S v Sithole (151/1996) [1996] ZASCA 130 (21 November 1996)


NIE RAPPORTEERBAAR SAAKNOMMER: 151/96

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

T P SITHOLE Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, F H GROSSKOPF et SCHUTZ ARR

VERHOORDATUM: 11 NOVEMBER 1996

LEWERINGSDATUM: 21 NOVEMBER 1996

2

UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:

Die appellant is in die streekhof aan verkragting skuldig bevind en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die Transvaalse Provinsiale Afdeling het die appellant se appèl teen sy skuldigbevinding afgewys maar sy vonnis verminder na 6 jaar gevangenisstraf waarvan 2 jaar voorwaardelik vir 5 jaar opgeskort is. Die appellant appelleer na hierdie hof met verlof verleen op petisie na die Hoofregter, maar slegs teen sy skuldigbevinding.

Die klaagster was 'n jong dogter toe sy na bewering in Desember 1990 deur die appellant verkrag is. Dit blyk nie uit die opgetekende getuienis wat haar ouderdom toe was nie, maar volgens 'n opmerking van die landdros tydens die verhoor was sy ongeveer 13 jaar oud in

3

Desember 1990, en dit blyk dat die partye daardie ouderdom as korrek aanvaar het.

Die verhoor van die saak het op 30 November 1994 en ongeveer 4 jaar na die beweerde verkragting 'n aanvang geneem. Die rede vir hierdie lang vertraging was omdat die klaagster 'n paar maande tevore vir die eerste maal beweer het dat sy in Desember 1990 deur die appellant verkrag was. Sy het dit nooit tevore aan enigiemand genoem nie, selfs nie aan haar moeder met wie sy 'n goeie verhouding gehad het nie. Die klaagster het die voorval trouens heel eerste met 'n 21 jarige vriendin, ene Callie, en nie met haar moeder nie bespreek. Dit was nadat die klaagster 'n televisieprogram oor kindermolestering gesien het waarin slagoffers aangeraai was om hulle ervarings te openbaar. Volgens die klaagster het Callie voorgestel dat sy 'n brief aan haar

4

moeder skryf. Die klaagster was toe ongeveer 17 jaar oud en in st 6 op skool. Die klaagster het Callie se advies gevolg en 'n brief aan haar moeder geskryf. Sy het die brief die oggend voor skool onder haar moeder se kopkussing geplaas. Die brief, wat ongelukkig nie gedateer is nie, is tydens die verhoor as 'n bewysstuk ingehandig. Ek sal later met die toelaatbaarheid en inhoud van die brief handeL Volgens die klaagster het sy na skool daardie dag vir haar moeder vertel wat gebeur het.

Slegs die klaagster en die appellant het tydens die verhoor getuig. Die staat het nie die getuienis van die klaagster se moeder of Callie aangebied nie, maar wel die brief ingehandig. Die getuienis van die moeder sou in ieder geval nie toelaatbaar gewees het om die klaagster se rapport aan haar moeder, en dus konsekwentheid in die klaagster se

5

weergawe te bewys nie. Die eerste rapport van die voorval was immers nie aan die moeder nie maar aan Callie gemaak. Daarbenewens was die rapport amper vier jaar na die voorval gemaak en kan dít beslis nie beskou word as 'n klagte wat "by die eerste redelike geleentheid" na die gebeure gelê is nie. Dieselfde beswaar geld vir sover dit die rapport aan Callie betref. (Vgl R v Gannon 1906 TS 114 op 116-117; R v Du Plessis 1922 TPA 153 op 154-155; R v 1937 TPA 389 op 392; R v M 1959(1) SA 352 (A) op 355 D - 356 H; Schmidt Bewysreg 3e uitg 383, 385 - 386.) Om dieselfde rede is die brief wat die klaagster amper vier jaar na die voorval aan haar moeder geskryf het nie as rapport van die voorval toelaatbaar nie. Verder kom die brief slegs op ontoelaatbare selfstawing neer en kan dit nie as stawing vir die klaagster se bewerings gebruik word nie, soos die landdros klaarblyklik gedoen het. (Vgl R v

6

C 1955(4) SA 40 (N) op 40 F - G; S v 1961(4) SA 201 (O) op 205 A - B; Schmidt 385.) Dit wil natuurlik nie sê dat die brief nie teen die klaagster gebruik mag word nie, juis om haar inkonsekwentheid te bewys. Soos later sal blyk strook die bewerings in die klaagster se brief inderdaad nie met haar weergawe in die hof nie.

Daar is dus geen direkte stawing vir die klaagster se getuienis nie. Die moeder se getuienis kon egter in ander opsigte stawing vir die klaagster gebied het, en wel met betrekking tot sekere relevante omringende aspekte soos die verhouding destyds tussen die appellant, die moeder en die klaagster onderling, en die toestand en gedrag van die klaagster die oggend na die beweerde verkragting. Onder die omstandighede is dit vreemd dat die staat nie die moeder wat beskikbaar was as getuie geroep het nie. Na my mening kan daar egter nie soos

7

deur die appellant betoog 'n nadelige afleiding in hierdie verband teen die staat gemaak word nie.

Dit is gemene saak dat die klaagster in Desember 1990 saam met haar moeder by die appellant in sy huis gewoon het. Haar moeder en die appellant het sedert 1988 en tot 1994 as man en vrou saamgeleef, maar hulle was nie getroud gewees nie. Hulle het saam twee kinders gehad.

Die klaagster het getuig dat sy een aand in Desember 1990 om ongeveer 22:00 in haar slaapkamer wakker geword het toe die appellant haar mond met sy hand toegedruk het. Toe sy opspring, het die appellant haar aan die keel gegryp sodat sy nie kon skreeu nie. Hy het haar broekie uitgetrek, die ritssluiter van sy broek oopgetrek en gemeenskap met haar gehou. Na die tyd het die appellant gedreig dat

8

hy haar sal doodmaak as sy aan iemand vertel wat gebeur het. Die appellant is toe na die slaapkamer langsaan waar hy en die klaagster se moeder geslaap het. Volgens die klaagster was haar moeder die betrokke aand in daardie slaapkamer langsaan gewees.

Die klaagster het gemerk dat daar bloed aan die laken was. Sy het toe die laken afgetrek en dit weggesteek sodat haar moeder dit nie sou sien nie. Sy was bang soos sy dit gestel het dat haar moeder sou agterkom wat met haar gebeur het.

Die volgende móre voor die klaagster skool toe is, het haar moeder haar gevra waarom sy huil, maar sy het niks vir haar moeder gesê nie aangesien die appellant beveel het dat sy vir niemand mag vertel nie. Die appellant het daama nooit weer probeer om gemeenskap met haar te hou nie.

9

Die appellant ontken dat hy ooit gemeenskap met die klaagster gehad het. Hy is uitgevra oor die motief vir die beweerde vals klag en het aan die hand gedoen dat die klaagster en haar moeder moontlik die vals klag teen hom gelê het nadat sy verhouding met die moeder op die rotse beland het. Die appellant getuig dat sy verhouding met die klaagster se moeder vir 'n geruime tyd voor die finale breuk reeds baie wankelrig was. Hulle het daagliks baklei en volgens hom was daar geen vrede meer in die huis nie. Sy het hom by meer as een geleentheid verlaat, maar in Mei 1994 het sy en die klaagster die huis finaal verlaat. Die appellant sê hy het eers daarna en gedurende Julie 1994 vir die eerste keer van die beweerde verkragting gehoor.

Die appellant het ook 'n ander moontlike motief vir die beweerde vals klag genoem. Dit blyk dat hy die klaagster sedert ongeveer 1992

10

van tyd tot tyd verbied het om met sekere mansvriende uit te gaan. Die appellant beweer egter dat die klaagster haar nie aan hom gesteur het nie en selfs die hele nag uitgebly het. Dit het sy verhouding met die klaagster vertroebel. Volgens die appellant het sy hom trouens gesê dat sy nie na hom sal luister nie aangesien hy nie haar pa is nie. Die appellant het aangevoer dat sy konfrontasie met die klaagster in hierdie verband moontlik aanleiding tot die vals klag teen hom gegee het.

Die landdros was beïndruk deur die klaagster as getuie. Volgens die landdros het sy die gebeure in soveel detail beskryf dat hy tevrede was dat sy dit nie uit haar duim kon gesuig het nie. As die klaagster se weergawe die waarheid ís, is dit myns insiens eerder merkwaardig dat sy na vier jaar werklik nog al die detail sou kon onthou. Na my mening kan haar weergawe van die gebeure die betrokke aand egter beswaarlik

11

as gedetailleerd beskryf word. Maar selfs al word dit so beskou, wil dit nog nie sê dat dit die waarheid is nie. Wat juis opvallend is, is dat die klaagster se weergawe in die hof nie strook met haar bewerings in die brief wat slegs enkele maande voor die hofsitting geskryf is nie. Die vertaling van die brief lui soós volg:

"Ek vertel u dat ouboet Phillip nie van u hou nie want hy het al gemeenskap met my gehou 3 jaar gelede. Dit is nie iets waarvan ek gehou het nie. Ek was bang om u te vertel. Ek wou nie dat ma en hy vervreemd moet raak as gevolg van ons kinders nie.

Toe ek hom gevra het hoekom hy dit doen, het hy gesê hy wil ook van my hou soos van sy kinders. Hy het gesê hy gaan dit ook doen met sy jong dogter.

Ek het gebloei en ek vra ma om my te vergewe. Ek sal ma vertel van die ander dinge as ek van die skool af kom."

Dit is opmerklik dat die brief nêrens uitdruklik van verkragting praat

nie. Die klaagster was darem al 17 jaar oud toe sy die brief geskryf

het. Die klaagster sê wel dat sy bang was om haar moeder te vertel dat

12

die appellant gemeenskap met haar gehad het. Sy sê egter nie dat sy bang was omdat die appellant haar met die dood gedreig het nie. Volgens die brief was sy bang omdat sy nie wou hê dat haar moeder en die appellant as gevolg van haar vervreemd moes raak nie. Dit is verder nie vir my duidelik waarom dit vir haar nodig was om haar moeder in die brief te vra om haar te vergewe nie. Dit blyk in ieder geval nie uit haar getuienis dat sy 'n skuldgevoel gehad het omdat sy haar moeder nie vroeër vertel het nie.

'n Verdere aspek omtrent die klaagster wat die landdros beïndruk het, was die feit dat sy emosioneel geraak en gehuil het toe sy getuienis afgelê het. Dit was vir die landdros "'n duidelike aanduiding dat beskuldigde se weergawe dat dit 'n vals klag is wat teen hom gelê is nie redelik moontlik waar is nie". Die landdros sê dat hy die klaagster goed

13

dopgehou het toe sy emosioneel begin raak het om seker te maak dat sy nie toneelspeel nie. Al aanvaar mens dat sy nie besig was om toneel te speel nie is dit nog geen waarborg dat sy besig was om die waarheid te praat nie. Die feit dat die 17 jarige klaagster gehuil het toe sy getuig het, regverdig myns insiens nie die afleiding dat die appellant se weergawe daarom nie redelik moontlik waar kan wees nie.

Die feit dat die klaagster amper vier jaar gewag het voordat sy iemand van die voorval vertel het, plaas na my mening 'n groot vraagteken oor haar getuienis. Die landdros het bevind dat haar versuim om die voorval te rapporteer "nie haar geloofwaardigheid sodanig aantas dat die hof vandag kan sê haar weergawe is vals nie", gesien die feit dat sy maar 13 jaar oud was en met die dood gedreig was as sy sou praat. Haar jeugdige ouderdom in Desember 1990 en die appelïant se

14

dreigement moet sekerlik in aanmerking geneem word. Dit is goed denkbaar dat 'n 13 jarige dogter in so 'n geval vemeder en skaam sal voel en dat sy om daardie rede alleen nie aan iemand wil vertel wat gebeur het nie. Dit is egter nie die rede wat die klaagster in haar getuienis of in haar brief aanvoer nie. In die hof het sy gesê dat sy bang was vir die appellant se dreigement. In haar brief sê sy dat sy bang was dat haar moeder en die appellant vervreemd sou raak. Alles in ag genomeis dit egter onwaarskynlik dat dit haar amper vier jaar sou neem om haar vrese te bowe te kom. En toe maak sy nie 'n rapport aan haar moeder nie maar aan 'n ouer vriendin wat sy slegs as Callie ken. Sy was gevra waarom sy na Callie gegaan het en nie na haar moeder nie, maar sy kon nie 'n sinvolle antwoord gee nie.

Daar is twee verdere aspekte van die klaagster se getuienis wat

15

kommentaar verg. Eerstens vind ek dit onwaarskynlik dat die klaagster se moeder die verdwyning van die laken gelate sou aanvaar sonder om navraag te doen oor wat haar dogter daarmee gedoen het. Tweedens vind ek dit vreemd dat die appellant, op die klaagster se weergawe, bereid was om die risiko te loop dat die klaagster se moeder in die kamer langsaan mag agterkom wat gebeur, bv as die klaagster sou skreeu. Mens sou verwag dat die appellant 'n beter geleentheid sou gekies het.

In teenstelling met die klaagster het die appellant nie 'n goeie indruk op die landdros gemaak nie. Die landdros se eerste punt van kritiek is dat die appellant ongemaklik in die getuiebank voorgekom het. Die landdros het egter bygevoeg dat hy dit self nie as 'n veilige maatstaf beskou om geloofwaardigheid te bepaal nie. Selfs 'n onskuldige

16

beskuldigde wat op so 'n ernstige aanklag teregstaan mag ongemaklik voorkom. Dit is immers moeilik genoeg vir so 'n beskuldigde om 'n vals klag van hierdie aard te ontsenu. In die appellant se geval was hy bowendien gekonfronteer met die bewering dat hy die daad op een of ander ongespesifiseerde aand in die maand van Desember vier jaar tevore gepleeg het.

Die landdros se tweede punt van kritiek teen die appellant is dat die moontlike motiewe vir 'n vals klag wat hy in die hof geopper het, nie water hou nie. Die landdros sê egter self dat die aangevoerde motiewe op blote spekulasie aan die kant van die appellant berus. 'n Mens moet jou natuurlik afvra waarom die klaagster 'n vals klag teen die appellant sou wou lê. Die appellant se saak sou dus vanselfsprekend veel sterker gestaan het as hy op 'n duidelike motief kon steun. Dit

17

beteken egter nie dat daar enige bewyslas op die appellant gerus het om aan te toon dat die klag vals was nie. Die feit dat die appellant nie aan 'n klaarblyklike motief kon dink nie beteken nie dat daar geen motief vir 'n vals klag bestaan het nie. Dit sal egter geen doel dien om verder in hierdie verband te spekuleer nie, behalwe om te meld dat die beweerde sameswering tussen die klaagster en haar moeder nie so vergesog is as wat die landdros bevind het nie, selfs al sou die moeder in so 'n geval moontlik onderhoud moes verbeur.

In die lig van die voorgaande kritiese beskouing van die klaagster en die appellant se getuienis en die landdros se evaluering daarvan, en na oorweging van die waarskynlikhede, is ek van oordeel dat die staat nie bo redelike twyfel bewys het dat die appellant die klaagster verkrag het soos beweer nie. Die appellant se appèl teen sy skuldigbevinding

18

slaag dus.

Die appèl slaag en die appellant se skuldigbevinding word tersyde gestel.

F H GROSSKOPF APPèLREGTER

E M GROSSKOPF AR)

)STEM SAAM SCHUTZ AR )

▲ To the top