S v Kearns (539/1998) [1999] ZASCA 85 (26 November 1999)




IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA


Saaknommer: 539/98


In die saak tussen:


YOLANDA KEARNS APPELLANT


en


DIE STAAT RESPONDENT



CORAM: HEFER, MARAIS ARR en MPATI Wnd AR


VERHOOR: 19 NOVEMBER 1999


GELEWER: 26 NOVEMBER 1999





UITSPRAAK

Diefstal - geld van werkgewer - gepastheid van korrektiewe toesig.




MPATI Wnd AR

Die appellant het in die streekhof in Paarl tereggestaan op 20 aanklagte van bedrog. Nadat sy skuldig gepleit het, is sy tereg skuldig bevind op al die aanklagte wat toe saamgeneem is vir doeleindes van vonnis. Die vonnis haar opgelê is een van 3 jaar gevangenisstraf, onderhewig aan die bepalings van art 276(1)(i) van Wet 51 van 1977 (die Strafproseswet). Daarbenewens is ‘n bevel gemaak in terme van art 300 van die Strafproseswet vir die terugbetaling, deur die appellant, van die bedrag van R67 740,61 aan die klaer. ‘n Appèl na die Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof teen die vonnis het misluk en met verlof van daardie hof kom die appellant nou in hoër beroep.

Na die appellant se skuldigbevinding is die saak uitgestel vir doeleindes van ‘n korrektiewe beampte se verslag, wat die landdros mero motu aangevra het. Die tersaaklike feite en omstandighede waaronder die misdade gepleeg is blyk uit die appellant se skriftelike verklaring wat ingevolge art 112(2) van die Strafproseswet by die verhoor ingehandig is, asook uit drie verslae wat deur ‘n sielkundige, maatskaplike werker en die korrektiewe beampte respektiewelik opgestel is. Die verslae van die sielkundige en maatskaplike werker is by ooreenkoms tussen die staat en die verdediging ingehandig, terwyl die korrektiewe beampte, Me Linda van Wyk, ook getuienis afgelê het. Die appellant het self nie getuig nie.

Tydens die pleging van die misdrywe was die appellant al 7 jaar werksaam by KWV, waar sy R2 803 per maand verdien het. Die misdrywe is gepleeg gedurende die periode 31 Julie 1996 tot 5 November 1996. Die appellant was werksaam by die verkope afdeling van KWV in Paarl en was verantwoordelik vir die ontvangs van alle kredietkaartbetalings op klante se rekeninge asook vir betalings deur personeellede. Sy het ook alle kontant ontvang van verkope wat by die verkope afdeling plaasgevind het. Haar modus operandi was om wel kwitansies uit te maak vir betalings wat sy ontvang het en daardeur voor te gee dat ‘n sekere klant se rekening nie in debiet was nie, terwyl sy die betaalde bedrag vir haarself toegeëien het. Aan haar werkgewer se kant het sy voorgegee dat die rekeninge nie vereffen was nie. Die totale bedrag wat die appellant op hierdie wyse verduister het, is R67 740,61.

Die redes wat tot die pleging van die misdrywe gelei het, is soos volg saamgevat in die appellant se art 112(2) verklaring:

Ek het hierdie geld gebruik vir my eie persoonlike voordeel, aangesien my moeder sieklik was en my vader reeds lank oorlede was en ek verantwoordelik was vir die huishouding en die onderhoud daarvan.”


By vonnisoplegging op 22 Augustus 1997 was die appellant 28 jaar oud. Sy was ongetroud en het by haar verloofde gewoon. As gevolg van die misdrywe het sy haar betrekking by KWV verloor. Die appellant se vader is reeds op 30 April 1988 oorlede. Haar moeder was ‘n chroniese alkoholis en as gevolg van hierdie omstandighede was die appellant op ‘n 20-jarige ouderdom genoodsaak om verantwoordelikheid te neem vir die hele gesin se funksionering en versorging. Sy moes reëlings tref vir haar moeder se opname by verskeie inrigtings vir detoksifikasie. Sy moes oor lang periodes vir haar moeder sorg en moes ook haar jonger broer help met behuising, klerasie en ander noodsaaklikhede. Dit blyk dat sy finansiëel nie in al hierdie behoeftes, tesame met haar eie, kon voorsien nie. Haar moeder is op 25 Maart 1997 oorlede.

As strafversagtend het die verhoorlanddros die volgende feite in appellant se guns in ag geneem: dat sy ‘n eerste oortreder is; dat sy skuldig gepleit het en haar bereidwilligheid verklaar het om KWV terug te betaal vir die verliese wat hulle gely het en dat sy werklike berou getoon het. Sy het ook daartoe ingestem dat haar pensioengelde waartoe sy bygedra het en wat ‘n bedrag van R17 882,69 beloop het, aan KWV oorbetaal word ter gedeeltelike vereffening van die skuld. Die balans sou sy deur middel van maandelikse paaiemente van R100 vereffen.

Aan die ander kant het die verhoorlanddros hom soos volg uitgelaat:

As die Hof egter stilstaan by die misdrywe waaraan u skuldig bevind is en die erns daarvan, moet u besef en ek dink u besef inderdaad dat u skuldig bevind is aan 20 baie ernstige oortredings.


Eerstens is dit so dat u by KWV in ‘n vertrouensposisie was. U het vir meer as sewe jaar by hulle gewerk en u het ‘n sekere verhouding met die bestuur en die werknemers van KWV opgebou.”


En verder:


Ek moet ook in gedagte hou dat daar ‘n plaag van witboordjiemisdaad plaasvind in hierdie land. Daagliks verskyn mense in ons Howe op klagtes van bedrog en diefstal van soms enorme bedrae geld.”


Mnr Klem, namens die appellant, het voor ons betoog dat op die feitestel van hierdie saak die landdros fouteer het deur nie ‘n vonnis ingevolge art 276(1)(h) van die Strafproseswet op te lê nie en dat hierdie Hof kan ingryp met die opgelegde vonnis omrede ‘n vonnis opgelê kragtens art 276(1)(h) wesenlik verskil van ‘n vonnis opgelê kragtens art 276(1)(i). (Daar sal onthou word dat die vonnis wat die landdros in hierdie saak opgelê het onderhewig is aan die bepalings van art 276(1)(i) van die Strafproseswet.) Mnr Klem het ook aangevoer dat die verhoorhof te min klem gelê het op die appellant se persoonlike omstandighede en te veel op die erns van die misdryf en die vergeldingselement by oplegging van ‘n gepaste vonnis. Mnr Klem het verder aangevoer dat indien die verhoorhof se uitspraak oor vonnis ontleed word sal gesien word dat die landdros bevind het dat die ellendige omstandighede waarin die appellant haarself bevind het nie genoegsaam was om ‘n vonnis ingevolge art 276(1)(h) van die Strafproseswet nie te veroorloof nie.


Die feit dat ‘n hof by die oorweging van ‘n gepaste vonnis tot die slotsom kom dat die belange van die gemeenskap, as gevolg van die erns en veelvuldige voorkoms van die misdryf, swaarder moet weeg as ‘n beskuldigde se persoonlike omstandighede beteken nie noodwendig dat die hof fouteer het nie. Daar is wel gevalle, soos die huidige, waar ‘n hof nie sy oë kan toemaak vir die geweldige toename in die voorkoms van ‘n sekere oortreding nie. Soos deur beide die verhoorhof en die hof a quo opgemerk het die appellant in ‘n vertrouensposisie verkeer toe sy die misdrywe, waaraan sy skuldig bevind is, gepleeg het. Die verhoorhof het ook in ag geneem dat hierdie soort misdryf, die sogenaamde witboordjiemisdryf, ‘n plaag in ons land is. Verder is die misdrywe waaraan die appellant skuldig bevind is oor ‘n periode van vyf maande gepleeg en dus het sy nie op die ingewing van die oomblik opgetree nie. Groot bedrae geld was betrokke. Gedurende Augustus 1996 het die appellant byvoorbeeld ‘n totale bedrag van R27 599,09 geneem. In Oktober 1996 het die totale bedrag R10 207,96 beloop en in November 1996 was die totale bedrag R19 884,12. Ek het reeds genoem dat die appellant nie self getuig het nie en daar is dus geen getuienis oor die presiese aanwending van hierdie groot bedrae geld nie. Onder die omstandighede is dit myns insiens nie onredelik om die afleiding te maak dat sy nie die geld net op die huishouding, haar siek moeder en jonger broer aangewend het nie. Hebsug, glo ek, moes ook in die prentjie gekom het. Nog ‘n faktor wat die verhoorhof in ag geneem het as strafverswarend is die feit dat daar by die appellant se wergewer reeds ‘n skema beskikbaar was waardeur personeellede geld kon leen as hulle in nood sou wees. Daar is geen getuienis dat die appellant nie daarvan bewus was nie. Sy moes daarvan bewus gewees het maar sy het verkies om geld op ‘n bedrieglike wyse van haar werkgewer te neem eerder as om gebruik te maak van die beskikbare skema.

Die omstandighede waaronder die appellant haarself bevind het - om vir ‘n gesin op ‘n 20-jarige ouderdom te voorsien terwyl haar moeder ‘n alkoholis was - het sy vir 6 jaar verduur. Waarom sy eers in die sewende jaar begin het met die pleging van die misdrywe is onverstaanbaar en glad nie verduidelik nie. Wanneer na al hierdie feite gekyk word, is ek nie daarvan oortuig dat die verhoorhof te min klem gelê het op die appellant se persoonlike omstandighede en te veel op die erns en veelvuldige voorkoms van die misdrywe nie.

Mnr Klem het ook aangevoer dat die landdros nie die effek wat gevangesetting op die appellant sal hê, oorweeg het nie. Hy het verder betoog dat ons hier te doen het met ‘n eerste oortreder wat begrip het vir wat sy gedoen het en wat nooit weer vir ‘n soortgelyke misdryf voor ‘n hof sal verskyn nie. Die appellant is wel as ‘n geskikte kandidaat vir korrektiewe toesig beskou, maar soos die hof a quo tereg opgemerk het, moet geskiktheid vir korrektiewe toesig nie met ‘n geskikte vonnis verwar word nie. In ‘n goed bedagte uitspraak het die landdros, nadat hy na hierdie Hof se uitspraak in S v Sinden 1995 (2) SASV 704 (A) verwys het, tot die slotsom gekom dat korrektiewe toesig in die omstandighede van hierdie geval nie ‘n gepaste vonnis is nie. Ek kan geen fout vind met die landdros se benadering nie. Die gevolg is dat daar nie met die uitoefening van die verhoorhof se diskresie ingemeng kan word nie.

Die appèl word derhalwe van die hand gewys.


MPATI Wnd AR

STEM SAAM:

HEFER AR

MARAIS AR

▲ To the top