S v Khambule and Others (79/1999) [2001] ZASCA 43 (26 March 2001)







RAPPORTEERBAAR

Saaknommer : 79 / 99



IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA



In die appèl van


PHODI SIMON KHAMBULE Eerste Appellant

SAMUEL LEHLOHONOLO KHOZA Tweede Appellant

SIPHO STEVEN NGUBANE Derde Appellant

KENNETH VUSUMIZI MABIZELA Vierde Appellant

THEMBILE MAHAMULE Vyfde Appellant

ERIC THOZAMILE MHLANLI Sesde Appellant


en


DIE STAAT Respondent



Regbank : OLIVIER, ZULMAN ARR en MTHIYANE Wnd AR



Verhoordatum : 19 FEBRUARIE 2001


Datum van uitspraak : 26 MAART 2001


OPSOMMING


Roof en moord; leerstuk van gemeenskaplike oogmerk toegepas op onwettige besit van wapens en ammunisie en poging tot moord weens skote afgevuur op agtervolgende polisie. Vonnisse bespreek.




U I T S P R A A K






OLIVIER AR

[1] Appellante het as beskuldigdes 1 tot 4 en 6 tot 7 in die Rondgaande

Hof (Vrystaatse Provinsiale Afdeling) te Virginia, voor Van Coppenhagen R, en twee assessore, op die volgende aanklagte tereggestaan:

1.1 Aanklag 1 : diefstal van ’n Volkswagen Mikrobus, gepleeg op 26 Mei 1996 te Bloemfontein.

1.2 Aanklag 2 : roof (met verswarende omstandighede) van ’n Toyota Hilux bakkie, wat op 9 Julie 1996 te Boksburg gepleeg is.

1.3 Aanklag 3 : poging tot roof (waarby verswarende omstandighede aanwesig is) van R300 000,00, wat op 12 Julie 1996 by die President Steyn 5 Skag Hostel te Welkom gepleeg is.

1.4 Aanklag 4 : roof (waarby verswarende omstandighede aanwesig is) van ‘n 556 Mini Ruger geweer, en wat op 12 Julie 1996 by laasgenoemde plek gepleeg is.

1.5 Aanklag 5 : moord gepleeg by laasgenoemde plek op 12 Julie 1996 en waartydens ene K Mqike se lewe geneem is.

1.6 Aanklagte 6 tot 11 : 6 aanklagte van poging tot moord op S A Duiker, S Letaba, J Phalole, A Moduphe, R J A Earle en J G R de Beer, onderskeidelik, en gepleeg te laasgenoemde plek op 12 Julie 1996.

1.7 Aanklagte 12 en 13 : onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, te wete ’n 5,56 x 45 mm semi-outomatiese Ruger geweer en 10 x 5,56 x 45 mm patrone en wat te laasgenoemde plek op 12 Julie 1996 gepleeg is.

1.8 Aaanklagte 14 en 15 : onwettige besit van masjiengewere te wete twee AK masjiengewere en ammunisie te wete 11 rondtes 7,62 mm x 39 mm patrone, te laasgenoemde plek en tyd.

[2] Op 4 Maart 1998 is die eerste tot vierde en sesde appellant aan

aanklagte 3 tot 13 en die vyfde appellant aan aanklagte 2 tot 15 skuldig bevind.

[3] Op 6 Maart 1998 is die :

3.1 eerste tot vierde en sesde appellant tot 35 jaar effektiewe gevangenisstraf gevonnis, wat soos volg saamgestel en bereken is:

3.1.1 Aanklag 3 : 10 jaar gevangenisstraf.

3.1.2 Aanklag 4 : 15 jaar gevangenisstraf.

3.1.3 Aanklag 5 : 20 jaar gevangenisstraf.

3.1.4 Aanklagte 6 tot 11 : 8 jaar gevangenisstraf op elke aanklag

3.1.5 Aanklagte 12 tot 13 : 2 jaar gevangenisstraf op elke aanklag

Die vonnisse in aanklagte 3 en 4 moet samelopend uitgedien word, en die vonnisse op aanklagte 6 tot 13 samelopend met die vonnis op aanklag 5.

3.2 Die vyfde appellant is gevonnis tot effektiewelik 40 jaar gevangenisstraf, wat soos volg saamgestel en bereken is :

3.2.1 Aanklag 2 : 15 jaar gevangenisstraf.

3.2.2 Aanklag 3 : 20 jaar gevangenisstraf.

3.2.3 Aanklag 4 : 20 jaar gevangenisstraf.

3.2.4 Aanklag 5 : 20 jaar gevangenisstraf.

3.2.5 Aanklagte 6 tot 12 : 8 jaar gevangenisstraf op elke aanklag.



3.2.6 Aanklagte 12 tot 13 : 2 jaar gevangenisstraf op elke aanklag.



3.2.7 Aanklag 14 : 5 jaar gevangenisstraf.

3.2.8 Aanklag 15 : 2 jaar gevangenisstraf.

Die vonnisse op aanklagte 2 en 3 opgelê, moet samelopend met dié in aanklag 4 opgelê uitgedien word, en die vonnisse op aanklagte 6 tot 15 samelopend met die vonnis op aanklag 5 opgelê.

[4] Reeds tydens die aansoek om verlof om na hierdie Hof te appelleer en

weer by die verhoor van hierdie appèl is namens die appellante toegegee dat die feite en geloofwaardigheidsbevindinge waarop die uitspraak en vonnis van die hof a quo berus, korrek is. Die appèl gaan dus om ’n paar beperkte regskwessies met betrekking tot sommige van die skuldigbevindings en’n aspek van die vonnisoplegging. Die appèl is voor ons met verlof van die hof a quo.

Klag 4 : roof van die Ruger geweer

[5] Die eerste geskilpunt handel rondom die skuldigbevinding aan klag 4,

d w s die roof (waarby verswarende omstandighede aanwesig was) van ’n mini 556 Ruger geweer uit die besit van persone genaamd Mqike en Duiker, of uit die besit van Duiker. Die bewese feite is die volgende :

(a) Die appellante het vooraf beplan en saamgesweer om op 12 Julie 1996

n rooftog uit te voer op die persele van die President Steyn goudmyn te Welkom. Die plan was om die voertuig wat die salarisse van die werknemers by die onderskeie skagte aflewer, by skag 5 aan te val en van die geld daarin te beroof. Die geld is op dié dag vervoer deur ’n Mazda kombi. Die kombi was vergesel van ’n veiligheidsvoertuig, ’n Toyota Hi-Lux bakkie, van die mynmaatskappy, met twee sekuriteitsbeamptes daarin -- op die betrokke dag mnr Mqike, die bestuurder, en mnr Duiker in die passasiersitplek. Mqike was bewapen met ’n handwapen en Duiker met die genoemde Ruger geweer.

(b) Aangekom by die betrokke skag, het die kombi by die betaalsaal

ingery en die ingangsdeur was toegemaak. Mqike en Duiker het buite die gebou in die bakkie gesit om wag te hou.

(c) Terwyl hulle gewag het, het een van die appellante, met ’n kombers

om sy lyf, skielik by die oop venster aan die bestuurder se kant van die bakkie verskyn. Hy het ’n AK 47 masjiengeweer teen Mqike vasgedruk. Op hierdie oomblik het die kombi weer uit die betaalsaal uitgery gekom. Die rower het ’n skoot of skote op die insittendes van die veiligheidsvoertuig afgevuur, en Mqike, noodlottig gewond, het agter die stuurwiel inmekaar gesak. Duiker is ook, waar hy gesit het, in die regterarm getref.

(d) Duiker het op hierdie stadium uit die bakkie geklim. Die rower het

om die bakkie na sy kant gekom. Duiker het gesien dat hy met ’n AK 47-geweer bewapen was. Die rower het die Ruger geweer, wat Duiker in die bakkie gelaat het, geneem.

(e) Een van die ander rowers, wat ook ’n kombers om sy lyf gehad het,

was ook op die toneel en het skuins agter die bakkie stelling ingeneem tydens die voormelde gebeure. Hy was ook met ’n geweer bewapen.

(f) Die persoon wat op Mqike en Duiker gevuur het, het hierna skote op

die kombi gevuur. Die veiligheidswagte in die kombi het gesien dat dié persoon met ’n AK 47-geweer op hulle skiet. Die kombi is tweemaal getref. Die insittendes het die vuur beantwoord, waarop die twee rowers by die veiligheidsvoertuig op die vlug geslaan het.

(g) Al die rowers het gepoog om met die Toyota bakkie, wat ’n paar dae

vantevore gesteel is, te ontvlug. Potgieter, ’n werknemer van die myn het gesien hoe, onder andere, ’n persoon met ’n AK 47 geweer op die bakkie klim. Potgieter het die bakkie met sy motor agtervolg en die polisie se hulp is ingeroep. Die rowers op die bakkie het op hom gevuur. Kaptein Earle en sersant de Beer van die SAPD het opgedaag en aan die agtervolging deelgeneem.

(h) ’n Ent verder het die bakkie die pad verlaat en die rowers het die veld

ingevlug, agtervolg deur Earle en De Beer. Drie van die appellante, nommers 2, 5 en 6 is daar gearresteer. Appellant 1 is in ’n aangrensende woongebied gearresteer en appellante 3 en 4 op ’n pad daar naby. Appellant 6 is in die proses verwond. Terwyl die agtervolging aan die gang was, het een van die rowers op Earle en de Beer gevuur. Die vuur is beantwoord en die betrokke rower is ook verwond.

(i) Die Ruger geweer wat van Duiker geroof is, is onmiddelik na die

agtervolging van die rowers deur die polisie in die veld gevind waar drie van hulle ge-arresteer is. So ook ’n AK 47 geweer. ’n Hele aantal ander wapens en ammunisie wat in die rooftog gebruik is of sou word, is in die besit van die appellante gevind.

(j) Die verhoorhof het bevind dat die persoon wat Mqike gedood,

Duiker verwond en die Ruger geneem het, een van die voortvlugtende rowers op die bakkie en dus een van die appellante was.

(k) Uit die uitspraak is nie duidelik of die hof die rower wat die Ruger

geneem het, geïdentifiseer het nie. Vir die doeleindes hiervan sal aanvaar word dat die betrokke persoon nie geïdentifiseer is nie, maar dat hy, bo redelike twyfel, een van die rowers was; dat hy op die kombi gevuur het en in die bakkie saam met die ander gevlug het, vanwaar skote op Potgieter gevuur is.

[6] Namens die appellante is eerstens ten aansien van klag 4 (roof van die

Ruger geweer) aangevoer dat hoewel hulle ’n gemeenskaplike doel voor oë gehad het, nl om die geld te gaan roof, hulle nie om daardie rede op sigself aan die roof van die Ruger skuldig bevind kon word nie. So ’n skuldigbevinding kan slegs geregverdig word, so is namens die appellante aangevoer, indien hulle geweet het dat die vuurwapen in die loop van die rooftog geneem sou word, of die moontlikheid dat dit sou geneem word voorsien het en hulle daarmee versoen het (sien S v Madlala 1969 (2) SA 637 (A) op 640 F - H, veral par (c); S v Majosi and Others 1991 (2) SASV 532 (A) op 536 i - 538 a). Die appellante se standpunt is dat geeneen van hierdie vereistes bo redelike twyfel bewys is nie.

[7] Uit die getuienis is duidelik dat die appellante wapens saamgeneem het

om die rooftog uit te voer. Hulle het geweet van die kombi wat die geld vervoer het en dat dit hul teiken was. Hulle het geweet die sekuriteitsvoertuig sou op die toneel wees. Twee van hulle het reguit na die voertuig gegaan. Die rede waarom hul na die voertuig gegaan het, was klaarblyklik om die insittendes daarvan as ’n hindernis in die uitvoering van die rooftog uit te skakel en om hulle te ontwapen. Dit sou hulle alleen kon doen as hulle die insittendes van die voertuig fisies kon oorweldig en die wapens neem. Dit is wat hulle gedoen het. Mqike is gedood en Duiker swaar verwond. Die gevolglike moeitelose wegneem van die Ruger uit Duiker se besit was noodwendig deel van die rowers se beplanning. Onder sulke omstandighede is dit myns insiens vergesog dat die rowers nie die moontlikheid, dat ’n wapen in besit van Mqike en/of Duiker hul geweldadig ontneem sou word, voorsien het en hul daarmee versoen het nie. Die skuldigbevinding op aanklag 4 is derhalwe geregverdig.

Aanklagte 12 en13

[8] Voorspruitende uit die roof van die Ruger en die patrone daarvan, is

twee verdere aanklagte teen die appellante aanhangig gemaak, te wete aanklag 12, die onwettige besit van die Ruger geweer en aanklag 13, die onwettige besit van die Ruger se ammunisie. Die appellante is op die basis van die leerstuk van gemeenskaplike bedoeling aan albei hierdie aanklagte skuldig bevind. Daar is egter voor ons aangevoer dat dié skuldigbevinding regtens nie houdbaar is nie. Die argument wat namens die appellante aangevoer is dat nieteenstaande die bevinding van roof gebaseer op gemeenskaplike bedoeling, daar nog iets meer vir ’n skuldigbevinding aan onwettige besit van die geweer en ammunisie vereis word, te wete die psigiese element, die bedoeling om te besit. Hierdie element, so is aangevoer, ontbreek ten aansien van die aanklagte tans onder bespreking. Die psigiese element van besit, so is aangevoer, kan nie toegedig word nie.

[9] Namens appellant is ’n beroep gedoen op die uitsprake in S v Fibi and

Others 1990 (2) PH, H 379 (OK) en S v Nkosi 1998 (1) SASV 284 (W).

In daardie aangeleenthede het dit gegaan oor die vraag of besit toegedig kan word aan daardie lede van ’n groep wat nie bewapen is nie, terwyl, volgens hul wete en kennis, ander lede wel bewapen is en die groep ’n gemeenskaplike oogmerk gehad om ’n roof uit te voer en dit inderdaad gedoen het. In die bogemelde uitsprake is dié vraag ontkennend beantwoord. In S v Nkosi, supra, op 289 c - d is met goedkeuring verwys na ’n passasie uit ’n ongerapporteerde Transvaalse beslissing, Jan Bosch and Others v S, waarin gesê is :

Dit is so dat die beskuldigdes ’n gesamentlike oogmerk gehad het om te roof, en ek sal aanvaar ook om die roof met vuurwapens uit te voer. Dit volg egter nie daaruit dat hulle ’n gesamentlike oogmerk gehad het om die vuurwapens wat gebruik is te besit nie. Uit die feit dat een rower ’n vuurwapen hanteer, met die wete en goedkeuring van die ander rowers, volg dit nie dat die ander rowers enige beheer oor die vuurwapen kan uitoefen of enige bedoeling het om beheer oor die vuurwapen uit te oefen nie.’


[10] Ek kan in beginsel nie sien waarom, in gepaste situasies en indien

die leerstuk van gemeenskaplike oogmerk toegepas word, die gemeenskaplike animus om die vuurwapens gesamentlik te besit, nie afgelei kan word nie. Indien dit die bedoeling van die lede van die groep is om die vuurwapens ter uitvoering van ’n roof of moord te gebruik tot hul almal se voordeel, vereenselwig hulle hul immers met die besit van die vuurwapens. [11] Die feite in die geval tans ter sprake verskil van dié in bogemelde sake.

Hier was dit die oogmerk van die groep dat die insittendes van die bakkie ontwapen sou word ter beskerming van hulle bende. Besit van die vuurwapens moes dus deur een of meer lede van die bende geneem word en ten behoewe en tot voordeel van die groep gehou word. Die Ruger en die ammunisie daarvoor is met hierdie gemeenskaplike doel geroof en na die bakkie, waarop al die rowers was, geneem. Daar het dit onder hul almal se beheer gebly todat dit later in die veld weggegooi is. Die afleiding van ’n bedoeling om die geweer en ammunisie gesamentlik te beheer en te besit, skyn my onvermydelik te wees.

[12] In S v Nkosi, supra, op 286 en 287 is verwys na ’n ongerapporteerde

beslissing van Swart R (waarmee Roos R saamgestem het) in Molemane and Others v S (TPD saak A 965/95 uitspraak gelewer 6 Mei 1996). Ek het ’n afskrif daarvan bekom. Die feite was die volgende :

Vyf mans het ’n rooftog op ’n hardeware winkel in Benoni uitgevoer. In die proses het hulle die eienaar van geld, ’n aktetas en ’n bakkie beroof. ’n Kliënt in die winkel is ook van haar beursie en dokumente beroof. Die rowers was met handwapens en ’n mes bewapen en dit is ten uitvoering van die roof gebruik. Daarna slaan hulle op vlug, maar word deur polisiebeamptes gevang. ’n Pistool en 12 rondtes ammunisie is by een van die voortvlugtende rowers, beskuldigde 2, gevind; ’n speelgoedpistool wat na alle waarskynlikheid in die roof gebruik is, is naby die bakkie gevind.

Swart R het die landdros se skuldigbevinding van die beskuldigdes aan die onwettige besit van wapens en ammunisie gehandhaaf. In die loop van die uitspraak verklaar hy soos volg:

Die landdros het bevind dat daar ten aansien van die besit van die 9 mm-pistool, ammunisie en speelgoedpistool ’n gemeenskaplike oogmerk was. Ek dink die bevinding is korrek. By wyse van noodwendige afleiding was almal bewus dat die beplanning van die roof en die ontvlugting die bekom van wapens of ander afskrikmiddele sou insluit. Dit blyk onder andere uit die gebruik van die wapens op die toneel en op die bakkie waar almal teenwoordig was, sonder oënskynlike distansiëring. Die afleiding is verder onvermydelik dat hulle ’n gemeenskaplike oogmerk gehad het om die wapens of ander afskrikmiddels vir die beplande doeleindes te besit en te gebruik. Dit is ook nie waarskylik dat die beplanners nie bewus sou gewees het dat die 9mm-pistool gelaai was nie. Die wapens mag fisies besit gewees het deur nr 2 of wie ook al, maar die afleiding is onvermydelik dat dit die gevolg van gesamentlike beplanning en vir doeleindes van die uitvoering van die gesamentlike oogmerk was. Die pistool, ammunisie en speelgoedpistool was dus in almal se beheer gewees.’


[13] Ek meen dat hierdie benadering op die feite in Molemane korrek was

en dat dieselfde afleiding met betrekking to aanklagte 12 en 13 in die onderhawige geval gemaak moet word. Die appèl teen die skuldigbevindinge op hierdie aanklagte kan derhalwe nie slaag nie.

Aanklagte 10 en 11

[14] Die laaste appèl teen ’n skuldigbevinding raak aanklagte 10 en 11.

Dit lê al die appellante ten laste dat hulle gepoog het om kaptein Earle en sersant de Beer, beide van die SAPD, te vermoor. Die feite is die volgende:

(a) Soos genoem, het die appellante op en in die gesteelde bakkie geklim

en weggejaag nadat daar oor en weer op en vanaf die kombi gevuur is. Hulle is deur Pogieter agtervolg; alarm is gemaak en die polisie is na die toneel uitgeroep.

(b) Earle en De Beer het in hul voertuig na die toneel gehaas en na die

Klippanpad gery om die voortvlugtigdes voor te keer. Die appellante het die polisievoertuig gewaar, hul bakkie van die pad afgetrek en te voet die veld ingevlug.

(c) Earle en De Beer het die voorvlugtendes te voet agtervolg. Appellant

6 het in die veld probeer wegkruip, waar Earle hom gewaar het en hom gewaarsku het om stil te staan. Hy het egter probeer wegkom, waarna hy verwond en gearresteer is.

(d) Die ander appellante het verder weggehardloop en in die proses het een

van hulle, appellant 4, op Earle en De Beer gevuur. Dié vuur is beantwoord en appellant 4 is getref. Hy het geval, weer opgespring en het verder gehardloop. Al dié appellante is later gearresteer. Verskeie vuurwapens wat in hul besit was, is gevind. Appellant 4 het erken dat hy die dag bewapen was met ’n Z 88 pistool - sy dienspistool. Appellante 1,2,3 en 4 was tydens dié gebeure lede van die SA Polisiediens en gestasioneer te Thokoza. Vuurwapens was aan hulle in die loop van hul diens uitgereik en is in die rooftog gebruik.

[15] Die hof a quo het al die appellante aan aanklagte 10 en 11 skuldig

bevind en die volgende bevind :

Klagtes 10 en 11 het as onderwerp die afvuur van skote deur een of meer van die voorvlugtendes, dus een of meer van beskuldigdes 1, 2, 3, 4, 6 of 7 op Earle en De Beer. Daardie skote is afgevuur deur die voorvlugtendes of een van hulle om die agtervolgers op ’n afstand te hou en arrestasie te voorkom. Dit is ’n onvermydelike afleiding dat die rowers voorsien het as feit dat tydens enige agtervolging die vuurwapens aangewend sou kon word om arrestasie te voorkom en dat by die aanwending van die vuurwapens desnoods daar noodlottige gevolge gaan wees. Hulle het hulle egter met daardie optrede en die gevolge wat daaruit mag voortspruit versoen. Dit volg dus dat beskuldigdes 1, 2, 3, 4, 6 en 7 ook skuldig is aan die misdade in klagtes 10 en 11 hulle ten laste gelê.’


[16] Namens die appellante (met uitsluiting van nr 4) is dié bevinding

aangeveg. Die argument is dat daar geen getuienis is dat die ander appellante voorsien het dat appellant 4 op hierdie stadium, tydens die vlugtog, op die agtervolgers sou vuur nie; dit was ook nie voorsienbaar nie. Daar is ook geen getuienis dat hulle hul met dié optrede van appellant 4 versoen het nie.

[17] Namens die appellante is op S v Talane 1986 (3) SA 196 (A) gesteun. Drie manspersone het ’n rooftog op ’n winkel uitgevoer. In die winkel was die eienaar en ’n vriend. Hulle is vasgebind nadat hulle met vuurwapens bedreig is. Die rooftog is voltooi. Die drie rowers het die winkel verlaat. Die winkeleienaar en sy vriend het hulself bevry en vanuit die winkel gesien hoe die drie rowers met eersgenoemde se paneelwa probeer wegkom. Die winkeleienaar het op die rowers geskiet en die rowers het te voet op die vlug geslaan - een in ’n suidelike rigting en die ander twee, insluitende die appellant, in ’n noordelike rigting. Daarna het die een wat in ’n suidelike rigting gevlug het, omgedraai en sy makkers agternagesit. Die winkeleienaar het uit die winkel gegaan en skote op hom gevuur. Sy vriend het hom teruggeroep, waarna hy, die winkeleienaar, omgedraai het. Die rower wat hy agtervolg het, het hom toe noodlottig in die rug verwond. Dit het geblyk dat die oorledene se vuurwapen leeggeskiet was.

Die appellant was een van die twee rowers wat voortvlugtig en ver van die toneel was toe hul makker die winkeleienaar gedood het. Hy is op die basis van gemeenskaplike opset aan die moord op die winkeleienaar skuldig bevind is, maar het aangevoer dat die skuldigbevinding nie houdbaar is nie. Hierdie Hof, by monde van Boshoff AR, het hom gelyk gegee (op 207 I

e v ) :

Die oorledene was nie van plan om enige van die rowers te arresteer nie maar hy het klaarblyklik probeer om van hulle te skiet en

sodoende te verhinder dat hulle wegkom. Die feite van die saak toon egter dat die oorledene sy pistool reeds leeggeskiet gehad het en dat hy nie meer van plan was om enige van die rowers te verhinder om weg te kom nie. Maia het hom ook teruggeroep en hy het gehoor daaraan gegee. Dit sou onregverdig wees om op die getuienis bo redelike twyfel te bevind dat die rowers voorsien het en beoog het dat die oorledene ook nog in so ’n geval geskiet en buite aksie gestel moet word. Die skote wat beskuldigde 1 toe op die oorledene afgevuur het toe sy mededaders in alle waarskylikheid alreeds ver en buite gevaar was en hyself ook buite gevaar was van agtervolging deur die oorledene, kan nie bo redelike twyfel bevind word te geval het binne die grense van wat die appellant voorsien het en hom mee versoen het nie. Die Verhoorhof het gevolglik gefouteer om appellant aan die moord op die oorledene skuldig te bevind.’


[18] Die feite in die geval voor ons verskil egter weenlik van dié in S v


Talane. In die huidige geval was die rowers op vlug en het die polisiebeamptes hul aktief agtervolg. In die proses en klaarblyklik met die doel om die agtervolging stop te sit, hetsy deur afskrikking, hetsy deur die verwonding of dood van een of meer van die agtervolgers, is daar op die polisiebeamptes gevuur. Ek meen dat die omstandighede dat die vyfde appellant op daardie stadium onder die water in die veld lê en wegkruip het, dat die sesde appellant reeds deur Earle gearresteer was en dat eerste, tweede en derde appellante besig was om in die veld weg te vlug, geeneen van hulle verskoon nie. Hulle het die rooftog fyn beplan en was tot die tande toe gewapen. Hulle het òf self deelgeneem aan die moord op Mqike en die verwonding van Duiker, òf het die gemeenskaplike opset gehad om aldus deel te neem en het hulle daarmee versoen. Op dieselfde basis is daar op die kombi en op Potgieter toe hy hulle agtervolg het, gevuur. Al die beskuldigdes was teenwoordig toe een of meer van hulle op Potgieter gevuur het en het hulle daarmee versoen. Daar is geen bewys of tekens van distansieëring deur enigeen van hulle nie. Die vuur van die skote op Earle en De Beer val myns insiens in dieselfde kader as die skietery op Potgieter en was deur al die appellante voorsien as ’n uitvoeringshandeling as deel van die rooftog en noodwendige ontsnapping. As Earle en De Beer verwond of gedood sou word, sou sesde appellant uit aanhouding kon ontsnap en die ander appellante wegkom.

[19] ’n Vergelykbare feitestel is die in S v Malinga and Others 1963 (1) SA

692 (A). Na ’n rooftog vlug ses rowers in ’n motorvoertuig. Een van hulle was, tot die kennis van die ander, bewapen met ’n gelaaide rewolwer. Hulle is agternagesit deur ’n polisievoertuig, wat besig was om langs hulle in te trek; die bewapende rower vuur op die polisievoertuig en verwond ’n polisiebeampte daarin noodlottig. Hul skuldigbevinding aan moord is deur hierdie Hof bekragtig. Op 695 A - C verklaar Holmes AR :

In the present case all the accused knew that they were going on a housebreaking expedition in the car, and that one of them was armed with a revolver which had been obtained and loaded for the occasion. It is clear that their common purpose embraced not only housebreaking with intent to steal and theft, but also what may be termed the getaway. And they must have foreseen, and therefore by inference did foresee, the possibility that the loaded fire-arm would be used against the contingency of resistance, pursuit or attempted capture. Hence, as far as individual mens rea is concerned, the shot fired by accused No 4 was, in effect, also the shot of each of the appellants. On the question of intention to kill, they must have foreseen, and therefore by inference did foresee, the possibility that the use of the loaded fire-arm would have fatal consequences. Violence, fire-arms, and death are ever an easy and sombre trinity, as I observed in S v Masheane and Others (AD, 16 November, 1959). And the appellants were clearly reckless whether death would in fact ensue or not. Hence the intention to kill must be imputed to each one of them. In the result all were rightly found guilty of the crime of murder.’


[20] Die skuldigbevinding van al die appellante aan aanklagte 10 en 11

(poging tot moord op Earle en De Beer) moet myns insiens gehandhaaf word.

[21] Die reslutaat van die voorgaande is dat al die skuldigbevindings van

al die appellante deur die hof a quo gehandhaaf word en hul appèl daarteen van die hand gewys word.

Die vonnisse

[22] Oorblywend is dan die appèlle teen die vonnisse opgelê deur die hof

a quo. Daar is tereg nie deur die advokaat vir die appellante, wat sy bes vir hulle gedoen het, op enige wanvoorligting deur die verhoorhof staatgemaak nie. Behoudens dit wat hieronder gesê word met betrekking tot die vyfde appellant, is die opgelegde vonnisse ook nie onvanpas nie. Die erns van die appellante se optrede spreek vanself.

[23] Wat die vyfde appellant betref, is die posisie dat slegs hy aan aanklag

2, die gewapende roof van die Toyota-bakkie waarmee die appellante na die toneel gery het en vandaar probeer ontvlug het, skuldig bevind is.

[24] Hy het nie die appèl teen hierdie skuldigbevinding deurgevoer nie;

tereg so. Die feite is dat hy, drie dae voor die rooftog, en naby Mapleton, by Boksburg, die bakkie van Lifo Mtswenyane, terwyl dit in besit was van sy seun, Gwyneth, geroof het. Laasgenoemde het saam met sy broer, Patrick, in die bakkie sit en wag vir ’n bus. Twee persone het hom genader; een het deur die oop venter ’n vuurwapen op hom gerig en hom gelas om uit te klim. Patrick is aan die passasierskant uitgetrek, waar Gwyneth ook uitgeklim het. Die rowers, een waarvan appellant 5 was, het met die bakkie weggery. Dit is hierdie bakkie wat deur die appellante drie dae later in die rooftog gebruik is. Appellant 5 alleen is aan hierdie aanklag (roof met verswarende omstandighede) skuldig bevind.

By die oplegging van die straf van 15 jaar gevangenisstraf het die hof a quo in ag geneem dat appellant 5 ’n eerste oortreder was, nog nie 24 jaar oud toe die misdaad begaan is nie, standerd 9 op skool geslaag het en die vader van ’n 3-jarige seun was. Hy het as smous gewerk.

[24] In gevalle van ’n gewapende roof van ’n motorvoertuig, met die voor die hand liggende gevaar van ontvoering, ernstige aanranding en moord op die bestuurder en insittendes, kan die howe nie anders as om swaar strawwe op te lê nie. Die pleeg van hierdie misdaad het so alledaags geword, veral in en om ons groot stede, dat onskuldige mans en vrouens met beklemming op die pad gaan en die ergste vrees. Die brutale optrede van rowers doen ons land enorme skade aan en gooi ’n donker skaduwee oor die vertroue van ons gemeenskap in polisiëring, vervolging en regspleging. ’n Aanduiding van die erns waarmee die wetgewer hierdie soort misdaad bejeën, blyk daaruit dat ’n minimum vonnis van 15 jaar gevangenistraf vir roof met verswarende omstandighede en roof van ’n motorvoertuig voorgeskryf is in artikel 51 (1), saamgelees met Deel II van Bylaag 2 van Wet 105 van 1997, die Strafregwysigingswet, selfs vir ’n eerster oortreder. Hierdie wetsbepaling is nie op die onderhawige geval van toepassing nie, maar gee nogtans ’n aanduiding van die erns van die situasie.

Met inagneming van al die relevante feite, kom ’n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf in hierdie geval my nie as onredelik voor nie.

[25] Daar is egter ’n ander probleem met die vonnisoplegging in appellant

5 se geval. Soos reeds genoem, is slegs hy aan aanklag 2 (roof van die bakkie) skuldig bevind en daarvoor 15 jaar gevangeinsstraf opgelê. Net soos al die ander appellante, is hy aan aanklagte 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12 en 13 skuldig bevind, maar ook nog aan klagtes 14 en 15, d w s die onwettige besit van ’n AK 47 masjiengeweer en die ammunisie daarvoor, wat in die rooftog gebruik is en in sy besit gevind is. Op klag 14 is hy tot 5 jaar en op klag 15 tot 2 jaar gevangenisstraf gevonnis.

[26] Die probleem is dat appellant 5 op aanklag 3 tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis is, die ander tot 10 jaar; en op klag 4 is hy tot 20 jaar, die ander tot 15 jaar gevonnis. Daar is geen rede vir hierdie verskille nie en dit moet reggestel word. Die vonnis in sy geval op klag 3 word verminder na 10 jaar en op klag 4 tot 15 jaar gevangenisstraf.

[27] As gevolg van die samelopingsbevel wat die hof a quo gemaak het, moet die ander appellante ’n effektiewe straf van 35 jaar gevangenisstraf uitdien. Appellant 5 is aan drie meer misdrywe skuldig bevind, nl die gewapende roof van ’n motorvoertuig, die onwettige besit van ’n AK 47 masjiengeweer en die onwettige besit van die ammunisie daarvoor. Na my mening moet hy langer straf as die ander appellante uitdien. Indien die patroon van samelopendheid, deur die hof a quo opgelê, gevolg word, moet in geval van appellant 5 as volg gelas word : Die vonnisse op klagte 2, 3 en 4 moet eers samelopend uitgedien word ( d w s 15 jaar). Daarna moet die vonnisse op klagte 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13 en 14 samelopend uitgedien word (d w s 20 jaar). Daarna moet die vonnisse op klage 14 en 15 samelopend uitgedien word ( d w s 5 jaar). Die effektiewe vonnis is dus 40 jaar gevangenisstraf.

[28] Appellante 1, 2, 3, 4, en 6 is, net soos appellant 5, aan aanklag 8

(poging tot moord op Joseph Phalole, ’n insittende in die kombi) skuldig bevind en op daardie klag tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Dié vonnisoplegging word nie in die appèlrekord gereflekteer nie, maar is in die samelopingsbevel tog aldus in ag geneem. Ten einde enige verwarring of onsekerheid uit te skakel sal bevestig word dat gemelde appellante aldus gevonnis is.

[26] Die volgende bevele word gemaak :

  1. Die appèl van al die appellante teen hul onderskeie skuldigbevindings

word van die hand gewys.

  1. Die appèl teen al die vonnisse opgelê aan appellante 1, 2, 3, 4 en 6

word van die hand gewys.

  1. Die appèl van appellant 5 teen die vonnisse hom opgelê op aanklagte

2, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12 en 13 word van die hand gewys.

  1. Die vonnis aan appellant 5 op klagte 3 opgelê word van 20 jaar na 10

jaar verminder, en die vonnis op klagte 4 van 20 jaar na 15 jaar.

  1. Dit word gelas dat in geval van appellant 5 die vonnisse soos volg


uitgedien word : Die vonnisse op klagte 2, 3 en 4 moet eers samelopend uitgedien word ( d w s 15 jaar). Daarna moet die vonnisse op klagte 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13 en 14 samelopend uitgedien word (d w s 20 jaar). Daarna moet die vonnisse op klage 14 en 15 samelopend uitgedien word ( d w s 5 jaar). Die effektiewe vonnis is dus 40 jaar gevangenisstraf.

  1. In geval van appellante 1, 2, 3, 4 en 6 word bevestig dat hulle elkeen

aan aanklag 8 skuldig bevind is, elkeen daarvoor gevonnis is tot agt jaar gevangenisstraf, welke straf samelopend met die vonnisse opgelê op klagte 6, 7, 9, 10, 11, 12 en 13 uitgedien word. Die effektiewe vonnis in geval van hierdie appellante is 35 jaar.

P J J OLIVIER AR

SAMESTEMMEND


ZULMAN AR

MTHIYANE Wnd AR


▲ To the top