S v Van Wyk (618/1994) [1995] ZASCA 97 (14 September 1995)


NIE RAPPORTEERBAAR SAAKNOMMER: 618/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

SIMON VAN WYK APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: E M GROSSKOPF, VIVIER et OLIVIER ARR

VERHOORDATUM: 28 AUGUSTUS 1995

LEWERINGSDATUM: 14 SEPTEMBER 1995

UITSPRAAK OLIVIER, AR:

Die appellant, 'n 24-jarige manspersoon, het tydens 'n sitting van die Suid-Transvaalse Streekhof te Germiston tereggestaan op 'n aanklag van oortreding van art 32(1 )(e), gelees met arts 1, 39(2) en 40 van die Wet op Wapen en Ammunisie 75 van 1969, deurdat hy op 22 Mei 1992 en te of naby Germiston wederregtelik dertig rondtes 7,62x 39mm-ammunisie wat bestem

2

was om uit 'n masjiengeweer of soortgelyke wapentuig afgesklet te word, onwettig in sy besit gehad het. By die verhoor is namens die verdediging erken dat die voormelde patrone van dle soort is wat bestem is om deur 'n masjiengeweer afgevuur te word.

In weerwil van 'n verontskuldigende pleit, is appellant skuldig bevind en gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf. Sowel die skuldigbevinding as die vonnis is gehandhaaf in 'n appël wat gedien het voor die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof. Dleselfde hof het ook die appellant se aansoek om verlof om tot hierdie hof te appelleer, van die hand gewys. Die appellant is deur hierdie hof verlof verleen om ten aansien van die vonnis alleen in hoër beroep te kom.

Wat die feite van die aangeleentheid betref, hoef slegs die volgende vermeld te word. In die verhoor het konstabel Ueckerman, 'n lid van die Binnelandse Stabiliseringseenheid van die Suid-Afrikaanse Polisie, getuig dat hy en ander lede van die polisie gedurende die namiddag van 22 Mei 1992 by die Germiston-spoorwegstasie alle passasiers wat per trein arriveer het,

3

deursoek het. Alle aankomende passasiers moes in 'n ry inval en elkeen is deur die polisiespan deursoek. Toe die beskuldigde by Ueckerman, wat deel van die span was, gekom het, het hy 'n drasak by hom gehad. Ueckerman het hom liggaamlik deursoek en die sak oopgemaak. Binne-in die sak was 'n opgerolde rooi oorpak waarin Ueckerman 'n magasyn met die genoemde 30 rondtes AK47-ammunisie daarin aangetrei het. Toe Ueckerman die magasyn uithaal, het appellant weggehardloop. Ueckerman het hom agternagesit. Die appellant het homself in 'n draadversperring vasgehardloop, waar Ueckerman hom in hegtenis geneem het. Appellant het aan Ueckerman gesê dat die magasyn nie syne is nie. Toe Ueckerman hom vra waarom hy op loop gesit het, het hy gesê hy was bang.

Appellant se weergawe was dat hy die betrokke dag op die trein gery het en in 'n kompartement reg oorkant 'n ingeboude verwarmer gesit het. Hy het 'n voorwerp onder die verwarmer geslen, dit uitgehaal en gevind dat dit die betrokke magasyn met die ammunisie daarin was. Hy het dit met die oorpak toegedraai en in sy drasak geplaas. Hy het besluit om die magasyn met

4

patrone na die Edenpark-aanklagkantoor waar sy broer gewerk het as

polisiebeampte, te neem. Hy het al vemeem dat 'n beloning uitgereik word aan mense wat ammunisie vind en by die polisle inlewer. Hy het gedink hy moet die aangeleentheid met sy broer gaan bespreek. Hy het getuig dat toe hy in die tou ingeval het, hy nie geweet het dat hy deur polisie deursoek sou word nie. Hy het gedink daar is bloot 'n spoorwegkontrole in verband met reiskaartjies aan die gang. Volgens hom het Ueckerman, toe hy die magasyn gevind het, aan hom gesê het dat dit sy (Ueckerman) se gelukkige dag is en dat hy elke Vrydag iemand betrap. Hy het ook die appellant se arm agter sy rug opgebuig. Appellant het toe losgeruk en weggehardloop want hy het gevoel Ueckerman wil hom nie 'n kans gee om sy saak te verduidelik nie. Hy het ook groot geskrik en besef dat hy opgesluit gaan word. Dit moet vermeld word dat Ueckerman ontken het dat hy enígsins aan die appellant geraak het voordat laasgenoemde voet in die wind geslaan het. Op vrae van die aanklaer waarom hy die magasyn in sy oorpak toegedraai het en dit dus probeer versteek het, het die appellant 'n antwoord skuldig gebly.

5

Die verhoorlanddros het tereg die appellant se verduideliking verwerp. Blykens Ueckerman se getuienls was die appellant bewus daarvan dat die passasiers deursoek word en kon hy onmiddellik die magasyn oorhandig het, indien dit sy bedoeling was. Daarbenewens is daar 'n aanklagkantoor op die Germistonse spoorwegstasie waar hy die magasyn kon gaan inhandig het. Die appellant se poging om te ontvlug spreek boekdele, te meer waar sy verduideliking daarvoor as vals verwerp is.

Wat vonnis betref, het die appellant nie self ter strafversagting getuig nie. Dit was gemene saak dat hy 24 jaar oud is. Sy prokureur het die hof meegedeel dat hy nie getroud is nie, maar dat hy kinders het vir wie hy moet sorg. Hoeveel kinders hy het en wat hul ouderdomme is, is nie vermeld nie. Geen verdere besonderhede van sy persoonllke omstandighede, bv met betrekking tot kwalifikasies of rehabilitasie-moontlikhede is verstrek nie. Die appellant het nie enige vorige veroordelings vir die besit van wapens of ammunisie nie, maar het wel 'n vorige veroordeling vir diefstal in 1987. Hy het blykbaar motorwlele ter waarde van R400 gesteel en is gevonnis om vyf houe

6

met 'n ligte rottang te ontvang. Toe die huidige oortreding gepleeg is, het hy blykbaar 'n vaste betrekking gehad, maar waar en in welke hoedanigheid hy in diens was of welke inkomste hy verdien het, is nie aan die hof bekendgemaak nie.

By oorweging van die vonnis het die verhoorlanddros in aanmerking geneem dat dit 'n toenemende verskynsel is dat persone in onwettige besit van wapens soos AK47-gewere en ammunisie is. Talle misdade word dan met hierdie wapens gepleeg. Dit lei tot lewensverlies en ander ellendes. Die landdros het daarop gewys dat die wetgewer hierdie oortreding in 'n baie ernstige lig beskou en voorslening gemaak het vir gevangenisstraf van tot 25 jaar. Hy het gesê dat bestrawwing moet dlen as 'n afskrikmiddel nie net vir die betrokke beskuldigde nie, maar ook vir ander persone. Hy het ook in ag geneem dat die appellant nie eintlik sy samewerking aan die pollsie gegee het nie, maar probeer het om te ontsnap en dat hy nooit die bedoeling gehad het om die magasyn met die ammunisie by 'n aanklagkantoor in te handig nie.

Op appèl na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling het appellant se

7

advokaat ten aansien van vonnis aangevoer dat dit hier slegs om dertig rondtes ammunisie gaan; dat die appellant nie in besit was van 'n wapen waaruit hierdie ammunisie afgevuur kon word nie en dat dit dus onnodig was om 'n vonnis van die felheid van twee jaar gevangenisstraf op te lê. Swart R wat die uitspraak van die hof gelewer het, het opgemerk dat die vonnls 'n streng een is en dat dit ook waar is dat die appellant nie in besit was van 'n wapen waaruit die rondtes afgevuur kon word nie. Die teensy van die argument is egter dat die blote besit van ammunisie 'n oortreding daarstel. In die afwesigheid van 'n gemagtigde wapen kon die appellant geen wettige gebruik van die ammunisie maak nie. Die wesenlike gevaar en trouens die waarskynlikheid, aldus Swart R, is dat iemand wat besit verkry van die betrokke soort ammunisie en wat dit nie self kan benut nie, dit sal probeer verhandel aan lemand wat dit wel kan gebruik met gevolge, in 'n outomatiese geweer, wat maar al te goed bekend is. Swart R het ook opgemerk dat daar beperkte gronde is waarop 'n hof van appel geregtig is om met 'n vonnis, opgelê in 'n laer hof, in te meng. Hy het bevind dat geen van daardie gronde

8

in die onderhawige geval aanwesig was nie.

tn hierdie hof is namens appellant aangevoer dat daar geen daadwerklike bewys was dat hy, soos die verhoorhof dit gestel het, die betrokke ammunisie probeer wegsmokkel of uitsmokkel het nie. Dit mag wel so wees dat die betrokke uitdrukking van die verhoorhof ietwat ongelukkig is, maar die feit bly staan dat die verhoorhof tereg bevind het dat daar geen bedoeling by die appellant was om die ammunisie by die polisie in te handig nie. Die afleiding dat hy 'n sinistere motief gehad het met die besit van die ammunisie skyn derhalwe geregverdig te wees.

Daar is ook aangevoer dat die verhoorhof ten onregte in aanmerking geneem het dat outomatiese wapens en ammunisie aangewend word om misdade te pleeg waarby groot lewensverlies gely word. Daar kan egter geen beswaar wees teen die oplegging van swaarder strawwe vir misdade wat tot kommerwekkende mate in omvang toeneem ten einde voornemende oortreders af te skrik nie, mits die opgelegde vonnis in verhouding bly met die oortreder se morele verwytbaarheid en die noodsaak om die openbare belang

9

te beskerm (sien S v Matoma 1981(3) SA 838 (A) te 842 H - 843 B; S v G

1989(3) SA 695 (A) te 702 A - C; S v Collett 1990(1) SASV 485 (A) te 469 e -

471 f; S v Khulu 1975(2) SA 518 (N) te 521 B - 522 C).

Maar, soos aangetoon deur Miller AR in S v Maseko 1982(1) SA 99 (A)

te 102 C - F kan 'n vonnis wat onder andere afskrikking beoog, nie opgelê

word as die laakbare gesindheid wat die afskrikkingskomponent regverdig, nie

by die betrokke dader aanwesig was nie. Juis in verband met die onwettige

besit van vuurwapens verklaar Miller AR:

"The magistrate clearly regarded this case as one in which an exemplary sentence should be imposed wat as voorbeeld sal dien en wat afskrikkingswaarde sal hê' and in that context concluded that the case fell within the category of cases which required that the offender necessarily undergo a period of imprisonment. He also made pointed reference in that context to the many crimes committed by the use of firearms possessed by persons not licensed to possess them - a factor hardly to be taken into account against the appellant personally, in the light of the magistrate's finding that he possessed the firearm not for unlawful or nefarious purposes."

Die afwesigheid van 'n bedoeling om die betrokke ammunisie vir afkeurenswaardige bedrywighede te besit en aan te wend, sou dus 'n vonnis

10

gerig op afskrikking onvanpas maak. Die afwesigheid van so 'n laakbare motief sou, inteendeel, as strafversagtende faktor in aanmerking geneem moet word, soos blyk uit beslissings soos S v Snyders 1981(2) SA 294 (K) en S v Moleme 1994(1) SASV 1 (A).

In Snyders het dit geblyk dat die appellant 'n .22 kaliber pistool en twee rondtes ammunisie daarvoor die vorige aand in 'n kaartspel gewen het. Hy is die volgende oggend in besit daarvan betrap toe die polisie sy huis deursoek het. Die hof het hierdie verduideliking aanvaar en op appél het Rose-Innes R dit duidelik gestel dat daar geen suggestie was dat die appellant die wapen en ammunisie bekom het met die doel om 'n misdaad daarmee te pleeg nie; inderdaad, het hy bevind, was daar aanduidings dat die appellant dit nie vir daardie doel bekom het nie. Rose-Innes R het ook tereg (te 297 A - C) aangedui dat indien die beskuldigde in die betrokke soort gevalle 'n strafversagtende verduideliking vir die verkryging en besit van die wapen of ammunisie kan verskaf wat deur die hof aanvaar word en wat daarop dui dat hy dit nie vir enige misdadige doel verkry het nie, dit natuurlik in ag geneem

11

sal word. In Snyders se geval het die hof van appèl bevind dat daar so 'n aanvaarbare verduideliking was, en daarom is die opgelegde vonnis op appèl ietwat verlig.

In Moleme het die appellant in 'n landdroshof skuldig gepleit op aanklagte van die wederregtelike besit van 'n Makarov pistool, ses patrone daarvoor, 'n Stechkin pistool en twintig patrone daarvoor. Die appellant het 'n verduideliking gegee vir sy besit van die wapens en ammunisie, welke verduideliking aanvaar is. Volgens hom het hy en sy broer Botswana besoek en het sy broer die betrokke wapens en ammunisie heimlik in sy, appellant, se voertuig versteek het ten einde te bewerkstellig dat dit na die Republiek van Suid-Afrika vervoer sou word. Toe appellant later die wapens ontdek het, het sy broer erken dat hy dit daar versteek het omdat hy wapens wou hê om homself te verdedig. Die appellant het toe die wapens voorlopig in 'n bergplek gelaat omdat hy nie geweet het waarheen hy dit kon neem nie. Sy broer was blykbaar nog steeds in Botswana. Die appellant het daarna besluit om die Makarov pistool elders te gaan versteek. Op weg na die nuwe bergplek is hy

12

in besit daarvan betrap. Met aanvaarding van bogemelde feite het hierdie hof as 'n strafversagtende faktor aanvaar dat die appellant sonder sy eie toedoen in besit van die wapen en ammunisie gekom het; dat hy dit slegs vir sy broer in bewaring wou hou en dit dus nie vir sy eie doeleindes wou aanwend nie.

Juis die feit dat daar verontskuldigende verduidelikings in Snyders en Moleme was vir die besit van die wapens en ammunisie, welke verduidelikings aanvaar is, onderskei daardie gevalle van dle huidige. Die verduidelikings van die huidige appellant vir sy besit van die ammunisie is tereg nie deur die verhoorhof aanvaar nie. Daar kan dus beswaarlik ten gunste van die appellant bevind word dat hy 'n bedoeling wat as strafversagting in ag geneem kan word, ten aansien van die besit van die ammunisie gekoester het. Inteendeel, soos reeds hierbo gemeld, was dit 'n geregverdige afleiding dat hy 'n sinistêre motief gehad het.

Die belangrikheid van 'n aanvaarbare verontskuldigende verduideliking is ook beklemtoon deur hierdie hof in S v Gwala 1993(2) SASV 653 (A) veral te 658 d - e.

13

Ek is derhalwe van mening dat die verhoorhof tereg 'n afskrikkingselement in die betrokke vonnis opgeneem het en dat die appellant hom nie op die afwesigheid van 'n afkeurenswaardige motief as strafversagting kan beroep nie.

Die appellant, wat deur 'n regsverteenwoordiger bygestaan is, het nie ter strafversagting getuig nie. Uiters karige besonderhede aangaande sy persoonlike omstandighede is aan die hof voorgelê. Daar is op geen ander strafversagtende faktore of omstandighede gewys nie. In die lig van daardie agtergrond kan dit nie gesê word dat die vonnis só onredelik is dat dit ingryping regverdig nie.

Die appèl word derhalwe van die hand gewys.

P J J OLIVIER APPèLREGTER

E M GROSSKOPF AR )

)STEM SAAM VIVIER AR )

▲ To the top