Smuts v Booyens, Markplaas (Edms) Bpk en 'n Ander v Booyens (257/1999; A 222/1999) [2001] ZASCA 57 (2 April 2001)


Editorial note: Certain information has been redacted from this judgment in compliance with the law.


 

IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA

RAPPORTEERBAAR

 

Saaknr: A/222/99

In die aangeleenthede tussen —

 

LEON FERDINAND SMUTS Appellant

 

en

 

WILFRED BOOYENS Respondent

 

 

en

 

Saaknr: 257/99

MARKPLAAS (EDMS) BPK Eerste Appellant

 

LEON FERDINAND SMUTS Tweede Appellant

 

en

 

WILFRED BOOYENS Respondent

 

 

VOOR: VIVIER, NIENABER, OLIVIER, SCHUTZ EN CAMERON ARR

AANGEHOOR: 5 MAART 2001

GELEWER: 2 April 2001

 

n Privaatmaatskappy se aandele kan nie strydig met beperkings op die oordrag daarvan in die maatskappy se statute (soos vervat in artikels 21-24 van Tabel B van Bylae 1 van die Maatskappywet 61 van 1973) aan ‘n derde party oorgedra word, selfs al dra die derde geen kennis van sodanige beperkings nie.

 

 

U I T S P R A A K

 

 

 

 

 

CAMERON AR:

 

Hierdie is twee aanverwante appèlle. In beide is die kernvraag of ‘n privaatmaatskappy se aandele, strydig met bepalings in die maatskappy se statute wat oordrag daarvan verbied of beperk, aan ‘n onskuldige derde oorgedra kan word. In die eerste appèl het die vraag in die Hof a quo ter sprake gekom omdat die kurator van die verkoper se insolvente boedel die tersydestelling van ‘n ooreenkoms waarvolgens die verkoper se aandeelhouding in ‘n privaatmaatskappy verkoop is, teen die koper as verweerder aangevra het. Du Plessis R het aan die einde van die eisers se saak absolusie van die instansie toegestaan. Kort daarna het die koper ‘n aansoek geloods om deur middel van rektifikasie van die lederegister registrasie van die betrokke aandele op sy naam te verkry. Coetzee WndR het die verlangde regshulp toegestaan. Teen beide bevele word nou ge-appelleer, in die eerste met die verlof van hierdie Hof en in die tweede met die verlof van die Hof a quo. Die partye was dit tydens argument eens dat indien die eerste appèl suksesvol is die tweede ook moet slaag.

 

In 1983 is Markplaas (Edms) Bpk (“Markplaas”)(die eerste appellant in die tweede appèl) gestig. Die twee stigters, Smuts (die eerste appellant in die eerste appèl en die tweede appellant in die tweede appèl) en Roux, was gelyke houers van die uitgereikte aandele asook die enigste direkteure. In 1993 het Roux sonder Smuts se wete en in stryd met ‘n voorkoopsreg wat in die statute van Markplaas ten gunste van Smuts vervat is, ‘n ooreenkoms (“die koopooreenkoms”) met Booyens (die respondent in beide appèlle) gesluit. Daarin is onder meer ooreengekom dat Booyens Roux se aandeelhouding in Markplaas (tesame met Roux se belang in verskeie leningsrekeninge wat deur Markplaas aan vier maatskappye verskuldig is waarin Roux ‘n belang het) teen ‘n bedrag van R250 000 aankoop. Roux het daarna in Januarie 1994 ‘n vergadering van Markplaas se aandeelhouers bygewoon en in daardie hoedanigheid standpunt oor ‘n aangeleentheid wat die maatskappy raak ingeneem. Later in dieselfde maand het hy ‘n ooreenkoms onderteken waarin hy die betrokke aandele gesedeer het as sekuriteit vir ‘n lening. Gedurende September 1994 is Roux voorlopig gesekwestreer. Die bevel is word gedurende Oktober 1994 bekragtig. Die eerste vergadering van skuldeisers het op 28 November 1994 plaasgevind. Die dag daarna het Roux die aandelesertifikaat by Markplaas se ouditeure afgehaal en dit aan Booyens besorg.

 

In die Hof a quo is om tersydestelling van die koopooreenkoms by wyse van ‘n aansoek gedoen met die kurator van Roux se boedel as eerste applikant, en met Smuts, Roux se mede-direkteur en -aandeelhouer as tweede applikant, en die sessionaris wat by die Januarie 1994-lening betrokke was as derde applikant. Die sewe respondente was onderskeidelik Booyens, Markplaas, die Meester van die Hooggeregshof en die vier maatskappye waarin Roux ‘n belang gehad het en wat by die koopooreenkoms betrokke was. Die aansoek is vir verhoor verwys. Die gronde vir tersydestelling wat in die verhoorhof deur die kurator aangevoer is, het in hoofsaak op die bepalings van die Insolvensiewet 24 van 1936 gesteun. Met die wegval van die kurator as gedingsparty is hulle tans nie meer ter sake nie. Daar is egter ook deur Smuts op Roux se versuim gesteun om die bepalings van Markplaas se statute betreffende die verkoop van aandele na te kom en ‘n bevel is aangevra waarin verklaar word dat die betrokke verkoop ongeldig was en dat Roux se aandeelhouding in die kurator vestig.

 

Du Plessis R het onder andere bevind dat die statute bloot ‘n persoonlike reg geskep het en dat Smuts gevolglik moes bewys het dat Booyens van die bestaan en nie-nakoming van Smuts se voorkoopsreg bewus was. (Vergelyk Associated South African Bakeries (Pty) Ltd v Oryx & Voreinigte Bäckereien (Pty) Ltd en Andere.)1 By gebrek aan enige sodanige getuienis het hy absolusie van die instansie verleen.

 

Coetzee WndR het daarna bevind dat die blote aangaan van die koopooreenkoms vir Booyens die reghebbende ten aansien van die aandele gemaak het en dat Booyens derhalwe prima facie geregtig was om as aandeelhouer in die lederegister aangeteken en geregistreer te word. Hy was van mening dat geeneen van Markplaas en Smuts se verwere teen dié aansoek deugdelik was nie. Hy het die betoog dat die Hof sy diskresie teen Booyens moes uitoefen, verwerp, asook dat die aansoek in die lig van die verrigtinge vir tersydestelling voor du Plessis R (ten aansien waarvan daar ‘n petisie om verlof tot appèl hangende was) voorbarig was.

 

In hierdie Hof het Smuts sy argument in hoofsaak daarop gegrond dat die bepalings in die maatskappy se statute op ‘n ooreenkoms neergekom het om nie regte oor te dra nie (‘n pactum de non cedendo) wat, by onstentenis van voldoening van die prosedure in die statute neergelê, verhoed het dat Booyens ooit reghebbende van die aandele kon word. Die kernvraag op appèl is dus of die verhoorhof korrek was in sy bevinding dat bewys dat Booyens kennis gedra het (van die bepalings en van die nie-voldoening daaraan) noodsaaklik was. Die betoog verg oorweging van vrae wat nog nie vantevore in dié opsig deur hierdie Hof besleg is nie. In vorige analoë gevalle (waar ‘n privaatmaatskappy se statute afgedwing is), was die koper se kennis van die beletsel nie as sodanig ter sprake nie en het die statute daarbenewens ‘n uitdruklike verbod op oordrag bevat.2 Die advokaat namens Booyens het tereg toegegee dat indien bevind sou word dat Booyens se kennis van die beletsel irrelevant was, die appèl moet slaag en dat Smuts op ooreenstemmende regshulp geregtig sou wees.

Die vraag vereis oorweging van Roux se bevoegdheid om regte deur middel van die koopooreenkoms aan Booyens oor te dra en die effek van daardie ooreenkoms. In Liquidators, Union Share Agency v Hatton3 het Innes HR beklemtoon dat die grondslag van aandeelhouding in ‘n maatskappy aan wetgewing ontleen word en dat die aard daarvan derhalwe deur wetgewing bepaal word:

“A share in a joint stock company is a jus in personam, a right of action, the extent and nature of which and the liability attaching to the ownership of which depend upon statute.”

 

Uiteraard moet die beginpunt by die beantwoording van dié vraag dus die bepalings van die Maatskappywet 61 van 1973 (“die Maatskappywet” of “die Wet”) wees. Volgens art 20(1) “beteken die uitdrukking ‘private maatskappy’” in die Wet —

“‘n maatskappy met ‘n aandelekapitaal wat deur sy statute –

(a) die reg om sy aandele oor te dra beperk; en

(b) sy ledetal (met uitsondering van persone wat in diens van die maatskappy is en van persone wat voorheen in diens van die maatskappy was en gedurende sodanige dienstyd lede van die maatskappy was en na afloop van hulle dienstyd lede gebly het), tot vyftig beperk; en

(c) ‘n aanbod aan die publiek vir inskrywing op aandele of skuldbriewe van die maatskappy verbied.”

 

Volgens art 20(3) mag geen private maatskappy sy statute op so ‘n wyse wysig dat dit nie meer al die bepalings in subart (1) bevat nie tensy hy terselfdertyd in ‘n publieke maatskappy omskep word. Artikel 20(4) bepaal dat indien ‘n privaatmaatskappy versuim om die bepalings van sy statute soos in subart (1) bedoel na te kom terwyl hulle in die statute ingesluit is, word hy (tensy die Hof op aansoek anders beveel) onverwyld aan die vereistes wat uitreiking van finansiële jaarstate en tussentydse verantwoording wat op ‘n openbare maatskappy betrekking het, onderworpe.

 

Hierdie bepalings regverdig drie opmerkings. Ten eerste blyk dit dat oordragsbeperkings ten aansien van aandele ‘n onontbeerlike eienskap is van ‘n privaatmaatskappy soos in die Wet omskryf. Die Wet bepaal by wyse van definisie dat ‘n privaatmaatskappy een is wat so ‘n beperking in sy statute bevat; by onstentenis hiervan is dit regtens onmoontlik dat die betrokke entiteit ‘n privaatmaatskappy kan wees. Dat die tersaaklike beperkings betrekking het op die regsaard en -essensie van só ‘n maatskappy is (soos later sal blyk) myns insiens van belang by die bepaling van hulle effek en betekenis.

 

Tweedens vereis die Wet dat “die reg” om aandele oor te dra, beperk moet word.4 Die gebruik van die omvattende begrip “die reg” in art 20(1)(a) is opvallend. Dit dui op die wetgewing se bedoeling dat die aandeelhouer se bevoegheid om die maatskappy se aandele hoegenaamd oor te dra in die statute beperk moet word.

 

Derdens behels ‘n oordrag in die volle en tegniese sin van die woord ‘n reeks stappe wat die aangaan van ‘n oordragsooreenkoms insluit. Soos Rumpff AR verduidelik het in Inland Property Development Corporation (Pty) Ltd v Cilliers5 (‘n saak aangaande art 24bis van die Maatskappywet 46 of 1926):

“In regard to shares, the word ‘transfer’ in its full and technical sense, is not a single act but consists of a series of steps, namely an agreement to transfer, the execution of a deed of transfer and, finally, the registration of the transfer.”

 

Daar is geen aanduiding in die Wet te bespeur dat die beperking van slegs een van hierdie stappe in art 20(1)(a) beoog word nie. Inteendeel, dit blyk na my mening uit die bepaling dat dit die wetgewing se bedoeling was dat ‘n privaatmaatskappy se statute die oordrag van sy aandele in die “volle en tegniese sin” waarop Rumpff AR wys, moet beperk; wat die statute gevolglik moet beperk, is “die reg” om die hele reeks stappe wat in ‘n oordrag behels word, aan te gaan. En dit omvat die aangaan van ‘n ooreenkoms om oor te dra, die verlyding van ‘n oordragsakte en die uiteindelike registrasie van die oordrag.

 

Artikel 91 sluit hierby aan. Dié bepaling, wat ook betrekking het op die oordraagbaarheid van ‘n privaatmaatskappy se aandele, is getiteld “Aard van aandele” en lui:

“Die aandele of ander belang wat ‘n lid in ‘n maatskappy het, is roerende goed en oordraagbaar op die wyse deur hierdie Wet en die statute van die maatskappy bepaal.”

 

Die bedoeling wat uit art 91 spreek, is klaarblyklik om te verhoed dat aandele op ‘n wyse anders as deur die Wet en die maatskappy se statute bepaal, oorgedra kan word. Artikel 91 skyn met ander woorde ‘n beletsel te plaas op gepoogde aandele-oordragte wat nie strook met die wyse deur die Wet en die statute bepaal nie: word die beperkings in die statute vervat, nie nagekom nie, is die aandele volgens art 91 glad nie oordraagbaar nie.6

 

Dit is teen hierdie statutêre agtergrond dat die bepalings van Markplaas se statute beskou moet word. Dit staan ‘n maatskappy se stigters (en daarna sy lede) natuurlik vry om binne die beperkings wat die Wet neerlê die inhoud van die statute te bepaal. Artikel 59(2)(b) van die Wet skep bloot die moontlikheid dat Tabel B van Bylae 1 van die Wet ingelyf kan word (soos in Markplaas se geval wel gebeur het) en selfs dan is die aanname van die statute onderworpe aan die moontlikheid van aanpassings en latere wysigings (art 62) na gelang van die stigters (en lede) se voorkeure. Tabel B van Bylae 1 van die Wet behels ‘n beperking op die oordraagbaarheid van aandele. Waar die oorspronklike aandeelhouers nie by ooreenkoms daarvan afwyk nie, behels dit dus by inlywing daarvan ‘n kontraktuele beperking tussen die aandeelhouers onderling.

 

In Borland’s Trustee v Steel Brothers & Co Ltd7 beklemtoon Farwell R die tweeledige aard van ‘n maatskappy se statute. Enersyds is die statute ‘n reeks verbintenisse tussen die aandeelhouers. In dié opsig is hulle kontraktueel van aard. Andersyds word die kontrak in ooreenstemming met en binne die perke van die maatskappywetgewing aangegaan. Aan die aard van die regte wat in die aandeelhouding vervat word, word derhalwe statutêre beslag gegee. In ‘n bekende passasie stel Farwell R dit soos volg:

“A share is the interest of a shareholder in the company measured by a sum of money, for the purpose of liability in the first place, and of interest in the second, but also consisting of a series of mutual covenants entered into by all the shareholders inter se in accordance with s 16 of the Companies Act, 1862. The contract contained in the articles of association is one of the original incidents of the share.”8

 

Daar word herhaaldelik in die Suid-Afrikaanse regspraak met goedkeuring na dié beslissing verwys9 en dit beeld na my mening die verhouding tussen die statutêre grondslag enersyds en die onderlinge kontraktuele reëling andersyds wat die statute van ‘n maatskappy beslaan ook in ons reg juis uit.

 

Teen hierdie agtergrond moet die tersaaklike bepalings van Markplaas se statute ontleed word. Die maatskappy se statute is kragtens art 59(2)(b) van die Maatskappywet aan Tabel B van Bylae 1 ontleen. Artikels 21-24 bepaal soos volg:

“21. Indien ‘n lid van die maatskappy verlang om al of enige van sy aandele van die maatskappy te verkoop, moet hy skriftelik kennis van sy voorneme om te verkoop aan die direkteure gee en die prys vermeld wat hy vir daardie aandele verlang.

22. Die direkteure moet binne een maand na die datum van ontvangs van die kennisgewing in statuut 21 bedoel die inhoud daarvan aan elke ander lid van die maatskappy meedeel en elke sodanige lid het die reg om die aandele aldus aangebied, te verkry binne een maand na die datum van ontvangs van daardie mededeling: Met dien verstande dat indien meer as een lid ‘n aanbod maak vir al die aandele aldus aangebied die aandele in gelyke dele aan elke sodanige lid verkoop word en waar breukdele van aandele oorbly, word sodanige lede gesamentlike houers van sodanige breukdele van die aandele.

23. Indien die lede van die maatskappy nie oor die verkoopprys van die aandele kan ooreenkom nie, kan die ouditeur van die maatskappy versoek word om die ware en redelike waarde daarvan te bepaal, en die lede moet daardie waarde as die verkoopprys van die aandele aanvaar.

24. Indien nie een van die lede van die maatskappy aanbied om die aandele te koop binne die tydperk in statuut 22 bedoel of indien lede van die maatskappy aanbied om ‘n deel van die aandele aldus aangebied, te koop, kan die lid wat die aandele te koop aanbied, die aandele of die oorblywende deel van die aandele wat nie deur lede van die maatskappy gekoop is nie, te koop aanbied aan ‘n ander persoon en, nieteenstaande die bepalings van statuut 11, moet die direkteure die registrasie van die aandele op die naam van daardie persoon goedkeur, tensy hulle gegronde rede het om so ‘n registrasie te weier.”

 

Artikel 11 verleen aan die direkteure die bevoegdheid om sonder opgaaf van redes te weier om die oordrag van aandele van die maatskappy te registreer.

 

In Estate Milne v Donohoe Investments (Pty) Ltd10 het Ogilvie Thompson AR daarop gewys dat die beperking wat op aandele-oordragte in ‘n privaatmaatskappy se statute bevat word “essentially one of construction of the relevant articles” is en dat “the prima facie right of a shareholder to deal freely with his shares must perforce yield to contrary provisions ascertained on a correct construction of the company’s articles”. Só gesien kan daar op die volgende wesenlike aspekte van drie artikels (21, 22 en 24) van die statute gewys word. Waar ‘n lid verlang om sy aandeelhouding te verkoop, vereis art 21 dat hy eers kennis van sy voorneme aan die direkteure “moet” gee.11 Artikel 22 verleen in hierdie omstandighede aan die ander lede “die reg” om die betrokke aandele “te verkry” vóórdat die aandele aan iemand anders te koop aangebied mag word. Die ooreenkoms tussen die bewoording in die Wet self en in art 22 is na my mening nie bloot toevallig nie: die “reg” wat volgens art 20(1)(a) van die Wet beperk moet word, is juis die “reg” wat art 22 aan die ander lede verleen, naamlik om deur aanbod en aanname die sluit van ‘n koopooreenkoms, gevolg deur die verlyding van ‘n oordragsakte en daarna registrasie, oordrag van die aandele te “verkry”.12 Eers ná voldoening aan die voorgaande vereistes verleen art 24 aan die lid die bevoegdheid (“kan”) om die aandele hoegenaamd aan ‘n buitestander te koop aan te bied.

 

Gelees in die lig van art 20(1)(a) van die Wet, blyk dit dus dat die statute van Markplaas ‘n onderlinge ooreenkoms tussen die maatskappy se aandeelhouers inter se bevat wat in ooreenstemming met die wetsbepaling die reg om die maatskappy se aandele oor te dra, beperk deur gebiedend te vereis dat die uiteengesette prosedure eers nagevolg moet word voordat die aandele hoegenaamd regtens aan ‘n buitestander aangebied of oorgedra kan word. Dié slotsom regverdig die verdere gevolgtrekking dat die beperking, in die woorde van Farwell R, ‘n oorspronklike eienskap in die aandele self daarstel en dat by onstentenis van nakoming van die prosedure wat die statute bevat geen regte ten aansien van die betrokke aandele dus aan ‘n koper oorgedra kan word nie.13 Die onderlinge reëling in die statute uiteengesit, in navolging van die gebiedende aanwysing van art 20(1)(a) van die Wet, bevat met ander woorde ‘n beletsel op die aanbieding of oordrag van die aandele hoegenaamd, tensy die uiteengesette prosedure eers nagekom word. Gevolglik, sonder nakoming van die voorvereistes, “the right, from its inception, lacks the attribute of transmissibility”.14

 

Dit volg dat Booyens se argument dat Tabel B van Skedule 1 van die Maatskappywet nie ‘n absolute verbod daarstel nie, maar suiwer prosessuele regte skep wat slegs deur ‘n interdik afgedwing sou kon word, ongegrond is en dat Smuts se betoog dat die statute by implikasie ‘n pactum de non cedendo daarstel wat oordrag verhoed, gelyk gegee moet word:

 

“The stipulation against cession is part and parcel of the agreement creating the right, and the right is limited by the stipulation.”

 

Paiges v Van Ryn Gold Mines Estates Ltd;15 Trust Bank of Africa Ltd v Standard Bank of South Africa Ltd.16

 

Dat die beperking op aandele-oordragte in stryd met die statute ten gunste van die aandeelhouers oor en weer bestaan en dat mede-aandeelhouers in die beperking ‘n belang het, behoef geen betoog nie. Dit spreek trouens vanself uit die voorskrif in die Maatskappywet wat die tersaaklie beperking vereis. Waar dit vir ‘n skuldenaar in ‘n gewone skuldenaar/skuldeiser-verhouding “per slot van sake altyd van belang [is] om te weet wie sy skuldeiser is”,17 is dit des te meer vir ‘n aandeelhouer in ‘n privaatmaatskappy, “waarby die hele opset juis is om die beheer binne ‘n beperkte kring van goedgekeurde lede te hou”,18 van kernbelang, selfs waar die verhouding oorwegend of suiwer kommersieël van aard is,19 om te weet wie sy of haar mede-lid is.

 

Dit volg dat die verhoorhof se aanvaarding dat Booyens deur die koopooreenkoms regte verkry het ten aansien van die aandele en dat kennis van die voorkoopsreg in die maatskappy se statute vervat ter sake was, foutief was.

 

Hierdie slotsom maak dit onnodig om te beslis oor Smuts se verdere betoë dat op die feite van die saak daar geen geldige oordragshandeling plaasgevind het nie (met ‘n beroep op Botha v Fick);20 dat indien daar ‘n sessie plaasgevind het, dit verminderde regte aan Booyens oorgedra het (na analogie van Van der Berg v Transkei Development Corporation);21 dat kennis van die inhoud van Markplaas se statute van regsweë in elk geval aan Booyens toegedig moes word (met ‘n beroep op Abrahamse v Connock’s Pension Fund);22 en dat absolusie van die instansie in ieder geval in die omstandighede van die verhoor verkeerdelik toegestaan is.

 

Dit volg dat Coetzee WndR insgelyks gefouteer het met sy aanname dat Booyens die reghebbende ten opsigte van die aandele geword het en dat sy bevel op dié grond alleen ter syde gestel moet word. Daarbenewens is dit myns insiens gepas om daarop te wys dat, afgesien van die feit dat Booyens se aansoek onder art 115 van die Maatskappywet in die lig van die hangende appèlstappe teen du Plessis R se bevel heeltemal voorbarig was, dié wetsbepaling kwalik ‘n gepaste uitkoms bied om oordrag van aandele in mosie-verrigtinge te verkry of te verleen waar feite-dispute voorkom wat nie op die stukke opgelos kan word nie.23

 

Daar is ook appèl aangeteken teen Coetzee WndR se kostebevel in ‘n kondonasie-aansoek wat Smuts gebring het, maar Smuts se advokaat kon op geen grond wys waarop met hierdie diskresie-uitoefening ingemeng kan word nie. Wat die koste van die appèl betref het Smuts se advokaat toegegee dat een-derde van die appèlrekord onnodig was. Die respondent kan nie met dié koste belas word nie. Wat die koste van die verhoor betref, is ek van mening dat hoewel die verhoor aansienlik verkort (indien nie uitgeskakel) sou kon gewees het deur die geskilpunt by wyse van ‘n gestelde saak te laat bereg, die houding van Booyens ten dele tot dié verloop bygedra het en dat dit onbillik sou wees om Smuts van sy koste in die Hof a quo te ontneem.

 

Die volgende bevele word gemaak:

In saaknommer 222/99:

  1. Die appèl slaag met koste, insluitend die koste van twee advokate, maar uitgesluit die koste van een-derde van die oorkonde.

  2. Die bevel van die Hof a quo word ter syde gestel en word met die volgende vervang:

“(i) Die aansoek wat vir verhoor verwys is, slaag met koste.

(ii) Daar word verklaar dat 50% van die aandele in Markplaas (Edms) Bpk in die kurator van die insolvente boedel P S Roux, Boedelnommer T3163/94 vestig.”

 

In saaknommer 257/99:

  1. Die appèl slaag met koste, insluitend die koste van twee advokate.

  1. Die bevel van die Hof a quo word ter syde gestel en met die volgende vervang:

“Die aansoek word van die hand gewys met koste.”

 

 

 

E CAMERON

REGTER VAN APPÈL

 

 

 

VIVIER AR )

NIENABER AR)

OLIVIER AR) STEM SAAM

SCHUTZ AR)

11982 (3) SA 893 (A)

2Sien Estate Milne v Donohoe Investments (Pty) Ltd and Others 1967 (2) SA 359 (A) en Lombard v Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie, Transvaal 1968 (3) SA 473 (A). Vergelyk ook Swart v Celliers 1976 (2) PH E10 (K) (waar die koper kennis gedra het van die beletsels op oordrag), Mendonides v Mendonides and Others 1962 (2) SA 190 (D) en Britz NO v Sniegocki and Others 1989 (4) SA 372 (D).

31927 AD 240 250

4Die Afrikaanse teks is onderteken; die Engelse teks praat van “the right to transfer its shares”.

51973 (3) SA 245 (A) 251C, met beroep op die uitspraak van Lord Reid in Lyle & Scott Ltd v Scott’s Trustees and British Investment Trust Ltd 1959 AC 763 (HL) 778; [1959] 2 All ER 661 (HL) 668.

6Die woord “oordraagbaar” in die Afrikaanse teks word in die Engelse teks as “transferable” weergegee.

7[1901] ChD 279 288

8Artikels 14-16 van die Companies Act, 1862 (25 & 26 V. c. 89) het met die aard en aangaan van ‘n maatskappy se statute gehandel. Art 16 het onder andere bepaal dat nadat die statute geregistreer was “they shall bind the company and the members thereof to the same extent as if each member had subscribed his name and affixed his seal thereto, and there were in such articles contained a covenant on the part of himself, his heirs, executors, and administrators, to conform to all the regulations contained in such articles, subject to the provisions of this Act”. Die eweknie is art 65(2) van die Maatskappywet: “Die akte en statute bind die maatskappy en sy lede, in dieselfde mate asof dit onderskeidelik deur elke lid onderteken is, tot nakoming, behoudens die bepalings van hierdie Wet, van al die bepalings van die akte en van die statute.”

9Onder andere deur Innes HR in Liquidators, Union Share Agency v Hatton 1927 AD 240 251.

101967 (2) SA 359 (A) 370F-G

11In die Engelse teks: “shall”.

12Vir ‘n soortgelyk omvattende uitleg van die woord “oordrag” in ‘n maatskappystatuut, sien Lombard v Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie, Transvaal 1968 (3) SA 473 (A) 483F-485H.

13Prof MS Blackman in Joubert, Lawsa (Eerste Heruitgawe) vol 4 deel 1 para 232

14“Cession”, Joubert, Lawsa (Eerste Heruitgawe) vol 2 para 254. Dit is vergelykbaar met die geval waar partye onderling ooreenkom dat ‘n bepaalde reg slegs op ‘n wyse wat hulle voorskryf, gesedeer mag word: vergelyk aw para 246.

151920 AD 600 617

161968 (3) SA 166 (A) 189D-G

17De Wet en Yeats Kontraktereg en Handelsreg (5 uitg, 1992, vol 1) bl 254 n 16, wat die vereiste in die Paiges- en Trust Bank-sake dat die beperking in die belang van die skuldenaar moet wees in twyfel trek.

18Lombard v Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie, Transvaal 1968 (3) SA 473 (A) 485A, per Steyn HR

19Vergelyk Hulett and Others v Hulett 1992 (4) SA 291 (A) 307E-I.

201995 (2) SA 750 (A)

211991 (4) SA 78 (TkGD)

22 1963 (2) SA 76 (W)

23Verrin Trust & Finance Corporation (Pty) Ltd v Zeeland House (Pty) Ltd and Others 1973 (4) SA 1 (C) 9H-11A, 13F-G, 14C-B, per Corbett R

▲ To the top