Santam Bpk v Henery (333/1997) [1999] ZASCA 5 (20 March 1999)


IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID‑AFRIKA

 

In die saak tussen:

 

SANTAM BEPERK Appellant

 

en

 

MARGARITA ANNE HENERY Respondent

 

CORAM : Hefer, Vivier, Nienaber, Plewman, Streicher ARR

VERHOOR : 23 Maart 1999

GELEWER : 30 Maart 1999

 

 

Aksie van afhanklikes ‑ geskeide vrou met ’n bevel tot onderhoud in haar guns ‑ gewese man gedood ‑ aksie in beginsel erken.

 

 

 

UITSPRAAK

 

NIENABER AR:

 

[1] Waar ’n broodwinner op nalatige wyse gedood word, het sy afhanklikes ’n aksie teen die persoon wat sy dood veroorsaak het (Boberg, The Law of Persons and the Family, 302‑3). Is die afhanklike ’n weduwee, is daar regtens nie ’n probleem nie. Maar wat nou as sy van haar man geskei is en ingevolge art 7(2) van die Wet op Egskeiding, 70 van 1979, kragtens ’n hofbevel op ’n bepaalde bedrag aan onderhoud geregtig was? Is sy dan teenoor die dader (of teenoor die derdeparty‑versekeraar indien sy dood deur die nalatige bestuur van ’n motorvoertuig veroorsaak is) op skadevergoeding geregtig? Dit is die primêre vraag. En wat as sy en die broodwinner na die egskeiding steeds as man en vrou saamgeleef het en hy haar, ten tyde van sy dood, ten volle onderhou het? Is sy dan, ondanks die bestaande onderhoudsbevel, as ’n party tot ’n sogenaamde "gebruiklike verbinding" op skadevergoeding geregtig selfs al oorskry dit die bedrag van die onderhoudsbevel? Dit is die tweede vraag. En wat nou as die [2] partye, na die egskeiding, ’n formele skikkingsooreenkoms aangegaan het waarin hy onderneem om haar ten volle te onderhou en sy instem om, solank as wat die partye saamwoon, nie op nakoming van die hofbevel aan te dring nie? Het sy dan, afgesien van die bestaan van die onderhoudsbevel en bloot op grond van die inmenging met haar kontraktuele reg op onderhoud, ’n eis teen die derdeparty‑ versekeraar? Dit is die derde vraag. Al drie hierdie vrae, wat as alternatiewe eise ingeklee is, het in ’n aksie in die Transvaalse Provinsiale Afdeling ter sprake gekom waarin die respondent as eiseres skadevergoeding gevorder het van die appellant as die derdeparty‑versekeraar van ’n voertuig wat op ’n nalatige wyse bestuur is as gevolg waarvan die eiseres se gewese man sy lewe verloor het. In ’n gestelde saak ooreenkomstig hofreël 33(4) beantwoord Du Plessis R die eerste vraag bevestigend en die tweede en derde ontkennend. Met verlof van die hof a quo dien al drie vrae tans voor hierdie hof, die eerste by wyse van ’n appèl, die tweede en derde by wyse van ’n kruis‑appèl.

 

[3] Die eiseres is op 22 Januarie 1983 binne gemeenskap van goed met haar man, na wie ek voortaan as die oorledene verwys, getroud. Twee kinders is uit die huwelik gebore.

 

Op 20 September 1991 is hulle geskei. Ingevolge die hofbevel wat kragtens art 7(2) van die Wet op Egskeiding, 70 van 1979, verleen is, was die eiseres op onderhoud vir haarself teen ’n koers van R1000 per maand geregtig. (Onderhoud vir die kinders is op R800 per maand per kind bepaal.)

 

Op 2 Oktober 1991, twaalf dae na die egskeiding, gaan die eiseres en die oorledene ’n skriftelike ooreenkoms aan wat vir die verdeling van hul gemeenskaplike boedel voorsiening maak en wat voorts bepaal dat die onderhoudsbevel opgeskort word vir solank as wat die eiseres en die kinders in die gemeenskaplike woning te Flamboyantstraat 24, Witkoppies, Klerksdorp, bly woon.

 

Vir doeleindes van die gestelde saak is aanvaar dat die eiseres en die [4] oorledene na die egskeiding ooreengekom het dat hulle

 

"ongeag die egskeidingsbevel ... en sonder onderbreking in tydsverloop ... hul huweliksverhouding en gemeenskaplike huishouding voortgesit en ten minste in die vorm van ’n Gebruiklike Verbinding as man en vrou saamgeleef het tot en met die Oorledene se dood, en die Eiseres en die Oorledene voortgegaan om mekaar as eggenote te ondersteun, te voldoen aan hulle pligte as eggenote en om hul pligte met betrekking tot die gemeenskaplike huishouding na te kom, en die Oorledene voortgegaan om die Eiseres en die minderjariges tot die dag van sy dood te onderhou en te versorg ooreenkomstig dieselfde lewenstandaard as voor die datum van egskeiding, tot so ’n mate dat sy onderhoud aan en versorging van die Eiseres en die minderjariges sy verpligtinge kragtens die egskeidingsbevel te bowe gegaan het."

 

Die ooreengekome feite meld egter nie dat die eiseres en die kinders by die gegewe adres bly woon het nie.

 

Amper ’n jaar later, op 6 Oktober 1992, is die oorledene in ’n motorbotsing oorlede. Die botsing was te wyte aan die nalatigheid van die bestuurder van die versekerde voertuig.

 

Die verweerder was ’n "benoemde agent" vir doeleindes van die destyds [5] geldende Multilaterale Motorvoertuigongelukkefondswet, 93 van 1989 wat as sodanig kragtens a 40 van die Ooreenkoms (soos omskryf)

 

"verplig [was] om enigeen wie ook al (in hierdie Ooreenkoms die derde partye genoem) te vergoed vir verlies of skade wat die derde party gely het as gevolg van ‑

a) ...

b) die dood of liggaamlike besering van iemand anders, wat .... veroorsaak is deur of voortvloei uit die bestuur van ’n motorvoertuig ... indien die ... dood te wyte is aan die nalatigheid of ... van die persoon wat die motorvoertuig bestuur het ..."

 

Ingevolge a 48(a) is die benoemde agent egter

 

" ... nie verplig om iemand ... vir enige verlies of skade te vergoed nie ‑

 

a) waarvoor nòg die bestuurder nòg die eienaar van die betrokke motorvoertuig aanspreeklik sou gewees het indien Hoofstuk XVI nie by hierdie Ooreenkoms ingesluit was nie."

 

Die pertinente regsvraag is dus of die bestuurder, was dit nie vir die bepalings van die Wet nie, teenoor die eiseres aanspreeklik sou wees omdat hy vir die dood van haar gewese man wat kragtens ’n hofbevel onderhoud aan haar [6] verskuldig was, verantwoordelik was.

 

Die kinders se eis teen die appellant is geskik; die eiseres s'n nie. Ingevolge die gestelde saak staan die kwantum van die eis vir latere beslegting oor.

 

Die aanloop tot die aksie wat hedendaags vir bepaalde afhanklikes beskikbaar is om teen die dader op te tree wat die dood van hul broodwinner veroorsaak het, is meermale al beskryf en is vir huidige doeleindes nie omstrede nie. Daar kan volstaan word met die opsomming in 8 LAWSA (Eerste her‑uitgawe) par 11:

 

"The action of dependants for the recovery of loss suffered as a result of the wrongful killing of their breadwinner was unknown to Roman law. An action for the recovery of compensation for loss occasioned by the wrongful killing of a breadwinner was, however, available to the dependants in Roman‑Dutch law. The exact origins of the action are uncertain. It probably evolved under the influence of the indigenous Germanic law concerning the institution of zoengeld and the concepts of natural law as formulated by medieval and sixteenth century theologians."

 

[7] Presies wat die ontstaansbron van die onderhoudsplig was en watter afhanklikes volgens die ou skrywers daarby betrek is, is kwessies waaroor daar nie volkome duidelikheid bestaan nie.

 

In sy De Jure Belli ac Pacis (2.17.13) skryf De Groot dat die aksie toekom:

 

"... iis quos occisus alere ex officio solebat, puta parentibus uxoribus liberis ..."

 

(wat deur Feenstra, 1972 Acta Juridica 234 vertaal is as

"... those whom the deceased was accustomed to aliment ex officio, for example his parents, his widow, his children ...")

 

In sy Inleidinge (3.33.2) meld De Groot weer dat die aksie toekom aan

 

"... de weduwe, kinderen, oock anderen zoo daer eenighen zijn, die door des nedergeslagens arbeid plagen onderhouden te werden. ..."

 

Of die woorde "oock anderen zoo daer eenighen zijn" op die "ouers" slaan na wie hy in De Jure Belli ac Pacis verwys het, dan wel of dit op ander bloedverwante betrekking het of selfs op iemand wat bloot feitelik deur die broodwinner [8] onderhou is, kan nie met sekerheid bepaal word nie. Waarskynlik het hy, benewens huweliksgenote, naaste aanverwante in gedagte want in die Inleidinge 3.33.3. praat hy weer van

 

" ... oock de weduwe, weduwenaer, kinderen ende by ghebreecke van dien andere naeste maghen, de klachte moghen doen."

 

En later van:

"... echtgenoten, kinderen ofte maghen van den overleden"

 

wat op ’n noue familieverwantskap dui.

 

Dieselfde soort onduidelikheid tref mens ook by die latere skrywers aan na wie Davel, Skadevergoeding aan Afhanklikes, 38 en volgende verwys. So byvoorbeeld noem Voet 9.2.11 "uxori liberisque fuis aut aliis propinquis" ("wife, children or other close relatives") asook "uxori, liberis, similibusque" (dit wil sê, "wife, children and the like" (Gane se vertaling)).

Uit frases soos "oock anderen zoo daer enighen zijn" van De Groot en "and [9] the like" van Voet kan kwalik ’n beginsel afgelei word. Die frase word nie toegevoeg by ’n register van ál die erkende lede van die klas nie. Die moontlikheid bly dus bestaan dat dit ook betrekking kan hê op ontbrekende lede van die klas. Gevolglik is dit onmoontlik om tot ’n vaste gevolgtrekking te kom of die ou skrywers slegs huweliks‑ en bloedverwante bedoel het, en indien wel, of daar onder die bloedverwante ’n numerus clausus was (vgl Davel aw, 46).

In Union Government (Minister of Railways & Harbours) v Warneke 1911 AD 657 word daar nietemin wel, na aanleiding van die ou skrywers, van ’n beginsel gepraat. Daar het dit gegaan oor die eis van ’n wewenaar vir die skade wat hy as gevolg van die dood van sy gade gely het. Met verwysing na Voet 9.2.11 verklaar Lord De Villiers op 663:

 

"It would be no undue extension of this right to hold that, where a wife during her lifetime actively assisted her husband in the support and education of their children, he would be entitled, upon her being killed through negligence, to claim such pecuniary damages as he can be proved to have sustained by reason of the permanent loss of such

[10] assistance."

 

Innes R verklaar op 664‑5 weer soos volg:

 

"The books agree, in confining the remedy to certain relatives dependent on the deceased for support. A wife whose husband has been killed is universally recognised as being entitled to claim it, yet strange to say there is no express authority for the existence of a corresponding right in a husband. Among the many commentators who discuss the question, some in considerable detail, there is not one who states that an action of this nature is competent to a widower. The omission is highly significant; but in the absence of express authority the other way, one would not be justified in regarding it as decisive. Recognising, as I think we must, that it never occurred to the jurists of the seventeenth century to extend this remedy to a husband, and that there is no reported decision so extending it, we are still at liberty to inquire whether there is any reason why we should not make it available now. The position of our law with regard to negligence to‑day is the result of the growth and the regulated expansion of the original provisions of the Lex Aquilia. Crude and archaic in some respects, their operation was gradually widened by the application of the utilis actio, and by the interpretation of the Roman jurists. The broadening process was continued by Dutch lawyers on the same lines; and there is no reason why our Courts should not similarly adapt the doctrine and reasoning of the law to the conditions of modern life, so far as that can be done without doing violence to its principles."

 

[11] Of mens hier werklik met ’n uitbreiding van die aksie te doen het (vgl De Groot Inleidin

ge 3.33.3 en Matthaeus II 48, 5, 7, 11), is vir huidige doeleindes nie ter sake nie; wat eerder van belang is, is dat die hof dit as ’n uitbreiding met die oog op die eise van die moderne samelewing ingesien het en bereid was om die kategorie van afhanklikes aan wie ’n aksie verleen word, daarvolgens aan te pas (vgl Ongevallekommissaris v Santam Bpk 1999 (1) SA 251 (A) 258E‑H).Die beginsel waarna in Warneke se saak verwys word, word op 661 so geformuleer:

 

"With regard to the particular form of utilis actio of which the plaintiff desires to avail himself, the authorities allowed it only to near relatives who were dependent in whole or in part on the deceased for support. And they give full effect to the principles regulating claims for damage under the Lex Aquilia, because the only cases in which they recognise the action are cases in which the deceased was under an obligation to support the claimant. They do not as a rule make special reference to this obligation, because the relationship of the parties imports it. For they deal in terms only with the claims of the wife, children or parents, to all of whom of course the deceased owed a legal duty. Yet some of them make special reference to the existence of this duty. Matthaeus (De Crim. 48, 5, 11) says that the action is competent to the spouse, the children and others whom the deceased man was bound to support. And Vinnius (Inst. 4, 3, 1) gives it to those whom the deceased was wont ex officio to maintain. So that in all the cases actually mentioned in the books, the right of the claimant to demand assistance was a right of property, the deprivation of which by the culpa of the defendant would quite naturally found a claim for patrimonial damages. I can find no authority for the proposition that the law of Holland would have given an action of this nature to any relation not damnified by being deprived of benefits supplied by the deceased under a legal duty to do so. I do not think that we should depart from the principles to which I have drawn attention, and it only remains to consider whether consistently with their observance the statements in the declaration make out a case for relief".

 

Hoe die beginsel ook al geformuleer word, die geval van die geskeide vrou kan nie daaronder tuisgebring word nie. Gemeenregtelik het sy, na ontbinding van die huwelik, geen aanspraak op onderhoud teen haar gewese man gehad nie. So ’n aanspraak het trouens eers in 1953 in Suid‑Afrika ontstaan met die aanvaarding van die Wet op Huweliksaangeleenthede, 37 van 1953.

 

’n Aksie soos die onderhawige, waar ’n geskeide vrou met ’n hofbevel tot [13] onderhoud in haar guns teen die dader optree wat vir haar gewese man se dood verantwoordelik is, kan na my mening dus nie op grond van die geskrifte van die ou skrywers geregverdig word nie.

En dit is presies wat in Suid‑Afrikaanse Nasionale Trust en Assuransiemaatskappy v Fondo 1960 (2) SA 467 (A) ook gesê is. Die Fondo‑saak was nie gemoeid met die lot van die geskeide vrou nie, maar begaan oor die sogenaamde "naturelle‑weduwee" wie se man op nalatige wyse gedood is. Die hof bevind dat so iemand wat in ’n gebruiklike verbinding volgens naturellereg en ‑gebruik as man en vrou saamgeleef het, nie ’n afhanklike vir doeleindes van die gemeenregtelike aksie aan afhanklikes was nie. Botha Wnd AR verklaar op 471E‑F:

 

"Die regsmiddel wat deur die respondent aangewend word, is die actio sui generis wat ons reg aan die afhanklikes van ’n oorledene verleen om op hul eie naam en uit eie reg vergoeding van die vermoënskade, d.w.s. die verlies van onderhoud, wat die dood hulle veroorsaak het, op die wandader te verhaal."

 

[14] Die ratio van die beslissings is myns insiens te vind in die volgende dictum op 472G‑H:

 

"Dit is duidelik uit die boeke sowel as die doel van die regsmiddel dat dit beperk was tot persone wat vir hul onderhoud van die arbeid van die oorledene afhanklik was, en aangesien volgens die Romeins‑Hollandse Reg niemand verplig was om ’n ander buite sy familiekring te onderhou nie, en gesien die waarskynlike oorsprong daarvan in die gebruik van soengeld, volg dit myns insiens uit die aanhalings hierbo dat die regsmiddel nooit anders as beperk was nie tot die vrou en daardie familielede van die oorledene wat hy verplig was om te onderhou en daadwerklik onderhou het."

 

Ter illustrasie word dan op 472H‑473A gesê:

 

"Indien ’n reg op onderhoud deur die oorledene die enigste voorwaarde vir die aanwending van die regsmiddel vir die verhaal van vermoënskade as gevolg van die dood was, sou die aanname van iedere wetsbepaling wat iemand onder ’n verpligting stel om aan ’n ander onderhoud te betaal, ’n uitbreiding van die regsmiddel meebring. So sou, byvoorbeeld, ’n bevel tot onderhoud kragtens art. 10 van Wet 37 van 1953 ten gunste van ’n vrou wat van haar man geskei is, ’n uitbreiding van die regsmiddel meebring tot die vrou om by die dood van haar gewese man skadevergoeding te vorder. Dit is myns insiens uit die aard en doel van die regsmiddel duidelik dat dit vir so ’n uitbreiding nie vatbaar is nie."

 

[15] Hierdie illustrasie dek presies die geval wat tans onder bespreking is. Vir die beslissing in Fondo was die stelling egter nie essensieel nie en myns insiens was dit klaarblyklik obiter. Die uitspraak vervolg:

 

"Die vraag of die respondent die regsmiddel tot verhaal van haar vermoënskade wat sy gely het as gevolg van die dood van haar man, kan aanwend, hang dus af nie slegs van die vraag of die oorledene teenoor haar onder ’n regsverpligting gestaan het om haar gedurende die bestaan van die gebruiklike verbinding te onderhou en daadwerklik onderhou het nie, maar ook of sy volgens die gemenereg, wat die enigste regstelsel is wat by ’n in die Hooggeregshof ingestelde geding toegepas kan word, daarop kan staatmaak dat sy die vrou van die oorledene was volgens ’n huwelik wat ooreenkomstig die gemenereg as ’n wettige huwelik erken word, want slegs so ’n huwelik kan aan haar die status van ’n getroude vrou in ons reg verleen" (op 473C‑D).

 

En aangesien ’n gebruiklike verbinding nie ’n huwelik was wat ooreenkomstig die gemenereg as ’n wettige huwelik erken is nie, word die eis afgewys.

 

Die Fondo‑beslissing is deur akademici aan skerp kritiek onderwerp (vgl Boberg, The Law of Delict, 728; Van der Merwe en Olivier, Die Onregmatige Daad in die Suid‑Afrikaanse Reg, 6de uitg 344 en volgende; Neethling, Potgieter en Visser, Deliktereg 277‑8; Davel, aw, 49 en volgende) en ook nie deur die Zimbabwiese hof gevolg nie (Chawanda v Zimnat Insurance Co Ltd 1990 (1) SA 1019 (ZH); Zimnat Insurance Co Ltd v Chawanda 1991 (2) SA 825 (ZS)).

 

Tans gaan dit nie soseer oor die korrektheid van die Fondo‑beslissing as sodanig nie maar oor die juistheid van die obiter dictum, hierbo aangehaal, wat die geskeide vrou ondanks die reg op onderhoud wat sy aan die hofbevel ontleen ’n aksie teen die dader sou ontsê. In effek beteken die obiter dictum dat haar eis om vergoeding, waar haar onderhoud vanweë die dood van haar gewese man in gedrang kom, regtens nie erken word nie; anders gestel, dat haar onbetwiste reg op onderhoud, anders as dié van ander afhanklikes, regtens nie teen sodanige optrede as beskermingswaardig geag word en dat die optrede van die dader dus nie teenoor haar as onregmatig beskou word nie.

 

Die dictum raak die aksie wat die gemenereg aan sekere afhanklikes verleen. [17] Dat so ’n aksie, soos dit in ons reg ontplooi het, in ’n sin anomalies van aard is, word deur die moderne skrywers sterk beklemtoon (vgl die vroeëre verwysings) en is lank reeds deur hierdie hof toegegee. Vandaar dat dit as sui generis bestempel is. Aldus is in Legal Insurance Co Ltd v Botes 1963 (1) SA 608 (A) op 614D gesê:

 

"The remedy has continued its evolution in South Africa ‑ particularly during the course of this century ‑ through judicial pronouncements, including judgments of this Court, and it has kept abreast of the times in regard to such matters as benefits from insurance policies. The remedy relates to material loss "caused to the dependants of the deceased man by his death". It aims at placing them in as good a position, as regards maintenance, as they would have been in if the deceased had not been killed. To this end, material losses as well as benefits and prospects must be considered. The remedy has been described as anomalous, peculiar, and sui generis ‑ but it is effective."

 

En in Evins v Shield Insurance Co Ltd 1980 (2) SA 814 (A) op 837H tot 838A is verklaar:

 

"An essential and unusual feature of the remedy is that, while the defendant incurs liability because he has acted wrongfully and negligently (or with dolus) towards the deceased and thereby caused the death of the deceased, the claimant (the dependant) derives his right of action not through the deceased or from his estate but from the facts that he has been injured by the death of the deceased and that the defendant is in law responsible therefor. Only a dependant to whom the deceased was under a legal duty to provide maintenance and support may sue and in such action the dependant must establish actual patrimonial loss, accrued and prospective, as a consequence of the death of the breadwinner."

 

Die anomalieë waarna verwys word, is tipies van die aksie van die afhanklikes as sodanig en is nie eie aan die geval van die geskeide vrou wat ’n hofbevel tot onderhoud in haar guns het nie. Die betoog van die appellant dat dié soort aksie wat haar betref derhalwe eerder beperk as uitgebrei moet word, gaan dus nie op nie. Of daar, om die onthalwe van regselegansie en toekomstige regsontwikkeling, ’n noodsaak bestaan om die erkende anomalieë uit ons regspraak te weer, en wat die praktiese implikasies daarvan in ’n gegewe geval sou wees, is kwessies waaroor daar in hierdie saak nie na behore betoog is nie en wat gevolglik nie beslis hoef te word nie. Die enigste vraag wat tans ter sprake is, is of die klas van afhanklikes uitgebrei behoort te word om ook die geval van die geskeide vrou met ’n hofbevel in haar guns daarby te betrek. Die geleentheid om opnuut oor die dogmatiese kwelvrae te besin, sal te pas kom wanneer die uitslag van ’n geding pertinent daarvan afhang ‑ wat hier nie die geval is nie.

 

Die verlies aan onderhoud wat ’n afhanklike ondervind wanneer die broodwinner gedood word, word allerweë as ’n verskyningsvorm van sogenaamde suiwer ekonomiese verlies erken (vgl Boberg, aw 104, 123, 499; 8 LAWSA Deel I (Eerste her‑uitgawe) par 62), dit wil sê, waar die skade nie‑fisies van aard is (vgl Burchell, Principles of Delict, 47; Neethling,

Potgieter en Visser, aw 286).

 

Dat daar sedert die vroeë sestigerjare, toe Fondo beslis is, ’n enorme ontwikkeling op die gebied van die erkenning van instansies van eise om suiwer ekonomiese verlies plaasgevind het, weliswaar in situasies waar ’n omskrewe reg makeer, is oorbekend. Die ontwikkeling word in al die bekende handboeke oor die deliktereg beskryf. In Neethling, Potgieter en Visser aw 288, om maar een te noem, word dit soos volg saamgevat:

 

"Die maatstaf wat by hierdie beoordeling aangewend moet word, is die algemene redelikheids‑ of boni mores‑onregmatigheidskriterium. Soos bekend, vereis dié kriterium dat die hof "a value judgement embracing all relevant facts and involving considerations of policy" moet uitspreek. Dit word gewoonlik beskryf as die "policy‑based aspect of the 'duty of care' concept, by means of which the scope of delictual liability is judicially controlled". Die boni mores ‑kriterium behels basies ’n noukeurige afweging van die belange van die betrokke partye met inagneming van die gemeenskapsbelang."

 

Word hierdie benadering en gedagterigting op die onderhawige geval toegepas, waar die Fondo‑dictum ’n leemte geskep het, is daar in my gemoed weinig twyfel dat die gemeenskapsbelang verg dat ’n geskeide vrou se aanspraak op onderhoud, net soos dié van enige ander afhanklike, beskermingswaardig is. Logies, regspolities en op billikheidsgronde bestaan daar na my mening geen rede om die geval van die geskeide vrou van dié van ander afhanklikes te onderskei nie; dat die bron van die reg in die een geval gemeenregtelik en in die ander statutêr is, kom nie daarop aan nie ‑ trouens, die statutêre verlening van die reg op onderhoud aan die geskeide vrou is op sigself die produk van langdurige regsontwikkeling gegrond op die gemeenskapsoortuiging van wat reg en billik is. Die onderhoud post huwelik is in ’n sin bloot die voortsetting van die man se onderhoudsplig stante matrimonio. Akademiese skrywers begunstig omtrent almal die verlening van so ’n aksie. En die vrees wat soms om regspolitiese redes teen die toestaan van ’n aksie om suiwer ekonomiese verlies uitgespreek word ("liability in an indeterminate amount, for an indeterminate time to an indeterminate class: Ultra Mares Corporation v Toche (1931) 255 NY 170, aangehaal deur Burchell aw 47), geld nie hier nie.

 

Na my mening bestaan daar dus geen gegronde rede om iemand in die eiseres se posisie in beginsel’n aksie om skadevergoeding te ontsê nie.

 

Namens die appellant is egter betoog dat daar sekere addisionele anomalieë bestaan wat aan die eis van die geskeide vrou eie is. Wat in die besonder [22] beklemtoon is, is dat haar eis, anders as dié van ander afhanklikes, gegrond is op ’n hofbevel wat ’n spesifieke bedrag vermeld, sodat die omvang van haar eis aan die hand van daardie bedrag bepaal word en nie aan die hand van haar daadwerklike behoeftes nie. Die argument oortuig nie. Solank as wat daar ’n onderhoudsplig uit hoofde van ’n hofbevel bestaan, soos hier die geval is, sal die bedrag in die hofbevel stellig die eerste faktor wees by die bepaling van die bedrag wat uiteindelik aan ’n eiseres in so ’n geval toegeken word, maar dit is nie die enigste of selfs ’n deurslaggewende faktor nie. Die feitelike vraag bly telkens watter bedrag die eiseres by wyse van onderhoud van haar gewese man sou ontvang het. Daardie bedrag verg, soos elke geval waar dié tipe eis gekwantifiseer moet word, ’n veelvoud van oorwegings en vooruitskouings (vgl Boberg, The Law of Persons and the Family 304‑5; Ongevallekommissaris v Santam Bpk 1999 (1) SA 251 (A) 258E‑H). Na my oordeel steek daar in hierdie aspek niks anomalies nie.

[23] ’n Verdere argument, gegrond op die bepalings van die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades, Wet 27 van 1990, is myns insiens ewe onoortuigend. Die Wet bepaal dat indien ’n huwelik deur dood ontbind word die langslewende ’n vordering teen die boedel van die afgestorwe gade het vir die voorsiening in sy of haar redelike onderhoudsbehoeftes tot by sy of haar dood of hertroue vir sover hy of sy nie uit eie middele en verdienste daartoe in staat is nie. Omdat die Wetgewer beskerming verleen aan die gade, en nie aan die gewese gade nie, is dit ’n aanduiding, so is betoog, dat die gemeenskap die posisie van die voormalige gade nie as beskermingswaardig beskou nie. Dit volg nie. Dat die Wetgewer een euwel of leemte besweer, regverdig nie die afleiding dat ’n ander euwel of leemte óf nie bestaan nie óf nie aandag verdien nie.

 

Kortom, daar is enersyds genoegsame positiewe redes om die geskeide vrou wat oor ’n hofbevel in haar guns beskik tegemoet te kom deur haar by die klas van afhanklikes in te sluit aan wie so ’n aksie verleen word; en andersyds, in die [24] woorde van Innes R in Union Government (Minister of Railways and Harbours) v Warneke, supra, 665:

 

"... there is no reason why our Courts should not similarly adapt the doctrine and reasoning of the law to the conditions of modern life, so far as that can be done without doing violence to its principles."

 

Om gemelde redes behoort die appèl na my mening te misluk.

 

Dit laat die twee vrae wat by wyse van kruisappèl geopper is. Albei is in die alternatief tot die hoofeis ingeklee. En waar dit die geval is, het die advokaat vir die eiseres die hof tydens betoog meegedeel dat hy dié kwessies laat vaar. Ten opsigte van albei bestaan daar, op die feite waarop ooreengekom is, op die oog af in elk geval afdoende antwoorde, waarop dit, vanweë die toegewing, egter nie nodig is om verder in te gaan nie.

 

Die appèl word van die hand gewys met koste, insluitend die koste van twee advokate. Die kruisappèl misluk met koste.

 

P M NIENABER AR

 

Stem saam:

Hefer AR

Vivier AR

Plewman AR

Streicher AR

 

▲ To the top

Cited documents 0