Venter v Bophuthatswana Transport Holdings (Edms) Bpk (432/1995) [1997] ZASCA 16 (18 Maart 1997)


RAPPORTEERBAAR

evdw/ Saaknommer: 432/95

IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN SUID-AFRIKA

In die appèl van :

Gert Stenhanus Venter Appellant

en

Bophuthatswana Transport

Holdings (Edms) Bpk Respondent

Hof : Hefer, F H Grosskopf, Nienaber, Olivier en Zulman ARR

Verhoordatum : 3 Maart 1997 Uitspraak gelewer : 18 Maart 1997

UITSPRAAK

2

OLIVIER AR:

Op 8 Junie 1988 om ongeveer 19h30 het daar in die kruising

van Carrington- en Hatchadstrate, Mafikeng, 'n botsing tussen 'n bus, die eiendom van die respondent, en 'n vragmotor, die eiendom van die appellant, plaasgevind. Beide voertuie het aansienlike skade opgedoen.

Die respondent het as eiser in die destydse Hooggeregshof van Bophuthatswana aksie teen die appellant vir die verhaal van die beweerde skade aan sy bus ten bedrae van R58 400-00 ingestel. Na 'n verhoor het die verhoorregter, Smith R, vonnis teen die appellant vir die gemelde bedrag en gedingskoste verleen. Die huidige appêl dien voor ons met verlof van hierdie hof. GerieGikheidshalwe word na die partye as eiser en verweerder verwys.

Tydens die verhoor was dit nie deur die verweerder betwis

3 dat hy die eienaar van die betrokke vragmotor was nie en dat die

eiser se bus in die botsing beskadig is nie. Op appél het die

verweerder twee belangrike bevindinge van die verhoorhof, nl. dat

die bestuurder van die verweerder se vragmotor sy werknemer was

en dat die botsing uitsluitlik deur gemelde werknemer se nalatigheid

veroorsaak is, nie aangeveg nie. Gevolglik is slegs twee geskilpunte

aan hierdie hof vir beregting voorgelê :

  1. Of die gemelde werknemer van die verweerder ten tyde van die botsing bínne sy diensbestek opgetree het; en

  2. Of die eiser wel die omvang van sy skade bewys het. Beide hierdie vrae was deur die verhoorhof íen gunste van die

eiser beslis.

1. Het die bestuurder van die verweerder se vragmotor ten tvde van die botsing binne sv diensbestek opgetree?

4 Die relevante agtergrondsfeite is dat die verweerder 'n

voltydse betrekking as motorvérkoopsman in Maflkeng beklee het.

Daarbenewens het hy 'n vervoerbesigheid vanaf die hoewe waarop

hy net buite Mafikeng gewoon het, bedryf. Vir daardie doel het hy

twee vragmotors gebruik, een waarvan in die botsing tans ter sprake

betrokke was. Die vervoerbesigheid is bestuur deur 'n werknemer

van die verweerder, ene Coetzee. Die gewone vervoersake wat

bedryf was, was om sand vanaf Modimola na boukontrakteurs in

Mafikeng te vervoer. Elke voertuig was beman deur 'n bestuurder

en vier arbeiders, almal werknemers van die verweerder.

Volgens die getuienis van die verweerder het die vragmotors

gewoonlik om ongeveer 07h00 die hoewe verlaat en teen ongeveer

17h00 teruggekeer. Die arbeiders en bestuurders is dan deur

Coetzee met 'n voertuig naby hul wonings afgelaai. Snags was die

5 vragmotors op die hoewe. Volgens die verweerder was dit sy

opdrag aan Coetzee om nië die hoewe te verlaat voordat al die

vragmotors teruggekeer het nie.

Die verweerder se getuienis was voorts dat hy op die dag van

die botsing om ongeveer 17h30 vanaf sy werk by die hoewe

opgedaag het. Coetzee was nie meer daar nie. Hy het egter nie self

gaan kyk of die vragmotors terug is nie. Eers later die aand, nadat

hy berig van die botsing ontvang het, het hy vasgestel dat een van

die vragmotors nie op die hoewe was nie. Hy is toe na die

botsingstoneel. As gevolg van navrae is hy na die lykhuis waar hy

die lyk van een van sy werknemers, 'n werktuigkundige, aangetref

het. In die hospitaal het hy 'n ander werknemer van hom, ook 'n

werktuigkundige, wat erg beseer was, gesien. Laasgenoemde

werknemer was nie in staat om met die verweerder te praat nie en

6 is inderdaad kort daarna oorlede.

Die bestuurder van die verweerder se vragmotor wat in die botsing betrokke was, het hom onmiddellik na die voorval uit die voete gemaak.

Die volgende oggend het die verweerder volgens sy getuienis 'n gesprek met Coetzee gevoer - laasgenoemde moes immers aan die verweerder verslag doen oor die besigheid en het dit normaalweg feitlik elke dag gedoen. Volgens die verweerder sou Coetzee aan hom gesê het dat die betrokke vragmotor wel die vorige dag om 17h00 op die hoewe terug was. Die verweerder het derhalwe aangevoer dat die vragmotor op ongemagtigde wyse deur die vragmotorbestuurder en buite die omvang en bestek van sy dienspligte van die hoewe verwyder en gebruik is.

Coetzee is voor die verhoor oorlede en kon dus nie deur die

7 verweerder as getuie geroep word om te sê wat hy die vorige

middag gesien het of om die verweerder se getuienis oor Coetzee

se verslag aan hom te staaf en daaroor onder kruisverhoor geneem

te word nie.

Die eiser se advokaat het derhalwe beswaar gemaak teen die toelaatbaarheid van die verweerder se getuienis oor wal Coeízee aan hom sou gesê het op die basis dat dit ontoelaatbare hoorsê-getuienis daarstel. Die verhoorregter het die aangebode getuienis van die verweerder voorlopig toegelaat en in die uitspraak aan die einde van die verhoor is dit as ontoelaatbaar beskou omdat

(i) daar geen plig op Coetzee was om aantekeninge te maak dat die vragmotors voor 17h00 terug was nie;

(ii) Coetzee 'n rede gehad het om 'n leuen te vertel indien hy sy plig versuim het deur self die hoewe te verlaat

8

voordat die vragmotors teruggekeer het; (Sien Naik v

Pillay's Trustee 1923 AD 471 op 477; Vianini Ferro-Concrete Co (Pty)Ltd v Union Government 1941 TPD 142 op 146-147; The Henrv Coxon (1878) 3 PD 156; Re Djambi (Sumatra) Rubber Estates Ltd (1912) 107 Law Times Reports 631 op 634; Welani v Winter and Co 1940 EDL 159; Murrav v Opperman and Erasmus 1904 TS 965). Daarbenewens is beslis dat die verslag van Coetzee aan die verweerder weinig bewyswaarde sou inhou.

Daar is in hierdie hof geen rede aangevoer waarom hierdie bevindinge van die verhoorhof nie gehandhaaf moet word nie. In elk geval is die posisie dat die verhoorhof, myns insiens tereg, bevind het dat die verweerder juis oor ander aspekte van sy

9

middellike aanspreeklikheid ongeloofwaardig was. Sy getuienis oor

wat Coetzee aan hom sou gesê het, kan dus in elk geval buite rekening gelaat word.

Dit bring ons terug na die vraag of die eiser op 'n oorwig van waarskynlikhede bewys het dat die botsing veroorsaak is deur 'n handeling van die verweerder se vragmotorbestuurder handelende binne die omvang en bestek van sy dienspligte.

Die verweerder het aangevoer dat die betrokke vragmotors gebruik was om bousand vanaf Modimola, buite Mafikeng, na boukontrakteurs in Mafikeng te vervoer en dat, omdat bouers gewoonlik nie later as 17h00 werk nie, die vragmotors gewoonlik teen 17h00 finaal na die verweerder se hoewe teruggekeer het. Ook is elke vragmotor beman deur 'n bestuurder en vier werknemers (lg. klaarblyklik om die bousand op en af te laai). Die verweerder se

10

saak is dat die betrokke vragmotor toe die botsing plaasgevind het,

nie besig was met die op- of aflaai van sand nie en, bygevolg, dat

die bestuurder nie binne die omvang en bestek van sy dienspligte

opgetree het nie, omdat :

(i) die botsing op die ongewone tyd van 19h30, vêr buite werkstyd, plaasgevind het;

(ii) daar slegs twee arbeiders, benewens die bestuurder, op die vragmotor was. Hulle was egter werktuigkundiges wie se taak dit nie was om saam met die vragmotors uit te gaan, d.w.s. die hoewe te verlaat nie. Nie een van die vier werknemers wat met die op- en aflaai van sand belas was, was op die betrokke vragmotor toe dit gebots het nie,

(iii) die plek waar die botsing plaasgevind het, nie op die normale op- en aflaairoetes van die vragmotors in hul bestemde

11

dienspligte is nie, alhoewel die verweerder se vragmotors wel

op daardie roete kon beweeg het. Die eiser, daarenteen, het hom beroep op die verweerder se eienaarskap van die vragmotor; dat dit bestuur is deur laasgenoemde se werknemer; dat ander werknemers van die verweerder op die vragmotor tydens die botsing was en dat die verweerder toegegee het dat van sy vragmotors wel al voorheen na 17h00 na die hoewe teruggekeer het.

Die eiser het hom voorts beroep op die beginsel dat eienaarskap van 'n voertuig die afleiding regverdig dat die bestuurder van die voertuig op 'n spesifieke stadium in diens was van die eienaar daarvan en dat hy binne die omvang en bestek van sy dienspligte opgetree het. Hierdie beginsel is soos volg deur Smuts R in Voortrekker Apteek (Edms) Bpk v Serfontein 1979(3)

12 SA 906(0) op 912 in fin geformuleer :

"Dit kom my ook voor 'n praktiese en gesonde benadering te wees dat bewys dat 'n voertuig aan iemand behoort die afleiding regverdig dat die bestuurder daarvan die werknemer van die eienaar was wat opgetree het binne die bestek van sy opdrag en magtiging. Hierdie afleiding kan natuurlik weerlê word deur die eienaar, aangesien hy die persoon is wat kennis sal dra van al die relevante feite."

Die feit dat die genoemde beginsel slegs 'n afleiding is, moet

steeds voor oë gehou word. Die afleiding verander nie die bewyslas

nie. Waar 'n verhoor sy volle verloop geneem het, bly die

eindvraag steeds of die bewyslasdraer hom van die bewyslas gekwyt

het, alle relevante faktore in ag genome (Vulcan Rubber Works

(Pty) Ltd v S A Railways and Harbours 1958(3) SA 285(A) op 291

A - H; Mine Workers Union v Brodrick 1948(4) SA 959(A) op

974 - 976. Vergelyk ook vir die toepassing van gemelde afeiding

t.o.v. die vraag tans ter sprake, Diskin v Lester Braun & Associates

13 (Pty) Ltd, 1992(3) SA 978(T)op 981 F - 982 G).

Die verhoorhof het bevind dat die eiser hom wel van die

bewyslas tans ter sprake gekwyt het. Hierdie bevinding is deur die

verweerder gekritiseer, veral op die basis dat die botsing om 19h30

plaasgevind het, d.w.s. buite die normale werksure. Dié feit is egter

nie afdoende weerlegging nie, want daar is toegegee deur die

verweerder dat die vragmotors soms na 17h00 steeds besig was met

sandaflewerings. Daarbenewens is dit myns insiens insiggewend dat

daar tydens die botsing twee werktuigkundiges op die vragmotor

was. Die getuienis was dat die werktuigkundiges gewoonlik op die

hoewe aan die vragmotors werk. Dit is egter voor die hand liggend

dat as 'n vragmotor defektief raak op 'n plek buite die hoewe, die

werktuigkundiges daarheen sal gaan. Die feit dat daar twee

werktuigkundiges op die vragmotor was tydens die botsing en wel

14 om 19h30 skep 'n wesenlike moontlikheid dat die vragmotor aldus

defektief geraak het; dat die arbeiders belas met die op- en afaai

van sand na die hoewe geneem is, waarskynlik deur die ander

vragmotor, en dat die werktuigkundiges na die defektiewe

vragmotor geneem is, dit herstel het en saam met die bestuurder op

pad terug na die hoewe was toe die botsing plaasgevind het.

Hierdie hipotese verklaar waarom nie die arbeiders nie, maar wel

die werktuigkundiges na normale werksure op die vragmotor was.

Die ander hipotese, nl. dat die bestuurder die vragmotor geneem het

en, vergesel van die twee werktuigkundiges, op 'n ongemagtigde

uitstappie was, is myns insiens die meer onwaarskynlike van die

twee moontlike hipoteses. Die vragmotorbestuurder sou besef het

dat wanneer hy later die vragmotor na die hoewe terugneem, sy

vergryp aan die lig sou kom. Die resultaat is dat die verhoorhof se

15

bevinding dat verweerder middellik aanspreeklik is vir die

nalatigheid van die vragmotorbestuurder, gehandhaaf moet word. 2. Die oorblywende vraag is of die eiser sv skade bewvs het.

Die probleem is die volgende : na die botsing is die eiser se bus na 'n paneelklopper geneem en dié het 'n lys opgestel, item vir item, van die skade en 'n kwotasie, insgelyks itemsgewys, aan die hand gedoen. Mnr Schauer, 'n assessor, wat ook die beskadigde bus besigtig het, het daama saam met die paneelklopper deur die kwotasie gegaan en aanpassings gedoen. Die oorspronklike kwotasie is daarna na die versekeringsmaatskappy gestuur en Schauer het 'n kwalik leesbare afskrif vir homseif gehou. In die loop van die pleitstukke het eiser gesê dat hy 'n afskrif daarvan aanheg, maar dit is nooit gedoen nie en die verweerder het nie op 'n afskrif aangedring nie.

16 Die paneelklopper is nooit geroep om te getuig nie. Eiser se

advokaat het nie die afskrif van die kwotasie ingehandig as

bewysstuk nie. Schauer het getuig dat hy geen selfstandige

herinnering van die skade het nie, maar het bevestig dat hy wel die

skade saam met die paneelklopper nagegaan het. Hy het daarna 'n

verslag aan die versekeringsmaatskappy voltooi wat die redelike

herstelkoste op R58 400, as 'n globale bedrag, noem. By die

verhoor het eiser se advokaat nie die brondokument, die kwotasie,

aan Schauer voorgelê nie en dit is nie by die hof ingehandig nie.

Tydens kruisverhoor het die verweerder se advokaat egter die hof

meegedeel dat hy 'n afskrif van die kwotasie van eiser se advokaat

ontvang het, Die dokument is nooit in sy geheel aan Schauer

getoon nie, nóg is dit as bewysstuk ingehandig, blykbaar omdat die

verweerder se advokaat daarteen beswaar gemaak het op die basis

17 dat dit nie die oorspronklike stuk was nie. Die verweerder se

advokaat het drie items op die kwotasie met Schauer behandel, te

wete 'n bedrag van R3 044,56 vir die vervanging van 'n beskadigde

oliebak; ongeveer R3 000,00 vir verspilde olie en R5 620,00 vir 'n

gebreekte stuurratkas. Schauer het in al drie gevalle die skade en

die billikheid van die koste bevestig, waarna die verweerder se

advokaat die saak daargelaat het.

Namens die verweerder is enersyds aangevoer dat Schauer nie

redes vir sy mening aangevoer het nie en andersyds dat daar nie die

vereiste graad van bewys voor die verhoorhof was wat 'n toekenning

van skadevergoeding kon regverdig nie. Die redes vir sy mening

was klaarblyklik Schauer se oordeel en ervaring as deskundige,

waaroor hy wel getuig het. Dit laat slegs die vraag na die

genoegsaamheid van die bewysmateriaal wat betref die omvang van

18 die aangevoerde skade, die noodsaaklikheid van die beweerde

herstelwerk en die redelikheid van die gevorderde herstelkoste voor

die verhoorhof. Die vraag is of daar genoegsame materiaal was om

die hof in staat te stel om self 'n bevinding ten opsigte van die

gemelde drie elemente op die waarskynlikhede te kan maak

(Hersman v Shapiro and Co. 1926 TPD 367; Esso Standard SA

(Pty) Ltd v Katz 1981(1) SA 964(A) op 970 E ev).

Die grenslyn tussen voldoende en onvoldoende getuienis hang af van die feite van elke bepaalde geval. Dit is onmoontlik om hieroor dogmaties te wees. Uiteindelik moet die hof verseker dat geregtigheid teenoor albei partye geskied.

Net soos in die strafreg (sien S. v Oaassen 1976(2) SA 281 (O) op 284 B ev) hang die genoegsaamheid van die aangebode getuienis soms af van die reaksie van die verweerder op die

19 aangebode getuienis. Was dit 'n geval waar die verweerder se

advokaat, ná Schauer se hoofgetuienis, nie in staat was om die

samestelling of redelikheid van Schauer se globale bedrag te toets

nie omdat Schauer geen enkele skade-item kon onthou nie en nie

meer kon sê welke herstelkoste weens die botsing noodsaaklik was

nie, is dit moontlik dat absolusie van verweerder van die instansie

eiser se voorland kon gewees het. Maar feit is dat verweerder se

advokaat wel in besit van die kwotasie gestel is en aan die hand

daarvan drie van die beweerde skade-items, insluitende die

noodsaaklikheid van die herstelwerk en die redelikheid van Schauer

se kosteberaming, met laasgenoemde in kruisverhoor behandel het.

Schauer se getuienis ten opsigte van hierdie drie items was

voldoende om ten minste vonnis ten opsigte van daardie drie items

te regverdig.

20

Dit gaan egter verder. Die feit dat die verweerder se

advokaat daarna geeaeen van die ander items op die kwotasie aangeval het nie, is myns insiens belangrik. Uit die getuienis blyk dat verweerder 'n deskundige getuie by die hof gehad het om oor die eiser se skade te getuig. Die getuie en Schauer het samesprekings gevoer. Die afleiding is onvermydelik dat verweerder nie verder met aanvegting van die kwotasie en Schauer se getuienis aan die hand daarvan wou of kon voortgaan nie.

Onder gemelde omstandighede het die verhoorhof tereg bevind dat eiser se skade en die redelike en noodsaaklike herstelkoste genoegsaam bewys is.

In die resultaat moet die appêl dus misluk.

Daar is nog een aangeleentheid wat ongelukkig genoem moet word. Dit ís die skokkende swak toestand van die rekord wat voor

21

hierdie hof geplaas is. Daar is bykans nie een paragraaf wat nie

wemel van tikfoute en taalfoute (wat klaarblyklik nie deur die hof, die getuies of die advokate begaan is nie). Dit is duidelik dat die rekord getik is deur iemand wat nie eens by benadering die tale wat in die hof gebruik is - hoofsaaklik Engels en 'n klein bietjie Afrikaans - verstaan het nie, Dit is egter geen verskoning vir die swak íoestand van die rekord nie. Dit is die plig van die appellant se prokureurs, beide ter plaatse en in Bloemfontein, om die rekord deur te lees en hierdie soort foute te herstel, desnoods in samewerking met die eiser se prokureurs. Daardie plig is in die onderhawige geval gruwelik versuim. Ek is van voomeme om 'n bestrawwende kostebevel in dié verband te maak.

Dit is ook verontrustend dat die advokate die rekord gelate aanvaar het en die appél kom argumeníeer het sonder om die

22

onaanvaarbare oorkonde na die verweerder se prokureurs temg te

verwys en aan te dring op 'n behoorlike reggestelde oorkonde. Advokate is immers, net soos prokureurs, verantwoordelik vir die handhawing van daardie hoë standaarde wat die uiteindelike legitimiteitswaarborg van ons regstelsel is. Die dag mag aanbreek dat die verweerder se advokaat saam met sy opdraggewende prokureurs vir gemelde pligsversuim van sy gelde sal moet inboet, te meer wanneer, soos in die onderhawige geval, daar meer as voldoende tyd was, nadat die advokate opdrag ontvang het om appêlbetoogshoofde voor te berei, om die rekord reg te stel. Die volgende bevele word gemaak :

  1. Die appêl word van die hand gewys met koste.

  2. Die Appellant se prokureurs te MaGkeng en te Bloemfontein sal nie geregtig wees om enige gelde vir die deurlees van die

23

appèlrekord van die Appellant te vorder of te verhaal nie.

P J OLIVIER AR

Stem saam :

Hefer AR

FH Grosskopf AR

Nienaber AR Zulman AR

▲ To the top