Matsiba v Santam Versekerings Maatskappy Bpk (245/1996) [1997] ZASCA 63 (21 Augustus 1997)


REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA

DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA

Saak No 245/96

In die saak tussen

ANNA MAZIVANDLELA MATSIBA Appellant

en

SANTAM VERSEKERINGS

MAATSKAPPY BEPERK Respondent

CORAM: Marais, Olivier, Schutz, Scott ARR ef Van

Coller Wnd AR

VERHOORDATUM: 21 Augustus 1997

DATUM GELEWER: 21 Augustus 1997

UITSPRAAK

MARAIS AR/

2

MARAIS AR:

Verlof om in hierdie saak in forma pauperis na hierdie

hof te appelleer, is as gevolg van 'n petisie aan die Hoofregter gerig,

toegestaan. Die enigste vraag vir oorweging is of 'n brandstof

aangedrewe "Mirage Ride On" grassnyer 'n motorvoertuig soos

bedoel in art 1 van die Bylae tot die Multilaterale

Motorvoertuigongelukkefondswet 93 van 1989 is. Die woord

"motorvoertuig" word soos volg in art 1 van die Bylae tot die Wet

omskryf:

"'n voertuig wat ontwerp of aangepas is om deur middel van brandstof, gas of elektrisiteit op 'n pad voortbeweeg of getrek te word, en ook 'n sleepwa, 'n woonwa, 'n landbouwerktuig of enige ander werktuig wat ontwerp of aangepas is om deur so 'n motorvoertuig getrek te word".

Tensy die antwoord op hierdie vraag bevestigend is, is respondent, 'n

benoemde agent van die fonds, nie aanspreeklik vir die

3

skadevergoeding deur appellant geëis as gevolg van die beserings deur haar minderjarige seun opgedoen toe hy deur so 'n grassnyer raakgery is nie.

Ek sal voortaan na Wet 93 van 1989 as "die Wet" en na die motorvoertuigongelukkefonds as "die fonds" verwys. Die hof a quo (Stafford R) se bevinding was dat die grassnyer nie 'n motorvoertuig soos in die Wet bedoel is nie. Sy uitspraak is gerapporteer in 1996 (3) SA 85 (W) en 'n volledige beskrywing van die grassnyer sal daar gevind word. Sedert verlof om te appelleer toegestaan is, is uitspraak in die saak van Chauke v Santam Ltd 1997 (1) SA 178 (A) deur hierdie hof gelewer. 'n Soortgelyke vraag is in daardie saak oorweeg. Die voertuig wat daar ter sprake gekom het was 'n mobiele vurkhyswa. Hierdie hof het eenparig bevind dat dit nie 'n motorvoertuig, soos in die Wet bedoel, was nie. Daar is in die

4

huidige saak deur appellant aangevoer dat in die saak van Chauke die
kriteria wat in ag geneem moet word en die benadering wat gevolg
moet word om so 'n vraag te beantwoord verkeerdelik neergelê is.
Daar is aangevoer dat die hof nie voldoende oorweging gegee het aan
die feit dat in die Engelse wetgewing waarna verwys is, die tersaaklike
frase "intended for use" op 'n pad was en nie "designed for propulsion"
op 'n pad nie. Na my mening is daar in die samehang van die Suid-
Afrikaanse omskrywing in sy geheel geen betekenisvolle verskil nie.
Daar kan van die benadering in Chauke se saak slegs afgewyk word
indien hierdie hof oortuig ís dat dit verkeerd was. Ek is glad nie
ooríuig dat dit die geval is nie. Inteendeel, na my beskeie mening, is
dit korrek. Na toepassing van die kriteria en benadering in Chauke
se saak neergelê kom ek tot die gevolgtrekking dat hierdie grassnyer
nie "ontwerp of aangepas is om op 'n pad voortbeweeg of getrek

5

te word" nie. Appellant se prokureur wat namens haar voor ons opgetree het, het inderdaad toegegee dat indien die benadering en kriteria in Chauke se saak neergelê, gevolg en in ag geneem moet word, die appèl nie kan slaag nie. Myns insiens is hierdie toegewing korrek. Dat dit moontlik is om hierdie grassnyer op 'n pad te bestuur, is nie deurslaggewend nie. Wat van belang is, is of dit gesê kan word dat dit die doel is waarvoor dit ontwerp is. Daar is geen sprake van aanpassing nie, en ek hoef niks verder daaromtrent te sê nie. Die doel waarvoor dit ontwerp is, is klaarblyklik om gras te sny. Die grootte van die grassnyer is sodanig dat dit nie deur 'n persoon gestoot of getrek sou kon word nie. Vandaar die voorsiening van 'n brandstofaangedrewe kragbron wat nie alleen die grassnyer se roterende snymeganisme sou kon dryf nie maar ook sy wiele. Die voorsiening van 'n sitplek vir die operateur is nie om 'n vervoermiddel

6

aan hom beskikbaar te stel nie, maar om sy beheer van die grassnyer

terwyl dit aan die beweeg was, te vergemaklik. Die grassnyer se

maksimum spoed is 6 k.p.u. Dit het geen ligte of remligte nie. Dit

het geen rigtingaanwysers en geen toeter nie. Dit kan kwalik hieruit

gekonstateer word dat dit ontwerp is "om op 'n pad voortbeweeg of

getrek te word". Sy vermoë om op 'n pad voortbeweeg te word, is

beperk en rudimentêr en geheel bykomstig tot sy beplande gebruik vir

grassny. Dit is ewe duidelik dat dit nie ontwerp is om op 'n pad

getrek te word nie. Hierdie grassnyer kan in alle wesenlike opsigte in

beginsel nie onderskei word van die mobiele vurkhyswa wat in

Chauke se saak ter sprake was nie. Dit is seker so dat 'n grassnyer

soos hierdie 'n bron van gevaar vir mense mag skep maar dit op

sigself bring nie mee dat dit binne die trefwydte van die Wet val nie.

Die vraag bly steeds of dit 'n motorvoertuig is soos in die Bylae tot

7

die Wet omskryf. Die geleerde regter in die hof a quo het oortuigende redes gegee vir sy siening dat hierdie grassnyer nie so 'n motorvoertuig is nie. Na my oordeel is sy bevinding korrek.

Na my mening behoort die appèl van die hand gewys te word. Aangesien die appellant in forma pauperis optree, het respondent geen kostebevel teen haar gevra nie. Ek sou dus geen kostebevel maak nie.

Dit word so gelas.

R M MARAIS APPèLREGTER

Olivier AR) Schutz AR ) Scott AR ) Stem saam

Van Coller Wnd AR )

▲ To the top