat het die Staat sy saak gesluit.

Die staatsaak was dus afhanklik van die sertifikaat wat ingevolge art 212(4)(a) van die

4 Strafproseswet ingehandig is. Die artikel lui soos

volg, insoverre dit ter sake is:

" Wanneer 'n feit wat bepaal is deur 'n ondersoek of proses wat bedrewenheid in ... skeikunde ... vereis, by strafregtelike verrigtinge by die geskilpunt relevant is of mag word, is 'n dokument wat voorgee 'n beëdigde verklaring te wees deur 'n persoon wat in daardie beëdigde verklaring beweer dat hy in diens is van die Staat ... en dat hy bedoelde feit deur middel van so 'n ondersoek of proses bepaal het, by blote voorlegging daarvan by sulke verrigtinge prima facie-bewys van daardie feit: Net dien verstande dat die persoon wat bedoelde beëdigde verklaring kan aflê, in 'n geval waarin bedrewenheid in skeikunde ... vereis word, 'n sertifikaat in plaas van bedoelde beëdigde verklaring kan uitreik, in welke geval die bepalings van hierdie paragraaf mutatis mutandis met betrekking tot so 'n sertifikaat van toepassing is."

Die appellant het net een getuie geroep. Dit was Mnr S Toerien wat ook 'n forensiese analis by die Forensiese Chemie Laboratoria is, en dus 'n kollega is van Mnr Lobelo wat die betrokke sertifikaat uitgereik het. Mnr Toerien het beskryf hoe ontledings van bloedmonsters gedoen word om die alkoholkonsentrasie

5 vas te stel. Dit kan soos volg opgesom word.

Eers word die bloedmonster verdun met 'n

verdunningsapparaat. Dit is 'n apparaat op sy eie. Die

verdunning geskied met 'n interne standaard, wat in

hierdie geval tersiêre bitanol was. Daarna word die

verdunde bloed in 'n gaschromatograaf geplaas waar dit

verhit word tot 65 grade Celsius sodat daar 'n dampdruk

vorm. Die damp sluit enige alkohol in wat aanwesig mag

wees asook die tersiêre bitanol wat as interne

standaard dien. Die damp word dan outomaties deur die

masjien in die gaschromatograaf ingespuit waarna die

verskillende komponente geskei word op grond van hul

verskillende massas. Dan gaan dit deur 'n detektor wat

die komponente ioniseer en hierdie ionisasie gee dan 'n

uitdrukking op 'n apparaat bekend as 'n integreerder

wat die komponent as 'n piek aandui. As daar alkohol in

die monster is, sal daar twee pieke wees - een vir die

alkohol en een vir die tersiêre bitanol. Die

6 integreerder verwerk die piek m b t alkohol om dit uit

te druk in gram per 100 milliliter. Dit is dan die

syfer wat in die sertifikaat voorkom. Twee

gaschromatograwe word vir elke bloedmonster gebruik en

hulle moet binne 95 persent ooreenstem.

Voordat 'n integreerder in die laboratoria gebruik was, was die gaschromatograaf aan 'n grafiektrekker gekoppel wat 'n grafiek van die pieke verskaf het. Die analis moes dan self wiskundig bepaal hoeveel gram per milliliter die piek verteenwoordig. Nadat integreerders in gebruik geneem was, was die ontleder se taak heelwat eenvoudiger. Hy programmeer nou bloot die masjien met die dag se monsters en kyk wat die uitslae is.

Oor die betroubaarheid van die proses het Mnr

Toerien gesê:

"Ons is heel vertroud met hoe die apparaat werk en ons is baie tevrede daarmee".

Later het hy die proses as "baie betroubaar" beskryf.

Die vraag is nou of die appellant se skuld bo

7 redelike twyfel bewys is. As die sertifikaat sy volle

regskrag het ingevolge art 212(4)(a) van die

Strafproseswet, moet die antwoord bevestigend wees.

(Sien S v Veldthuizen 1982 (3) SA 413 (A) op 416 G-H.)

Die feit wat bewys moes word was dat die monster bloed

nie minder nie as 0,08 gram per milliliter alkohol

bevat het. Die sertifikaat voldoen aan al die formele

vereistes om prima facie bewys te vorm dat die

bloedkonsentrasie 0,27 gram per milliliter bloed was.

Geen getuienis is aangebied om hierdie prima facie

getuienis in twyfel te trek nie. Inteendeel, Mnr

Toerien het die proses waardeur die monster ontleed

was, as baie betroubaar beskryf. Daardeur is die

sertifikaat se prima facie bewyskrag versterk eerder as

weerlê.

Om te slaag in sy appèl was die appellant dus

geroepe om aan te toon dat die sertifikaat in die

onderhawige geval nie toelaatbaar was nie. Vir hierdie

8 doel is betoog dat die bepaling van die

bloedkonsentrasie op die manier wat ek hierbo beskryf

het, nie neerkom op 'n ondersoek of proses wat

bedrewenheid in skeikunde vereis nie. Die metode wat

gevolg word, so is betoog, is baie eenvoudig, en word

ten dele deur 'n tipe rekenaar (die integreerder)

gedoen. Diebedrewenheidwat vereis word (indien enige)

is dus eerder bedrewenheid in rekenaarwetenskap as in

skeikunde.

Na my mening gaan hierdie argument nie op nie.

"Skeikunde" word omskryf in die Verklarende

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal ("HAT") van

Odendal en andere as "leer van die eienskappe en die

samestelling van stowwe en van veranderinge daarin."

Die ontleding van 'n monster vloeistof om te bepaal of

dit alkohol bevat en, indien wel, hoeveel, is by

uitnemendheid 'n skeikundige handeling. Dit verg kennis

van die eienskappe van die onderskeie komponente wat in

9 die monster aanwesig is ten einde die verhouding tussen

hulle te bepaal. Dat moderne tegnologie daarin geslaag

het om hierdie ontleding te vergemaklik maak myns

insien nie saak nie. Selfs opgevoede leke sou nie

normaalweg weet hoe om die hedendaagse apparaat en

prosesse te benut ten einde bloedontledings te doen

nie. Dit geskied in die laboratorium, nie in die

woonkamer nie. Skeikundiges word opgelei om die

apparaat te gebruik wat nodig is vir hul doeleindes. En

dat rekenaars gebruik word om sekere van die resultate

te verwerk maak myns insiens ook nie saak nie. Voordat

die rekenaar gebruik was het die ontleder self die

wiskundige berekenings gedoen. Daardie deel van die

ondersoek was dus eerder 'n wiskundige as 'n

skeikundige werksaamheid. Desnieteenstaande was die

proses as geheel steeds in wese 'n skeikundige een.

Dieselfde geld vir die integreerder. Dit doen die

wiskundige berekenings wat nodig is om die resultate

10

van die skeikundige ontleding in 'n bruikbare vorm uit

te druk. Hierdie handeling vorm 'n deel van die normale werksaamhede van 'n skeikundige.

Weens die voorgaande meen ek dat die proses, soos beskryf deur Mnr Toerien, wel een was wat bedrewenheid in skeikunde vereis het, en dat die sertifikaat dus toelaatbaar was ingevologe art 212(4)(a) van die Strafproseswet.

In die alternatief het die appellant betoog dat, selfs al is die sertifikaat toelaatbaar, dit nie regskrag kan hê nie omdat dit getuienis bevat van feite wat deur middel van 'n rekenaar bepaal is. Ek stem nie saam nie. Die artikel plaas geen beperking op die apparaat wat die skeikundige mag gebruik om sy ontleding te doen nie. Dat daar gedurende die proses berekeninge deur 'n rekenaar gedoen word doen dus m i nie af aan die bewyskrag van die sertifikaat nie. Trouens, ek wonder of daar vandag enige wetenskaplike

11

rigting is waarin daar nie gebruik van rekenaars gemaak word nie.

Ter ondersteuning van hierdie laasgenoemde betoog het die appellant se advokaat sterk gesteun op die Nieu-Seelandse saak van Holt v Auckland City Council [1980] 2 NZLR 124. In daardie saak het die hof te doen gehad met 'n wetsbepaling wat baie ooreenstem met ons art 212(4)(a). Daar was egter een groot verskil. Die Nieu-Seelandse artikel het onder meer bepaal dat 'n sertifikaat nie toelaatbaar sou wees nie waar die beskuldigde versoek het dat die persoon wat die ontleding gedoen het, deur die vervolging as getuie geroep word. (Holt se saak op bl 126, reëls 35 tot 38.) In Holt se saak het die beskuldigde hierdie reg uitgeöefen. Die analis het persoonlik getuig, en die vraag het onstaan of sy deskundige getuienis kon gee oor die integreerder, waaroor sy nie voorgegee het om enige besondere kennis te hê nie. Die hof het

12 beklemtoon dat hierdie vraag bloot een van die gemene

reg was - die bewyswaarde van die sertifikaat het

weggeval toe die beskuldigde sy reg uitgeóefen het om

die analis te laat roep as getuie (bl 126 reël 39 tot

47). By ons is die posisie omgekeerd. Ons moet bepaal

wat die regseffek van 'n sertifikaat is. Holt se saak

bied na my mening geen hulp in hierdie verband nie.

Ek meen dus dat die sertifikaat in die huidige geval toelaatbaar was. Daar was geen getuienis ter weerlegging van die prima facie bewys wat die sertifikaat daargestel het nie. Die appellant was dus tereg skuldig bevind.

Die appêl word afgewys.

E M GROSSKOPF, AR

NESTADT, AR

SCOTT, Wn AR Stem saam

▲ To the top