S v Majodina (391/1994) [1996] ZASCA 109 (25 September 1996)


SAAKNOMMER: 391/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

SYDNEY MAJODINA APPELLANT

teen

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: VIVIER, NIENABER et SCOTT ARR

VERHOORDATUM: 17 SEPTEMBER 1996

LEWERINGSDATUM: 25 SEPTEMBER 1996

UITSPRAAK

SCOTT, AR:

Hierdie appèl is slegs teen vonnis gerig. Die appellant het op 6 Mei 1993 in die landdroshof tereggestaan op 'n aanklag van 'n

2

oortreding van art 122 (1) (a) van die Wet op Padverkeer, 29 van 1989 (bestuur onder die invloed van sterk drank). Hy het onskuldig op hierdie aanklag gepleit maar skuldig op die altematiewe aanklag van bestuur terwyl díe konsentrasie alkohol in sy bloed nie minder as 0,08 gram per honderd ml was nie. Dit is gemeensaak dat die konsentrasie inderdaad 0,28 gram per 100 ml was. Volgens die getuienis namens die staat het die appellant se motor die aandag van 'n verkeersbeampte getrek nadat dit teen 'n randsteen vasgery het en toe heen en weer oor die pad beweeg het. Die distriksgeneesheer sowel as die verkeersbeampte het sy toestand as sterk onder die invloed van drank beskryf. Die appellant het ontken dat sy sintuie deur die drank wat hy ingeneem het, aangetas was. Hy het beweer dat die verkeersbeamptes 'n wrok teen hom gekoester het omdat hy op 'n vroeëre geleentheid

3

getuienis teen hulle in 'n hofsaak afgelê het. Hierdie verweer is egter deur die landdros venverp en die appellant is aan die hoofaanklag skuldig bevind. Daar is geen appèl teen die skuïdigbevinding nie.

Ten tyde van die verhoor was die appellant 41 jaar oud, getroud en die vader van vier kinders. Die oudste kind, 'n dogter, was 'n eerste-jaar student aan 'n universiteit; twee kinders was nog op skool en die jongste kind wat 4 jaar oud was, het kleuterskool bygewoon. Die appellant was die enigste broodwinner in die gesin en het 'n salaris van R4000 per maand verdien by die plaaslike munisipaliteit waar hy as 'n opleidingsbeampte werksaam was. Van besondere belang wat vonnis betref, was die vier vorige veroordelings waarby drank betrokke was wat die appellant op sy kerfstok gehad het. Die besonderhede daarvan is soos volg:

4

i) In Augustus 1983 is die appellant skuldig bevind aan bestuur terwyl die konsentrasie alkohol in sy bloed nie minder as 0,08 gram per 100ml was nie. Hy is beboet met R200 of dne maande gevangenisstraf en 'n verdere 3 maande gevangenisstraf is opgelê wat vir 5 jaar voorwaardelik opgeskort is. ii) Op 2 Mei 1988 is hy skuldig bevind aan bestuur onder die invloed van sterk drank en gevonnis tot 'n boete van R250 of 100 dae gevangenisstraf plus 'n verdere 3 maande gevangenisstraf wat vir 3 jaar voorwaardelik opgeskort is.

iii) Op 28 Maart 1989 is hy skuldig bevind aan bestuur terwyl die konsentrasie alkohol in sy bloed nie minder as 0,08 gram per l00ml was nie. Hy is beboet met R600 of 6 maande gevangenisstraf en gevonnis tot 'n verdere 6 maande

5

gevangenisstraf wat vir 5 jaar voorwaardelik opgeskort is. iv) In Januarie 1990 is hy weer skuldig bevind aan bestuur met 'n

oormatige konsentrasie alkohol in sy bloed. Hy is gevonnis tot 'n

boete van R1000 of 12 maande gevangenisstraf.

In 1990 is die opgeskorte vonnisse van 2 Mei 1988 en 28 Maart 1989 verder opgeskort vir 5 jaar op dieselfde voorwaardes. Die appellant het ook twee vorige veroordelings vir roekelose of nalatige bestuur gehad; die een in 1980, die ander in 1985. In 1990 is hy beboet met R150 vir aanranding.

In die huidige saak is die appellant gevonnis tot 3 jaar gevangenisstraf en is sy rybewys permanent ingetrek. Die landdros het egter gelas dat hierdie gevangenisstraf met die twee verdere opgeskorte vonnisse saamloop, indien daardie vonnisse in werking gestel sou word.

6

'n Appèl na die Noord-Kaapse Afdeling is aangeteken. Daardie hof (Munnik RP en Basson R) het die opgelegde vonnis as onvanpas swaar beskou en is dit op 23 Augustus 1993 met 'n vonnis van 18 maande gevangenisstraf vervang. Daar is ook beveel dat die nuwe vonnis met enige opgeskorte vonnisse wat in werking gestel mag word, moes saamloop.

Op 25 Mei 1994 is aansoek deur die appellant gedoen (i) dat die laat liassering van die aansoek om verlof om te appelleer gekondoneer word; (ii) dat verlof verleen word om na die Appèlafdeling te appelleer teen die vonnis opgelê deur die hof a quo; en (iii) dat verlof verleen word om aansoek te doen voor die Appèlafdeling om die vonnis opgelê deur die hof a quo tersyde te stel en om die saak na die landdroshof terug te verwys om verdere getuienis aan te hoor. Die getuienis ter

7

sprake is dié van 'n kliniese sielkundige wat op of omtrent 20 Mei 1994 geraadpleeg is. In haar verslag gedateer 22 Mei 1994 spreek sy die mening uit dat die appellant van alkohol afhanklik is en dat hy na 'n inrigting vir langtermyn behandeling verwys behoort te word. Dit blyk ook uit die stukke wat ter ondersteuning van die aansoek geliasseer is, dat die appellant na sy skuldigbevinding in die huidige saak uit sy pos by die munisipaliteit ontslaan is. Die aansoek is deur die hof a quo (Basson R en Booyens Wnd R) toegestaan wat die prosedure wat in S v Turner 1975 (3) SA 285 (N) aangedui is, blykbaar gevolg het. (Kyk ook S v N 1988 (3) SA 450 (A) op 452 C - D.)

Voordat hierdie hof in 'n geval soos die huidige die uitsonderlike stap sal neem om die saak terug te verwys vir die aanhoor van verdere getuienis, moet sekere welbekende vereistes nagekom word. Eerstens

8

moet die appellant 'n redelik aanvaarbare verduideliking verskaf waarom die getuienis nie by die verhoor van die saak gelei is nie. (Kyk S v De Jager 1965 (2) SA 612 (A) op 613 C - E.) Soos reeds aangedui, is 'n sielkundige eers in Mei 1994 vir die eerste keer geraadpleeg, d w s 'n jaar na die verhoor en 9 maande na die afhandeling van die appèl. In sy ondersteunende verklarings verduidelik die appellant dat hy nie die sielkundige op 'n vroeër stadium geraadpleeg het nie omdat hy nie aanvanklik aan homself of ander wou erken dat hy 'n drankprobleem het nie; en dat as onverteenwoordigde beskuldigde hy nie besef het dat die feit dat hy 'n drankprobleem het, 'n effek op sy vonnis kon hê nie. Volgens die sielkundige se verslag het die appellant haar egter vertel dat hy op 'n daaglikse basis drank gebruik, dat hy nie daarsonder kan klaarkom nie en dat as hy eers begin, dan drink hy gewoonlik totdat hy

9

sy bewussyn verloor. Volgens die verslag het sy drankmisbruik ook 'n lang geskiedenis - iets wat tot 'n mate deur sy rekord van vorige veroordelings bevestig word. In hierdie omstandighede is dit moeilik om te glo dat die appellant tydens sy verhoor nie sou besef het dat hy 'n drankprobleem het nie. Sy rekord dui ook aan dat hofprosedure nie vir hom vreemd was nie. Hy het altesaam sewe vorige veroordelings gehad. Ek kan nie aanvaar dat hy nie kon geweet het dat die bestaan van 'n drankprobleem 'n relevante oorweging by die oplegging van vonnis is nie. Wat egter vir hom duideïik moes gewees het, is dat indien sy drankprobleem aan die lig gebring is, hy nie met slegs 'n boete en 'n opgeskorte tronkstraf sou kon wegkom nie, terwyl dit die straf is wat hy die landdros versoek het om op te lê. Dit is opvallend dat die sielkundige geraadpleeg is slegs nadat alle ander pogings om direkte

10

tronkstraf te vermy, nie op appèl geslaag het nie.

Na my mening is die eerste vereiste vir die aansoek nie nagekom nie. In buitengewone gevalle kan daar afgesien word van hierdie vereiste. Namens die appellant is egter tereg toegegee dat dit nie 'n buitengewone geval is nie. Dit is bygevolg nie nodig om die ander vereistes te oorweeg nie.

In die lig van die wye omvang van die hof a quo se bevel wat verlof om te appelleer betref, het die vraag ontstaan of daar nie ook aan die appellant verlof verleen is om die appèl te argumenteer aan die hand van die rekord in sy huidige vorm nie. Die punt is egter deur die advokaat vir die staat toegegee en op sterkte van hierdie toegewing het mnr Botha, namens die appellant, voorts betoog dat die hof a quo, sowel as die verhoorhof, in elk geval gefouteer het deur nie 'n vonnis van

11

korrektiewe toesig op te lê nie. Algemeen gesproke is korrektiewe toesig by uitstek 'n geskikte strafvorm vir misdrywe soos die bestuur onder die invloed van drank waar die omstandighede sodanig is dat 'n boete onvoldoende sou wees. Na my mening behoort die howe nie te huiwer om van hierdie strafvorm gebruik te maak nie, veral in die geval van 'n tweede oortreding. In die huidige saak het die appellant egter ses relevante vorige veroordelings waarvan vier betrekking het op oortredings waarby drank betrokke was. Soos reeds genoem, was daar ook tydens die pleging van die misdaad (op 12 Februarie 1993) twee opgeskorte vonnisse wat oor die appellant se hoof gehang het.

In hierdie hof het mnr Botha sterk gesteun op die beslissing in S v Labuschagne 1995 (2) SASV 200 (W) waar 'n vonnis van direkte gevangenisstraf vir dronkbestuur met korrektiewe toesig op appèl

12

vervang is, alhoewel die appellant vier soortgelyke vorige veroordelings en 'n opgeskorte vonnis wat in werking gestel kon word, gehad het. Elke saak moet egter op sy eie feite beslis word en daar is wesenlike verskille tussen die twee gevalle. ïn die huidige saak is die twee opgeskorte vonnisse reeds by 'n latere geleentheid verder opgeskort. Die betoog namens die appellant kom daarop neer dat die hof a quo korrektiewe toesig moes opgelê het in die verwagting dat die opgeskorte vonnisse 'n tweede keer verder opgeskort sou word. Die houding van die hof a quo (asook die landdros) was egter dat die appellant oorgenoeg kanse gehad het en dat ongeag sy opgeskorte vonnisse hy weer onder die invloed van sterk drank bestuur het. Dit is moeilik om met hierdie benadering fout te vind. Nadat die hof a quo tot die slotsom gekom het dat die aanvanklike vonnis nie bekragtig kon word nie, het dit daardíe

13

hof in die uitoefening van sy diskresie vrygestaan om 'n nuwe vonnis op te lê. Korrektiewe toesig as 'n moontlike strafopsie is wel oorweeg. Die hof was egter van mening dat direkte gevangenisstraf 'n gepaste vonnis sou wees. Dit is geykte reg dat 'n hof van appèl alleenlik met 'n opgelegde vonnis kan inmeng waar daar 'n wesenlike mistasting of onreélmatigheid voorkom, of die vonnis onvanpas swaar is. In die lig van die appellant se vorige veroordelings kan 'n vonnis van 18 maande gevangenisstraf m i nie as onvanpas swaar bestempel word nie. Die betoog namens die appellant was dat die hof a quo fouteer het deur nie korrektiewe toesig op te lê nie. Daar is nie na enige ander beweerde mistasting of onreëlmatigheid aan die kant van daardie hof verwys nie, Die blote feit dat hierdie hof moontlik korrektiewe toesig as 'n geskikter vonnis mag beskou het, veroorloof egter nie ingryping nie. (Kyk S v W

14

1995 (1) SASV 606 (A) op 609 e - g.) Na my mening kan die appèl dus nie slaag nie.

Die appèl teen vonnis word van die hand gewys.

D G SCOTT APPèLREGTER

VIVIER AR )

)STEM SAAM NIENABER AR )

▲ To the top