S v Posthumus NO en 'n Ander (37/1996) [1996] ZASCA 90 (12 September 1996)


Saak No 37/96

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

WILLEM JOACHIM MARTHINUS POSTHUMUS N.O. Eerste Appellant (in sy hoedanigheid as verteenwoordiger van J M G Motors (Edms) Beperk)

WILLEM JOACHIM MARTHINUS POSTHUMUS Tweede Appellant (in sy persoonlike hoedanigheid)

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, F H GROSSKOPF, ARR et PLEWMAN Wn AR

DATUM VAN VERHOOR: 26 Augustus 1996

DATUM GELEWER: 12 September 1996

UITSPRAAK

E M GROSSKOPF, AR

Die twee appellante in hierdie saak is Mnr W J M Posthumus as verteenwoordiger van ' n maatskappy wat ' n garage-besigheid bedryf en Mnr Posthumus in sy persoonlike hoedanigheid. Aangesien die maatskappy middellik aanspreeklik gehou word vir Mnr Posthumus se dade sal ek na Mnr Posthumus persoonlik verwys as die appellant in die enkelvoud.

Die twee appellante is in die streekhof aangekla van

bedrog deurdat die appellant aan die klaagster

"wederregtelik, valslik en met opset om te bedrieg, voorgegee het ... dat ['n Mazda bakkie] sy eiendom was en dat hy by magte was om dit te verkoop ."

Daarbenewens is beweer dat die klaagster benadeel was deurdat

sy deur die voorwendsel beweeg was om

"afstand van haar motorvoertuig te doen as synde dit aan te wend as deposito op die voormelde Mazda voertuig en die voormelde voertuig . . . van beskuldigde aan te koop."

Na bewering was die appellant se verklaring vals deurdat hy

"wel geweet het dat die voormelde Mazda voertuig nog aan die voorwaarde van 'n bestaande afbetalingsooreenkoms by Stannic onderworpe was en gevolglik nog die eiendom van Stannic was en derhalwe was hy nie by magte om dit te

3

verkoop nie."

Albei appellante is in die Streekhof skuldig bevind en gevonnis. 'n Appèl na die Noord-Kaapse afdeling het misluk. Met verlof verleen ingevolge 'n petisie aan die hoofregter kom die appellante nou in hoër beroep teen hul skuldigbevindinge en vonnisse.

Vir die doeleindes van hierdie appèl sal ek die feite aanvaar wat óf gemene saak is, óf die weergawe van die Staat weerspieël. Die geskiedenis van hierdie saak is dan soos volg.

In Oktober 1989 het ene Mev Taljaard die betrokke Mazda bakkie van Stannic gehuur teen 'n maandelikse huurgeld van R1119 en enkele sente. Die Taljaards het dit moeilik gevind om die huurgelde te betaal en het in 1990 die appellant genader om die voertuig oor te neem. Die appellant het Stannic gebel en blykbaar 'n reëling getref wat, soos sal blyk, later per brief bevestig is. Op 4 Mei 1990 lewer Mnr Taljaard die Mazda aan die appellant. Die volgende dag skryf

4 die appellant onder meer soos volg aan die bestuurder van

Stannic op Klerksdorp:

"OOREENKOMS NR. 20/346/131/0001 - MEV. E. TALJAARD

Ons telefoon gesprek van 2 Mei 1990 verwys.

Ons bevestig dat ons die 3 agterstallige paaiemente oorgeplaas het via Standard Bank, Kathu nadat Mnr. Taljaard die voertuig op 4 Mei 1990 aan ons gelewer het.

Verdere betalings sal stiptelik op die einde van elke maand deur ons vereffen word. Tans is die voertuig deel van ons handelsvoorraad en as sulks behoorlik verseker.

Sodra ons die voertuig verkoop, sal die uitstaande saldo sondermeer vereffen word, maar intussen sal die voertuig op Mev. Taljaard se naam gelaat word om u belange te

beskerm."

Teen die einde van Mei of vroeg in Junie 1990 besoek die

klaagster die appellant se besigheid. Sy getuig as volg oor

wat toe gebeur het:

"I ... saw the 'bakkie' on his floor and asked him if the 'bakkie' ... was for sale. He then said to me yes, the 'bakkie' was for sale and that it was going very cheap. I then looked at the 'bakkie' . He said to me that he had bought the 'bakkie' from somebody who could no longer afford it."

Na verdere oorweging het die klaagster besluit om die

5 bakkie te koop. Die koopprys was iets oor die R41 000. Haar

eie motor was ingeruil teen 'n waarde van R15 000. Die

klaagster sou die balans betaal teen dieselfde koers as dié

wat Mev Taljaard betaal het. Die ooreenkoms is beliggaam in

'n faktuur gedateer 11 Junie 1990. Daar is ook duidelik

tussen die partye ooreengekom dat die Mazda teruggeëis kon

word as paaiemente nie gereeld betaal was nie. Op aandrang

van die appellant het die klaagster 'n skuldbewys aangegaan

waarkragtens sy aanspreeklikheid erken het vir die balans van

die koopprys, betaalbaar in die gemelde paaiemente.

Dit is die gesprek tussen die klaagster en die appellant

wat hierbo aangehaal is, wat die grondslag van die beweerde

bedrog vorm. Ek vind dit moeilik om in te sien dat die

appellant enigsins bedrieglik opgetree het. Die appellant het

die Mazda in sy besit gehad. Die belanghebbende partye, synde

Stannic en die Taljaards, het ingestem dat hy dit verkoop. Hy

het dit van die Taljaards gekry omdat hulle dit nie langer

kon bekostig nie. Hy het die agterstallige paaiements betaal,

6

Die Mazda in sy versekering laat insluit, en teenoor Stannic onderneem om verdere paaiemente te betaal totdat hy die totale afkoopprys kon delg. Al stelling wat hy teenoor die klaagster gemaak het wat moontlik aangeveg kan word, is dat hy die voertuig "gekoop" het. Inderdaad was die reëling tussen Stannic, Taljaard en die appellant waarskynlik nie 'n koopkontrak nie, maar dit is haarklowery. Die appellant het besit van die voertuig gekry teen 'n onderneming om geld aan Stannic te betaal, en dit kan nie saak maak dat dit moontlik tegnies nie 'n koopkontrak was nie. Wat egter vas staan is dat die appellant nie op daardie stadium aan die klaagster voorgegee het, soos in die klagstaat beweer, dat hy die eienaar van die voertuig was nie. En daar is geen getuienis hoegenaamd dat hy "nie by magte was om die voertuig te verkoop nie" - trouens, die getuienis toon die teendeel.

Ook was daar geen potensiële nadeel vir die klaagster in die transaksie nie. Deur toe te stem tot die verkoping van die Mazda het Stannic klaarblyklik homself ontdoen van die

7 bevoegdheid om die voertuig terug te eis van 'n koper te

goeder trou. Ten spyte van al die moeilikheid wat later

ontstaan het, het Stannic ook nooit aanspraak gemaak op

teruglewering van die Mazda nie. As die klaagster aangehou

het om haar paaiemente gereeld te betaal sou sy 'n

onaanvegbare reg tot besit van die voertuig behou het.

Dit is nie nodig om in besonderheid in te gaan op latere

gebeure nie aangesien die bedrog na bewering gepleeg is

gedurende die onderhandelinge wat die koop van die Mazda deur

die klaagster voorafgegaan het. Kortliks wat later gebeur het

is dat die klaagster uitgevind het dat die Mazda nog tegnies

die eiendom van Stannic was. Sy het dit by die appellant

geopper, en hy het 'n hooghartige houding teenoor haar

ingeneem. Mettertyd het sy opgehou om paaiemente te betaal.

Die appellant het in 'n twis met Stannic beland oor hoeveel

hy moes betaal om Mev Taljaard se huurkontrak te laat

kanselleer, en het ook opgehou om paaiemente te betaal.

Uiteindelik is die Mazda gesteel. Op die ou end het die

8

klaagster dus inderdaad 'n verlies gely, maar dit was nie as

gevolg van enige bedrog aan die kant van die appellant nie. Weens die voorgaande slaag die appèl. Die skuldigbevindinge en vonnisse van albei appellante word tersyde gestel.

E M GROSSKOPF, AR

F H GROSSKOPF, AR PLEWMAN, AR Stem saam

▲ To the top