Minister Van Veiligheid En Sekuriteit v Phoebus Apollo Aviation BK (113/2001) [2002] ZASCA 60 (30 May 2002)






Saaknommer : 113/2001

RAPPORTEERBAAR


IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA



In die appèl van



MINISTER VAN VEILIGHEID EN SEKURITEIT Appellant



en



PHOEBUS APOLLO AVIATION BK Respondent



Regbank OLIVIER, FARLAM et BRAND ARR



Verhoordatum : 17 MEI 2002


Datum van Uitspraak : 30 MEI 2002



SAMEVATTING


Onregmatige daad: of Minister van Veiligheid en Sekuriteit middellik aanspreeklik is vir diefstal gepleeg deur drie speurders wat gesteelde geld gaan steel het.


_______________________________________________________


U I T S P R A A K

_______________________________________________________

FARLAM AR

INLEIDING

[1] Die appellant in hierdie saak, die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, appelleer teen ’n uitspraak van Roos R in die Transvaalse Provinsiale Afdeling in ’n aksie waarin die huidige respondent skadevergoeding ten bedrae van R600 000 van die appellant gevorder het. Roos R het die appellant aanspreeklik gehou. Met verlof van die Hof a quo kom die appellant in hoër beroep teen die uitspraak na hierdie Hof.

FEITE

[2] Die relevante feite kan kortliks soos volg opgesom word:

1. Die respondent, die eiser in die Hof a quo, is ’n beslote korporasie, wat aksie ingestel het teen die appellant vir betaling van ’n bedrag van R600 000 wat na bewering deel was van ’n groter bedrag wat van die respondent beroof is.

2. ’n Gewapende roof het plaasgevind op 14 November 1998 toe ’n mnr Delport, die enigste lid van die beslote korporasie, en sy gesin deur gewapende rowers oorval en ’n groot hoeveelheid kontant na bewering R2,4m en ander items gesteel is.

3. ’n Deel van die gesteelde geld is na Tzaneen geneem waar dit in die erf van die vader van twee van die rowers begrawe is. Dit is daar aangebring deur ene Malatji, wat dit van een van die rowers ontvang het.

4. Die roof het binne die jurisdiksiegebied van die Midrandse Polisiestasie plaasgevind. Inspekteur Napo wat aan hierdie polisiestasie verbonde was was, as amptelike ondersoekbeampte vir die saak aangestel.

5. Ooreenkomstig vasgelegde polisiepraktyk, moes enige ander polisiebeampte wat inligting in verband met ’n aangeleentheid wat reeds deur ’n ondersoekbeampte ondersoek word, bekom, dit aan laasgenoemde oordra.

6. Twee speurders verbonde aan die Rosebank polisiestasie, Inspekteur van Jaarsveld en sersant Muhanelwa, en sersant Mnyake, ’n speurder verbonde aan die Alexandra polisiestasie, het inligting gekry in verband met die bogenoemde roof en, meer spesifiek in verband met die geld wat aan die vader van twee van die rowers oorhandig is.

7. Op 14 Januarie 1999 was die drie hierbo genoemde speurders amptelik aan diens tot 16h00 daardie dag en het van ’n amptelike Suid-Afrikaanse Polisiediens voertuig gebruik gemaak. Van Jaarsveld en Muhanelwa se taak was om ’n getuiedagvaarding in Shoshanguve wat ongeveer 20 km noord van Pretoria geleë is, te gaan beteken. Mnyake het geen magtiging gehad om hulle te vergesel nie. Nadat hulle blykbaar die dagvaarding beteken het, en in plaas daarvan om na Rosebank terug te keer, het hulle na Tzaneen, waar ’n deel van die geroofde geld begrawe is, afgesit. Hulle het die amptelike polisievoertuig met brandstof by die polisiestasie te Warmbad, ongeveer 110km noord van Pretoria, hervul.

8. Die lede het geen toestemming of ’n gemagtigde reisplan gehad om verder as Soshanguve met die SAPD voertuig te reis nie en om by die ondersoek van die roof betrokke te wees nie.

9. Op 14 Januarie 1999 het die drie speurders tesame met ene Malatji, wat die geld namens een van die rowers aan laasgenoemdes se vader gegee het, by die vader se woning in Tzaneen opgedaag.

10. Die drie speurders is as polisiebeamptes aan die rowers se vader voorgestel en het hul aanstellingsertifikate aan hom getoon. Hulle het gesê dat die geld gesteel is en dat hulle gekom het om daarop beslag te lê. Hulle het ook vir die rowers se vader gesê dat as hy nie saamwerk nie, hulle die man wat die geld gebring het sou arresteer.

11. Die geld is toe uitgegrawe en hulle is daarmee weg.

12. Geen geld is aan die eiser terugbetaal of by enige polisiestasie ingehandig nie. Die drie speurders het dit vir hulself toegeëin. Hulle het wel later R14 950-00 plus twee $100 note aan die ondersoekbeampte oorhandig – nie as deel van die geld waarop hulle beslaggelê het nie, maar as omkoopgeld om hom te oorreed om ’n saak van diefstal van die gesteelde geld teen hulle te laat vaar.

13. Die aktetas waarin die geld versteek was, is later in die Rosebank SAP kantore gevind.

14. Alhoewel daar geen direkte getuienis was oor die presiese bedrag wat deur die drie oneerlike speurders gesteel is nie, het Inspekteur Napo getuig dat een van die twee rowers aan hom gesê het dat die sak wat aan Malatji oorhandig is op daardie stadium R600 000 plus ’n verdere bedrag in Amerikaanse dollarnote bevat het. MAlatji het ook getuig dat toe die betrokke rower ’n drasak, bevattende die geld, vir hom gegee het, hy gesê het dat daar R600 000 in die sak was.

OPSOMMING VAN UITSPRAAK VAN HOF A QUO

[3] Die verhoorregter het bevind dat twee vrae beantwoording geverg het,

naamlik:

1. Het die drie oneerlike speurders binne hul diensbestek met die appellant opgetree; met ander woorde, was die appellant middellik aanspreeklik vir die diefstal deur hulle gepleeg?

2. Het die respondent die quantum van sy eis teen die appellant bewys?

[4] Die geleerde regter het albei vrae bevestigend geantwoord.

[5] Wat die eerste vraag betref, is die uitspraak hoofsaaklik gefundeer op die bevinding dat die drie oneerlike speurders ‘kennelik besig was’, soos die geleerde regter dit gestel het, ‘met polisiewerk, gedagtig aan die aard van die werk, hul kleredrag, die polisiemotor en die aanstellingsertifikate’. Die verwysing deur die geleerde regter na hul kleredrag as steun vir sy bevinding dat die polisiebeamptes binne die omvang en bestek van hul dienspligte opgetree het, is foutief. Volgens die getuienis het die drie oneerlike polisiemanne privaatklere gedra toe hulle in Tzaneen die geld gesteel het.

[6] Die verhoorregter het na die beslissing van hierdie Hof in Minister of Police v Rabie 1986(1) SA 117(A) verwys en veral na die meerderheiduitspraak gelewer deur Jansen AR waarin die volgende gesê is (op 134C-F):

It seems clear that an act done by a servant solely for his own interests and purposes, although occasioned by his employment, may fall outside the course or scope of his employment, and that in deciding whether an act by the servant does so fall, some reference is to be made to the servant’s intention (cf Estate Van Der Byl v Swanepoel 1927 AD 141 at 150). The test is in this regard subjective. On the other hand, if there is nevertheless a sufficiently close link between the servant’s acts for his own interests and purposes and the business of his master, the master may yet be liable. This is an objective test. And it may be useful to add that according to the Salmond test (cited by Greenberg JA in Feldman (Pty) Ltd v Mall 1945 AD 733 at 774) :

A master ... is liable even for acts which he has not authorised provided that they are so connected with acts which he has authorized that they may rightly be regarded as modes – although improper modes – of doing them.”’


[7] Die verhoorregter het voortgegaan:


Op die feite van die saak waar die polisieman kennelik met polisiewerk besig was, word dit bevind dat die Minister wel middellik aanspreeklik was in daardie saak.’


Op gemelde basis is die huidige appellant aanspreeklik gehou.

BESPREKING

[8] In een van die toonaangewende beslissings van hierdie Hof oor die middellike aanspreeklikheid van ’n werkgewer vir onregmatige dade gepleeg deur sy werknemers, Feldman (Pty) Ltd v Mall 1945 AA 733, het Watermeyer HR die volgende gesê (te 750):

[T]he dividing line which separates acts within the scope of a servant’s employment from those without is one impossible to draw with certainty and in respect of it the words of ANDREWS J, used by him in relation to the subject of proximate cause in the famous Palsgraf case [Palsgraf v Long Island RR] (59 ALR [1253 at] 1262) are very much in point. “We draw”, he said, “an uncertain and wavering line but draw it we must as best we can.”’


In hierdie geval is dit nodig om te beslis op watter kant van daardie onsekere en kronkelende lyn die saak val.

[9] Na my mening was die benadering gevolg deur die verhoorregter nie korrek nie.

[10] Dit sal onthou word dat die verhoorregter die meerderheiduitspraak in die Rabie saak gevolg het, maar ’n aspek van daardie uitspraak, wat oënskynlik deur Roos R oor die hoof gesien is, is die bevinding deur Jansen AR (te 133G-H) dat Van der Westhuizen, die polisieman vir wie se optrede dit beslis is dat die Minister middellik aanspreeklik was, terdeë bedoel het om as ’n polisieman op te tree en dat hy later vir die Afdelingskommissaris vertel het dat hy homself beskou het as synde aan diens tydens die aanranding wat hy teenoor die eiser gepleeg het. In die aangeleentheid tans ter sprake is dit na my mening duidelik dat die drie speurders nooit op enige stadium hulself beskou het as synde aan diens of besig met geoorloofde, amptelike polisiewerk nie. Hul bedoeling was klaarblyklik om die deel van die geld wat van die beslote korporasie gesteel is en naby Tzaneen begrawe is, te gaan steel.

[11] Hoe moeilik dit is om die lyn tussen middellike aanspreeklikheid of nie-aanspreeklikheid te trek in daardie gevalle waarin ’n werknemer oënskynlik in die loop van sy diensbestek willens en wetens bedrieglik handel of ’n ander misdaad pleeg, blyk uit die twee onlangse beslissings van hierdie Hof in Ess Kay Electronics (Pty) Ltd and another v First National Bank of Southern Africa Ltd 2001 (1) SA 1214 (SCA) en Minister van Veiligheid en Sekuriteit v Japmoco Bk h/a Status Motors, saak nommer 502/99, uitspraak gelewer op 21 September 2001, tans nog nie gerapporteer nie.

[12] In Ess Kay Electronics het ene Wildig, wat vir die verweerder, ’n bank, gewerk het, bankwissels vervals, welwetende dat hulle aan die eisers gegee sou word as betaling vir goedere deur die eisers gelewer en dat nadat hulle onteer is, die eisers skade sou ly as gevolg van die feit dat hulle nie betaal sou word nie. Dit is bevind dat alles wat Wildig gedoen het ten opsigte van die wissels wat die eisers mislei het, buite die bestek van sy magtiging en die loop van sy diens met die bank was en dat die bank derhalwe nie aanspreeklik was nie.

Wildig het wisselvorms wat aan die bank behoort het van die bank se persele verwyder en nadat sy vrou, wat in ’n nabye gebou gewerk het, hulle getik het, het hy twee handtekeninge daarop vervals.

Op 1220 H-I het Howie AR, wat die uitspraak van die Hof gelewer het, gesê:

The more a dishonest employee makes use, in committing a wrong during employment, of the trappings of appointment, the facilities of the job and the tools of the trade, the more an unauthorised conduct is going to appear authorised. The essential enquiry is: what shows whether Wildig was acting within or without what was authorised and required by his duties as employee?’


Hy het toe bevind, soos ek gesê het, dat alles wat Wildig gedoen het met betrekking tot die wissels buite sy eintlike magtiging en die loop van sy diens geval het.

[13] Soos te verstane is, het die huidige appellant se advokaat sterk op die uitspraak van hierdie Hof in Ess Kay Electronics gesteun. Maar met net soveel oortuiging het die huidige respondent se advokaat op die uitspraak van hierdie Hof in Japmoco gesteun.

[14] Die Japmoco saak het gehandel oor oneerlike polisiemanne wat motorvoertuigklaringsertifkate uitgereik het wat tot hulle wete vals was, as gevolg waarvan gesteelde voertuie geregistreer is en weer in die handel in omloop gebring is. Die eiser in die saak (Japmoco) was ’n tweedehandse motorhandelaar wat gesteelde voertuie gekoop het in die geloof dat hulle nie gesteel is nie, welke geloof op hierdie valse klaringsertifikate gebaseer was. Japmoco het beweer dat hy skade gely het as gevolg van die feit dat hy dié gesteelde voertuie gekoop het en het in die Transvaalse Provinsiale Afdeling aksie ingestel teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit op die grondslag dat hy middellik aanspreeklik was om skadevergoeding te betaal omdat die oneerlike polisiebeamptes, toe hulle willens en wetens die valse klaringsertifikate uitgereik het, in die loop van die uitvoering van hul werksaamhede as werknemers van die Staat gehandel het. Alhoewel dit duidelik was dat hulle opgetree het tot hul eie voordeel, doeleindes en belange, is in die uitspraak van hierdie Hof, gelewer deur Nienaber AR, bevind dat hulle in hul hoedanigheid as polisiebeamptes opgetree het en dat die Minister gevolglik vir hul doen en late aanspreeklik was.

[15] Nienaber AR het beslis dat die Japmoco-saak onderskeibaar was van Ess Kay Electronics omdat die klaringsertifikate wat in Japmoco uitgereik is vals was maar nie vervals was nie. ’Die beamptes’, het hy gesê, ’was steeds besig met hul opgelegde take.’ (Sien paragraaf [16] van die uitspraak.)

[16] Die lyn tussen Ess Kay en Japmoco is beslis dun. In beide gevalle sou mens kon sê dat die handelinge ten opsigte waarvan die werkgewer gedagvaar word, vals of bedrieglik was – in die eerste geval ’n selfgemaakte vervalsing deur die werknemer, in die tweede geval die uitgifte van sertifikate, wetende dat dit vervalsings was. Is daar ’n beginselverskil? Oor hierdie aspek is die laaste woord seker nog nie gespreek nie. Wat wel soos ’n paal bo water staan, is dat die handeling van die drie oneerlike polisiebeamptes in die onderhawige saak nòg subjektief, nòg objektief beoordeel, binne die omvang en bestek van hul dienspligte geval het nie. Hulle was op ’n ongemagtigde toer vir hul eie voordeel en met die opset om hul eie werkgewer te gaan besteel, want die geld het hom in die eerste instansie toegekom.

[17] In Columbus Joint Venture v ABSA Bank Ltd 2000(2) SA 491(W) op 512H-I het Malan R in ’n vergelykbare feitestel gesê:

What he did was unauthorised and criminal ... He misused his position and defrauded his employer and the bank. None of this had any connection with the duties he was empowered or authorised to perform. It is not a case of an improper execution of his duties : He was not performing his duties at all.’


[18] Hierdie dictum en perspektief op die kwessie van middellike aanspreeklikheid is in die meerderheidsbeslissing van hierdie Hof (per Harms AR) in ABSA Bank Ltd v Bond Equipment (Pretoria) (Pty) Ltd 2001(1) SA 372(SCA) op 383A-D goedgekeur.

[19] Toegepas op die feite in die onderhawige geval volg dit dat die drie oneerlike polisiemanne deur hul dieftige en bedrieglike optrede nie middellike aanspreeklikheid op hul werkgewer kan afwentel nie.

BEVEL

[20] Die volgende bevel word gemaak:

1. Die appél slaag met koste.

2. Die bevel verleen deur die verhoorhof word ter syde gestel en

deur die volgende vervang:

‘Uitspraak vir die verweerder met koste.’

......................

IG FARLAM

APPéLREGTER

STEM SAAM:

OLIVIER AR

BRAND AR

▲ To the top