S v Deetlefs (361/1995) [1996] ZASCA 36 (28 March 1996)


Saak nr 361/95

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

WILLEM JOHANNES DEETLEFS APPELLANT

-en-

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: E M GROSSKOPF, VIVIER, F H GROSSKOPF

SCHUTZ ARR et PLEWMAN Wnd AR.

VERHOOR: 5 Maart 1996.

GELEWER: 28 Maart 1996.

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2

VIVIER AR:

Die appellant is in die Streekhof in Bellville op twee

aanklagte skuldig bevind : eerstens dat hy art 20 van die Wet op Diamante 56 van 1986 ("die Wet") oortree het deurdat hy 23 ongeslypte diamante van ene Victor Azevedo ("die klaer") gekoop het (aanklag 1) en tweedens dat, nadat die koopooreenkoms aangegaan is maar voor lewering kon geskied, hy dieselfde diamante van die klaer gesteel het (aanklag 2). Op aanklag 1 is die appellant 'n boete van R50 000 of 12 maande gevangenisstraf, plus 'n verdere 18 maande gevangenisstraf wat vir 5 jaar op sekere voorwaardes opgeskort is, opgelê en op aanklag 2 is hy tot 4½ jaargevangenisstraf, waarvan 1½ jaar vir 5 jaar op sekere voorwaardes opgeskort is, gevonnis. Op appèl na die Kaapse Provinsiale Afdeling is die skuldigbevindings sowel as die vonnis op aanklag 2 gehandhaaf maar die vonnis op aanklag 1 is tersyde gestel en vervang met 'n boete van R25 000 of 6 maande

3

gevangenisstraf plus 'n verdere 18 maande gevangenisstraf wat vir 5 jaar op sekere voorwaardes opgeskort is. Met die nodige verlof appelleer die appellant na hierdie Hof teen die skuldigbevindings en vonnisse op beide aanklagte.

Die klaer is 'n Angolese burger wat sedert ongeveer 1975 permanent in Kuilsrivier woon. Sy getuienis was dat hy gedurende 1992 tydens 'n besoek aan Angola die betrokke diamante, met 'n gesamentlike massa van 100 karaat, vir die bedrag van ongeveer $90 000 gekoop het. In Angola is die handel in ongeslypte diamante tussen Angolese burgers nie verbode nie. Toe hy voorheen in Angola gewoon het, het hy heelwat ondervinding en kennis van diamante opgedoen en hy ken die verskil tussen egte en onegte stene. Gedurende Desember 1992 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en sy aanvanklike plan was om later die diamante in Portugal te gaan verkoop. Nadat 'n vriend

4

van hom, ene André, wat sedertdien oorlede ís, die appellant as 'n voomemende koper gedurende die eerste week van Februarie 1993 aan hom voorgestel het, het hy egter besluit om die diamante hier te verkoop. Die ontmoeting het volgens afspraak een aand in André se huis, nie ver van Kuilsrivier af nie, plaasgevind. Die klaer was vergesel van sy swaer, Alberto Pires, terwyl ene Mike saam met die appellant was. In die kombuis waar almal van hulle behalwe André teenwoordig was, het die klaer die diamante in 'n klein dosie aan die appellant oorhandig wat dit een vir een sorgvuldig deur 'n vergrootglas ondersoek, daarna op *n diamantskaal geweeg en die totale massa van 100 karaat bevestig het. Hy het 'n aanbod van $60 000 vir die diamante gemaak wat die klaer verwerp het met die woorde dat sy minimum prys $95 000 is. Die klaer het die diamante geneem en hy en Pires is daar weg.

5

Die klaer het voorts getuig dat André 'n paar dae later 'n tweede ontmoeting by sy huis met die appellant gereël het. Die appellant het toe gevra om weer na die diamante te kyk en sy rede was dat hy ongelukkig was oor die geel kleur van sommige daarvan en dit in die daglig wou sien. Die klaer het nie die diamante by hom gehad nie en hy het die appellant toe in sy voertuig na sy huis in Kuilsrivier geneem om na die diamante te kyk terwyl Pires en Mike, wat ook by die tweede ontmoeting by was, by André se huis agtergebly het.

Volgens die klaer het hy in sy huis die díamante aan die appellant gegee wat dit slegs met die blote oog besigtig het en hom toe $90 000 daarvoor aangebied het. Die klaer het die aanbod van die hand gewys waama die appellant gesê het dat hy die klaer se prys van $95 000 sou aanvaar. Daar is verder besluit om die diamante in 'n pakkie op te maak en dit met maskeerband te seël

ó

wat hulle sou merk sodat mens later kon sien indien daar intussen met die pakkie gepeuter is. Die klaer het aanvaar dat die koopsom in 'n briewetas was wat die appellant die dag by André se huis gehad en daar gelaat het. Die appellant het die diamante in 'n plastieksakkie gesit en in 'n klein pakkie opgerol, maskeerband wat die klaer se seun intussen gaan koop het, 'n paar keer om die pakkie gedraai, dit met 'n pen gemerk en dit daama aan die klaer oorhandig met die versoek dat hy sy eie merk daarop maak. Toe hy die pakkie aan die klaer gee, het die appellant vir 'n koppie koffie gevra en die klaer se vrou, wat op daardie stadium by hulle was, is toe na die kombuis om die koffie te maak. Terwyl die klaer met die pakkie in die oop hand staan, het die appellant dit skielik uit sy hand gegryp en by die huis uitgehardloop. Die klaer en sy vrou het die appellant tevergeefs agtemagesit. Alle pogings om hom op te spoor was vrugteloos en na twee maande

7

het die klaer die saak by die polisie aangegee.

Pires het die klaer se getuienis bevestig dat by die eerste geleentheid die appellant die diamante een vir een onder 'n vergrootglas bekyk, op 'n skaal geweeg, berekenings op 'n sakrekenaar gedoen en uiteindelik 'n aanbod van $60 000 vir al 23 stene gemaak het. Hy het verder bevestig dat die klaer gesê het dat hy nie die aanbod kan aanvaar níe en dat sy prys $95 000 is. Pires het ook bevestig dat by die tweede ontmoeting in André se huis die appellant met 'n swart tas opgedaag en gevra het om die stene in die daglig te sien en dat hy en die klaer toe na laasgenoemde se huis is om na die stene te kyk terwyl die ander in André se huis gewag het. Ongeveer 'n uur later het hy gehoor dat die stene weg is en hy het later die dag vir die klaer gehelp soek na die appellant.

Die klaer se vrou het getuig dat sy die betrokke dag besig

8

was om die motor voor die huis te was toe die appellant en die klaer daar aankom. Sy het kort-kort by die huis ingegaan en deur die eetkamer geloop waar die klaer en die appellant besig was en het gedeeltes van hulle gesprek gehoor. Sy het gesien dat die klaer die diamante uit 'n papiersakkie haal en op die eetkamertafel plaas en dat die appellant daama kyk. Sy het gehoor dat hulle oor 'n prys praat en dat die appellant uiteindelik ingewillig het om die klaer se prys te betaal. Sy het ook gehoor dat die appellant die stene in *n pakkie wou opmaak en dat hy vir maskeerband vra. Sy het 'n rol plastiese kleefband in die kombuis gaan haal maar die appellant was nie daarmee tevrede nie en haar seun is toe gestuur om maskeerband te gaan koop wat die appellant om die pakkie diamante gedraai het. Hy het die pakkie met 'n pen gemerk en wou toe nog 'n ander kleur pen hê. Sy het haar seun gestuur om 'n ander pen te kry. Die appellant het toe 'n koppie koffie

9

gevra en sy is na die kombuis om die koffie te maak. Vanuit die oop-plan kombuis het sy gesien dat die appellant by die eetkamertafel opstaan en sy skoen vasmaak. Op daardie stadium het die klaer die pakkie in sy hand gehad terwyl hy vir die ander pen wag. Die appellant het skielik die pakkie uit die klaer se hand gegryp en by die voordeur uitgehardloop. Die klaer het agter die appellant aangehardloop en sy het hulle in die motor gevolg maar die appellant het spoorloos verdwyn.

Die appellant se getuienis was dat hy in Warrenton, wat hy as 'n diamant-wêreld beskryf het, in 'n familie van diamant-delwers grootgeword het, dat hy self kennis het van diamante en dat hy van tyd tot tyd handel dryf in geslypte diamante. Hy is deur Mike gevra om sekere diamante te waardeer wat André namens die klaer sou verkoop. Vir daardie doel is hy en Mike die eerste geleentheid na André se huis waar hy die klaer en Pires

10

ontmoet het. By die kombuistafel het die klaer 23 egte, ongeslypte diamante te voorskyn gehaal en voor hom neergesit en hy het dit een vir een onder 'n vergrootglas bekyk, elkeen se gewig geskat en dit op 'n stukkie papier neergeskryf. Die totale massa van die stene was ongeveer 47 karaat. Hy het nie 'n diamantskaal by hom gehad nie. Hy het sy berekenings gedoen en 'n totale waarde van tussen R60 000 en R90 000 op die diamante geplaas wat hy later aan André, wat nie in die kombuis teenwoordig was nie, gegee het. Die klaer het gesê dat sy waardasie te laag was. Daama is hy en Mike daar weg. 'n Paar dae later het André hom gevra of hy seker was van sy waardasie en hy het toe gesê dat hy die diamante in die daglig woú sien ten einde heeltemal seker te maak. Vir hierdie doel is hy en Mike weer na André se huis toe waar hulle weer die klaer en Pires gekry het. Hy het nie 'n briewetas by hom gehad soos deur die

11

klaer en Pires getuig nie. Daarvandaan is hy en die klaer na laasgenoemde se huis om na die diamante te kyk. Daar het hulle by die eetkamertafel gaan sit en die klaer het voorgestel dat hy 'n rol plastiese kleefband wat op die tafel gelê het, kan gebruik om die pakkie diamante te verseël nadat hy daama sou gekyk het. Die appeUant het gesê dat dit nie sal werk nie omdat 'n mens nie daarop merke kan maak nie. Die klaer het sy seun gestuur om 'n rol maskeerband te gaan koop. Daama het die klaer 'n geel plastieksakkie gaan haal en voor hom kom neersit. Die appellant het met sy vinger daarin gekrap en kon dadelik sien dat die stene daarin nie egte diamante was nie. Toe hy dit vir die klaer sê het die klaer 'n aggressiewe houding ingeneem. Hy het die klaer weggestoot en by die voordeur uitgehardloop na sy huis wat ongeveer een kilometer van die klaer se huis af is.

Die landdros het die getuienis van die klaer as geldofwaardig

12

aanvaar en dié van die appellant verwerp as so onwaarskynlik dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie. Pires, wat die klaer op wesenlike aspekte staaf, het die landdros veral gunstig beïndruk. Die landdros het bevind dat die klaer se getuienis ook deur dié van sy vrou gestaaf word. Hy het die verskille tussen die klaer en sy vrou se getuienis ontleed en tot die slotsom gekom dat dit nie afbreuk doen aan die klaer se geloofwaardigheid nie en daaraan toe te skryf is dat sy nie die heeltyd teenwoordig was en haar volle aandag gegee het aan wat tussen die klaer en die appellant gebeur het nie.

In hierdie Hof is namens die appeUant betoog dat die landdros fouteer het deur te bevind dat die klaer se vrou sy getuienis staaf. Daar is betoog dat daar wesenlike teenstrydighede tussen hulle getuienis is oor die gebeure in die klaer se huis. Daar is in hierdie verband veral op die volgende gewys. Volgens

13

die klaer is slegs maskeerband gebruik om die pakkie te verseël terwyl sy vrou getuíg het dat beide kleefband en maskeerband gebruik is; volgens die klaer het die appellant 'n aanbod van $90 000 gemaak terwyl die appellant se aanbod volgens haar $60 000 was; die klaer het getuig dat hy wel die pakkie met 'n pen gemerk het terwyl sy vrou getuig het dat hy dit nog nie gedoen het nie. Die teenstrydighede is, na my mening, nie wesenlik nie en is te verwagte onder die omstandighede. Dit is deur die landdros oorweeg en ek is nie oortuig dat sy gevolgtrekking verkeerd was nie.

Wat Pires betref, is namens die appellant betoog dat hy as 'n medepligtige van die klaer beskou moet word en dat die landdros nie sy getuienis met die nodige versigtigheid benader het nie. Dit is nooit aan Pires gestel dat hy meer as 'n blote toeskouer was nie en daar bestaan geen basis vir die betoog dat hy as 'n medepligtige

14

van die klaer beskou moet word nie. Daar is geen rede om met die landdros se geloofwaardigheidsbevinding oor hom in te meng nie.

Soos die landdros en die Hof a quo vind ek die appellant se weergawe totaal onwaarskynlik. Ek noem enkele aspekte. Volgens die appellant was dit eintlik André wat die waarde van die diamante wou weet omdat hy dit namens die klaer sou verkoop. Nogtans is hy nie in die kombuis teenwoordig wanneer die diamante deur die appeliant ondersoek en die waarde bepaal word nie, en gaan hy ook nie saam wanneer die appellant weer daama kyk nie. Dat die appellant die totale massa van sulke groot en waardevolle diamante sou vasstel sonder 'n skaal is onwaarskynlik. Sy getuienis dat hy diamante se massa goed kan skat en nie 'n skaal benodig om 'n waardasie te doen nie, is moeilik om te aanvaar.

15

Wat die gebeure by die klaer se huis betref, is dit moeilik om te aanvaar dat dit nodig was om die pakkie diamante te verseël indien die appellant bloot die diamante waardeer het. Volgens die appellant moes André nog die diamante verkoop en die koper sou klaarblyklík eers die diamante wou sien. Dit sou dus geen doel dien om dit op daardie stadium te seël nie. 'n Verdere onwaarskynlikheid in die appellant se weergawe is dat die klaer die egte diamante met slenters vervang het. In die eerste plek kon die klaer tog nie gedink het dat hy 'n kenner soos die appellant om die bos kon lei nie. Daar is betoog dat slenters baie eg kan lyk. Dit mag so wees maar volgens die appellant het die slenters in hierdie saak so duidelik van die egte diamante verskil dat hy dit dadelik gesien het sonder om dit eers uit die papiersakkie te haal. Verder sou die bedrog die klaer niks gebaat het nie omdat die stene nog verkoop moes word. Derdens is dit onwaarskynlik dat die

16

klaer sy eie agent, André, sou wou bedrieg met slenters.

Vir die redes hierbo genoem is ek gevolglik van mening dat die landdros tereg die kiaer se weergawe aanvaar en dié van die appellant verwerp het. Dit is duidelik dat die appellant gevolglik tereg skuldig bevind is aan die diefstal van die diamante. Die vraag is egter of hy ook aan 'n oortreding van art 20 van die Wet skuldig is.

Die probleem ontstaan omdat dit op die klaer se weergawe duidelik is, soos die landdros en die Hof a quo ook tereg bevind het, dat die appellant regdeur die oogmerk of direkte opset gehad het om die diamante te steel en nie te koop nie. Die briewetas wat by die klaer die indruk gewek het dat die appellant die koopsom gereed het, het later geblyk leeg te wees. Deur vir nog 'n pen en later koffie te vra, het die appellant op behendige wyse gesorg dat hy alleen met die klaer in die vertrek was toe hy die diamante

17

uit die klaer se hand gegryp het. Die vraag of die appellant aan 'n oortreding van art 20 van die Wet skuldig is, moet gevolglik beoordeel word op die feitebasis dat hy te alle tye die direkte opset gehad het om te steel en nie om te koop nie en dat sy gesprek oor die prys en sy aanvaarding van die klaer se prys alleenlik daarop gerig was om 'n skyn te verwek dat 'n koopooreenkoms gesluit word ten einde 'n geleentheid te skep om die diamante te steel. Art 20 van die Wet lees as volg :

"20 Niemand mag 'n ongeslypte diamant koop nie tensy -

  1. hy 'n lisensiehouer is; of

  2. hy die houer is van 'n permit in artikel 40(1) (b) bedoel."

Art 19 van die Wet bevat 'n verbod in identiese woorde teen die verkoop van ongeslypte diamante: "Niemand mag 'n ongeslypte

diamant verkoop nie tensy ". Ingevolge art 82 (a) van

die Wet is iemand wat die verbodsbepalings van artikels 19 en 20

18

oortree aan 'n misdryf skuldig. Dit was gemene saak by die verhoor dat die appellant nie ingevolge paras (a) en (b) van art 20 van die verbodsbepaling vrygestel is nie. Ingevolge die woordomskrywing in art 1 van die Wet sluit die woord "koop" in art 20 ook die volgende handelinge in: om in verband met 'n ongeslypte diamant sake te doen of om dit by wyse van ruil, pand of op 'n dergelike wyse te verkry.

Die advokate was dit eens dat die wetteregtelike misdaad wat deur art 20 geskep word, nie een is van absolute of skuldlose aanspreeklikheid nie, maar dat skuld of mens rea in die vorm van opset 'n onontbeerlike element daarvan is. Die vraag ontstaan dan wat die inhoud van die mens rea is wat ingevolge art 20 vereis word. Is die opset om te "koop" 'n vereiste, of is dit voldoende as die opset slegs is om die skyn van 'n koopooreenkoms te skep ondanks die koper se subjektiewe bedoeling tot die teendeel.

19

By die beantwoording van hierdie vraag is dit nodig, in die eerste plek, om te bepaal wat die aard van die verbode handeling is. Dit val dadelik op dat die verbodsbepalings van artikels 19 en 20 nie op 'n koopooreenkoms gemik is nie. Die artikels bevat nie 'n selfstandige naamwoord nie: daar word nie gesê dat die partye

tot 'n koopooreenkoms 'n misdaad begaan nie tensy

Instede daarvan bepaal art 19 dat niemand 'n ongeslypte diamant mag verkoop nie, en art 20 dat niemand 'n ongeslypte diamant mag koop nie. Elke artikel word dus beperk tot die optrede van slegs een van die partye, of anders gestel, tot slegs een kant van die transaksie. Die optrede van elke party word afsonderlik van dié van die ander party beoordeel. En hieruit blyk, myns insiens, reeds dat die verbodsbepalings in arts 19 en 20 nie afhanklik is van die sluiting van 'n geldige koopooreenkoms nie. Teneindete "koop" binne die betekenis van art 20 moet die

20

koper die bedoeling hê om te koop en hy moet verder sy instemming tot die essensialia van 'n koopkontrak gee. Dan het hy gekoop. Non constat dat 'n geldige ooreenkoms tot stand hoef te kom. Consensus mag op geen basis aanwesig wees nie of die verkoper se handelingsbevoegdheid mag ontbreek. Nogtans het die koper "gekoop" binne die betekenis van art 20. Vgl R v Goldflam 1904 TS 794 op 796 waar dit gegaan het oor die onwettige koop van ru-goud in stryd met art 142 van Wet 15 van 1898 (T) en beslis is dat daar 'n "koop" binne die betekenis van die betrokke artikel plaasgevind het. Sien verder R v Rubenstein and Others 1949 (1) SA 15 (A); S v Sellem 1992 (2) SA 795 (A) op 804 B-F; S v De Bruyn 1992 (2) SASV 574 (Nm) op 581 f-g en S v Aldridge and Another 1991 (1) SASV 611 (C) op 614 h-i.

Dat 'n "koop" ingevolge art 20 nie afhanklik is van die

21

totstandkoming van 'n geldige koopkontrak nie, is ook volkome in ooreenstemming met die erkenning by implikasie deur die Wetgewer van die gebruik van lokvinke in art 91 (1) van die Wet. Hierdie subartikel beoog dat inspekteurs van die Diamantraad en lede of verteenwoordigers van die polisie ooreenkomste vir die lewering of verkryging van ongeslypte diamante met ander persone mag aangaan, en dat sodanige ander persone as gevolg daarvan aan misdrywe ingevolge die Wet skuldig bevind mag word. Sien S v Tsochlas 1974 (1) SA 565 (A) op 573 H - 574 A oor die voorganger van die huidige art 91 (1).

Die kwessie van die koper se vereiste opset om te "koop" het in drie sake in die Transvaal waarvan die feite byna soortgelyk was, ter sprake gekom. In R v B 1952(3) SA 265 (W) is die beskuldigde daarvan aangekla dat hy art 113 van die Transvaalse Goudwet 35 van 1908, wat die ontvangs van ru-

22

goud van 'n nie-blanke persoon by wyse van koop, ruil, pand of skenking verbied, oortree het. Hy het die transaksie erken maar die verweer geopper dat hy die ru-goud van 'n lokvink gekoop het met die bedoeling om dit onmiddellik daarna aan die polisie te oorhandig. Die verhoorhof, Roper R en assessore, het die verduideliking aanvaar maar die beskuldigde skuldig bevind in die volgende woorde op 267 D-E :

"[T]here was a purchase in this case, and that being so, there was a contravention of the section of the Act, and the fact that the accused intended taking the gold to the police immediately afterwards does not affect the question whether he contravened the section or not."

In die volgende saak, R v Salmonson and Another 1960 (4) SA 748 (T), is die twee beskuldigdes ook aan 'n oortreding van art 113 van die Goudwet 35 van 1908 (T) in die landdroshof skuldig bevind. Hulle appèl is deur Dowling en Claassen RR

23

gehandhaaf, maar vir verskillende redes. Die beskuldigdes se verweer was soortgelyk aan dié wat in R v B, supra, geopper is naamlik dat hulle die ru-goud namens die polisie van die lokvinke gekoop het sodat die verkopers gearresteer kon word en hulle 'n beloning sou ontvang. Die hof het aanvaar dat die beskuldigdes geglo het dat hulle 'n mandaat van die polisie gehad het om ru-goud te koop ten einde misdadigers te vang. In beide die uitsprake van Dowling en Claassen RR is uitdruklik van die uitspraak in R v B, supra, afgewyk. Dowling R het bevind (op 749 A-B) dat nie bewys is dat die eerste appellant bedoel het om die ru-goud te koop nie en ex hypothesi het die polisie-lokvinke ook nie bedoel om dit te verkoop nie sodat geen koopooreenkoms aangegaan was nie. Die transaksie was wedersyds gesimuleer. Gevolglik het die kwessie van mens rea nie ter sprake gekom nie. Claassen R het aanvaar dat mens rea 'n element van die misdaad

24

was en het bevind dat die beskuldigdes nie die vereiste mens rea gehad het nie deurdat hulle nie die opset gehad het om te "koop" nie (op 752 H - 753 A).

In die laaste van die drie sake, S v Ohlenschlager 1992 (1) SASV 695 (T), het dit oor 'n oortreding van art 143(1) van die Wet op Mynregte 20 van 1967, die opvolger van art 113 van die Goudwet 35 van 1908 (T) gegaan. Art 143 (1) lees as volg :

"Behalwe vir sover hierdie Wet anders bepaal, mag
niemand, hetsy as prinsipaal of agent onbewerkte edelmetaal
koop, verkoop of in verband daarmee sake doen of dit
ontvang of by wyse van ruil, pand of andersins daaroor
beskik nie tensy "

Daar sal opgelet word dat, waar sy voorganger 'n koopooreenkoms belet het, art 143 (1) nou die "koop" van onbewerkte edelmetaal verbied het. Die beskuldigde se verweer

25

was wesenlik dieselfde as dié in die vorige twee sake naamlik dat hy die betrokke ru-goud gekoop het as 'n self-aangestelde lokvink met die opset om die hele transaksie aan die polisie te openbaar sodat die verkopers vervolg en hy 'n beloning kon ontvang. Die beskuldigde is in die streekhof skuldig bevind en sy appèl na die Transvaalse Provinsiale Afdeling het misluk. In sy uitspraak het Stegmann R eerstens bevind (op 711 g-i) dat die element van opset wat as wederregtelikheidsbewussyn bekend staan, nie 'n vereiste vir die misdaad van 'n oortreding van art 143 (1) is nie en dat die misdaad in daardie opsig een was van skuldlose of absolute aanspreeklikheid. Stegmann R het voortgegaan (op 712 b - 774 a) om te bepaal of 'n lokvink se optrede wederregtelik is en, op die veronderstelling dat mens rea wel 'n element van die misdaad mag wees, of 'n lokvink met die vereiste mens rea handel. In die loop van hierdie ondersoek het die geleerde

26

Regter, met verwysing na die Salmonson-saak, gesê (op 741 h-i en 742 d-e) dat die tersaaklike verbod gemik was op die ontvangs van ru-goud by wyse van 'n koopkontrak. Soos ek egter reeds daarop gewys het, het art 143 (1) alleen 'n "koop" en nie 'n koopkontrak nie, verbied. Om te bepaal of daar 'n koopkontrak in stryd met die verbodsbepaling aangegaan is moet daar, volgens Stegmann R, na die gedrag van die partye, objektief geoordeel, gekykword. Indien daar 'n aanbod en aanvaarding was, het daar 'n koopkontrak soos deur die Wetgewer beoog tot stand gekom en was 'n verborge voorbehoud of bedoeling wat met die oënskynlike aard van die transaksie onbestaanbaar was irrelevant (op 742 e-j en 768 b-d). Die koper wat weet dat hy nie mag koop nie maar hom nogtans doelbewus gedra "asof hy die verbode transaksie aangaan" het die vereiste mens rea, en sy werklike, versweë bedoeling is irrelevant (op 743 f-g en 768 d-e).

27

As gesag vir sy stelling dat die werklike maar versweë opset van die koper irrelevant is, beroep Stegmann R hom op die objektiewe benadering wat in die kontraktereg gevolg word om in sekere gevalle die opgewekte vertroue te beskerm. Sien hieromtrent Christie, The Law of Contract in South Africa, 2de uitgawe op 23-28 en De Wet en Van Wyk, Kontraktereg en Handelsreg, 5de uitgawe, vol 1 op 19-24. Stegmann R het verder bevind dat, indien mens rea 'n vereiste was, bewys van culpa voldoende was vir aanspreeklikheid (op 776 c). Botha R, wat die ander uitspraak in die Ohlenschlager-saak gelewer het, het egter bevind (op 782 a) dat skuld in die vorm van opset wel vereis word vir 'n oortreding van art 143 (1) van Wet 26 van 1967.

Soos ek reeds hierbo probeer aantoon het, is die verbodsbepaling in art 20 van die Wet alleen gemik teen die optrede

28

van die koper, welke optrede afsonderlik beoordeel moet word en nie afhanklik is van die totstandkoming van 'n geldige koopooreenkoms nie. Daar bestaan dus geen rede om, soos in die kontraktereg, 'n opgewekte vertroue te beskerm nie en die objektiewe benadering van die kontraktereg is nie hier van pas nie. Indien Stegmann R se benadering juis is, sou dit beteken dat art 20 gelees moet word om te lui: "Niemand mag optree asof hy 'n

ongeslypte diamant koop nie tensy ". En dit is nie wat art

20 sê nie. Ek is gevolglik van mening dat dit 'n vereiste vir 'n oortreding van art 20 is dat die koper die subjektiewe opset moet hê om te "koop" binne die betekenis van die artikel. Indien dit ontbreek, oortree hy nie die verbodsbepaling nie. Ohlenschlager se saak, supra is gevolglik in hierdie opsig nie korrek beslis nie. Die obiter dictum van De Vos Hugo R in Adonis v Die Staat 1964 (2) PH, H 166 400 op 401 is vir dieselfde rede nie korrek

29

nie. Daar is nie in die huidige saak namens die staat gesteun op enige van die ander handelinge wat in die woordomskrywing van "koop" genoem word nie. Die appellant is gevolglik verkeerdelik skuldig bevind aan 'n oortreding van art 20 van die Wet.

Wat betref die appèl teen die vonnis wat op die aanklag van diefstal opgelê is, is daar namens die appellant betoog dat die landdros versuim het om in die guns van die appellant in ag te neem dat die diamante in die onwettige besit van die klaer was. Na my mening verminder die onwettige besit nie die appellant se morele blaamwaardigheid nie. Dit kan aanvaar word dat die appellant bewus was van die omstandighede waaronder die klaer in besit van die diamante gekom het. Hy het juis die omstandighede uitgebuit om 'n fyn beplande diefstal te pleeg.

Daar is voorts namens die appellant betoog dat 'n vonnis van

30

korrektiewe toesig opgelê moes gewees het. Dit is duidelik uit die uitspraak by vonnisoplegging dat die landdros wel oorweging geskenk het aan 'n vonnis van korrektiewe toesig maar dat hy, in die lig van al die omstandighede, daarteen besluit het. Daar is nie betoog dat die landdros enige wanvoorligting begaan het nie en die vonnis is nie so swaar dat dit inmenging deur hierdie Hof regverdig nie.

Gevolglik slaag die appèl teen die skuldigbevinding op aanklag 1. Die skuldigbevinding en vonnis op hierdie aanklag word tersyde gestel. Die appèl teen die skuldigbevinding en vonnis op aanklag 2 word afgewys.

W VIVIER AR.

E M GROSSKOPF AR)

F H GROSSKOPF AR)

SCHUTZ AR)

PLEWMAN Wnd AR) Stem saam.

▲ To the top