S v Du Plooy (123/1996) [1996] ZASCA 124 (7 November 1996)


Saak nr 123/96

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

BENJAMIN DU PLOOY APPELLANT

- en -

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: Vivier, Nienaber et Harms ARR. VERHOOR: 7 November 1996. GELEWER: 7 November 1996.

REDES VIR UITSPRAAK GELEWER IN DIE HOF OP 7 NOVEMBER 1996 DEUR VIVIER AR WAARMEE NIENABER AR EN HARMS AR SAAMGESTEM HET.

2

VIVIER AR:

Die appellant ("beskuldigde 2") en twee ander

("beskuldigdes 1 en 3") is in die Kaapse Provinsiale Afdeling deur Irish WR en assessore aan moord (aanklag 2) skuldig bevind. Op 'n verdere aanklag van moord (aanklag 1) is beskuldigdes 2 en 3 onskuldig bevind en is beskuldigde 1 aan die onwettige rig van 'n vuurwapen skuldig bevind. Op die moordaanklag is beskuldigdes 1 en 3 elk tot 20 jaar gevangenisstraf en beskuldigde 2 tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. In die geval van beide beskuldigdes 2 en 3 is 5 jaar van hul vonnisse voorwaardelik opgeskort. Met die verlof van die Hof a quo appelleer beskuldigde 2 na hierdie Hof teen sy skuldigbevinding en vonnis. Die feite wat gemeensaak was of nie langer in geskil is nie, kan as volg saamgevat word. Op Sondagaand 6 Oktober 1991 was'n aantal persone in 'n bakkie onderweg huis toe in Ottery naby Kaapstad nadat hulle 'n oefening van die Kaapse Klopse bygewoon

3

het. Onder die ongeveer 15 persone agter op die bakkie was Joseph Bedeker (die oorledene in aanklag 1), Steven Lindsay (die oorledene in aanklag 2) en twee ooggetuies wat by die verhoor namens die Staat in camera getuig het en na wie ek, soos die Hof a quo, as getuies A en B onderskeidelik sal verwys. Die voertuig het 'n kappie oor die bak gehad maar was agter oop. Naby 'n perseel waarop'n hele aantal woonstelgeboue geleë is, het 'n motor agter die bakkie ingedraai en dit gevolg tot waar die bakkie voor een van die woonstelgeboue gestop het om mense af te laai. Die motor het agter die bakkie gestop en beskuldigdes 1 en 3 het uit die motor geklim en na die bakkie gehardloop. Beskuldigde 1 het met 'n vuurwapen eers na Bedeker en toe drie skote na Lindsay gevuur. Bedeker is nie geraak nie maar al drie die skote het Lindsay getref, een waarvan die brein binnegedring en sy dood veroorsaak het. Beskuldigde 1 het toe 'n mes uitgehaal en daarmee na die mense

4

agter op die bakkie begin steek. Nadat die noodlottige skoot Lindsay getref het, is 'n derde aanvaller die eerste keer op die toneel gewaar. Getuies A en B het hom as beskuldigde 2 uitgeken terwyl beskuldigde 2 in sy getuienis ontken het dat hy ooit op die toneel was. Volgens getuie A het beskuldigde 2 hom met 'n Tomahawk, wat hy as '11 soort byl beskryf het, op sy kop gekap en begin om daarmee na die mense agter op die bakkie te kap en te steek. Getuie A het getuig dat beskuldigde 2 na beide oorledenes met híerdie wapen gesteek het maar hy kon nie sê waar op hul liggame hy hulle getref het en of hy hulle hoegenaamd getref het nie. Getuie A het ook getuig dat beskuldigdes 1 en 2 probeer het om vir Lindsay van die bakkie af te trek maar nie daarin geslaag het nie omdat die ander insittendes hom vasgehou het. Daarna het al drie beskuldigdes weggehardloop. Getuie 13 het soortgelyke getuienis gegee behalwe dat hy gesê het dat beskuldigde 2 nie na

5

Bedeker gesteek het nie en dat hy gedink het dat beskuldigde 2 met 'n mes gewapen was.

Soos ek reeds aangedui het, was die oorsaak van Lindsay se dood die skietwond van die kop. Geen steekwonde is op sy liggaam gevind wat tot sy dood bygedra het nie, maar op sy rug is vier klein oppervlakkige ronde punktuurwonde van 2 mm elk in deursnit gevind wat volgens die mediese getuienis oor die nadoodse ondersoek moontlik deur die skerp punt van 'n byl of soortgelyke voorwerp veroorsaak kon gewees het. Die oorsaak van Bedeker se dood was 'n steekwond van die bors wat die regterlong binnegedring het.

Die Hof a quo het die getuienis van getuies A en B dat beskuldigde 2 aan die aanval deelgeneem het, as betroubaar aanvaar en beskuldigde 2 se alibi verwerp. Die eerste vraag is gevolglik of hierdie bevinding van die Verhoorhof korrek was.

6

Namens beskuldigde 2 is voor ons beklemtoon dat hierdie 'n bende-aanval was deur lede van die sogenaamde Mongrel-bende op lede van die sogenaamde Eurocats-bende in die loop van voortslepende vyandigheid en gevegte tussen hulle in die Ottery-omgewing. Daar is betoog dat die ooggetuies in die omstandighede 'n sterk motief gehad het om beskuldigde 2 valslik te inkrimineer. Al drie die beskuldigdes het in hul getuienis erken (alhoewel beskuldigde 3 dit later weer ontken het), dat hulle lede van die Mongrel-bende is en beskuldigde 2 het verder erken dat hy voor die gebeure aan verskeie gevegte teen die Eurocats in Ottery deelgeneem het by welke geleenthede hy gewoonlik met 'n panga gewapen was. Dit was verder nie in geskil dat beskuldigde 3 se pa die plaaslike leier van die Mongrels was, dat Lindsay 'n leier van die Eurocats was, dat geeneen van getuies A en B bendelede was en dat benewens Lindsay daar die betrokke aand nog twee

7

ander lede van die Eurocats agter op die bakkie was nie.

Volgens getuie A het hy vir beskuldigde 2 goed geken en het hy hom voorheen verskeie kere gesien deelneem aan gevegte tussen die twee bendes in Ottery. By hierdie geleenthede het hy gesien dat beskuldigde 2 met 'n panga of 'n mes gewapen was. Getuie 13 het ookgetuig dat hy beskuldigde 2 goed geken het alhoewel hy nooit voorheen met hom gepraat het nie. Volgens hom het beskuldigde 2 gereeld deelgeneem aan bende-gevegte in die omgewing en was hy algemeen bekend as Lang Bennie. Die betrokke aand het hy beskuldigde 2 se gesig duidelik gesien.

Al drie die beskuldigdes het getuig dat hulle nie op die toneel was nie en niks met die aanval te doen gehad het nie. Beskuldigde 2 het getuig dat hy in 'n ander woongebied, Lavender Hill, woon maar hy kon nie sê waar hy die betrokke aand was nie. Hy is ongeveer ses weke later, op 18 November 1991, gearresteer en het

8

toe vir die eerste keer van die betrokke aanval gehoor. Hy het nooit voorheen van Lindsay gehoor nie. Hy ken die ander twee beskuldigdes goed en beskuldigde 3 se suster is met sy broer William getroud.

Die Hof a quo het bevind dat, ten spyte van sekere teenstrydighede tussen die getuienis van getuies A en B en tussen die getuienis van getuie A en sy polisieverklaring, beide getuies seuitkenning van beskuldigde 2 geloofwaardig was. Die Hof a quo het bevind dat hulle geen motief gehad het om beskuldigde 2 valslik te inkrimineer nie en dat albei getuies baie naby aan beskuldigde 2 was en hom goed kon sien waar hy vlak agter die bakkie gestaan het. Beskuldigde 2 se weergawe is as vals verwerp.

Dit is onnodig om na al die teenstrydighede wat deur die Hof a quo genoem word en waarop in hierdie Hof namens beskuldigde 2 gesteun is, te verwys. Die meeste daarvan, soos dié betreffende

9

die rigting waarin die beskuldigdes na die aanval weggehardloop het en of beskuldigde 2 ookna Bedeker gesteek het of nie, beskou ek nie as belangrik nie en is te verwagte in die omstandighede. 'n Teenstrydigheid waarop sterk namens beskuldigde 2 gesteun is, betref die wapen wat beskuldigde 2 sou gebruik het. In sy polisieverklaring het getuie A gesê dat hy 'n panga gebruik het terwyl hy in sy getuienis gepraat het van 'n wapen wat soos 'n byl gelyk het. Volgens getuie B het hy nie die wapen gesien waarmee beskuldigde 2 na Lindsay gesteek het nie maar hy het vermoed dat dit 'n mes was. Na my mening is die verskil tussen getuie A se polisieverklaring en sy getuienis nie beduidend nie en is getuies A en B se getuienis nie op hierdie aspek teenstrydig nie. In sy polisieverklaring het getuie A gesê dat beskuldigde 2 by die toneel in die motor wat agter die bakkie gestop het, aangekom het, terwyl hy dit in sy getuienis baie duidelik gestel het dat hy nie vir

10

beskuldigde 2 in die motor gesien het nie. Dit is duidelik dat sy stelling in die polisieverklaring bloot 'n afleiding was.

Namens beskuldigde 2 is betoog dat die getuies min geleentheid gehad het vir 'n betroubare waarneming. Ek stem nie saam nie. Daar was sekerlik paniek en wanorde agter op die bakkie. Die aanval het egter 'n hele rukkie geduur terwyl die aanvallers na die twee oorledenes gekap en gesteek het en daar gepoog is om Lindsay van die bakkie af te trek. Die hele tyd was beskuldigdes 1 en 2 baie naby aan die getuies. Die beligting was baie goed en beskuldigde 2 was goed bekend aan die getuies. Hulle het hom reeds op die toneel gesien voordat hy begin steek het na die passasiers.

Daar is voorts betoog dat getuies A en B die Eurocats goedgesind was en dat die identiteit van beskuldigde 2 na die tyd aan hulle deur Eurocats-gesinde persone gesuggereer is. Daar is

11

geen feitebasis vir die betoog nie. Verder was dit gemene saak dat die aanvallers lede van die Mongrel-bende was en geen rede is voor ons aangevoer waarom dit tot voordeel van die Eurocats was om juis beskuldigde 2 valslik te inkrimineer nie.

Wat die getuienis van beskuldigde 2 betref, vind ek dit haas ondenkbaar dat hy, soos hy getuig het, eers ses weke later van die aanval gehoor het nadat hy gearresteer is. Hy was 'n aktiewe lid van die Mongrels en het gereeld aan gevegte teen die Eurocats in Ottery deelgeneem. Die dood van twee lede van die Eurocats sou sekerlik binne enkele dae tot sy kennis gekom het. Beskuldigde 2 het nog verder gegaan en gesê dat nie eens die polisieman wat hom arresteer het hom van die aanval vertel het nie. Dit het hy eers van die Landdros gehoor toe hy in die hof verskyn het. Hierdie getuienis is nie alleen onwaarskynlik nie maar is weerspreek deur die betrokke polisiebeampte wat vir beskuldigde 2 gearresteer het.

12

Soos die Hof a quo vind ek verder beskuldigde 2 se vaagheid oor waar hy die betrokke aand was, onbevredigend.

Vir die bogemelde redes is daar, na my mening, onvoldoende grond om met die Hof a quo se aanvaarding van die uitkennings-getuienis teen beskuldigde 2 en die verwerping van sy eie getuienis in te meng.

Die verdere vraag betref die aanspreeklikheid van beskuldigde 2 vir die dood van Lindsay. Volgens die getuienis van beide getuies A en B het beskuldigde 2 op die toneel verskyn nadat die dodelike skoot reeds vir Lindsay getref het. Daama, terwyl Lindsay nog gelewe het, het beskuldigde 2 tot die aanval op hom toegetree en na hom gesteek met die klaarblyklike opset om hom te dood, maar geen wonde wat hy toegedien het, het die intrede van Lindsay se dood verhaas nie. Deur sy optrede het beskuldigde 2 hom dus met die ander aanvallers se gemeenskaplike oogmerk om

13

Lindsay te dood, vereenselwig op die stadium toe Lindsay reeds die dodelike wond opgedoen het, en is beskuldigde 2 as laatkommer skuldig aan poging tot moord en nie aan moord soos deur die Verhoorhof bevind is nie. Sien S v Mgedezi and Others 1989(1) SA 687(A) op 705 I - 706 C en S v Motaung and Others 1990(4) SA 485(A) op 521 B-D. Op dieselfde grondslag kan beskuldigde 2 homself gelukkig ag dat hy nie ook skuldig bevind is aan poging tot moord op Bedeker nie.

Hierdie Hof moet gevolglik opnuut besluit oor 'n gepaste vonnis vir beskuldigde 2. Sy persoonlike omstandighede is dat hy 26 jaar oud is, tot in std 7 op skool gevorder het, getroud is en die vader is van drie minderjarige kinders. Hy moet as 'n eerste oortreder behandel word. Na my mening is daar erge verswarende faktore in die huidige saak aanwesig. Die aanval was 'n koelbloedige en genadelose een op weerlose mense. Beskuldigde

14

2 se totale verontagsaming van die lewe van ander blyk uit die feit dat hy, volgens die aanvaarde getuienis, aangehou het om met 'n dodelik gevaarlike wapen na die mense agter op die bakkie te kap en te steek. Hy kan homself gelukkig ag dat die hou op getuie A se kop hom slegs skrams getref het en dat van sy ander houe nie getref het of groter wonde veroorsaak het nie. In al die omstandighede sou ek dieselfde vonnis oplê as wat deur die Verhoorhof opgelê is.

Gevolglik het beskuldigde 2 se appèl teen sy skuldig-bevinding geslaag en is sy skuldigbevinding op aanklag 2 ter syde gestel en vervang met een van skuldig aan poging tot moord. Nietemin is dieselfde vonnis as dié deur die Hof a quo opgelê. Sy appèl teen sy vonnis op aanklag 2 is afgewys.

W. VIVIER AR.

▲ To the top