Potgieter NO v Daewoo Heavy Industries (Pty) Ltd (466/2001) [2002] ZASCA 154 (29 November 2002)







DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA



Rapporteerbaar


SAAKNOMMER 466/2001

In die saak tussen


T J H POTGIETER NO Appellant


en


DAEWOO HEAVY INDUSTRIES (PTY) LTD Respondent


____________________________________________________________


CORAM: HOWIE, STREICHER, BRAND, CONRADIE JJA et HEHER AJA


DATUM VAN APPÉL: 11 NOVEMBER 2002

GELEWER: 29 NOVEMBER 2002


Insolvensiewet - afbetalingsverkooptransaksie – getref deur art 84(1) van Insolvensiewet selfs wanneer nie onderhewig aan bepalings van Wet op Kredietooreenkomste – summiere vonnis vir lewering van voorlaaigraaf tersyde gestel – tussentydse bevel nie appelleerbaar




_____________________________________________________________

UITSPRAAK




CONRADIE AR


[1] Op 1 November 1999 het die respondent (‘Daewoo’) ‘n kommersiële flater begaan. Hy het 'n Mega 300 voorlaaigraaf aan Nels Diamante Bk verkoop. Ingevolge die ooreenkoms het Daewoo eiendomsreg op die laaigraaf voorbehou totdat Nels Diamante die koopsom van R830 000 by wyse van 'n inruiltransaksie en maandelikse paaiemente ten volle betaal het. Van die beloofde paaiemente is slegs R15 000 betaal. Skaars nege maande na die ondertekening van die ooreenkoms is Nels Diamante vanweë onvermoë om sy skuld te betaal, by wyse van 'n spesiale besluit in likwidasie geplaas. Die appellant is as likwidateur aangestel.


[2] Kort na die likwidasie het Daewoo, na aanleiding van die appellant se voorneme om die voorlaaigraaf op 'n openbare veiling te verkoop, getrag om besit daarvan te herwin. Hy het 'n rei vindicatio ingestel en toe dit verdedig word, 'n aansoek om summiere vonnis vir lewering van die voorlaaigraaf gebring. Dit is deur Daniels R in die Transvaalse Provinsiale Afdeling toegestaan. Teen daardie tyd het Spoelstra R reeds 'n tussentydse bevel verleen wat die voorlaaigraaf hangende die uitslag van die geding aan Daewoo toevertrou het.


[3] Daniels R het verlof om teen sy bevel te appelleer geweier. 'n Petisie aan hierdie Hof is kragtens die bepalings van art 21(3)(c)(ii) van die Hooggeregshofwet 59 van 1959 vir argument na die volle hof verwys met verlof aan die partye om terselfdertyd die appèl te beredeneer ingeval verlof om te appelleer verleen word.


[4] Na hierdie verwikkeling is verlof in die provinsiale afdeling aangevra om ook teen Spoelstra R se beslagleggingsbevel in hoër beroep te gaan. Ondanks die feit dat die bevel net geld totdat ‘n finale bevel toegestaan word en dus nie finaal is nie, is verlof om te appelleer toegestaan. Daar dien dus twee aangeleenthede voor ons: die aansoek om verlof om teen die bevel van Daniels R te appelleer asook ‘n appèl teen die beslagleggingsbevel.


[5] Die appellant voer aan dat die voorlaaigraaf, nieteenstaande die voorbehoud van eiendomsreg deur Daewoo, ingevolge die bepalings van art 84 (1) gelees met art 83(6) van die Insolvensiewet 24 van 1936 ('die Insolvensiewet') nie meer aan Daewoo behoort nie, maar 'n boedelbate onderhewig aan Daewoo se statutêre hipoteek is.


[6] Artikel 84(1) van die Insolvensiewet lui soos volg:


As goed aan iemand (hieronder die skuldenaar genoem) gelewer is ingevolge 'n transaksie wat 'n afbetalingsverkooptransaksie is soos in paragrawe (a) en (b) van die beskrywing van “afbetalingsverkooptransaksie" in artikel 1 van die Wet op Kredietooreenkomste, 1980, beoog, dan word die transaksie by die sekwestrasie van die skuldenaar se boedel geag ten gunste van die ander party tot daardie transaksie (hieronder die skuldeiser genoem) 'n hipoteek op daardie goed te vestig, waardeur die bedrag wat ingevolge die transaksie nog aan hom verskuldig is, verseker word. Die kurator van die skuldenaar se insolvente boedel moet, indien die skuldeiser dit verlang, die goed aan hom oorhandig, en daarop word die skuldeiser geag daardie goed te besit as sekuriteit vir sy vordering en is die bepalings van artikel 83 van toepassing.’


[7] In art 1 van die Wet op Kredietooreenkomste 75 van 1980 (‘die Kredietwet’) word 'n afbetalingsverkooptransaksie omskryf as 'n transaksie ingevolge waarvan-

(a) goedere deur die verkoper aan die koper verkoop word teen betaling deur die koper aan die verkoper van 'n bepaalde of bepaalbare geldsom op 'n bepaalde of bepaalbare toekomstige datum of in die geheel of gedeeltelik in paaiemente oor 'n tydperk in die toekoms; en

(b) die koper nie eienaar van daardie goedere word nie bloot op grond van die lewering aan of die gebruik, besit of genot deur hom daarvan; of

(c) die verkoper geregtig is op die teruggawe van daardie goedere indien die koper in gebreke bly om aan 'n beding van daardie transaksie te voldoen.'


[8] Artikel 84(1) van die Insolvensiewet definieer ‘n afbetalingsverkooptransaksie deur die omskrywing daarvan in paragrawe (a) en (b) van die definisie van afbetalingsverkooptransaksie in art 1 van die Kredietwet te inkorporeer. Volgens die bevinding van Spoelstra R, waaraan Daniels R hom gebonde geag het, beperk hierdie definisie die begrip tot ‘n afbetalingsverkooptransaksie waarop die Kredietwet van toepassing is. Dit beteken dat indien ‘n transaksie vir watter rede ook al nie binne die bepalings van die Kredietwet val nie, dit ook nie aan die bepalings van art 84(1) van die Insolvensiewet onderhewig is nie.


[9] Myns insiens is daar geen ruimte vir so ‘n beperkende uitleg nie. Artikel 84(1) van die Insolvensiewet inkorporeer die begripselemente in paragrawe (a) en (b) van die definisie van afbetalingsverkoopooreenkoms in a 1 van die Kredietwet maar nie dié in paragraaf (c) nie. Klaarblyklik is daar dus afbetalingsverkooptransaksies wat onder die Kredietwet ressorteer, maar wat nie deur die Insolvensiewet getref word nie. Dit was dus nie die bedoeling van die Wetgewer om afbetalingsverkooptransaksies vir doeleindes van die Kredietwet gelyk te stel aan afbetalingsverkooptransaksies vir doeleindes van die Insolvensiewet nie. Dit sou eienaardig wees as dit die bedoeling was. Die Kredietwet is sosiale wetgewing wat kredietbeheer en billikheid teenoor verbruikers beoog. Geen transaksie is aan die Kredietwet onderhewig sonder dat die Minister van Handel en Nywerheid dit by kennisgewing in die Staatskoerant daaraan onderhewig verklaar nie (art 2(1)). Sekere kategorieë transaksies mag glad nie deur die Minister onder die Kredietwet gebring word nie. Iemand wat byvoorbeeld goedere op krediet koop met die uitsluitlike doel om hulle te herverkoop of vir mynbou, ingenieurswese, bouwerk, padbou of ‘n vervaardigingsproses te gebruik, kan nie deur enige kennisgewing van die Minister beskerm word nie (art 2(1)(a)). Die kategorieë goedere en transaksies waarop die Kredietwet van toepassing is, word doelbewus vloeibaar gehou: hulle kan by ministeriële besluit op kort kennisgewing en ter uitvoering van ekonomiese beleid aangepas word. Die Insolvensiewet met sy klem op die billike bereddering van ‘n bankrot skuldenaar se boedel het oogmerke wat nie by hierdie skema inpas nie. Die onvoorspelbaarheid waartoe die respondent se uitleg van art 84(1) van die Insolvensiewet aanleiding sou gee, kan aan die hand van die feite van hierdie saak geïllustreer word. Die voorlaaigraaf wat Nels Diamante aangekoop het, val in die mynboukategorie. Volgens die respondent kan die bepalings van art 84(1) dus nie daarop van toepassing wees nie. As dit egter aangekoop was om te herverkoop of vir, sê nou maar, landboudoeleindes gebruik te word, sou art 84(1) wel daarop van toepassing gemaak kan word. Daar is wat die Insolvensiewet betref geen beleidsoorweging waaraan ek kan dink wat so ‘n willekeurige uitleg sou regverdig nie.

[10] Spoelstra R het gemeen steun vir sy opvatting te vind in die beslissing van hierdie Hof in A-Team Drankwinkel en 'n Ander v Botha en 'n Ander 1994 (1) SA 1 (A). Dáár is beslis dat die Wetgewer bedoel het om die bepalings van art 84(1) van die Insolvensiewet van toepassing te maak op transaksies wat deur die destydse Huurkoopwet beheers is en onder sy opvolger, die Kredietwet, ressorteer het. In die samehang van die kwessies wat in daardie saak ter sprake gekom het, beteken die beslissing slegs dat aangesien ‘n afbetalingsverkooptransaksie in die Kredietwet per definisie slegs die verkoop van liggaamlik roerende goedere omvat, art 84(1) van die Insolvensiewet (wat soos ons gesien het die woordomskrywing van afbetalingsverkooptransaksie inkorporeer) insgelyks nie op die verkoop van onliggaamlike eiendom soos ‘n besigheid van toepassing is nie. So ‘n transaksie voldoen nie aan die omskrywing van ‘n afbetalingsverkooptransaksie in die Kredietwet nie. Die Minister sou nie by magte wees om dit by kennisgewing in die Staatskoerant aan die bepalings van die Kredietwet onderhewig te maak nie.


[11] Die vraag of kontrakte wat onder die vorige kredietbeheerbedeling wel aan die omskrywing van ‘n huurkoopkontrak voldoen het, maar waarop die Wet op Huurkoop nie van toepassing gemaak is nie, binne die trefwydte van art 84(1) van die Insolvensiewet geval het, het heelwat akademiese aandag geniet. In (1973) 36 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 396 op 400 en 403 kom die skrywers, H N Pretorius en J D van der Vyver, in hulle bydrae “Artikel 84 van die Insolvensiewet” tot die gevolgtrekking dat art 84(1) geld vir alle huurkoopkontrakte wat aan die omskrywing van 'n huurkoopkontrak in art 1 van die Wet op Huurkoop beantwoord en nie slegs vir daardie kontrakte waarop die Wet op Huurkoop toepassing vind nie. Eenstemmigheid oor hierdie punt heers ook by Flemming Krediettransaksies 1ste uitgawe 427 en Van der Merwe Sakereg 2de uitgawe 707.


[12] Skrywers wat die Insolvensiewet behandel, verklaar almal dat art 84(1) aanwending vind op transaksies wat aan die omskrywing van ‘n afbetalingsverkooptransaksie voldoen 1 of die bepalings van die Kredietwet daarop van toepassing is of nie.


[13] Dit is dus duidelik dat verlof om te appelleer toegestaan moet word en dat die appèl teen die toestaan van summiere vonnis met koste moet slaag. Dit volg hieruit dat die appellant ook geregtig is op die koste van die aansoek om verlof om te appelleer, beide in hierdie Hof en in die Hof a quo. Op 6 Februarie 2002 moes die verlofaansoek uitgestel word vir ‘n rede wat nie aan een van die partye se nalate te wyte was nie. Hierdie koste moet dus deel van die aansoekkoste vorm.


[14] Wat die bevel vir tussentydse bewaring van die voorlaaigraaf betref, is daar beveel dat koste in die geding moet wees. Daar is dus op hierdie stadium geen finaliteit oor die koste nie. Dit beteken dat sowel die koste- as die substantiewe bevel van ‘n tussentydse aard en dus nie appelleerbaar is nie (Cronshaw and Another v Coin Security Group (Pty) Ltd 1996 (3) SA 686 (A). Die koste van die aansoek vir verlof om teen die tussentydse bevel te appelleer (en die gepaardgaande kondonasie-aansoek) is op bevel van Van der Walt R koste in die appèl gemaak; hulle volg dus die koste op appèl.


Die volgende bevel word verleen -


1. Die appellant se aansoek vir verlof om teen die bevel en uitspraak van Daniels R te appelleer, slaag met koste; die respondent betaal die koste van die verlofaansoek in die hof a quo met inbegrip van die verspilde koste van 6 Februarie 2002 asook die koste van die aansoek aan hierdie Hof;


2. Die appél teen die bevel en uitspraak van Daniels R slaag met koste. Die bevel word tersyde gestel en met die volgende vervang:


a. Die aansoek om summiere vonnis word van die hand gewys en verlof word aan die respondent verleen om die aksie te verdedig;


b. Die koste van die aansoek om summiere vonnis is koste in die geding.’



3. Die appèl teen die tussentydse bevel word met koste van die sakelys geskrap.



-------------------------------------

J H CONRADIE

APPèLREGTER


HOWIE AR )

STREICHER AR ) STEM SAAM

BRAND AR )

HEHER WndeAR )


1 Mars The Law of Insolvency in South Africa 8ste uitg bl 150 – 151; Smith The Law of Insolvency 3de uitg bl 166; Meskin Insolvency Law para 5.21.8.2(b).

▲ To the top