S v Kellerman (218/1996) [1996] ZASCA 139 (27 November 1996)


RAPPORTEER

Saaknommer 218/96 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak tussen: GEORGE PETRUS KELLERMAN Appellant

en
DIE STAAT Respondent

CORAM : HEFER,HOWIE et PLEWMANARR

DATUM AANGEHOOR : 21 NOVEMBER 1996 DATUM VAN UITSPRAAK : 27 NOVEMBER 1996

UITSPRAAK

HOWIE A R /

2

HOWIE AR:

Appellant se appèl na die Transvaalse Provinsiale Afdeling teen sy skuldigbevindings en vonnisse in 'n

streekhof ten opsigte van twee aanklagte van bedrog het op

verskerping van sy straf uitgeloop. Verlof om verder te

appelleer is deur die Hof benede geweier maar deur hierdie

Hof toegestaan.

Die bevel waarvolgens hierdie Hof verlof toegestaan

het, magtig 'n appèl

"beide ten aansien van die effek, indien enige, van die invoeging van art 310A in die Strafproseswet nr 51 van 1977, en op die meriete van bedoelde verhoging."

Omdat die appèloorkonde laat ingedien is, moes by die

aanvang van die verrigtinge in hierdie Hof aansoek om

kondonasie gedoen word. Die advokate was dlt eens dat die

uitslag van die aansoek noodwendig van die meriete van die

appèl sou afhang. Ek behandel dus die aansoek en die

appèlgronde op daardie grondslag en gerieflikheidshalwe

verwys ek na "die appellant" en nie "die applikant" nie.

3

Appellant se betoog op die regspunt is dat, in ag

genome die bepalings van artikel 310A van die Strafproseswet, verswaring van sy vonnisse regtens onbevoeg was. Die Hof a quo se uitspraak in hierdie verband is gerapporteer: S v Kellerman 1996 (1) SASV 89 (T).

Die tersaaklike feite wat op die onderhawige aspek van toepassing is, kan soos volg opgesom word. Die vonnisse is op 21 September 1993 deur die Verhoorhof opgelê. Op 11 Oktober 1993 liasseer appellant in persoon 'n kennisgewing van appèl met betrekking tot beide die skuldigbevindings en die vonnisse. Daarna verkry appellant regsverteenwoordiging. Op 4 Maart 1994 word sy prokureurs kennis gegee dat die appèl vir verhoor op 23 Mei 1994 ter rolle geplaas is. Op 13 April 1994 is hulle kennis gegee dat die Staat voornemens was om vir verswaring van vonnis aansoek te doen. Aangesien appellant se betoogshoofde blykbaar nie betyds geliasseer kon word nie is die aanhoor van die appèl op 23 Mei 1994 uitgestel tot 'n datum gereël

4

te word. Op 9 November 1994 liasseer appellant se prokureurs 'n kennisgewing van terugtrekking van die appêl. Op 3 Januarie 1995, word die prokureurs nietemin verwittig dat dle appèl op 16 Maart 1995 aangehoor sou word. Die appèl word nie op laasgenoemde datum voortgesit nie maar beide partye lê betoog aan die Hof a quo voor ten opsigte van sy bevoegdheid om vonnis te verhoog asook die vraag of inmenging gepas was. Op 9 Mei 1995 lewer die Hof uitspraak waarvolgens onder andere die vonnisse verswaar word.

Die strekking van appellant se huidige betoog is die volgende. Voor 1990 het respondent (verteenwoordig deur die Prokureur-generaal) geen reg van appèl teen 'n laer hof se vonnis gehad nie. Daar het egter 'n praktyk bestaan dat waar 'n beskuldigde teen skuldigbevinding of vonnis appelleer die Staat kennis kon gee van sy voorneme om by die aanhoor van die appèl om verswaring van vonnis aansoek te doen. Na ter rolle plasing en sodanige kennisgewing kon die beskuldigde sy appèl nie sonder die hof van appèl se

5

verlof terugtrek nie. Sonder sodanige verlof moes die aangeleentheid dan voor die hof van appèl dien en was daardie hof in 'n posisie om in die uitoefening van sy appèlbevoegdhede verswaring van die vonnis te oorweeg en te beveel. In 1990 egter is artikel 310A in die Strafproseswet ingevoeg wat respondent 'n reg van appèl teen 'n laer hof se vonnis verleen en daardeur is gemelde praktyk afgeskaf. Derhalwe waar respondent verkies om sy reg van appèl nie uit te oefen nie is hy nie by magte om ooreenkomstig gemelde praktyk verswaring te versoek nie. Bygevolg is daar geen wettige beletsel teen terugtrekking te enige tyd van 'n beskuldigde se appèl nie. In die onderhawige saak was daar weens geldige terugtrekking van appellant se appèl, regtens geen appèlverrigtinge voor die Hof a quo en om daardie rede was laasgenoemde nie bevoeg om die vonnisse te verhoog nie.

Die eerste gerapporteerde aanduiding van die praktyk waarna hierbo verwys is, vind mens in R v Coetzer 7938 TPA

6

221. Nie lank vantevore nie, was die Hooggeregshof deur artikel 94 van die Algemene Regsverwysingswet, 46 van 1935, vir die eerste keer die bevoegdheid verleen om 'n laer hof se straf te verswaar. In Coetzer se saak, sonder om 'n vaste reel te wil neerlê, verklaar die Hof dat dit in die meeste gevalle wenslik is dat 'n appellant gewaarsku word dat verswaring van vonnis versoek sal word en dat die landdros ook sodanige kennis ontvang sodat hy redes vir die opgelegde straf kan verstrek.

Met daardie uitlating het hierdie Hof in R v Swanepoel 1945 AA 444 te 457 volkome saamgestem. (Volledigheidshalwe mag ek net meld dat in die onderhawige saak die streeklanddros na respondent se kennisgewing aangaande verswaring van vonnis verdere redes vir vonnis gegee het.)

Die eerste uitspraak van hierdie Hof wat volledig met gemelde praktyk handel is S v Du Toit 1979 (3) 846 (A). Daaruit, asook uit die uitspraak in S v Kirsten 1988 (1) SA 415 (A), blyk dit duidelik, eerstens, dat die praktyk ook

7

van toepassing is waar, in die afwesigheid van enige kennisgewing deur respondent, die hof van appèl mero motu kennis gee dat verhoging van vonnis oorweeg sal word, en, tweedens, dat dit in hierdie Hof asook in alle ander afdelings van die Hooggeregshof geld. Sien, oor die algemeen wat die betrokke praktyk betref, Hiemstra, Suid-Afrikaanse Strafproses, 5e uitgawe, 805-6.

Blykbaar bestaan daar nie eensgesindheid in alle afdelings ten opsigte van hoe en presies wanneer 'n gevonnisde appellant sy appèl sonder verlof kan terugtrek nie: Hiemstra, t a p. Dit is egter vir huidige doeleindes onnodig om daarop in te gaan : op geen beskouing kan hy dit doen na beide die ter rolle plasing van sy appèl en kennisgewing namens respondent aangaande verswaring nie. Ingevolge gemelde praktyk dus was appellant se kennisgewing van terugtrekking van nul en gener regskrag en het dit die Hof a quo vrygestaan om verswaring van vonnis te oorweeg en te beveel.

8

Dit bring my by die vraag of artikel 310A van die Strafproseswet die betrokke praktyk afgeskaf of tot enige tersaaklike mate geaffekteer het.

Artikel 310A, wat deur Wet 107 van 1990 in die

Strafproseswet ingevoeg is, lees soos volg:

"310A. Appèl deur prokureur-generaal teen vonnis van laer hof. - (1) Die prokureur-generaal kan teen 'n vonnis wat 'n beskuldigde in 'n strafsaak in 'n laer hof opgelê is, na die provinsiale of plaaslike afdeling wat regsbevoegdheid het, appelleer mits 'n aansoek om verlof om te appelleer deur 'n regter in kamers toegestaan is.

(2)(a) 'n Skriftelike kennisgewing van so 'n aansoek moet binne 'n tydperk van 30 dae vanaf die oplegging van vonnis of binne die langer tydperk wat op aansoek om gegronde redes toegelaat word, deur die prokureur-generaal by die griffier van die betrokke provinsiale of plaaslike afdeling ingedien word.

(b) Die kennisgewing moet kortliks die gronde vir die aansoek vermeld.

(3) Die prokureur-generaal moet minstens 14 dae voor die dag vir die aanhoor van die aansoek bepaal, 'n afskrif van die kennisgewing, tesame met 'n skriftelike uiteensetting van die beskuldigde se regte ingevolge subartikel (4) , deur die adjunk-balju op die beskuldigde persoonlik laat beteken: Met dien verstande dat as die adjunk-balju nie in staat is om die afskrif van die kennisgewing aldus te beteken nie, dit beteken kan word op enige ander wyse wat op aansoek toegelaat word.

9

(4) 'n Beskuldigde kan binne 'n tydperk van 10
dae nadat so 'n kennisgewing op hom beteken is, 'n
skriftelike voorlegging by die betrokke griffier
indien, en die griffier moet dit voorlê aan die regter
wat die aansoek gaan aanhoor en 'n afskrif daarvan aan
die prokureur-generaal stuur.

(5) Behoudens die bepalings van hierdie artikel,
is artikel 309 mutatis mutandis van toepassing met
betrekking tot 'n appèl ingevolge hierdie artikel.

(6) By 'n aansoek om verlof om te appelleer
bedoel in subartikel (1) of 'n appèl ingevolge hierdie
artikel, kan die regter of die hof, na gelang van die
geval, gelas dat die Staat aan die betrokke
beskuldigde die geheel of 'n gedeelte van die koste
betaal wat teen die beskuldigde by bestryding van die
aansoek of appèl opgeloop het, getakseer volgens die
tarief in siviele sake van die betrokke provinsiale of
plaaslike afdeling."

('n Soortgelyke reg van appèl in die geval van 'n hoërhof

se vonnis word deur artikel 316B verleen.)

Gerieflikheidshalwe verwys ek voorts nog steeds na "die

Staat" of "respondent" pleks van die Prokureur-generaal.

Volgens appellant se betoog doen artikel 310A geen

afbreuk aan die Staat se substantiewe reg om die vermeende

ontoereikendheid van 'n vonnis voor 'n hof van appèl te

opper nie; wat dit wel gewysig het is die prosedure

10

waarvolgens die Staat dit kan doen. Waar die Staat dus

vroeer, ooreenkomstig gemelde praktyk, vir verswaring van

straf kon vra, is daardie voordeel en geleentheid beëindig.

In die plek daarvan het die Staat 'n volkome reg van appèl

verkry en is hy tot uitoefening van sodanige reg beperk.

Die Hof a quo se antwoord op hierdie betoog verskyn in

die gerapporteerde uitspraak te 92i - 93c en lees soos

volg:

"Artikel 310A is aangebring om wyer, en nie meer beperkte regte nie, aan die Prokureur-generaal in verband met verskerping van vonnisse toe te staan. Die rede vir art 310A is om die Prokureur-generaal regte van appèl toe te staan waar sulke regte nie vantevore bestaan het nie. Dit verwys na gevalle waar die beskuldigde klaarblyklik tevrede is met sy vonnis en nie appelleer nie.

In so 'n geval, en waar die vonnis na die mening van die Prokureur-generaal verkeerd of treffend onvanpas is, was die Prokureur-generaal voor die wysiging sonder remedie. Sy remedie was beperk tot die gemelde praktyksreël. Dit was om hierdie leemte aan te vul dat die Wetgewer art 310(A) ingevoeg het. Dit was nie om die praktyksreëlregte in te kort nie. As dit die bedoeling was, sou daar klaarblyklik so 'n bepaling in gemelde artikel gewees het, naamlik dat bo en behalwe die art 310A bepalings, die Prokureur-generaal geen regte ten opsigte van verskerping van

11

vonnis het nie. So 'n betoog, in die eerste plek, sou lei tot die volgende onhoudbare situasie: die Hof van appèl se regte om self kennis te gee word nie ingeperk nie. In so 'n geval sou dit onvanpas wees vir die Prokureur-generaal om die Hof se kennisgewing te ondersteun. Dit kon nooit die bedoeling van die Wetgewer gewees het nie."

Metdie menings in hierdie passasie uitgespreek, is ek

dit met eerbied basies eens. Mens kan voorts byvoeg dat

die Wetgewer moes geweet het, nie net van die bestaan van

die praktyk nie, maar ook dat dit vir amper 'n halfeeu

reeds voortgeduur het. In die bewoording van die artikel

vind mens nêrens die minste aanduiding van 'n wetgewende

bedoeling om respondent se posisie ingevolge gemelde

praktyk te wysig nie, om nie eens te praat van die hof van

appël se bevoegdhede nie. Boonop is so 'n bedoeling

ondenkbaar. Indien sodanige praktyk wel deur artikel 310A

afgeskaf is, sou die hof van appèl, in die afwesigheid van

'n appèl deur respondent, nie in staat wees om sy

bevoegdheid om in 'n gepaste geval 'n vonnis te verhoog,

behoorlik of enigsins uit te oefen nie. Trouens, sodanige

12

bevoegdheid sou prakties gesproke nie meer bestaan nie. Die rede is tweeledig. Aan die een kant sou verswaring van vonnis sonder om die appellant aan te hoor 'n growwe onreëlmatigheid daarstel. Aan die ander kant, indien die hof op enige stadium sou aandui dat verswaring van vonnis oorweeg sou word, sou die appellant geregtig wees om sy appèl selfs ter elfder ure terug te trek en daardeur sou hy reg en geregtigheid kan verydel.

Klaarblyklik is artikel 310A gemik op die geval waar die beskuldigde nie appelleer nie. Dít was die situasie waarin daar 'n leemte in die reg bestaan het wat die wetgewer wou vul. Waar die beskuldigde appelleer egter het die Staat geen appèlreg eens nodig nie; gemelde praktyk voldoen aan die behoeftes van die behoorlike administrasie van die strafreg. Boonop sou dit oorbodig en onsinnig wees, waar daar reeds 'n appèl deur die beskuldigde hangende is, dat respondent verlof om te appelleer moet vra, en bowendien, dat die beskuldigde 'n skriftelike

13

voorlegging moet indien. Wat beide partye in so 'n aansoek sou aanvoer sal, by die toepassing van die praktyksreël, in elk geval aan die hof van appèl voorgelê word tydens die aanhoor van die beskuldigde se appèl of by verrigtinge, soos in die onderhawige saak, na die gepoogde terugtrekking van sy appèl.

Gevolglik is daar gegronde redes waarom die betrokke praktyk bly voortbestaan het en kan appellant se onderhawige betoog nie opgaan nie. Die Hof a quo was volkome bevoeg om verswaring van vonnis te oorweeg en te beveel.

Wat die meriete van die verhoging aanbetref, het die verhoorhof appellant op die een aanklag (ek verwys daarna as "aanklag 2") tot R6 000,00 of twee jaar gevangenisstraf gevonnis en daarbenewens 'n verdere twee jaar voorwaardelike opgeskorte gevangenisstraf aan hom opgelê. Op die ander aanklag ("aanklag 3") was die effektiewe vonnis R10 000,00 of drie jaar gevangenisstraf. Dáár ook

14

is 'n verdere twee jaar opgeskorte gevangenisstraf opgelê. In die Hof benede is daardie vonnisse ter syde gestel. Elkeen is vervang met drie jaar gevangenisstraf waarvan een jaar opgeskort is op voorwaarde dat appellant nie skuldig bevind word aan diefstal of bedrog gepleeg gedurende die opskortingstydperk nie.

Die hoof Staatsgetuie was appellant se swaer, ene Stewart van Kroondal, Rustenburg. Ten opsigte van die onderhawige misdade en verskeie ander was laasgenoemde reeds tot 14 jaar tronkstraf gevonnis.

Die misdryf wat die onderwerp van aanklag 2 was, is in September 1988 gepleeg. Vroeër is Stewart se broer in 'n motorongeluk gedood. Die motor waarmee hy gery het, 'n Mercedes Benz 260E, was as gevolg van die ongeluk 'n wrak. Stewart wou dit herbou maar het nie die geld daarvoor gehad nie. Trouens, hy was op daardie stadium al twee keer insolvent verklaar en weer in finansiële moeilikheid. VOlgens Stewart wou hy die motor in sy familie hou. Dit is

15

vergesog. Hy het 'n voertuig van sy eie gehad en sy voor die hand liggende beweegrede, waarvan appellant noodwendig kennis moes gedra het, was om die Mercedes teen 'n wins te verkoop.

Ten tye van die ongeluk was die motor onderhewig aan 'n huurooreenkoms en die uitstaande bedrag wat aan die verhuurder, First Consolidated Leasing and Finance Corporation Limited, verskuldig was, was R113 803,82. Dit het Stewart en appellant geweet.

Om die geld in die hande te kry wat Stewart wou gehad het, gaan hy en appellant saam na 'n tak van Trust Bank te Pretoria. Appellant was toe 'n kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisie en stasiebevelvoerder te Wierdabrug. Hy was ook 'n voormalige lid van die Bedrogeenheid. Stewart gee voor dat hy ene Higgins is en namens 'n motorhandelaar, Overvaal Motors van Rustenburg, optree. Inderwaarheid is laasgenoemde jare tevore gelikwideer. Hulle deel die bankamptenare mee dat Overvaal Motors die betrokke motor

16

aan appellant vir R87 500,00 verkoop het en versoek

finansiering. 'n Valse faktuur word aan die bank voorgelê om daardie bewerings te staaf. Daarin word die motor as in werkende toestand beskryf. Hulle bewerings word alles geglo en Trust Bank verdiskonteer die beweerde transaksie. 'n Kredietkoopkontrak word op sy beurt tussen die bank en appellant aangegaan waarvolgens laasgenoemde 'n deposito van R30 000,00 betaal en onderneem om die balans oor 48 maande met paaiemente van net oor die R2 000,00 per maand te delg. Om die deposito te dek het appellant vroeër by sy eie bank tydelikeoortrokke fasiliteite gereël. Trust Bank oorhandig toe aan hulle 'n tjek vir die bedrag van R87 500,00 betaalbaar aan Overvaal Motors. Stewart deponeer dit in die bankrekening van sy oorlede broer se boedel en gee vir appellant 'n boedeltjek van R40 000,00, synde terugbetaling aan appellant van die depositobedrag en R10 000,00 vir sy aandeel in die bedrog. Stewart onderneem teenoor appellant om die bedrag van die verskuldigde

17

maandelikse paaiemente in laasgenoemde se bankrekening te betaal waaruit die betalings aan Trust Bank by wyse van debietorders gemaak sou word. Die paaiemente word tot slegs September 1989 betaal waarna Stewart die motor verkoop het. Nie lank daarna nie word hy vir die derde keer insolvent verklaar en sy kurator lê beslag op die voertuig. Die bedrag aan Trust Bank verskuldig, was toe om en by R68 000,00. Die bank kry egter niks daarvan nie want die verhuurmaatskappy, blykbaar met die kurator se goedkeuring, verkoop die motor vir minder as die agterstallige balans op die huurooreenkoms.

Dlt is duidelik dat appellant heeltyd ten volla bewus was van die motor se geskiedenis en volkome betrokke was by die beplanning en uitvoering van hierdie misdryf.

Die bedrog wat die onderwerp was van aanklag 3 is op soortgelyke wyse in Junie 1989 gepleeg, dus terwyl Stewart en appellant nog besig was om vir betalings ingevolge gemelde kredietooreenkoms met Trust Bank te sorg. Stewart

18

het 'n 1981 model Mercedes Benz 280 SEA motorvoertuig besit wat hy opgebou het en deur middel waarvan hy geld op 'n oneerlike wyse wou bekom. Saam met appellant besoek Stewart Steyns Ford, motorhandelaars op Brits. Met appellant se kennis en medewerking deel Stewart die verkoopsbestuurder, ene Knott, mee dat hy die voertuig aan appellant verkoop maar dat laasgenoemde finansiering nodig het. Stewart kom toe met Knott ooreen dat Steyns Ford teen 'n kommissie 'n faktuur sou uitreik asof hulle die motor aan standard Kredietkorporasie Beperk ("Stannic") verkoop vir lewering aan appellant. (Steyns Ford se samewerking was nodig omdat Stannic na bewering slegs met goedgekeurde handelaars besigheid sou doen en Steyns Ford het blykbaar in daardie kategorie geval.) Appellant se kredietbesonderhede word toe oor die telefoon aan Stannic verstrek wat die transaksie goedkeur.

Stewart en appellant is toe na Stannic se kantore in Pretoria-Noord waar appellant 'n

19

afbetalingsverkoopooreenkoms as koper teken en die nodige deposito betaal. Stannic reik toe 'n tjek vir R60 200,00 ten gunste van Steyns Ford uit en dit word aan Stewart oorhandig. Hy en appellant keer na Steyns Ford terug. Op grond van Stewart se wanvoorstellings vroeër, was Knott onder die indruk dat die bedrag van die tjek Stewart as oorspronklike verkoper van die voertuig moet toekom. Stewart vra egter dat Knott Steyns Ford se tjek aan appellant uitmaak wat toe gedoen word. Die tjek word by Standard Bank, Brits, gewissel en uit die opbrengs betaal Stewart vir appellant die deposito terug asook 'n "kommissie", soos Stewart dit beskryf het. Laasgenoemde kan egter nie onthou hoeveel appellant se aandeel was nie en die getuienis hieromtrent is onseker. Stewart behou toe die motor, soos hy en appellant natuurlik heeltyd bedoel het. Hy verf dit en kry dit toe reg vir verkoop. Hy was op die punt om dit te verkoop toe die polisie opgedaag en beslag daarop gelê het. Dit was 'n paar maande, volgens

20

Stewart se herinnering, na die "kontraksluiting" met Stannic. By daardie stadium was die aflosbedrag R44 195,00 wat die geldsom was wat Stannic as gevolg van die bedrog skade gely het.

Die totale skade wat deur die twee misdrywe veroorsaak is, was dus R112 195,00.

Die streeklanddros sê in sy vonnisuitspraak dat hy die oplegging van gevangenisstraf ernstig oorweeg het maar dat hy weens die besondere versagtende faktore wat hy teenwoordig bevind het, daarteen besluit het. In verdere redes merk die streeklanddros egter op dat appellant "uiters gelukkig" was om 'n straf te kry wat hom uit die gevangenis sou hou en dat as hy appellant weer moes vonnis hy hom waarskynlik drie tot vier jaar direkte gevangenisstraf sou opgelê het.

Opsommenderwys was die versagtende faktore wat die verhoorhof bevind het die volgende:

(a) Appellant was 'n 40-jarige getroude eerste

21

oortreder met twee kinders.

  1. Hy sou heel moontlik sy werk verloor en dit baie moeilik vind om werk met dieseifde status of salaris te vind.

  2. Die verhoor het so besonder lank geneem dat dit in 'n mate seker op sigself 'n straf was.

  3. Die inisiatief vir die pleeg van hierdie misdrywe het van Stewart gekom.

  4. Appellant was 'n instrument in Stewart se hande en is deur laasgenoemde gemanipuleer en misbruik, tot so 'n mate dat, altans wat die vroeëre misdryf betref, 'n mens "baie simpatie" met appellant het.

  5. Appellant het weinig of geen voordeel uit sy misdadige optrede getrek.

Die Hof a guo het bevind dat , te oordeel aan die getuienis, (e) en (f) duidelike en wesenlike mistastings daarstel wat klaarblyklik die hoofoorsaak daarvan was dat

22

direkte gevangenisstraf nie opgelê is nie. Weens die erns van hierdie misdrywe, wat berekend en met noukeurige beplanning uitgevoer is; appellant se misbruik, nie uit nood nie maar vir eie gewin, van sy amp in die Polisiemag; die behoefte van die gemeenskap om deur 'n totaal eerlike polisiemag bedien te word; en die afwesigheid van berou aan appellant se kant, het die Hof benede tot die slotsom geraak dat die oplegglng van daadwerklike gevangenisstraf nie net gepas is nie maar onvermydelik.

Namens appellant is voor ons betoog dat die strawwe wat die Hof benede opgelê het ontstellend onvanpas is, nie net in al die omstandighede van die saak nie maar veral weens die feit dat verswaring geskied het tussen sewe en agt jaar na die pleeg van die misdrywe, en amper vyf jaar na die aanvang van die verhoor. Voorts het die Hof a quo fouteer deur uit die oog te verloor, eerstens, dat direkte tronkstraf tot verlies van appellant se werk sou lei en, tweedens, dat korrektiewe toesig 'n meer gepaste straf sou

23

wees.

Wat die feite van die saak betref regverdig die Hof a guo se gewigtige oorwegings myns insiens die vonnisverhoging ten volle. Mens sou net wil beklemtoon dat wanneer offisiere in die Polisiemag aan ernstige kriminele optrede deelneem, veral misdrywe ten opsigte waarvan hulle besondere kennis en ervaring het, dit wesenlike afbreuk doen nie net aan die publiek se vertroue in die Mag nie maar daadwerklik aan die handhawing van wet en orde self.

Wat die uitgerekte verhoorverrigtinge aanbetref, moet dit in gedagte gehou word dat appellant besluit het, klaarblyklik doelbewus, om nie die waarheid te vertel, die streeklanddros in sy vertroue te neem en hom aan die verhoorhof se genade oor te lewer nie. In stede daarvan het hy verkies om die vervolging tot bewys van al die elemente van sy saak te stel en om in 'n valse weergawe te volhard. Die duur van die verhoor kan derhalwe nouliks as 'n versagtende faktor geld of as 'n rede waarom die Hof

24

benede nie 'n gepaste vonnis behoort op te gelê het nie.

Sover dit korrektiewe toesig aangaan, is meer as voldoende reeds hierbo gesê om aan te dui dat daadwerklike gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis in hierdie saak is. Sodra dít vasstaan, soos myns insiens die geval is, kan dit nie gesê word nie dat daar enige verskil bestaan tussen die vonnisse wat die Hof a quo opgelê het en wat hierdie Hof sou opgelê het.

Bygevolg word die aansoek om kondonasie van die hand gewys.

C.T. HOWIE APPèLREGTER

HEFER AR ] STEM SAAM PLEWMAN AR ]

▲ To the top

Cited documents 0

Documents citing this one 1

Judgment 1
  1. Nabolisa v S [2013] ZACC 17 (12 June 2013)