S v Scholtz (545/1996) [1999] ZASCA 2 (26 February 1999)


2




SAAKNOMMER: 545/96


In die saak tussen:


ALWYN HERCULAAS SCHOLTZ Appellant

en

DIE STAAT Respondent


Coram: F H Grosskopf, Nienaber en Schutz, ARR

Verhoor: 26 Februarie 1999

Gelewer: 26 Februarie 1999


__________________________________________________________

U I T S P R A A K

__________________________________________________________


F H GROSSKOPF, AR:

Die appellant is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling skuldig bevind aan moord en tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis. Alhoewel die hof a quo verlof aan hom verleen het om teen sowel sy skuldigbevinding as vonnis na hierdie hof te appelleer, is die appèl voor ons voortgesit slegs teen die vonnis wat hom opgelê is.


Die appellant was ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die senior persoon in beheer van die skof toe die moord gepleeg is. Hy en sy mede-beskuldigde, ook ’n polisieman, het hulle skuldig gemaak aan growwe magsmisbruik. Hulle het ’n onskuldige lid van die publiek voorgekeer en sonder rede begin aanrand. Dit was ’n sinnelose optrede. Daardie persoon is dood as gevolg van hulle voortgesette wrede aanval op hom.


Die appellant se mede-beskuldigde het skuldig gepleit. Hy is deur ’n ander regter verhoor en ook tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis.


Die hof a quo het voor oë gehou dat die appellant ’n eerste oortreder was wat 21 jaar oud was toe hy die misdaad gepleeg het. Daar is geen bewering dat die verhoorregter hom in enige opsig wanvoorgelig het nie. Na my mening is die vonnis ook nie skokkend onvanpas nie.


Daar is na my oordeel geen meriete in die appèl nie en die appèl word van die hand gewys.


------------------

F H Grosskopf

Appèlregter


Nienaber AR)

stem saam

Schutz AR)

▲ To the top