S v Peterson and Another (374/1999) [2000] ZASCA 91 (21 November 2000)


4


RAPPORTEERBAAR


IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN SUID-AFRIKA



Saaknommer : 374 / 99



In die appèl van




ROGER PETERSON Eerste Appellant

ADRIAN QUINTON HING Tweede Appellant




en




DIE STAAT Respondent




Regbank : Olivier en Zulman ARR; Farlam

WnAR




Verhoordatum : 26 September 2000



Datum van Uitspraak : 21 November 2000




SAMEVATTING


Jeugdiges behoort nie gevangenisstraf opgelê te word sonder volledige verslae en getuienis van proefbeamptes of maatskaplike beamptes of sielkundiges nie.



U I T S P R A A K



PJJ OLIVIER

Olivier A R





[1] Die tragiese feit wat hierdie appèl oorheers, is dat die twee appellante toe hulle die moord waaraan hul skuldig bevind is, gepleeg het, onderskeidelik slegs 15 en 16 jaar oud was. Hierdie feit is ook lotsbepalend van hierdie appèl.

[2] Die twee appellante het gedurende 1996 in die Suidoos-Kaapse Plaaaslike Afdeling van die Hooggeregshof voor Nepgen R en twee assessore op drie aanklagte tereggestaan. Die eerste aanklag was een van moord, waarvolgens dit die appellante ten laste gelê is dat hulle op 11 Oktober 1995 te Bloemendal, in die distrik van Port Elizabeth, wederregtelik en opsetlik ene Bronwell Kettledas om die lewe gebring het. Aanklagte 2 en 3 is onderskeidelik n aanklag van oortreding van artikel 2 gelees met artikels 1 en 39 van die Wet op Wapens en Ammunisie 75 van 1969, te wete die wederregtelike besit van ’n 9 mm pistool en ’n tuisgemaakte haelgeweer, en ’n oortreding van artikel 36 gelees met artikels 1, 39 en 40 van gemelde Wet, te wete die wederregtelik besit van ’n aantal 9 mm en haelgeweer patrone.



[3] Beide die appellante is skuldig bevind soos aangekla. Op die aanklag van moord is albei tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die tweede en derde aanklagte is vir vonnisdoeleindes saamgeneem en op hierdie aanklagte is albei tot 2 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die verhoorhof het gelas dat die vonnisse op aanklagte 2 en 3 saam met die vonnis op aanklag 1 uitgedien word. Die effektiewe termyn van gevangenisstraf elkeen van die appellante opgelê, is dus 18 jaar.


[4] Beide appellante het by die verhoorhof aansoek gedoen om teen die skuldigbevindings en vonnisse te appelleer. Nepgen R het dit van die hand gewys. Diea ppellante het daarna by wyse van petisie die Hoofregter genader, wat aan beide appellante verlof verleen het om na die Volbank van die Oos-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof te appelleer, dog slegs teen die opgelegde vonnisse.

[5] Die appèl is deur die Volbank (Jansen, Pickering en Leach RR) aangehoor. In ’n uitspraak gelewer deur Jansen R, waarmee die ander lede van die regbank saamgestem het, is die appèl teen die vonnisse van die hand gewys.

[6] In Julie 1999 is spesiale verlof deur die Hoofregter aan die appellante verleen om na hierdie Hof te appelleer teen die gemelde vonnisse.

Die gepleegde misdaad



[7] Die gebeure wat tot die skuldigbevinding van die appellante gelei het, het in die vroeë aandure van 11 Oktober 1995 afgespeel, in die omgewing van n “huiswinkel” van ’n aantal Rastafarians, bekend as die Rastas se huis”. Die huis is geleë waar Burkestraat by Brendonstraat in Bloemendal aansluit. Ten tyde van die betrokke voorval was daar ten minste twee vyandige bendegroepe in die omgewing aktief : die “Tamatieboys” in Brendonstraat en die “Tallaboys” in Burkestraat.

[8] Die verhoorhof het die getuienis van die staatsgetuies oor hoe die voorval plaasgevind het, aanvaar. Onder andere is die getuienis van Cyndy Smith, ’n 20-jarige jongvrou, aanvaar. Die opsomming van haar getuienis deur die verhoorhof skets die tragiese en sinnelose gebeure volledig :


“Smith het getuig dat sy op die betrokke aand van die werk af gekom het en daarna na die huiswinkel gegaan het. Sy het gesê dat sy beide beskuldigdes goed ken. Dat sy, asook die getuies Matroos en Van Vight, die beskuldigdes geken het, was nie in geskil nie. Hoe dit ookal sy, Smith het beweer dat sy goed bevriend was met die twee beskuldigdes. Sy het ook die oorledene geken en het hom beskryf as ’n persoon wat nie by sy volle positiewe was nie. Volgens haar was daar tussen die oorledene se familie en die familie van beskuldigde nr 2 vyandskap. Waaroor hierdie vyandskap gegaan het, het sy gesê dat sy nie weet nie. Sy het gesê dat sy op die betrokke aand, toe sy by die huiswinkel was, in die geselskap van Matroos asook ene Frances was.

Toe hulle daar aangekom het, was nóg die beskuldigdes nóg die oorledene daar. Later het die beskuldigdes daar aangekom. Op daardie stadium het Smith en Matroos voor die huis gestaan. Beskuldigde nr 2 het vir haar ’n sigaret gevra. Sy het toe by die winkel ingegaan en n los sigaret vir hom gekoop. Sy het uitgekom en die sigaret vir hom gegee en is daarna terug in die winkel in. Na ’n ruk is sy deur Radeen geroep en gesê dat beskuldigde nr 2 haar roep. Sy het weer uitgegaan. Toe sy uitkom toe staan beskuldigde nr 2 voor die winkel. Beskuldigde nr 1 was ook daar. Beskuldigde nr 2 het op daardie stadium vir haar met sy arm om haar nek vasgevat en sy het toe gevoel hoe ’n vuurwapen in haar rug gedruk word. Sy het hom gevra hoekom hy die wapen in haar rug druk en hy het gesê dat hy net iets wil vra. Sy het haar toe losgeruk en die winkel ingehardloop. Sy is egter weer baie gou daarna uit en het toe vir beskuldigde nrs 1 en 2 weer buite aangetref. Op daardie stadium het sy die oorledene opgemerk. Hy het, soos sy dit gestel het, vir hulle almal vir ’n sigaret gevra. Hy het eers vir haar gevra en toe ook vir Radeen en toe vir sekere van die Rastafariërs wat daar was. Op hierdie stadium het beskuldigde nr 2 die oorledene met sy vuiste in sy gesig en in die omgewing van sy bors begin slaan. Beskuldigde nr 1 het hierby aangesluit en die oorledene ook met sy vuiste geslaan. Sy het gesê dat sy nie presies kon sê waar op die oorledene se liggaam hy so geslaan is nie. Die oorledene het tydens die aanranding geskree. Op ’n stadium het hy kans gekry om hom los te ruk en toe weggehardloop. Terwyl hy gehardloop het, het beskuldigde nr 2 geskree dat hy moet stilstaan. Die oorledene het nie hieraan gehoor gegee nie en toe het beskuldigde nr 2 op hom met ’n handwapen begin skiet. Smith kan onthou dat sy drie skote gehoor het wat afgevuur was. Haar indruk was

dat die eerste skoot die oorledene getref het omdat hy gegryp het na sy arm en sy het verder getuig dat die ander skote ook die oorledene moes getref het want hy het geval. Sy het toe, nadat die oorledene geval het, nader gestaan en hy het vir haar gesê dat sy aan die beskuldigdes moet verduidelik (om haar woorde te gebruik) dat hy nie by die dinge betrokke is nie. Sy het dit vertolk as ’n versoek aan haar dat sy die beskuldigdes moet sê dat die oorledene nie enige probleme met die beskuldigdes het nie omdat hy nie ’n lid van ’n bende is nie. Nadat die oorledene geval het, het beskuldigde nr 1 na hom gegaan en hom met die wapen wat hy gehad het, wat sy as ’n tuisgemaakte haelgeweer beskryf het, geskiet. Sy het gesê dat sy gesien het dat beskuldigde nr 1 sukkel om hierdie wapen aanmekaar te sit omdat dit uit twee los gedeeltes bestaan het. Sy het verklaar dat die afstand tussen beskuldigde nr 1 en oorledene, toe hy die skoot afgevuur het, ongeveer 1½ meter (die afstand wat sy uitgewys het) was. Op daardie stadium was beskuldigde nr 2 besig om weg te hardloop in die rigting van sy huis. Hy het, terwyl hy gehardloop het, aan hulle ’n dreigement geuiter dat hulle nie moet praat oor wat hulle gesien het nie. Sy het in die huis ingegaan en daar gebly todat die polisie daar aangekom het. Sy het op daardie stadium niks ge nie, want volgens haar was sy geskok en sy wou nie betrokke geraak het nie. Sy het egter op 19 Oktober 1995 ’n verklaring aan die polisie afgelê waarin sy ’n weergawe van

die gebeure gegee het wat wesenlik ooreenstem met haar getuienis in die hof.”




[9] Die doodsveroorsakende wond was afkomstig van die 9mm pistool wat deur die tweede appellant gebruik is. Die afgevuurde skoot het die borskas van die oorledene van agter deurboor. Die tuisgemaakte haelgeweer wat deur die eerste appellant gebruik is, was oneffektief, en daar is by die nadoodse ondersoek vier haelkorrels in die linker voorkop van die oorledene gevind. Die haelkorrels het nie die skedel binnegedring nie, maar was, volgens die getuienis van die distriksgeneesheer wat die nadoodse ondersoek uitgevoer het, op ’n afstand van 1 tot 2 meter vanaf die oorledene se kop afgevuur.



[10] Die beskuldigdes is op die basis van hul eie handelinge en weens gemeenskaplike opset om die oorledene te dood, aan die moord skuldig bevind. Die twee genoemde vuurwapens was ongelisensieerd; die bypassende ammunisie was wetstrydig in die appellante se besit.

Die verrigtinge voorafgaande die vonnisoplegging



[11] Na die skuldigbevinding van die appellante is die verrigtinge op 12 Augustus 1996 deur die verhoorhof uitgestel tot 30 September 1996 sodat verslae van proefbeamptes ten opsigte van beide appellante verkry kon word. Dit was beveel dat sodanige verslae verkry moes word en nie later as 30 September 1996 beskikbaar moes wees.

[12] By die voortsetting van die verrigtinge op 30 September 1996 was geen verslae van proefbeamptes of enige maatskaplike werksters of sielkundiges voor die hof gelê nie. Wat die aangevraagde verslag van die proefbeamptes betref, is ’n brief van die Maatskaplike Dienste van die Provinsie van die Oos-Kaap, gerig aan die Adjunk-Prokureur Generaal van die Oos-Kaap en gedateer 20 September 1996, voorgelê. Die brief verwys na die opdrag van die hof en vervolg dan:


“U brief van 12 Augustus 1995 het betrekking.


Die Proefbeamptes aan wie die ondersoeke toegewys is, kon nog nie daarin slaag om die ondersoeke af te handel nie, om die volgende rede:



1 Tuisbesoeke kan nie deur Maatskaplike Werkers (Proefbeamptes) in die bendegeteisterde Noordelike Areas van Port Elizabeth gedoen word nie. Die oor-en-weer bakleiery tussen die onderskeie bendes het selfs in die onderhawige saak in die Hooggeregshof plaasgevind en Maatskaplike Werkers kon midde in hierdie gevegte beland, met ernstige gevolge.

2 Die beskuldigdes ontken steeds skuld en maak alles af as ’n misverstand. Hiermee saam is die ouers voorskriftelik oor die aard van die vonnis. Beskuldigde no.1 se moeder het byvoorbeeld teenoor die proefbeampte genoem dat dit slegs die rol van die proefbeampte is om toe te sien dat die kind na

’n Nywerheidskool gaan.


3 In belang van die proefbeamptes se veiligheid, asook hulle voortgesette uitvoering van proefdienste in veral die Noordelike Areas, word die mening gehuldig dat die proefbeampte se ondersoeke gestaak word in die onderhawige geval.



U siening oor die aangeleentheid word graag ontvang.





geteken: S THUYNSMA STREEKDIREKTEUR”



[13] Die verkryging van n verslag van ’n proefbeampte of enigiets in dier voege is nie verder gevoer nie.

[14] Die vader van die tweede appellant het wel getuig, maar slegs om die opgewerpte alibi van sy seun te staaf. Die alibi en die vader se getuienis is tereg deur die verhoorhof verwerp. Die vader het egter geensins oor die seun se persoonlike omstandighede of ter versagting van vonnis getuig nie.

[15] Na die skuldigbevinding van die twee appellante, het die Staat, ter verswaring van vonnis, die getuienis van Kaptein Vanessa Nel van die Misdaadinligtingbestuursentrum van die S A Polisiediens aangebied. Sy het getuig oor die voorkoms en toename van bendebedrywighede in die buurt waaruit die appellante gekom het. Moorde en bendegeweldprobleme het drasties toegeneem; so ook die onwettige handeldryf in Mandrax en die wedywering van die bendes om die handel in verdowingsmiddels te beheer. Die verbintenis tussen haar getuienis en die onderhawige saak is slegs dat die verhoorhof bevind het dat die appellante lede van die Tamatieboys-bende was en dat die oorledene een of ander ongespesifiseerde verbintenis met die Tallaboys-bende gehad het. Sy het geen onderhoude met die appellante gevoer nie en het toegegee dat sy nie kan sê dat hulle enigsins by dwelms of dwelmsmokkelary betrokke was nie.

[16] In die loop van die vonnisoplegging het die verhoorhof vermeld dat die appellante beide eerste oortreders is; dat hulle skoolgaande was en dat hul skoolloopbane onderbreek is sedert hul in hegtenis geneem is; dat hulle by hul ouers inwonend was; dat hulle in omstandighede grootgeword het waar hulle dit nie breed gehad het nie en dat hul beide jong seuns is. Met verwysing na die uitspraak van Rumpff HR in S v Du Toit 1979 (3) SA 846 (A) op 857 D, het die verhoorhof die element van afskrikking beklemtoon en vervolg:


“In die huidige geval was dit nie moontlik om verslae van proefbeamptes te kry nie. Ek aanvaar egter dat julle advokaat alle omstandighede wat hy as relevant beskou het vir doeleindes van vonnisoplegging aan my voorgelê het. Julle jeug is iets wat ek nie kan ignoreer nie. Aan die ander kant het julle julleself bewapen met gevaarlike wapens waarvoor julle geen lisensie gehad het nie; julle het hierdie wapens gebruik teen ’n onskuldige persoon; julle het soos rampokkers van ouds opgetree (as ek dit so kan stel). Hierdie tipe van boewery kan nie geduld word nie. Die gemeenskap skree daarteen.”

Die voorstel van beide advokate, dié van die Staat en vir die verdediging, dat ’n deel van die te opgelegde gevangenisstraf opgeskort moet word, is deur die geleerde verhoorregter in die volgende terme verwerp:


“Ek kan ongelukkig nie met een van die advokate saamstem nie. Die vonnis wat opgelê moet word, moet ’n swaar een wees. Hierdie tipe van optrede skree vir ’n vonnis wat swaar is. Om ’n vonnis op te lê en dan ’n gedeelte op te skort, wat sal beteken dat na ’n lang tydperk in die tronk julle nog steeds ’n opgeskorte vonnis het, sou myns insiens geen doel dien nie. Indien julle nie van die geleentheid gebruik maak wat aan julle gebied sal word in die tronk nie en nie hervorm nie, dan kan ek nie sien dat ’n opgeskorte vonnis enigsins

enige doel sal dien om dit te bewerkstellig nie.


Dit is vir my uiters onaangenaam om julle twee te vonnis omdat julle jong seuns is. Ek kan egter nie vir julle behandel soos persone wat uit onbesonnenheid of onvolwassenheid opgetree het en sodoende ’n ligte vonnis oplê nie. Die manier wat julle opgetree het, vereis dat ‘n lang termyn van gevangenisstraf opgelê moet word. Al wat ek kan is dat as julle ouer was, die vonnis seker heel waarskynlik baie swaarder sou gewees het.”




[17] Soos reeds vermeld, is die appellante se appèl teen die vonnisse deur die Volbank van die Oos-Kaapse Afdeling van die hand gewys. Daar is bevind dat die verhoorhof geen wanvoorligting begaan het nie, of dat die vonnis so swaar is dat dit inmenging regverdig nie.

[18] Sonder om enigsins afbreuk te doen aan die uiters moeilike taak van ’n verhoorhof om vonnis op te lê in omstandighede soos in die onderhawige geval, meen ek dat die appèl teen die vonnisse moet slaag tot die mate hieronder aangedui.

[19] ’n Vonnis van 18 jaar gevangenisstraf is ‘n baie swaar vonnis (per Vivier A R in S v Barnabas 1991 (1) SASV 467 (A) op 470 a en sien ook met ’n skoon rekord en wat klaarblyklik sonder voorbedagte rade opgetree het. Die opgelegde vonnisse is langer as elkeen van die appellante se lewensjare; is opgelê aan twee onvolwasse kinders wat opsigtelik gebuk gegaan het onder ’n gebrek aan oordeelsvermoë en waarskynlik onder die invloed van ’n bendekultuur en ’n gewelddadige milieu (sien oor vergelykbare faktore en gepaste strawwe vir jeugdiges S v Machasa en Andere 1991 (2) SASV 308 (A) op 318 g - h; S v Lengane 1990 (1) SASV 214 (A) op 220 b - h, S v Lehnberg en ’n Ander 1975 (4) SA 553 (A) op 561 A - H).

[20] ’n Vonnis van gevangenisstraf behoort aan geen jeugdige opgelê te word sonder behoorlike voorvonnis-verslae en getuienis aangaande die persoonlikheid, persoonlike omstandighede en agtergrond, en ’n ernstige oorweging van al die toepaslike alternatiewe vonnisopsies nie (sien S v Quandu en Andere 1989 (1) SA 517 (A) op 522 H - 524 G; S v Z en vier ander sake 1999 (1) SASV 427 (OK) op 441 paragraaf 3; S v H and Another 1978 (4) SA 385 (OK). Dit is nie in die onderhawige geval gedoen nie. Die moontlikheid bestaan dat ’n onreg die appellante aangedoen is. Die vonnisse kan dus nie gehandhaaf word nie. aangevra. Soos hierbo aangedui, is deur die Streekdirekteur van Maatskaplike Dienste per brief aan die hof meegedeel dat daar nog nie daarin geslaag kon word om die ondersoeke af te handel nie, om die volgende redes:

1 Tuisbesoeke kan nie deur maatskaplike werkers (proefbeamptes) in die bendegeteisterde Noordelike Areas van Port Elizabeth gedoen word nie.

2 Die beskuldigdes ontken steeds skuld.

3 Die ouers is voorskriftelik oor die aard van die vonnis.



[22] Ek is, om dit sagkens te stel, nie in die minste met hierdie verduidelikings beïndruk nie. Wat paragraaf 1 betref, is die feit van die saak dat die appellante se borg net na die skuldigbevindings ingetrek is. Hulle was dus in aanhouding. Die proefbeamptes kon hulle dus in volle veiligheid besoek het. Die ouers kon uit die gevaarsones gehaal word deur die polisie; so ook onderwysers en andere wat die nodige inligting kon verskaf.

In elk geval, blyk dit dat daar wel deur die proefbeampte onderhoude gevoer is met die appellante en hul ouers : waar anders sou

die inligting in paragrawe 2 en 3 hierbo vermeld vandaan gekom het?

Wat paragraaf 2 betref, ontstaan die vraag of dit die betrokke proefbeampte en streekdirekteur se houding is dat voorvonnis-verslae, deur die hof aangevra, voorgelê kan en sal word slegs as die beskuldigdes skuld erken? Indien dit wel die opvatting is, dan moet daar, hoe gouer hoe beter, ’n algehele re-oriëntasie in die gemelde departement plaasvind.

Wat paragraaf 3 betref, is dit eweneens onaanvaarbaar om te weier om n verslag aan die hof te lewer omdat die ouers op n bepaalde vonnis aandring. Die proefbeampte weet dat wat die ouers ookal verlang, die vonnis in die diskresie van die hof is. Dit is wel die taak van die proefbeampte om onder andere die ouers se wense, en veral hul redes daarvoor, aan die hof voor te lê.

[23] Die verhoorhof het gefouteer deur die gemelde verskonings van die Streekdirekteur te aanvaar en die aangeleentheid nie verder te voer nie. In elk geval is daar sekerlik ander instansies in Port Elizabeth wat ’n helpende hand kon verleen het, bv NIMRO en die Oos-Kaapse Departement van Korrektiewe Dienste. Dit word van die vonnisoplegger verwag om ’n dinamiese rol te speel by vonnisoplegging, veral wat paragrawe van die uitspraak van Erasmus R (waarmee Jones R saamgestem het) in S v Z en vier ander sake, supra op bl 441:


“3 Die hof sal dinamies handel ten einde volledige besonderhede van die beskuldigde se persoonlikheid en sy persoonlike omstandighede te bekom. Die hof sal waar nodig ’n voorvonnisverslag van ’n proefbeampte en / of ’n korrektiewe beampte aanvra. So ’n verslag is aangewese waar die beskuldigde n ernstige misdryf gepleeg het, of vorige veroordelinge het. Dit is onvanpas om n beskuldigde gevangenisstraf, ook opgeskorte gevangenisstraf, op te lê sonder die voordeel van ’n voorvonnisverslag.

4 Die hof sal met sorg en verbeelding sy wye diskresie gebruik ten einde ’n vonnis te bepaal wat paslik is vir die beskuldigde gesien sy eie besondere omstandighede en die misdryf waaraan hy skuldigbevind is. Dit behels eerstens die bepaling van die mees gepaste vorm van straf en tweedens die aanpassing van daardie straf om aan die behoeftes van die bepaalde beskuldigde te pas”



[24] Dat dit wel geredelik moontlik is om voorvonnis samewerking in Port Elizabeth te kry (minstens in Februarie 1999) van onder andere die Adjunk-Direkteur van Openbare Vervolgings (Oos-Kaap), die Departement van Korrektiewe Dienste en NIMRO, in Port Elizabeth, blyk uit die uitspraak in S v Z en vier ander sake, supra.


[25] Die verlangde dinamiese optrede het in hierdie saak in die slag gebly. Dit mag wees dat in die onderhawige termyn gevangenisstraf, selfs ’n lang termyn, wel ’n aangewese straf is. Maar dit kan alleen beoordeel word as die riglyne in paragrawe 3 en 4 op 441 van S v Z en vier ander sake, hierbo genoem, ten volle nagekom is, veral waar dit hier gaan om jeugdiges. Ten einde dit te vermag, moet die opgelegde vonnisse ter syde gestel word en moet die aangeleentheid na die verhoorhof terugverwys word vir die verkryging van die nodige inligting en vonnisoplegging van nuut af.

[26] Ek is bewus van die praktiese probleme wat so ’n bevel skep. Uitspraak op die meriete is gelewer op 12 Augustus 1996 en sedert daardie datum is die appellante in aanhouding. Dit is moeilik en ietwat onrealisties om nou proefbeamptes verslae te verkry van die persoonlike omstandighede van die appellante op daardie stadium. Maar die fout wat hier gemaak is deur nie op daardie stadium die nodige inligting te bekom nie, regverdig nie ’n tweede en erger dwaling, nl om ’n onreëlmatigheid te bekragtig, nie.

[27] Ek is van voorneme om as deel van die bevel wat ek maak, te beveel dat ’n afskrif van hierdie uitspraak so gou as moontlik voorgelê van die Provinsie Oos-Kaap, vir verspreiding aan alle maatskaplike werkers en werksters en proefbeamptes, met die oog op die bestudering daarvan en re-oriëntering na aanleiding van die opmerkings hierin gemaak.

[28] Die volgende bevele word gemaak:



1 Die appèl van beide appellante teen die vonnise hul opgelê op 1 Oktober 1996 deur Nepgen R en twee assessore in die Suid-Oos Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof en bekragtig deur die Volbank van die Oos-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof op 1 Maart 1999, word gehandhaaf en die opgelegde vonnisse word tersydegestel.

2 Die kwessie van vonnisoplegging ten aansien van beide appellante word na die verhoorhof terugverwys, sodat volledige voorvonnis-verslae en getuienis verkry en voorgelê kan word ten aansien van die persoonlike omstandighede van die appellante en enige ander tersaaklike inligting, deur proefbeamptes en maatskaplike werkers of werksters en enige ander bevoegde persone. Vonnisoplegging moet daarna opnuut plaasvind.

3 Die Griffier van hierdie Hof word versoek om ’n afskrif van hierdie uitspraak aan die Streekdirekteur van die Departement Maatskaplike Dienste van die Provinsie Oos- Kaap voor te lê vir verspreiding aan alle maatskaplike werkers en werksters en proefbeamptes, met die oog op die bestudering daarvan en re-oriëntering na aanleiding van die

opmerkings hierin gemaak.



P J J OLIVIER AR

SAMESTEMMEND :

ZULMAN AR

FARLAM Wn AR

▲ To the top