S v Siluale and Others (644/1996) [1999] ZASCA 33 (26 May 1999)


Saaknommer: A 644/96

In die saak tussen:

MESHACK SILUALE Eerste Appellant

VIVIAN KHALELANI MAYESA Tweede Appellant

HENRY JOHNSON Derde Appellant

en

DIE STAAT Respondent


Coram: Grosskopf, Howie en Marais, ARR

Verhoor: 17 Mei 1999

Gelewer: 26 Mei 1999

Vonnisse - buitengewone lang termyne van gevangenisstraf - verlof om slegs teen kumulatiewe effek van vonnisse te appelleer - effek van so ’n bevel.


________________________________________________________________

U I T S P R A A K

________________________________________________________________



F H GROSSKOPF AR:

[1] Die drie appellante was respektiewelik beskuldigdes 1, 2 en 4 tydens die verhoor in die Transvaalse Provinsiale Afdeling voor Weyers R en twee assessore. Al drie die appellante is skuldig bevind op drie aanklagte van moord (aanklagte 1, 2 en 3), een van poging tot moord (aanklag 8) asook aan roof met verswarende omstandighede (aanklag 4). Die eerste en tweede appellante is verder skuldig bevind aan die wederregtelike besit van AK 47-gewere en ammunisie (aanklagte 5 en 7) en die wederregtelike besit van ander vuurwapens (aanklag 6). Vir sover daar enige twyfel mag bestaan het, is die oorkonde op aansoek van die respondent, en met instemming van die derde appellant se advokaat, by die aanvang van die appèl reggestel sodat dit nou duidelik is dat die derde appellant wel skuldig bevind is op aanklag 4 (roof met verswarende omstandighede.)


[2] Die eerste en tweede appellante is elkeen vir die volgende termyne van gevangenisstraf op die onderskeie aanklagte gevonnis:

aanklag 1 (moord) 35 jaar

aanklag 2 (moord): 35 jaar

aanklag 3 (moord): 35 jaar

aanklag 4 (roof): 20 jaar

aanklagte 5, 6 en 7 (besit van vuurwapens en ammunisie): 15 jaar

aanklag 8 (poging tot moord): 15 jaar

___________

Totaal: 155 jaar


Die verhoorregter het egter gelas dat die vonnisse op aanklagte 5, 6, 7 en 8 gesamentlik uitgedien word, wat meegebring het dat die eerste en tweede appellante elkeen tot ’n effektiewe termyn van 140 jaar gevangenisstraf gevonnis is.


[3] Die derde appellant is soos volg op die verskillende aanklagte gevonnis:

aanklag 1 (moord): 30 jaar

aanklag 2 (moord): 30 jaar

aanklag 3 (moord): 30 jaar

aanklag 4 (roof): 15 jaar

aanklag 8 (poging tot moord): 10 jaar

_____ __

Totaal: 115 jaar

_______

In sy geval is gelas dat die vonnisse op aanklagte 4 en 8 gesamentlik uitgedien word, wat tot gevolg het dat sy vonnis ’n effektiewe termyn van 105 jaar gevangenisstraf beloop.


[4] Die hof a quo het verlof tot appèl teen die skuldigbevindings en vonnisse in die geval van al drie die appellante geweier. Na oorweging van petisies gerig aan die Hoofregter is verlof tot appèl aan die eerste en derde appellante verleen, maar slegs teen die onderskeie vonnisse wat hulle opgelê is. In die geval van die tweede appellant is verlof tot appèl slegs teen die kumulatiewe effek van sy vonnisse verleen. Die vraag of die bevoegdheid van hierdie hof om vryelik met die tweede appellant se vonnis in te meng daardeur beperk is, sal later bespreek word.


[5] Dit is nodig om kortliks te beskryf onder watter omstandighede die misdrywe gepleeg is, en watter rol elkeen van die drie appellante by die pleging daarvan gespeel het.


[6] Gedurende die vroeë oggendure van Woensdag 1 September 1993 het twee motorvoertuie van SBV Dienste vanaf hulle hoofkwartier in Midrand vertrek en in ’n noordelike rigting met die N1-snelweg gery. SBV is ’n onderneming wat banknote en munte namens sekere groot handelsbanke langs bepaalde roetes na verskillende banktakke vervoer. Die twee SBV-voertuie wat op hierdie bepaalde Woensdagoggend noord gery het, was ’n Toyota Hi-Ace pantservoertuig, waarin ’n bedrag van R3,114 miljoen in banknote vervoer is, en ’n Toyota Corolla motor wat as begeleidingsvoertuig gedien het. In elkeen van hierdie voertuie was daar ’n bestuurder en ’n passasier gewapen met vuurwapens.


[7] Die derde appellant het op daardie stadium reeds ’n geruime tyd by SBV gewerk en het geweet dat SBV-pantservoertuie met geld op Woensdagoggende die N1-roete vanaf Midrand na die noorde volg. Die derde appellant het hierdie inligting aan sy vriend Trevor Liesering (beskuldigde 3 in die hof a quo) oorgedra, en dit ook met ander mededaders bespreek. Die derde appellant het dit gedoen met die wete dat hulle beplan om ’n SBV-voertuig te beroof. Op die dag van die rooftog was die derde appellant egter saam met ander SBV-voertuie wat vroeër daardie oggend na die noorde vertrek het.


[8] ’n Swaar gewapende bende van ongeveer vyftien rowers het die betrokke twee SBV-voertuie dié Woensdagoggend voorgelê en in ’n Ford bakkie en Mikrobus agtervolg. Die eerste appellant het die bakkie bestuur. Die tweede appellant was saam met ’n groep rowers agterop die bakkie. Hulle was gewapen met AK 47-gewere. Die bakkie het die pantservoertuig op die N1-snelweg in die omgewing van Centurion ingehaal en die groep op die bakkie het met die AK 47-gewere op die twee insittendes van die pantservoertuig losgebrand. Die bestuurder van die pantservoertuig is doodgeskiet (aanklag 1), maar sy passasier (die klaer in aanklag 8 ) het die aanval gelukkig oorleef. Die pantservoertuig het daarna teen ’n wal langs die pad tot stilstand gekom.


[9] ’n Broodafleweringsvragmotor het pas tevore met ’n oprit vanaf Centurion op die N1-snelweg opbeweeg. Die bestuurder van daardie voertuig en sy passasier het gesien hoe die Mikrobus langs die begeleidingsvoertuig inbeweeg en hoe daar deur die oop skuifdeur van die Mikrobus met AK 47-gewere op die insittendes van die begeleidingsvoertuig geskiet word. Beide die bestuurder van die begeleidingsvoertuig en sy passasier is daar doodgeskiet (aanklagte 2 en 3). Die begeleidingsvoertuig het onder ’n bos op die grondstrook tussen die twee bane van die snelweg tot stilstand gekom.


[10] Die Mikrobus het ’n u-draai gemaak en teruggekeer na waar die pantservoertuig tot stilstand gekom het. Die eerste appellant het daar opgedaag en ’n sogenaamde “lang vuurwapen” op die insittendes van die broodvragmotor gerig en hulle aangesê om stil te sit. Die eerste appellant het ook ’n handwapen teen die kop van mnr Momberg (die passasier in die pantservoertuig) gedruk en hom beveel om die sleutel van die agterste deur van die pantservoertuig aan hulle te oorhandig. Die tweede appellant het toe die traliehek aan die binnekant van die pantservoertuig met ’n breekyster oopgebreek. Die rowers het sakke met geld agter uit die pantservoertuig verwyder en in die Mikrobus gelaai en toe weggejaag (aanklag 4). Een geldsak met R175 000,00 se banknote het egter in die pantservoertuig agtergebly.


[11] Al drie die appellante het in die buit gedeel. Die polisie het ook later groot bedrae kontant gevind wat deur die onderskeie appellante versteek is.


[12] Die rooftog was klaarblyklik deeglik vooraf beplan en toe volgens plan deur ’n bende swaar gewapende rowers uitgevoer. Hulle het die oorledenes sonder genade koelbloedig met outomatiese gewere afgemaai sodat hulle ongehinderd met die roof van die geld kon voortgaan. Die eerste en tweede appellante het aktief deelgeneem. Die derde appellant was weliswaar nie op die toneel teenwoordig toe die moorde en roof gepleeg is nie, maar hy was ’n belangrike skakel in die uitvoering van hulle gemeenskaplike oogmerk.


[13] Daar kan geen twyfel bestaan oor die erns van die reeks misdade wat die appellante gepleeg het nie. Hulle doel was klaarblyklik om hulleself wederregtelik te verryk. Die appellante het almal gewerk en ’n inkomste gehad. Die roof is uit suiwer hebsug gepleeg, en in die proses het hulle letterlik oor lyke geloop om hulle doel te bereik.


[14] Volgens die betoog van die respondent vereis die gemeenskapsbelang dat daar baie streng teen hierdie soort misdadigers opgetree word. Hierdie hof het inderdaad reeds by herhaling beslis dat die elemente van afskrikking en vergelding sterk op die voorgrond tree wanneer die doelstellings van straftoemeting in gevalle van gewapende roof met gepaardgaande verlies aan menselewens oorweeg word. Die appellante het betoog dat die element van hervorming nogtans nie uit die oog verloor moet word nie. In dergelike gevalle word enige vooruitsig op hervorming egter heeltemal oorskadu deur die elemente van afskrikking en vergelding. (Kyk S v D 1991(2) SASV 303(A) op 307G; I Molefe v Die Staat, ongerapporteerde uitspraak van Kriegler Wnd AR in hierdie hof, gelewer op 11.03.93 onder saaknommer 120/92; J Mnisi v Die Staat, ongerapporteerdee uitspraak van Smalberger AR in hierdie hof, gelewer op 16.03.93 onder saaknommer A1/92; S v Mhlakaza and Another 1997(1) SASV 515 (A) op 519 d-i.)


[15] Die persoonlike omstandighede van die appellante kan in hierdie geval ook nie opweeg teen die erns van die misdade en die gemeenskapsbelang nie. Die appellante is almal as eerste oortreders behandel. Die eerste appellant was egter ’n welvarende besigheidsman wat uit blote gierigheid aan die rooftog deelgeneem het. Daarbenewens het hy ’n leidende rol tydens die pleging van die misdade gespeel. Die tweede appellant was beslis ook nie ’n passiewe meeloper nie. Die derde appellant was weliswaar nie op die toneel teenwoordig toe die misdade gepleeg is nie en die hof a quo het in sy guns aanvaar dat daar in sy geval nie dolus directus nie maar slegs dolus eventualis aanwesig was. Die vonnis wat die verhoorregter hom opgelê het, was dan ook ietwat ligter as dié van die eerste en tweede appellante.


[16] Die appellante was onderskeidelik 35, 27 en 31 jaar oud toe hulle gevonnis is. Die verhoorregter het doelbewus vir elkeen van die appellante ’n effektiewe termyn van gevangenisstraf opgelê wat sy verwagte lewensduur ver oorskry het. Dit is gedoen ten einde te verseker dat die appellante nooit weer vrygelaat sou word nie. Ondanks die erns van die misdade en al die strafverswarende omstandighede van die geval is ek van mening dat die kumulatiewe effek van die opeenvolgende vonnisse meebring dat die effektiewe termyn van gevangenisstraf wat elke appellant opgelê is, so buitengewoon lank is dat dit heeltemal ontoepaslik en onrealisties is. Soos beslis in die saak van S v Nkosi 1993(1) SASV 709(A) op 717 g-h (waar die termyne van gevangenisstraf gesamentlik 122 jaar en ses maande beloop het) is ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf veel meer realisties in ’n geval soos hierdie, ook “omdat dit nie een is wat die appellant nooit sal kan uitdien nie”. (Kyk verder Mhlakaza se saak, supra, op 522 h-i en 523 c-i; S v Tcoeib 1991(2) SASV 627 (NmS).) Trouens, indien die omstandighede van ’n saak vereis dat die oortreder vir alle praktiese doeleindes permanent uit die samelewing verwyder word, is lewenslange gevangenisstraf die enigste gepaste straf. Dit is bedoel as die swaarste vonnis wat opgelê kan word, maar daar is darem ook erkende prosedures wat parool in gepaste gevalle moontlik maak, bv waar die oortreder (selfs teen alle verwagting in) werklik hervorm. Om daarenteen so ’n buitengewone lang termyn van gevangenisstraf op te lê dat dit geen moontlike hoop vir die oortreder inhou dat hy ooit vrygelaat sal word nie, al gebeur wat ook al, pas nie by ’n beskaafde regstelsel nie.

Volgens my oordeel is lewenslange gevangenisstraf die mees gepaste vonnis vir al drie die appellante in die onderhawige saak.


[17] Die verhoorregter wou verder klaarblyklik verhoed dat die verlening van parool en moontlike begenadiging deur die uitvoerende gesag enige werklike effek op die appellante se vonnisse sou hê. Daardie oorweging kan egter nooit die oplegging van ’n onrealistiese swaar vonnis regverdig nie. ’n Hof is immers nie bevoeg om deur middel van ’n ontoepaslike vonnis die toekenning van parool te probeer neutraliseer nie. (Kyk Mhlakaza se saak, supra, 521 e -522 h.)


[18] Die enigste oorblywende vraag is egter of hierdie hof bevoeg is om die tweede appellant se vonnis na een van lewenslange gevangenisstraf te verander, gesien die beperkte verlof tot appèl wat in sy geval verleen is, en wat soos volg lui:

The applicant is granted leave to appeal to the Appellate Division but only in respect of the cumulative effect of his sentences.”


[19] In Mhlakaza se saak, supra, is verlof tot appèl in soortgelyke terme toegestaan en het die hof soos volg op 517f opgemerk:

Pursuant to a petition addressed to the Chief Justice, leave to appeal was granted to this Court only in respect of the cumulative effect of the sentences imposed by the trial Court. The individual sentences were thus not the subject of any debate before this Court, and it has to be assumed that they are proper.”


Dit is nie heeltemal duidelik waarom dit in daardie geval veronderstel moes word dat die individuele vonnisse gepas was nie. Dit kan wees omdat die toepaslikheid van die individuele vonnisse nie gedebateer was nie, of dit kan wees omdat die verlof om te appelleer die appellant tot so ’n mate beperk het dat hy nie geregtig was om die individuele vonnisse as sodanig te bevraagteken nie. Ek kan egter nie aanvaar dat die bewoording van die tweede appellant se verlof om te appelleer in die onderhawige geval meebring dat hierdie hof in die uitoefening van sy diskresie beperk word nie. Dit sou beteken dat al slaag die appèl op die besondere grond waarop verlof om te appelleer aan hom toegestaan is, nl die kumulatiewe effek van die vonnisse, daardie kumulatiewe effek slegs op een manier deur hierdie hof verlig sou kon word, nl deur te gelas dat sekere van die vonnisse samelopend uitgedien word. Hierdie hof sou dan nie by magte wees om bv lewenslange gevangenisstraf as moontlike vonnis vir die tweede appellant te oorweeg nie.


[20] Na my mening verleen die bepalings van subartikels 322(2) en (6) van die Strafproseswet 51 van 1977 in ieder geval wye bevoegdhede aan hierdie hof om strawwe op appèl te verander, en kan die diskresie wat aldus deur die wet aan die hof verleen word nie deur die verlening van verlof om te appelleer beperk word nie. Die betrokke subartikels lui soos volg:

(2) By ’n appèl ingevolge artikel 316 of 316B teen ’n vonnis, kan die appèlhof die vonnis bekragtig of dit tersyde stel of wysig en die straf oplê wat by die verhoor opgelê behoort te gewees het.”


(6) Die bevoegdhede wat by hierdie artikel aan die appèlhof met betrekking tot die oplegging van strawwe verleen word, sluit die bevoegdheid in om ’n straf op te lê wat swaarder is as dié wat die hof benede opgelê het of om ’n ander straf in die plek van of benewens sodanige straf op te lê.”


[21] Soos reeds in paragraaf [16] hierbo gemeld, is ek van oordeel dat lewenslange gevangenisstraf die gepaste vonnis vir al drie die appellante is. Die bewoording van die verlof wat aan die tweede appellant verleen is om teen sy vonnisse te appelleer, verhoed myns insiens nie dat ook hy lewenslange gevangenisstraf opgelê word nie. Die verhoorregter het die derde appellant ’n effens ligter vonnis opgelê as dié van die ander twee appellante. Die derde appellant se effektiewe vonnis was egter steeds 105 jaar. Na my oordeel verdien die derde appellant egter wel lewenslange gevangenisstraf. ’n Ligter vonnis sal myns insiens onvanpas wees in die lig van sy besondere deelname aan die misdade.


[22] Daar is geen beswaar dat aanklagte op appèl tesame geneem word vir doeleindes van vonnis nie. (Kyk S v Nkosi, supra, op 717 h-i.) In die onderhawige geval kan aanklagte 1,2,3,4 en 8 aldus tesame geneem word en kan ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf dan vir al daardie aanklagte saam opgelê word. Wat die statutêre oortredings betref waar die wetgewer ’n maksimum vonnis neergelê het, nl aanklagte 5,6, en 7, kan die opgelegde bepaalde vonnisse van gevangenisstraf bly staan aangesien sulke vonnisse in ieder geval volgens die bepalings van art 32(2)(a) van die Wet op Korrektiewe Dienste 8 van 1959 saam moet loop met ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf.


[23] Gevolglik slaag die appèl van al drie die appellante in die volgende opsigte teen die onderskeie vonnisse wat hulle opgelê is:


1. In die geval van die eerste en tweede appellante word al die vonnisse wat hulle op aanklagte 1,2,3,4 en 8 opgelê is, tersyde gestel.

2. In die plek daarvan word aanklagte 1,2,3,4 en 8 tesame geneem vir doeleindes van vonnis en word die eerste en tweede appellante elkeen ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf op daardie aanklagte opgelê.

3. Die vonnisse wat die eerste en tweede appellante op aanklagte 5,6,en 7 opgelê is, bly onveranderd staan.

4. In die geval van die derde appellant word al die vonnisse wat hom op aanklagte 1,2,3,4 en 8 opgelê is, tersyde gestel.

5. In die plek daarvan word aanklagte 1,2,3,4 en 8 tesame geneem vir doeleindes van vonnis en word die derde appellant ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf op daardie aanklagte opgelê.



-----------------------

F H GROSSKOPF

Appèlregter




Howie AR)

Marais AR) stem saam




▲ To the top