Prinsloo NO v Schoeman (672/1994) [1996] ZASCA 83 (29 August 1996)


Saaknommer: 672/94 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

Insake

Anna Maria Prinsloo NO APPELLANT

teen

Jan Andries Nicolaas Schoeman RESPONDENT

HOF: Van Heerden, Eksteen, Olivier, Schutz en Scott ARR

Verhoordatum: 20 Augustus 1996 Redes ingehandig: 29 Augustus 1996

REDES VIR UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:

2

Die appellante se eggenoot het gesterf toe 'n voertuig deur hom bestuur kort na míddemag op 28 Junie 1990 met 'n bees, behorende aan die respondent, gebots het. Die botsing het plaasgevind op die Middelburg-Bethalpad ("die pad") waaraan 'n kamp van ene Gerrits se plaas (Sterkwater) grens. Hierdie kamp ("kamp 1") grens op sy beurt aan 'n kamp ("kamp 2") van die respondent se plaas, Bankfontein. Later het die appellante, in haar hoedanigheid as voogdesse van haar en die oorledene se twee minderjarige kinders, in die Transvaalse Provinsiale Afdeling 'n aksie vir verlies aan onderhoud teen die respondent ingestel. In die besonderhede van haar vordering het sy op twee altematiewe eisoorsake gesteun; naamlik (hoewel nie in hierdie volgorde nie) dat die bees as gevolg van die respondent se nalatigheid op die pad beland het, en dat die respondent as eienaar van die bees in elk geval pauperiese aanspreeklikheid opgeloop het.

Tydens die voorverhoorkonferensie is 'n aantal ooreengekome feite genotuleer. Hier hoef ek slegs die volgonde te vermeld:

  1. Die betrokke bees was een van 'n kudde van die respondent wat in kamp 2 gewei het.

  2. Die kudde het ongeveer 1 000-1 200 meter vanaf die pad deur die grensheining tussen die twee kampe gebreek.

  3. Die kudde het daama vanuit kamp 1 tot in die pad beweeg.

  4. Die botsing het plaasgevind ongeveer 800 meter vanaf die hek (in die heining tussen kamp 1 en die pad) "waar die beeste in die pad beland het."

3

Voor ons het die appellante se advokaat tereg nie op die eerste skuldoorsaak gesteun nie. Die enigste getuienis wat op nalatigheid aan die kant van die respondent kon dui, was dié van sy voormalige veewagter ("John"). Dit ly egter geen twyfel nie dat John homself weerspreek het en ook in stryd met 'n verklaring van hom getuig het. Die verhoorregter het dan ook bevind dat hy as getuie 'n baie swak indruk gemaak het. Die slotsom - ook bereik aan die hand van die waarskynlikhede - was dat hy in geen opsig enigsins geloofwaardig was nie.

Alvorens ek die kwessie van pauperiese aanspreeklikheid behandel, moet ek nog enkele aspekte vermeld. Tydens die verhoor is die besonderhede van die appellante se vordering by ooreenkoms gewysig. Oorspronklik is beweer dat, nadat beeste van die respondent die heining tussen die kampe gebreek het, ten minste een van sy beeste deur 'n oop hek in die heining tussen kamp 1 en die pad, altematiewelik deur daardie heining wat stukkend was, tot op die pad beweeg het, en dat die oorledene met voormelde bees gebots het. Die genoemde wysigings het behels dat ten minste een van die respondent se beeste deur 'n toe hek in die heining tussen kamp 1 en die pad gebreek het, en dat die oorledene gebots het "teen een van die beeste wat as gevolg van die optrede van die bees wat aldus deurgebreek het, op die pad beland het."

Ek kom dan by die appellante se betoog in hierdie hof. Dit kan soos volg saamgevat word:

  1. Dit is gemene saak dat 'n bees of beeste van die respondent fisies deur die heining tussen die twee kampe gebreek het, en dat die res van die kudde toe agtema is.

  2. Die getuienis toon aan dat een of meer van daardie beeste ook fisies

4

deur die hek tussen kamp 1 en die pad gebreek het, waama ander

beeste weer agtema is.

  1. Die bees of beeste wat deurgebreek het, het op elke geleentheid contra naturam sni generis opgetree.

  2. Die botsing met die bees op die pad is kousaal te herlei na die deurbreek deur die heinings.

Wat (2) betref, is daar egter geen aanvaarbare getuienis nie dat die hek toe was onmiddellik voordat die eerste van die respondent se beeste daardeur beweeg het. 'n Voorman van Gerrits het weliswaar getuig dat op die laaste geleentheid waarop hy by die hek was, dit wel toe was, maar dit blyk dat dit 'n week voor die ongeluk kon gewees het. Voorts blyk dit dat die hek net met 'n stuk bloudraad vasgemaak is, en 'n mens weet dus nie of die hek nie sou loskom indien 'n bees bloot daarteen sou skuur nie. (Gerrits het nie destyds beeste in kamp 1 aangehou nie.) Dit is gevolglik nie bewys dat 'n bees of beeste van die respondent fisies deur die hek gebreek het nie.

Die kardinale vraag is dus of die bees of beeste wat deur die heining tussen die twee kampe gebreek het teen die aard van sy of hul soort gehandel het. Indien die antwoord nee is, is dit vanselfsprekend onnodig om in te gaan op die kousaliteitskwessie en die vraag of die appellante se vordering aan moontlike ander vereistes van pauperiese aanspreeklikheid voldoen.

Daar is geen getuienis nie oor wat die betrokke nag gebeur het net voordat die heining tussen die twee kampe as't ware platgeloop is. Geen

5

ooggetuie was op die toneel nie. 'n Mens weet dus net nie of byvoorbeeld 'n eksteme faktor die gedrag van die bees of beeste tot gevolg gehad het nie. Miskien het van die beeste vir iets - soos die tjank van 'n jakkals-geskrik en op loop gegaan. Miskien het voomemende diewe die kudde in die rigting van die heining gejaag waama een of meer van hulle die heining stukkend geloop het. (Volgens die respondent was daar al heelwat beesdiefstalle in die kontrei). Of miskien het van die beeste teen die heining geskuur as gevolg waarvan drade gebreek het. Ook ander moontlikhede is nie vergesog nie.

Die appellant se advokaat het hom egter beroep op sake soos South African Railways and Harbours v Edwards 1930 AD 3, 12 en Da Silva v Coetzee 1970 (3) SA 603 (T) 604 A, ter fundering van 'n betoog dat die respondent moes bewys het dat die bees of beeste wat deur die heining gebreek het nie teen die aard van sy of hul soort opgetree het nie. Die beroep mis egter duidelik die kol. As 'n hond iemand byt of 'n muil iemand skop sonder blykbare oorsaak, kan prima facie aanvaar word dat die dier contra naturam sui generis gehandel het. (Dan rus daar 'n weerleggingslas op die eienaar.) Dieselfde kan egter nie gesê word nie as 'n bees of beeste om 'n onbekende rede en op 'n onbekende wyse deur 'n heining breek; die res van die kudde agtema kom, en een van die beeste ongeveer twee kilometer verder op 'n pad voor 'n motor beland. In so 'n geval getuig die gedrag wat die botsing onmiddellik voorafgegaan het immers nie van die soort gedrag wat pauperiese aanspreeklikheid fundeer nie.

Samevattend is die posisie dat die moontlikheid dat die betrokke bees of beeste contra naturam sui generis gehandel het toe deur die heining gebreek is, nie tot 'n waarskynlikheid verhef kan word nie. Gevolglik het

6

die appellante haar nie gekwyt van die las om aan te toon dat die bees of beeste wel aldus opgetree het nie (vgl. Smith v De Smidt 1937 TPD 13, 12).

Om bogenoemde redes is die appèl by die verhoor daarvan met koste

afgewys.

VAN HEERDEN AR

Stem saam: Eksteen AR Olivier AR Schutz AR Scott AR

▲ To the top