S v Farmer (395/2000) [2001] ZASCA 74 (30 May 2001)






Rapporteerbaar

Saak No: 395/2000

In die saak van:

JAN FARMER APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

_____________________________________________________________________

Coram: Scott, Streicher, Navsa ARR

Aangehoor op: 18 Mei 2001

Gelewer op: 30 Mei 2001

Opsomming: Appèl teen verwerping van korrektiewe vonnis as vonnisopsie – prosedure by

aanhoor van aansoek om kondonasie vir laat liassering van kennisgewing van

appèl waar enigste geskilpunt die meriete van die saak is.

____________________________________________________________________________________

UITSPRAAK

____________________________________________________________________



NAVSA JA:

[1] Hierdie is ‘n appèl teen die weiering van die appellant se aansoek om kondonasie vir die laat liassering van ‘n kennisgewing van appèl.

[2] Die appellant het in die landdroshof te Welkom tereggestaan op twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Luidens die klagstaat het die appellant in ‘n voorval op 8 Februarie 1998 by die klub Bell-Air te Goudstraat, Bronville, die twee klaers met ‘n mes gesteek.

[3] Die appellant het onskuldig gepleit en het nie ‘n pleitverduideliking verskaf nie. Die twee klaers en die appellant was die enigste getuies wat in die verhoor getuig het. Op 13 Mei 1998 is die appellant skuldig bevind. Op 26 Augustus 1998 is hy tot nege maande gevangenisstraf gevonnis op elk van die twee aanklagte waarvan drie maande voorwaardelik opgeskort is. In effek is die appellant tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis.

[4] Die appellant was van voorneme om teen die opgelegde vonnis te appelleer. Sy kennisgewing van appèl is buite die voorgekrewe tydperk in die Vrystaatse Provinsiale Afdeling, die hof a quo, geliasseer.

[5] In die hof a quo, as deel van die beslegting van die aansoek om kondonasie, is volledig aandag geskenk aan die meriete van die appellant se saak. Die aansoek is van die hand gewys op die basis dat daar geen vooruitsigte van sukses op die meriete van die saak was nie. Die partye is dit eens dat die meriete van die beoogde appèl deurslaggewend is. Dit is nie in dispuut dat die appellant se verduideliking vir die laat liassering van sy kennisgewing van appèl bevredigend is nie. Aangesien die besluit van die hof a quo nie een op appèl was soos bedoel in artikel 20(4) van die Wet op die Hooggeregshof 59 van 1959 (“die Wet”) nie, is verlof om te appelleer na hierdie hof nie nodig nie. Die appèl word dus in terme van artikel 20(1) van die Wet aangehoor. Die eienaardigheid wat hieruit vloei is in S v Gopal 1993 (2) SASV 584 (A) bespreek. Harms AR het te 585 c – e die volgende gesê:

“… indien ‘n persoon in die landdroshof aan ‘n misdryf skuldig bevind en gevonnis word en sy appèl na die Provinsiale (of, indien van toepassing, die Plaaslike) Afdeling van die Hooggeregshof misluk, mag hy alleen met die nodige verlof na hierdie Hof appelleer. As hy egter sou nalaat om sy eerste appèl na behore voort te sit en dit nodig is om kondonasie te verkry (soos bv vir die laat aantekening van appèl) en dié aansoek misluk, het hy ‘n outomatiese reg van appèl teen die afwys van sy aansoek na hierdie Hof. Dit geld selfs indien sy aansoek vanweë ‘n gebrek aan vooruitsigte op appèl afgewys is. S v Tsedi 1984 (1) SA 565 (A); S v Absalom 1989 (3) SA 154 (A). En sou hierdie Hof argumentsonthalwe bevind dat die Hof a quo verkeerd was in sy beoordeling van die kanse op sukses, en die appèl slaag, moet die strafappèl dan waarskynlik deur daardie Hof bereg word met die wete dat hierdie Hof reeds ‘n oordeel, wat nie bindend is nie, oor die meriete uitgespreek het.”


[6] ‘n Afwysing van ‘n aansoek vir kondonasie bloot op die basis dat daar nie redelike vooruitsigte van sukses is nie, kan dus onwenslike gevolge hê. Na my mening blyk die praktiese oplossing die volgende te wees. Waar die enigste dispuut in ‘n aansoek om kondonasie die meriete van ‘n beoogde appèl is moet die appèl as sulks afgehandel word. Dit sal dan die onwenslikheid wat in die Gopal saak, supra, beskryf is, uitsluit. In die huidige geval is hierdie roete ongelukkig nie gevolg nie. Dit is dus nodig om die appèl soos hy tans voor ons dien te besleg.

[7] Die kern van die appellant se saak op appèl is dat gegewe versagtende faktore soos provokasie, die invloed van drank en die appellant se persoonlike omstandighede en verder die feit dat geeneen van die klaers permanente beserings opgedoen het en geen mediese getuienis ten opsigte van die erns van die beserings aangebied is nie, het die landdros fouteer deur nie ‘n vonnis, anders as direkte gevangenisstraf op te lê nie.

[8] Namens die appellant word aangevoer dat ‘n boete of korrektiewe toesig in al die omstandighede van die saak die gepaste vonnis is. In laasgenoemde verband is daar grootliks gesteun op die verslag en getuienis van ‘n maatskapplike werker, Mev Snell wat aanbeveel het dat die appellant gevonnis word tot korrektiewe toesig, hetsy kragtens Artikel 276(1)(h) of Artikel 276(1) (i) van die Strafproseswet 51 van 1977. Die vraag is egter nie of daar ander gepaste vonnisse is wat opgelê kon word nie. Die vraag is of gesê kan word dat die landdros sy diskresie nie behoorlik uitgeoefen het by die oplegging van vonnis nie. Na my mening kan nie gesê word dat die landros enige mistasting begaan het nie.

[9] Die hof a quo het tereg bevind dat nòg provokasie nòg drank ‘n bydraende faktor by die pleeg van die aanrandings was. Dit is normaalweg wenslik dat in ‘n saak soos hierdie mediese getuienis ten opsigte van die erns van die beserings deur die klaer opgedoen, aangebied word. In die onderhawige geval is dit nie gedoen nie, maar is wel voldoende getuienis voor die landdros geplaas om die hof in staat te stel om ‘n oordeel oor die erns van die beserings te vel.

[10] Ek handel verder met die appellant se aanval op die landdros se verwerping van korrektiewe toesig as ‘n vonnisopsie. Daar word in betoog spesifiek verwys na ‘n deel van die landdros se uitspraak waar hy na Mev Snell se getuienis oor die moniteerbaarheid van korrektiewe toesig handel en die volgende sê:

Sy sê haar inligting is anders, maar dit is so dat hierdie Hof al verskeie toesiggevalle gehad het en dit is so dat sy nie direk met die gevalle dan gemoeid is nie, maar dat die sogenaamde moniteringsbeamptes wel kom getuienis aflewer en dit is so dat daar meer male ernstige verbreking van voorwaardes is. Daar was al gevalle gewees waar daar tot 65% verbreking van voorwaardes is, alvorens daar daadwerklik opgetree word teen die sogenaamde droster en hy voor die Hof gedaag word sodat daar dan dienooreenkomstig direk met hom gehandel kan word en ‘n ander alternatiewe vonnis oorweeg en moontlik opgelê kan word. Met die gevolg dat korrektiewe toesig vir hierdie Hof sy romantiek verloor het.”


Die appellant betoog dat die landdros vooraf standpunt teen korrektiewe toesig as ‘n vonnisopsie ingeneem het. Dié deel van die landdros se uitspraak waarna verwys word, is na my mening, niks meer nie as die landdros se beskrywing van sy ervaring in sy hof waar korrektiewe toesig as ‘n vonnisopsie geopper was nie. Dit moet ook in die lig van latere dele van die uitspraak gesien word. Later in sy uitspraak sê die landdros die volgende:

Dit is ook so en daar is wel gesag op die punt dat korrektiewe toesig nie die alfa en die omega van alle vonnisse is nie. Dit is maar slegs een van die vonnisopsies wat die Hof kan oorweeg…”


Nog later sê die landdros:

“Die Hof is derhalwe die mening toegedaan dat korrektiewe toesig nie ‘n gepaste vonnisopsie is onder die omstandighede, ook vanweë die aard en die erns van hierdie twee betrokke misdrywe. Die Hof is van mening ook dat ‘n boetevonnis met die alternatief van gevangenisstraf ook nie van pas sal wees nie.”

[11] Korrektiewe toesig is ‘n vonnisopsie in die spektrum van vonnisopsies. Die hof a quo het met verwysing na S v Dimpane 1996 (2) SASV 165 (0) en S v Schutte 1995 (1) SASV 344 (K) tereg beklemtoon dat ‘n te geredelike oplegging van korrektiewe toesig in omstandighede waar dit onvanpas is daartoe sal lei dat die regspleging gediskrediteer word.

[12] Ek stem saam met die bevinding van die hof a quo dat die landdros behoorlike aandag geskenk het aan korrektiewe toesig as vonnisopsie. Dat hy dit vewerp het beteken nie dat daar ‘n mistasting was by die oplegging van vonnis nie. Daar is na my mening geen rede om te bevind dat die landdros skuldig is aan ‘n onbehoorlike uitoefening van sy diskresie nie. Daar bestaan gevolglik nie goeie gronde om met die vonnis in te meng nie.

[13] Die hof a quo het gevoglik tereg tot die gevolgtrekking gekom dat daar nie ‘n redelike vooruitsig was dat ‘n appèl teen die opgelegde vonnis sou slaag nie.

[14] Die appèl word van die hand gewys.


__________________

MS NAVSA AR

APPèLREGTER

STEM SAAM:

SCOTT JA

STREICHER JA


▲ To the top