S v Sikhakame en Andere (513/94; 585/94; 724/94) [1997] ZASCA 99 (21 November 1997)


REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA

DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA

Saak No 513/94: 724/94: 585/94

In die saak tussen:

KHANYIZE JACOB SIKHAKAME Eerste Appellant

VOVO ALFRED KHUMALO Tweede Appellant

THANDAZAMI FREDERICK SIKHAKAME Derde Appellant

en

DIE STAAT - Respondent

CORAM: MARAIS, OLIVIER, ARR et VAN COLLER, WnAR
VERHOOR: 3 November 1997

GELEWER: 21 November 1997

UITSPRAAK VAN COLLER, WnAR

2

Die drie appellante is op 25 Augustus 1994 in die

Witwatersrandse Plaaslike Afdeling skuldig bevind aan moord (twee aanklagte) en aan huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede. Op die klagte van huisbraak en roof met verswarende omstandighede is die appellante elkeen gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf en die doodvonnis is opgelê ten opsigte van elkeen van die twee moordklagtes. Die appellante het ingevolge artikel 316 A van Wet 51 van 19 77 slegs appêl aangeteken teen die skuldigbevindings en vonnisse op die twee aanklagte van moord. Verlof is nie aan die appellante verleen om teen die skuldigbevinding aan huisbraak met die opset om te roof en roof te appelleer nie. Appellant 3 het in hierdie hof nie sy skuldigbevindings aan moord aangeveg nie en slegs gevra dat die doodvonnisse hom opgelê tersyde gestel word. Saam met die drie appellante het ene Tryphina Nomvula Dlamini aanvanklik as beskuldigde 1 tereggestaan. Sy is onskuldig

3

bevind op al die aanklagte.

Die gebeure wat aanleiding gegee het tot die aanklagte teen die appellante is kortliks die volgende. Gedurende die aand van 20 April 1992 is Mnr Jan de Beer en Mev Magdalena Susanna de Beer in hul woonhuis te Totiusstraat 13, Ridgeway, in die distrik van Johannesburg vermoor. Mnr de Beer was 69 jaar oud, Mev de Beer 67 en albei was reeds op pensioen. Beskuldigde 1 was die oorledene se huishulp en appellant 3 was blykbaar haar vriend. Daar was geen geforseerde ingang tot die huis nie en toegang is moontlik verkry deur middel van beskuldigde 1 se sleutels. Die oorledenes is waarskynlik aangeval terwyl hulle televisie gekyk het. Die oorledenes het beswyk as gevolg van ernstige hoofbeserings wat waarskynlik deur die toediening van houe met 'n hamer veroorsaak is. Goedere wat uit die huis van die oorledenes verwyder is, is later teruggevind. Volgens die getuienis wat deur die Staat aangebied is, het die ondersoekbeampte,

4 Adjudant Offisier Beyleveldyas gevolg van inligting wat hy

ontvang het op 5 Mei 1992 na woonstelle te Costastraat in

Booysens gegaan waar hy appellant 1 aangetref het wat 'n

radio aan hom oorhandig het. Volgens die getuienis van die

oorledenes se dogter het hierdie radio aan hulle behoort en

was dit een van die items wat uit die huis verwyder is.

Appellant 1 het Beyleveld na 'n fabriek, Sanitech, geneem

waar appellant 2 gearresteer is. Vandaar is die polisie na

'n sekuriteitsfirma te Germiston waar appellant 3 gearresteer

is. Volgens die getuienis van Beyleveld het appellant 2, wat

ook by die woonstelle te Costastraat gewoon het, by sy kamer

'n blou sak aan hom oorhandig. In die sak was daar onder

andere drie handsakke en 'n beursie waarin 'n St Johns

Ambulans-medalje was. In die sak was ook 'n beursie met 'n

foto van appellant 2 daarin. Volgens die getuienis het

hierdie artikels met uitsondering van die foto, aan die

oorledenes behoort. Daar is ook volgens die getuies van die

5 Staat ou munte by appellant 2 gevind wat soortgelyk was aan

munte wat aan die oorledenes behoort het.

Dit was ook die Staat se saak dat die appellante

uitwysigings by die huis van die oorledenes gedoen het en

verklarings gemaak het wat hulle met die moord op die

oorledenes verbind. Die verklarings is deur polisie-

offisiere geneem en die uitwysings is ook behartig deur

polisie-offisiere wat nie by die neem van die verklarings

betrokke was nie. Daar is beswaar gemaak teen die

toelaatbaarheid van die uitwysings en die verklarings op

grond daarvan dat dit nie vrywillig gemaak was nie. In 'n

binneverhoor het appellant 1 getuig dat hy deur Beyleveld en

sersant Gumisa (wat deur Beyleveld as tolk gebruik is) by die

Brixton Moord- en Roofeenheid geslaan is. Hy is ook laat in

die nag na sy arrestasie op 5 Mei 1992 uit sy sel geneem en

deur Kaptein Steyn en Gumisa aangerand. Hy is met

elektrisiteit geskok en hy het ingewillig om te maak soos

6 hulle sê. Die volgende oggend Is hy ook deur Beyleveld met

'n vuurwapen gedreig. Volgens sy getuienis is hy aangesê wat

hy moes uitwys en hy is voorgesê wat hy in sy verklaring moes

Bë.

Volgens die getuienis van appellant 2 is hy deur Beyleveld aangerand toe hy by Sanitech gearresteer is. Daarna is hy ook deur twee polisiebeamptes in Steyn se motor aangerand. Gedurende die nag is hy ook uit sy sel geneem en deur Beyleveld en ander polisiebeamptes geskop. Hy is elektriese skokke toegedien en aangesê om saam te stem met alles wat hulle hom vertel. Beyleveld het ook 'n vuurwapen teen sy kop gehou, gedreig om hom te skiet en om hom in 'n mynskag te gooi. Die volgende oggend is hy voorgesê wat om in sy verklaring te sê. Hy is geneem om uitwysings te doen. Hy is aangesê om 'n hek uit te wys en toe hy vra waarom hy dit moes doen is hy op sy elmboog geskop deur ' n polisie-beampte wat ook op die toneel was. Nadat hy die uitwysings

7 gedoen het, is hy deur Gumisa na 'n polisie-offisier geneem

om 'n verklaring te maak. Hy moes sy klere uittrek en in

antwoord op 'n vraag wie hom aangerand het, het hy gesê dat

dit 'n ander polisieman was. Hy het aan die polisiebeampte

wat sy verklaring afgeneem het, gesê dat hy deur Beyleveld en

Gumisa voorgesê is.

Beyleveld, wat namens die Staat in die binnevehoor

getuig het, het getuig dat nadat die appellant op 5 Mei 1992

gearresteer is, hulle om 18.40 terug was by die kantore van

die Brixton Moord- en Roofeenheid. In die dienskantoor en

voordat die appellante na die selle geneem is, het hy

afsonderlik met elkeen onderhoude gevoer en hulle was bereid

om uitwysings te doen. Op 6 Mei 1992 is reëlings met

offisiere getref om die uitwysings te behartig. Nadat die

uitwysings afgehandel is, het hy weer onderhoude gevoer met

die appellante. Hulle was bereid om verklarings af te lê.

Sowel Gumisa en Steyn het in hul getuienis ontken dat die

8

appellante aangerand is. Die offisiere aan wie die

uitwysings gedoen is en die wat die verklarings afgeneem het, is ook as getuies geroep. Hulle het getuig dat hulle geen beserings aan die appellante gesien het nie en dat die appellante teenoor hulle ontken het dat hulle aangerand is. Kaptein Oosthuizen, aan wie appellant 2 uitwysings gedoen het, het getuig dat hy nie in haar teenwoordigheid aangerand is nie. Sersant Ximba wat saam met Kaptein Oosthuizen teenwoordig was toe appellant 2 uitwysings gedoen het, het in sy getuienis ontken dat hy appellant 2 geskop of gedreig het.

Die hof a quo het die weergawes van die appellante in soverre dit met die Staatsaak bots, as vals verwerp en bevind dat die Staat bewys het dat die verklarings, uitwysings en daarmee gepaardgaande verklarings vrywillig, ongedwonge en sonder onbehoorlike beïndvloeding geskied het. Dit is derhalwe as getuienis toegelaat.

9 Fotos is geneem van die punte wat deur die appellante op

die misdaadtoneel uitgewys is en notas is ook gemaak van die

gepaardgaande verduidelikings wat deur hulle gemaak is. Die

fotos en notas ten aansien van appellant 1 is vervat in

bewysstuk M. Hiervolgens blyk dit dat appellant 1 saam met

twee ander persone na wie hy verwys het as Frederick en

Alfred, betrokke was by die moord op die twee oorledenes. Hy

het ook 'n kamer uitgewys waar 'n radio sou gestaan het en

gemeld dat hy die radio geneem het. Die verklaring wat van

appellant 1 geneem is, is vervat in bewysstuk N. Daaruit

blyk dit dat hy saam met twee persone, na wie hy weereens

verwys het as Frederick en Alfred, die roof by die oorledenes

se huis beplan het. In die verklaring word beweer dat hulle

die huis deur die agterdeur binnegegaan het en na 'n kamer is

waar 'n man en 'n vrou televisie gekyk het. Alfred sou beide

van hulle op die kop geslaan het met 'n hamer. Appellant 1

meld ook in sy verklaring dat hulle nie geld in die huis

10

gekry het nie maar dat hy 'n draagbare radio geneem het en

dat, toe hy gearresteer is, die polisie dié radio in sy kamer gekry het.

Die fotos en notas van appellant 2 se uitwysing by die moordtoneel is vervat in bewysstuk R. Hiervolgens sou hy uitgewys het waar die oorledenes gesit het, word gemeld dat hy en ene Jacob hamers gehad het en dat hulle die oorledenes geslaan het. Die verklaring wat appellant 2 gemaak het, is vervat in bewysstuk Q. In die verklaring meld hy dat hy saam met twee persone, Jacob en Thanduzani, die huis by die agterdeur, wat deur Thanduzani oopgesluit is, binnegegaan het. Hy het albei die oorledenes met 'n hamer geslaan. Hy meld ook in die verklaring dat hy "ou geld" in die huis gekry het en dat hy omtrent vyf leer handsakke geneem het. Dit dien vermeld te word dat een van appellant 1 se name Jacob is, een van appellant 2 se name is Alfred en appellant 3 die name Thanduzani en Frederick het. Dit dien verder

11

vermeld te word dat nadat die appellante gearresteer is hulle ook, volgens die getuienis van Steyn en Beyleveld, 'n oop stuk veld uitgewys het waar 'n hamer na bewering weggegooi is. Dit is egter nie daar gevind nie. Wat wel die volgende dag in 'n stormwatergat in hierdie omgewing gevind is, was 'n paar kouse en 'n paar handskoene wat met bloed bevlek was. Die bloedgroep van die bloed aan die kouse was dieselfde as dié van Mev de Beer.

Verdere getuienis wat die appellante en veral appellant 1 met die misdade verbind, is dié van Thomas Ntshapha wat ook by die woonstelle gewoon het. Hy het getuig dat hy al drie die appellante ken en dat appellante 1 en 2 ook gebly het by die woonstelle in Costastraat waar hy gewoon het. Gedurende die Sondag en die Maandag van die Paasnaweek van 1992 was hy saam met appellante 1 en 2 by sokkerwedstryde. Hulle het Maandag 20 April 1992 om 17.00 uitmekaar gegaan maar later die aand het hy al drie die appellante weer by die woonstelle

12

gesien. Appellant 1 het 'n radio by hom gehad en daarna was

hy dikwels saam met hom terwyl die radio gespeel het. Die radio is deur die polisie geneem toe hulle appellant 1 daar weggeneem het. Indien hierdie getuie se getuienis asook die van Beyleveld waar sou wees, is die radio waarmee appellant 1 die aand van 20 April by sy woonplek opgedaag het, die radio wat die aand uit die huis van die oorledenes verwyder is.

Appellant 1 se verweer is 'n alibi. Hy het getuig dat hy gedurende die Paasnaweek van 1992 by Heibron, 'n plek naby Pretoria was. Hy het reeds die Donderdag daarheen vertrek en eers Dinsdag 21 April 1992 na sy woonplek teruggekeer. By Heibron het hy by twee jong mans gekuier maar hy kon hulle sedertdien nie weer opspoor nie. Appellant 1 het erken dat Ntshapha teenwoordig was toe hy gearresteer is. Hy het ontken dat hy die betrokke radio in sy besit gehad het en het getuig dat hy die radio vir die eerste keer gesien het toe

13 Beyleveld dit by Brixton aan hom gewys het. Die polisie het

wel by sy woonplek ' n trui van hom en ' n groen sak van

appellant 2 geneem. Hy kon egter nie onthou of die sak

oopgemaak is nie. Appellant 1 het erken dat daar na sy

arrestasie by 'n plek naby 'n oop veld stilgehou is maar hy

het ontken dat hy enigiets daar moes doen. Appellant 1 het

voorts ook erken dat hy op 12 Mei 1992 ' n

pleitverduideliking in die landdroshof gegee het. Hy verwys

daarin na 21 April 1992 toe hy saam met appellante 2 en 3 'n

huis by 'n kombuis binnegegaan het; dat twee persone deur

appellant 2 aangerand is en dat hy 'n klein radio geneem het.

Appellant 1 het getuig dat hy aan die landdros gesê het wat

hy deur die polisie aangesê is om te sê. Beyleveld en Gumisa

was in die hof en hy was bang vir hulle.

Appellant 2 het getuig dat hy ook nie gedurende die

paasnaweek van 1992 by sy woonplek in Costastraat was nie.

Hy het laat die Donderdagmiddag met 'n huurmotor na sy tuiste

14 by Kitsdrif in Natal vertrek. Hy is daarheen om 'n fees ter

ere van sy afgestorwe moeder te hou. Hy het laat die

Maandagmiddag van 21 April 1992 saam met sy broer Johnson

Khumalo na Johannesburg teruggekeer. Hy het eers die

Dinsdagoggend vroeg by sy woonplek aangekom. Die polisie het

wel sy sak van sy woonplek verwyder maar hy weet niks van die

geroofde goedere wat in die sak gevind sou gewees het nie.

Appellant 2 het ontken dat hy 'n plek in die veld wou

uitgewys het. Hy is wel deur die polisie aangesê om uit die

motor te klim en te help soek na 'n wapen. Hy het erken dat

hy in die landdroshof skuldig gepleit het maar hy het getuig

dat hy daartoe gedwing was. (Hy is nie aangaande sy pleit

ondervra nie en dit blyk dat hy reeds daar beweer het dat hy

gedwing was). Appellant 2 se broer, Johnson Khumalo, en

verskeie ander persone het getuig dat hy die naweek te

Kitsdrif was waar die fees gehou is. Die vrou saam met wie

appellant 2 gebly het, Tindi Xaba, het getuig dat hy die

15 naweek weg was na sy tuiste en dat hy eers vroeg

Dinsdagoggend by sy woonplek in Johannesburg aangekom het.

Appellant 1 se alibi is deur die verhoorhof in die lig

van die getuienis as geheel oorweeg en dit is bevind dat daar

geen redelike moontlikheid bestaan dat hy by die plek kon

gewees het waar hy gesê het hy was nie. Dit word ook in die

uitspraak gemeld dat die erkennings wat appellant 1 in sy

verklaring gemaak het aantoon dat hy intieme kennis het van

die gebeure by die moordtoneel. Die verhoorhof het die

getuienis van Thomas Ntshapha aanvaar en hiervolgens was

appellant 1 die naweek by sy woonplek te Costastraat.

Volgens die getuienis van Thomas Ntshapha was appellant 1 in

besit van 'n radio en die radio het aan die oorledenes

behoort. Die geleerde verhoorregter wys tereg in sy

uitspraak daarop dat indien Beyleveld se getuienis nie

aanvaar word nie, die vind van die radio op geen ander manier

verduidelik kan word nie. Dit sou beteken dat Beyleveld in

16 besit daarvan moes gekom het op een of ander onverklaarbare

wyse en besit daarvan sonder enige aanleiding daartoe aan

appellant 1 moes toegedig het. Daar word ook op gewys dat

appellant 1 nie 'n goeie getuie was nie en dat daar gebreke

in sy saak was. Die hof a guo het appellant 1 se saak waar

dit met die Staatsaak bots, as vals bo redelike twyfel

verwerp.

Die verhoorhof het appellant 2 ook nie as 'n goeie

getuie beskou nie en het op verskeie onbevredigende aspekte

in sy getuienis gewys. Volgens die uitspraak kan daar geen

twyfel wees nie dat artikels wat alleenlik tydens die roof

buitgemaak kon gewees het by hom gevind is. Dit is verder

bevind dat daar geen redelike moontlikheid is dat die polisie

leuens vertel het of 'n fout kon maak met die vind van die

artikels by appellant 2 nie. Die verhoorhof wys daarop dat

appellant 2 se erkennings die polisie se getuienis bevestig

endat Thomas Ntshapha se getuienis met sy alibi in stryd is.

17 Die verhoorhof het ook die getuienis van al die getuies wat

ter stawing van die alibi aangebied is behoorlik oorweeg.

Sekere kritiek is ten opsigte daarvan uitgespreek.

Uiteindelik was die verhoorhof die mening toegedaan dat, in

die raamwerk van die geheel van die getuienis, nie gesê kon

word dat die alibi-getuienis van appellant 2 redelik moontlik

waar is nie. Trouens, dit is op die totaliteit van die

getuienis bevind dat daar geen twyfel is dat die

alibiweergawe bo redelike twyfel vals is nie.

In hierdie Hof is die bevinding van die hof a guo oor die toelaatbaarheid van die getuienis aangaande die uitwysings en verklarings deur beide appellante aangeveg.

Mnr Kock, wat namens appellant 1 opgetree het, het eerstens aangevoer dat Beyleveld en Gumisa mekaar nie behoorlik staaf ten opsigte van die tyd van die onderhoud toe appellant 1 sou ingewillig het om vrywillig 'n verklaring te maak nie. Hy het aangevoer dat die verskil in die getuienis

18

aangaande wanneer die onderhoud met appellant 1 gevoer sou

gewees het, twyfel moet laat of so 'n onderhoud wel gevoer is, dat die verhoorhof fouteer het deur te bevind dat so 'n onderhoud gevoer is en dat die af lê van die verklaring daarop gevolg het soos deur Beyleveld getuig is. Dit op sy beurt skep twyfel of die verklaring vrywillig gemaak is, aldus die argument. Volgens die getuienis van Beyleveld het die onderhoud plaasgevind nadat appellant 1 van die uitwysing teruggekeer het op 6 Mei 1992 en moes dit laat die middag gebeur het. Dit is so dat Gumisa nie baie seker was wanneer die onderhoud plaasgevind het nie. Hy sê wel dat dit op 14 Mei was en na 14.00. Dit moet in gedagte gehou word dat hy slegs as tolk opgetree het; dat daar met verskeie persone onderhoude gevoer is en dat dit sekerlik nie van hom verwag kan word om te onthou presies wanneer dle onderhoud plaasgevind het nie. Ek stem saam met Mej de Beer, wat namens die respondent opgetree het, dat Gumisa se getuienis

19

nie afbreuk doen aan die getuienis van Beyleveld nie en dat

die hof a quo tereg bevind het dat daar niks verdags aan hierdie onderhoud is nie.

Mnr Kock het tweedens aangevoer dat die getuienis van Beyleveld aangaande die onderhoude wat gevoer sou gewees het ten tye waarvan die drie appellante sou ingewillig het om uitwysings te doen, as totaal onwaarskynlik verwerp moes gewees het. Dit is aangevoer dat daar nie voldoende tyd was om sulke onderhoude te voer nie. Volgens Beyleveld het hy en die appellante om ongeveer 18.40 te Brixton arriveer en is die onderhoude in die dienskamer gehou. Volgens die inskrywing in die voorvalleboek, bewysstuk U, is appellant 1 alreeds teen 18.45 in die sel geplaas. Dit is aangevoer dat so 'n belangrike aspek beswaarlik binne vyf minute afgehandel kon word. Afgesien daarvan dat Beyleveld nie oor hierdie aspek in kruisverhoor ondervra is nie en moontlik 'n verduideliking hieromtrent kon verstrek het, stem ek saam met

20

die hof a quo dat daar geen rede is waarom dit ' n lang

onderhoud moes gewees het nie. Appellant 1 het reeds gedurende die dag sy samewerking verleen deurdat hy Beyleveld na appellant 2 geneem het en daarna na die plek waar appellant 3 opgespoor is. Gumisa se getuienis onder kruisverhoor staaf Beyleveld se getuienis want hy sê dat die appellante slegs gevra is of hulle bereid is om die toneel te gaan uitwys en hy verwys na die onderhoud as 'n "ondervraginkie". Die verdere kritiek deur Mnr Kock geopper, naamlik dat Steyn nie kon bevestig dat Beyleveld sodanige onderhoude gevoer het nie, doen soos tereg deur Mej de Beer betoog, geen afbreuk aan Beyleveld se getuienis nie.

Mnr Kock se laaste argument ten aansien van die binneverhoor was dat die hof a quo fouteer het om appellant 1 se getuienis dat hy op twee geleenthede deur die polisie aangerand is, te verwerp. Mnr Kock het gesteun op die getuienis dat daar bloed op die hemp van appellant 1 sou

21

gewees het en dat hy 'n besering aan sy lip sou gehad het.

Appellant 2 steun wel die getuienis van appellant 1 dat daar bloed op laasgenoemde se hemp was. Die hof a quo het appellant 1 as 'n swak getuie bestempel en na onwaarskynlikhede in sy weergawe verwys en appellant 2 se getuienis as vals verwerp. Appellant 1 was volgens sy weergawe ernstig aangerand dog geen ander persoon het enige beserings aan hom gesien nie. Selfs appellant 2 het getuig dat hy nie 'n besering aan appellant 1 gesien het nie. Dit is na my mening nie aangetoon dat die verhoorhof enige mistasting begaan het of dat sy bevinding ten aansien van die beweerde aanrandings verkeerd is nie. Vir voormelde redes kan daar na my mening nie ingemeng word met die verhoorhof se bevinding dat die erkennings en uitwysings vrywillig en ongedwonge gemaak is nie.

Afgesien van hierdie getuienis wat appellant 1 met die misdade verbind, is die getuienis aangaande die radio wat in

22 sy besit gevind is baie belangrike getuienis teen hom.

Hierdie getuienis saamgenome met die valse ontkenning dat hy

in besit van die radio was kan op sigself moontlik voldoende

wees om die afleiding dat hy aandadig was by die misdade as

enigste redelike afleiding te regverdig. Mnr Kock, wel

deeglik bewus van hierdie probleem, het na verskeie aspekte

in die getuienis verwys ter ondersteuning van sy argument dat

die verhoorhof fouteer het om te bevind dat die oorledenes se

radio in appellant 1 se besit gevind is. Die verhoorhof het

volledig met hierdie aspekte gehandel en ook hier het die

verhoorhof hom nie skuldig gemaak aan enige mistasting nie.

Onoorkomelike struikelblokke in appellant 1 se weg is

eerstens die getuienis van Ntshapha wat steun bied aan die

getuienis van Beyleveld dat die radio in appellant 1 se besit

was. Tweedens bestaan daar geen ander redelike moontlikheid

aangaande hoe die radio in die polisie se besit gekom het

nie.

23

Mnr Kock het, wat die meriete betref, aangevoer dat die

hof a guo fouteer het om appellant 1 se alibi te verwerp. Soos reeds gemeld, het die verhoorhof die getuienis in geheel oorweeg en tot die gevolgtrekking gekom dat appellant 1 met 'n valse alibi vorendag gekom het. Ook hier bestaan daar na my mening nie enige gronde om inmenging met die bevindings te regverdig nie.

Ten slotte dien dit vermeld te word dat Mnr Kock nie aangevoer het dat op die aanvaarding van die Staat se getuienis appellant 1 se betrokkenheid by die woonhuis sodanig was dat hy nie skuldig aan moord op die oorledenes is nie. Appellant 1 se appèl teen sy skuldigbevinding op die twee moord aanklagte kan derhalwe nie slaag nie.

Mnr Van Wyk, wat namens appellant 2 opgetree het, het ook die hof a guo se bevinding aangaande die toelaatbaarheid van die verklaring aangeveg. Dit is onder andere deur Mnr Van Wyk aangevoer:

24

(a) Dat die hof a ouo versuim het om voldoende gewig

te verleen aan appellant 2 se volledige relaas van die aanrandings en die marteling;

  1. dat appellant 2 se getuienis dat sy gesig geswel was as gevolg van die aanranding in die motor kort na sy arrestasie aanvaar moes gewees het veral ook nadat appellant 3 bevestig het dat sy gesig geswel was;

  2. dat die hof a guo se bevinding dat hy nie in die nag verwyder is uit sy sel omdat die voorvalleboek nie daarvan melding maak nie, op 'n wanvoorstelling neerkom;

  3. dat Gumisa, wat Beyleveld moes kon staaf, swak getuienis gegee het aangaande die beweerde onderhoud op 6 Mei 1992.

Mnr Van Wyk het aangevoer dat die hof a quo fouteer het om in die lig van al die omstandighede te bevind dat die Staat

25 bewys het dat die verklaring vrywillig was.

Net soos in die geval van appellant 1 het die hof a guo

wat appellant 2 betref geloofwaardigheidsbevindings gemaak en

sy getuienis as vals verwerp. Appellant 2 is bestempel as 'n

swak getuie wie se getuienis dikwels vaag en ontwykend was

met vele lang pouses voordat hy geantwoord het. Daar is na

verskeie onwaarskynlikhede in sy getuienis verwys. So bv wys

die hof a guo daarop dat dit onwaarskynlik is dat appellant

2 onmiddellik ten tye van sy arrestasie sonder enige

aanleiding daartoe aangerand sou word en dat dit ook nog sou

plaasvind voor lede van die publiek. Volgens appellant 2 se

getuienis was dit 'n baie ernstige aanranding wat gedurende

die nag geskied het. 'n Mens sou verwag dat hy ernstige

beserings moes opgedoen het. Volgens appellant 2 se

getuienis was sy hele liggaam opgeswel as gevolg van hierdie

aanranding. Die offisiere wat die uitwysing behartig en die

verklaring geneem het, het egter nie enige beserings gesien

26

nie. Voorts is belangrike aspekte van sy getuienis aangaande

die aanrandings nie aan die staatsgetuies gestel nie. Die feit dat die voorvalleboek nie 'n inskrywing bevat dat appellant 2 in die middel van die nag uit die selle geneem is nie bewys natuurlik op sigself nie dat hy nie uit die selle verwyder is nie. Dit is egter nie al wat hieroor bevind is nie. Volgens die getuienis van Konstabel Bisschof wat die nag in die dienskamer op diens was, sou hy nie toelaat dat 'n persoon uit die selle verwyder word sonder dat hy dit aanteken nie. Die hof a guo wys tereg daarop dat hierdie getuienis aantoon dat die afwesigheid van 'n inskrywing nie 'n oorsig kon gewees het of die resultaat van 'n sameswering met die ondersoekspan was nie. Die getuienis van Gumisa is ook nie sodanig dat dit 'n vraagteken plaas aangaande die onderhoud wat op 6 Mei 1992 plaasgevind het nie. Dit is na my mening nie aangetoon dat die hof a quo se bevinding dat die verklaring vrywillig gemaak is, verkeerd is nie.

27

Die geloofwaardigheidsbevindings van die hof a guo is

ook 'n struikelblok in die weg van Mnr Van Wyk se argument dat fouteer is in die bevinding dat die verskillende uitwysings vrywillig was. Die hof a guo het met van die aspekte wat Mnr van Wyk in hierdie Hof geopper het, gehandel en ek volstaan deur net na die volgende te verwys. Die belangrikste uitwysings is die wat by die moordtoneel te Totiusstraat plaasgevind het. Dit is aangevoer dat Kaptein Oosthuizen appellant 2 nie die heeltyd in sig kon gehad het nie en dat sy weergawe dat hy deur Ximba op die toneel aangerand is nie as nie redelik moontlik waar uitgesluit kan word nie. Dat Kaptein Oosthuizen dit nie sou opmerk nie is na my mening egter uiters onwaarskynlik. Die fotos toon ook nie dat hy sy arm wat beseer sou gewees het deurlopend moes vashou nie en dat appellant 1 op die elmboog geskop is, is ook nie aan Ximba in kruisverhoor gestel nie. Dit is ook baie onwaarskynlik dat Ximba, wat nie deel van die ondersoek-

28

span was nie, aan appellant 2 sou voorsê wat hy moes uitwys.

Ook wat die uitwysings betref is ek van mening dat dit nie aangetoon is dat die hof a guo se bevindings verkeerd is nie.

Wat die meriete van die saak betref het Mnr Van Wyk aangevoer dat appellant 2 'n duidelike en sterk alibi daargestel het wat gesteun is deur 'n hele aantal getuies. Weereens kan daar na my mening nie fout gevind word met die verhoorhof se bevinding in hierdie verband nie. Die getuienis van Beyleveld aangaande die geroofde goedere wat by appellant 2 gevind is, is uiters belangrike getuienis en na my mening verdoemend. Ook wat hierdie getuienis betref bestaan daar geen redelike moontlikheid dat die polisie op een of ander onverklaarbare wyse in besit van die goedere gekom het nie of dat iemand anders die goedere in appellant 2 se sak sou geplaas het nie. Dat die polisie appellant 2 se foto vanuit 'n album wat dan kwansuis in die sak sou gewees

29

het in die beursie geplant het, is vergesog. Benewens

hierdie getuienis is daar ook die getuienis van Ntshapha dat appellant 2 die aand van die moord saam met appellante 1 en 3 by die woonstelle te Costastraat was. Sy getuienis is deur die hof a guo aanvaar. Mnr Van Wyk het, net soos Mnr Kock, ook nie aangevoer dat selfs indien die getuienis van die Staat aanvaar word die bevinding dat appellant 2 skuldig is aan moord verkeerd is nie.

Appellant 2 se appèl teen sy skuldigbevindings op die twee aanklagte van moord kan derhalwe nie slaag nie.

Die appèl van die drie appellante teen die doodvonnis moet in die lig van die Konstitusionele Hof se beslissing in S v Makwanyane and Another 1995(3) SA 391 (CC) gehandhaaf word. Die aangewese weg is om die saak terug te verwys na die hof a guo om ander gepaste vonnisse te oorweeg en op te

lê.

Die volgende word beveel:

30

1. Die appèl van appellante 1,2 en 3 teen hul

skuldigbevindings aan moordopaanklagte 2 en 3 word van die hand gewys.

  1. Die doodvonnisse appellante 1,2 en 3 op aanklagte 2 en 3 opgelê word tersyde gestel.

  2. Die saak word na die hof a quo terugverwys om 'n gepaste vonnis op aanklagte 2 en 3 ten opsigte van elkeen van appellante 1,2 en 3 te oorweeg en op te lê.

VAN COLLER WnAR

MARAIS, AR

OLIVIER, AR Stem saam

▲ To the top