S v Lepholletsa (496/1996) [1997] ZASCA 47 (23 May 1997)


Saak No 496/96

IH

HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA

In die saak tussen :

JOHANNES LEPHOLLETSA Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM : HEFER, SMALBERGER et OLIVIER ARR

VERHOORDATUM : 12 MEI 1997

LEWERINGSDATUM : 23 MEI 1997

UITSPRAAK

HEFER, AR :

2

Omdat hy vleeslike gemeenskap met 'n 13-jarige dogter gehad het, is die appellant in 'n streekhof skuldig bevind aan oortreding van art 14(l)(a) van die Wet op Seksuele Misdrywe 23 van 1957 en gevonnis tot gevangenisstraf vir vier jaar. Na 'n onsuksesvolle appél na die destydse Transvaalse Provinsiale Afdeling kom hy nou met verlof van die Hof a quo in hoêr beroep teen die vonnis.

Volgens die appellant se eie getuienis by die verhoor is die klaagster die dogter van sy destydse minnares en het hy hom op drie afsonderlike geleenthede tot die dogter gewend gedurende 'n tydperk toe haar moeder hom gemeenskap geweier het. Sy optrede het eers aan die lig gekom toe die klaagster swanger geraak het. Later het sy geboorte gegee aan sy kind.

In sy uitspraak het die streeklanddros onder andere daarop gewys dat gevalle soos dié die afgelope paar jaar "meer gereeld" voor die howe kom en tereg opgemerk dat dit die strenge afkeur van die wetgewer, die hof en die

3

gemeenskap dra. Sy gevolgtrekking was dat korrektiewe toesig nie gepas sou wees nie en dat gevangenisstraf inderdaad die enigste geskikte vonnis was.

In hierdie Hof is namens die appellant aangevoer dat die uitspraak verskeie mistastings bevat. Die betoog was daarop toegespits om ons te oorreed dat die gevolgtrekking waarna so pas verwys is, nie korrek is nie. Daarom, en omdat die ander submissies gebaseer was op 'n verkeerde vertolking van opmerkings in die uitspraak en derhalwe nie steek hou nie, is ek van voorneme om slegs die beweerde mistastings te behandel wat direk betrekking het op die streeklanddros se gevolgtrekking dat gewone gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis was.

In hierdie verband moet ek eers uitwys dat die appellant skuldig gepleit het en dat die streeklanddros na die pleitverduideliking 'n skuldigbevinding genotuleer het maar te kenne gegee het dat hy nie bereid was om vonnis te oorweeg sonder 'n verslag van 'n proefbeampte oor die klaagster nie. So 'n

4 verslag is later ingehandig en die betrokke welsynswerkster het inderdaad getuig.

Op grond van die feit dat die streeklanddros nie 'n dergelike verslag oor

die appellant aangevra het nie is aangevoer dat hy die oplegging van korrektiewe

toesig nooit werklik oorweeg het nie. Ek stem nie saam nie. Op die stadium

toe 'n verslag oor die klaagster aangevra is, was die vraag na die gepastheid van

enige besondere vonnis nog nie ter sprake nie. Die pleitverduideliking het soos

gewoonlik net die allernodigste bevat om 'n skuldigbevinding te regverdig en die

streeklanddros het tereg verdere inligting verlang, veral oor die gevolge van die

oortreding vir die klaagster, voordat hy enige vonnis sou oorweeg. Die feit dat

hy op daardie stadium nie 'n verslag oor die appellant aangevra het nie,

regverdig geensins die afleiding dat hy toe reeds sy oe gesluit het vir enige

vonnis ander dan gevangenisstraf nie. Dit is klaarblyklik ook nie hoe die

appellant se prokureur destyds die situasie verstaan het nie; toe hy gevra is of

hy saamstem dat die besonderhede waarna ek reeds verwys het, voorgelê

5

behoort te word, het hy geantwoord:

"Ja. Die beskuldigde kan baie van die besonderhede gee maar ek dink dit sal beter wees indien ons dit maar van 'n onafhanklike persoon kry."

Dat die verhoorlanddros nie op 'n latere stadium 'n verslag oor die

appellant aangevra het nie, regverdig ook nie die afleiding waarvoor nou betoog

word nie. Dit is natuurlik so dat, ooreenkomstig art 276A(l)(a) van die

Strafproseswet 51 van 1977, soos gewysig, 'n vonnis van korrektiewe opleiding

onder art 27ó(l)(h) nie opgelê kan word sonder 'n verslag van 'n proef- of

korrektiewe beampte nie. Hoewel die Wet nie uitwei oor die inhoud daarvan

nie, kan aanvaar word dat 'n verslag be-oog word wat, onder andere, "die

beskuldigde evalueer en aandui of en waarom hy sal baat by die besondere straf

en hoe dit sy naasbestaandes sal raak" (S v Croucamp 1993(1) SASV 439 (T)

op 443a-b). Dit bring egter nie mee dat die vraag of korrektiewe toesig enigsins

'n gepaste vonnis sal wees, nie sonder so 'n verslag beoordeel kan word nie.

6

Hierdie Hof en provinsiale howe wys dikwels appèlle teen vonnis waarin

korrektiewe opleiding bepleit word sonder 'n verslag onder art 276A(l)(a) van die hand. Die eenvoudige rede is dat korrektiewe toesig soms as onvanpas beskou word weens redes - insluitende die aard en erns van die oortreding en die omstandighede waaronder dit gepleeg is - wat niks te make het met die appellant se persoonlike omstandighede nie. (Vgl S v Sinden 1995(2) SASV 704 (A) op 708i-709c.) Die streeklanddros was van oordeel dat die onderhawige so 'n geval is en dit is klaarblyklik die rede waarom hy nie 'n verslag oor die appellant aangevra het nie. Dit is dan ook opmerklik dat appellant se prokureur korrektiewe toesig bepleit het welwetend dat so 'n verslag nie ingehandig was nie. Selfs in die kennisgewing van appèl wat hy persoonlik onderteken het, het hy tereg niks probeer maak van die afwesigheid daarvan nie. Voorts het appellant se advokaat aangevoer dat die streeklanddros nie gevangenisstraf wat kon uitloop op korrektiewe toesig onder art 276(l)(i)

7

oorweeg het nie. Die enigste basis vir die betoog is die feit dat daardie vonnisopsie nêrens in die uitspraak geopper is nie. Weereens stem ek nie saam nie. Soos opgemerk in vorige uitsprake van hierdie Hof (wat ek nie nodig ag om aan te haal nie) dui die blote versuim om 'n besondere feit of aspek van die saak pertinent in 'n uitspraak te opper, nie noodwendig daarop dat dit nie oorweeg is nie. Korrektiewe toesig en gevangenisstraf onder art 276(l)(i) is iets alledaags in streekhowe en dit is ondenkbaar dat landdroste van daardie hof nie voortdurend bewus is van die opsie wat art 276(l)(i) bied nie. Daar bestaan geen rede om in die huidige geval anders te vermoed nie en daar is geen aanduiding in die verhoorhof se uitspraak dat die opsie oor die hoof gesien is nie. Dit is volkome duidelik dat die streeklanddros gewone gevangenisstraf opgelê het enkel en alleen omdat hy dit as die enigste gepaste straf beskou het. Daarom verbaas dit nie dat die punt wat nou gemaak word, nie in die kennisgewing van appèl geopper is nie. Nietemin, sou ek in hierdie opsig

8

fouteer, meen ek, soos later sal blyk, in elk geval nie dat gevangenisstraf onder

art 276(l)(i) van pas sou wees nie.

As laaste uitweg het appellant se advokaat aangevoer dat die vonnis

buitensporig swaar is. Ek behandel hierdie betoog deur aanvanklik, soos van tyd

tot tyd nodig skyn te wees, weereens die beperkte bevoegdheid om op appèl in

te meng met die opgelegde vonnis te beklemtoon. Ek doen dit omdat appèlle

dikwels beredeneer word asof dit 'n hof van appèl vrystaan om na goeddunke

in te meng. Die grondbeginsel bly steeds dié wat soos volg beskryf is in S v

Pieters 1987(3) SA 717 (A) op 727F-H:

"Met betrekking tot appèlle teen vonnis in die algemeen is daar herhaaldelik in talle uitsprake van hierdie Hof beklemtoon dat vonnisoplegging berus by die diskresie van die Verhoorregter. Juis omdat dit so is, kan en sal hierdie Hof nie ingryp en die vonnis van 'n Verhoorregter verander nie, tensy dit blyk dat hy die diskresie wat aan hom toevertrou is nie op 'n behoorlike of redelike wyse uitgeoefen het nie. Om dit andersom te stel: daar is ruimte vir hierdie Hof om 'n Verhoorregter se vonnis te verander alleenlik as dit blyk dat hy sy diskresie op 'n onbehoorlike of onredelike wyse uitgeoefen het. Dit is die grondbeginsel wat alle appèlle teen

9

vonnis beheers."

Op 728B-C het die geleerde regter bygevoeg:

"Hierbo het ek verwys na gevalle waar 'dit blyk' dat die Verhoorregter sy diskresie op 'n onbehoorlike of onredelike wyse uitgeoefen het. Dit moet verstaan word in die sin dat hierdie Hof op appêl daarvan oortuig moet wees dat die uitoefening van die diskresie op onbehoorlike of onredelike wyse geskied het. Na my mening spreek dit eintlik vanself, want, juis omdat hierdie Hof nie sonder meer 'n eie diskresie het om uit te oefen nie, sou daar sonder sodanige oortuiging geen voldoende rede bestaan om in te gryp nie."

(Kyk ook S v Blank 1995(1) SASV 62 (A) op 65h-i.)

Om die een of ander rede word hierdie geykte beginsels dikwels

geïgnoreer juis wanneer gevra word dat 'n vonnis van gevangenisstraf vervang

word met een van korrektiewe toesig. In S v Dimpane 1996(2) SASV 165 (O)

op 169e-f het Malherbe R byvoorbeeld opgemerk dat

"sedert hierdie vonnisopsie op die Wetboek geplaas is, word dit net omtrent in elke strafappèl bygesleep asof dit die Alfa en Omega van alle vonnisse is. Ek het in die jongste verlede omtrent nog geen strafappèl aangehoor waar dit nie aangevoer is dat korrektiewe

10

toesig opgelê moes gewees het nie."

Hierdie neiging kan nie aangemoedig word nie en meer aandag behoort verleen

te word aan die waarskuwing in S v Schutte 1995(1) SASV 344 (C) op 350c-e

dat

"courts should be cautious not to debase the coinage of correctional supervision as a form of punishment... if it is used indiscriminately it will soon forfeit its credibility."

(Vgl S v Sinden supra op 708g-i.)

Hiermee wil ek nie te kenne gee dat korrektiewe toesig nie in die huidige

geval ernstige oorweging verdien het en steeds verdien nie. Inteendeel, die

appellant is 'n eerste oortreder met 'n uitstekende werkrekord; volgens hom het

hy voor die verhoor reeds aangebied om die klaagster se kind te onderhou maar

haar moeder wou niks verder met hom of sy geld te doen hê nie; sy rekord en

die feit dat hy in staat en gewillig is om die kind te onderhou is enersyds 'n

gewigtige rede om hom uit die gevangenis te hou. Andersyds kan die

11 laakbaarheid van sy optrede en die gevolge daarvan vir die klaagster - 'n

skooldogter wat nou met 'n kind sit - egter nie uit die oog verloor word nie.

Die oortreding is van so 'n aard dat die belange van die gemeenskap sterk na

vore tree en in die huidige tydvak het die geslagtelike molestering van kinders

juis 'n ernstige sosiale probleem geword wat reeds heftige protes van díe

gemeenskap ontïok het. Ek is hoegenaamd nie oortuig dat die verhoorhof se

gevolgtrekking onredelik was nie.

Wesenlik om dieselfde redes is ek ook nie oortuig dat gevangenisstraf

onder art 27ó(l)(i) van pas sou wees nie. Met so 'n vonnis kan inderdaad niks

meer as die voordeel van die appellant bereik word níe in die sin dat, indien die

Kommissaris dit sou goedvind, hy slegs 'n gedeelte van sy vonnis in die

gevangenis sal moet uitdien. Vir die klaagster en haar kind hou dit geen

wesenlike voordeel in nie. Tydelik sal die appellant geen inkomste hê nie en

oor sy werksvooruitsigte by vrylating onder korrektiewe toesig, en derhalwe oor

12 sy vermoë om die kind te onderhou, kan slegs bespiegel word.

Appellant se advokaat het ons nie toegespreek oor die duurte van die opgelegde gevangenisstraf as sodanig nie. Ek hoef slegs te sê dat die appellant ongetwyfeld swaar gestraf is, maar dat ek nie oortuig is dat die vonnis onder al die omstandighede van die saak buitensporig swaar is nie.

Die appèl word van die hand gewys.

J J F HEFER AR

STEM SAAM : SMALBERGER AR

OLIVIER AR

▲ To the top