L & P Plant Hire BK and Others v Bosch and Others (525/2000) [2001] ZASCA 147 (29 November 2001)




IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

IN SUID-AFRIKA

RAPPORTEERBAAR

Saak no: 525/2000
In die saak tussen


L & P PLANT HIRE BK Eerste Appellant

L & P CONSTRUCTION BK Tweede Appellant

LIUS PAULO DE FREITAS BASILIO Derde Appellant

OSCAR ALVES Vierde Appellant

B & E MOTORS BK Vyfde Appellant


en


PIETER BAREND BOSCH Eerste Respondent

BOSCH EXCAVATIONS & INSTALLATIONS (Eiendoms) BPK Tweede Respondent

PROPACT PLANT HIRE BK Derde Respondent

ABRAHAM JOHANNES BOSCH Vierde Respondent

________________________________________________________________________________


CORAM: Vivier Wnd AHR, Scott AR, Cloete, Brand en Nugent Wnd ARR

______________________________________________________________________________

Verhoordatum: 12 November 2001


Datum gelewer: 29 November 2001


Eise teen derde en vierde appellante toegestaan op grond van Hof a quo se uitleg van artikel 64 van Wet op Beslote Korporasies, Wet 69 van 1984 - uitleg op appèl nie as korrek aanvaar - derde en vierde appellante se appèlle gevolglik toegestaan.

________________________________________________________________________________


U I T S P R A A K

______________________________________________________________________________

BRAND WND AR

BRAND WND AR




[1] Die appellante was die verweerders en die respondente die eisers in die Hof a quo. Ek gaan voort om na hulle as sodanig te verwys. Verskillende eisers het altesaam sewe eise teen verskillende verweerders ingestel waarvan ses gebaseer was op huurkontrakte en een op 'n koopkontrak. Die Hof a quo (Willis R) het die eisers gelyk gegee op al sewe eise. Hierteen kom die verweerders met die nodige verlof in hoër beroep. Die aard van die eise en die geskilpunte waarom dit draai, is makliker verstaanbaar na 'n beskrywing van die partye en 'n bondige uiteensetting van die onderliggende feite.

[2] Wat volg is dan eerstens 'n beskrywing van die partye. Die tweede eiser is 'n maatskappy waarna ek geriefshalwe sal verwys as "Bosch Excavations" en waarvan die aandele vroeër gehou is deur die eerste eiser, mnr PB Bosch ("Bosch senior"). Gedurende ongeveer 1984 het hy egter die aandele en die beheer oor Bosch Excavations oorgedra aan sy seun, die vierde eiser, oftewel mnr AJ Bosch ("Bosch"). Geen eis is ten gunste van die derde eiser toegestaan nie en hierdie eiser word vervolgens buite rekening gelaat.

[3] Die eerste verweerder ("L & P Plant Hire") en die tweede verweerder ("L & P Construction") is twee beslote korporasies. Te alle tersaaklike tye was die derde verweerder, mnr LP de F Basilio ("Basilio"), die enigste lid van beide hierdie beslote korporasies terwyl vierde verweerder, mnr O Alves (" Alves"), die bestuurder van L & P Plant Hire was. Vyfde verweerder is 'n beslote korporasie waarvan Basilio ook die enigste lid is en wat as motorhawe sake doen. Geen eis is teen hom toegestaan nie en hy speel geen materiële rol in die saak nie.

[4] Vervolgens handel ek met die dispute tussen die partye en die feitelike agtergrond waarteen dit beoordeel moet word. In breë trekke is al die partye betrokke by siviele konstruksie asook by die uitverhuring van masjinerie, toerusting en voertuie wat daarmee verband hou. Voor die ontstaan van die onderhawige dispute het Bosch en Basilio, hoewel hulle konkurrente was wat in kompetisie met mekaar vir siviele kontrakte getender het, 'n heel goeie persoonlike verhouding met mekaar gehad. Wat blykbaar redelik dikwels in die betrokke bedryf gebeur, is dat siviele kontrakteurs hul toerusting wat hulle nie op 'n spesifieke stadium self gebruik nie, aan ander kontrakteurs uitverhuur. Ooreenkomstig hierdie praktyk het Bosch en Basilio sedert ongeveer 1991, deur die maatskappy en beslote kororasies wat hulle onderskeidelik verteenwoordig het, oor en weer toerusting aan mekaar uitverhuur.

[5] Die feite rondom vier eise teen L & P Construction, wat gebring is in naam van Bosch Excavations, te wete eise D E F en G, kan heel kort saamgevat word. Die eisers se saak ter ondersteuning van hierdie vier eise is dat Bosch Excavations, deur verteenwoordiging van Bosch, gedurende die tydperk November 1993 tot Februarie 1994, vier huurkontrakte aangegaan het met Basilio as verteenwoordiger van L & P Construction. In terme van hierdie huurkontrakte, beweer die eisers, het Bosch Excavations konstruksie-masjiene aan L & P Construction verhuur. Volgens die eisers was dit 'n term van die vier huurkontrakte dat L & P Construction as huurder aan Bosch Excavations as verhuurder vergoeding teen 'n ooreengekome daaglikse tarief sou betaal vir elke dag waarop die betrokke masjien in besit van die huurder was.

[6] Die eisers se weergawe is voorts dat L & P Construction die betrokke masjiene vir verskillende tydperkte gedurende November 1993 tot Februarie 1994 ingevolge die vier huurkontrakte in sy besit gehad het waarvoor hy, bereken volgens die ooreengekome daaglikse tariewe, bedrae van onderskeidelik R10929,24 (eis D) R4927,65 (eis E), R70051,90 (eis F) en R25197,87 (eis G) oftewel 'n totale bedrag van R111 106,66 - aan Bosch Excavations verskuldig is. Hoewel eise D tot G in die verweerders se pleit betwis word, is Bosch se getuienis ter ondersteuning daarvan in kruisverhoor slegs vir akuraatheid getoets en is dit nooit pertinent deur die verweerders ontken dat hierdie eise ontstaan het nie. Die verweer teen hierdie eise, soos wat dit uitgekristaliseer het in die getuienis van Basilio, is in wese een van skuldvergelyking. Meer besonder, was Basilio se weergawe dat hy en Bosch gedurende Mei 1994 ooreengekom het om 'n berekening te maak van alle bedrae wat hulle persoonlik sowel as die instansies wat hulle onderskeidelik verteenwoordig het, onderling aan mekaar verskuldig was en om hierdie bedrae by wyse van skuldvergelyking teenoor mekaar in verrekening te bring. Die instansies wat deur Bosch verteenwoordig was, het Bosch Excavations ingesluit terwyl Basilio ondermeer vir L & P Construction verteenwoordig het. Die resultaat van hierdie berekeninge, sê Basilio, het getoon dat Bosch en sy instansies, na toepassing van skuldvergelyking, 'n netto bedrag van R65 512,95 aan Basilio en sy instansies verskuldig was, wat Bosch onderneem het om te betaal. Basilio se weergawe oor hoe hierdie bedrag deur Bosch betaal sou word, is een van die vernaamste dispute in die saak waarna ek aanstons sal terugkeer. Wat egter vir die huidige van belang is, is dat Bosch in sy getuienis die ooreenkoms van skuldvergelyking waarop die verweerders in onderhawige verband steun geheel en al ontken. In kort wentel die dispuut rondom eise D E F en G dus om geloofwaardigheidsbevindings ten aansien van Bosch en Basilio.

[7] Die feite rondom eis H kan ook sonder omhaal afgehandel word. Bosch se getuienis ter ondersteuing van hierdie eis is dat hy op 20 Julie 1994, namens Bosch Excavations, tien stukke konstruksie-gereedskap wat as "rotsbrekers" bekend staan, verkoop het aan Alves, wat opgetree het namens L & P Construction, teen 'n koopprys van R912,00 stuk. Gevolglik, sê die eisers, is L & P Construction uit hoofde van hierdie koopkontrak 'n bedrag van R9120,00 aan Bosch Excavations verskuldig. Die verweer op hierdie eis is 'n ontkenning deur Alves dat hierdie transaksie ooit plaasgevind het. Die meriete van eis H hang dus daarvan af of Bosch se weergawe of dié van Alves in hierdie verband aanvaar word.

[8] Dit bring my dan by die dispute rondom eise A en B wat nie alleen die grootste bedrae verteenwoordig nie, maar by verre die grootste deel van die 2500 bladsye oorkonde in beslag neem. Beide eise A en B spruit, volgens die eisers se bewerings, voort uit 'n huurkontrak wat tot stand gekom het op 20 Julie 1994 ingevolge waarvan Bosch senior sekere konstruksie-masjiene en vragmotors aan L & P Plant Hire verhuur het. Eis A is vir die huurgeld wat uit hoofde van die kontrak verskuldig is terwyl eis B die herstelkoste van die skade wat die verhuurde goedere gedurende die huurtermyn opgedoen het, verteenwoordig. Eis C is terloops 'n alternatiewe eis wat geformuleer is op die basis dat die huurkontrak inderdaad nie tot stand gekom het nie. By die toestaan van eise A en B het hierdie alternatiewe eis onsaaklik geword.

[9] Bosch se getuienis aangaande die beweerde huurkontrak van 20 Julie 1994 is dat Bosch Excavations kort voor dié datum 'n siviele kontrak in Kwandebele voltooi het. Alves het hom toe, in opdrag van Basilio, telefonies geskakel. Hy wou by Bosch weet of L & P Plant Hire die toerusting wat by die voltooide kontrak in Kwandebele gebruik was, kon huur met die oog daarop om dit weer op sy beurt aan L & P Construction of ander siviele kontrakteurs uit te verhuur. Bosch was te vinde vir hierdie voorstel en gevolglik het Alves op 20 Julie 1994 by Bosch Excavations se besigheidspersele aan die suidekant van Johannesburg opgedaag. Na onderhandeling het die twee van hulle ooreengekom op 'n huurkontrak waarvan die vernaamste terme in 'n handgeskrewe dokument geboekstaaf is. Vir redes wat aanstons sal blyk, speel hierdie dokument, waarna ek geriefshalwe as 'dokument A' sal verwys, 'n belangrike rol in die beregting van die saak. Dit is gevolglik nodig om die inhoud daarvan in ietwat meer besonderhede weer te gee. Onder die opskrif 'Plant Hire Agreement', word die dokument in die eerste paragraaf daarvan beskryf as 'n ooreenkoms waarvolgens Bosch senior die toerusting ('plant') daarin vermeld aan L & P Plant Hire verhuur soos wat die toerusting van tyd tot tyd beskikbaar raak. Daarna volg 'n lys van 'n aantal vragmotors asook twee kontruksie-masjiene waarna ek geriefshalwe sal verwys as 'die Poclain' en 'die Case'. Naas elkeen van die masjiene en vragmotors word die huurtarief per dag of per uur wat op die betrokke masjien/vragmotor van toepassing is, weergegee. Met verwysing na die Poclain, die Case en drie van die vragmotors word aangedui dat dit reeds op daardie stadium vir verhuring beskikbaar was.

[10] Dit is gemeensaak dat die handskrifte van beide Bosch en Alves op dokument A voorkom en dat dit deur Bosch senior persoonlik en deur Alves, namens L & P Plant Hire, geteken is. Na ondertekening is die dokument getik en weer deur Alves en Bosch senior geteken. Volgens Bosch het sy vader, Bosch senior, persoonlik as verhuurder opgetree omdat hy die eienaar van die betrokke masjiene en vragmotors was, hoewel dit gewoonlik deur Bosch Excavations gebruik is.

[11] Volgens Bosch was die Poclain en die Case op 20 Julie 1994 nog op die terrein van die afgehandelde kontrak in Kwandebele terwyl die drie vragmotors, wat in dokument A as beskikbaar aangedui is, op daardie stadium by die persele van Propact Plant Hire BK ("Propact") was wat gewoonlik as verhuringsagent van die voertuie opgetree het wanneer Bosch Excavations dit nie gebruik nie.

[12] Gevolglik, sê Bosch, het hy en Alves na ondertekening van dokument A afgespreek om mekaar by Propact se perseel te ontmoet waar die vragmotors aan Alves oorhandig sou word. Daar aangekom het Alves gevra dat verdere terme en voorwaardes waarop Basilio, volgens hom, aangedring het, by die huurkontrak ingevoeg word. Hierop was Bosch se teenvoorstel dat hulle eerder die terme en voorwaardes van Propact se standaard huurooreenkoms by hul huurkontrak inkorporeer. Volgens Bosch was Alves toe telefonies in verbinding met Basilio waarna hy aangedui het dat Basilio met Bosch se teenvoorstel akkoord gaan. Gevolglik is die besonderhede van die Poclain, die Case en die drie beskikbare vragmotors tesame met die toepaslike tariewe, wat reeds in dokument A uiteengesit was, op Propact se standaard huurkontrak aangebring. In hierdie dokument, waarna ek geriefshalwe sal verwys as 'dokument B', word die verhouding tussen die partye beskryf as 'n 'permanent hire' uit hoofde waarvan L & P Plant Hire die toerusting daarin vermeld huur teen die tariewe daarnaas uiteengesit en op die standaard terme en voorwaardes waarna in die dokument verwys word. Omdat die dokument in die vorm van 'n afleweringsnota gegiet is, is daar slegs ruimte vir ondertekening deur die huurder en nie ook deur die verhuurder nie. Dit is gemene saak dat die terme en voorwaardes wat in dokument B vervat is, soortgelyk is aan dié van L & P Plant Hire se eie standaard kontrak.

[13] Nadat Alves dokument B geteken het, sê Bosch, het hy besit geneem van die drie vragmotors wat op Propact se persele was. Voorts is die Poclain en die Case in Kwandebele gehaal en afgelewer op 'n terrein wat deur L & P Plant Hire aangedui is. Volgens Bosch was beide die Poclain en die Case sowel as die drie vragmotors in 'n goeie toestand toe Alves dit rondom 20 Julie 1994 namens L & P Plant Hire in besit geneem het.

[14] Ooreenkomstig die terme van die huurkontrak is beide die Poclain en die Case bedien deur operateurs in diens van Bosch Excavations. Aan die einde van Augustus 1994, sê Bosch, het hy egter 'n telefoonoproep ontvang van mnr D Maseko ("Maseko") wat in beheer van die Poclain was. Maseko het hom meegedeel dat Alves die Poclain met geweld by hom afgeneem het en dit toe na 'n onbekende bestemming geneem het. Dieselfde dag is Bosch ook deur die operateur van die Case, mnr J Chauke ("Chauke"), verwittig dat die Case by hom afgeneem is en saam met een van die vragmotors na 'n onbekende plek verwyder is. Hierop, sê Bosch, het hy vir Alves gaan konfronteer. Alves wou nie vir hom sê waar die twee masjiene of die drie vragmotors was nie. Sy houding was dat Bosch nie finansieël in staat was om te dagvaar nie en dat hy maar van sy masjiene en vragmotors moes vergeet.

[15] As gevolg van soektogte wat hy op sy eie geloods het, sê Bosch, het hy aan die begin van September 1994 die Case en een van die vragmotors opgespoor op 'n terrein waar die Case gewerk het waar hy dit toe weer in besit geneem het. Die Case was in 'n haglike toestand maar die vragmotor was nie wesenlik beskadig nie. In Oktober 1994 het Bosch ook die Poclain opgespoor waar verweerders dit, volgens hom, versteek het. Alves het gepoog om hom te verhoed om van die Poclain besit te neem deur 'n rewolwer op hom te rig. Met die hulp van die polisie het Bosch egter tog daarin geslaag om die Poclain na sy eie perseel te neem. Daar is vasgestel dat dit tot so 'n mate beskadig is dat dit nie ekonomies herstelbaar was nie.

[16] Gedurende Januarie 1995 het Bosch verneem dat die ander twee vragmotors in die werkwinkels van vyfde verweerder was. Weereens moes hy die polisie se bystand inroep om toegang tot hierdie persele te verkry waar hy beide vragmotors in 'n uitmekaargehaalde toestand aangetref het. Die vyfde verweerder het geweier dat hy die twee vragmotors in besit neem op grond van 'n beweerde retensiereg weens herstelwerk wat aan die voertuie gedoen is. Nadat Bosch sekuriteit gestel het, is die voertuie op 2 Februarie 1995 aan hom teruggegee.

[17] Uit hoofde van die voorgaande het Bosch senior bedrae van R146 843,40 (eis A) en R217 692,56 (eis B) oftewel R364 535,96 in totaal, nie alleen van L & P Plant Hire nie, maar ook van Basilio en Alves in hul persoolike hoedanighede geëis. Eis A is vir die huur van die masjiene en vragmotors, bereken teen die tariewe wat in dokumente A en B vervat is, vanaf 20 Julie 1994 tot op die onderskeie datums waarop die masjiene en vragmotors weer deur Bosch in besit geneem is. Eis B is vir die koste van die herstel van die skade wat na bewering gedurende die huurtermyn aan die Case en aan twee van die vragmotors aangerig is, asook vir die markwaarde van die Poclain, wat na bewering gedurende die huurtermyn onherstelbaar beskadig is. Die eise teen L & P Plant Hire is uiteraard op grond daarvan dat hierdie beslote korporasie die huurder in terme van die huurkontrak was. Die eise teen Basilio en Alves is gebaseer op die bepalings van art 64 en 65 van die Wet op Beslote Korporasies, 69 van 1984.

[18] Die verweerders erken dat L & P Plant Hire na 20 Julie 1994 in besit gestel is van die Poclain, die Case en drie vragmotors. Hulle ontken egter dat dit geskied het uit hoofde van 'n huurkontrak. Volgens die verweerders se weergawe was dit uit hoofde van 'n sogenaamde samewerkingsooreenkoms (oftewel 'n 'joint venture agreement'). Hierdie weergawe berus hoofsaaklik op die getuienis van Basilio.

[19] Ek het reeds verwys na Basilio se getuienis dat hy en Bosch in Mei 1994 'n berekening gemaak het van die bedrae wat hulle en die instansies wat hulle onderskeidelik verteenwoordig het, oor en weer aan mekaar verskuldig was. Volgens Basilio het Bosch na aanleiding van hierdie berekeninge erken dat hy en sy instansies 'n netto bedrag van om en by R65 000 aan Baslio en sy instansies verskuldig was. Daarna, sê Basilio, het hulle onderhandelinge gevoer oor die wyse waarop Bosch hierdie bedrag sou betaal. Dit het aanleiding gegee tot die samewerkingsooreenkoms. Volgens Bosch was die terme van hierdie ooreenkoms in wese dat die toerusting wat by Bosch Excavations se afgehandelde kontrak in Kwandebele betrokke was, tot beskikking van L & P Plant Hire gestel sou word vir uitverhuring aan siviele kontrakteurs, insluitende L & P Construction. Vyf-en-twintig persent van die omset van die uitverhuring sou gebruik word vir die afbetaling van Bosch se skuld van om en by R65 000. Die restant sou aangewend word, eerstens ter delging van kostes vir die onderhoud en herstel van die toerusting deur vyfde verweerder waarna die balans om die helfte tussen Bosch en Basilio verdeel sou word.

[20] Volgens Basilio het hy vir Alves, as bestuurder van L & P Plant Hire , van die samewerkingsooreenkoms tussen hom en Bosch vertel. Kort voor 20 Julie 1994 het Bosch hom laat weet dat die toerusting beskikbaar was. Gevolglik het hy op 20 Julie 1994 vir Alves gestuur om die toerusting te gaan haal. By terugkoms van sy sending, het Alves dokument A, wat toe reeds geteken was, aan Basilio getoon. Dokument B, oftewel die Propact ooreenkoms, het Basilio, volgens hom, nooit gesien nie. Dokument A was blykens die inhoud daarvan duidelik 'n huurkontrak. Basilio wou by Alves weet hoekom hy dit geteken het. Hierop was Alves se verduideliking dat hy die dokument geteken het op grond van Bosch se versekering dat dit slegs van belang was vir soverre dit 'n beskrywing bevat het van die toerusting wat L & P Plant Hire kon uitverhuur en van die tariewe waarteen dit uitverhuur moes word. Basilio het Bosch telefonies geskakel en wou by hom weet wat sy bedoeling met dokument A was. Bosch was verskonend en het onderneem om 'n nuwe kontrak op te stel wat die terme van hulle samewerkingsooreenkoms behoorlik sou reflekteer. Dit het hy egter nooit gedoen nie.

[21] Enkele dae daarna, sê Basilio, het Alves aan hom verslag gedoen dat die toerusting wat Bosch tot L & P Plant Hire se beskikking gestel het, in 'n haglike toestand was en glad nie geskik was vir uitverhuring nie. Volgens Basilio het hy vir Bosch ook hieroor gekonfronteer. Daarop het Bosch versoek dat die verweerders die toerusting herstel tot 'n toestand waarin dit wel uitverhuur kon word wat die vyfde verweerder toe gedoen het.

[22] Op 29 Augustus 1994, sê Basilio, het Bosch hom besoek en aangedring op sy helfte van die netto inkomste wat uit die uitverhuring van die toerusting verdien is. Basilio het aan hom verduidelik dat daar weens die swak toestand van die toerusting en die gepaardgaande herstelkoste nog nie enige netto verdienste was nie. Bosch wou egter nie rede verstaan nie en het daar en dan die samewerkingsooreenkoms beëindig en teruggawe van sy toerusting geëis. Basilio se reaksie hierop was dat die vyfde verweerder sy retensiereg oor die toerusting uitoefen totdat hy betaal is vir die herstelwerk wat hy in opdrag van Bosch daaraan verrig het. Desnieteenstaande het Bosch voorgegaan om deur eie rigting die Case en die Poclain asook een van die vragmotors in besit te neem. Die twee ander vragmotors het Bosch eers teruggekry nadat hy sekuriteit gestel het vir die vyfde verweerder se vordering.

[23] Alves het in sy getuienis Basilio se weergawe in alle wesenlike opsigte bevestig vir sover dit op hom betrekking gehad het. Onder meer het Alves beaam dat Basilio hom vertel het van sy samewerkingsooreenkoms met Bosch asook dat Basilio aan hom opdrag gegee het om die toerusting wat ingevolge hierdie ooreenkoms deur L & P Plant Hire uitverhuur moes word, by Bosch te gaan haal. Hy erken dat hy beide dokumente A en B geteken het, maar hy het hom nie veel aan die inhoud daarvan gesteur nie omdat hy aanvaar het dat dit die wesenlike terme van die samewerkingsooreenkoms tussen Bosch en Basilio reflekteer. Inderdaad het Bosch hom dan ook verseker dat die dokumente slegs relevant is vir soverre dit 'n uiteensetting van die toerusting en die tariewe waarteen dit uitverhuur moes word, bevat. Alves se getuienis was voorts dat toe die masjiene en vragmotors tot sy beskikking gestel is, dit in so swak toestand was dat dit nie vir uitverhuring geskik was nie en eers deur die vyfde verweerder herstel moes word.

[24] Wat betref die eis teen L & P Plant Hire vir die beweerde skade wat die masjiene en vragmotors gedurende die huurtermyn opgedoen het, is die weergawe van beide Basilio en Alves in kort dat die toerusting aan die einde van die huurtermyn nie wesenlik verskil het van hoe dit aan die begin van die huurtermyn daar uitgesien het nie. Maseko en Chauke se getuienis dat hulle van hul beheer oor die Poclain en die Case ontneem is, word deur Basilio en Alves ontken. Alves erken wel dat hy sy rewolwer uitgehaal het toe Bosch die Poclain verwyder het. Sy verduideliking is egter dat hy dit gedoen het omdat van die mense wat saam met Bosch was, hom bedreig het.

[25] Uit die voorgaande is dit duidelik dat indien Basilio en Alves se weergawe ten koste van dié van Bosch aanvaar word, eise A en B nie kan slaag nie. Die twee eise wentel dus, net soos in die geval van eise D tot H, om 'n geloofwaardigheidsbevinding ten aansien van Bosch, Basilio en Alves. Selfs die quantum van L & P Plant Hire se eis vir skadevergoeding onder eis B hang uitsluitlik af van die geloofwaardigheid van Bosch. Dit is so omdat die deskundige getuies wat namens L & P Plant Hire geroep is, hulle beraming van die herstelkoste hoofsaaklik gebaseer het op Bosch se beskrywings van die toestand waarin die masjiene en vragmotors was toe hy dit teruggekry het. In hierdie Hof is pertinent namens die betrokke verweerders toegee dat indien Bosch se getuienis as geloofwaardig aanvaar word, hulle nie die quantum van eis B op enige ander grond betwis nie.

[26] Weens die beslissende rol wat die geloofwaardigheid van die drie sleutelgetuies in die beregting van die saak speel, het die Verhoorhof in sy uitspraak hulle getuienis aan 'n deurtastende ondersoek onderwerp. Aan die hand van hierdie ondersoek het Willis R onomwonde en sonder kwalifikasie sy slotsom geboekstaaf dat, in die vele botsings tussen die weergawes van die drie steutelgetuies, Bosch se weergawe bo dié van Basilio en Alves aanvaar moet word. Waarvoor die verweerders derhalwe in wese op appèl vra is dat hierdie Hof die Verhoorhof se geloofwaadigheidsbevindings ter syde moet stel.

[27] Hierdie Hof se huiwering om met geloofwaardigheidsbevindings deur 'n verhoorhof in te meng, is welbekend. Die redes is vir sodanige huiwering asook die omstandighede waaronder hierdie Hof wel sal inmeng is so dikwels reeds in gewysdes geformuleer dat herhaling daarvan weinig doel kan dien. Gevolglik volstaan ek met die opmerking dat daar na my oordeel in hierdie saak geen basis is waarop met die Hof a quo se geloofwaardigheidsbevinding ingemeng kan word nie. Inteendeel is dit myns insiens duidelik dat die Verhoorhof se ongekwalifiseerde geloofwaardigheidsbevindings ten gunste van Bosch aanvaar moet word. Veral omdat die kerngedeeltes van Basilio en Alves se weergawes om verskeie redes onversoenbaar is met inherente waarskynlikhede. Hierdie redes word volledig in die uitspraak van die Hof a quo weergegee. Ek vind dit onnodig om dit te herhaal en onderstreep slegs die vernaamstes daarvan.

[28] Volgens Basilio is die toerusting tot beskikking van L & P Plant Hire gestel uit hoofde van 'n samewerkingsooreenkoms. Daar was nooit 'n huurkontrak soos wat Bosch beweer nie. In die eerste uitgawe van die verweerders se pleit gedateer 19 Junie 1995, word egter geen melding van 'n samewerkingsooreenkoms gemaak nie. Inteendeel lui paragraaf 8.1 en 8.2 soos volg:

'8.1 The first defendant admits that on or about 20 July 1994 the fourth defendant [Alves] acting for and on behalf of the first defendant [L & P Plant Hire] entered into a partly written partly oral agreement of hire with the first plantiff [Bosch senior] represented by Johan Bosch ...


8.2 The first defendant admits that fourth defendant acting for and on behalf of the first defendant signed the documents which are annexures A and B to the plaintiff's particulars of claim.' - dit is dokumente A en B.



[29] Daarna is die saak by verskeie geleenthede vir verhoor terrolle geplaas en uitgestel. By sommige van hierdie geleenthede het Basilio ter voorbereiding van sy getuienisaflegging met die verweerders se advokaat en prokureur gekonsulteer. Met verloop van tyd het die verweerders by geleentheid ook van prokureurs en advokate verwissel. Desnieteenstaande het die bewering van 'n samewerkingsooreenkoms en die gepaardgaande ontkenning van 'n huurkontrak vir die eerste keer sy verskyning gemaak in 'n aansoek om die wysiging van die verweerders se pleit, wat gedateer is op 3 Desember 1998.

[30] Basilio se verduideliking dat hy deurentyd dieselfde weergawe wat hy aan die Hof voorgehou het aan sy regsverteenwoordigers oorgedra het, is in al die omstandighede eenvoudig onaanvaarbaar. Ewe onaanvaarbaar is sy verduideliking vir sy optrede nadat Alves dokument A, wat toe reeds deur Alves geteken was, aan hom oorhandig het. Volgens Basilio het hy daarop vir Bosch gekonfronteer met die feit dat dokument A hoegenaamd nie hulle ooreenkoms reflekteer nie. Bosch het onderneem om dit reg te stel maar het dit nooit gedoen nie. As rede waarom hy nie toe maar self 'n skriftelike kontrak opgestel het wat die terme van die samewerkingsooreenkoms behoorlik reflekteer nie, het Basilio aangevoer dat hy nie kan tik nie. Behalwe vir die inherente onaanvaarbaarheid van hierdie verskoning, blyk dit dat Basilio, in briefwisseling met Bosch se prokureurs, juis self sy briewe getik het. Na dit alles word dan in die verweerders se oorspronklike pleit erken dat Alves behoorlik gemagtig was om nie alleen dokument A nie maar ook dokument B, wat Basilio volgens sy getuienis nooit eens gesien het nie, te onderteken.

[31] Alves se vernaamste probleem in kruisverhoor het ook rondom sy ondertekening van dokumente A en B ontstaan. Wat betref dokument A was sy verduideliking in kort dat hy die dokument nooit behoorlik gelees het nie. Tog gee hy toe dat hy in sy eie handskrif veranderings aangebring het aan gedeeltes van die dokument wat op sy weergawe onsaaklik was, maar terselftertyd versuim het om daardie gedeeltes te verander wat direk in stryd met die samewerkingsooreenkoms was. Wat dokument B betref, gee Alves toe dat hy besef het dat die dokument terme en voorwaardes bevat wat soortgelyk is aan dié van L & P Plant Hire se standaard huurkontrakte. Nietemin voer hy aan dat hy die dokument onderteken het omdat hy nog nooit daaraan gedink het dat huurders wat so 'n dokument onderteken, gebonde is aan die terme en voorwaardes wat daarin vervat is nie. Dat hierdie verduidelikings van Alves hoegenaamd nie opgaan nie, spreek eintlik vanself.

[32] Basilio en Alves se weergawes het hulle ook in botsing gebring met getuies soos Maseko en Chauke wat ter ondersteuning van Bosch se weergawe geroep is. Soos die Hof a quo tereg opgemerk het, kan daar teen hierdie getuies weinig kritiek ingebring word, wat die afleiding dat Basilio en Alves nie die waarheid praat nie, nog sterker maak.

[33] Uit die voorgaande blyk dit dat L & P Plant Hire en L & P Construction se verwere op elkeen van die sewe eise teen hulle geheel en al afhanklik was van die aanvaarding van Basilio en Alves se weergawes. Die verwerping van hulle getuienis het dus tot gevolg dat hierdie twee beslote korporasies se appèlle nie kan slaag nie. Benewens sekere geringe opsigte waarin die Hof a quo se bevele teen hierdie twee verweerders reggestel moet word, moet ek ook nog handel met bykomende aspekte rakende koste. Ek keer later daarna terug. Ek handel eers met die appèl van Basilio en Alves in hulle persoonlike hoedanighede.

[34] Soos aangedui was Bosch senior se vorderings onder eise A en B nie alleen teen L & P Plant Hire gerig nie maar, ingevolge die bepalings van art 64 en 65 van die Wet op Beslote Korporasies, 69 van 1984 ("die Wet"), ook teen Basilio en Alves in hulle persoonlike hoedanighede. Die Hof a quo het bevind dat artikel 65 nie van toepassing is nie, maar het Bosch senior gelyk gegee op artikel 64. Basilio en Alves se appèl teen hierdie bevinding rus op twee bene. Eerstens, op die basis dat die beslote korporasie, L & P Plant Hire, nie onder eise A en B teenoor Bosch senior aanspreeklik is nie en dat hulle gevolglik ook nie ingevolge artikel 64 aanspreeklik kan wees nie. Tweedens op die grondslag dat die Hof a quo fouteer het in sy uitleg van artikels 64 van die Wet. Dit volg uit die voorgaande dat daar geen meriete in die eerste basis is nie. Wat oorbly is die oorweging van die tweede basis.

[35] Hoewel die eisers hulle op appèl weer op artikel 65 van die Wet beroep het, is ek dit met die Hof a quo eens dat hierdie wetsartikel nie toepassing kan vind op die onderhawige feite nie. Artikel 65 stel die hof in staat om die selfstandige regspersoonlikheid van 'n beslote korporasie te verontagsaam in 'n geval waar die bevinding geregverdig is dat daardie selfstandige regspersoonlikheid "grof misbruik" is. Op die feite van die onderhawige geval is daar eenvoudig geen feitebasis gelê vir 'n bevinding dat die regspersoonlikheid van L & P Plant Hire misbruik is nie.

[36] Dit bring my by artikel 64(1) van die Wet, wat soos volg lui:

'64(1) Indien dit te enige tyd blyk dat enige besigheid van 'n korporasie roekeloos, met growwe nalatigheid of met die opset om iemand te bedrieg of vir 'n bedrieglike doel gedryf was of word, kan 'n Hof op aansoek van die Meester, of 'n skuldeiser, lid of likwidateur van die korporasie, verklaar dat iemand wat wetend 'n party tot die dryf van die besigheid op enige sodanige wyse was of is, persoonlik aanspreeklik is vir al of enige van die skulde of verpligtinge van die korporasie wat die Hof gelas, en die Hof kan die verdere bevele gee wat hy goeddink ten einde aan die verklaring gevolg te gee en daardie aanspreeklikheid af te dwing.'


[37] Die Hof a quo fundeer sy bevinding dat Basilio en Alves ingevolge die bepalings van artikel 64 vir L & P Plant Hire se skuld onder eise A en B aanspreeklik is in die eerste plek op die bevinding dat hulle twee, reeds by aangaan van die huurkontrak van 20 Julie 1994, daarop uit was om die eienaar van die toerusting, Bosch senior, te bedrieg. Na my mening is so 'n bevinding nie op die feite geregverdig nie. Hierdie proposisie is nooit aan enigeen van Basilio of Alves in kruisverhoor gestel nie. In die omstandighede was die ingrypende bevinding van bedrog nouliks geregverdig. In elk geval het Basilio en Alves, ooreenkomstig Bosch se eie weergawe, minstens tot aan die einde van Augustus 1994 die huurkontrak behoorlik nagekom. Hulle optrede daarna is eweneens versoenbaar met 'n oogmerk om die huurkontrak blatant te verbreek omdat hulle geglo het dat hulle daarmee kan wegkom aangesien die eisers nie finansieel in staat was om hul regte ingevolge die huurkontrak deur regstappe af te dwing nie, soos wat Alves dan ook aan Bosch gesê het. Dat blatante kontrakbreuk nie gelyk is aan bedrog nie, spreek eintlik vanself.

[38] Die tweede been waarop die Hof a quo Basilio en Alves se persoonlike aanspreeklikheid ingevolge artikel 64 fundeer, is dat hulle die masjiene en voertuie wat aan L & P Plant Hire verhuur is, op roekelose of minstens grof nalatige wyse hanteer het. Dat dit so is, staan myns insiens vas. Die eerste vraag wat ontstaan is egter of roekelose of grof nalatige hantering van goedere waarvan die beslote korporasie die huurder is, gelyk gestel kan word aan roekelose of grof nalatige dryf van die beslote korporasie se besigheid, soos in artikel 64 beoog word. Oor die algemeen moet hierdie vraag myns insiens ontkennend beantwoord word. Ek is egter bereid om ten gunste van Bosch senior te aanvaar, sonder om dit finaal te beslis, dat in 'n geval soos die onderhawige waar dit deel van die beslote korporasie se besigheid is om toerusting te huur vir uitverhuring aan derdes, die roekelose of grof nalatige hantering van die gehuurde toerusting, binne die kader van artikel 64 tuisgebring kan word.

[39] Wat egter na my oordeel van groter belang is in onderhawige verband is dat daar geen getuienis is aangaande L & P Plant Hire se finansiële posisie nie. Daar is dus geen basis om te aanvaar dat Bosch senior nie sy eise onder A en B van die beslote korporasie sal kan verhaal nie. Die Hof a quo het die mening uitgespreek dat die toepassing van die artikel 64 nie beperk moet word tot gevalle waar die beslote korporasie in likwidasie is nie. Hoewel hierdie mening waarskynlik in beginsel korrek is, is dit nie 'n antwoord op die regte vraag nie. Die regte vraag is of artikel 64 so uitgelê moet word dat, ook in 'n geval waar die beslote korporasie 'n skuldeiser se eis kan ontmoet, die skuldeiser terselfdertyd sy eis kan instel teen 'n persoon wat die korporasie se sake op roekelose of grof nalatige wyse bedryf het. By oorweging van hierdie vraag moet in gedagte gehou word dat 'n skuldeiser, anders as 'n lid, se enigste belang by die bedryf van die beslote korporasie se besigheid geleë is in sy vordering teen die beslote korporasie. Solank die beslote korporasie die skuldeiser se vordering ten volle kan betaal, het die skuldeiser gevolglik geen belang by die wyse waarop die korporasie se besigheid bedryf word nie. Henochsberg on the Companies Act, 5e uitgawe 914, laat hom soos volg uit oor die analoë bepalings in artikel 424 van die Maatskappywet, 61 van 1973:

'It is submitted, carrying on any business of the company recklessly means carrying it on by conduct which evinces a lack of any genuine concern for its prosperity'


Dit is so dat artikel 424 van die Maatskappywet slegs verwys na roekelose optrede en nie ook na grof nalatige optrede, soos artikel 64 van die Wet nie. Aan die ander kant word 'roekelose' optrede in artikel 424 juis uitgelê om ook 'growwe nalatigheid' in te sluit (sien Henochsberg tap en die gesag daar aangehaal). Gevolglik kan Henochsberg se siening oor die betekenis van 'roekeloosheid' as korrek aanvaar word ook wat 'grof nalatige optrede' in artikel 64 betref. Dit onderstreep die retoriese vraag: Hoe raak dit 'n skuldeiser van 'n beslote korporasie wat in staat is om die skuldeiser se vordering te ontmoet, dat die beheerders van die besigheid onbesorg is oor die beslote korporasie se finansiële voorspoed? En die verdere vraag: Hoekom sal 'n skuldeiser wat net sowel, byvoorbeeld, sy huurgeld van 'n beslote korporasie as huurder kan verhaal , die keuse hê om dit ook van die beheerder van die beslote korporasie te verhaal net omdat die beheerder onbesorg is oor die beslote korporasie se finansiële toekoms? Wat skuldeisers betref is die bedoeling van artikel 64 (afgesien - moontlik - van bedrog) immers nie om vir hulle mede-hoofskuldenaars met die beslote korporasie te skep nie. Die bedoeling is om hulle te beskerm teen nadeel wat die roekelose of grof nalatige bedryf van die beslote korporasie se sake vir hulle mag meebring.

[40] So gesien moet artikel 64, wat skuldeisers betref, beperkend uitgelê word om slegs betrekking te hê op 'roekelose' en 'grof nalatige' bedryf van die beslote korporasie se besigheid wat 'n nadelige effek op die skuldeiser se vordering teen die beslote korporasie het. Waar die beslote korporasie ten spyte van die roekelose of grof nalatige bedryf van sy besigheid steeds die skuldeiser se vordering kan ontmoet, kan die skuldeiser nie ingevolge artikel 64 ageer nie. Dit volg dat aangesien daar in die onderhawige geval geen aanduiding is van L & P Plant Hire se onvermoë om eise A en B te betaal nie, daar 'n wesenlike element van Bosch senior se vordering teen Basilio en Alves, ingevolge artikel 64, ontbreek. Uit die uitspraak van die Hof a quo wil dit voorkom asof die beslissing om artikel 64 teen Basilio en Alves toe te pas grootliks beinvloed is deur die Hof se vermoede dat Bosch senior in L & P Plant Hire slegs 'n leë dop sal vind wanneer hy sy vonnis teen die beslote korporasie probeer afdwing. In die lig van die voorgaande is dit egter myns insiens duidelik dat die blote vermoede van finsansiële onvermoë aan die kant van die beslote korporasie nie voldoende is vir die toepassing van artikel 64 nie. Tog moet die moontlikheid van 'n beroep op artikel 64 nie vir Bosch senior ontneem word indien die Hof a quo se vermoede uiteindelik waar sou blyk te wees nie. Derhalwe was die gepaste bevel in hierdie verband na my oordeel een van absolusie van die instansie.

[41] Wat oorbly is sekere aspekte rakende koste. Eerstens, wat koste in die Hof a quo betref, volg dit uit die voorgaande dat die kostebevele teen Basilio en Alves tersyde gestel moet word en vervang moet word met 'n kostebevel teen Bosch senior ten gunste van hierdie twee verweerders. Tweedens, het die Hof a quo koste toegestaan teen L & P Plant Hire op prokureur en kliënt skaal. Die basis hiervoor was hoofsaaklik 'n uitdruklike term tot dien effekte wat vervat is in die Propact ooreenkoms. Aangesien die terme van die Propact ooreenkoms, volgens Bosch se aanvaarde getuienis, by die huurkontrak tussen die partye ingelyf is, was daar myns insiens geen rede waarom die Hof a quo nie hierdie term teen L & P Plant Hire kon afdwing nie. Derdens, is daar die koste van die bestrede aansoek wat voortgespruit het uit die verweerders se kennisgewing van voorneme om hul pleit te wysig op 3 Desember 1994. Hierdie koste is deur Satchwell R, wat die wysiging toegestaan het, voorbehou. Aan die einde van die verhoor het Willis R gelas dat dit deur die verweerders betaal moet word op die skaal soos tussen prokureur en eie kliënt. Die basis hiervoor was dat, blykens die Verhoorhof se uiteindelike geloofwaardigheidsbevindings, die aansoek om wysiging op valse getuienis gefundeer was. Myns insiens is daar geen grondige rede aangevoer waarom met hierdie kostebevel ingemeng kan word nie. Die vraag of 'n kostebevel op 'n skaal van prokureur en eie klient (in teenstelling met die prokureur en klient-skaal) in beginsel toegestaan kan word, is soos in ander sake in die verlede, ook in hierdie saak nie geopper of geargumenteer nie. (Vgl ook Thoroughbred Breeders Association v Price Waterhouse 2001 (4) SA 551 (HHA) 596 D.) Wat hierdie Hof betref bly die afsonderlike bestaansreg van hierdie skaal van koste dus nog steeds 'n ope vraag. Ook die juistheid van die Hof a quo se bevele aangaande moratore rente en van welke datums dit bereken moet word, is nie namens die verweerders in geskil geplaas nie. Daar is gevolglik onvoldoende rede om met hierdie bevele in te meng.

[42] Wat die koste van appèl betref sou dit normaalweg die sukses of mislukking van die onderskeie appellante se appèlle volg. So 'n bevel sou egter myns insiens in die onderhawige geval onbillikheid meebring. Indien die appèl beperk was tot die Hof a quo se beslissing uit hoofde van artikel 64, sou slegs 'n baie beperkte deel van die oorkonde, wat 2500 bladsye beslaan, ter sake wees. Dit is dus die onsukselvolle appèl teen die aanspreeklikheid van L & P Plant Hire - waaraan Basilio en Alves ook deelgeneem het - wat die voorbereiding en bestudering van die oorkonde genoodsaak het. Gevolglik is 'n billike kostebevel na my oordeel dat geen bevel ten aansien van die koste van appèl gemaak word nie, behalwe dat L & P Plant Hire (oftewel die eerste appellant) gelas word om 80% van die respondente se koste wat deur die bestudering van die oorkonde teweeggebring is, te betaal.

[43] Bygevolg is die bevel van hierdie hof:

(a) Die appèl van eerste en tweede appellante word van die hand gewys.

(b) Die appèl van derde en vierde appellante slaag.

(c) Geen bevel word ten aansien van die koste van appèl gemaak nie behalwe dat die eerste appellant gelas word om 80% van die respondente se koste wat deur bestudering van die oorkonde meegebring is, te betaal.

(d) Die bevele van die Hof a quo word ter syde gestel en met die volgende vervang.

'1. The first defendant is ordered to pay to the first plaintiff the sum of R364 535,96.

2. The second defendant is ordered to pay to the second plaintiff the sum of R111 106,66.

3. The second defendant is ordered to pay to the second plaintiff the sum of R9 120,00.

4. The first defendant is ordered to pay to the first plaintiff mora interest on R146 843,40 of the sum of R364 535,96 referred to in paragraph 1 above from 30 September 1994 to date of payment.

5. The first defendant is ordered to pay to the first plaintiff mora interest on R217 692,56 of the sum of R364 535,96 referred to in paragraph 1 above from 31 March 1995 to date of payment.

6. The second defendant is ordered to pay to second plaintiff mora interest on the sum of R111 106,66 refered to in paragraph 2 above from 1 April 1994 to date of payment.

7. The second defendant is ordered to pay to the second plaintiff mora interest on the sum of R9 120,00 referred to in paragraph 3 above from 31 May 1995 to date of payment.

8. Save as provided for in paragraphs 9 and 10 below, the first defendant is ordered to pay the first plaintiff's costs in this action on an attorney and client scale.

9. As to the first plaintiff's claims in terms of sections 64 and 65 of Act 69 of 1984, third and fourth defendants are absolved from the instance with costs.

10. The first, second, third and fourth defendants are jointly and severally liable to pay the first plaintiff's wasted costs occasioned by the notice of amendment of defendants' plea on 3 December 1998, and the subsequent application for leave to amend on an attorney and own client scale, and are ordered to pay these costs, the one paying, the other to be absolved.'



____________________

FDJ BRAND

WAARNEMENDE REGTER VAN APPèL



STEM SAAM:


VIVIER Wnd AHR

SCOTT AR

CLOETE Wnd AR

NUGENT Wnd AR

▲ To the top