S v Rheeder (173/1997) [2000] ZASCA 39 (8 September 2000)




IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA




SAAKNOMMER 173/97


In die saak tussen:




DIE STAAT Appellant



en



LEONARD ANDRè RHEEDER Respondent




CORAM: HEFER, SMALBERGER EN ZULMAN ARR




DATUM VAN VERHOOR: 6 SEPTEMBER 2000



DATUM VAN UITSPRAAK: 8 SEPTEMBER 2000


Verwydering en gebruik van eiendom sonder toestemming van die eienaar - oortreding van Artikel 1(1) van die Algemene Regswysigingswet 50 van 1956





UITSPRAAK




ZULMAN AR:


[1] Die respondent is in die Streekhof te Nelspruit skuldig bevind aan vier aanklagte (aanklagte 1 tot 4) van oortreding van artikel 1(1) van die Algemene Regswysigingswet 50 van 1956 en sewe aanklagte van diefstal. Op aanklagte 1 tot 4, wat saamgeneem is vir vonnisdoeleindes, is hy gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf wat in geheel opgeskort is vir vier jaar. Op die ander aanklagte is verskeie boetes en opgeskorte tronkstraf opgelê.


[2] Die respondent het teen die skuldigbevindings en vonnisse geappelleer na die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof. Die appèl is gehandhaaf ten opsigte van aanklagte 1 tot 4 (insluitende die alternatiewe aanklagte daartoe) asook een aanklag van diefstal en die skuldigbevindings en vonnisse ten opsigte daarvan is tersyde gestel. Die appèl teen die skuldigbevindings op die ander aanklagte is van die hand gewys maar die appèl teen die vonnisse is gehandhaaf. Die vonnisse is vervang met ander vonnisse wat nie hier relevant is nie. Die uitspraak is gerapporteer (sien S v Rheeder 1997(1) SASV 666(T)).


[3] Die appellant het daarna suksesvol aansoek gedoen om verlof om te appelleer na hierdie hof ten opsigte van aanklagte 1 tot 4 asook die alternatiewe aanklagte daartoe. Die appèl is aanvanklik ter rolle geplaas vir verhoor op 22 Mei 2000 maar geen betoogshoofde is deur respondent ingedien nie en daar was geen verskyning namens hom by die verhoor nie. Omdat daar ‘n moontlikheid bestaan het dat hy nie bewus was van die verhoordatum nie, is die appèl sine die uitgestel. ‘n Kennisgewing van terrolleplasing vir 5 September 2000 is daarna ooreenkomstig Reël 13(2) van die reëls van hierdie hof aan die respondent se laasbekende adres gestuur. Op dié dag was daar weer geen verskyning namens hom nie.


[4] Die omstandighede waaruit die vier aanklagte voortgespruit het, is soos volg: Die Suid-Afrikaanse Polisie het ‘n spesialiteitsafdeling te Witrivier. Die afdeling staan bekend as die Voertuigdiefstaleenheid. Die respondent was te alle relevante tye die bevelvoerende offisier van die eenheid met die rang van kaptein. Die pligte van die afdeling, as ‘n orgaan van die Staat, is om diefstal van motorvoertuie te bekamp deur onder andere die beslaglegging van gesteelde of vermoedelike gesteelde voertuie en die veilige bewaring daarvan met die doel om dit as bewysstukke aan ‘n hof beskikbaar te stel en uiteindelik in gepaste gevalle aan die wettige eienaars te oorhandig.


[5] Onbetwisbare getuienis is gelei van offisiere van die Suid-Afrikaanse Polisie dat dié voertuie nie deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisie gebruik mag word nie vir enige ander doel behalwe dié waarna ek reeds verwys het, en dat geen geldige toestemming daarvoor verleen kon word nie. Die prosedure wat gevolg is nadat daar op ‘n voertuig beslag gelê is, is dat dit na die Suid-Afrikaanse Polisie store gebring word, waar dit in ‘n SAP 13-register ingeskryf word. Daarna word dit in die stoor geplaas vir bewaring. Die sleutels van die voertuie word dan aan ‘n bord gehang. Wanneer die eienaar van ‘n voertuig opgespoor word, en die betrokke voertuig uitgeken is, word ‘n SAP 13-vorm vir ontvangs van die eiendom geteken. Die vorm dien ook as vrywaring vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens teen enige latere moontlike eise vir skade aan voertuie, of eiendom of onderdele wat verdwyn het.


[6] Die getuienis wat op die onderskeie aanklagte betrekking het, kan kortliks soos volg opgesom word:


AANKLAG 1

Die onderwerp van hierdie aanklag is twee Toyota Hi-Lux bakkies waarop beslaggelê is en in die SAP 13-register ingeskryf is as bewysstukke. Ter stawing van die aanklag is die getuienis van ‘n Sersant Schoeman aangebied. Hy het getuig dat hy met die toestemming en medewete van die respondent die twee voertuie gebruik het om sy meubels te vervoer tydens ‘n verhuising. Hy is, voordat hy getuienis afgelê het, skuldig bevind en gevonnis op aanklagte wat verband hou met die genoemde feite.


AANKLAG 2

Ter stawing van dié aanklag is die getuienis van Adjudant-offisier Agenbag en Sersant Venter aangebied. Die kern van hul getuienis is dat die betrokke voertuig deur Agenbag as bruidsmotor gebruik is op die inisiatief en met die volle medewete van die respondent.


AANKLAG 3

Dit was gemeensaak dat die respondent en ander kollegas met die voertuig wat die onderwerp van dié aanklag vorm - ‘n Mercedes Benz 300E - ‘n uitstappie na die Kruger Wildtuin onderneem het.


AANKLAG 4

Die getuienis het daarop gedui dat die respondent die betrokke voertuig vir die tydperk Desember 1993 tot Junie 1994 vir privaat doeleindes gebruik het.


Dit was nie betwis ten opsigte van al vier aanklagte dat daar op die betrokke voertuie beslaggelê is en dat dit in die SAP 13-stoor van die Voertuigdiefstaleenheid vir veilige bewaring en as bewysstukke gehou is nie.


[7] 7.1 Artikel 1(1) van die Algemene Regswysigingswet 50 van 1956 lui soos volg:

Iemand wat goed sonder ‘n bona fide-aanspraak op ‘n reg daartoe en sonder die toestemming van die eienaar daarvan of van die persoon wat die beheer daaroor het, uit die beheer van die eienaar of bedoelde persoon verwyder met die doel om dit sonder die toestemming van die eienaar of ‘n ander persoon wat bevoeg is om sodanige toestemming te verleen, vir sy eie doel te gebuik, hetsy hy deurgaans die bedoeling het om die goed aan die eienaar of die persoon uit wie se beheer hy dit verwyder, terug te besorg, aldan nie, is, tensy dit bewys word dat so iemand ten tyde van die verwydering redelike gronde gehad het om aan te neem dat die eienaar of sodanige ander persoon, indien hy daarvan geweet het, tot sodanige gebuik sou toegestem het, aan ‘n misdryf skuldig, en die hof wat hom skuldig bevind kan hom enige straf oplê wat regtens vir diefstal opgelê kan word.”


7.2 Hierdie wetsvoorskrif is op die wetboek geplaas na die beslissing in R v Sibiya 1955(4) SA 247 (A) waar hierdie Hof op grond van die ou skrywers se menings en die lang gevestigde praktyk van die howe beslis het dat dit geen misdaad is om ‘n ander se saak te neem en tydelik te gebruik nie.


7.3 Die doel van artikel 1(1) was klaarblyklik om die ongeoorloofde gebruik van ‘n ander se saak strafbaar te stel. Volgens die lang titel van die Wet, was die oogmerk van die wetgewing “om die onwettige toeëiening van die gebruik van ‘n ander se goed tot misdryf te verklaar...”


7.4 Daar is kritiek teen die bewoording van die artikel. Volgens die kritici is dit gemik teen die onwettige verwydering van goed en slaag dit nie in die beoogde doel, naamlik om gebruiksaanmatiging strafbaar te stel nie. (Milton: South African Criminal Law and Procedure volume III J4, Snyman : Strafreg 4de uitgawe 517 en De Wet en Swanepoel Strafreg 4de uitgawe 339 - 340).


[8] Dit blyk uit verskeie beslissings dat die artikel ook deur die howe geïnterpreteer is om slegs die onwettige verwydering van ‘n ander se saak strafbaar te stel en gevolglik nie die persoon in wie se besit die goedere reeds regmatig is en wat dit op ‘n ongeoorloofde wyse gebruik, aanspreeklik te hou nie. (Sien bv R v Dunyua 1961(3) SA 644 (O), S v Motiwane 1974 (4) SA 683(NK) en S v Schwartz 1980(4) SA 588 (T)).


[9] Daar is egter een beslissing wat teenoorgesteld is - R v Seeiso 1958(2) SA 231 (GW). Die feite was dat die klaer sy motorvoertuig aan die beskuldigde oorhandig het om die bekleding te herstel. Die klaer het die stuurwiel gesluit en die sleutel by hom gehou. Die beskuldigde het die stuurslot gebreek, die aansitterdrade aan mekaar gekoppel en met die voertuig gery. Die beskuldigde is skuldig bevind deur ‘n landdros aan ‘n oortreding van artikel 1 (1). Op appèl is namens die beskuldigde betoog dat die bedoeling van die wetgewer was om die gemeenregtelike posisie, naamlik dat die buite-kontraktuele gebruik van ‘n saak deur die besitter daarvan nie strafbaar is nie, te bevestig en dat die wetgewing slegs gerig is teen die persoon wat dit onregmatig uit die besit van die eienaar verwyder. Hieroor het Diemont R op 233A-D die volgende te sê gehad:

In any event it seems to me that if the Legislature had the intention which counsel seeks to ascribe to it, it would have been a simple matter to exclude from the ambit of this offence persons who had a contractual right to the detention of the property. Or again depositories, commendatories, bailees, borrowers and others of a like nature might have been specifically mentioned if it had been intended to make special provision for them. No such exemptions have been made and I do not see why they should be. As has been pointed out the action of a dishonest bailee who misuses a thing which has been entrusted to him, is at least as reprehensible as that of a person not entitled to the possession of the article..... When I leave my car at the garage to have the tyre changed, I do not expect the mechanic to ‘borrow’ it in order to embark on a trip to the Victoria Falls.”


en later op 233E:


Mr Loubser says it would be surprising if the Legislature intended to bring the depositary who makes unlawful use of the goods within the ambit of the crime. I do not see why it should be surprising; on the contrary I think it is surprising that the depositary should hitherto have escaped.”



Die hof het bevind dat as gevolg hiervan dit nie help om kers op te steek by die vroeëre beslissings oor diefstal en furtum usus nie, maar dat wat van belang is, die betekenis is wat aan die woord “control” (“beheer”) geheg moet word.


[10] Artikel 1(1) het, sover as wat ek kon vasstel, nog nie voor hierdie hof gedien vir beslissing nie. In R v Brand 1960 (3) SA 637 (A) is op 642A die volgende obiter opmerkings egter daaroor gemaak deur Schreiner, AR:


For these reasons the appellant should not have been found guilty of the theft of the car and as he did not remove the car from the owner’s control, he could not be found guilty of the offence created by sec 1 (1) of Act 50 of 1956.”



[11] Die kernvraag in casu is watter betekenis aan die woord “beheer” vir doeleindes van artikel 1(1) van Wet 50 van 1956 geheg moet word. In die verband het Diemont R in R v Seeiso (supra) die volgende gesê (op 233 G-H):


It is to be regretted that the Legislature has seen fit to use the word ‘control’ in this sub-section. It is a word to which it is difficult to give a clear and exact meaning and it is for this reason, possibly, that it is not more frequently used in legislation. I feel some sympathy for the learned Judge who described it as ‘an unfortunate word of wide and ambiguous import’. (See Bank of New South Wales & Commonwealth, 76 C.L.R. 1). In my view the word ‘control’ as used by the Lawgiver in this sub-section does not mean possession nor does it refer to the bare physical detention of the article. The person who has the detention may or may not be in control of the article depending on the circumstances under which he acquired the article. Such factors as the management of the article and the regulation of its use must be taken into account. In order to determine these matters we must look to the nature of the article and the use to which it is intended to be put.

(My beklemtoning)


[12] Ek stem saam. Die eerste vereiste vir beheer is een of ander vorm van houerskap (detentio). Maar beheer binne die omvang van artikel (1) beteken klaarblyklik meer as om net in liggaamlike besit te wees bv van ‘n voertuig en om oor die vermoë te beskik om dit te kan gebruik. Dit vereis volkome beheer, d w s liggaamlike besit met gepaardgaande geoorloofde seggenskap oor die voertuig ingeslote (in die geval van iemand anders as die eienaar) die reg of vergunning om dit te kan gebruik of te kan laat gebruik, hetsy vir ‘n bepaalde doel of na goeddunke. Waar iemand anders as die eienaar dus ‘n artikel in sy liggaamlike besit het, is die aard van die artikel en die omstandighede rakende sodanige besit lotsbepalend of daar beheer oor die artikel is soos in artikel 1(1) beoog. Tensy anders ooreenkom, sou die werktuigkundige aan wie ek my voertuig toevertrou om te versien word alleenlik “beheer” daaroor hê vir soverre dit nodig mag wees om die versiening te doen en vir aangeleenthede redelik bykomend daartoe. Sy “beheer” sou hom nie toelaat om die voertuig vir sy eie doeleindes te gebruik nie of om ander te veroorloof om dit te gebruik nie. Enige ongeoorloofde gebruik buite die omvang van sy ooreengekome “beheer” sou myns insiens op ‘n oortreding van artikel 1(1) neerkom.


[13] Artikel 30(c) van die Strafproseswet 51 van 1977 lui soos volg:


“‘n Polisiebeampte wat ‘n in artikel 20 bedoelde voorwerp in beslag neem of aan wie so ‘n voorwerp ingevolge die bepalings van hierdie Hoofstuk oorhandig word -


  1. moet, indien die voorwerp nie ingevolge die bepalings van paragraaf (a) of (b) oor beskik of oorhandig word nie, ‘n onderskeidende uitkenningsteken daarop aanbring en dit in polisiebewaring hou of sodanige ander reëling met betrekking tot die bewaring daarvan tref as wat die omstandighede vereis.”


Oor dié magte van die Suid-Afrikaanse Polisiediens word die volgende in Mokoena v Minister of Law and Order 1986(4) SA 42 (W) 45J-46A gesê:


Where members of the police force use wide powers conferred upon them by statute, the courts have a duty to ensure (so far as it lies within their function and duty to do so) that those powers are used lawfully and properly.”



Die bepaling in artikel 1(1) van Wet 50 van 1956 dien ter beskerming van die individu se eiendom. Gevolglik sou ‘n interpretasie wat meebring dat ‘n polisiebeampte tot so ‘n mate in “beheer” van beslaggelegde eiendom kom dat hy dit straffeloos vir sy persoonlike voordeel kan gebruik die doel van die artikel geheel en al negeer.


[14] Die respondent het toegang tot die voertuie gehad slegs vir sover dit deur die bepalings van die Strafproseswet gemagtig word. Hy het op geen stadium toestemming van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gehad om die voertuie in sy persoonlike besit te neem en te bestuur nie.


[15] Hoewel hy toegang tot die voertuie en hul sleutels gehad het, was hy nie in besit daarvan gestel vir die doeleindes waarvoor daar normaalweg volkome beheer oor ‘n voertuig uitgeoefen word nie. Indien hy nie regtens (uit hoofde van departementele regulasies en voorskrifte) bevoeg was om die voertuig uit die stoor te neem en daarmee rond te ry nie, kan dit nie gesê word dat hy in volkome beheer daarvan was nie.


[16] Na my oordeel het die hof a quo regtens fouteer deur te bevind dat voertuie, wat in ‘n bergingskamp van die polisie gehou word, in “beheer” van die polisiebeampte in bevel van die bergingskamp is tot so ‘n mate dat hy nie die bepalings van artikel 1(1) oortree indien hy dit op ‘n ongeoorloofde wyse gebruik nie. Die betrokke polisiebeampte het slegs in ‘n beperkte administratiewe hoedanigheid beheer oor die voertuie en hulle is op geen stadium in sy volkome beheer nie. Enige ongeoorloofde verwydering van die voertuie uit die bergingswerf kom neer op verwydering uit die beheer van die instansie wat in beheer daarvan is en sodanige polisiebeampte maak hom gevolglik skuldig aan ‘n oortreding van artikel 1(1) wanneer hy dit sou doen (mits natuurlik die ander vereistes van die artikel bevredig is).


[17] Die appèl slaag. Die skuldigbevindings op aanklagte 1 tot 4 en die vonnisse deur die streeklanddros opgelê, word herstel.


________________________

R H ZULMAN JA


HEFER JA) CONCUR

SMALBERGER JA)

▲ To the top

Cited documents 1

Legislation 1
  1. General Law Amendment Act, 1956

Documents citing this one 0