Louw v W P (Ko-operatief) Bpk (579/1995) [1997] ZASCA 96 (19 November 1997)


REPUBL1EK VAN SUID-AFRIKA

Saak nr 579/95

In die saak tussen:

MARIA MAGDALENA LOUW APPELLANT

- en -

W P (KOöPERATIEF) BEPERK RESPONDENT

CORAM: Vivier, Eksteen, Schutz, Zulman et Streicher JJA. VERHOOR: 3 November 1997.

GELEWER: 19 November 1997.

UITSPRAAK

2

VIVIER AR:

Die appellant se boedel is op aandrang van die respondent op

20 Maart 1995 voorlopig en op 7 Augustus 1995 finaal in die Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof gesekwestreer. Die aansoek om die voorlopige sekwestrasie van die appellant se boedel as 'n saak van dringendheid was reeds op 25 Junie 1991 geliasseer. Met verlof van die Hof a quo kom die appellant nou in hoer beroep teen die finale sekwestrasiebevel.

Die sekwestrasie van die appellant se boedel is voorafgegaan deur die sekwestrasie van die boedel van haar eggenoot, Coenraad Johannes Henoch Louw ("Louw"), met wie sy buite gemeenskap van goedere getroud is. Sy boedel is op aandrang van die respondent op 16 Mei 1990 voorlopig en op 15 Augustus 1990 finaal gesekwestreer. Louw se appèl na hierdie Hof teen sy finale sekwestrasiebevel is op 28 Maart 1991 afgewys. Sien Louw v W P Koöperasie Bpk 1991(3) SA 593 (A).

3

Op 3 April 1986 het die appeïlant 'n borgkontrak geteken waarin sy haar as borg en mede-hoofskuldenaar in solidum teenoor die respondent verbind het vír die betaling van alle bedrae, ontstaande uit welke skuldoorsaak ookal, wat Louw op daardie stadium aan die respondent verskuldig was of in die toekoms verskuidig sou wees. As sekuriteit het die appellant drie verbandaktes oor haar plaas Wittedam ten gunste van die respondent gepasseer. Ek handel later meer volledig met die drie verbandaktes.

Toe Louw se appèl in hierdie Hof gedien het, was dit nie langer in geskil dat hy die respondent ongeveer R15 m geskuld het toe sy boedel gesekwestreer is nie. In die huidige saak het die appellant die presiese bedrag van Louw se skuld op verskeie gronde betwis, maar volgens berekenings in die stukke voor ons is dit duidelik dat selfs indien al haar besware gehandhaaf sou word,

4

Louw se skuld nog steeds in die omgewing van R9 m na Rll m beloop het. Dit is nodig om iets meer omtrent die agtergrond tot Louw se sekwestrasie te sê.

Louw was sedert 1951 'n lid van die respondent en het tot sy sekwestrasie op groot skaal geboer. Hy het onder andere drie plase in eie naam besit en nog vier deur twee beslote korporasies waarvan hy die alleen-beheerder was. Oor die jare het die respondent op lopende rekening goedere aan Louw verkoop en gelewer, werk vir hom gedoen en materiaal aan hom verskaf. Gedurende die tagtigerjare het Louw se finansiële posisie weens verskeie faktore agteruitgegaan sodat hy nie meer sy skulde kon betaal nie. Nadat van sy ander skuldeisers verstekvonnis teen hom geneem en begin het om eksekusie te hef teen sy plase, het die respondent hom op verskeie maniere finansieel begin bystaan. So het die respondent byvoorbeeld gedurende die tydperk van 31 Maart 1987 tot Januarie

5

1990 betalings ter delging van sy skuld aan Boland Bank Bpk, Die Trust Bank van Afrika Bpk en die Landbank gemaak wat teen Louw se lopende rekening gedebiteer is. 'n Totale bedrag van meer as R4,5 m is op hierdie wyse betaal sodat die respondent Louw se enigste noemenswaardige skuldeiser geword het. Ter bevestiging van Louw se verpligtinge teenoor die respondent is 'n skríftelike ooreenkoms op 27 April 1987 tussen die respondent enersyds en Louw, die appellant en een van die beslote korporasies andersyds aangegaan waarin Louw, die appellant en die betrokke beslote korporasie ondemeem het om drie van die plase teen sekere minimum pryse te verkoop vir 'n totale opbrengs van R2 m en om nog ander bates, beide roerend en onroerend, te verkoop om 'n verdere R2 m op te lewer. Die opbrengste moes aan die respondent oorbetaal word. Op 27 Mei 1988 is 'n tweede skríftelike ooreenkoms gesluit nadat daar niks gekom het van die

6

verkope wat in die eerste ooreenkoms beoog is nie. Die partye tot die tweede ooreenkoms, die sogenaamde samewerkingsooreenkoms, was die respondent enersyds en Louw, die appellant en die twee beslote korporasies, gesamentlik beskryf as "die eienaar", andersyds. In die aanhef word geboekstaaf dat die eienaar tot op datum van die ooreenkoms in hoofsaak van die respondent gebruik gemaak het ter finansiering van sy boerderybedrywighede en nie sy verpligtings ten opsigte van kapitaal- en rentebetalings kon nakom nie. Die ooreenkoms het bepaal dat 'n boerderykomitee bestaande uit verteenwoordigers van die respondent en die eienaar die bestuur en beheer van die boerderybedrywighede op die eienaar se eiendomme sou oomeem. Die respondent sou direk die boerdery-inkomste ontvang en daaroor beskik. Die appellant was 'n party tot die twee ooreenkomste omdat sy direk by Louw se boerdery, insluitende dié op haar eie plaas Wittedam, betrokke was en

7

aankope vir laasgemelde plaas op Louw se rekening geskied het. Die appellant was ook lid van die boerderykomitee wat Louw se finansiële posisie op 'n deurlopende grondslag gemonitor het. Die pogings om Louw van finansiële ondergang te red, het misluk en nadat die samewerkingsooreenkoms beëindig is, is Louw se boedel gesekwestreer.

Die aansoek om die voorlopige sekwestrasie van die appellant se boedel is, soos reeds gemeld, op 25 Junie 1991 geloods. Ten einde die lang vertraging totdat die finale sekwestrasiebevel toegestaan is, te verduidelik, skets ek kortliks die verdere verloop van die saak in die Hof a quo. Op 25 Julie 1991 het die appellant haar opponerende eedsverklaring ingelewer waarin sy benewens 'n menigte verwere op die meriete ook 'n aantal punte in limine geopper het. Haar eedsverklaring met aanhangsels beslaan nagenoeg 230 bladsye. Op 26 November 1991 het sy 'n

8

aanvullende eedsverklaring geliasseer. Nadat repliserende

eedsverklarings deur die respondent ingelewer is, is die saak ter

rolle geplaas vir 10 Februarie 1992. Op 7 Februarie 1992 het die

appellant aansoek gedoen dat die verhoor uitgestel word en by

ooreenkoms is die verhoor tot 22 April 1992 uitgestel vir

beredenering van slegs die punte in limine. Voordat uitspraak

gelewer kon word, het die appellant op 1 Julie 1992 'n aansoek

geliasseer vir verlof om 'n verdere beëdigde verklaring in te lewer

waarin sy ook gevra het dat uitspraak op die punte in limine

oorgehou word hangende die beslissing oor die toelating van die

verdere eedsverklaring. Dit is onseker wat die lot van hierdie

aansoek was. Op 23 Oktober 1992 het Kuhn R uitspraak gelewer

op die punte in limine en ten gunste van die appellant beslis dat die

sekerheidstelling nie voldoen het aan die bepalings van art 9(3) van

die Insolvensiewet 24 van 1936 nie. Verlof is aan die respondent

9

verleen om op dieselfde stukke soos aangevul die aansoek om

voorlopige sekwestrasie te hemu. Dit is gedoen en die aansoek is

ter rolle geplaas vir 19 November 1992. By ooreenkoms tussen

die partye is die verhoor uitgestel na 6 Febmarie 1993. Op

laasgemelde datum het die appellant twee verdere aansoeke gebring:

die eerste vir verlof om 'n verdere aanvullende eedsverklaring in te

dien en die tweede om blootlegging en voorlegging vir insae van

dokumente in terme van Hofreël 35(1) en (12) te bekom. Uitspraak

in die twee aansoeke is voorbehou en op 17 Mei 1993 is beide

aansoeke van die hand gewys. Die verhoor van die voorlopige

sekwestrasie-aansoek is hiema op twee verdere geleenthede uitgestel

en het uiteindelik op 7 Maart 1995 voor Traverso R gedien. By

die verhoor is 'n derde opponerende eedsverklaring deur die

appellant, gedateer 26 Augustus 1994, ingedien. Na die uitreiking

van die voorlopige sekwestrasiebevel en voor die finale

10

sekwestrasiebevel is verdere eedsverklarings deur beide partye geliasseer sodat die oorkonde uiteindelik ongeveer elf honderd bladsye beslaan het.

Die vele aanvanklike verwere op die meriete ten spyt, is wesenlik slegs twee verwere by die keerdag van die voorlopige sekwestrasiebevel geopper. Dieselfde twee verwere is op appèl in hierdie Hof herhaal.

Die eerste daarvan was dat die appellant se daadwerklike insolvensie nie bewys is nie. Hierdie verweer het berus op die betoog dat haar skuld as borg teenoor die respondent verjaar het vir soverre dit die totale kapitaalbedrae van R2,4 m wat ingevolge die verbande verseker was, oorskry, met die gevolg dat haar skulde nie haar bates oorskry nie. Dit was gemene saak dat, afgesien van die appellant se skuld aan die respondent, haar ander laste Rl 023 446-56 bedra, bestaande uit haar skulde van R709 956-14

11

aan die Landbank, R13 490-42 aan diverse ander skuldeisers en R300 000-00 ten opsigte van die beesboerdery wat gesamentlik deur haar en Louw op haar plaas Wittedam bedryf word. Dit was uiteindelik nie in geskil dat die appellant bates van R3 504 425-00 het nie. Hierdie bedrag word saamgestel uit die bedrag van R2 037 185-00 synde die markwaarde van die grond en geboue van die plaas Wittedam en die bedrag van Rl 467 240-00 synde die helfte van die waarde van die beeskudde. Die appellant se totale bates oorskry dus haar ander laste met R2 480 978-44 wat beteken dat indien haar skuld teenoor die respondent beperk is tot R2,4 m soos namens haar betoog, sy nie daadwerklik insolvent is nie.

Die appellant se skuld teenoor die respondent bestaan uit haar borgverpligting ten opsigte van Louw se skuld aan die respondent. Die Hof a quo se bevinding, gebaseer op berekenings van die rekenmeester Downard, dat met inagneming van rente die

12

appellant se totale skuld ingevolge haar borgkontrak minstens R6 463 446-00 beloop, was nie emstig voor ons betwis nie. Dit was gemene saak dat die hoofskuld nie later nie as 30 April 1990 opeisbaar geword het omdat na hierdie datum geen verdere krediete deur die respondent aan Louw verskaf was nie. Die hoofskuld sou gevolglik op 30 April 1993 verjaar het tensy die skuld deur verband verseker is, in welke geval dit eers na 30 jaar sou verjaar (art ll(a)(i) van die Verjaringswet 68 van 1969). Dit was nie die appellant se saak dat die hoofskuld verjaar het nie. In hierdie verband wys ek daarop dat, afgesien van die bestaan van verbande deur Louw gepasseer ter versekering van die hoofskuld, die hoofskuld die onderwerp was van 'n eis ingedien teen Louw se insolvente boedel wat die voltooiing van verjaring ten opsigte van die hoofskuld ingevolge art 13 (l)(g) van die Verjaringswet uitgestel het.

13

Die appellant se saak, met 'n beroep op die beslissing in

Rand Bank Ltd v De Jager 1982 (3) SA 418 (K), was dat die

borgskuld onafhanklik van die hoofskuld verjaar. Indien

veronderstel word, sonder om dit enigsins te beslis, dat dit wel

die geval is, is die eerste vraag of, op 'n behoorlike uitleg van die

drie betrokke verbandaktes, die appellant se skuld slegs tot die

totale kapitaalbedrae van R2,4 m daaringevolge verseker was.

Die jongste van die drie verbandaktes, genommer B 27251, was

geregistreer op 12 Julie 1987 en die relevante bepalings was

wesenlik dieselfde is as dié van die vorige twee verbandaktes. Ek

verwys voorts na die bepalings van die jongste verband. In

klousule 1 word geboekstaaf dat die verbandgewer aan die

verbandhouer die bedrag van R2 m as kapitaal en R400 000-00

as die bykomende bedrag verskuldig is. Saam met die

kapitaalbedrae van R400 000-00 ingevolge die vorige twee

14

verbande is die totale kapitaalbedrag verseker ingevolge die drie

verbandaktes dus R2,4 m. Die bykomende bedrag word omskryf

as daardie bedrae, gelde, uitgawes en kostes deur die verbandhouer

voorgeskiet, uitbetaal of gedebiteer ingevolge die verband=

voorwaardes. Klousule 2 bepaal dat die verband as voortdurende

dekkende sekuriteit dien vir enige skuld van watter aard ookal wat

verskuldig was ten tyde van die verlyding van die verbandakte

asook vir toekomstige skulde in die algemeen wat daama deur die

verbandgewer aan die verbandhouer verskuldig mag word vir enige

bedrag uit welke oorsaak ookal tot die gesamentlike bedrag van die

kapitaal en die bykomende bedrag.

Kïousules 4,5 en 6 van die verband maak voorsiening vir die

heffing van finansieringskoste deur die verbandhouer teen koerse

deur hom van tyd tot tyd bepaal. Klousule 8 bepaal as volg :

"8. As sekuriteít vir die behoorlike en stiptelike betaling van die kapitaalbedrag, bykomende bedrag,

15

finanasieringskoste en alle ander gelde en bedrae opeisbaar, of wat te enige tyd verskuldig mag wees of verskuldig mag word aan die Verbandnemer of wat uit enige oorsaak hoegenaamd ontstaan, en vir die behoorlike vervulling deur die Verbandgewer van alle en iedere terme en voorwaardes van hierdie verband, verbind die Komparant q.q. híermee spesiaal as 'n vierde verband die volgende eiendom ..."

By die uitleg van bogemelde klousules moet die bepalings van art 51 van die Registrasíe van Aktes Wet 47 van 1937 nie uit die oog verloor word nie. Art 51 (1) bepaal as volg:

" 51. (1) Geen verbandakte of notariële verband wat na die inwerkingtreding van hierdie Wet geattesteer of geregistreer is, is regsgeldig ter verlening van voorkeur of voorrang ten opsigte van 'n skuld wat na die registrasie van sodanige verbandakte of notariële verband aangegaan is nie, tensy -

(a) in die verbandakte of notariële verband uitdruklik beding word dat die verbandakte of notariele verband bestem is om toekomstige skulde oor die algemeen of een of ander

16

bepaalde daarin genoemde toekomstige skuld te verseker; en (b) 'n som in die verbandakte of notariële verband vasgestel word as 'n bedrag waarbo toekomstige skulde nie deur die verbandakte of notariële verband verseker word nie.

(2) Indien 'n verbandakte of 'n notariële verband betaling deur die verbandskuldenaar heet te verseker van die koste daaraan verbonde om die sekuriteit in stand te hou en te gelde te maak of van brandassuransiepremies, of van die koste van kennisgewing of van bankprovisie, word daardie koste en vorderings nie geag toekomstige skulde in die sin van sub-artikel (1) te wees nie."

Omdat die huidige verbande voorsiening maak vir toekomstige skulde was dit nodig, ten einde die toekomstige skulde te verseker, om die perk waama art 51(l)(b) verwys, vastestel. Dit is die klaarblyklike rede vir die woorde "tot die gesamentlike bedrag van die kapitaal en die bykomende bedrag" in klousule 2. Daar is egter namens die appellant betoog dat die perk slegs

17

sover as die kapitaalbedrag strek omdat die bykomende bedrag

ingevolge art 51(2) nie geag word toekomstige skulde te wees nie.

Daar is voorts betoog dat daar in elk geval geen bewering op die

stukke gemaak is dat die appellant enige bykomende bedrae

verskuldig is nie, sodat slegs die kapitaalbedrag 'n versekerde skuld

daarstel. Daar is geen meriete in die betoog nie. Ingevolge art

51(2) word sekere koste en vorderings wel vir doeleindes van art

51(1) nie geag toekomstige skulde te wees nie. Die begrip

"bykomende bedrag" soos omskryf in klousule 1 van die verband

strek egter veel wyer as díe koste en vorderings waarvan art 51(2)

melding maak en sluit feitlik alle toekomstige skulde in. Volgens

die duidelike bewoording van klousule 2 dien die verband as

sekuriteit vir alle toekomstige skulde, "uit welke oorsaak ookal",

tot die "gesamentlike bedrag van die kapitaal en die bykomende

bedrag". Dit beteken dat die perk vir alle toekomstige skulde van

18

watter aard ookal, op die totaal van die kapitaal- en bykomende bedrag vasgestel word. Alle skulde tot op daardie bedrag is dus verseker onder die verbande. Die feit dat daar geen bykomende bedrae verskuldig mag wees nie, verminder nie die perk wat m klousule 2 vasgestel is nie. Vgl Kursan and Another v Eastern Province Buildings Society 1996(3) SA 17(A) op 21 C-F.

ín die drie verbande is 'n totale kapitaal- en bykomende bedrag vasgestel in die som van R2,87 m. Hierdie skuld was gevolglik deur verband verseker en sou eers na 30 jaar verjaar. Dit is baie meer as die voormelde voordelige balans van die appellant se bates en beteken dat sy daadwerklik insolvent is. Dit is gevolglik nie nodig om te beslis of die appellant se renteskuld bo R2,87 m ook ingevolge die verbande verseker was nie. Dit is ook nie nodig om die betoog te behandel dat die uitstel van verjaring van die hoofskuld ingevolge art 13(l)(g) van die

19

Verjaringswet nie die loop van verjaring van die borg se skuld onderbreek het nie.

Namens die appellant is in die altematief betoog dat sy in elk geval van haar verpligtinge as borg vrygestel is deur die respondent se optrede wat die bepalings van die borgkontrak verbreek en haar posisie as borg verswaar het. Hierdie optrede sou eerstens daarin bestaan het dat saamgestelde in plaas van enkelvoudige rente op Louw se uitstaande rekening gehef is tot Augustus 1988 en tweedens dat respondent daama saamgestelde in plaas van enkelvoudige rente op voorskotte wat ultra vires sy statuut was, gehef het.

Voor 26 Augustus 1988 het art 107 (1) van die respondent se

statuut as volg bepaal :

"Lede sal rente betaal aan die kooperasie op alle bedrae verskuldig aan die kooperasie van watter aard ookal, teen 'n koers wat van tyd tot tyd deur die raad bepaal word."

20

Op 26 Augustus 1988 is art 107 (1) gewysig deur die byvoeging van die volgende sin : "In hierdie artikel beteken rente saamgestelde rente".

Voor sy wysiging het art 107(1) reeds voorsiening gemaak vir die betaling van rente "op alle bedrae verskuldig aan die koöperasie van watter aard ookal". Hierdie woorde is wyd genoeg om ook rente reeds verskuldig in te sluit. Ek is gevolglik van mening dat saamgestelde rente deur die respondent se statuut geoorloof was selfs voor die wysiging. In die lig van die bewoording van die statuut is die huidige geval onderskeibaar van 'n saak soos Boland Bank Ltd v The Master and Another 1991 (3) SA 387 (A) op 389 F-G waarop die advokaat namens die appellant gesteun het.

Volgens berekenings in die stukke is dit verder duidelik dat selfs indien enkelvoudige rente teen die respondent se laagste koers van toepassing op uitstaande rekenings teen Louw se skulde gehef

21

was, Louw se skuld nog steeds die appellant se skuld ingevolge haar borgkontrak met etlike miljoene rande sou oortref het sodat daar geen sprake kan wees dat haar posisie as borg verswaar is deur die heffing van saamgestelde rente nie.

Ek behandel vervolgens die betoog dat die appellant se posisie as borg verswaar is deurdat rente op beweerde ultra vires voorskotte gehef is. Dit was gemene saak dat die respondent ter delging van Louw se skulde gedurende die tydperk Maart 1987 tot Januarie 1990 'n totale bedrag van meer as R4,5 m aan sy ander groot skuldeisers Boland Bank Bpk, Die Trust Bank van Afrika Bpk en die Landbank betaal het. Dit was verder gemene saak dat die respondent sekere leweransiers betaal het vir goedere wat direk aan Louw gelewer is ("die sg direkte fakture"). Die betalings aan ander skuldeisers en leweransiers is teen Louw se rekening gedebiteer en saamgestelde rente is daarop gehef.

22

Die respondent, synde 'n koöperasie, is 'n statutêre liggaam

wat sy bevoegdhede aan die Koöperasiewet 91 van 1981 ontleen.

Die bevoegdhede van koöperasies word vervat in art 49 van die

Koöperasiewet, die tersaaklike gedeeltes waarvan as volg lees :

"49(1) 'n Koöperasie kan, behoudens die bepalings van hierdie Wet en die uitsluitings en kwalifikasies in sy statuut vervat, alles doen wat redelikerwys nodig is om sy doelstellings uit te voer, en in besonder -

(u) aan sy lede geld voorskiet."

Artikel 7 van respondent se statuut handel met sy

bevoegdhede en die relevante gedeeltes daarvan lees as volg:

"7(1) Die koöperasie kan behoudens die bepalings van die Wet en die statuut alles doen wat nodig is om sy doelstellings uit te voer en kan in besonder die bevoegdhede soos uiteengesit in artikel 49(1) van die Wet uitvoer maar onderhewig aan die volgende uitsluitings en kwalifikasies.

(b) die bevoegdhede wat deur die ondergenoemde

23

subartikels van artikel 49(1) van die Wet gemagtig word, word soos volg gekwalifiseer

(iv) by die uitvoering van subartikel l(u) mag die kooperasie geld aan sy lede voorskiet slegs as voorskotte op landbouprodukte deur hulle aan hom afgelewer en as voorskotte vir die betaling van ..." (Die uitsonderingsgevalle wat volg is nie van toepassing nie.)

Namens die appellant is betoog dat die betalings van appellant se skulde sowel as direkte fakture beide verbode voorskotte daarstel en gevolglik nietig is ingevolge para 7(l)(b) van die respondent se statuut. In hierdie verband het beide partye aanvaar dat die woorde in para 7(l)(b), "geld aan sy lede voorskiet", na 'n lenings= ooreenkoms in gemeenregtelike sin verwys.

Wat betref die betalings aan Louw se skuldeisers, stel die blote betaling deur A van B se skuld aan C volgens ons reg nie

24

opsigself 'n leningsooreenkoms tussen A en B daar nie. A sou in die algemeen 'n verhaalsreg hê teen B wat gegrond is op onregmatige verryking maar in die afwesigheid van 'n ooreenkoms tussen A en B ingevolge waarvan A aan B geld leen deur middel van die betaling van B se skuld aan C, volg dit nie uit die blote feit van betaling dat die betaling ingevolge 'n leningsooreenkoms geskied het nie. Sien Odendaal v Van Oudtshoorn 1968 (3) SA 433 (T) op 437 A; Standard Bank Financial Services Ltd v Taylam (Pty) Ltd 1979 (2) SA 383 (C) op 387 D-G en Kirsten and Another v Bankorp Ltd and Others 1993 (4) SA 649 (C) op 659 G-I. In die huidige saak is daar geen feite hoegenaamd waarop bevind kan word dat daar 'n leningsooreenkoms aangegaan is tussen Louw en die respondent vir die betaling deur die respondent van Louw se skulde aan die ander skuldeisers nie. Inteendeel, indien daar so 'n leningsooreenkoms aangegaan was,

25

sou mens 'n verwysing daarna verwag het in die ooreenkomste van 27 April l987 en 27 Mei l988, wat nie die geval is nie. Al wat bekend is, is die feit van die betalings wat teen Louw se lopende rekening gedebiteer is. Daar kan gevolglik nie bevind word dat die respondent deur die betalings geld aan Louw geleen het nie en dat die betalings ultra vires die statuut was nie.

Wat die sogenaamde direkte fakture betref, blyk dit dat in dié gevalle waar die respondent nie goedere wat Louw benodig het in voorraad gehad het nie, Louw gemagtig is om die goedere direk van 'n ander verskaffer te bestel en lewering daarvan te ontvang. Die respondent het dan die ander verskaffer betaal en Louw se rekening gedebiteer. Wat ookal die presiese aard van sulke transaksies is, is daar geen basis op die stukke om die betalings deur die respondent as lenings aan Louw te beskou nie. Dit wil voorkom dat dit niks meer as 'n werkswyse was wat die respondent

26

gevolg het vir die verskaffing van benodighede aan sy lede wat heeltemal geoorloof sou wees ingevolge art 7(1) van sy statuut en art 49(1) van die Koöperasiewet 91 van 1981. Gevolglik kan ook nie bevind word dat die betalings van direkte fakture ultra vires respondent se statuut was nie.

Daar is ten slotte namens die appellant betoog, met 'n beroep op die beslissing in Kalil v Decotex (Pty) Ltd and Another 1988 (1) SA 943 (A) op 980 B-D, dat die sekwestrasiebevel nie toegestaan moes gewees het nie omdat die appellante haar aanspreeklikheid op bona fide en redelike gronde betwis. Ek stem nie saam nie. Soos hierbo blyk, was die uiteindelike verwere gebaseer op 'n uitleg van die betrokke verbandaktes en die respondent se statuut. Geen oorblywende feitegeskille het hierby 'n rol gespeel nie. Die sogenaamde Badenhorst-reël waarna in die Kalil-saak verwys is op 980 D-G kan dus geen toepassing in die

27

huidige saak vind nie. Sien ook Re a Company, ex parte Fin Soft Holdings SA 1991 BCLC 737 (Ch D) op 738f-740c.

Gevolglik word die appèl met koste, insluitende die koste van twee advokate, afgewys.

W VIVIER AR.

EKSTEEN AR)

SCHUTZ AR)

ZULMAN AR)

STREICHER AR) Stem saam.

▲ To the top