Middelberg v Prokureursorde van Transvaal (565/1998) [2001] ZASCA 2 (22 February 2001)







RAPPORTEERBAAR

Saaknommer: 565/98


IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN

SUID-AFRIKA



In die saak tussen:


A W F MIDDELBERG APPELLANT

en


DIE PROKUREURSORDE VAN TRANSVAAL RESPONDENT



CORAM: SMALBERGER WndAHR, VIVIER, SCOTT, MPATI ARR en MELUNSKY Wnd AR


VERHOORDATUM: 16 FEBRUARIE 2001


LEWERINGSDATUM: 22 FEBRUARIE 2001


Skrapping van prokureur van rol - siviele verrigtinge kragtens art 20(4) van die

Hooggeregshofwet - verlof om te appelleer nodig.

_________________________________________________________________


UITSPRAAK

__________________________________________________________________


SMALBERGER WndAHR


SMALBERGER WndAHR:

[1] Die Prokureursorde van Transvaal (“die respondent”) het by wyse van ‘n kennisgewing van mosie, ingevolge reël 6 van die Eenvormige Hofreëls, in Julie 1997 in die Transvaalse Provinsiale Afdeling aansoek gedoen om die skrapping van die appellant (‘n toegelate prokureur) van die rol van prokureurs van daardie Afdeling, en sekere aanvullende regshulp. Na lang, uitgerekte verrigtinge is die appellant op 5 Oktober 1998 deur ‘n hof bestaande uit Van Coller en Combrinck RR van die rol geskrap en die aangevraagde bykomende regshulp is toegestaan. Op 19 Oktober 1998 het die appellant ‘n kennisgewing van appèl ingedien. Verlof om te appelleer is nie vooraf deur hom aangevra of verkry nie. Die kennisgewing, wat 19 bladsye beslaan, gee voor een te wees kragtens artikel 21 van die Wet op die Hooggeregshof 59 van 1959 (“die Wet”).

[2] Nadat kennis vooraf aan die partye in dié verband gegee is, is die aanvanklike betoog voor ons beperk tot die vraag of hierdie Hof, by ontstentenis van verlof om te appelleer, regsbevoeg is om die voorgenome appèl aan te hoor. Die antwoord hierop sal die verdere verloop van die verrigtinge bepaal.

[3] Die Wet het op sivielregtelike aangeleenthede betrekking. Artikel 20(1), soos tans bewoord, verleen aan hierdie Hof die bevoegdheid om ‘n appèl te verhoor “teen ‘n uitspraak of bevel van die hof van ‘n provinsiale afdeling in ‘n siviele geding of teen enige uitspraak of bevel van so ‘n hof op appèl gegee”. Luidens art 21(1) van die Wet is hierdie Hof regsbevoeg om “benewens enige regsbevoegdheid deur hierdie Wet of ander wetsbepalings aan hom verleen . . . . ‘n appèl teen enige beslissing van die hof van ‘n provinsiale of plaaslike afdeling te verhoor en te beslis”. Artikel 21(1) gee dus voor om regsbevoegdheid aan hierdie Hof te verleen in moontlike gevalle wat nie deur art 20(1) gedek is nie (vgl Moch v Nedtravel (Pty) Ltd t/a American Express Travel Service 1996(3) SA 1 (A) op 8 B - C).

[4] Die vraag ontstaan of die uitspraak van die hof benede een is in “‘n siviele geding” binne die bestek van daardie woorde in art 20(1) van die Wet. Indien wel, geld die bepalings van art 20(4) wat soos volg lui:

(4) Daar is geen appèl teen ‘n uitspraak of bevel van die hof van ‘n provinsiale of plaaslike afdeling in ‘n siviele geding of teen enige uitspraak of bevel van daardie hof op appèl na hom gegee nie behalwe-


(a) in die geval van ‘n uitspraak of bevel in ‘n siviele geding deur die volle hof van so ‘n afdeling gegee op appèl na hom ingevolge subartikel (3), met die spesiale verlof van die appèlafdeling;

(b) in enige ander geval, met verlof van die hof teen die uitspraak of bevel waarvan die appèl aangeteken staan te word of, waar sodanige verlof geweier is, met verlof van die appèlafdeling.”


(Die verwysing na die appèlafdeling moet, gesien die nuwe Grondwetlike bedeling, beskou word as ‘n verwysing na hierdie Hof.)

[5] Na aanleiding van die duidelike bepalings van art 20(4) kan daar geen appèl voor hierdie Hof teen die hof benede se uitspraak dien nie as die verrigtinge in daardie hof binne die kader van “‘n siviele geding” val aangesien, soos reeds aangedui, geen verlof om te appelleer by daardie hof aangevra of verkry is nie. Sodanige verlof of, waar dit geweier is, verlof van hierdie Hof, is regtens ‘n voorvereiste vir hierdie Hof se bevoegdheid om ‘n appèl aan te hoor, en nie net ‘n tegniese struikelblok in die weg van die appellant nie. Daarbenewens is hierdie Hof, na aanleiding van art 20(4)(b), nie by magte om ‘n aansoek om verlof om te appelleeer te oorweeg nie, en verlof te verleen nie, tensy verlof in die hof benede voorheen aangevra en geweier is (National Union of Metalworkers of South Africa v Jumbo Products CC 1996(4) SA 735 (A) op 740 A-D).


[6] By oorweging van die bestek van die begrip “‘n siviele geding” in art 20(1) en (4) moet daar op die volgende gelet word. In die Engelse teks van die Wet word die woorde “‘n siviele geding” weergegee as “civil proceedings”. Soos ek aanstons sal aantoon, het “proceedings” ‘n wyer betekenis as “action” of “suit” wat normaalweg as die Engelse ekwivalent van “geding” beskou sou word. Waar die woord “proceedings” deurgaans konsekwent in die Engelse teks gebruik word, word daarvoor in die Afrikaanse teks van die Wet soms “geding” en soms “verrigtinge” of “verrigtings” gebruik - sien bv arts 9(1), 10(6), 19 bis, 20(7), 23, 24(1) en (2), 29, 30(1), (3) en (6), 31(1), (3) en (5) en 32(1). In arts 28(2) en 31(2) word “geding” klaarblyklik as die eweknie van “verrigtinge” gebruik. Daarbenewens, waar die Afrikaanse teks in art 20(1), (2)(a) en (4) bloot na “‘n siviele geding” verwys, is die ooreenstemmende woorde in die Engelse teks “any civil proceedings”. Die woord “any”, wat ‘n woord van wye betekenis is, het dus geen ekwivalent in die Afrikaanse teks nie. Die Engelse teks is die getekende een. Bygevolg moet “‘n siviele geding” gelees en geïnterpreteer word as sou dit gelykstaande wees aan “any civil proceedings”. Ek sal dus voortaan verwys, in die konteks van art 20(1) en (4), na siviele verrigtinge eerder as ‘n siviele geding.

[7] Die voorafgaande geskiedenis van arts 20 en 21 van die Wet, en die gevolg van wysigings wat van tyd tot tyd aan daardie artikels aangebring is, word behandel in sake soos Westinghouse Brake & Equipment (Pty) Ltd v Bilger Engineering (Pty) Ltd 1986(2) SA 555 (A) en Kalil v Decotex (Pty) Ltd and Another 1988(1) SA 943 (A). Dit is nie vir die doeleindes van hierdie uitspraak nodig om daarop in te gaan nie. Kortliks kom dit daarop neer dat waar daar aanvanklik in siviele verrigtinge ‘n reg tot appèl na hierdie Hof (of altans sy voorganger) was, verlof om te appelleer in sodanige gevalle nou benodig word. Gevolglik was die vraag of ‘n aangeleentheid ‘n siviele verrigting is deurgaans lotsbepalend - omdat dit vroeër ‘n reg tot appèl verleen het en nou verlof tot appèl vereis.

[8] In die saak van Prokureursorde van die Oranje Vrystaat v Louw en Andere 1989(1) SA 310 (O) het ‘n volle hof van die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling (Olivier R met wie Brink en Bester RR saamgestem het) tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n aansoek om die verwydering of skrapping van ‘n prokureur van die rol ‘n siviele verrigting is binne die bestek van art 20(1) en (4) en dat verlof om te appelleer teen die toestaan van so ‘n aansoek dus nodig was. Gevolglik is bevind dat die uitspraak tot die teendeel in Cape Law Society v Solomon and Jackson 1978(3) SA 452 (OK) verkeerd beslis is. Daar is deur Olivier R bevind (op 312 F - G) dat die slotsom waartoe daar in die Solomon and Jackson saak gekom is foutief was, eerstens omdat daar gesteun is op gesag wat nie met die wye begrip “civil proceedings” handel nie en, tweedens, omdat die betrokke wetsartikel te eng uitgelê is. Na my mening moet die geleerde regter in albei opsigte gelyk gegee word.

[9] Soos tereg deur Olivier R in die Louw saak daarop gewys (op 312 G - 313 D), het die hof in die Solomon and Jackson saak gesteun op ‘n aantal gewysdes wat gegaan het oor die uitleg en bestek van die begrippe “civil suit” of “civil suit and action” (onder andere Solomon v Law Society of the Cape of Good Hope 1934 AD 401), en nie met die wyer begrip “civil proceedings” nie, om tot die uiteindelike gevolgtrekking te kom dat ‘n skrappingsaansoek nie ‘n “civil proceeding” soos in die destydse art 20(1)(a) van die Wet bedoel was nie omdat “the civil proceedings there contemplated are proceedings in which there is a lis between the parties” (op 458 B). Sodoende is uit die oog verloor dat daar ‘n inherente beperking in die begrip “civil suit or action” is wat nie in die begrip “civil proceedings” te vinde is nie (vgl Kalil se saak (supra) op 963 F - H). Die begrip “civil proceedings” is klaarblyklik van wyer omvang (The Master v Van Aardt 1926 AD 25 op 27) en is ‘n lis in die enge sin myns insiens nie ‘n noodwendige vereiste daarvan nie.

[10] In die Solomon and Jackson saak is daar ook gesteun op die beslissing in Hassim (also known as Essack) v Incorporated Law Society of Natal 1977(2) SA 757 (A). In daardie saak is bevind (op 767 C - D) dat aansoeke om die skrapping van prokureurs van die rol verrigtinge van ‘n dissiplinêre aard was en gevolglik nie “civil proceedings” nie soos beoog in art 42 van die Wet op Bewysleer in Siviele Sake 25 van 1965. In daardie opsig is gesteun op die Solomon saak van 1934 (supra) waar die woorde “suit or action” vertolk is - ‘n begrip, soos reeds gemeld, met ‘n enger betekenis as “civil proceedings”. Ek stem saam met die opmerking van Olivier R in Louw se saak op 313 D - E dat “in soverre as wat die woorde ‘civil proceedings’ in art 42 . . . . . interpreteer is, was dit uitsluitlik vir doeleindes van die bewysreg en slegs met die oog op die werking van gemelde artikel”. Hassim se saak het nie gegaan oor die vertolking van die begrip “civil proceedings” binne die konteks van art 20(1) en (4) van die Wet nie. Wat daar gesê is, is dus nóg bindend nóg deurslaggewend in die onderhawige geval.


[11] Namens die appellant is betoog dat die beslissing in die Solomon and Jackson saak goedgekeur is, minstens by implikasie, in Law Society, Transvaal v Behrman 1981(4) SA 538 (A). Daar is nie in Louw se saak na hierdie saak verwys nie. In Behrman se saak het die huidige respondent geappelleer teen die hertoelating van Behrman as prokureur nadat hy reeds twee keer vantevore van die rol geskrap was vir wangedrag. Met betrekking tot art 20(1) van die Wet verwys Corbett AR in die loop van sy uitspraak (op 546 A - C) onder andere na die Hassim en Solomon and Jackson sake as gesag vir die stelling dat aansoeke om skrapping van prokureurs nie “civil proceedings” is nie. Die geleerde regter handel dan nie verder met art 20(1) nie maar gaan voort op die veronderstelling dat sou die hof benede se beslissing appelleerbaar wees, die appèl onder artikel 21(1) van die Wet resorteer. Daar is nie verdere aandag geskenk aan die betekenis en omvang van die begrip “civil proceedings” in art 20(1) nie en geen mening is uitgespreek oor die korrektheid al dan nie van die beslissing in die Solomon and Jackson saak. Die Behrman saak kan na my mening nie vertolk word as goedkeuring of bevestiging daarvan nie. Afgesien daarvan is die vraag wat hier ter sprake is nie in die Behrman saak oorweeg nie.

[12] Daar word in verskeie gewysdes beklemtoon dat aansoeke om skrapping van ‘n prokureur of ‘n advokaat verrigtinge van ‘n dissiplinêre aard en sui generis is. Gevolglik is sulke verrigtinge nie beskou as “ordinary civil proceedings” nie - sien bv Cirota and Another v Law Society, Transvaal 1979(1) SA 172 (A) op 187 H; Society of Advocates of South Africa (Witwatersrand Division) v Edeling 1998(2) SA 852 (W) op 859 I. Die kwalifikasie “ordinary” is belangrik. Omdat verrigtinge van daardie aard van gewone siviele verrigtinge verskil, volg dit nie noodwendig dat hulle nie nogtans siviele verrigtinge is kragtens art 20(1) en (4) van die Wet nie, gesien die wye strekking en betekenis van daardie begrip.


[13] Uit ‘n prosesregtelike oogpunt is dit moeilik om te begryp hoe die verrigtinge in die hof benede anders beskou kan word as siviele verrigtinge. (Die enigste ander erkende kategorie van verrigtinge sou wees strafregtelike verrigtinge, en dit is hulle klaarblyklik nie - sien Cirota and Another (supra) op 187 G.) Hulle het immers meeste van die kenmerke van siviele verrigtinge. Die aansoek is by wyse van ‘n kennisgewing van mosie van stapel gestuur; dit het beoog die verskyning van die appellant voor die hof benede; en bepaalde regshulp is aangevra wat onder andere die sekretaris van die respondent sou magtig om as kurator op te tree met betrekking tot die appellant se praktyk. Die funderende stukke voldoen aan die vereistes van ‘n siviele dagvaarding soos omskryf in art 1 van die Wet. Volledige funderende, beantwoordende en verdere eedsverklarings is geliasseer. Weliswaar word daar nie streng gesproke in geding getree met die appellant oor die vraag of sy naam van die rol geskrap moet word nie - enige besluit in die verband berus by die hof in die uitoefening van sy diskresie as die uiteindelike custos morum van die regsberoep. Nogtans, indien daar feitegeskille sou ontstaan in ‘n aansoek om skrapping aangaande aangeleenthede onderliggend tot die uitoefening van sodanige diskresie, sou dit van die respondent verwag word om die feite waarop dit steun vir die aansoek te bewys volgens die gebruiklike sivielregtelike beginsels en maatstawwe wat geld by mosie-verrigtinge.

[14] Gevolglik stem ek saam met Olivier R se gevolgtrekking in Louw se saak op 313 I - J naamlik:

Wat die prosesreg betref, is dit dus in alle opsigte ‘n siviele verrigting, naamlik ‘n mosie-aansoek. Die feit dat so ‘n aansoek vir sekere doeleindes sui generis-eienskappe vertoon, bring nie mee dat dit vir prosesreg-doeleindes, nie ‘n siviele verrigting is nie.”


In Westinghouse se saak (supra) is die veranderings wat ingetree het in arts 20 en 21 van die Wet weens die wysigings teweeggebring deur Wet 105 van 1982 omvangryk behandel. Artikel 20 van die Wet is heeltemal herformuleer en art 21 wesenlik gewysig. Na aanleiding hiervan bevind Corbett AR op 559 I - J dat:

The new s 20, read together with the amended s 21, has introduced an entirely new dispensation regarding appeals from a judgment or order of a Provincial or Local Division in civil proceedings. The first main innovation is that henceforth leave to appeal is required in all cases.”


Hy wys daarop (op 562 B - C, 563 B - E) dat die rede waarom verlof om te appelleer ‘n vereiste gemaak is, was om die werklading van hierdie Hof te verminder deur te sorg dat sover doenlik net sake met redelike vooruitsigte van sukses voortaan voor hierdie Hof sou dien, sodoende te verhoed dat hierdie Hof met onbeduidende appèlle opgesaal word. Hierop is later voortgebou deur verdere wysigings (wat deur Wet 129 van 1993 aangebring is) om arts 20 en 21 te laat lees soos tans die geval is. Dat die Wetgewer doelgerig strewe om alle appèlle na hierdie Hof onderhewig te maak aan verlof om te appelleer, blyk ook uit die wysigings wat aangebring is, onder andere, aan artikel 150 van die Insolvensiewet 24 van 1936 en artikel 76(2)(a) van die Wet op Patente 57 van 1978 waar die reg tot appèl onderhewig gemaak is aan die voorskrifte van artikel 20(4) van die Wet. Waarom sou ‘n geval soos die onderhawige ‘n uitsondering wees op die algemene reël dat verlof benodig word? Dit blyk nie dat daar enige beginsel-rede of oorweging van openbare belang is waarom dit die geval moet wees nie.

[15] Na my mening is die aansoek om die skrapping van ‘n persoon van die rol van prokureurs, indien nie in alle opsigte ‘n gewone siviele verrigting (ordinary civil proceeding) nie vanweë die sui generis aard daarvan, nogtans ‘n siviele verrigting vir die doeleindes van art 20(1) en (4) van die Wet. Verlof tot appèl was dus benodig om ‘n appèl voor hierdie Hof te laat dien. Hierdie siening strook met dié van die geleerde skrywers Harms: Civil Procedure in the Supreme Court A1; Erasmus: Superior Court Practice A1-46; en dié van Herbstein & Van Winsen: The Civil Practice of the Supreme Court of South Africa, 4de uitgawe, 851.

[16] Vir soverre daar in Vaatz v Law Society of Namibia 1991(3) SA 563 (Nm HC) op 572 A - E ‘n mening uitgespreek is teenstrydig met bogaande is dit, met respek, klaarblyklik verkeerd. Dit is opvallend dat daar in Vaatz se saak glad nie na Louw se saak verwys is nie.

[17] Gevolglik is daar geen appèl behoorlik voor hierdie Hof nie en is dit onvermydelik dat die saak van die rol geskrap moet word met koste. Namens die respondent is versoek dat prokureur en kliënt koste toegestaan word. Gesien die omstandighede van die geval bestaan daar na my mening geen regverdiging vir so ‘n bevel nie.

[18] Dit is te betreur dat ‘n saak wat reeds lank sloer nog nie finaal afgehandel kan word nie. Tot ‘n groot mate moet die appellant self daarvoor verantwoordelikheid aanvaar. Hy (of sy raadgewers) moes bewus gewees het van die beslissing in Louw se saak en behoort hy versigtigheidshalwe en in eie belang daarvolgens te gehandel het. Hy het egter verkies om nie daardie weg te volg nie.


[19] Die saak word van die rol geskrap. Die appellant word gelas om die koste te betaal.


____________________

J W SMALBERGER

Wnd ADJUNK-HOOFREGTER



VIVIER AR )Stem saam

SCOTT AR )

MPATI AR )

MELUNSKY WndAR )








▲ To the top