Eerste Nasionale Bank van Suidelike Afrika Bpk v Noordkaap Lewendehawe Kooperasie Bpk (559/1994) [1996] ZASCA 101 (20 September 1996)


Saak No 559/94 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

EERSTE NASIONALE BANK VAN SUIDELIKE
AFRIKA BEPERK APPELLANT

en

NOORDKAAP LEWENDEHAWE KOÖPERASIE

BEPERK RESPONDENT

CORAM: HEFER, EKSTEEN, HOWIE, OLIVIER et PLEWMAN ARR

DATUM VERHOOR: 29 AUGUSTUS 1996

DATUM GELEWER: 20 SEPTEMBER 1996

UITSPRAAK EKSTEEN, AR:

Die appellant in hierdie saak ("die Bank") het gedurende

2

1987 onderneem om R5 500 000 aan 'n maalskappy bekend as Rainer Data Services (Pty) Ltd ("Rainer") te leen en voor te skiet op voorwaarde dat die Respondent ("die Koöperasie") borg staan vir die helfte van die lening, en ene A C Brundyn ("Brundyn") vir die ander helfte. Hierdie borgskappe is deur beide die Kooperasie en Brundyn verstrek en die Bank het die volle bedrag van die lening aan Raíner voorgeskiet. Die borgskap van die Koöperasie is in twee afsonderlike borgaktes verstrek, nl op 15 Oktober 1987 is 'n borgakte vir R2 500 000 plus rente deur die Koöperasie se destydse hoofbestuurder, Mnr Brand ("Brand") onderteken (aanhangsel PC 1 tot die pleitstukke); en op 5 September 1988 is 'n tweede borgakte vir R250 000 plus rente deur Brand onderteken (aanhangsel PC 2). Op 12 Julie 1991 is Rainer (wat intussen sy naam verander het na

3

Libertas Vleisgroothandelaars (Edms) Bpk) in likwidasie geplaas. Die Bank het gevolglik, op grond van die twee borgaktes wat namens die Koöperasie geteken is, 'n bedrag van R5 500 000 (synde kapitaal plus rente) van die Koöperasie ge-eis. (Soos later sal blyk sou dit op 'n oorverhaling neergekom het). Die Koöperasie het hom hierop verweer deur aan te voer dat aan sekere bepalings van die Koöperasiewet 91 van 1981 ("die Wet") nie voldoen is toe die borg verleen is nie en dat hy derhalwe verskoon word van betaling. Hierdie verweer is deur die Noord-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof gehandhaaf, en die Bank kom nou, met die verlof van die Hof a quo. in hoër beroep na hierdie Hof.

Die agtergrond van die saak, insoverre dit van belang mag wees, is soos volg. Die Koöperasie was 'n bemarkings-

4

organisasie wat bemarkingsdienste aan sy lede in Noord-Kaapland en die aangrensende gebiede van die Transvaal en die Oranje Vrystaat verskaf het. Die bemarking van die lede se slagvee in die beheerde gebiede, dws in die groot stede, het allerhande probleme meegebring. Gedurende die tagtiger jare het die Koöperasie gevolglik 'n beleidsrigting ingeslaan om meer betrokke te raak in die slag en bemarking van vee in die buite-beheerde gebiede. Volgens die getuienis van Brand, was daar "letterlik duisende slagbeeste" in die Koöperasie se voerkrale wat nie behoorlik bemark kon word nie. In dié tyd het Brundyn 'n kleinhandelnetwerk in die vleisbedryf in die Wes-Kaap gehad met 'n aantal kleinhandelafsetpunte, maar met 'n behoefte aan voldoende slagvee. Onderhandelinge is gevolglik met Brundyn aangeknoop om 'n gesamentlike onderneming te stig vir die

5

slag en versnyding van karkasse en die bemarking daarvan deur

Brundyn se afsetpunte. So 'n transaksie sou die ware koöperatiewe

doelstellings van die Koöperasie om bemarkingskoste vir sy lede te

probeer verlaag, en die oogmerk om die optimale afsetmarkte vir hul

produkte te ontwikkel, dien. Dit sou ook tot Brundyn se voordeel

wees deur die voorsiening van slagvee vir sy afsetpunte. 'n

Samewerkingsooreenkoms is toe aangegaan. Die samewerking sou

deur middel van Rainer geskied. Rainer was 'n dormante

maatskappy wat deur Brundyn beheer was, en, in terme van sy

ooreenkoms met die Koöperasie, sou die Koöperasie die helfte van

die aandele in Rainer bekom en twee van die vier direkteure aanwys.

Benewens sekere ander finansiële reëlings wat nie hier ter sake is nie,

sou Rainer in hoofsaak gefinansier word deur die lening van

6

R5 500 000 van die Bank, waarvoor die Koöperasie en Brundyn elk om die helfte sou borgstaan,

Brundyn was bereid om die helfte van die aandele in Rainer aan die Koöperasie oor te dra, maar die Koöperasie het besluit dat, omdat dit nie die Minister se goedkeuring tot die aangaan van die transaksie verkry het, soos deur artikel 49(l)(f) van die Wet vereis, dit nie die aandele in eie naam kon laat registreer nie. Die aandele is gevolglik in die naam van 'n filiaal maatskappy - Noord-Kaap Veilings (Edms) Bpk - geregistreer. Later is dit in die naam van Noragent Edms Bpk, 'n genomineerde maatskappy van die Koöperasie geregistreer. Dit is gemene saak dat die Minister se goedkeuring nooit verkry is nie, en dat die aandele nooit in die naam van die Koöperasie geregistreer was nie. Gedurende 1989 het die

7

Koöperasie, vir redes wat nie hier van belang is nie, sy verbintenis

met Brundyn be-eindig en al sy ooreenkomste met Brundyn

gekanselleer.

Die Koöperasie het in sy verweerskrif in die Hof a quo

gepleit

"2(b) (ii) (dd) dat die verweerder te alle tersaaklike tye

aandele, alternatiewelik 'n belang in Rainer Data (Edms) Bpk verkry en gehou het; (ee) dat Rainer Data (Edms) Bpk gevolglik te alle tersaaklike tye wat verweerder betref, 'n onderneming was soos bedoel in artikel 49(l)(f) van die Wet. (iii) dat dit kragtens die bepalings van artikel 52(1) van die Wet gevolglik vir die verweerder verbode was om borg te staan vir Rainer Data Services (Eiendoms) Beperk behalwe kragtens magtiging van 'n 'spesiale besluit' wat in artikel 1 van die Wet omskryf word as ' 'n besluit ingevolge artikel 130 op 'n algemene vergadering aangeneem.' (c) Verweerder ontken dat sy lede enige 'spesiale besluit' soos omskryf in die Wet geneem het waarkragtens die

8

aangaan van enig een van die gemelde borgstellings bylae PC 1 en bylae PC 2 gemagtig was."

In wat 'n alternatiewe verweer skyn te wees pleit die

Koöperasie dat in elk geval

"(d)(i) dit uit hoofde van die voorskrifte van artikel 49(1)(f) van die Wet slegs bevoeg was om aandele of 'n belang in Rainer Data Services (Eiendoms) Beperk te verkry met die goedkeuring van die Minister van Landbou Ekonomie,

(ii) Geen sodanige goedkeuring is verkry van of verleen deur die Minister nie.

(iii) Die verkryging van die aandele, alternatiewelik belang, in Rainer Data Services (Eiendoms) Beperk deur verweerder was gevolglik ultra vires die bevoegdhede van verweerder en gevolglik ongeldig en nietig.

(iv) Die borgstellings, bylaes 'PC 1' en 'PC 2' tot Eiser se Besonderhede van Vordering, is aangegaan met die oogmerk om Rainier Data Services (Eiendoms) Beperk te finansier. (v) Verweerder pleit gevolglik dat die aangaan van die borgstellings, Bylaes PC 1 en PC 2 tot die Eiser se Besonderhede van Vordering eweneens

9

ultra vires en nietig was." In sy nadere besonderhede voer die Koöoperasie verder aan dat die spesiale besluite wat deur sy lede geneem is, nie besluite is soos in Artikel 52 bedoel nie, omdat dit "geen spesifieke transaksie gemagtig het nie en slegs voorgegee het om die bevoegdheid om waarborge goed te keur aan die Verweerder se direkteure oor te dra". Die Hof a quo het hierdie bewerings bestempel as die "kern van die verweerder se eerste verweer," en, na oorweging, die Koöperasie gelyk gegee op albei verwere. Wat die eerste verweer betref het die geleerde regter verwys na artikel 49(l)(f) van die Wet, en na die getuienis, en tot die gevolgtrekking gekom dat alhoewel die Koöperasie 'n belang in Rainer gehad het, dit nie 'n belang was "soos bedoel in die Wet" nie. Eers wanneer die goedkeuring van die

10

Minister verkry is kon 'n koöperasie vir die doeleindes van artikel

49(l)(f) 'n belang of aandele in 'n maatskappy verkry. Gevolglik het

hy beslis dat Rainer nie 'n "ondememing" soos bedoel in artikel

49(l)(f) was nie, maar dit eers kon word nadat die goedkeuring van

die Minister verkry is.

Nadat hy tot hierdie gevolgtrekking gekom het, stap die

geleerde regter nie af van artikel 49(l)(f) nie, maar met 'n volgehoue

verwysing daarna, het hy bevind dat die Koöperasie eers die

goedkeuring van die Minister moes verkry het om aandele in Rainer

te bekom voordat hy, onderworpe aan artikel 52, Rainer kon

finansier, of vir Rainer borg staan. Hy gaan dan voort om te bevind

dat:

"waar die Wet dus so uitdruklik voorsiening maak vir die finansiering van, en borgstelling vir 'n maatskappy waarin hy

11

aandele of 'n belang het, is ek van oordeel dat die finansiering van of borgstelling vir 'n maatskappy, anders as een soos beoog deur die Wet, strydig is met die bepalings van die Wet.

Die gevolgtrekking waartoe ek nou gekom het, is dat

Rainer nie 'n maatskappy is soos bedoel deur die Wet nie en dat ingevolge die Wet, dit die verweerder nie vrygestaan het om vir Rainer borg te staan nie. Die eiser se eis kan dus nie slaag nie."

Hierin het die geleerde regter, na my mening, fouteer.

Die tersaaklike artikels in die Wet lees soos volg:

"49(1) 'n Kooperasie kan, behoudens die bepalings van hierdie Wet en die uitsluitings en kwalifikasies in sy statuut vervat, alles doen wat redelikerwys nodig is om sy doelstellings uit te voer, en in die besonder -

  1. met die goedkeuring van die Minister en op die voorwaardes wat die Minister bepaal, in die Republiek of elders maatskappye of ander regspersone of vennootskappe oprig of belange of aandele daarin verkry, en hulle behoudens die bepalings van artikel 52 Gnansier;

  2. behoudens die bepalings van Artikel 52 iemand teen skade of verlies vrywaar, of die verpligtings

12

van iemand waarborg of vir die behoorlike nakoming daarvan borgstaan of sekerheid stel;

52(1) 'n Koöperasie skiet nie geld voor aan 'n onderneming bedoel in artikel 49(l)(f) of aan 'n koöperasie waarvan hy lid is, vrywaar nie sy lede of so 'n onderneming of koöperasie teen skade of verlies, of staan nie borg vir of verskaf nie sekerheid teen behoewe van sy lede of so 'n onderneming of kooperasie nie, behalwe kragtens magtiging van 'n spesiale besluit."

Soos hierbo genoem het die Hof a quo tereg bevind dat

Rainer nie 'n onderneming was soos in artikel 49(l)(f) bedoel nie

omdat die Minister nie sy goedkeuring aan die Koöperasie verleen

het om aandele of 'n belang in Rainer te verkry nie. Artikel 49(l)(f)

kan dus van geen belang wees by die oorweging van die geldigheid

al dan nie van die Koöperasie se borgstelling vir Rainer nie. Artikel

49(l)(g) handel o.a. met die bevoegdheid van 'n koöperasie om borg

te staan. Hierdie artikel verleen aan 'n koöperasie die reg om die

13

verpligtings van enigiemand (dws enige persoon, insluitende 'n regspersoon wat nie 'n onderneming is soos in sub-artikel (f) bedoel nie) te waarborg of vir die behoorlike nakoming daarvan borg te staan, mits natuurlik dit 'n handeling is wat redelikerwys nodig is om die doelsteïlings van die Koöperasie uit te voer, onderhewig aan die bepalings van die Wet en die uitsluitings en kwaliflkasies van die koöperasie se eie statuut. In die onderhawige geval is dit gemene saak dat die borgstelling nie strydig was met enige bepalings van die Kooperasie se statuut nie en dit is ook gemene saak dat die borgstelling redelikerwys nodig was om die doelstellinge van die Koöperasie en die belange van sy lede te dien. Die Koöperasie sou dus op die oog af bevoeg gewees het om vir Rainer borg te staan. Die bevoegdheid om ingevolge artikel 49(l)(g) borg te

14

staan word egter voorafgegaan deur die voorskrif "behoudens die bepalings van artikel 52". Artikel 52 verg slegs 'n spesiale besluit ten opsigte van die borgstaan ten behoewe van 'n koöperasie se lede, of van 'n onderneming bedoel in artikel 49(l)(f), of van 'n koöperasie waarvan die betrokke koörporasie 'n lid is. Rainer val nie onder enige van hierdie kategorieë nie. Gevolglik was geen spesiale besluit van die Koöperasie nodig om vir 'n buitestaander soos Rainer borg te staan nie. In besonder was dit, soos die geleerde regter self bevind het, nie 'n onderneming soos in Artikel 49(l)(f) bedoel nie en moes dus as 'n buitestander, wat die Koöperasie betref, beskou word. Daar het ook 'n geskil tussen die partye ontstaan omtrent die berekening van rente op die verskuldigde bedrag. Die Bank het aangevoer dat die rente samegestelde rente is wat maandeliks bereken

15

word teen 'n koers van 1% bo die prima uitleenkoers van die Bank. Die Kooperasie het daarteenoor aangevoer dat die rente as enkelvoudige rente bereken moet word. Mnr Blignault, wat voor ons namens die Koöperasie opgetree het, het in sy betoog toegegee dat die rente samegestelde rente moet wees wat maandeliks bereken word. Mnr Blignault het ook die juistheid toegegee van 'n berekening van die kapitale bedrag met samegestelde rente, verskuldig soos op 1 Februarie 1994. Die bedrag wat die Koöperasie tot op daardie datum verskuldig was, het R4 479 209.12 beloop.

Bygevolg slaag die appèl met koste, welke koste die koste van twee advokate sal insluit, en die bevel van die Hof a quo word gewysig om te lees:

16

"(a) Vonnis word verleen vir:

betaling van die bedrag van R4 479 209.12 met samegestelde rente daarop bereken vanaf 1 Februarie 1994 tot datum van betaling teen die heersende prima uitleen koers van die eiser plus 1%.

(b) Koste soos tussen prokureur en kliënt soos ooreengekom in díe gemelde borgaktes, welke koste die koste van twee advokate sal insluit."

JPG EKSTEEN APPéLREGTER

HEFER, AR )

HOWIE, AR ) STEM SAAM

OLIVIER, AR )

PLEWMAN, AR )

▲ To the top