S v Plaatjies en 'n Ander (24/97; 303/97) [1999] ZASCA 10 (17 Maart 1999)


4



Saaknommer 24/97

303/97



In die saak tussen :




JULIAN PLAATJIES Eerste Appellant


HENDRY CHRISTIANS Tweede Appellant


- en -


DIE STAAT Respondent



Coram: Vivier, Nienaber et Olivier ARR.


Verhoor: 9 Maart 1999


Gelewer: 17 Maart 1999



U I T S P R A A K





VIVIER AR






VIVIER AR:

Die twee appellante (“beskuldigdes 1 en 3") het saam met drie ander (“beskuldigdes 2, 4 en 5") in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling voor Hannon Wnd R en assessore tereggestaan op elf aanklagte wat uit dieselfde gebeure spruit. Aan die einde van die staatsaak is beskuldigde 2 op al die aanklagte onskuldig bevind en ontslaan. Die ander vier beskuldigdes is almal skuldig bevind op een aanklag van roof met verswarende omstandighede (aanklag 1); twee aanklagte van menseroof (aanklagte 2 en 3); twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer (aanklagte 5 en 6); een aanklag van poging tot moord (aanklag 7) en een aanklag van moord (aanklag 8). Beskuldigde 3 is verder skuldig bevind aan die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie (aanklagte 9 en 10). Beide beskuldigdes 1 en 3 is op die moordaanklag ingevolge die destyds geldende reg ter dood veroordeel. Hulle appelleer ingevolge art 316 A van die Strafproseswet 51 van 1977 na hierdie Hof teen hulle skuldigbevindings en vonnisse op die aanklag van moord. Daar is geen appèl teen hulle ander skuldigbevindings of vonnisse nie.

Dit was nie in geskil nie dat Diranda Makanjee (“die klaer”) en Arulla Padayachee (“die oorledene”) in die loop van Vrydagaand 15 Januarie 1993 in laasgenoemde se Fiat Uno motor (“die Fiat”) op pad was toe hulle by ’n stopstraat in Coronation, Johannesburg, oorval en weggevoer is deur vyf mans wat hulle beroof, aangerand en die oorledene doodgemaak het. Wat vir huidige doeleindes in geskil was, was die identiteit van die aanvallers.

Die klaer se getuienis kan as volg saamgevat word. By die stopstraat is die Fiat skielik omring deur vyf mans. Een van hulle het ’n vuurwapen in sy hand gehad. Hy het twee skote na die Fiat geskiet en sy vuurwapen, wat die klaer as ’n 7,65 mm pistool identifiseer het, op die oorledene, wat bestuur het, gerig. Die klaer en die oorledene is gedwing om agter in te klim waarna die vyf aanvallers ook ingeklim het, drie voor en twee agter. Die Fiat het vertrek, bestuur deur een van die aanvallers. Die een met die pistool in die hand het onmiddellik langs die klaer gesit en hom voortdurend met die kolf van die pistool in die gesig geslaan wanneer hy nie sy kop laag gehou het soos hy en die oorledene beveel was om te doen nie. By ’n afgeleë plek het die Fiat gestop waar die slagoffers gedwing is om uit te klim. Hulle is daar deursoek en beroof van hulle horlosies, kontant, kitsbank-kaarte en ander persoonlike besittings. Die klaer het beskuldigde 1 uitgeken as die een wat hom deursoek en sy besittings van hom afgeneem het en beskuldigde 3 as die een met die pistool. Almal het weer ingeklim, die Fiat het vertrek en by verskeie kitsbanke gestop waar die aanvaller geld probeer trek het. Daarna het hulle by ’n woonstelblok gestop en daar is genoem dat hulle koord of draad moes kry om die slagoffers vas te bind. Twee van die aanvallers het uitgeklim en met draad-klerehangers teruggekom. Daarvandaan het hulle na ’n stil straat gery waar geld geëis en beskuldigde 3 die klaer in die knie geskiet het. Die een wat bestuur het, het gevra dat hulle die slagoffers se lewe moes spaar, maar beskuldigde 3 het gesê dat hulle doodgemaak moes word en die ander het met hom saamgestem. Hulle het tot in die oop veld gery waar die klaer en die oorledene beveel is om uit te klim. Hulle is op die grond met hul gesigte na onder neergegooi, hul hande en bene is vasgebind en elkeen is drie keer geskiet. Die klaer is in die rug en nek getref wat hom permanent van die arms af ondertoe verlam het. Daarna is die pistool teen die klaer se kop gedruk en die sneller ’n paar keer getrek maar geen verdere skote het afgegaan nie. Toe die polisie later opdaag was die oorledene reeds dood.

Die klaer het ’n goue armband en horlosie (bewysstukke 3 en 4) as sy eiendom wat van hom geroof is, geïdentifiseer asook ’n goue horlosie (bewysstuk 1) as dié wat van die oorledene afgeneem is. Sy uitkenning van hierdie bewysstukke is deur die Verhoorhof aanvaar en daar is nie voor ons betoog dat die Verhoorhof in hierdie opsig fouteer het nie. Bewysstuk 1 is verder deur die oorledene se vrou as sy eiendom uitgeken.

Op 23 September 1993 het die klaer ’n uitkenningsparade bygewoon waar hy beskuldigdes 1 en 3 as twee van sy aanvallers uitgeken het. Hy het nog ’n derde persoon uitgeken wat nie een van die vyf beskuldigdes was nie.

Die omstandigheidsgetuienis bied sterk stawing vir die klaer se weergawe dat beskuldigdes 1 en 3 deelgeneem het aan die moord. Uit die getuienis van die ondersoekbeampte in die saak, majoor Jacobs, die staatsgetuie, Edward Plaatjies, en die verdedigingsgetuie Eunice Naran (hy is met beskuldigde 1 se tante, Sheila, getroud en beskuldigde 1 het by hulle gewoon), blyk die volgende. As gevolg van inligting wat beskuldigde 1 na sy arrestasie aan Jacobs verskaf het, het Sheila Naran die horlosie, bewysstuk 1, in beskuldigde 1 se baadjiesak in sy hangkas gevind. Sy het dit aan Plaatjies gegee wat dit na Jacobs geneem het. Wat bewysstukke 3 en 4 betref, blyk die volgende uit die getuienis van Eugene Naude en William Waterson. Die dag na die moord het beskuldigde 5 vir Naude gevra om ’n goue horlosie en armband namens hom te verkoop. Naude het die armband dieselfde dag aan Waterson vir R120-00 verkoop maar die horlosie vir beskuldigde 5 teruggegee. Daarna het beskuldigdes 3, 4 en 5 by Waterson opgedaag en die horlosie aan hom vir R40-00 verkoop. Hy het die items later aan Jacobs oorhandig en dit as bewysstukke 3 en 4 uitgeken.

Caroline Krotz het getuig dat sy en haar man en haar seun, Rufus, in ’n twee-vertrek woonstel in Newclare woon. Om tienuur die betrokke aand het sy na Rufus gaan soek en hom in ’n ander woonstel in dieselfde gebou in die geselskap van die vyf beskuldigdes gekry. Nadat sy die aand bed toe is, het iemand aan die voordeur geklop en Rufus het die deur gaan oopmaak. Hy het teruggekom en haar vir draadhangers gevra. Toe sy opstaan om dit te kry het sy vir beskuldigdes 1 en 5 voor die venster buite in die gang sien staan. Sy het drie gewone draadhangers en een met blou plastiek om die draad aan Rufus oorhandig. Volgens die polisiegetuienis was die klaer se hande met sulke blou draad vasgebind. Die toeval is te groot om twyfel te laat dat die draadhangers waarvan Krotz gepraat het, dieselfde is as dié waarvan die klaer gepraat het en dat dit gebruik was om die klaer en die oorledene vas te bind.

Julian van Bomen se getuienis was dat hy saam met sy vrou, sy skoonma, Alice Frasenberg, sy skoonsuster, Nossy Williams, en haar man, beskuldigde 4, in ’n huis in Westbury woon. Om ongeveer tienuur die betrokke aand was hy in sy slaapkamer toe hy ’n skoot hoor afgaan in beskuldigde 4 en Nossy se slaapkamer. Hy het gaan kyk wat aangaan en tref beskuldigde 4 met ’n vuurwapen in die hand aan. Beskuldigdes 3 en 5 was by beskuldigde 4. Beskuldigdes 3, 4 en 5 het toe saam met Nossy die huis verlaat en hy het gesien dat beskuldigde 4 die vuurwapen aan beskuldigde 3 gee. Van Bomen en sy skoonma het later die aand ’n klag by die naaste aanklagkantoor gaan indien en ’n afgevuurde patroondoppie is in Nossy se slaapkamer gevind en aan die polisie oorhandig. Volgens die polisiegetuienis was dit van dieselfde kaliber (7,65 mm) as die doppies wat op die moordtoneel gevind is. Majoor Jacobs het later Nossy se kamer ondersoek en ’n gat in die mat en ’n koeëlmerk in die sement onder die gat gekry. Polisierekords het verder getoon dat Frasenberg wel daardie aand ’n klag ingedien het.

Alfred Jacobs (nie die majoor nie) het getuig dat hy een dag teen die einde van Januarie 1993 sy neef, ene Ashley Bashee, in die geselskap van beskuldigdes 1 en 3 gesien het. Bashee het alleen na hom toe gekom en hom gevra om ’n vuurwapen vir hom te bêre. Nadat hy ingewillig het, het Bashee ’n vuurwapen in ’n plastieksak by beskuldigdes 1 en 3 gaan haal wat ongeveer 20 meter van hom af gestaan het. Alfred het dit onder sy matras versteek waar die polisie dit twee dae later gekry het. Hierdie vuurwapen was ’n 7,65 mm kaliber pistool en is deur Alfred se vrou, Magdalene Biko, as bewysstuk 2 uitgeken. Bashee is voor die verhoor oorlede. Die ballistiese getuienis wat hierdie vuurwapen met die pleging van die moord verbind, is deur die Verhoorhof buite rekening gelaat om redes wat nie nou ter sake is nie.

Beskuldigde 1 se verweer was ’n alibi. Hy het getuig dat hy die betrokke aand by die woonstel van sy tante, Sheila Naran, in Westbury was waar hy gewoon het en dat hy niks van die misdade af weet nie. Hy het die middag tussen vier- en vyfuur tuisgekom en nie weer die aand uitgegaan nie. Sy tante het ’n uur na hom daar aangekom en nog later het haar man, Eunice, met sy seuntjie, Azid, hul opwagting gemaak. ’n Rukkie later het haar dogter, Faiza, ook opgedaag. Beskuldigde 1 het getuig dat hy en Eunice na aandete in die sitkamer musiek geluister het. Agtuur het hulle na die nuus op die televisie gekyk en daarna weer na musiek geluister totdat hy nege-uur die aand gaan slaap het. Hy het ontken dat hy iets van die oorledene se horlosie (bewysstuk 1) af weet en gesê dat hy nie eens ’n baadjie besit nie. Sy getuienis in hierdie verband was onversoenbaar met dié van majoor Jacobs en Eunice Naran. Hy het verder te kenne gegee dat majoor Jacobs vir Sheila Naran gedreig het om hom te impliseer en dat hy die klaer voorgesê het om hom uit te wys op die uitkenningsparade.

Eunice Naran het namens beskuldigde 1 getuig dat laasgenoemde nooit gedurende die betrokke aand die woonstel verlaat het nie. Beskuldigde 1 het die middag die kinders by die skool gaan haal en hulle was reeds tuis toe sy tussen vyf- en sesuur daar kom. Dit was beskuldigde 1 se plig om elke middag die kinders by die skool te gaan haal en vir hierdie rede het hy die enigste stel sleutels van die woonstel gedra. Eunice se getuienis bots dus lynreg met dié van beskuldigde 1, waarvolgens beide kinders ná hom by die woonstel gekom het. Volgens Eunice kon hy die gebeure van die betrokke aand goed onthou omdat die polisie ongeveer twee weke later met ’n getuie-dagvaarding daar aangekom het. Dit was egter gemene saak dat die getuie-dagvaarding eers op 28 Julie 1993 beteken is. Volgens Eunice se eie erkenning was daar gevolglik geen rede vir hom om te onthou wat die aand van 15 Januarie 1993 gebeur het nie.

Die Verhoorhof het in sy uitspraak op verskeie swakhede in beskuldigde 1 se alibi-getuienis gewys en dit as vals verwerp.

Beskuldigde 3 het nie getuig of enige getuienis aangebied nie.

Namens beskuldigde 1 is in hierdie Hof betoog dat die Staatsaak uit

“ ’n sameflansing van getuienis deur onindrukwekkende en onbevredigende getuies” bestaan. Ek stem nie saam nie. Wat die klaer se uitkenning van beskuldigdes 1 en 3 op die uitkenningsparade betref, is die enigste punte van kritiek wat namens beskuldigde 1 geopper is, die volgende. Eerstens dat hy ’n derde persoon uitgewys het wat nie een van die vyf beskuldigdes was nie; tweedens dat hy twintig minute geneem het om sy eerste uitwysing te doen en derdens dat hy nie by die uitkenningsparade gesê het presies wat beskuldigdes 1 en 3 se onderskeie rolle in die misdade was nie.

Die verkeerde uitwysing van die derde persoon is klaarblyklik ’n geregverdigde punt van kritiek teen die betroubaarheid van die klaer se getuienis en verminder die bewyswaarde van sy uitkenning van beskuldigdes 1 en 3. Om hierdie rede het die Verhoorhof stawing vir die klaer se getuienis vereis. Die ander twee genoemde besware teen die klaer se getuienis is egter, na my mening, nie geregverdig nie. Wat betref die tyd wat dit hom geneem het om sy eerste uitwysing te doen, moet in gedagte gehou word dat die klaer in ’n rolstoel rondgestoot moes word voor die 22 persone op die uitkenningsparade en dat hy weens sy fisiese toestand klaarblyklik langer tyd nodig gehad het om sy waarnemings te maak. Die klaer is duidelik ’n baie versigtige mens. Daarvan getuig die feit dat hy by die uitkenningsparade op ’n stadium gevra het dat die verdagtes hul koppe wegdraai sodat hy ’n sy-aansig kon kry. Sy verduideliking vir die tyd wat dit hom geneem het om die eerste uitwysing te maak, was dat hy die gebeure wou terugroep in sy geestesoog sodat hy seker kon wees van sy uitkenning. Sy getuienis was egter dat hy reg van die begin af seker was van die identiteit van beskuldigdes 1 en 3. In die omstandighede meen ek nie dat die blote feit dat die klaer lank geneem het voordat hy sy uitwysing gemaak het, aan sy getuienis afbreuk doen nie. Wat betref sy versuim om by die uitkenningsparade te sê presies wat beskuldigdes 1 en 3 se rol was in die aanval, is dit nie duidelik dat hy sy instruksies so verstaan het dat hy iets meer moes doen as bloot om die verdagtes uit te wys nie. Dit blyk o a uit die volgende passasie uit sy getuienis :

Now I put it to you that you were specifically instructed to say which person did what. --- I did not understand that, I thought - according to me I thought that he wanted me to tell them which are the guys that were involved in this ordeal.”


Die betroubaarheid van die klaer se uitkennings is ook namens beskuldigde 3 aangeval omdat hy nie spesifiek vooraf deur die polisie verwittig is dat daar moontlik geen verdagtes op die parade mag wees nie. Die klaer het wel erken dat so-iets nie pertinent aan hom gesê is nie, maar bygevoeg dat hy vooraf elders navraag gedoen en gehoor het dat so ’n moontlikheid bestaan.

Namens beskuldigde 3 is daar verder beswaar gemaak teen die feit dat persone van ’n ander rassegroep as beskuldigdes 1 en 3 onder die verdagtes op die parade was. Daar is geen meriete in die beswaar nie. Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers was teenwoordig by die parade en het geen beswaar gemaak teen die wyse waarop die parade gereël is nie. Inderdaad was dit gemeensaak by die verhoor dat al die persone op die parade min of meer dieselfde bou, lengte, ouderdom en voorkoms gehad het.

Daar kan min twyfel bestaan dat die klaer op die betrokke aand oorgenoeg geleentheid gehad het vir ’n betroubare waarneming van beskuldigdes 1 en 3. Vir meer as twee uur lank het hy styf langs beskuldigde 3 in die Fiat gesit en hy is voortdurend deur beskuldigde 3 aangerand. Beskuldigde 1 het hom deursoek en beroof. Die lig binne die Fiat het aangegaan telkens wanneer iemand uitgeklim het, wat ’n paar keer gebeur het. Dat die klaer inderdaad vir beskuldigde 1 fyn waargeneem het, blyk o a uit die feit dat hy op die parade gesê het dat beskuldigde 1 nou anders lyk. Dit was nie in geskil dat beskuldigde 1 se kop, anders as op die betrokke aand, toe kaal geskeer was nie.

Die advokate namens beskuldigdes 1 en 3 het talle punte van kritiek geopper teen die ander staatsgetuies na wie se getuienis ek hierbo verwys het. Die kritiek slaan na my mening alles op nie-wesenlike en minder belangrike aspekte van die getuienis en raak nie die kern daarvan of die geloofwaardigheid van die getuies nie. Voorbeelde hiervan is die betoog dat Caroline Krotz se getuienis ongeloofwaardig is omdat sy die betrokke aand gedrink het en dat Julian van Bomen moontlik nie gesien het dat beskuldigde 4 die vuurwapen aan beskuldigde 3 oorhandig nie. Wat eersgenoemde betref, is daar geen aanduiding in haar optrede en die logiese relaas wat sy verstrek het, dat sy onder die invloed van drank was nie. Wat laasgenoemde betref, is die kern van sy getuienis nie dat beskuldigde 3 die wapen hanteer het nie maar dat hy in die geselskap van die ander was. Ek vind dit nie nodig om met enige van die ander punte van kritiek in besonderhede te handel nie. Dit is voldoende om te sê dat daar geen rede bestaan om met die Verhoorhof se geloofwaardigheidsbevindings ten opsigte van hierdie getuies in te meng nie.

Die kumulatiewe effek van al die omstandigheidsgetuienis is, na my mening, om beide beskuldigdes 1 en 3 sonder twyfel aan die pleging van die moord te verbind en om voldoende stawing vir die klaer se uitkenning te verskaf. Die getuienis teen beskuldigde 1 dat die oorledene se horlosie in sy baadjiesak gevind is, dat hy by was toe daar die betrokke aand na draadhangers gesoek is en dat hy by was toe daar stoorplek vir die vuurwapen (bewysstuk 2) gesoek is, skep ’n geheelbeeld wat nie ruimte vir enige toeval laat oor sy deelname aan die moord nie. Dieselfde geld vir die getuienis dat beskuldigde 3 die betrokke aand teenwoordig was toe beskuldigde 4 in sy slaapkamer ’n skoot afgevuur het uit ’n vuurwapen van dieselfde kaliber as die moordwapen, dat hy by was toe die klaer se horlosie aan Waterson verkoop is en by was toe die pistool aan Alfred Jacobs oorhandig is. In die geval van beskuldigde 3 is daar nog die addisionele faktor dat hy nie getuig het nie.

Beskuldigde 1 se alibi is deur die Verhoorhof verwerp as leuenagtig omdat dit opsigselfgenome gebrekkig was en nie omdat dit, soos betoog, nie kon opweeg teen die staatsgetuienis nie. Daar bestaan geen grond om met hierdie bevinding in te meng nie.

Om die redes hierbo genoem, is ek van mening dat beskuldigdes 1 en 3 korrek skuldig bevind is en dat die appèl teen hulle skuldigbevindings nie kan slaag nie.

Dit laat die appèl teen die doodvonnisse op die moordaanklag. Hierdie is ’n geval waar die appellante teen beide die skuldigbevindings en doodvonnisse na hierdie Hof geappelleer het en die appèl nog nie afgehandel is nie. Gevolglik is art 1 (10) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997, soos vervang deur art 25 (b) van Wet 34 van 1998, van toepassing. Ingevolge art 1 (10) moet die appèl deur hierdie Hof afgehandel word met dien verstande dat, indien die Hof die skuldigbevinding bekragtig, die Hof die doodvonnis tersyde moet stel en die straf oplê wat na sy oordeel gepas is.

Namens beskuldigde 1 is voor ons van die Balie aansoek gedoen dat die saak na die Verhoorhof terugverwys moet word sodat verdere getuienis voor vonnisoplegging aangebied kan word. Geen besonderhede van die beoogde getuienis is verskaf nie en geeneen van die basiese vereistes wat vir so ’n aansoek sou geld, is nagekom nie. (Vgl S v De Jager 1965 (2) SA 612 (A) op 613 B-D.) Selfs op die veronderstelling dat ’n aansoek om terugverwysing vir die lei van verdere getuienis nog ontvanklik is in die lig van die bepalings van art 1 (10) van Wet 105 van 1997 (waaroor ek my nie uitspreek nie), kan die huidige aansoek gevolglik nie slaag nie.

Wat die gepaste straf betref, is die omstandighede waarin die moord gepleeg is, reeds volledig hierbo uiteengesit. Daaruit blyk dat erge strafverswarende faktore aanwesig was, in besonder dat die moord berekend en genadeloos op ’n weerlose slagoffer gepleeg is. Beskuldigde 1 en veral beskuldigde 3 het ’n leidende rol in die gebeure gespeel. Beskuldigde 1 was 23 jaar oud en beskuldigde 3 was 20 jaar oud toe die misdaad gepleeg is en beide het in verwaarloosde omstandighede grootgeword. Beide het verskeie vorige veroordelings vir geweldsmisdade. In al die omstandighede is ek van oordeel dat ’n gepaste vonnis op die moordaanklag in beide gevalle een van 30 jaar gevangenisstraf is, waarmee die gevangenis-strawwe wat op die ander aanklagte opgelê is, moet saamloop.

Die volgende bevel word gemaak.

1. Beskuldigdes 1 en 3 se appèlle teen hul skuldig- bevindings op die moordaanklag word afgewys;

2. Beskuldigdes 1 en 3 se appèlle teen die doodvonnisse op die moordaanklag word gehandhaaf en die doodvonnisse word tersyde gestel;

3. Op die moordaanklag word beide beskuldigdes 1 en 3 tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis wat teruggedateer word na die datum waarop die doodvonnisse opgelê is. In die geval van beide beskuldigdes 1 en 3 word gelas dat die gevangenisstrawwe wat op die ander aanklagte in hierdie saak opgelê is, saamloop met die gevangenisstraf wat op die moordaanklag opgelê is.


W. VIVIER AR.

NIENABER AR)

Stem Saam.

OLIVIER AR)


▲ To the top