DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
Saak No 490/95
In die saak tussen:
C J BEZUIDENHOUT Appellant
en
PRETORIA BANK BEPERK Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF, NIENABER, HOWIE, MARAIS,
PLEWMAN, ARR DATUM VAN VERHOOR: 6 Mei 1997 DATUM GELEWER: 27 Mei 1997
UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR
2.
Hierdie is 'n appél teen 'n uitspraak van Mynhardt
R in die Transvaalse Provinsiale Afdeling. Ten einde die geskilpunte te verduidelik is dit gerief lik om eers 'n kort uiteensetting van die onbetwiste feite te gee. Die appellant het gedurende Mei 1991 belang gestel om 'n vervoerbesigheid te begin. Vir daardie doel het hy 'n vragmotor (ook genoem 'n voorhaker) en 'n leunwa benodig. Hy het 'n gepaste voorhaker en leunwa by die besigheid van ene mnr. Van Vuuren gevind en ooreengekom om dit te koop. Finansiering is gereël by die respondent en vir daardie doel is twee afbetalingsverkoopooreenkomste (een vir elk van die voertuie) op 8 Mei 1991 tussen die partye aangegaan. Die voertuie is aan die appellant gelewer en hy het met sy besigheid voortgegaan. Op 18 Julie 1991 is die twee voertuie in 'n ongeluk beskadig. Dit blyk toe dat die voertuie nie verseker was nie. Hiervoor hou die
3
appellant die respondent verantwoordelik, waarvoor hy 'n eis teen hom ingestel het om skadevergoeding. Die respondent op sy beurt het 'n teeneis ingestel vir betaling van agterstallige paaiemente ingevolge die ooreenkomste. By die verhoor het die hof ingestem om eers te beslis of die respondent in beginsel vir skadevergoeding aanspreeklik was, en daarna, indien nodig, in te gaan op die kwantum van die appellant se gelede skade. Dit was gemene saak dat, as die respondent nie aanspreeklik is nie, die appellant geen verweer teen die teeneis om agterstallige paaiemente het nie. Aan die einde van die saak het die hof ten gunste van die respondent bevind. Hy het gelas dat die appellant se eis afgewys word met koste, en dat respondent se teeneise ten bedrae van R562 286,84 en R76 670,74, tesame met rente en koste, toegestaan word. Teen hierdie bevele kom die appellant nou in hoër
4 beroep met verlof van die verhoorhof.
Dit is logies om, by die oorweging van die partye
se onderskeie regte, te begin by die
afbetalingsverkoopooreenkomste tussen hulle. In die
huidige geval bepaal klousule 9 van albei ooreenkomste,
in soverre ter sake, soos volg:
"9. Vir solank hierdie ooreenkoms van krag is, moet die Kredietopnemer [d w s, die appellant] -
(g) op eie koste die goedere ...
alomvattend verseker vir die redelike vervangingswaarde daarvan van tyd tot tyd, ... sorg dra dat die Kredietgewer [d w s, die respondent] se belang in die goedere op die versekeringspolis genoteer word, of, na keuse van die Kredietgewer, sodanige polis aan die Kredietgewer sedeer as sekuriteit vir enige bedrag wat deur die Kredietopnemer in verband aan die Kredietgewer verskuldig mag wees;".
Klousule 10 magtig dan die respondent om, indien die
appellant nie bogemelde bepalings nakom nie, die nodige
versekering namens die appellant uit te neem en die
5
premie namens hom te betaal en van hom te vorder. Selfs
egter waar versekering deur die appellant uitgeneem word, magtig klousule 1 die respondent om die premies aan die versekeraar te betaal en die bedrag daarvan by die hoofskuld te voeg. In effek beteken dit dan dat die bedrag van die premies aan die appellant voorgeskiet word en deel vorm van die bedrag wat, met rente, in paaiemente terugbetaal word.
In die onderhawige saak het die appellant deurgaans aanvaar dat die bogemelde bepalings van die ooreenkomste toepaslik is. Dit het hom voor die moeilike taak geplaas om aan te toon dat die skade wat gespruit het uit die feit dat die voertuie nie verseker was nie, van die respondent verhaal kon word ten spyte daarvan dat dit die appellant was wat, ingevolge die ooreenkomste, verplig was om te verseker. Om hierdie probleem te bowe te kom het die appellant hom op
6 verskeie regsfigure beroep, onder meer rektifikasie van
die geskrewe ooreenkomste en die aangaan van 'n
aanvullende mondelinge ooreenkoms. Hierdie pogings het
grotendeels misluk, en ten tyde van die appèl voor ons
het die appellant sy skuldoorsaak op net twee
alternatiewe grondslae gegrond. Die eerste was dat daar
'n verhouding van bankier en kliënt tussen die partye
was en dat die respondent gevolglik, onder al die
omstandighede van die saak, 'n regsplig teenoor die
appellant gehad het "om toe te sien dat die voorhaker
en leunwa behoorlik alle risiko versekering geniet."
Die tweede was dat die respondent, soos verteenwoordig
deur ene mev. Van der Merwe, aan die appellant 'n
nalatige wanvoorstelling of wanbewering gemaak het dat
die respondent "sou toesien tot die reël van alle
risiko versekering vir die voorhaker en die leunwa,
alternatiewelik dat alle risiko versekering oor die
7 voorhaker en leunwa behoorlik deur die [respondent]
gereël is ...". Ten einde hierdie skuldoorsake na
waarde te oordeel is dit nodig om die getuienis effens
breedvoeriger te behandel.
Die sleutelgetuie by die verhoor was ene Marx. Die
hof a quo het die volgende ten opsigte van hom gesê:
"Mnr Marx se getuienis en hy as getuie het my beïndruk. Ek is van oordeel dat Mnr Marx ' n geloofwaardige getuie is. Daar is na my mening geen werklike kritiek wat op hom as getuie uitgespreek kan word, allermins wat sy vertoning as getuie in die getuiebank betref, en nog minder wat die inhoud van sy getuienis betref. Dit strook ook met die waarskynlikhede in hierdie saak."
Hierdie besonder gunstige beoordeling is nie voor ons
aangeveg nie.
Marx is 'n versekeringsmakelaar. Sy korttermynwerk
het hy namens 'n firma bekend as Monsure
Versekeringsmakelaars gedoen. Monsure het dit op sy
beurt by ander makelaars of versekeraars geplaas. Marx
het ook 'n sakeverhouding gehad met Van Vuuren, die
8 handelaar wat die betrokke voertuie aan die appellant
verkoop het. Van Vuuren het hoofsaaklik swaar voertuie
verkoop en het vir Marx ingelig wanneer een van sy
klante versekering ten opsigte van 'n aankoop nodig
gehad het. Marx het dan probeer om, met Van Vuuren se
hulp, hierdie versekeringsbesigheid te bekom. Van
Vuuren het ook 'n sakeverhouding met die respondent
gehad waardeur die respondent sy verkope gefinansier
het. Die gevolg van hierdie verhoudings was dat Van
Vuuren, Marx en die respondent dikwels met mekaar te
doen gehad het.
Van Vuuren het, ooreenkomstig sy gewone gebruik,
vir Marx laat weet van die appellant se beoogde
aankoop. Marx het die appellant kom sien by Van Vuuren
se besigheid. Van Vuuren het hulle aan mekaar
voorgestel. Die appellant was bereid om met Marx
besigheid te doen maar wou gehad het dat die
9
versekering by Santam Versekeringsmaatskappy geplaas moes word. Marx het onderneem om daarvoor te sorg. Hy het 'n kwotasie aan die appellant gelewer, maar die appellant was nie daarmee tevrede nie en Marx het dit aangepas. Hierdie onderhandelinge het in die loop van verskeie besprekings plaasgeyind nog voordat enige aansoek om finansiering by die respondent gedoen was. Die manier waarop Marx versekering van hierdie aard bewerkstellig het, was as volg. 'n Ander firma van versekeringsmakelaars, J R Eiendoms Versekeringsmakelaars ("J R"), het 'n polis by Santam gehad bekend as die S A Vervoerdienste polis. Ingevolge hierdie polis is die voertuie van 'n aantal verskillende vervoerkontrakteurs gesamentlik verseker. Die polis was 'n sogenaamde oop polis, wat beteken dat J R voertuie kon byvoeg of wegneem van die dekking wat deur die polis gebied word. Marx sou dan die appellant
10
se aansoek om versekering aan Monsure lewer, wat dit op
sy beurt aan J R sou oorhandig vir insluiting by die S A Vervoerdienste polis wat deur Santam onderskryf is. Die gebeure nadat die appellant en Marx oor die versekering ooreengekom het is grootliks gemene saak. Waar 'n kliënt self versekering uitgeneem het, het die respondent verkies dat 'n jaarpremie vooruit betaal word wat dan ingevolge klousule 1 van die finansieringsooreenkomste by die hoofskuld gevoeg word. Nadat die versekering tussen die appellant en Marx gereël is, het Van Vuuren en die appellant by die respondent aansoek om finansiering gedoen. Onder die besonderhede wat aan die respondent verskaf is, was die inligting dat versekering vir die voertuie reeds gereël was by Monsure. Ook was gemeld die bedrag van die premie wat by die hoofskuld gevoeg moes word en die nommer van die toepaslike polis (in hierdie geval J R
11
se S A Vervoerdienste polis). Die lenings is deur die respondent goedgekeur. Op 8 Mei 1991 is die ooreenkomste en al die ander dokumentasie geteken. Die appellant, Van Vuuren en Marx was almal teenwoordig by die respondent se kantore. Die respondent het betaling van die gelde wat vir die aankoop van die voertuie voorgeskiet is aan Van Vuuren gemaak en 'n tjek vir die premies aan Marx oorhandig vir lewering aan Monsure. Marx het op sy beurt die tjeks na Monsure geneem, waar hy pari passu betaling van sy kommissie ontvang het. Ek mag net in die verbygaan noem dat die tjek ten opsigte van die leunwa se premie gedateer is 7 Junie en nie 8 Mei nie. Die getuies kon nie onthou hoekom dit so was nie maar dit is nie van enige belang nie. Albei tjeks is behoorlik deur Monsure ontvang.
Die eerste vraag is dan of die respondent enige regsplig teenoor die appellant gehad het met betrekking
12 tot die versekering. Dit mag wees, soos namens die
appellant betoog, dat die appellant in 'n sekere sin 'n
kliënt van die respondent was. Die verhouding tussen
hulle was egter bepaal deur die aard van die dienste
wat die respondent aan die appellant sou lewer. In die
onderhawige geval was daar bloot 'n enkele
finansieringstransaksie tussen hulle. Dit is in wese
beliggaam in die finansieringsooreenkomste waarkragtens
dit die appellant se plig was om die versekering te
reël. Die versekering was natuurlik ook nodig ter
beskerming van die respondent se belange. Ingevolge die
ooreenkomste het die voertuie die eiendom van die
respondent gebly totdat alle verskuldigde bedrae betaal
was. Die versekering van die voertuie was dus ' n
belangrike aspek van die respondent se sekuriteit vir
die finansiering van die transaksie. As die appellant
se reëlings nie bevredigend was nie, sou die respondent
13 vermoedelik in sy eie belang wou sorg dat sake
reggestel word. Dit mag wees (ek spreek daaroor geen
mening uit nie) dat die respondent in so 'n geval ook
teenoor die appellant 'n plig sou gehad het om hom teen
die berokkening van skade te beskerm. In die
onderhawige geval was die appellant se reëlings egter
heeltemal bevredigend. Hy het versekering gereël by
Marx en Monsure, makelaars wat goed bekend was aan die
respondent en in die verlede goeie diens gelewer het.
Dit blyk wel uit die getuienis dat die respondent
taamlik laks was deur nie seker te maak dat sy eie
belang behoorlik teen die polis aangeteken was nie, en
deur nie 'n afskrif van die polis te bekom nie. Hierdie
was stappe wat voorgeskryf word deur die respondent se
interne reëls ter beveiliging van sy eie belange. As
die respondent meer stiptelik op hierdie aspekte gelet
het, sou hy miskien vroeër uitgevind het dat die
14
voertuie nie verseker was nie. Die feit dat hierdie voorskrifte nie nagekom is nie, dui egter nie aan dat daar enige twyfel oor die doelmatigheid van die appellant se reëlings was nie. Die teendeel is eerder waar - die respondent was klaarblyklik heeltemal oortuig dat die.voertuie wel verseker was. En op die getuienis het die respondent elke rede gehad om so te glo. Ek vind dit dus onmoontlik om uit die omstandighede van die saak enige regsplig aan die kant van die respondent, hetsy ex contractu hetsy ex delicto, af te lei wat hom teenoor die appellant sou verplig het om enige verdere handelinge met betrekking tot die versekering te doen.
Die appellant se advokaat het voor ons betoog dat die appellant onder die indruk was dat Marx 'n werknemer van die respondent was, en dat hierdie faktor kan bydra om aan die respondent die beweerde regsplig
15 op te lê. Eerstens is ek nie oortuig dat die appellant
so 'n geloof kon gehad het nie, maar hoe dit ook al sy,
die objektiewe feit is dat Marx heeltemal onafhanklik
van die respondent was. Soos reeds gemeld, het Marx die
aangeleentheid van versekering met die appellant gereël
voordat hulle ooit die respondent genader het. Op die
getuienis is daar ook geen steun vir 'n betoog dat die
respondent vir die appellant onder 'n verkeerde indruk
kon gebring het dat Marx sy werknemer was nie. As die
appellant dus hieroor gefouteer het, was dit 'n
eensydige dwaling wat sonder enige fout aan die kant
van die respondent ontstaan het. So 'n dwaling kan myns
insiens geen verskil aan die regsverhouding tussen die
partye maak nie.
Dit bring my dan by die tweede grond waarop die
appellant trag om die respondent aanspreeklik te hou,
t w, 'n beweerde wanvoorstelling of wanbewering deur
16 mev Van der Merwe namens die respondent. Mev Van der
Merwe was 'n kontrakteklerk in die diens van die
respondent. Dit was haar plig om besonderhede t o v
aansoeke om finansiering te bekom en, nadat daar op 'n
hoër vlak in die organisasie besluit was om krediet te
yerleen, te help met die opstel van die nodige
dokumentasie. In die onderhawige geval was dit sy wat
die dokumente aan die appellant voorgelê het vir
ondertekening op 8 Mei. Die appellant het soos volg
getuig oor wat sy m b t die voertuie se versekering
gesê het:
"Sy het vir my gesê ek hoef nie bekommerd te wees nie, die versekering is reg . . . Sy het vir my gesê alles is gereël en ek moet net daardie vorm teken."(286)
Later verskyn die volgende vrae en antwoorde:
"Nou as van die bank se kant af, as die bank nou gaan en die tjeks word betaal en dit gaan deur die rekenings en op daardie stadium reeds is daar 'n nommer verskaf van die versekeraar, 'n versekeringspolisnommer, wat aandui dat daar
12
versekering is, is dit gereël volgens u? - - Ek dink so.
Moet daar nog enigiets verder deur hulle gedoen word? - - Ek weet nie." (286)
Onder herverhoor is weer na hierdie aspek verwys soos
volg, nie sonder leidende vrae nie:
"U het ook die woord 'reël' gebruik ... Wat het u verstaan behels 'reël? Nadat die versekering gereël is, is daar nog iets wat moes gebeur ten aansien van die versekering? - - Sover ek weet nie, want die versekeringsnommer was klaar aangebring op die ... huurkoopooreenkoms. Beteken 'reël' net die vorms invul, net aansoek doen, of beteken dit toesien dat versekering daar is, of wat bedoel dit alles? - - Dit sal toesien dat die versekering sal gedoen word, of is gedoen. Dat die voertuie gedek is? - - Of die versekering is daar, dat daar wel versekering is vir die voertuig." (318)
Mev Van der Merwe aanvaar dat sy aan die appellant
kon gesê het dat die versekering reeds gereël was. Die
eerste vraag is dan of so 'n stelling onwaar was.
Klaarblyklik was alle reëlings t o v die versekering
reeds getref op 8 Mei, en die eerste jaarpremie is lank
voor die voertuie se ongeluk betaal. Volgens gewone
18 taalgebruik was die versekering toe reeds "gereël". Ek
dink nie die woord "reël" het in die samehang enigiets
meer beteken nie. Ek dink ook nie dat die appellant
self, volgens sy getuienis wat ek hierbo aangehaal het
indien dit in die geheel gelees word, mev Van der Merwe
anders verstaan het nie.
Maar selfs al sou ek hier verkeerd wees en mev Van
der Merwe te kenne gegee het dat die voertuie inderdaad
verseker was, meen ek nie dat daar enige nalatigheid
aan haar kant was nie. Sy het geweet dat Marx die
versekering geplaas het by Monsure, 'n firma wat aan
mev Van der Merwe bekend was en met wie die respondent
vantevore besigheid gedoen het. Sy het alle rede gehad
om te glo dat die voertuie wel verseker was. Die rede
waarom daar geen versekering was nie is nie heeltemal
duidelik nie, maar blykbaar het Mnr de Bruyn, wat in
beheer van Monsure was, nagelaat om die versekering by
19 J R te plaas. Mev Van der Merwe het geen rede gehad om
te vermoed dat so iets moontlik sou gebeur nie.
Ek meen dus dat die tweede grond waarop die appellant betoog dat die respondent aanspreeklik is, ook sonder meriete is.
Die appèl word afgewys met koste.
E M GROSSKOPF , AR
NIENABER, AR HOWIE, AR MARAIS, AR PLEWMAN, AR Stem saam