S v Thomas en Andere (536/1994) [1995] ZASCA 96 (14 September 1995)


NIE RAPPORTEERBAAR SAAKNOMMER: 536/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

IAN BARRY THOMAS EERSTE APPELLANT

LEON LE ROUX TWEEDE APPELLANT

MICHAEL DAVID CROW DERDE APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: E M GROSSKOPF, VIVIER et OLIVIER ARR

VERHOORDATUM: 28 AUGUSTUS 1995

LEWERINGSDATUM: 14 SEPTEMBER 1995

UITSPRAAK

OLIVIER AR/

2

OLIVIER AR:

Die appellante het in die Kaapse Streekafdellng tereggestaan op 'n klag in terme van art 18(2)(a) van die Wet op Onwettige Byeenkomste, 17 van 1956. Dit is hulle ten laste gelé dat hulle met twee ander, Dirks en MacLean, saamgesweer het om bedrog te pleeg. Díe Staat het beweer dat hulle gedurende Mei en Junie 1993 te Kaapstad saamgesweer het om vervalste geld ten bedrae van R1004 800 in die vorm van R50 note te bekom en dit aan Dirks en MacLean te lewer teen vergoeding.

Die appellante het skuldig gepleit. Uit 'n pleitverduidelikende verklaring wat aan die verhoorhof voorgelê is, blyk dat hulle erken het dat hulle wederregtelik en opsetlik aan die sameswering, soos hul ten laste gelê is, deelgeneem het. Hulle sou R500 000 as vergoeding vir die transaksie ontvang het.

Dirks was 'n polisie-informant en "MacLean" dle alias van 'n polisie-beampte, ene Howard (hierna steeds "MacLean" genoem). Die transaksie

3

was 'n polisie-lokval, waarin die appellante betrap en gearresteer is.

Die appellante is tereg skuldig bevind. Na die aanhoor van hul getuienis, asook die van die eggenote van derde appellant, Dirks en MacLean, is hul elkeen gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf onderhewig aan die bepalings van art 271(1)(i) van die Strafproseswet, 51 van 1977.

Hul appèl teen die opgelegde vonnisse is deur die Kaapse Provinsiale Afdeling (per Scott en Lategan RR) op 13 Mei 1994 afgewys, welke hof ook verlof verleen het dat hulle hul op hierdie Hof mag beroep slegs wat die vonnisse betref.

By die verhoor van die appèl in hierdie Hof is eerste en derde appellante deur 'n advokaat verteenwoordig. Tweede appellant was afwesig en is nie verteenwoordig nie. Sy appèl moet dus ingevolge Appèlhofreël 7(3) afgewys word.

Dit is nodig om kortliks die feite soos blyk uit die getuienis, te skets. Gerieflikheidshalwe kan dit gedoen word deur met derde appellant se rol te begin.

4

Derde appellant, 'n 37-jarige getroude man met 'n gesin ('n seun van 12 jaar en 'n dogter van 9 jaar) was voorheen 'n gerespekteerde werknemer van Telkom. Hy het uit sy werk bedank en in ongeveer 1991 'n skoonmaak-onderneming in Kaapstad van stapel gestuur. Eerste appellant en ene May was sy vennote en Dirks 'n werknemer. Die drie vennote het later hierdie onderneming weens 'n gebrek aan kapitaal van die hand gesit en Dirks het sy eie weg ingeslaan. Derde appellant en sy eggenote het 'n klein telefoon-buro onderneming in die Goue Akker in Kaapstad geloods. Ongeveer 'n jaar later het Dirks 'n besoek by hom afgelê. Dit het geblyk dat hy in Namibië was; dat hy naarstig 'n betrekking soek; dat hy (ongeslypte) diamante en dwelmmiddels gehad het om te verkwansel en dat hy derde appellant daarin wou betrek. Laasgenoemde het nie belanggestel nie, maar Dirks het daagliks vanaf ongeveer 9 vm tot 4 nm by sy ondememing deurgebring, kwansuis omdat hy op vlug was vir die geregsbode. Later het Dirks hom gevra of hy vervalste geld in die hande kon kry. Derde appellant het gesê dat hy 'n vriend in Johannesburg het, ene Victor, wat moontlik iemand ken wat sulke geld sou

5

kon verskaf. Victor het 'n broer wat huise in Soweto bou en wat baie "kontakte" het; ook het Victor hom al meegedeel dat hy enigiets in Johannesburg kon bekom. Derde appellant het met die gemelde Vlctor in verbinding getree, maar vir weke lank was daar geen reaksie nie. Dirks het intussen by hom opgedaag, vergesel van MacLean, wat aan hom voorgestel is as 'n bestuurder van Eerste Nasionale Bank. MacLean het gesê dat die transaksie met die vervalste geld kinderspeletjies is en dat hy dit al voorheen gedoen het: hy kon die vervalste note omruil vir egte note en die vervalste note laat vernietig in die gewone loop van die bank se bedrywighede. Hy, MacLean, sou R500 000 se egte note vir homself hou.

Dirks het steeds onophoudelik na derde appellant se besigheidsplek gekom en daagliks 'n oorlas van homself gemaak. Hy het selfs R100 vir 'n siek kind by derde appellant geleen nadat MacLean onderneem het om daarvoor in te staan. Die besoeke het vir weke aangehou; Dirks het druk op hom ultgeoefen om die transaksie te beklink.

Hierna het tweede appellant met derde appellant in verbinding getree.

6

Hy was 'n werknemer van Victor se broer en het derde appellant meegedeel dat hy moontlik vervalste geld kon bekom. Die leweransiers wou 'n deposito van R50 000 hê, wat derde appellant nie gehad het nie. Na onderhandelinge van vyf of ses weke het die verskaffer ingestem om die vervalste geld sonder 'n deposito te oorhandig, maar teen uiteindelike vergoeding van R300 000. Nadat Dirks self telefonies met tweede appellant in verbinding was, is daar finaal so ooreengekom.

Die vals note is in Johannesburg aan tweede appellant gelewer en derde appellant het daarheen gegaan. Die afspraak was dat Dirks en MacLean ook na Johannesburg sou kom om die vervalste geld in ontvangs te neem, maar hulle het derde appellant later, terwyl hy in Johannesburg op hulle gewag het, laat weet dat die geld in Kaapstad aan hulle gelewer moet word. Dirks en MacLean wou egter eers 'n eksemplaar van die vervalste note sien. Derde appellant het intussen sy ou vennoot, eerste appellant, wat toentertyd in Johannesburg woonagtig was, ontmoet. Toevallig sou laasgenoemde per vliegtuig na Kaapstad afreis om sy familie te besoek. Eerste appellant het

7

hom dus versoek om een van die vervalste note na Dirks te neem. Dirks was tevrede met die noot, hoewel dit van swak kwallteit was. Tweede en derde appellante het met die res van die vervalste geld per motor na Kaapstad afgereis. Daar aangekom, het derde appellant vir eerste appellant ingelig oor die skema. Laasgenoemde het ingestem om mee te doen en is saam met derde appellant na 'n hotel in Kaapstad waar hulle Dirks en MacLean sou ontmoet om die transaksie deur te voer. Tweede appellant het geweier om saam te gaan en beklemtoon dat die lewering van die geld 'n misdaad daarstel. By die gemelde ontmoeting is ooreengekom dat eerste en derde appellante en Dirks en MacLean twee dae later by 'n ander hotel in Kaapstad bymekaar sou kom waar die finale uitruiling van die vervalste met egte note sou plaasvind. By daardie geleentheid is hulle gearresteer. Derde appellant volstaan daarmee dat hy slegs aan die skema deelgeneem het weens onophoudelike druk deur Dirks en MacLean.

Tweede en derde appellante se weergawes sluit volkome by dié van derde appellant aan. Wat tweede appellant betref, blyk dat hy by Victor se

8

broer in Soweto werksaam was. Victor het hom ongeveer ses of agt weke voor sy arrestasie genader met die versoek om vir vriende van hom in Kaapstad vervalste geld te probeer bekom. Hy het begln navrae doen en uiteindelik het iemand hom genader met die aanbod om vervalste note te lewer. Intussen het Dirks ook eenmaal direk met hom telefonies in verbinding getree en hom aangespoor om sy beste te vermag om vervalste geld in die hande te kry. Nadat Dirks aan hom verduidelik het hoe daar uit so 'n transaksie geld te make is, het hy met sy pogings volhard. Nadat die geld aan hom gelewer is, het hy die verdere reëlings met derde appellant getref en hom later na Kaapstad vergesel, soos vermeld. Hy volstaan daarmee dat hy verlei is om aan die skema deel te neem deur derde appellant en Dirks, wat hom voortdurend onder druk geplaas het om vervalste geld te vind, tot so 'n mate dat hy sy werk verwaarloos het in die soektog na 'n leweransier van vervalste geld.

Eerste appellant het in sy getuienls die weergawes van die ander twee appellante bevestig. Volgens hom was hy nie bereid om teenwoordig te wees

9

by die oorhandiging van die vervalste geld nie, maar Dirks en MacLean het op sy aanweslgheid aangedring.

Uit Dirks se getuienis blyk dat hy 'n polisie-informant is wat R10 000 betaal is vir sy aandeel in die transaksie. Volgens hom was nie hý nie maar derde appellant die outeur van die voorstel met betrekklng tot die onwettige skema. Hy het ontken dat hy druk op derde appellant uitgeoefen het of geld by hom geleen het, maar gee toe dat hy byna elke dag vir derde appellant aangemoedig het om met die skema voort te gaan. Maar hy het toegegee dat druk wel uitgeoefen is deurdat hy en MacLean derde appellant in 'n stadium meegedeel het dat as die transaksie nie binne 'n afsnydatum deurgaan nie, dit sal verval.

MacLean het sy rol, soos deur derde appellant geskets, bevestlg. Hy het ook bevestig (strydig met wat Dirks getulg het) dat laasgenoemde wel geld by derde appellant geleen het vir sy siek kind; trouens, hy het derde appellant oorreed om die geld aan Dirks te leen.

Die eerste appellant was ten tyde van die verhoor 40 jaar oud, getroud

10

en die vader van drie dogters, een van 16 jaar en 'n tweeling van 14 jaar. Soos die ander twee appellante was hy 'n eerste oortreder. Hy was in diens van Telkom vir 20 jaar en het blykbaar 'n goeie werksrekord gehad. Hy het sy betrekking daar laat vaar om 'n sake-onderneming in Kaapstad van stapel te stuur. Dit het misluk; so ook die onderneming wat hy later in vennootskap met derde appellant bedryf het. Gedurende daardie tyd het hy Dirks, as werknemer van die onderneming, leer ken. Na die ineenstorting van die onderneming het hy na Johannesburg verhuis en daar 'n betrekking aanvaar. Vyf maande later het hy in die onderhawige misdaadplan betrokke geraak. Hy het getulg dat hy weens sy arrestasie sy betrekking verloor het; dat hy sedertdien weer 'n broodverspreidingsbedryf van stapel gestuur het; dat hy en sy gesin weens sy arrestasie en vervolging deur diep waters gegaan het en dat hy innige berou het vir sy dade. Dit blyk ook dat hy Dirks en MacLean geglo het toe hulle aan hom voorgehou het dat die skema veilig is en dat hy redelik onkundig is oor die weë van die wêreld. Sy hoogste skolastiese kwalifikasie is standerd agt.

11

Die tweede appellant was tydens die verhoor 24 jaar oud en is die vader van 'n 14-maande oue baba. Sy vrou kon nie daarin slaag om 'n betrekking te bekom nie en hulle woon, weens geldnood, by vriende. Sy arrestasie was vir hom 'n groot slag - hy het sy betrekking en alles wat hy gehad het, verloor; dit was 'n groot skok vir sy selfvertroue en hy is oortuig dat hy hom nie weer aan 'n misdaad skuldig sal maak nie. Ook hy het sy berou betuig.

Derde appellant is 37 jaar oud, getroud en die vader van twee kinders, 'n seun van twaalf en 'n dogter van nege jaar. Volgens hom het hy aan die sameswering deelgeneem weens die onophoudelike druk wat Dirks en MacLean op hom uitgeoefen het. Hy is deur die arrestasie en vervolging finansieel geruïneer en moes sy onderneming vir 'n appel en 'n ei verkoop. Hy het na Natal verhuis en probeer om daar 'n betrekking te vind. Ook hy het sy berou betuig; ook in sy geval blyk dit dat hy onkundig is ten aansien van die euwels van ons samelewing. Die hele skema, vanaf die eerste voorstel deur Dirks tot sy arrestasie, het ongeveer agt weke geduur.

12

Die landdros het, soos vermeld, die drie appellante elk tot vyf jaar gevangenisstraf onderhewig aan die bepalings van art 276(1 )(i) van die Strafproseswet gevonnis. Hierdie vonnisse is op appel deur dle hof a quo gehandhaaf.

Enkele dae voor die verhoor in hierdie Hof van die appél teen die opgelegde vonnisse is namens eerste en derde appellante 'n aansoek gerig vir die tersydestelling van die vonnisse en terugverwysing van die aangeleentheid na die verhoorhof om verdere getuienis aan te hoor met die oog op oplegging van vonnisse van korrektiewe toesig in terme van art 276(1 )(h) van die Strafproseswet. In dle aansoekstukke word deur die prokureur wat namens die appellante in die verhoor opgetree het (en wat hulle tans nog verteenwoordig) aangevoer dat hy destyds nie voorsien het dat sy kliënte gevangenisstraf opgelê sou word niê. Hy was onder die indruk dat die verhoorlanddros die oplegging van korrektiewe toesig as strafvorm sou oorweeg en self 'n verslag van 'n korrektiewe beampte ingevolge art 276A(1) van die Strafproseswet sou aanvra. In die aansoekstukke is daar beêdigde

13

verklarings van geregistreerde maatskaplike werkers wat die mening uitspreek dat die eerste en derde appellante geskikte kandidate vir die oplegglng van korrektiewe toesig is.

Die Staat het die gemelde aansoeke teengestaan.

Art 316(3) van die Strafproseswet is nie in hierdie geval met betrekking

tot die aansoek om tersydestelling van die vonnisse en terugverwyslng om

nuwe getuienis aan te hoor, van toepassing nie, omdat die onderhawige

aansoek nie gerig is as deel van 'n aansoek vir verlof om te appelleer nie. Die

kriteria waaraan die huldige aansoek gemeet moet word, is vasgelê in

uitsprake soos R v Weimers and Others 1960(3) SA 508 (A); S v De Jager

1965(2) SA 612 (A) en S v Nkala 1964(1) SA 493 (A). In S v De Jager.

supra, te 613 C - E is daardie kriteria soos volg saamgevat:

"(a) There should be some reasonably sufficient explanation, based on allegations which may be true, why the evidence which it is sought to lead was not led at the trial.

(b) There should be a prima facle likelihood of the truth of the evidence.

14

(c) The evidence should be materially relevant to the outcome of the trial."

In die onderhawige geval skep vereistes (a) en (c) myns insiens 'n onoorkomelike probleem vir die appellante.

Wat vereiste (a) betref, is die verduideliking vir die versuim om die getuienis van maatskaplike werkers of ander soortgelyke beroepslui ter strafversagting by die verhoorhof aan te bied, nie aanvaarbaar nie. Die wanopvatting van die appellante se prokureur of, miskien meer korrek, sy valse hoop op 'n ligte vonnis, kan nie as 'n aanvaarbare verduideliking gedoog word nie. Enige ander houding sal die sluise open vir 'n onhanteerbare vloedgolf van soortgelyke aansoeke, waaronder die beginsels van regsekerheid, die ordelike afhandeling van strafverhore en die flnaliteit van uitsprake totaal verswelg sal word.

In die onderhawige geval blyk dit dat die verhoor op 24 Augustus 1993 afgehandel is nadat alle getuienis aangehoor is en die staatsaanklaer en die betrokke prokureur die hof met betrekking tot vonnis toegespreek het.

15

Uitspraak is voorbehou en die vonnis-uitspraak is eers op 11 Oktober 1993, meer as ses weke later, gelewer. Dit moes vir die prokureur duidelik gewees het dat die landdros, wat mero motu vir Dirks en MacLean as getuies geroep het, nie van voomeme was om dieselfde te doen met betrekking tot 'n verslag van 'n proefbeampte nie. Daar was voldoende geleentheid vir die prokureur om die posisie van die appellante te oorweeg en om 'n aansoek aan die landdros te rig om die appellante se saak met betrekking tot vonnisoplegging te heropen sodat die appellant self die beoogde verslag kon verkry en voorlê. Wat vereiste (c) betref, blyk uit die uitspraak van die landdros met betrekking tot vonnis dat hy die verswarende en versagtende omstandighede teen mekaar opgeweeg het en tot die gevolgtrekking gekom het dat direkte gevangenisstraf aangewese is. Hy het bygevoeg dat korrektiewe toesig 'n gepaste vonnisopsie is en daarom het hy gevangenisstraf in terme van art 276(1 )(i) van die Strafproseswet opgelê. Dit is duidelik dat hy van mening was dat die appellanle wel 'n termyn van gevangenisstraf moes uitdien en dan onder korrektiewe toesig geplaas word - vandaar die vonnis in terme van art

16

276(1 )(i). In die lig van die vertrekpunt dat 'n termyn van direkte gevangenisstraf aangewese is, sou die voorlegging van getuienis dat die appellante kandidate vir korrektiewe toesig is, na alle waarskynlikheid geen verskil gemaak het nie.

Ek meen derhalwe dat die aansoeke van die hand gewys moet word.

Wat die meriete van die appèlle betref, is aangevoer dat die verhoorlanddros wesenlike wanvoorligtings begaan het en dat die opgelegde vonnisse in elk geval buitensporig swaar en onvanpas is.

Die wanvoorligtings waarop staatgemaak word, is die volgende:

  1. Dat die aanklag teen die appellante die bepalings van art 34(1 )(a) van die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank, 90 van 1989, inkorporeer; en

  2. dat die lokval in die huidige geval nie die riglyne neergelê deur ons howe, verbreek het nie; en

  3. dat daar nie tussen die onderskeie grade van aandadigheid en morele verwytbaarheid van die appellante onderskei is nie maar

17

dat almal vir vonnisdoeleindes oor dieselfde kam geskeer is.

Ten opsigte van (a) is dit so dat die landdros by vonnisoplegging verklaar het dat die genoemde artikel van die Wet op die Reserwebank van toepassing is. Dit is ook so dat art 34(1 )(a)(i) van gemelde wet 'n termyn van gevangenisstraf wat 15 jaar nie te bowe gaan nie, voorskryf. Maar dit is ook duidelik dat die landdros by sy besluit om direkte gevangenisstraf op te lê, hom nie deur gemelde strafbepaling laat lei het nie, maar deur al die omstandighede van die geval en na opweging van die verswarende en versagtende faktore. Die wanvoorligting was derhalwe kousaal irrelevant.

Wat (b) betref, gaan dit om die faktor, bevestig deur hierdie hof in S v Petkar 1988(3) SA 571 (A) te 576 E - 577 C, dat waar 'n lokval met oorreding en die uitoefening van druk gepaard gaan, 'n beskuldigde se morele blaamwaardigheid as minder ernstig beskou mag word. Al die appellante het in hul getuienis verwys na die voortdurende druk wat veral Dirks op hulle uitgeoefen het en die oorredende rol van MacLean, nl dat hy 'n bankbestuurder is wat al voorheen soortgelyke transaksies deurgevoer het en

18

dat daar geen risiko bestaan nie.

Die landdros het egter hierdie aspek in oorweging geneem en Dirks se getuienis aanvaar. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die feit dat appellante in 'n lokval betrap is, nie aan hul morele verwytbaarheld afbreuk doen nie.

Dit is nie aangevoer dat die verhoorhof in hierdie verband 'n wanopvatting oor feite begaan het nie. Dit gaan bloot om 'n geloofwaardigheidsbevinding wat aangeveg word. Dit is wel so dat daar onbevredigende aspekte in Dirks se getuienis is - bv MacLean weerspreek hom oor die geldlening aan derde appellant - maar dit skep hoogstens twyfel of die landdros se bevinding korrek is. Ek kan nie met oortuiging sê dat hy verkeerd is nie. In so 'n geval moet die bevinding op appèl gehandhaaf word (sien S v Robinson and Others 1968(1) SA 666 (A) te 675 G - 676 E).

Wat (c) betref, het die landdros bevind dat al die beskuldigdes 'n gelyke aandeel in die pleeg van die misdaad gehad het. Hierdie bevinding is deur eerste en tweede appellante se advokaat in hierdie Hof bevraagteken.

19

Oënskynlik, op eerste appellant se weergawe, het hy eers na sy aankoms in Kaapstad van die sameswering bewus geword en toe, op die ingewing van die oomblik, hom daarmee vereenselwig.

Ek is van oordeel dat eerste appellant se weergawe onaanvaarbaar is. Sy weergawe dat hy totaal in die duister was toe hy in Johannesburg versoek is om een R50-noot na Dirks in Kaapstad te neem en dat hy die versoek heeltemal onskuldig uitgevoer het, is ongeloofwaardig. Na alle waarskynlikheid is hy reeds in Johannesburg deur derde appellant op die hoogte van sake gebrlng en het hy hom reeds toe daarmee vereenselwig. Hy was sedertdien 'n gewillige medespeler wat self deel gehad het aan dle reël van die afsprake vir die oorhandiging van die geld. Alhoewel derde appellant dus vir 'n langer tydperk met die beplanning van die misdaad betrokke was, was eerste appellant alles behalwe 'n onskuldige deelnemer wat op die ingewing van die oomblik 'n mededader geword het. Dit kan dus nie gesê word dat die landdros se bevinding in hierdie verband verkeerd is nie.

Ten slotte is ook aangevoer dat die vonnisse wat opgelê is, skokkend

20

onvanpas is. Daar is na ander gevalle van bedrog en diefstal van geld verwys. Daar is weer, op die rekord soos dit staan, aangevoer dat korrektiewe toesig in terme van art 276(1 )(h) van die Strafproseswet, of selfs periodieke gevangesetting, meer gepaste strawwe sou wees.

Op die oog af lyk die straf in hierdie geval swaar. Maar die argument ten behoewe van die appellante verloor uit die oog dat dit opgelê is in terme van art 276(1 )(i) van die Strafproseswet. Afhangende van die gedrag van die appellante kan die termyn van werklike aanhouding relatief kort wees. Dit kan nie gesê word dat sodanige straf onredelik is nie. 'n Ernstige misdaad is gepleeg bloot vir persoonlike geldelike gewin. Daar was voldoende geleentheid vir herbesinning en repudiasie van die sameswering voordat dit finaal deurgevoer is.

Die appel van al drie appellante word van die hand gewys.

P J J OLIVIER APPèLREGTER E M GROSSKOPF )

)STEM SAAM VIVIER AR )

▲ To the top