Fivaz v Absa Bank Bpk (77/1997) [1999] ZASCA 81 (10 November 1999)


DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID AFRIKA

 

 

Saaknommer: 77/97

Insake die appèl van

Philip John Fivaz Appellant

en

ABSA Bank Beperk Respondent

 

Coram: VAN HEERDEN AHR, VIVIER, HOWIE, SCOTT ARR en MELUNSKY WndAR

 

Datum van Verhoor: 10 November 1998

 

Datum gelewer: 10 November 1998

 

UITSPRAAK

 

VAN HEERDEN AHR:

Afgesien van ander oorwegings kan die appèl nie slaag nie tensy bewys is dat Volkskas teenoor die appellant die voorstelling gemaak het dat ‘n nuwe huurkontrak ten opsigte van die voorhaker tussen McGregor en Volkskas aangegaan was.

Ek bespeur nie in die appellant se eie getuienis ‘n ondubbelsinnige aanduiding dat Jacobs so ‘n voorstelling gemaak het nie. Die appellant het bont gepraat, maar by ontleding van sy getuienis het Jacobs volgens hom slegs gesê dat indien ‘n nuwe kontrak gesluit sou word (d.w.s. in die toekoms) die appellant van sy borgstelling bevry sou wees.

Hoe dit ook al sy, Jacobs ontken dat hy te kenne gegee het dat ‘n nuwe kontrak reeds gesluit was, en aangesien hy geweet het dat dit nog nie gebeur het nie is dit heel onwaarskynlik dat hy so iets sou gesê het.

Die appellant se advokaat het ook gesteun op ‘n voorstelling wat Volkskas deur gedrag sou gemaak het. Die betrokke betoog stuit egter teen die nadere besonderhede wat tot die verweerskrif verstrek is. In antwoord op ‘n vraag hoe Volkskas die skyn, waarop die appellant gesteun het, verwek het, is naamlik gesê dat die appellant aldus meegedeel was. Daar was gevolglik geen sprake van gedrag — in teenstelling tot ‘n mededeling — waarop die appellant hom beroep het nie.

Die betoog het in elk geval weinig om die lyf. Die aanvaarding deur Volkskas van die bedrag van R5 000 wat McGregor betaal het en die lewering van die voorhaker aan hom, was immers goed vereenselwigbaar met een of ander tussentydse reëling wat met McGregor aangegaan was.

Ander argumente wat namens die appellant geopper is, is eweneens sonder pit en hoef nie vermeld te word nie.

Die appèl word met koste afgewys.

HJO VAN HEERDEN

ADJUNK HOOFREGTER

STEM SAAM:

VIVIER AR

HOWIE AR

SCOTT AR

MELUNSKY WndAR

 

▲ To the top