Barnard NO v Regspersoon Van Aminie Pro Admin Eiendomsbestuur en 'n Ander (417/1999) [2001] ZASCA 47 (27 Maart 2001)




Saak no: 417/99



IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPéL

IN SUID-AFRIKA

RAPPORTEERBAAR


In die saak van:



C H J BARNARD N.O. Appellant



en



DIE REGSPERSOON VAN AMINIE Eerste Respondent

PRO ADMIN EIENDOMSBESTUUR

(EDMS) BPK Tweede Respondent




CORAM: Marais AR, Brand en Mthiyane Wnd ARR



Verhoor datum: 5 Maart 2001


Datum gelewer: 27 Maart 2001


Wet op Deeltitels 95 van 1986 (“die Wet”). Sluit “alle gelde” soos bedoel in art 15 B (3)(a)(i)(aa) van die Wet regskoste in? Is bydraes betaalbaar in terme van die Wet “belasting” soos bedoel in art 89 (1) en (4) van die Insolvensiewet, 24 van 1936?




U I T S P R A A K




BRAND WND AR

[1] Appellant is die kurator in die insolvente boedel van die egpaar Smit (“die insolvent”). Ten tyde van sekwestrasie was die insolvent die geregistreerde eienaar van ’n eenheid wat deel vorm van ’n deeltitelskema bekend as Aminie in Pretoria. Eerste respondent is die regspersoon van Aminie soos bedoel in art 36 van die Wet op Deeltitels 95 van 1986 (“die Wet”). Tweede respondent tree op as bestuursagent van eerste respondent.

Die feite wat tot die geskilpunte tussen die partye aanleiding gegee het, kan heel kort saamgevat word.

[2] Uit hoofde van sy amp as kurator het appellant die insolvent se eenheid in Aminie op ’n openbare veiling verkoop. Daar was ’n verband op die eiendom. Die verhandhouer was nie tevrede met die hoogste bod op die veiling nie en het self die eenheid ingekoop.

[3] Bygevolg wou appellant die eenheid aan die koper laat oordra. Ingevolge 15 B (3) (a) (i) (aa) van die Wet (“die wetsbepaling) kan die oordrag van ’n deeltiteleenheid slegs geskied indien die regspersoon van die deeltitelskema sertifiseer dat “alle gelde wat aan die regspersoon deur die transportgewer verskuldig is ten opsigte van die eenheid, betaal is of dat voorsiening vir die betaling daarvan tot bevrediging van die regspersoon gemaak is”. Die aangehaalde deel van die wetsbepaling word onderstreep omdat, soos aanstons sal blyk, dit belangrik is vir wat volg. Ten einde oordrag aan die koper te bewerkstellig het appellant dus ’n sertifikaat soos bedoel in die wetsbepaling (’n “uitklaringsertifikaat”), by respondente aangevra. Respondente se antwoord was dat die uitklaringsertifikaat verskaf sou word teen betaling van ’n bedrag van R19 183,17. Blykens respondente se aangehegte staat sluit hierdie bedrag die volgende in:

(a) bydraes - soos in art 37 van die Wet bedoel - wat deur die insolvent verskuldig is en waarvan sommige reeds meer as twee jaar agterstallig was op datum van die insolvent se sekwestrasie.

(b) regskoste wat deur eerste respondent aangegaan is ter invordering van die agterstallige bydraes

(c) rente op al hierdie bedrae.

[4] Die eerste geskilpunt tussen die partye spruit voort uit appellant se standpunt dat die “gelde” waarna in die wetsbepaling verwys word slegs slaan op agterstallige bydraes - tesame met rente daarop - en nie op enige ander verpligtings wat die transportgewer teenoor die regspersoon het nie. Ooreenkomstig hierdie standpunt was respondente dus nie geregtig om die betaling van regskostes as voorwaarde vir uitreiking van die uitklaringsertifikaat te stel nie.

[5] Die tweede geskilpunt tussen die partye het betrekking op bydraes wat op datum van die insolvent se sekwestrasie reeds meer as twee jaar uitstaande was. Volgens appellant mag die betaling van sodanige bydraes ook nie as voorwaarde vir die uitreiking van die uitklaringsertifikaat gestel word nie. As basis vir hierdie standpunt steun appellant op die bepalings van art 89 van die Insolvensiewet 24 van 1936 (“die Insolvensiewet”) waarna binnekort meer volledig verwys sal word.

[6] Ten aansien van beide geskilpunte is respondente se teenoorstaande standpunt dat by ’n behoorlike uitleg van die wetsbepaling, saamgelees met art 89 van die Insolvensiewet, hulle geregtig was om die uitklaringsertifikaat te weerhou totdat betaling geskied het van alle bydraes wat deur die insolvent verskuldig is, insluitende dié wat by sekwestrasie reeds meer as twee jaar uitstaande was, sowel as van die regskoste wat aangegaan is om agterstallige bydraes te verhaal.

[7] In ’n aansoek na die Transvaalse Provinsiale Afdeling het appellant gevra vir ’n verklarende bevel wat in wese sy uitleg van die wetsbepaling en art 89 van die Insolvensiewet onderskryf. Daarop het respondente ’n teenaansoek gebring vir ’n bevel wat verklaar dat hulle uitleg van die twee wetsartikels die juiste is. Die hof a quo (De Villiers R) het respondent gelyk gegee, met die gevolg dat die appellant se aansoek van die hand gewys is terwyl die respondente se teenaansoek geslaag het. Teen dié beslissing kom appellant nou, met verlof van die van die hof a quo in hoër beroep na hierdie Hof. Die uitspraak van die hof a quo, is intussen gerapporteer onder die verwysing Barnard NO v Regspersoon van Aminie en ’n Ander 2000 (1) 213 (T).

[8] Ek handel vervolgens eers met die geskilpunt rakende regskoste wat, soos aangedui, wentel om ’n behoorlike uitleg van die wetsbepaling.

[9] In Nel NO v Body Corporate of the Seaways Building and Another 1996 (1) SA 131 (A) (die “Nel-saak”) het hierdie Hof geleentheid gehad om te beslis oor die uitwerking van die wetsbepaling in die geval waar die eienaar van ’n deeltiteleenheid gesekwestreer (of gelikwideer) word. Volgens hierdie beslissing kan die regspersoon, ingevolge die wetsbepaling, in geval van die eienaar se sekwestrasie daarop aandring dat bydraes wat deur die insolvent verskuldig is ten volle betaal word alvorens hy ’n uitklaringsertifikaat uitreik. Hiervolgens verleen die wetsbepaling dan, wat agterstallige bydraes betref, in effek, aan die regspersoon ’n voorkeureis wat voorrang geniet selfs teenoor ’n versekerde skuldeiser wat ’n verband oor die eenheid hou.

[10] In die Nel-saak het dit slegs gegaan oor uitstaande bydraes. Die vraag in hierdie saak is of die regspersoon se effektiewe voorkeur beperk is tot agterstallige bydraes, soos wat appellant beweer. Hierdie vraag draai om die uitleg wat aan die sinsnede “alle gelde wat aan die regspersoon deur die transportgewer verskuldig is ten opsigte van die bedoelde eenheid” soos vervat in die wetsbepaling, gegee word.

[11] Deur die woorde “alle gelde” gooi die wetgewer duidelik die net so wyd as moontlik. Die beperking kom in die sinsnede “ten opsigte van die bedoelde eenheid”. In die uitspraak van die hof a quo (219 E-H) word daarop gewys dat, volgens vorige beslissings van hierdie Hof, die uitdrukking “ten opsigte van” (“in respect of”) een van onpresiese betekenis is wat, afhangende van die samehand waarin dit gebruik word, ’n enger of ’n wyer strekking kan hê. Volgens sy enger betekenis dui die uitdrukking op ’n onmiddellike of direkte verhouding terwyl dit, volgens sy wyer betekenis, min of meer sinoniem is met “betreffende”. Die slotsom waartoe die hof a quo na sorgvuldige oorweging gekom het, was dat daar in die samehang van die wetsbepaling, eerder ’n wyer as ’n enger betekenis aan die uitdrukking “ten opsigte van” toegeken moet word (sien 220 H van die verslag).

[12] In hierdie Hof is die korrektheid van die voorgenoemde slotsom waartoe die hof a quo gekom het nie werklik deur appellant bevraagteken nie. Ek is ook van oordeel dat dit in beginsel suiwer is. Die betoog namens appellant was egter dat, watter wye betekenis ookal aan die uitdrukking “ten opsigte van” gegee word, die wetsbepaling steeds ’n direkte verbintenis vereis tussen die transportgewer se eienaarskap van die betrokke eenheid aan die eenkant, en aan die aanderkant, dit wat hy aan die regspersoon verskuldig is. Anders gestel, dat die wetsbepaling slegs betrekking het op dit wat die transportgewer in sy hoedanigheid as eienaar van die eenheid wat oorgedra staan te word, verskuldig is.

[13] Na my mening moet appellant se advokaat gelyk gegee word in hierdie vertrekpunt. Hy het dit ook gelyk in sy betoog dat uit sommige van die voorbeelde wat in die uitspraak van die hof a quo gegee word dit, met respek, blyk dat hierdie verbintenis tussen die betrokke skuld en die betrokke eenheid soms uit die oog verloor is. So word as voorbeeld verwys na die geval waar die eienaar van ’n eenheid ’n gedeelte van die gemeenskaplike eiendom by die regspersoon huur. Desbetreffende laat De Villiers R hom soos volg uit (te 221 H-I):

Sou gelde wat aldus deur sodanige eienaar aan die regspersoon verskuldig word, ook gelde wees wat ten opsigte van die eenheid verskuldig is, soos bedoel in die bepaling wat in geskil is? Myns insiens, sou dit die geval wees.”


[14] Ek is dit met appellant se advokaat eens dat die hof a quo in die gegewe voorbeeld die toepassingsveld van die wetsbepaling te wyd stel. Die term “eenheid” word in art 1 van die Wet omskryf as “’n deel tesame met sy onverdeelde aandeel in gemeenskaplike eiendom wat ooreenkomstig die kwota van daardie deel aan die deel toegeken is”. Hiervolgens is dit verkeerd om te sê dat die huurgeld vir ’n aparte gedeelte, wat nie deel vorm van die eenheid nie, “ten opsigte van die bedoelde eenheid” verskuldig is.


[15] Dit bring my dan terug by die vraag wat pertinent in geskil is, naamlik of regskoste wat deur die regspersoon aangegaan is ter verhaling van verskuldigde bydraes, binne die kader van die wetsbepaling val. As uitgangspunt by beantwoording van hierdie vraag is dit ’n geregverdigde afleiding dat die wetgewer deur die wetsbepaling aan die regspersoon ’n effektiewe regsmiddel wou verleen om dit te verhaal wat die eienaar van ’n eenheid aan hom verskuldig is. Veral in geval van insolvensie waar die regspersoon sodanige regsmiddel die nodigste het. Hierdie benadering tot die uitleg van die wetsbepaling is reeds in die Nel-saak deur hierdie Hof aanvaar (te 139 I - 140 G van die verslag). Die rede vir hierdie behoefte aan effektiewe beskerming is te verstane. Die regspersoon is eintlik maar ’n versameling van eienaars van eenhede wat in sommige van mekaar se uitgawes deel. As een van hulle versuim om sy verpligtinge na te kom, val die las op die ander. Daarbenewens kan die individuele eienaars ingevolge art 47 van die Wet ook nog direk aanspreeklik gehou word vir ’n pro rata van die regspersoon se verpligtinge. Vandaar die behoefte aan ’n effektiewe regsmiddel vir die regspersoon, oftewel vir die ander eienaars, teen die eienaar wat sy finansiële plig versuim. In ooreenstemming hiermee verwys die wetsbepaling dan ook nie net na “bydraes” nie maar na alle gelde wat ten opsigte van die eenheid verskuldig is. Die term bydraes word op ander plekke in die Wet gebruik. As die wetgewer derhalwe die toepassingsgebied van die wetsartikel tot “bydraes” wou beperk, was hierdie term reeds beskikbaar.

[16] Die inslag van die betoog namens appellant was dat regskoste buite die trefwydte van die wetsbepaling val omdat die eienaar se aanspreeklikheid vir regskoste nie voortspruit uit eienaarskap van sy eenheid nie maar uit sy halstarrigheid en onredelike optrede. Luidens hierdie betoog kon daar nouliks enige noemenswaardige regskoste wees indien die eienaar reëlings getref het vir betaling van sy agterstallige bydraes of desnoods vrywilliglik aansoek gedoen het vir die oorgawe van sy boedel


[17] Hierdie betoog getuig egter van ’n fundamentele wanopvatting in sy vertrekpunt, naamlik dat aanspreeklikheid vir regskoste ’n skuld is wat op sy eie bene staan. Volgens ’n suiwer benadering is die posisie juis dat regskoste nie losgemaak kan word van die skuld ter verhaling waarvan dit aangegaan is nie. In hierdie opsig is regskoste analoog met rente. Soos in geval van rente ontstaan aanspreekliheid vir regskoste slegs omdat ’n bedrag wat verskuldig is nie betaal is nie. Ook van rente op agterstallige bydraes kan dus gesê word dat dit nie voortspruit uit die eienaar se eienaarskap van sy eenheid nie, maar uit sy halstarrigheid en sy onredelike versuim om sy bydraes te betaal. Tog gee appellant se advokaat - tereg - toe dat rente op agterstallige bydraes deur die wetbepaling gedek word. ’n Onderskeid tussen rente en regskoste in die verband is eenvoudig nie op logiese gronde regverdigbaar nie. Hiervolgens moet die vraag, of ’n regspersoon kan weier om ’n uitklaringsertifikaat uit te reik weens regskoste wat nie betaal is nie, dus benader word deur te vra of die eis ter verhaling waarvan die regskoste aangegaan is, deur die wetsbepaling gedek word. Indien wel, is die regskoste ook gedek. Hierdie benadering gee uiting aan die oogmerk van die wetsbepaling om aan die regspersoon effektiewe beskerming te verleen. Ingevolge art 37 (1) (d) van die Wet is die regspersoon verplig om bydraes in te vorder en in terme van art 37 (2) word hy spesifiek gemagtig om betaling van sodanige bydraes in ’n bevoegde hof af te dwing. In die omstandighede sal die wetsbepaling nouliks effektiewe beskerming verleen indien dit nie ook vir afdwinging van regskoste aangewend kan word nie en die regskoste op die end deur die ander eenheideienaars wat reeds hulle eie verpligtinge nagekom het, gedra moet word.

[18] Die regskoste wat in die onderhawige saak ter sprake is, is aangegaan ter verhaling van bydraes. Dit is duidelik dat bydraes deur die wetsbepaling gedek word. Ooreenkomstig die benadering wat blyk uit die voorgaande, val die regskostes wat ter sprake is dus ook binne die kader van die wetsbepaling. Gevolglik was respondente geregtig om daarop aan te dring dat die regskoste betaal word alvorens hulle die uitklaringsertifikaat uitreik.

[19] Soos uit die uitspraak van die hof a quo blyk, is daar ongerapporteerde uitsprake in die Transvaalse Provinsiale Afdeling waarin beslis is dat regskoste wat aangegaan is ter verhaling van bydraes, nie deur die wetsbepaling gedek word nie (sien 224 D - G van die verslag). Aangesien die beslissings waarna verwys word direk in stryd is met die onderhawige beslissing van hierdie Hof, kan hulle uiteraard nie meer as goeie gesag beskou word nie.

[20] Die verdere vraag wat deur die appèl te berde gebring word, is of respondente die uitklaringsertifikaat kon weerhou totdat betaling gemaak is van bydraes wat op datum van die insolvent se sekwestrasie reeds meer as twee jaar uitstaande was. Appellant se betoog, dat respondente nie geregtig was om dit te doen nie, is gebasseer op die bepalings van art 89 (1), (4) en (5) van die Insolvensiewet. Ten einde die strekking van appellant se betoog te verstaan, is dit ongelukkig nodig om die spesifike bewoording van hierdie subartikels redelik volledig aan te haal. Vir sover ter sake, lui dit as volg:

89. Koste wat ten laste van sekuriteit kom. - (1) Die koste van instandhouding, bewaring en tegeldemaking van goed word uit die opbrengs van daardie goed betaal ... Die kurator se vergoeding met betrekking tot sodanige goed ..., ’n eweredige deel van die Meester se fooie en as die goed onroerend is, enige belasting soos omskryf in subartikel (5), wat daarop verskuldig is of sal word ten opsigte van enige termyn van hoogstens twee jaar onmiddellik voorafgaande aan die datum van die sekwestrasie van die betrokke boedel en ten opsigte van die termyn vanaf daardie datum tot die datum van die transport van daardie goed deur die kurator van daardie boedel, met enige rente of boete wat verskuldig is op bedoelde belasting ten opsigte van enige sodanige termyn, maak deel uit van die koste van die tegeldemaking.

(4) Nieteenstaande die bepalings van een of ander wet wat die transport van onroerende goed verbied tensy enige daarop verskuldigde belasting soos omskryf in subartikel (5) betaal is, belet daardie wet die kurator van ’n insolvente boedel nie om enige onroerende goed in daardie boedel te transporteer ten einde die boedel te likwideer nie, indien hy die belasting betaal het wat verskuldig mog gewees het op daardie goed ten opsigte van die in subartikel (1) bedoelde termyne en geen voorrang word verleen nie aan ’n vordering weens so ’n belasting ten opsigte van enige ander termyn.

(5) By die toepassing van subartikels (1) en (4) beteken “belasting” met betrekking tot onroerende goed ’n bedrag wat periodiek op daardie goed verskuldig is aan die Staat of ten bate van ’n provinsiale administrasie of aan ’n liggaam, deur of kragtens een of ander wet ingestel, tot voldoening aan ’n verpligting om sodanige periodieke betalings te maak, indien daardie verpligting voortspruit uit die eiendomsreg op daardie goed.”

[21] Die betoog namens appellant is dat “belasting” (Engels - “tax”) in art 89 (1) en (4) ’n uitgebreide betekenis dra, welke uitgebreide betekenis uit subart (5) blyk. Ooreenkomstig hierdie betoog, kwalifiseer ’n regspersoon, soos eerste respondent, as “’n liggaam deur of kragtens een of ander wet ingestel”. Derhalwe is bydraes wat per definisie voortspruit uit die eiendomsreg van ’n eenheid en wat periodiek betaalbaar is “belasting” soos in subart (5) omskryf. Gevolglik, so voer appellant aan, is hy ingevolge subart (1) en (4) geregtig om die betrokke eenheid oor te dra teen betaling van bydraes, oftewel belasting, wat nie by sekwestrasie vir ’n tydperk van meer as twee jaar agterstallig was nie.

[22] Sowel in die hof a quo as in hierdie Hof gaan respondente se antwoord op hierdie betoog uit van die premis hierdie Hof reeds in die Nel-saak beslis het dat bydraes aan ’n regspersoon nie “belasting” is soos in art 89 (1) en (4) bedoel nie. Ter ondersteuning van hierdie betoog beroep respondente hulle veral op die volgende opmerkings deur EM Grosskopf AR op 139 J - 140 B van die verslag:

It was argued on behalf of the appellant that serious anomalies would arise from the interpretation I have suggested. Thus the protection granted to a body corporate would be considerably more extensive than that accorded, for instance, to municipalities for rates. Section 89 (1) of the Insolvency Act provides for a preference in respect of pre-sequestration taxes on immovable property only for a maximum period of two years prior to sequestration. On the above interpretation of the contested provision the body corporate will have a de facto preference for an unlimited period, subject only to the law of prescription. And the type of debt due by a transferor which is protected by the contested provision would be wider than that owing to a municipality for rates.”


[23] Appellant se repliek hierop was dat die aangehaalde opmerkings obiter was aangesien die bydraes in die Nel-saak inderdaad vir minder as twee jaar voor sekwestrasie agterstallig was. In die hof a quo wou De Villiers R egter nie aanvaar dat die aangehaalde opmerkings obiter was nie (sien 223 in fine - 244B van die verslag). Volgens sy siening was dit wel vir hierdie Hof nodig om te beslis of bydraes as “belasting” beskryf moet word ten einde die aangevoerde anomalie waarna in die aangehaalde dictum verwys word, te beoordeel.

[24] Ek is, met respek, geneig om De Villiers R se siening te deel. Onderliggend aan die aangevoerde anomalie is die veronderstelling dat bydraes nie “belasting” is vir doeleindes van artikel 89 nie. Indien bydraes ook “belasting” is kan daar immers geen sprake wees van die beweerde anomalie nie. Ten einde die argument van ’n anomalie op sy meriete te beslis moes hierdie Hof dus noodwendig aanvaar dat bydraes nie “belasting” is nie. Nietemin is ek bereid om ten gunste van appellant te aanvaar dat die vraag, of bydraes aan ’n regspersoon vir doeleindes van art 89 as “belasting” beskou moet word, nog nie deur hierdie Hof beslis is nie.

[25] Dit behoef nouliks enige betoog dat volgens sy algemeen aanvaarde betekenis, die begrip “belasting” nie bydraes aan ’n regspersoon insluit nie. In die eerste plek is dit omdat “belasting” (Engels - “tax”) gewoonlik verstaan word as synde ’n verpligte betaling aan ’n owerheidsliggaam. Dit word bevestig deur die mees elementêre leksikografiese ondersoek. (Sien bv die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en The Concise Oxford Dictionary of Current English, 7de Uitgawe.) Daarbenewens het die begrip “belasting” volgens sy gewone betekenis ook nog ’n ander faset waaraan bydraes aan ’n regspersoon nie voldoen nie. Hierdie faset blyk uit die volgende verduideliking deur Ramsbottom R in Permanent Estate and Finance Co Ltd v Johannesburg City Council 1952 (4) SA 249 (W) 259 A.

To require any person who carries on a business or who owns a dog or a motor car to pay a prescribed fee is, I think, to impose a tax. The money paid is taken into general revenue and is used for general purposes; the person who pays receives no specific services in return for his payment.”



[26] Die betoog namens appellant was dan ook nie dat bydraes aan ’n regspersoon “belasting” is volgens die gewone betekenis van die woord nie, maar dat dit val binne die uitgebreide betekenis wat in art 89 (5) aan die term “belasting” gegee word. Die veronderstelling waarop die betoog fundeer is, is derhalwe dat daar by die uitleg van art 89 (5) ’n bedoeling aan die kant van die wetgewer ingelees moet word om die begrip “belasting” kunsmatig uit te brei. Hierdie veronderstelling is egter ongeldig en daarom gaan die betoog mank aan ’n fundamentele gebrek. By behoorlike uitleg van die art 89 (5) is dit duidelik dat die wetgewer eerder ’n beperkende as ’n uitgebreide betekenis aan die term “belasting” wou gee. Die bedoeling van die wetgewer is duidelik dat sommige betalings wat oor die algemeen as “belasting” sal kwalifiseer, nie vir die doeleindes van subarts (1) en (4) “belasting” sal wees nie. Subart (5) gee derhalwe nie voor om ’n selfstandige definisie van belasting te wees nie. Die vertrekpunt waarvandaan die wetgewer in die subartikel uitgaan is juis dat ’n verskuldigde betaling reeds volgens algemeen geldende maatstawwe as “belasting” geïdentifiseer is voordat die verdere beperkende elemente van die definisie toepassing vind. As die verpligte betaling nie in algemene terme ’n “belasting” is nie, cadit quaestio. Indien dit wel ’n “belasting” is, moet bepaal word of dit aan die beperkende elemente van die definisie voldoen ten einde vas te stel of dit ook in die beperkte sin ’n “belasting” is alvorens dit by die toepassing van subarts (1) en (4) as sodanig beskou moet word.

[27] Om subart (5) as ’n uitbreidende definisie van belasting te beskou sal onsinnige gevolge meebring. ’n Liggaam wat “deur of kragtens een of ander wet ingestel is” sal klaarblyklik ook ’n gewone handelsmaatskappy insluit. Periodieke betalings aan so ’n maatskappy wat voortspruit uit eiendomsreg op onroerende goed, soos byvoorbeeld, maandelikse paaiemente op die koopprys van daardie goed wat nog, na oordrag, aan die verkoper-maatskappy verskuldig is, sal as “belasting” kwalifiseer en gevolglik die beskerming van artikel 89 (1) geniet in geval van insolvensie. Dít kon nie die bedoeling van die wetgewer gewees het nie.

[28] Daar is ook ander aanduidings in art 89 dat dit “belasting” in sy algemeen aanvaarde sin is wat die wetgewer as vertrekpunt voor oë gehad het. So word byvoorbeeld, in art 89 (1) verwys na “’n boete wat verskuldig is op bedoelde belasting”. Dit is duidelik dat so ’n boete slegs op “belasting” in sy gewone sin kan slaan. Voorts is die twee kategorië waarvan pertinent in subart (5) melding gemaak word, te wete die Staat en provinsiale owerhede, inderdaad owerheidsliggame aan wie “belasting” volgens sy gewone betekenis betaalbaar is. Dit dui daarop dat volgens ’n sinvolle uitleg die derde kategorie waarna in die subartikel verwys word ook verstaan moet word om op owerheidsliggame, soos plaaslike owerhede betrekking te hê. Die vraag kan immers gevra word, waar anders plaaslike owerhede in die skema van art 89 sou resorteer.

[29] Hieruit volg dit dat agterstallige bydraes nie “belasting” is vir die doeleindes van art 89 (1) en (4) nie en dat die twee jaar beperking in hierdie subartikels vervat is, derhalwe nie op agterstallige bydraes van toepassing is nie. Ook wat betref die tweede geskilpunt moet respondent dus gelyk gegee word.

[28] Vir hierdie redes word die appèl van die hand gewys met koste.


_______________________

FDJ BRAND

Wnd Appèlregter

STEM SAAM:

MARAIS AR

MTHIYANE Wnd AR

▲ To the top