S v Sinama (562/1996) [1997] ZASCA 103 (21 November 1997)


REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA

DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA

Saaknommer : 562/96 In die saak tussen :

VUSI GEORGE SINAMA Appellant

en
DIE STAAT Respondent

CORAM : F H Grosskopf, Howie et Plewman

ARR

VERHOORDATUM : 3 November 1997

REDES INGEHANDIG : 21 November 1997

REDES VIR BEVEL GEMAAK OP 3 NOVEMBER 1997

2 F H GROSSKOPFAR:

Voordat die appèl teen vonnis in hierde saak aangehoor kon word moes daar eers kondonasie aan die appellant toegestaan word. Met die oog op die verlening van kondonasie het die appellant se advokaat betoog dat daar 'n redelike vooruitsig op sukses op appèl is. Na aanhoor van argument op 3 November 1997 het hierdie hof egter kondonasie geweier op grond daarvan dat daar nie 'n redelike vooruitsig op appèl is nie. Die hof het toe onderneem om skriftelike redes vir die bevel te liasseer. Hier volg daardie redes, asook sekere opmerkings met betrekking tot die verlening van verlof om te appelleer in hierdie saak.

Die appellant was beskuldigde 2 in die verhoorhof. Hy en beskuldigde 1 is beide skuldig bevind aan moord en diefstal deur Spoelstra R en twee assessore in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling. Beskuldigde 1 is ook skuldig bevind aan die onwettige

3

besit van twee vuurwapens en sekere ammunisie. Die appellant is tot 15 jaar gevangenisstraf vir die moord en tot 3 jaar gevangenisstraf vir die diefstal gevonnis. Beskuldigde 1 is tot respektiewelik 25 jaar en 3 jaar gevangenisstraf vir die moord en die diefstal gevonnis. Die hof a quo het nie gelas dat die vonnisse samelopend nitgedien word nie, met die gevolg dat die effektiewe gevangenisstraf in die appellant se geval 18 jaar beloop.

Die appellant appelleer met verlof van die hof a quo, maar slegs teen die vonnis wat hom opgelê is.

Enkele opmerkings met betrekking tot die verlof om te appelleer is nodig. Die aansoek om verlof om te appelleer het nie aan die vereistes van art 316(1) voldoen nie. Die aansoek was nie binne 14 dae vanaf die oplegging van vonnis op 31 Oktober 1994 by die hof a quo gedoen nie en daar was ook geen aansoek om kondonasie ingevolge art 316(1) nie. Dit word egter aanvaar dat die hof a quo deur verlof tot appèl te verleen, by implikasie ook die

4

gebrekkige en laat aansoek om verlof om te appelleer gekondoneer

het, en dat verlof om te appelleer behoorlik toegestaan is.

Die hof a quo het nie ingevolge art 315(2)(a) gelas dat die

appêl deur die volle hof verhoor moes word nie. Dit is slegs as die

hof volgens art 315(2)(a) "oortuig is dat die regs- en feitevrae en

die ander oorwegings wat by die appél betrokke is van so 'n aard is

dat die appèl nie die aandag van die Appèlafdeling verg nie" dat die

hof sal gelas dat die appèl deur 'n volle hof verhoor moet word. Na

my oordeel was hierdie egter by uitstek 'n geval waar die hof a quo

wel so oortuig moes gewees het. Daar was geen regs-, feite- of

ander beginselvrae ter sprake wat die aandag van hierdie hof geverg

het nie. Hierdie hof het reeds voorheen in S v Myaka 1993(2)

SASV 660(A) op 662 b daarop gewys dat

"[i]n order to avoid unnecessary clogging of the roll of this Court with matters which do not require its attention, it is important that trial Judges should not overlook the provisions of s 315(2)(a)."

5

Die gevolg van die verlof om te appelleer was dat 'n eenvoudige appl teen vonnis waar selfs die feite nie in geskil was nie, outomaties deur hierdie hof aangehoor moes word aangesien dit nie spesifiek gelas is dat die appèl deur die volle hof verhoor moes word nie. Dit gebeur ongelukkig meermale dat dergelike appèlle op dieselfde wyse by hierdie hof beland. Om hierdie onbevredigende toedrag van sake te probeer vermy kan die wetgewer dit oorweeg om die bewoording van art 315(2)(a) van die Strafproseswet te wysig om dit in ooreenstemming te bring met die bepalings wat geld by siviele sake, soos uiteengesit in art 20(2)(a) van die Wet op die Hooggeregshof 59 van 1959.

Die advokaat wat tydens die verhoor pro Deo namens die appellant opgetree het, het intussen die balie verlaat en daar is toe op versoek van die griffier van die hof a a quo 'n nuwe pro Deo advokaat aangestel wat op 15 April 1996 'n behoorlike kennisgewing van appèl geliasseer het waarvolgens hierdie hof vir die eerste maal

6

van die gronde van appèl in kennis gestel is. Tesame met daardie kennisgewing van appèl was daar 'n aansoek om kondonasie vir die "laat aantekening" van die appél teen vonnis ingevolge art 316(1). Myns insiens was dit egter nie die laat aantekening van appèl nie, maar die appellant se versuim om die gronde van appèl betyds uiteen te sit en te laat liasseer waarvoor kondonasie gevra moes word.

Art 316(5)(a) het sekere verpligtinge op die griffier van die hof a quo geplaas, o a om sonder versuim kennis van die appèl te laat gee en om 'n opgaaf van die gronde van appèl aan die griffier van hierdie hof te laat deurstuur. Die uiteensetting van die gronde van appèl was egter die appelllant en nie die griffier se plig nie. Ingevolge art 316(2) moes die appellant die gronde van appèl trouens reeds in die oorspronklike aansoek om verlof om te appelleer duidelik

en uitdruklik uiteengesit het. Hy het egter versuim om dit te doen.

Die liassering van die gronde van appél was laat en die appellant

7

moes myns insiens dus aansoek om kondonasie doen. Dit is in die appellant se guns aanvaar dat hy inderdaad vir hierdie versuim kondonasie gevra het. Sy aansoek om kondonasie is egter deur ons geweier omdat daar na ons mening vir die volgende redes nie 'n redelike vooruitsig op sukses op appél is nie.

Die oorledene was 'n konstabel in die S A Polisiediens. Gedurende die namiddag van 22 Januarie 1993 was hy in Soweto aan diens waar hy beskuldigde 1 vir die onwettige besit van 'n vuurwapen wou arresteer. Beskuldigde 1 het geweet dat die oorledene 'n polisiebeampte was, maar hy het hom teëgesit toe die oorledene hom probeer boei het. Die oorledene het 'n handvuurwapen by beskuldigde 1 afgeneem en in sy motor gegooi. Daama het die oorledene ook sy eie dienspistool in die motor geplaas.

Dit is gemene saak dat die appellant en beskuldigde 1 bevriend was en dat die appellant die betrokke namiddag op die moordtoneel teenwoordig was. Die appellant het verskeie weergawes gehad van

8

die onskuldige rol wat hy na bewering sou gespeel het. Die hof a quo het egter bevind dat die appellant se "poging om hom in sy getuienis te verontskuldig pateties, onoortuigend, inherent onwaarskynlik en klaarblyklik vals" was. Die appellant se advokaat het nie hierdie bevinding bevraagteken nie.

Die twee ooggetuies wat namens die staat getuig het, het mekaar in alle wesentlike opsigte gestaaf en hulle getuienis is deur die hof a quo as geloofwaardig en betroubaar aanvaar. Ook hierdie bevinding is nie deur die appellant betwis nie. Die getuienis van die twee ooggetuies toon aan dat die appellant die oorledene van agter af met 'n leë bierbottel oor die kop geslaan het terwyl die oorledene gespook het om beskuldigde 1 te boei en in sy motor in te kry. Die oorledene het op die grond geval. Die appellant het die vnurwapen wat beskuldigde 1 vroeër in sy besit gehad het uit die motor gehaal en na beskuldigde 1 gegooi met die opmerkirig "skiet die hond". Die appellant het die oorledene aan sy skouer vasgehou en hom teen

9

die grond vasgedruk terwyl beskuldigde 1 op die oorledene losgebrand het. Minstens tien skote het die oorledene op verskeie plekke in sy liggaam getref. Volgens die getuienis van die patoloog wat die lykskouing uitgevoer het, is die oorledene dood as gevolg van "multiple gunshot wounds". Een van die skote het die appellant in sy hand getref en hy moes later hospitaalbehandeling vir die wond ondergaan.

Nadat die oorledene dodelik verwond is het die appellant die oorledene se dienspistool uit sy motor gesteel en toe saam met beskuldigde 1 van die toneel af weggestap.

Beskuldigde 1 het geweet dat die oorledene 'n polisiebeampte was en die waarskynlikhede is oorweldigend dat die appellant dit ook geweet het. Die appellant se advokaat het dit trouens toegegee. Na my oordeel was dit 'n sinnelose moord van 'n polisieman wat besig was om sy plig uit te voer. Die oorledene was aangeval om te verhoed dat hy die appellant se vriend, beskuldigde 1, arresteer.

10

Onder daardie omstandighede was daar geen rede om die oorledene te dood nadat hy eenmaal deur die hou oor die kop platgeslaan en buite aksie gestel was nie. Die gemeenskapsbelang verg dat daar streng opgetree word teen diegene wat polisiebeamptes aanval en vermoor terwyl hulle in die uitoefening van hulle plig optree.

Na my oordeel was dit ook 'n brutale en koelbloedige moord. Daar kan geen twyfel wees dat bekuldigde 1 die direkte opset gehad het om die oorledene te dood nie, en die appellant het hom deur sy optrede en uitlating duidelik daarmee vereenselwig. Die omstandighede waaronder en die wyse waarop die oorledene vermoor is, is myns insiens erg verswarend. Die enigste versagtende aspek is dat die moord nie vooraf beplan was nie.

Die appellant was ongeveer 31 jaar oud en beslis geen jeugdige meer toe die moord gepleeg is nie. Hy het 'n lang lys vorige veroordelings vir misdade wat meestal met geweld gepaard gegaan het. Die feit dat meeste van hierdie vorige misdade redelik lank

11

voor die moord gepleeg is, is wel deur die hof a quo in die appeïlant se guns in ag geneem. Aan die ander kant moet daar egter in gedagte gehou word dat die appellant verskeie jare voor die pleging van die huidige misdade in die tronk deurgebring het en dat die ontbreking van vorige veroordelings gedurende hierdie tydperk nie noodwendig op rehabilitasie dui nie.

Dit is waar dat bekuldigde 1 die leidende rol in die aanval op die oorledene gespeel het. Die hof a quo het trouens bevind dat die appellant sterk onder sy invloed was. Maar daarom is beskuldigde 1 ook 'n veel swaarder straf as die appellant vir die moord opgelê. Dit is namens die appellant betoog dat die hof a quo nie voldoende ag geslaan het nie op die feit dat die appellant as gevolg van 'n vroeëre breinbesering na bewering aan epilepsie ly. Die hof a quo het wel "as versagting in sy geval bevind dat daardie breinbesering op die betrokke dag tot 'n mate bygedra het tot sy optrede en gedrag". Na my mening moet die appellant se bewering

12

dat hy aan epilepsie ly in die lig van al die feite beoordeel word. Voor die aanvang van die verhoor, en gedurende omstreeks Maart 1994, is die appellant ingevolge die bepalings van die Strafproseswet vir ondersoek, observasie en verslag na die Sterkfontien Hospitaal verwys. Die eenparige bevinding van die drie psigiaters wat hom ondersoek het, was dat hy nie ten tye van die pleging van die misdaad of tydens die ondersoek aan enige geestessiekte of -ongesteldheid gely het nie, dat hy sy verdediging na behore kon voer, en dat hy oor die vermoë beskik het om die ongeoorloofdheid van sy handelinge te besef en om ooreenkomstig daardie besef op te tree. Al word dit aanvaar dat epilepsie nie 'n geestesongesteldheid is nie, is dit tog vreemd dat daar geen aanduiding in die psigiaters se verslag is dat die appellant wel aan epilepsie ly nie. Dit moet aanvaar word dat hy dit nooit vir hulle gesê het nie. Verder was daar nie eens 'n suggestie dat die appellant kort voor, gedurende of kort na die pleging van die misdaad enige soort aanval gehad het nie.

13

Dit is verder in hierdie verband namens die appellant betoog dat die hof a quo nie behoorlik aandag daaraan gegee het nie dat langtermyn gevangenisstraf waarskynlik vir die appellant, wat aan epilepsie ly, ernstig sal affekteer. Daar is geen getuienis om hierdie argument te onderskraag nie. Die waarskynlikhede is eerder dat 'n persoon wat aan epilepsie ly gereelde medikasie vir sy toestand in die gevangenis sal ontvang. Korttermyn gevangenisstraf kan in ieder geval nie in hierdie geval oorweeg word nie.

Die appellant se advokaat het myns insiens tereg toegegee dat daar geen mistasting aan die kant van die hof a quo was nie. Die betoog was eintlik dat die vonnis in die lig van al die omstandighede skokkend onvanpas was. Myns insiens is die vonnis egter geensins besonder swaar nie.

ïn die lig van die voorgaande het ons bevind dat daar geen

14

redelike vooruitsig op appèl teen die vonnis is nie, en is die aansoek om kondonasie gevolglik geweier.

F H GROSSKOPF

Appèlregter

HOWIE AR)

PLEWMAN AR) stem saam

▲ To the top