Mastertreads v Breed (134/1997) [1999] ZASCA 1 (18 February 1999)







SAAKNOMMER: 134/97

In die saak tussen:


MASTERTREADS Appellant

en

CASPER JAN HENDRIK BREED Respondent


Voor: Hefer, Grosskopf en Nienaber, ARR

Verhoor: 18 Februarie 1999

Gelewer: 18 Februarie 1999




U I T S P R A A K











F H GROSSKOPF AR:


Die respondent het gedurende Julie 1992 drie wiele met pap bande na die appellant geneem vir herstel. Volgens die respondent was dit twee 20 duim sleepwa wiele en een 16 duim trekker voorwiel. Die respondent het die drie wiele ’n paar dae later gaan haal op die veronderstelling dat dit behoorlik herstel was. Toe die respondent later dieselfde dag een van die sleepwa wiele oor die as van die sleepwa wou stoot om dit vas te bout, het die staal sluitring (of borgring soos dit genoem is) wat die band in posisie op die wiel hou, los geskiet en die respondent teen die kop getref. Die respondent het ernstige hoofbeserings opgedoen en vergoeding van die appellant geëis vir die skade wat hy as gevolg van die beserings gely het.


Die saak het in die Transvaalse Provinsiale Afdeling voor Roux R gedien. Die hof a quo het op versoek van beide partye gelas dat slegs die vraag na die appellant se aanspreeklikheid op daardie stadium beslis sou word. Die hof a quo het na afloop van die saak bevind dat die appellant se nalatigheid die uitsluitlike oorsaak van die respondent se beserings was. Die appellant appelleer teen daardie bevinding met verlof van die hof a quo na hierdie hof.


Die appellant se pleit op die respondent se bewerings dat die staal borgring los geskiet het en hom teen die kop getref het, lui soos volg:


“The Defendant pleads:


6.1 that the servant of the Defendant who carried out the repairs to the tyres noticed that the lockring of the one wheel was defective and he therefore only slightly inflated the tyre of that particular wheel;


6.2 that the Plaintiff’s attention was specifically drawn to the aforesaid when he fetched the wheels.”



Tydens die voorverhoor-konferensie het die respondent die volgende vrae na aanleiding van die appellant se gemelde pleit gevra, en het die appellant soos volg geantwoord:


1.2 Met verwysing na paragraaf 6 van Verweerder se Pleit, word die volgende vrae gestel:


1.2.1 Wie is die werknemer (servant) wie opgelet het dat die borgring van een van die wiele defektief was?


Verweerder weet nie wie die werknemer in par. 6.1 was nie.


1.2.2 Eiser vra Verweerder om in besonderhede uiteen te sit hoe die borgring defektief was.


Die borgring was sodaning defektief dat dit nie veilig was nie.

1.2.3 Eiser doen navraag of ander werknemers van Verweerder geweet het of meegedeel is van die feit dat die borgring van een van die wiele defektief was.


Ja.


1.2.4 Verweerder vra wie die ander werknemers was?


Inter alia, ene Snydert.

1.2.5 Hoe is Eiser se aandag op die defektiewe borgring gevestig?


Die Eiser is mondelings daarvan meegedeel.


1.2.6 Wie het die Eiser dit mondelings meegedeel?


Gemelde Snydert.



Op die appellant se eie weergawe staan dit dus vas dat die borgring van die een sleepwa wiel tot die wete van die appellant defektief en onveilig was toe dit aan die respondent teruggegee is.


Die respondent het ontken dat Snydert of enigiemand anders hom gewaarsku het dat die borgring defektief en onveilig was. Die respondent het verder ontken dat die een sleepwa band net effens opgepomp was toe dit aan hom teruggegee was. Hierdie getuienis van die respondent is gestaaf deur sy werknemer bekend as Antoon, en is deur die hof a quo as geloofwaardig aanvaar. Dit is myns insiens trouens hoogs onwaarskynlik dat die respondent ondanks die beweerde waarskuwing ’n gevaarlike en defektiewe wiel, met ’n band wat bowendien net half gepomp was, op sy sleepwa sou wou gebruik.


Volgens Snydert se getuienis het hy geweet van die defek en het hy voorsien dat die borgring gaan los kom. Hy het daarom ook opdrag gegee dat die band net effens opgepomp word. Hy het getuig dat hy persoonlik en nog ’n werknemer van die appellant die respondent gewaarsku het dat die borgring nie reg was nie en dat die wiel vir hom probleme gaan gee.


Die hof a quo het Snydert se getuienis dat hy die respondent teen die borgring gewaarsku het, en dat die band derhalwe nie behoorlik opgepomp was nie, na my mening met reg verwerp. Snydert het homself weerspreek en sy getuienis het afgewyk van dit wat vroeër aan die respondent in kruisondervraging gestel is. Snydert se volharding dat die sleepwa wiele 16 duim wiele en nie 20 duim wiele was nie, en dat die verkeerde wiel dus as bewysstuk voor die hof was, dui daarop dat sy herinnering van die gebeure vaag en gebrekkig was en dat hy nie ’n betroubare getuie was nie. Sy verdere getuienis dat die respondent ondanks die beweerde waarskuwing gesê het dat hy “maar ’n kans sal vat”, is nie net onwaarskynlik nie maar is ook nooit aan die respondent tydens kruisondervraging gestel nie. Daardie getuienis bots ook met Snydert se latere getuienis dat hy nie kan onthou dat die respondent iets gesê het nie.


Die slotsom is dus dat die appellant geweet het dat die borgring op die een sleepwa wiel defektief en onveilig was, maar dat die appellant versuim het om die respondent teen die gevaar te waarsku. Verder het die appellant se werknemers Snydert se opdrag om die lugdruk in die band tot onder een bar te beperk, klaarblyklik verontagsaam - dit wil sê as Snydert ooit so ’n opdrag gegee het. Snydert het in ieder geval versuim om te kontroleer of sy beweerde opdrag uitgevoer was.


Die appellant se gemelde nalate het tot gevolg gehad dat ’n potensieel gevaarlike wiel aan die respondent teruggelewer is terwyl die respondent onbewus van die defek en die gevaar was. Die appellant se versuim om die respondent te waarsku, het meegebring dat die respondent deur die defekte borgring beseer is toe hy die sleepwa wiel hanteer het.


Die appellant het in die alternatief betoog dat die respondent op sy eie weergawe nie kan slaag nie, en wel op die basis dat die respondent se deskundige, Janse van Rensburg, geen verklaring van die ongeluk kon gee indien die wiel en borgring wat as bewysstukke voor die hof gedien het, die wiel en borgring was wat die appellant aan die respondent teruggelewer het en wat die ongeluk na bewering veroorsaak het nie. Hierdie betoog gaan om twee redes nie op nie. In die eerste plek het sowel die respondent as Antoon getuig dat die defekte wiel na die ongeluk weer na die appellant teruggeneem is vir behoorlike herstel en dat dit daarna gebruik is om die sleepwa te skuif. Die aanvanklike defek is klaarblyklik toe reggestel en was nie meer sigbaar toe Van Rensburg die wiel en borgring ondersoek het nie. Tweedens is dit nie korrek dat Van Rensburg geen verklaring vir die ongeluk gehad het nie. Hy het getuig dat dit voorgekom het asof die wiel skoongemaak was van roes. Volgens hom kon roes op die wiel veroorsaak het dat die borgring nie meer behoorlik gepas het nie, en kon selfs ’n ”ligte stampie” veroorsaak het dat die borgring afspring. Die respondent se werknemers het op die dag van die ongeluk gesukkel om die wiel aan te sit, en die wiel kon daardie laaste fatale stampie gekry het toe die respondent self oorgeneem het en die wiel probeer opsit het. Na my mening gee Van Rensburg dus wel ’n moontlike verklaring van hoe die ongeluk kon plaasgevind het. Dit staan immers vas dat die borgring wel losgeskiet het en die respondent beseer het.


Na my mening behoort die appèl dus met koste van die hand gewys te word, en dit word so beveel.



-------------------------

F H GROSSKOPF AR


Hefer AR)

Nienaber AR) stem saam

▲ To the top