Buthelezi en Andere v S (39/1997) [1999] ZASCA 65 (21 September 1999)


 

8

 

 

 

 

DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA

 

 

Saak Nr 39/97

In die saak tussen :

 

QAMBELENI BUTHELEZI Eerste Appellant

(Beskuldigde 2 in Hof a quo)

BHEKINKOSI MBHEKISENI MKHIZE Tweede Appellant

(Beskuldigde 9 in Hof a quo)

TEBOGO MAGUBANE Derde Appellant

(Beskuldigde 14 in Hof a quo)

PETRUS MDINISO Vierde Appellant

(Beskuldigde 31 in Hof a quo)

SITHEMBISO KHUBEKA Vyfde Appellant

(Beskuldigde 36 in Hof a quo)

MXOLISENI SIBONGELENI MKHIZE Sesde Appellant

(Beskuldigde 55 in Hof a quo)

VINCENT KHANYILE Sewende Appellant

(Beskuldigde 58 in Hof a quo)

SIPHO BUTHELEZI Agste Appellant

(Beskuldigde 59 in Hof a quo)

TIMOTHY STALS MAZIBUKO Negende Appellant

(Beskuldigde 60 in Hof a quo)

PAULOS MCIKELENI MBATHA Tiende Appellant

(Beskuldigde 62 in Hof a quo)

JACK MBELE Elfde Appellant

(Beskuldigde 64 in Hof a quo)

SONNY MICHAEL MKWANAZI Twaalfde Appellant

(Beskuldigde 65 in Hof a quo)

VICTOR MTHEMBU Dertiende Appellant

(Beskuldigde 68 in Hof a quo)

THOMAS MAKHEHLENI LUKHOZI Veertiende Appellant

(Beskuldigde 70 in Hof a quo)

RICHARD DLAMINI Vyftiende Appellant

(Beskuldigde 71 in Hof a quo)

MOSES MTHEMBU Sestiende Appellant

(Beskuldigde 73 in Hof a quo)

MHLUPHEKI SAMUEL TSHABANGU Sewentiende Appellant

(Beskuldigde 74 in Hof a quo)

 

en

 

 

DIE STAAT Respondent

 

 

CORAM : VIVIER, HARMS ARR et MELUNSKY Wnd AR

 

VERHOOR : 24 AUGUSTUS 1999

 

GELEWER : 21 SEPTEMBER 1999

 

 

U I T S P R A A K

 

VIVIER AR:

Om ongeveer tienuur die aand van 17 Junie 1992 het ’n paar honderd mans, gewapen met vuurwapens, assegaaie en kieries, die woonbuurt Boipatong en die aangrensende plakkerskamp, Slovopark, binnegeval, eiendom beskadig en geplunder en inwoners beseer en gedood.

Voortspruitende uit hierdie gebeure het 74 beskuldigdes voor Smit R in die Transvaalse Provinsiale Afdeling tereggestaan op 45 aanklagte van moord, een aanklag van openbare geweld, 22 aanklagte van poging tot moord en 85 aanklagte van opsetlike saakbeskadiging. By die aanvang van die verhoor is die saak teen 42 beskuldigdes teruggetrek. Aan die einde van die Staatsaak is beskuldigdes 44 en 45 op alle aanklagte onskuldig bevind en ontslaan. Beskuldigdes 39 en 67 is tydens die verhoor oorlede. Van die oorblywende 28 beskuldigdes is beskuldigdes 2, 9, 14, 31, 36, 55, 58, 59, 60, 62, 64, 65, 68, 70, 71, 73 en 74, na wie ek hierna as “die beskuldigdes” sal verwys, skuldig bevind aan al 45 aanklagte van moord, die aanklag van openbare geweld en aan 14 aanklagte van poging tot moord (aanklagte 47, 48, 50, 55, 57, 58, 59, 60, 61, 64, 65, 66, 67 en 68). Hulle is tot verskillende tydperke van gevangenisstraf gevonnis. Met die verlof van hierdie Hof appelleer die beskuldigdes slegs teen hul skuldigbevindings.

Die pleging van die misdade waaraan die beskuldigdes skuldig bevind is, was nie voor ons in geskil nie. Wat wel in geskil was, was die identiteit van die deelnemers aan die aanval. Die beskuldigdes se verweer was dat hulle nie deelgeneem het aan die aanval nie, dat hulle nie die betrokke aand in Boipatong was nie en niks van die pleging van die misdade weet nie.

Die Staatsaak was dat die beskuldigdes ten tyde van die aanval almal inwoners was van die KwaMadala hostel (“KwaMadala”) wat geleë is ongeveer een kilometer ten weste van Boipatong binne die gronde van Iscor naby Vanderbijlpark. Tussen KwaMadala en Boipatong is ’n oop veld. Ongeveer in die middel van die oop veld loop ’n teerpad van suid na noord tussen Vanderbijlpark en Vereeniging wat bekend staan as Frikkie Meyer Boulevard. Aan die noordekant van Boipatong loop ’n ander teerpad van wes na oos wat Frikkie Meyer Boulevard reghoekig kruis en wat bekend staan as Nobel Boulevard. Aan die noordekant van Nobel Boulevard is verskeie nywerheidsgeboue, een waarvan dié van Cape Gate is.

Die getuienis omtrent die ontstaan en ontwikkeling van KwaMadala was nie in geskil nie. KwaMadala is aanvanklik opgerig vir werknemers van Iscor. Na die voltooiing van die KwaMazisa hostel in Sebokeng gedurende die sewentigerjare is KwaMadala gesluit en die inwoners na KwaMazisa oorgeplaas. Nadat onluste gedurende 1990 tussen lede van die Inkatha Vryheidsparty (“Inkatha”) en die ANC in Sebokeng uitgebreek het, het sommige inwoners van KwaMazisa weer in KwaMadala gaan woon. Hulle is gevolg deur Inkatha-ondersteuners uit ander hostelle en omringende woonbuurte wat vir hul veiligheid gevrees het. Baie van hierdie mense was nie Iscor-werknemers nie. Ten tyde van die pleging van die huidige misdade was daar ongeveer 600 na 700 inwoners by KwaMadala, waarvan maar ongeveer die helfte by Iscor gewerk het. Voor die gebeure van 17 Junie 1992 was daar vir geruime tyd konflik tussen ondersteuners van die ANC en Inkatha in woonbuurte in die omgewing. Feitlik sonder uitsondering was die getuienis van die beskuldigdes en ander inwoners van KwaMadala by die verhoor dat hulle Zoeloes en/of Inkatha ondersteuners was en dat hulle by KwaMadala gaan woon het nadat hulle moeilikheid met ondersteuners van die ANC ondervind het. Terwyl KwaMadala gevolglik tot ’n toevlugsoord vir Zoeloes en Inkatha ondersteuners ontwikkel het, was die meerderheid van die inwoners van Boipatong en Slovopark ANC ondersteuners of simpatiseerders.

Vir die uitkenning van die beskuldigdes as deelnemers aan die aanval het die Staat hoofsaaklik op die getuienis van drie medepligtiges gesteun. Isaac Moswabudi Bojosi (“Bojosi”) het getuig dat hy sedert 22 April 1992 in KwaMadala gewoon het. Hy ken al die beskuldigdes. Hy het beskuldigdes 2, 9, 14, 31, 55, 58, 62, 65, 68, 71, 73 en 74 by vergaderings van die inwoners van KwaMadala leer ken. Beskuldigde 36 het hy leer ken toe laasgenoemde hom gehelp het om die kamer wat aan hom toegewys is, skoon te maak. Beskuldigde 59 het ’n kamer met hom gedeel. Beskuldigde 60 het hy geken nog voordat hy na KwaMadala gekom het. Hulle het aanvanklik ’n kamer in KwaMadala gedeel maar hy het later ’n ander kamer gekry en beskuldigde 60 het toe by die vorige kamer agtergebly. Beskuldigde 64 het in ’n kamer langs dié van Bojosi se broer gewoon. Beskuldigde 70 het hy reeds ongeveer vyf jaar vantevore ontmoet.

Bojosi het getuig dat ’n komitee van tien lede die inwoners se gemeenskaplike sake behartig het. Beskuldigde 73 was die president, beskuldigdes 2 en 9 die gesamentlike voorsitters en beskuldigde 58 die sekretaris van die komitee. Beskuldigde 9 was verder die indoena van die sogenaamde Mbotho-groep van ou manne en beskuldigde 2 was die leier van die jeug.

Bojosi het getuig dat hy die eerste keer van die beplande aanval op Boipatong gehoor het by ’n vergadering van inwoners wat by die stadion op die binneplein van KwaMadala gehou is ongeveer ’n week of twee voor 17 Junie 1992. By hierdie vergadering het beskuldigdes 2 en 73 eerste die inwoners toegespreek oor ’n byeenkoms wat by Jabulani gehou sou word. Daarna is die dames gevra om die vergadering te verlaat en toe het beskuldigde 9 aan die woord gekom. Hy het gesê dat die inwoners hulle gereed moes maak om ’n aanval op Boipatong te loods in weerwraak vir die aanvalle wat vantevore op die inwoners van KwaMadala gemaak is. Hy het verder gesê dat diegene wat vuurwapens wou hê, hul name by die hek moes gaan opgee. Beskuldigdes 31, 62, 68, 70 en 73 was ook by die vergadering. Die Verhoorhof, wat deurgaans die medepligtiges se getuienis met groot versigtigheid benader het, het bevind dat daar by gebrek aan stawing vir Bojosi se getuienis oor hierdie vergadering dit buite rekening gelaat moet word.

Bojosi het verder getuig dat sommige van die inwoners hul eie vuurwapens gehad het en dat daar twee AK-47 gewere in ’n stoorkamer versteek was wat hy op ’n dag gesien het toe beskuldigde 73 hom daarheen geneem het om ’n mat te gaan haal. Geld is gereeld van die inwoners ingesamel vir uitgawes soos begrafniskoste en dies meer en sy indruk was dat vuurwapens aangekoop is van die geld wat oorbly. So het beskuldigde 70 op ’n dag sy voertuig geleen om vuurwapens te gaan koop.

Bojosi het getuig dat hy die aand van 17 Junie 1992 in sy kamer was wat hy met onder andere beskuldigde 59 gedeel het, toe die sirene drie keer afgaan wat ’n teken was dat die inwoners moes vergader. Een van die inwoners het hom terselfdertyd aangesê om ’n wapen saam te vat. Hy het ’n stuk yster geneem en na die stadion gegaan waar hy ongeveer 300 van die inwoners aangetref het. Beskuldigde 9 het almal beveel om hul wapens te gaan haal. Die inwoners is aangesê om ’n muti wat Ntelezi genoem word, te drink wat beskuldigde 9 uit groot plastiese houers geskink het. Beskuldigde 31 het van die muti op die inwoners gesprinkel. Daar is gesê dat die gebruik van die muti hulle dapper sou maak en dat dit sou verhinder dat hulle raak geskiet word. Almal is aangesê om wit bandjies om hulle koppe te bind. Ene Damara het by die stadion in ’n voertuig aangekom waaruit hy en beskuldigde 9 ’n aantal AK-47 gewere gehaal het wat hulle aan verskillende mense, onder andere beskuldigde 2, oorhandig het. Beskuldigde 9 het een van die wapens vir homself gehou. Beskuldigde 70 het ook ’n AK-47 gedra en gesê dat hy ’n sekere persoon in Boipatong wou skiet. Bojosi het gevolglik vir beskuldigde 68 gevra om die geweer by beskuldigde 70 af te neem. Hy weet nie of beskuldigde 68 dit gedoen het nie.

Bojosi het voorts getuig dat om ongeveer halftien die betrokke aand ‘n groep van ongeveer 350 tot 400 inwoners van KwaMadala vertrek het na Boipatong. Hy was saam met die groep. Toe hulle by die hoofhek van die kompleks uitgaan, het hy vir beskuldigde 73 by die hek sien staan. Die groep het oor Frikkie Meyer Boulevard beweeg en by ’n boom in die oop veld wes van Boipatong in twee kleiner groepe verdeel. Terwyl hulle Frikkie Meyer Boulevard kruis, het ‘n voertuig daar ‘n U-draai voor hulle gemaak. In sy groep was beskuldigde 2 een van dié wat heel voor geloop het. Hulle het Boipatong langs Moshoeshoestraat binnegegaan en op die hoek van Lekoa- en Moshoeshoestrate het ’n groep van die Boipatong-inwoners op hulle geskiet. Hulle het teruggeskiet en die Boipatong-inwoners het gevlug. Beskuldigde 9 is een van drie lede van hulle groep wat op die Boipatong-inwoners geskiet het met ’n AK-47. Onder kruisverhoor het Bojosi sy getuienis verander en gesê dat hy die eerste keer die betrokke aand gesien het dat beskuldigde 9 ’n vuurwapen het toe hulle by Boipatong uitkom. Na die aanvanklike skietery het die invallers opbeweeg in Lekoastraat en na huise geskiet en vensters stukkend geslaan. Beskuldigde 74 het met ’n haelgeweer geskiet. Vanuit Lekoastraat het hulle regs gedraai in Bapedistraat en daarna links in Senqustraat waar ene Zondo se taverne geplunder is. Beskuldigde 14 was een van die wat by die taverne was. Uit Senqustraat het hulle regs gedraai in Batsoanastraat. Bojosi was nie presies seker van hul bewegings daarna nie, maar volgens hom het sy groep op ’n stadium in Tugelastraat aan die oostekant van Boipatong beweeg van waar hulle weer terug beweeg het in Lekoastraat tot by die kruising met Hlubistraat waar ’n hoekhuis en ’n voertuig geplunder is. Bojosi het vir beide beskuldigdes 64 en 65 op die perseel van hierdie huis gesien. Laasgenoemde het ’n 7,65 pistool gedra. Daarvandaan het hulle langs Hlubistraat tot in Bafokengstraat beweeg en daarna tot in Thembastraat aan die noordekant van Boipatong waar die ander groep by hulle aangesluit het. Daarvandaan is hulle direk terug na KwaMadala en teen halfelf die aand was Bojosi terug in sy kamer.

Bojosi het getuig dat by een van die huise waarvan hulle die vensters stukkend geslaan het, het beskuldigde 59 ’n persoon wat probeer ontvlug het, met ’n haelgeweer platgeskiet. Dié haelgeweer het ’n sekere merk op die kolf gehad. Volgens Bojosi was daar drie sulke gemerkte gewere in KwaMadala. By Hlubistraat 773 is ’n Sierra-voertuig beskadig. Een het die bandspeler probeer verwyder, ’n ander het die brandstoftenk met ’n spies stukkend gesteek en ’n derde het die ruite gebreek. In Tugelastraat het hulle ’n Peugeot-voertuig teengekom. Die insittendes het uitgespring en gevlug. Beskuldigde 62 het een van die voortvlugtendes met ’n spies in die hand gejaag, teruggekom en die Peugeot se bande met die spies stukkend gesteek. Beskuldigde 14 het ’n groot sak gedra toe hulle Boipatong verlaat het. Bojosi het nie vir beskuldigde 31 gedurende die aanval gesien nie, maar toe hy Ntelezi op die ander gesprinkel het, het hy ’n spies en ’n kierie gehad. Beskuldigde 58 het ook ’n spies en ’n kierie by die stadion gehad maar Bojosi het hom nie ten tyde van die inval gesien nie. Later in sy getuienis het Bojosi gesê dat hy nie kan onthou of beskuldigde 58 by die stadion gewapen was of nie. Terwyl hulle vir die ander gewag het buite Boipatong na die aanval het hy vir beskuldigde 60 met ’n Z 88-handwapen in sy hand gesien. Vir beskuldigde 68 het hy nie gedurende die aanval gesien nie. Bojosi het gesien dat beskuldigde 70 gewapen was met ’n AK-47 op pad na Boipatong. Vir beskuldigde 73 het hy nie weer gesien nadat hulle KwaMadala verlaat het nie.

Bojosi het getuig dat die dag na die aanval daar weer ’n vergadering van inwoners gehou is by die stadion wat deur ene Themba Khosa, ene Humphrey Ndlovu en beskuldigde 58 toegespreek is. Beskuldigde 58 het gesê dat al die goed wat in Boipatong geroof is, bymekaar gebring en verbrand moes word. Dit is daarna gedoen. Later in sy getuienis het Bojosi gesê dat dit nie beskuldigde 58 is wat so gesê het nie maar ene Khumalo. Bojosi het getuig dat beskuldigde 71 gehelp het met die insameling en verbranding van die goed. Tydens ’n gesprek daardie dag oor die aanval op Boipatong het beskuldigde 36 gespog dat hy ’n persoon gesteek het tydens die aanval.

Bojosi is op 3 Augustus 1992 gearresteer en later dieselfde dag het hy ’n verklaring aan die polisie gemaak waarin hy onder andere die volgende gesê het:

“By Boipatong is ons gesê dat die wat nie wapens het nie, moet skei van die wat wapens het. Die sonder wapens is aan die onderkant van die lokasie langs die skool gestuur saam met plus-minus 4 gewapende mans. Hulle moes kyk dat ons nie aangeval word nie. ... Ons het begin vensters breek met klippe wat ons langs die pad opgetel het. Ek het nie gesien of die ander met wapens iemand gesteek het nie. Ons het net vensters gebreek.”

 

Die volgende dag, 4 Augustus 1992, het Bojosi ’n verklaring voor ’n landdros gemaak wat in breë trekke ooreenstem met sy verklaring aan die polisie. Die verklaring, wat opvallend geen name noem nie, verskil wesenlik van Bojosi se getuienis by die verhoor. Bojosi het toe gesê dat die verklarings alles leuens was omdat hy net vrygelaat wou word.

Die tweede medepligtige wat by die verhoor getuig het, was Kgobi Oupa Moloi (“Moloi”). Volgens hom het hy sedert Januarie 1992 in KwaMadala gewoon. Hy het vir beskuldigde 14 reeds voorheen geken en daar was toe moeilikheid tussen hulle. Beskuldigde 14 het hom met ’n hamer op die kop gekap en wou hy vir beskuldigde 14 met ’n skroewedraaier steek. Beskuldigde 74 was op daardie stadium ’n polisieman en hy het vrede gemaak tussen Moloi en beskuldigde 14. Hy het ook vir beskuldigde 65 voorheen geken. Die orige beskuldigdes het hy almal leer ken by KwaMadala. Beskuldigde 2 was die leier van die jeug en beskuldigde 9 ’n indoena.

Moloi het getuig dat hy die aand van 17 Junie 1992 by ’n drinkplek in KwaMadala was toe die sirene afgaan wat ’n teken was dat die inwoners moet vergader. Hy en die ander mense by die drinkplek het nie reageer nie en beskuldigde 58 het hulle kom roep om na die vergadering te gaan. Hy is na die stadion waar reeds baie mense was. Die inwoners is aangesê om Boipatong te gaan aanval. Beskuldigde 9 het gesê dat almal hul wapens moes gaan haal. Beskuldigde 58 het gesê dat hulle wit lappies om hul koppe moes bind. Moloi het ’n kierie gaan haal. Toe die mense terugkom met wapens is hulle met Ntelezi besprinkel deur beskuldigdes 9, 58 en 73. Beskuldigde 74 het aan Moloi gesê dat hy nie kan saamgaan nie omdat die mense in Boipatong hom ken. Beskuldigde 73 het gesê dat hy vyf AK-47’s het. Beskuldigdes 2 en 58 het elkeen een daarvan geneem. Beskuldigde 59 en twee ander het elk ’n haelgeweer gehad. Beskuldigde 58 het aan Moloi gesê dat omdat hy Afrikaans kan praat hy voor moes loop sodat hy aan die polisie kon sê, indien hulle voorgekeer word, dat die comrades hulle aangeval het en dat hulle besig was om die comrades weg te jaag. Voordat hulle KwaMadala verlaat het, het Moloi verder gesien dat beskuldigdes 60 en 65 elkeen met ’n kierie, beskuldigdes 55 en 62 elkeen met ’n assegaai en beskuldigdes 64 en 68 elkeen met ’n pistool gewapen was. Beskuldigde 70 het ’n AK-47 gehad. Moloi het getuig dat hulle kort voor tienuur die aand KwaMadala verlaat het op pad na Boipatong. Beskuldigde 9 het voor geloop. Hulle was ongeveer 200 na 250 mense. Hulle het tot by ’n sekere plek in die veld gestap waar beskuldigdes 9 en 31 gesê het dat hulle vir die ander moes wag. Nadat nog mense by hulle aangesluit het, is hulle na Boipatong. Op die hoek van Moshoeshoe- en Lekoastrate het ’n groepie comrades op hulle geskiet en drie van hulle, waaronder beskuldigde 9, het teruggeskiet, waarop die comrades weggehardloop het. Die aanvallers het versprei en deur Boipatong beweeg terwyl hulle die vensters van huise met klippe stukkend gooi, by sommige huise ingaan en plunder en mense doodmaak en beseer. In Tugelastraat het hy self die vensters van ’n Peugeot stukkend geslaan. Moloi het in fyn besonderhede beskryf hoedat beskuldigde 71 in ’n huis in Hlubistraat ’n vrou en ’n kind met ’n assegaai doodgesteek het terwyl beskuldigde 67 (wat tydens die verhoor oorlede is) ’n ander kind met ’n 9 mm pistool doodgeskiet het. Hy het beskryf hoe hy die ma van die een kind in ’n hangkas in ’n ander vertrek gekry het en hoe hy ’n fiets by daardie huis gesteel het. Hy het gesien dat beskuldigde 2 ’n perseel, wat later geïdentifiseer is as Bafokengstraat 805, verlaat. Beskuldigde 36, gewapen met ’n assegaai, het saam met Moloi by ’n sekere perseel ingegaan. Beskuldigde 70 het by ’n ander huis ingegaan met ’n AK-47 in die hand. Die huis op die hoek van Hlubi- en Bafonkengstrate is aan die brand gesteek. Hy het gesien dat beskuldigde 64 Boipatong met gesteelde goed verlaat. Die aanvallers is met dieselfde roete terug na KwaMadala. By die hoofhek het hulle vir beskuldigde 73 gekry.

Moloi het voorts getuig dat die dag na die aanval hy die gebeure met beskuldigdes 36, 59 en 65 bespreek het terwyl hulle bier gedrink het. Beskuldigde 36 het toe gesê dat sy “assegaai iemand opgeëet het”. Beskuldigde 59 het gesê dat hy ’n kind met sy haelgeweer geskiet het en beskuldigde 65 het bygevoeg dat hy iemand verkrag het. Dieselfde dag het die polisie die kamers deursoek en beslag gelê op wapens. In beskuldigde 14 se kamer het hulle ’n TV-stel, ’n video-masjien, ’n M-Net dekodeerder en ’n hoëtroustel gekry wat beskuldigde 14 gedurende die aanval in Boipatong gesteel het. Moloi het so heftig beswaar gemaak dat die polisie dit net daar gelaat het. By ’n vergadering van inwoners van KwaMadala daardie dag het beskuldigdes 9 en 73 gesê dat al die goed wat by Boipatong geroof is, verbrand moes word. Moloi en beskuldigdes 31 en 64 het gehelp om die goed bymekaar te maak en te verbrand.

Moloi het getuig dat daar voor die aanval vuurwapens onder die grond en in ’n kantoor by KwaMadala versteek was. By ’n vergadering van inwoners is gesê dat nog vuurwapens aangekoop moes word met geld wat van die inwoners gekollekteer is.

Moloi het getuig dat hy op 3 Augustus 1992 gearresteer is en dat hy dieselfde dag ’n verklaring aan ’n landdros gemaak het. Op 6 Augustus 1992 het hy ingewillig om vir die Staat te getuig. Sedertdien was hy in beskermende aanhouding. Sy verklaring stem in wesenlike opsigte ooreen met sy getuienis alhoewel geen name daarin genoem word nie.

Hy het in sy getuienis verduidelik dat hy nie die name van die aanvallers in die verklaring genoem het nie omdat hy nog “deurmekaar in die kop” was van die gebeure van die betrokke aand en omdat hy bang was.

Die laaste medepligtige wat getuig het, was Eugenius Ntobeka Mnqithi (“Mnqithi”). Sy getuienis was dat alhoewel hy aan die aanval deelgeneem het, hy nooit gearresteer of in aanhouding was vir sy deelname nie en dat hy self na vore gekom en sy getuienis aan die Staat aangebied het.

Mnqithi het getuig dat hy en ene Shimi, ene Todi en ’n paar meisies saam met Bojosi in ’n kamer in KwaMadala gewoon het. Kort voor agtuur die aand van 17 Junie 1992 het die sirene wat ’n vergadering afkondig, gelui en die mans is na die stadion waar beskuldigde 9 besig was om die inwoners toe te spreek. Beskuldigde 9 het gesê dat hulle Boipatong moes gaan aanval en dat hulle wapens moes gaan haal vir daardie doel. Beskuldigde 9 het bygevoeg dat hy vier AK-47’s by hom het. Beskuldigde 9 het ook gesê dat hulle wit doeke om hul koppe moes bind. Beskuldigde 2 het ’n AK-47 in sy hand gehad. Almal het daarna opgestaan, wapens gaan haal en teruggekeer na die stadion waar hulle met Ntelezi besprinkel is deur beskuldigdes 9 en 73. Hulle is daarna by die hoofhek uit waar sommige met ’n bekertjie Ntelezi uit twee emmers wat daar gestaan het, geskep en gedrink het. By die hek het beskuldigde 9 gesê dat hulle in twee groepe moet verdeel wanneer hulle Boipatong nader. Die een groep moes na Boipatong en die ander groep na Slovopark gaan. Hy het hulle gewaarsku om nie hul eie mense te beseer nie en om in stilte te beweeg. Hierna is hulle oor die veld na Boipatong waar sy groep in Moshoeshoestraat, links op in Lekoastraat en regs in Bapedistraat beweeg het. Beskuldigde 9 was die leier van sy groep en het heel voor geloop. In Moshoeshoestraat het Mnqithi gehoor dat met ’n AK-47 vanuit sy groep geskiet word. Daarna het hulle begin om die vensters van huise met klippe stukkend te gooi. Ene Themba van hulle groep het twee skote geskiet op ’n groep inwoners wat hulle teengekom het. Hulle het by huise ingegaan en goedere geroof. By een huis het hy ’n bierhouer vol musiekplate geneem. By ’n ander huis het ’n Sierra-voertuig gestaan en hy het met ’n hamer die vensters van die voertuig stukkend geslaan nadat een die brandstoftenk van die voertuig probeer stukkend steek het. By ’n ander huis het een van die inwoners uitgekom en Mnqithi het die indruk gekry dat hy in sy maag gesteek was. By ’n sekere hoekhuis het hulle ’n brandende buiteband in die huis gegooi. Hulle het daarna die woonbuurt verlaat en is terug na KwaMadala langs dieselfde roete as wat hulle gekom het. Party mense het goedere gedra wat hulle gebuit het. Die volgende dag is hierdie goed aan die brand gesteek nadat hulle gehoor het dat die polisie die plek sou kom deursoek.

Mnqithi het getuig dat hy na die aanval op ’n ander aanklag gearresteer is. Na sy vrylating het hy nie weer teruggekeer na KwaMadala nie. Hy is deur lede van die ANC gered van sekere persone wat sy lewe bedreig het en hy het toe vir die organisasie vertel van sy betrokkenheid by die aanval. Deur bemiddeling van die ANC het hy sy getuienis aan die Staat aangebied en hy is deur die ANC na die Verhoorhof gebring.

Daar is stawing vir gedeeltes van die medepligtiges se getuienis te vind in die getuienis van Theresa Mofokeng. Sy het getuig dat sy vanaf Maart 1992 in KwaMadala gewoon het. Sy het aanvanklik ’n kamer gedeel met Bojosi, beskuldigde 70 en ’n aantal ander persone. Voor 17 Junie 1992 het sy ’n verhouding met beskuldigde 74 aangeknoop en sy het toe in sy kamer ingetrek wat hy met onder andere beskuldigdes 60, 65, 68 en 73 gedeel het. Die aand van 17 Junie 1992 het ’n sirene ’n vergadering van inwoners in die stadion aangekondig. By die stadion het mense die liedjie “n spies wat rooi is”, gesing. Die vrouens is weggestuur voor die vergadering begin het en op pad terug na haar kamer het sy Damara se voertuig voor die stadion sien staan wat nie sy gewone plek was nie. Later die aand het die mans wat in die kamer woon ingekom om lappies vir hul koppe te kry. Hulle het ook hul kieries en assegaaie geneem en weer uitgegaan. Op ’n stadium daarna het sy en haar kamermaat, ene Manosi, by die stadion gaan inloer om te sien wat aangaan maar daar was toe niemand nie. Die mans het later die aand teruggekom met hul wapens en die lappies om hul koppe. Daarna is sy na die kamer van beskuldigde 64 om vir ene Busisiwe te sien. Beskuldigdes 64, 65 en ’n paar ander mans was in die afgeskorte kombuisgedeelte van die kamer. Sy het gehoor dat hulle onder mekaar praat dat hulle ’n “onrus” gemaak het by Boipatong. Sy is later terug na haar kamer en het gaan slaap. Die volgende oggend het sy ’n bloedbevlekte duvet op beskuldigde 60 se bed gesien wat Manosi later gewas het.

Theresa Mofokeng het voorts getuig dat daar op 18 Junie 1992 weer ’n vergadering van inwoners gehou is waarop beskuldigde 73 opdrag gegee het dat alle goed wat by Boipatong gebuit is, verbrand moet word voordat die polisie die plek kom deursoek. Daarna het sy gesien dat beskuldigde 74 met ’n TV-stel uit sy moeder se kamer kom. Sy het nie gesien dat hy dit in die vuur gooi nie. Sy het ook gesien dat beskuldigde 64 goed verband.

Daar is verdere sterk stawing vir die medepligtiges se getuienis dat die aanvallers uit KwaMadala gekom het, te vind in die getuienis van Albertus de Jager, Salmon Roberts, Hendrik Cloete en Jakob Botha. De Jager het getuig dat hy by Cape Gate in Nobel Boulevard werk en ongeveer vyf tot ses minute per motor daarvandaan woon. Om ongeveer vyf-en-twintig voor tien die aand van 17 Junie 1992 was hy in sy motor van suid na noord in Frikkie Meyer Boulevard op pad vanaf sy huis na Cape Gate waar sy nagskof om tienuur sou begin. Hy het ’n groep van ongeveer 150 mense vanuit die rigting van KwaMadala in die rigting van Boipatong die pad voor hom sien kruis. Hy het omgedraai en is terug huis toe van waar hy die polisie en die onluste-eenheid in Vereniging gebel het. Toe hy verneem dat die polisie bewus is van die gebeure het hy weer na Cape Gate vertrek en kort voor tienuur daar aangekom. Toe hy by die ingang van Cape Gate kom, het hy ’n groep mense vanaf Boipatong na Cape Gate sien hardloop en hy het ’n tweede keer teruggekeer na sy huis. Hy het weer die onluste-eenheid gebel en is toe aangesê om oor ’n halfuur weer werk toe te gaan. Ongeveer halfelf die aand het hy weer vertrek en in die omgewing van KwaMadala het hy ’n groep mense so groot as die eerste keer vanaf Boipatong in die rigting van KwaMadala Frikkie Meyer Boulevard sien kruis. Hy het weer omgedraai en is huis toe.

Cloete en Roberts was lede van ’n weermag-eenheid van vyf persone wat die betrokke aand in ’n onluste-voertuig op ’n roetine patrollie in die omgewing was. Kort na tienuur die aand het hulle in Nobel Boulevard voor Cape Gate gestop en geweerskote vanuit Boipatong gehoor. Hulle het te voet in Nobel Boulevard al langs die grens van Boipatong beweeg en Cloete het getuig dat hy mense in die woonbuurt sien beweeg en gille gehoor het. ’n Man het by hulle gekom en gesê dat hulle hom moet help aangesien sy vrou en kind doodgemaak is. Hulle het versterkings aangevra en Cloete het by een van die twee Buffel-voertuie wat opgedaag het, ingeklim. Die voertuig het suid in Frikkie Meyer Boulevard gery en Cloete het ’n groot groep mense uit Boipatong sien kom wat in die veld in twee groepe verdeel en besig was om in die rigting van Frikkie Meyer Boulevard te beweeg. Die Buffel het gestop en beide groepe is ongeveer vyftig meter voor die Buffel oor Frikkie Meyer Boulevard in die rigting van KwaMadala. Cloete het getuig dat die groep gewapen was met spiese en stokke en dat een ’n wapen wat soos ’n AK-47 gelyk het, gedra het. Hulle het wit kopdoeke op gehad. Die Buffel het omgedraai en tot by KwaMadala gery waar hulle die ander Buffel sowel as die eenheid se onluste-voertuig en die polisie se Casspir-voertuie by die parkeerarea voor die ingang van KwaMadala aangetref het.

Botha was lid van ’n ander weermag-eenheid wat die betrokke aand busse met werkers vanaf Iscor na KwaMazisa, wat ongeveer vyftien kilometer vanaf KwaMadala geleë is, in ’n Buffel begelei het. Om kwart-oor-tien het sy eenheid ’n berig ontvang en die Buffel is na Frikkie Meyer Boulevard vanwaar hulle ’n groep van ongeveer 500 mense in die veld tussen die pad en Boipatong gewaar het. Die groep het Frikkie Meyer Boulevard oorgesteek in die rigting van KwaMadala. Die Buffel het gestop en die seksie-leier het uitgeklim en aankomende verkeer gestop terwyl die groep mense oor die pad beweeg het. Die Buffel is daarvandaan na KwaMadala waar hulle omstreeks kwart-voor-elf aangekom het en waar hulle bevelvoerder, majoor Jordaan, by hulle aangesluit het. Kort na hul aankoms by KwaMadala het twee polisie-voertuie daar aangekom en ook twee weermag-voertuie.

Oor die gebeure in Boipatong self is daar stawing vir die medepligtiges se getuienis in die getuienis van polisie-sersant Schlebusch en dié van inwoners van Boipatong. Volgens Schlebusch is ’n berig om ongeveer kwart voor tien die aand van 17 Junie 1992 ontvang dat Boipatong deur ’n groep mense aangeval word. Schlebusch is in ’n Casspir-voertuig na Boipatong waar hy in Hlubistraat gesien het dat huise se vensters gebreek is. Voor huis 961 op die hoek van Lekoa- en Hlubistrate het Abednego Mabuza die polisie gestop en hulp gevra. Schlebusch is saam met hom sy huis binne. In die ingang het ’n vrou met verskeie kap- en steekwonde gelê. Sy was reeds dood. In die kamer het nog ’n beseerde vrou op die bed gelê en kreun. Die deure en vensters was gebreek en binne was alles deurmekaar en omgekeer. Schlebusch het dadelik sy beheerstasie per radio in kennis gestel en versoek dat ’n ambulans sowel as ander eenhede van die polisie na die toneel gestuur word. Volgens Schlebusch was dit halfelf die aand toe hy by die huis aangekom het. Vanaf huis 761 is Schlebusch na huis 765 in Hlubistraat waar hy nog twee lyke en ’n beseerde vrou met kap-, steek- en skietwonde aangetref het. In die straat voor hierdie huis het ’n groep gewapende jeugdiges saamgedrom en geskreeu dat hulle KwaMadala gaan aanval. Schlebusch en sersant Kruger, wat intussen om tien voor elf in sy Njala-voertuig by hom aangesluit het, het per radio opdrag gekry om die veld tussen Boipatong en KwaMadala te patrolleer en te verhoed dat mense van die een gebied na die ander beweeg. Voordat hulle die gebied by huis 765 verlaat het, het die ambulans en ander polisie-eenhede ook daar aangekom. Schlebusch en Kruger het hierna in die veld wes van Boipatong gaan wag en is later saam met weermagversterkings terug na Boipatong waar hulle die res van die nag behulpsaam was met die polisieondersoek.

Meer as ’n honderd inwoners van Boipatong het by die verhoor oor die aanval getuig. In sowel breë trekke as in fyner detail steun hulle die weergawes van die medepligtiges oor die aanval. Baie inwoners het getuig dat die aanvallers wit lappies om hul koppe gehad het en dat hulle Zoeloe-sprekend was. Bojosi en Moloi se getuienis oor die beskadiging van ’n Peugeot in Tugelastraat word gestaaf deur die getuienis van Aaron Pesa voor wie se huis die voertuig gestaan het en wat die beskadiging gesien het. Bojosi se getuienis dat ’n Sierra-voertuig by Hlubistraat 773 geplunder is en Mnqithi se getuienis dat hy die ruite van ’n Sierra-voertuig met ’n hamer stukkend geslaan het nadat een probeer het om die brandstoftenk stukkend te steek, welke getuienis klaarblyklik na dieselfde voertuig verwys, is bevestig deur Rachel Mbhele wat by daardie adres woon en oor die skade aan die voertuig getuig het.

Moloi se getuienis oor die drie moorde by een huis word in belangrike opsigte gestaaf deur Alice Nonjoli, die moeder van een van die kinders. Volgens Nonjoli was sy in die hangkas en die twee oorlede kinders onder die bed in ’n kamer by hul huis te Hlubistraat 765 toe drie aanvallers die kamer binnegekom het. Die een kind is doodgesteek met ’n spies en die ander is doodgeskiet met ’n handwapen. Nonjoli het later haar skoonmoeder in ’n ander kamer dood aangetref. Nonjoli het bevestig dat ’n kinderfiets uit die huis gesteel is. Moloi se getuienis dat beskuldigde 67 die een oorledene met ’n 9 mm pistool doodgeskiet het, is verder gestaaf deur die getuienis van Patrick Nonjoli en luitenant Dirk Cornelius van der Merwe ten effekte dat vyf 9 mm patroondoppies in die betrokke huis gevind is.

Moloi se getuienis oor die plundering by Lekoastraat 761 word wesenlik gestaaf deur Samuel Mashope en sy getuienis oor die brand by die huis op die hoek van Hlubi- en Bafokengstrate word gestaaf deur die getuienis van Dinah Manyika en Ernest Mtimkulu.

Mnqithi se getuienis dat hy by ’n huis ingegaan het en ’n bierhouer met musiekplate daarin gesteel het, word bevestig deur Mary Baloyi van wie die plate gesteel is. Sy getuienis dat hulle ’n brandende buiteband by ’n sekere hoekhuis ingegooi het, word gestaaf deur Ernest Mthimkulu en Dinah Manyika. Laasgenoemde het getuig dat sy by haar ouers op die hoek van Hlubi- en Bafokengstrate woon en dat sy gesien het dat ’n brandende buiteband deur die venster by die huis ingegooi word.

Soos die Verhoorhof in sy uitspraak op die meriete daarop wys, is daar vele punte van ooreenkoms tussen die getuienis van die drie medepligtiges, nie net in die breë trekke daarvan nie maar ook wat die fyner detail betref. So meld al drie die vergadering vooraf, dieselfde roete wat gevolg is, die skietery by die kruising van Moshoeshoe- en Lekoastrate, die teen- woordigheid van weermagvoertuie, dat beskuldigde 67 per ongeluk deur een van sy makkers beseer is en dat die gesteelde goed die volgende dag verbrand is. Beide Bojosi en Mnqithi noem verder die musiekplate wat laasgenoemde gesteel het en die beskadiging van die Sierra-voertuig. Bojosi en Moloi noem beide die plundering van die Peugeot-voertuig.

Soos ek reeds gemeld het, is daar verder sterk stawing vir die medepligtiges se getuienis in dié van Theresa Mofokeng. Sy bevestig dat ’n vergadering van inwoners die aand van 17 Junie 1992 gehou is, dat gewapende inwoners met wit lappies om hul koppe op ’n ekspedisie vertrek het en dat goedere wat hulle daar aangebring het, die volgende dag verbrand is. Haar getuienis is deur die Verhoorhof as betroubaar aanvaar en geen voldoende rede is aangevoer om met hierdie bevinding in te meng nie.

Die Verhoorhof het bevind dat Bojosi en Moloi, ten spyte van gebreke en foute in hul getuienis, eerlike en betroubare getuies was. Van Mnqithi het die Verhoorhof gesê dat, alhoewel daar in verskeie opsigte objektiewe stawing vir sy getuienis is, hy nie altyd ’n betroubare getuie was nie. Die Verhoorhof was egter nie bereid om sy getuienis in die geheel te verwerp nie.

Wat die algemene strekking van die medepligtiges se getuienis betref, is daar afdoende stawing deur onbetwisbare getuienis dat die aanvallers uit KwaMadala gekom het. Daar is verder afdoende stawing vir hul getuienis dat die aanval vooraf beplan en georganiseerd was en dat die aanvallers in ’n groep en tot die tande gewapen saam uit KwaMadala na Boipatong opgeruk het. Die moontlikheid, soos betoog, dat die aanvallers spontaan en verspreid uit alle rigtings Boipatong binnegeval het nadat hulle een vir een deur die omheining agter die geboue in KwaMadala geglip het, is totaal strydig met die getuienis van De Jager en die weermaglede waarna ek reeds verwys het. Soos ek ook reeds gemeld het, is daar in talle opsigte stawing uit die mond van inwoners van Boipatong vir die medepligtiges se weergawe van die gebeure in Boipatong.

By die verhoor is namens die beskuldigdes aangevoer dat die polisie betrokke was by die aanval op Boipatong. Die Verhoorhof het bevind dat daar geen polisiebetrokkenheid by die aanval was nie en hierdie bevinding is nie voor ons aangeveg nie.

Namens die beskuldigdes is egter betoog dat daar ’n sameswering tussen Bojosi en Moloi was, met of sonder beïnvloeding deur die polisie, om vals te getuig. Ter ondersteuning van hierdie betoog is genoem dat hulle op dieselfde dag gearresteer is en daarna gelyktydig besluit het om vir die Staat te getuig. Die betoog berus op blote spekulasie. Daar is geen aanduiding dat hulle met mekaar in verbinding was tydens hul aanhouding nie. Indien daar ’n sameswering was, sou ek ook ’n groter mate van ooreenstemming tussen hul getuienis verwag het.

Namens die beskuldigdes is veel gewag gemaak van verskille en weersprekings tussen die getuienis van die medepligtiges. Ek vind dit nie nodig om enige daarvan in besonderhede te behandel nie. Dit is almal van nie-wesenlike aard en is te verwagte en doen nie afbreuk aan die geloofwaardigheidsbevindings van die Verhoorhof nie.

Wat die inhoud van die voorafgaande afspraak betref, is namens die beskuldigdes betoog dat dit slegs was om die sogenaamde comrades aan te val en nie Boipatong as geheel nie. Daar is geen feitebasis vir hierdie betoog nie. Dit is natuurlik so dat die aanvallers wraak wou neem vir optrede deur die comrades. Alle aanduidings is egter dat die afspraak was om Boipatong en nie slegs die comrades nie, aan te val. Al drie die medepligtiges het getuig ten effekte dat besluit is om Boipatong aan te val. Die wyse waarop die aanval uitgevoer is, staaf hierdie getuienis. Na my mening is daar voldoende bewys van ’n voorafbestaande ooreenkoms om die misdade te pleeg. In die omstandighede van hierdie saak is die afleiding onafwendbaar dat elkeen wat deel gehad het aan die afspraak, gehandel het met óf die direkte opset om die misdade te pleeg óf die risiko van die pleging daarvan voorsien en onverskillig daarteenoor gestaan het.

Die kernvraag bly natuurlik of daar stawing is vir die medepligtiges se getuienis ten opsigte van elke individuele beskuldigde. Sodanige stawing kan in die getuienis van ’n ander medepligtige gevind word mits hy ’n betroubare getuie is (S v Hlapezula and Others 1965(4) SA 439 (A) op 441 A-C.)

In hierdie verband moet die vraag oorweeg word of die medepligtiges moontlike motiewe gehad het om onskuldige persone, en in besonder hierdie beskuldigdes valslik te impliseer (cf R v Ncanana 1948(4) SA 399 (A) op 405). In die omstandighede van hierdie saak is ek tevrede dat daar geen algemene sodanige motief was nie. Die medepligtiges het hul eie deelname erken en daar was geen rede om wat hulle self gedoen het op ander af te skuif nie.

Dit is vervolgens nodig om die getuienis teen elke beskuldigde afsonderlik te oorweeg. Die beskuldigdes het almal getuig en sommige het ander getuies geroep om namens hulle te getuig.

Beskuldigde 2

Volgens Bojosi was beskuldigde 2 een van die gesamentlike voorsitters van die beheerkomitee by KwaMadala asook die leier van die jeug. Dit is ondenkbaar dat hy nie deel gehad het aan die voorafgaande afspraak om Boipatong aan te val nie. Volgens Bojosi was hy die betrokke aand met ’n AK-47 gewapen en was hy een van dié wat voor geloop het op pad na Boipatong. Moloi het ook getuig dat beskuldigde 2 die jeugleier was en die aand ’n AK-47 gehad het en aan die aanval deelgeneem het. Mnqithi het ook vir beskuldigde 2 in besit van ’n AK-47 gesien by die vergadering die betrokke aand.

Beskuldigde 2 het getuig dat hy ’n lid van Inkatha was, dat hy voorheen in ’n hostel in Sebokeng gewoon het maar dat hy in 1990 as gevolg van ’n twis tussen die ANC en Inkatha uit die hostel gedryf is en in KwaMadala gaan woon het. Hy het die betrokke aand kort na agtuur gaan slaap en weet niks van enige vergadering wat daardie aand gehou is of van enige aanval op Boipatong nie. Hy was die aand alleen in sy kamer en het niks gehoor nie. Beskuldigde 2 het erken dat hy die jeugleier in KwaMadala was en het aanvanklik erken dat hy as sodanig sitting op die beheerkomitee gehad het maar het dit later ontken. Beskuldigde 2 het getuig dat die sirene vir die hou van ’n vergadering nie die betrokke aand gelui het nie want as dit gelui het sou hy dit gehoor het. Die volgende dag was hy om vieruur die middag terug by KwaMadala nadat hy gaan inkopies doen het in die dorp en daar is geen vergaderings die res van die dag gehou nie. Hy weet niks van goed wat verbrand is nie. Mense word met Ntelezi besprinkel om hulle te kalmeer wanneer hulle kwaad is. Hy weet van geen vuurwapens wat in KwaMadala was nie. Die enigste rede waarom mense bandjies om hulle kop vasbind, is om hulle mooi te laat lyk.

Die Verhoorhof het beskuldigde 2 se getuienis as vals verwerp. Soos die Verhoorhof tereg daarop wys, kom sy getuienis neer op ’n ontkenning dat Boipatong hoegenaamd die betrokke aand deur inwoners van KwaMadala aangeval was, terwyl die onbetwiste getuienis oorweldigend daarop dui dat dit wel die geval was. As een van die leiersfigure in KwaMadala, maar selfs as ’n gewone inwoner, is dit ondenkbaar dat die aanval uit KwaMadala geloods was sonder dat hy daarvan bewus was. Sy getuienis is dus tereg as vals verwerp. Sy verduideliking van die gebruik van Ntelezi is deur die Verhoorhof as onwaarskynlik beskryf in die lig van die onbetwiste getuienis van kolonel Davidson dat Ntelezi volgens Zoeloe-gewoontes aangewend word om mense te beskerm teen gevaar of beserings in ’n geveg-situasie. Na my mening is die afleiding uit die omstandigheidsgetuienis onafwendbaar dat beskuldigde 2 deelgeneem het aan ’n voorafgaande afspraak om Boipatong aan te val en is hy korrek skuldig bevind.

Beskuldigde 9

Volgens al drie die medepligtiges het beskuldigde 9 ’n leiersrol gespeel in die aanval. Volgens hulle was hy ’n indoena of leier, was dit hy wat by die vergadering die betrokke aand gesê het dat Boipatong aangeval moet word en dat die mense hulle moet bewapen. Volgens al drie medepligtiges het beskuldigde 9 gehelp om Ntelezi uit te deel en het hy self ’n vuurwapen gedra. Volgens Moloi en Mnqithi was beskuldigde 9 een van dié wat voor geloop het op pad na Boipatong en was dit hy wat teruggeskiet het toe daar deur mense van Boipatong op hulle gevuur is.

Beskuldigde 9 het in sy getuienis gesê dat hy ’n lid van Inkatha is en dat hy op ’n soortgelyke wyse as beskuldigde 2 in KwaMadala beland het. Hy het erken dat hy ’n indoena en tradisionele leier van die Zoeloes is. Hy het die betrokke aand tussen nege-uur en tienuur gaan slaap en weet niks van die aanval nie. Hy weet van geen vergadering of die uitbrand van goedere die volgende dag nie. Alhoewel hy in ’n borgaansoek beweer het dat hy ’n lid van die beheerkomitee was en Bojosi ook so getuig het, het beskuldigde 9 ontken dat hy ’n lid van die komitee was of dat hy ooit so aan sy regsverteenwoordigers gesê het vir doeleindes van die borgaansoek. Soos in die geval van beskuldigde 2 kom sy getuienis ook daarop neer dat hy ontken dat die aanval vanuit KwaMadala geloods is. Dit is strydig met die onbetwisbare getuienis en die waarskynlikhede en sy getuienis is korrek deur die Verhoorhof verwerp as nie redelik moontlik waar nie. Hy is korrek skuldig bevind op dieselfde basis as beskuldigde 2.

Beskuldigde 14

Beide Bojosi en Moloi het getuig dat beskuldigde 14 aan die aanval deelgeneem het. Volgens Bojosi was beskuldigde 14 een van dié wat by Zondo se taverne in Boipatong ingegaan het en het hy ’n groot sak gedra toe hulle Boipatong verlaat. Moloi het getuig dat beskuldigde 14 ’n TV-stel in Boipatong gesteel het. Moloi het die volgende dag die polisie gekeer toe hulle op die gesteelde goedere in beskuldigde 14 se kamer wou beslag lê. Beskuldigde 14 het getuig dat hy na KwaMadala gevlug het, dat hy die betrokke aand vroeg gaan slaap het in sy kamer in KwaMadala en dat hy van niks weet nie. Soos in die geval van beskuldigdes 2 en 9 kom sy getuienis daarop neer dat daar nie ’n aanval vanuit KwaMadala was nie en vir dieselfde redes as in hulle geval is sy getuienis tereg deur die Verhoorhof verwerp. Selfs al het hy nie deel gehad aan die voorafgaande ooreenkoms om Boipatong aan te val nie, het hy aan die aanval deelgeneem met die klaarblyklike opset om gemeensaak te maak met die ander wat die misdade gepleeg het, terwyl hy die moontlikheid voorsien het dat die ander die misdade kon pleeg in die bereiking van hulle gemeenskaplike doel en hy onverskillig was daaromtrent. Sy optrede voldoen aan die vyf voorvereistes vir aanspreeklikheid op die basis van gemeenskaplike doel wat hierdie Hof in S v Mgedezi 1989(1) SA 687(A) op 705 I - 706 C gestel het. Hy is korrek skuldig bevind.

Beskuldigde 31

Bojosi het getuig dat beskuldigde 31 by die vergadering gehelp het om Ntelezi te sprinkel en dat hy toe met ’n kierie en ’n spies gewapen was. Volgens Moloi het beskuldigde 31 in die veld op pad na Boipatong vir die groep gesê dat hulle vir die ander moes wag. Hy het getuig dat beskuldigde 31 met ’n assegaai deelgeneem het aan die aanval. Beskuldigde 31 het verder die dag daarna gehelp om die goed wat verbrand moes word, bymekaar te maak.

Beskuldigde 31 het getuig dat hy ’n Zoeloe en ’n Inkatha-ondersteuner is en dat hy vanaf KwaMazisa verdryf is na KwaMadala. Hy het erken dat hy in ’n gesagsposisie in die hostel was. Die betrokke aand het hy om agtuur gaan slaap en weet van niks. Indien die alarm afgegaan het, sou hy dit gehoor het. Verder weet hy niks daarvan dat goed die volgende dag uitgebrand is nie.

Die Hof a quo wys in sy uitspraak op sekere onbevredigende aspekte in beskuldigde 31 se getuienis. So byvoorbeeld is hy gevra om ’n koerantberig te bevestig waarvolgens hy as die segsman van KwaMadala se inwoners aan ’n joernalis sou gesê het dat hulle (die Zoeloes) sou veg indien hulle aangeval word. Hy het die vraag ontwyk en was nie bereid om te sê wat hy aan die koerant gesê het nie. Hy het verder getuig dat hy Boipatong goed ken omdat sy broers daar verhoudings aangeknoop het. Later het dit geblyk dat hy self voorheen daar gewoon het. Beskuldigde 31 het erken dat toe die sirene die dag na die gebeure afgaan, hy dadelik sy wapen gegryp het en saam met die ander tot by die kruising van Frikkie Meyer Boulevard en Nobel Boulevard gegaan het omdat ’n weerwraak-aanval deur inwoners van Boipatong verwag was. Hy het ook gesê dat Ntelezi gebruik word indien mense kwaad word. Sy algehele ontkenning van enige kennis van of deelname aan die aanval is deur die Hof a quo as vals verwerp. Na my mening is bo redelike twyfel bewys dat hy deel gehad het aan die voorafgaande afspraak om Boipatong aan te val en dat hy deelgeneem het aan die aanval. Hy is korrek skuldig bevind.

Beskuldigde 36

Bojosi het getuig dat beskuldigde 36 die dag na die aanval en tydens ’n gesprek oor die gebeure, gespog het dat hy ’n persoon gesteek het. Volgens Moloi het beskuldigde 36, gewapen met ’n assegaai, saam met hom by ’n sekere perseel in Boipatong ingegaan. Die dag na die moorde het beskuldigde 36 gespog dat “sy assegaai het iemand opgeëet”. Die Verhoorhof het by die beoordeling van Moloi se getuienis teen beskuldigde 36 in ag geneem dat hy moontlik ’n motief kon hê om beskuldigde 36 valslik te impliseer omdat, volgens Moloi, beskuldigde 36 vantevore sy dogtertjie verkrag het.

Beskuldigde 36 het getuig dat hy ’n Zoeloe is en dat hy gedurende 1991 vanuit Evaton waar sy ouerhuis afgebrand is deur die ANC, na KwaMadala gevlug het. Op 17 Junie 1992 was hy so siek dat hy slegs opgestaan het om toilet toe te gaan. Hy het die aand vroeg gaan slaap en weet van niks. Indien die sirene gelui het, sou hy dit gehoor het. Die volgende oggend het hy egter saam met die groep uitgegaan om die verwagte aanval vanaf Boipatong te ontmoet. Beskuldigde 36 se getuienis is onoortuigend en is tereg deur die Verhoorhof verwerp. Hy is op die basis van gemeenskaplike doel tereg skuldig bevind.

Beskuldigde 55

Van die medepligtiges het slegs Moloi gesê dat beskuldigde 55 aan die aanval deelgeneem het en wel met ’n assegaai. Een van die inwoners van Boipatong, Richard Msibi, het egter vir beskuldigde 55 uitgeken as een van die aanvallers wat in sy huis ingekom en hom met ’n spies gesteek het. Hy het beskuldigde 55 aan ’n merk tussen sy oë uitgeken in ’n foto-album van die polisie waarin daar honderde foto’s was.

Beskuldigde 55 het getuig dat hy gedurende 1991 vanuit Sebokeng na KwaMadala gevlug het. Hy het die betrokke aand gaan slaap en dra geen kennis van die aanval nie.

Die Verhoorhof het beskuldigde 55 se alibi verwerp en sy uitkenning deur Msibi as betroubaar aanvaar. Daar bestaan geen rede om met hierdie bevinding in te meng nie en beskuldigde 55 is op die basis van gemeenskaplike doel tereg skuldig bevind.

Beskuldigde 58

Bojosi het getuig dat beskuldigde 58 die sekretaris van die beheerkomitee was. Sy getuienis oor beskuldigde 58 se deelname aan die aanval was egter nie oortuigend nie. Hy getuig eers dat beskuldigde 58 by die stadion gewapen was met ’n assegaai en ’n kierie maar later sê hy dat hy nie kan onthou hoe beskuldigde 58 gewapen was nie. Sy getuienis is verder dat hy nie vir beskuldigde 58 in Boipatong gesien het nie. Verder getuig Bojosi eers dat beskuldigde 58 die opdrag gegee het om die geroofde goed te verbrand maar later sê hy dat die opdrag van ene Khumalo gekom het. Moloi se getuienis was dat beskuldigde 58 hulle kom roep het om na die vergadering te gaan, dat hy by die stadion die inwoners aangesê het om wit lappies om hulle koppe te bind en dat hy gehelp het om die inwoners met Ntelezi te besprinkel. Hy getuig ook dat beskuldigde 58 by die stadion een van die AK-47’s geneem en vir hom gesê het dat omdat hy Afrikaans kan praat hy aan die polisie moes sê, indien hulle voorgekeer word, dat die comrades hulle aangeval het en dat hulle besig was om die comrades te verdryf.

Beskuldigde 58 se getuienis was dat hy uit Sebokeng verdryf is na KwaMadala. Die betrokke aand het hy om halfagt gaan slaap en hy weet van niks. Volgens sy eie getuienis is dit duidelik dat hy een van die leiers in KwaMadala was. Dit was sy taak om van elke inwoner R10 in te samel wanneer iemand gesterf het, om die geld te bestee en daarna by ’n vergadering van inwoners verslag te doen. Dit was verder sy funksie om vir beskuldigde 2 te help om vergaderings van die jeug byeen te roep.

Beskuldigde 58 het getuig dat die polisie na sy arrestasie aan hom gesê het dat, indien hy hulle sou help, hulle vir hom ’n huis in Kaapstad sou bou en hom R250,000 betaal. By sy huis sou die polisie hom oppas soos hulle met die Staatspresident doen. Beskuldigde 58 was ’n opsigtelike leuenaar en sy getuienis is tereg deur die Verhoorhof verwerp. Moloi se getuienis oor sy rol by die voorafgaande vergadering was indrukwekkend en oortuigend en word deur beskuldigde 58 se leuenagtigheid en tot ’n mate deur Bojosi gestaaf. Daarvolgens was hy een van dié wat vooraf afgespreek het om Boipatong aan te val en gehelp het om die aanval te organiseer. Hy was self gewapen met ’n AK-47 en die afleiding is onvermydelik dat hy saam na Boipatong toe is en aan die aanval deelgeneem het. Hy is korrek skuldig bevind.

Beskuldigde 59

Bojosi het getuig dat beskuldigde 59 in Boipatong met ’n haelgeweer met die merk “4 x 4” op die kolf op ’n persoon gevuur het. Moloi het bevestig dat beskuldigde 59 die betrokke aand met ’n haelgeweer gewapen was. Volgens Moloi het beskuldigde 59 die volgende dag aan hulle gesê dat hy ’n kind met die geweer geskiet het. ’n Haelgeweer, soortgelyk aan die een wat Bojosi beskryf het, is by die Verhoorhof as bewysstuk ingehandig. Volgens beskuldigde 59 was hy teenwoordig toe die polisie hierdie haelgeweer in KwaMadala gekry het. Hy het egter ontken dat hy enigsins bewus was van hierdie of ander versteekte wapens. Gedurende die kruisverhoor van Bojosi was dit egter namens beskuldigde 59 gestel dat hy gesien het toe die geweer begrawe is. Beskuldigde 59 kon hierdie aspek nie in sy getuienis verduidelik nie.

In die lig van die getuienis van Bojosi en Moloi en beskuldigde 59 se onvermoë om sy verbintenis met die haelgeweer te verduidelik, het die Verhoorhof tereg sy ontkenning van sy deelname aan die aanval verwerp. Hy is korrek skuldig bevind op die grondslag van gemeenskaplike doel.

Beskuldigde 60

Hierdie beskuldigde word deur die getuienis van Bojosi, Moloi en Theresa Mofokeng met die pleging van die misdade verbind. Volgens Bojosi het hy vir beskuldigde 60 met ’n Z 88-handwapen in Boipatong gesien deelneem aan die aanval. Volgens Moloi het hy vir beskuldigde 60 by die stadion in besit van ’n kierie gesien. Theresa Mofokeng se getuienis was dat beskuldigde 60 op die betrokke aand na die stadion gegaan het nadat die sirene gelui het en dat hy later na die kamer teruggekeer het om ’n wapen en ’n lappie vir sy kop te kry. Hy het later met ’n bebloede duvet teruggekeer wat die volgende dag gewas is.

Beskuldigde 60 het getuig dat hy pas vantevore in Sebokeng in ’n geveg met die comrades betrokke was en dat hy in die rug, kop, been en voorarm geskiet is. Hy het daarna na KwaMadala gevlug waar hy in dieselfde kamer as beskuldigde 74 was. Hy weet niks van die aanval nie en sou weens sy beserings in elk geval nie daaraan kon deelneem nie. Theresa Mofokeng se getuienis dat sy op 17 Junie 1992 in dieselfde kamer as beskuldigdes 60 en 74 gewoon het, is nooit betwis nie. In sy getuienis het beskuldigde 60 egter ontken dat Theresa saam met hom in ’n kamer gebly het op daardie stadium. Sy getuie, Augustina Tsotetsi, weerspreek sy getuienis in hierdie verband waar sy beweer dat Theresa op daardie stadium wel daar geslaap maar nooit daar ingetrek het nie. Die Verhoorhof het Augustina Tsotetsi se getuienis verwerp as bevooroordeeld en onwaarskynlik en Theresa se getuienis aanvaar. Beskuldigde 60 se weergawe is na my mening deur die Verhoorhof verwerp. Hy is tereg skuldig bevind op die grondslag van gesamentlike doel.

Beskuldigde 62

Volgens beide Bojosi en Moloi het beskuldigde 62, gewapen met ’n spies, aan die aanval deelgeneem. Volgens eersgenoemde het hy in Tugelastraat die bande van ’n Peugeot met die spies stukkend gesteek.

Beskuldigde 62 het getuig dat hy gedurende Januarie 1992 uit Sebokeng na KwaMadala gevlug het en dat hy niks van die gebeure weet nie. As daar wel ’n aanval uit KwaMadala was, sou hy daarvan geweet het. Sy getuienis is tereg as vals verwerp. Sy deelname aan die aanval het met gemeenskaplike doel geskied en hy is tereg skuldig bevind.

Beskuldigde 64

Bojosi het getuig dat beskuldigde 64 deelgeneem het aan die aanval en in besonder dat hy by die huis op die hoek van Hlubi- en Lekoastrate ingegaan het. Moloi het getuig dat beskuldigde 64 met ’n pistool gewapen was voordat hulle KwaMadala verlaat het en dat hy Boipatong met gesteelde goed verlaat het. Hy het ook die volgende dag die gesteelde goed help verbrand. Theresa Mofokeng impliseer ook beskuldigde 64 in die sin dat hy na die tyd erken het dat hy deelgeneem het aan die aanval.

Beskuldigde 64 het getuig dat hy sedert 1991 in KwaMadala woon. Vroeg in Junie 1992 is hy in die been deur die comrades geskiet en hy is eers twee weke voor die betrokke dag uit die hospitaal ontslaan. Hy kon toe slegs met die hulp van krukke beweeg. In kruisondervraging het hy toegegee dat hy eers gedurende Augustus 1992 geskiet is en dat hy op 17 Junie 1992 niks makeer het nie. Onbewus van hierdie toegewing het Busisiwe Mguli, wat direk na beskuldigde 64 namens hom getuig het, ook gesê dat sy beskuldigde 64 op 17 Junie 1992 met krukke sien loop het. Dit is duidelik dat dié getuie en beskuldigde 64 vooraf saamgespan het om ’n valse weergawe aan die hof voor te lê, soos die Verhoorhof ook bevind het. Die Verhoorhof het tereg bevind dat beskuldigde 64 met ’n gemeenskaplike doel deelgeneem het aan die aanval en hy is korrek skuldig bevind.

Beskuldigde 65

Bojosi het getuig dat beskuldigde 65 deelgeneem het aan die aanval terwyl hy met ’n 7,65 mm pistool gewapen was, in besonder dat hy een van dié was wat die huis op die hoek van Lekoa- en Hlubistrate binnegegaan het. Moloi het getuig dat beskuldigde 65 met ’n kierie gewapen was, dat hy in ’n groep was wat vensters gebreek het, dat hy saam met ander goedere by ’n huis uitgedra het en dat hy die volgende dag gesê het dat hy iemand verkrag het in Boipatong. Theresa Mofokeng het getuig dat beskuldigde 65 deel was van die groepie wat gepraat het oor die “onrus” wat hulle in Boipatong gemaak het.

Beskuldigde 65 het getuig dat hy eers op 27 Junie 1992 by KwaMadala ingetrek het en dat hy niks van die gebeure af weet nie. Volgens ’n video wat die polisie op 18 Junie 1992 by KwaMadala geneem het en wat aan beskuldigde 65 in die hof getoon is, blyk dit dat hy reeds op daardie datum by KwaMadala was. Sy ontkenning dat hy op die video verskyn is deur die Verhoorhof as leuenagtig bevind. Daar bestaan geen rede om met die Verhoorhof se verwerping van sy getuienis in te meng nie. Hy is tereg op die basis van gemeenskaplike doel skuldig bevind.

Beskuldigde 68

Beide Bojosi en Moloi impliseer beskuldigde 68 by die aanval op Boipatong. Bojosi het getuig dat hy by die vergadering die betrokke aand vir beskuldigde 68 gevra het om beskuldigde 70 se AK-47 af te neem omdat laasgenoemde gedreig het om ’n inwoner te skiet. Moloi het getuig dat hy vir beskuldigde 68 gesien deelneem het aan die aanval met ’n 9 mm pistool in die hand.

Beskuldigde 68 het erken dat hy twee pistole besit wat gelisensieer is. Hy het getuig dat hy een van die persone is wat vanaf KwaMazisa verdryf is na KwaMadala. Die betrokke aand het hy omstreeks negeuur gaan slaap en dra geen kennis van die gebeure nie. Sy ontkenning dat hy aan die aanval deelgeneem het, is tereg deur die Verhoorhof verwerp. Hy is op die grondslag van gemeenskaplike doel skuldig bevind.

Beskuldigde 70

Beide Bojosi en Moloi het getuig dat beskuldigde 70, gewapen met ’n AK-47, aan die aanval deelgeneem het.

Beskuldigde 70 het getuig dat hy gedurende 1991 deur die comrades uit Sebokeng verdryf is en dat hy daarna by KwaMadala gaan woon het. Vanaf 6 Junie tot 19 Junie 1992 was hy in Vereeniging in ’n hofsaak betrokke. Hy het gedurende hierdie tyd by ene Ethel Mamato tuisgegaan en was op geen stadium by KwaMadala nie. Ethel Mamato is nie as ’n getuie geroep nie. Beskuldigde 70 verskyn op die video wat die polisie op 18 Junie 1992 by KwaMadala geneem het. Beskuldigde 70 se getuienis is tereg deur die Verhoorhof verwerp. Hy is korrek skuldig bevind op die basis van gemeenskaplike doel.

Beskuldigde 71

Bojosi het getuig dat beskuldigde 71 die dag na die aanval gehelp het met die insameling en verbranding van die gesteelde goedere. Moloi het getuig dat beskuldigde 71 twee persone met ’n assegaai doodgesteek het by die huis in Hlubistraat. Moloi se getuienis oor die moorde by hierdie huis is, soos reeds daarop gewys, in belangrike opsigte deur die moeder van die een slagoffer, Alice Nonjoli, bevestig. Gedurende die kruisverhoor van Bojosi en Moloi is dit namens beskuldigde 71 aan hulle gestel dat beskuldigde 71 in die tydperk vanaf Mei tot September 1992 in Natal was. Hy verskyn egter op die video wat op 18 Junie 1992 by KwaMadala geneem is. In sy getuienis het hy erken dat hy reeds by sy arrestasie besluit het om ’n leuen te vertel oor waar hy op 17 Junie 1992 was. In die lig van sy valse alibi het die Verhoorhof tereg bevind dat die Staat sy saak teen beskuldigde 71 op die grondslag van gesamentlike doel bo redelike twyfel bewys het.

Beskuldigde 73

Dit is uit al die getuienis duidelik dat beskuldigde 73 ’n leiersrol in KwaMadala gespeel het. Hy was die president van die beheerkomitee en hoof-behuisingsbeampte. Volgens sy eie getuienis is geen vergadering van inwoners sonder sy goedkeuring gehou nie. Volgens Moloi en Mnqithi het beskuldigde 73 by die vergadering die betrokke aand die aanvallers met Ntelezi besprinkel. Hy was by die hek toe die groep uitgaan en het daar vir hulle gewag toe hulle terugkom. Moloi en Theresa Mofokeng het getuig dat beskuldigde 73 die volgende dag opdrag gegee het dat die gesteelde goedere verbrand moet word.

Beskuldigde 73 het getuig dat hy een van diegene is wat uit KwaMazisa gevlug het na KwaMadala. Hy was werksaam by Iscor en is aan die begin van Maart 1992 deur die inwoners gekies as die verantwoordelike behuisingsbeampte om beheer uit te oefen oor nuwe intrekkers by KwaMadala. Hy het bevestig dat KwaMadala ’n toevlugsoord geword het vir Inkatha-lede wat uit ander woonbuurtes verdryf is. Die besluit oor wie toegelaat word by KwaMadala het vanaf Maart 1992 by hom berus. Hy was in beheer van die stoorkamer waar vuurwapens gestoor is. Beskuldigde 73 het ontken dat daar enige vergadering van inwoners die betrokke aand in KwaMadala gehou is of dat enige aanval op Boipatong vanuit KwaMadala geloods is. Sy getuienis is tereg as vals deur die Verhoorhof verwerp. In al die omstandighede kan daar nie die geringste twyfel bestaan nie dat hy een van die beplanners van die aanval was wat ’n voorafgaande ooreenkoms gesluit het om ’n gewapende aanval op Boipatong te loods. Hy is gevolglik korrek skuldig bevind.

Beskuldigde 74

Bojosi het getuig dat beskuldigde 74 deelgeneem het aan die aanval met ’n haelgeweer. Moloi het getuig dat beskuldigde 74 by die vergadering gesê het dat hy nie kan saamgaan na Boipatong toe nie omdat die mense daar hom ken. Hy het ook nie vir beskuldigde 74 daar gesien nie. Theresa Mofokeng het getuig dat sy saam met beskuldigde 74 en ander in dieselfde kamer gewoon het. Die betrokke aand het beskuldigde 74 ’n vergadering in die stadion bygewoon en na ’n rukkie het hy ’n lap en wapens in die kamer kom haal. Die dag na die aanval het sy gesien dat beskuldigde 74 ’n televisiestel na die vuur dra.

Beskuldigde 74 het getuig dat hy voorheen ’n polisiebeampte was en dat hy na aanvalle op homself en sy familie gedurende 1991 in KwaMadala gaan woon het. Theresa Mofokeng het soms by hom in sy kamer geslaap. Op die betrokke aand was sy by hom in sy kamer. Hy weet niks van enige vergadering wat op die betrokke aand gehou is nie en dra ook geen kennis van enige aanval op Boipatong nie. Sy getuienis is tereg as vals deur die Verhoorhof verwerp en hy is korrek skuldig bevind op die basis van gemeenskaplike doel.

Bygevolg word die appèlle van al die beskuldigdes afgewys.

 

W VIVIER AR.

 

HARMS AR)

MELUNSKY Wnd AR) Stem saam.

▲ To the top