S v Esterhuizen and Others (116/2001) [2001] ZASCA 125 (22 November 2001)




Saaknommer : 116 / 01



DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA



In die appèl van



LUCINDA INGRID ESTERHUIZEN Eerste Appellant

ELSABÉ SHARON SOENIES Tweede Appellant

HELENE LEEUW Derde Appellant

EUGENE LEEUW Vierde Appellant

GUSTAV WELLINGTON FRANCIS Vyfde Appellant


en



DIE STAAT Respondent



Regbank : OLIVIER, NAVSA ARR en BRAND Wnde AR


Verhoordatum : 22 November 2001




_____________________________________________________


R E D E S V I R U I T S P R A A K

_____________________________________________________


P J J OLIVIER




Olivier AR


[1] Hierdie appél is aangehoor op 22 November 2001 en in 'n ex tempore uitspraak van die hand gewys. Die uitspraak was volledig gemotiveer maar die hof het onderneem om die redes vir die uitspraak op skrif te stel. Dit volg hieronder.

[2] Die appèl dien voor ons met verlof van hierdie Hof en is gerig teen 'n uitspraak van die volle bank van die Transvaalse Afdeling van die Hoërhof (per Smit R, Coetzee Wnde R samestemmend), waarin 'n appèl teen 'n uitspraak van die verhoorlanddros, streeklanddros H C Jonker, gelewer te Vereeniging van die hand gewys is.

[3] Die huidige appellante was die beskuldigdes in 'n verhoor wat voor die gemelde landdros plaasgevind het. Ek sal hierin bloot gerieflikheidshalwe na die appellante as die beskuldigdes, en wel volgens die nommers soos op die dekblad hiervan aangedui, verwys.

[4] Die beskuldigdes is almal aan klagte 2 en 3 wat hulle ten laste gelê was, onskuldig bevind. Dit verg dus nie verdere bespreking nie. Hulle is egter almal aan klag 1 skuldig bevind, d w s dat hulle skuldig is aan die misdaad van huisbraak met die opset om te moor en moord, deurdat op of omtrent 26 Januarie 1997 en te of naby De Deur in die Streekafdeling van Suid-Transvaal die beskuldigdes wederregtelik die huis van Jamila Cajee oopgebreek en binnegegaan het met die opset om vir Jamila Cajee te vermoor en toe daar wederregtelik en opsetlik vir Jamil Cajee, 'n vroulike persoon, doodgemaak het.

[5] Die agtergrond van die gebeure is kortliks soos volg : Die oorledene was saam met ander persone woonagtig te Kiepersolstraat 34, Rust te Vaal, Ennerdale, suid van Johannesburg. In daardie buurt was daar 'n familie- of buretwis tussen 'n groep waaraan die oorledene behoort het, en 'n groep waaraan die beskuldigdes behoort het. Soos dikwels gebeur, is ook ander mense by die twis betrek. Die onmiddellike aanloop tot die moordklag was 'n konfrontasie tussen die oorledene en lede van haar groep en beskuldigdes 1 en 3 en hul groep. Dit het plaasgevind by die oorledene se huis toe hulle besig was om vleis te braai. 'n Bakleiery het by die huis langsaan, waar van die beskuldigdes gewoon het, uitgebreek. Die bewering is dat beskuldigdes 1 en 3 'n bierbottel gebreek het en daarmee ene Florence, met die bynaam Queen, ernstig verwond het. Die oorledene se mansvriend, Sandemela, was 'n vriend van Queen en hy het haar gaan help. 'n Bakleiery het ontstaan waarby die oorledene aangesluit het. Die geveg het oorgespoel na die werf van die oorledene se huis, maar mev Bruintjies, 'n huisgenoot van die oorledene, het die strydende partye verdryf.

[6] Die volgende oggend het aangebreek met 'n gevloekery deur die mense langsaan die oorledene se huis, en wel deur beskuldigdes 1 en 3 en hul moeder. Hulle het voor die oorledene se huis kom staan en op mev Bruintjies en die oorledene gevloek. Hulle het later die toneel verlaat, maar die woordewisseling tussen beskuldigdes 1 en 3 en hul moeder enersyds en die oorledene andersyds het later weer opgevlam. Dit het ge-eindig met 'n dreigement deur die moeder van beskuldigdes 1 en 3 dat hulle later sal terugkom en die oorledene "vrekmaak".

[7] Daardie middag het mev Bruintjies, die oorledene en 'n aantal vriende buite hul huis op die grasperk gesit. Om ongeveer 20:25 het mev Bruintjies een van hul besoekers halfpad na sy huis vergesel. Toe sy by haar woning, Kiepersolstraat 34, terugkom, was daar 'n groep mense aldaar. Beskuldigdes 1 en 3 en hul moeder het weer op mev Bruintjies begin vloek. Ene Esmé het haar met 'n bofbalkolf geslaan; beskuldigde 1 het 'n mes in haar hand gehad en mev Bruintjies gejaag. Laasgenoemde het op die vlug geslaan. Sy is tot in die huis van 'n vriend agtervolg en met die dood gedreig. Sy het egter geskuil. Kort daarna het sy verneem dat die oorledene dood is.

[8] Mev Bruintjies is in die loop van die verhoor fotos van haar huis wat amptelik, na die dood van die oorledene, geneem is, gewys. Sy het bloedkolle en spatsels op die rusbank en op die vloer van die voorkamer uitgewys; asook in die badkamer en teen die muur in die oorledene se slaapkamer. Die voordeur was oopgebreek; so ook die agterdeur.

[9] Wat onmiddellik voor die oorledene se dood plaasgevind het, is uiteraard van groot belang. Dit was by die verhoor erg omstrede. Mnr Small-Smith, wat namens die beskuldigdes in hierdie Hof op baie bekwame wyse opgetree het, het in sy betoogshoofde, die twee teenoorgestelde weergawes soos volg opgesom:

"15 In breë trekke kom die drie staatsgetuies se weergawe daarop neer dat die oorledene alleen in die huis agtrergebly het nadat die groep persone bestaande uit onder andere die appellante daar opgedaag het. Op 'n stadium is die oorledene in die huis opgemerk. Die huis se voordeur is oopgeskop en die appellante is die huis binne. Van die appellante was gewapen gewees. 'n Geskreeuery is in die huis gehoor, die appellante het op 'n stadium uit die huis gekom. Die staatsgetuies is toe die huis binne waar hulle die beseerde oorledene aangetref het.


16 In breë trekke kom die appellante se weergawe daarop neer dat beskuldigde 4, wat volgens hom die oorledene goed geken het, die oorledene by die huis opgemerk het en besluit het om met haar te gaan praat oor die voorval die vorige aand. Dat appellant 4 alleen die huis binne gegaan het by die voordeur en die oorledene in die kombuis aangetref het. Die oorledene het 'n ketel en 'n mes by haar gehad. Appellant 4 het haar gevra waarom hulle die vorige dag vir appellant 1 aangerand het, die oorledene het vir appellant 4 beskuldig dat hy haar kêrel Sandamela wil aanrand. Die oorledene het toe begin vloek en die mes rond geswaai. In die proses het die ketel geval, die water het op die vloer uitgeloop. Die oorledene het appellant 4 in sy linkerbobeen met die mes gesteek. Appellant 4 het op die water gegly en geval. Appellant 4 het vir appellant 5 geroep. Appellant 5 het toe die huis binne gegaan. Appellant 5 het vir appellant 4 van die vloer opgetel en hom gehelp om uit die huis te kom. In die tussentyd het die oorledene nog steeds gevloek en wild met die mes aangegaan. Appellant 1,2, en 3 het, terwyl appellante 4 en 5 besig was om uit die huis te gaan, die huis binne gegaan. Volgens appellant 4 het hy nie gesien wat in die huis aangaan nie maar het hy net 'n gestoeiery en gevloekery binne in die huis gehoor. Daarna het appellante 1, 2 en 3 uitgekom en is hulle terug huis toe. Ongeveer 03:00 die volgende oggend is daar pertolbomme op sy huis gegooi.


17 Volgens appellant 4 was beskuldigde 6 op geen stadium die betrokke aand in die huis van die oorledene nie.


18 Appellant 4 voer ook aan dat geeneen van die appellante gewapen was nie.


19 Appellant 4 getuig dat hy mediese hegsteke vir die steekwonde wat die oorledene hom op die linkerbobeen toegedien het, ontvang het. Appellant 4 getuig dat appellante 1,2 en 3 skraapwonde op hulle hande gehad het en dat hulle pleisters daarop moes gesit het.


20 Appellant 4 getuig verder day ny nie die bedoeling gehad het om die oorledene te beseer nie en dat hy net toe appellant 1, 2 en 3 die huis binnegegaan het gedink het dat daar iemand daar gedood sal word nie.


21 Appellant 3 staaf die eerste gedeelte van appellant 4 se getuienis. Haar getuienis betreffende die gebeure nadat appellant 4 en 5 die huis verlaat het behels dat die oorledene daarna probeer het om haar met die mes te steek. Volgens appellant 3 het sy sny en krapmerke aan haar hande opgedoen soos sy gekeer het en is sy ook in haar blaas "getrap". Appellant 3 getuig dat appellant 1 en 2 gepoog het om die oorledene tot bedaring te bring en dat hulle in die proses ook krap en snywonde aan hulle hande opgedoen het. Volgens appellant 3 het sy op 'n stadium daarin geslaag om die mes nadat dit op die vloer geval het te bekom. Die oorledene het egter nog steeds baklei en appellant 3 op 'n stadium om haar lyf vasgehou. Appellant 3 getuig dat sy toe ten einde die oorledene af te weer kap bewegings in haar rigting uitgevoer het en dat sy die oorledene toe kon raak gesteek het. Nadat die oorledene haar gelos het is sy saam met appellant 1 en 2 die huis uit. Appellant 3 getuig dat sy nie weet wat van die mes geword et nie. Appellant 3 getuig dat sy nie gewapen was toe sy die huis binne gegaan het nie. Appellant 3 getuig verder dat sy nie bedoel het om die oorledene te dood nie en dat toe sy die kap bewegings na die oorledene gemaak het, sy nie voorsien het dat die oorledene sou sterf nie.


22 Die verdediginsgetuie Jansen staaf in breë trekke die essensie vand die weergawes van appellante 3 en 4.


23 Die geskilpunte in casu blyk te wees of appellante en meer spesifiek appellant 3 gewapen was toe die appellante toegang tot die huis verkry het, of die deur daarvan oop geskop is en of die appellante die huis in 'n groep binne gegaan het soos wat die staatsgetuie beweer en of hulle die huis op 'n wyse binne gegaan het soos appellante 3 en 4 getuig."



[10] Vir die verdediging het appellante 3 en 4, mnr Norbid Jansen en speurdersersant Manaba getuig; vir die staat, oor die tersaaklike gebeure, Van Rooyen, ene Valerie Dollie en mev Pepper. Hulle het in wese die staat se weergawe gesteun.

[11] Mnr Small-Smith het kritiek teen al die staatsgetuies geopper; mnr Mosing, wat vir die Staat verskyn het, het die verdedigingsgetuies insgelyks gekritiseer. Die feit van die saak is dat die verhoorlanddros die getuienis van die onafhanklike getuie, Valerie Dollie, onomwonde aanvaar het. Uit die getuienis blyk dat sy deur die aanvallende groep van die beskuldigdes gevra was, toe hulle daar opdaag, om die oorledene se huis te verlaat. Sy het gesien hoe hulle 'n deur oopgeskop het om toegang tot die huis te kry. Sy het gesien dat al ses die beskuldigdes saam in die huis in is. Sy het gesien dat beskuldigde 3 met 'n mes bewapen was en beskuldige 6 met 'n piksteel. Sy het gesien dat hulle almal later saam uit die huis uitgekom het.

[12] Geen staatsgetuie kon kom getuig oor wat binne in die huis tussen die ses beskuldigdes en die oorledene gebeur het nie. Die verhoorlanddros het hul weergawe, dat hulle maar net met die oorledene wou gaan gesels, verwerp, so ook hul weergawe dat hul stuksgewys in-en-uit die huis gegaan het; so ook dat hulle nie 'n deur of deure oopgebreek het nie; so ook hul weergawe dat die handtastelikhede slegs in die strykkamer plaasgevind het (gesien die bloed in die ander vertrekke). Die agbare landdros het hul weergawe verwerp dat dit die oorledene was wat hulle aangeval het en dat sy met 'n mes, wat beskuldigde 3 van haar afgeneem het, verwond is. Hy het ook hul getuienis dat toe hulle die huis verlaat het die oorledene nog daar gestaan het, verwerp. Die verhoorhof het bevind dat die beskuldigdes opgesweep was en na die huis van die oorledene gegaan het met één gemeenskaplike doel; dat hulle die deur oopgeskop het, die oorledene aangerand het en haar uitgebreide en dodelike wonde toegedien het met die bedoeling om haar dood te maak, soos hulle inderdaad gedreig het.

[13] Dat die landdros in sekere mindere opsigte fouteer het (bv met die stelling dat die getuie Norbid Jansen uit die lug geval het) kan nie weggepraat word nie. Maar, dit alles in ag genome, meen ek dat sy bevindinge korrek is. Die getuienis van Valerie Dollie is tereg deur die landdros aanvaar en dit is van deurslaggewende belang. Dit ondergrawe die beskuldigdes se weergawe tot die mate dat dit, wat betref hul ingaan en uitgaan uit die huis, hul gesindheid en bedoeling, en die vraag of beskuldigdes 3 en 6 bewapen was of nie, nie redelikerwys moontlik waar kan wees nie. Dit werp ook onoorkomelike twyfel oor hul weergawe van wat binne in die huis gebeur het, ten spyte van die feit dat sommige van hulle daarna wonde aan hul liggame getoon het. Tel hierby die leuens wat hulle vertel het oor waar die stryery sou plaasgevind het en die groteske onwaarskynlikheid dat ses van hulle, gewapend, die huis binnegaan, deur die oorledene aangeval is en dat sy gedood is, dan meen ek dat hul weergawe met reg deur die vorig twee howe verwerp is.

[14] Wat die vonnisse betref, hoef nie veel gesê word nie. Die beskuldigdes is almal volwasse persone. Gesien hul persoonlike omstandighede en agtergrond, en die omstandighede waaronder hulle, as groep met die gemeenskaplike doel om die oorledene te gaan dood, haar om die lewe gebring het, is daar geen rede om met die opgelegde vonnisse in te meng nie.

[15] Die appèlle van al die appellante teen die skuldigbevindings en vonnisse word afgewys.



P J J OLIVIER AR

SAMESTEMMEND :


NAVSA AR

BRAND Wnde AR


▲ To the top