S v Viljoen (286/2002) [2002] ZASCA 81 (27 August 2002)






RAPPORTEERBAAR


Saaknommer : 286 / 02



DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA



In die appèl van



P N J VILJOEN Appellant



en



DIE STAAT Respondent



Regbank : OLIVIER, NAVSA AND MPATI ARR



Verhoordatum : 21 AUGUSTUS 2002



Datum van Uitspraak : 27 AUGUSTUS 2002



SAMEVATTING


Appèl teen die afwysing van 'n onsuksesvolle borgaansoek in die Hooggeregshof - Art 60 (11) (a) van die Strafproseswet 51 van 1977; bewyslas; aanbevelings oor benaderingswyse tot feite-dispute en oor appèlprosedure.


_____________________________________________________


U I T S P R A A K

_____________________________________________________


P J J OLIVIER

OLIVIER AR

[1] Die appellant, 'n 28-jarige man, het tot en met die afsterwe van sy eggenote ('die oorledene') op 'n hoewe te Haakdoringboom, Wonderboom, in die Pretoria distrik, gewoon. Sy is in die oggendure van 10 April 2001 op barbaarse wyse vermoor, deurdat haar keel met 'n skerp voorwerp afgesny is. Die presiese tyd van haar dood is in geskil. Wat nie in geskil is nie, is dat sy ten tye van haar oorlye ongeveer vyf maande swanger was en dat die appellant die vorige aand tot ongeveer 20:30 by 'n prostituut deurgebring het.

[2] Appellant is op 29 Augustus 2001 te Pretoria gearresteer en later van moord op sy eggenote aangekla.

[3] Op 31 Augustus 2001 is die appellant voor die landdroshof gebring. 'n Klag dat hy sy eggenote vermoor het, is aan hom gestel en hy het skuldig gepleit. 'n Ondervraging in terme van art 112 (1) (b) van die Strafproseswet, 51 van 1977, ('die Wet') is gehou, die tersake deel waarvan soos volg lees :

'V. [Die landdros] Erken u dat die oorledene dood is as gevolg van die wonde wat u haar toegedien het?

A. Ja

V. Hoekom het u die oorledene gedood?

A. Ek het die vooraf beplan dat ek haar gaan dood maak. Ek het 'n venster gebreek en in die huis ingeklim. Terwyl die oorledene slaap het ek haar wakker gemaak en vir haar gesê staan op. Ek het haar mond toegedruk tot by die kamerdeur geloop met 'n mes in my hand dit was 'n nutmes gewees en ek het toe haar keel afgesny. Ek het toe weer deur die venster geklim en toe werk toe gery. Ek weet nie hoekom het ek dit gedoen nie.

V. Het u geweet die oorledene is swanger?

A. Ja ek het dit geweet.

V. Het u geweet u tree verkeerd op toe u so opgetree het?

A. Ja.

V. Het u inderdaad geweet toe u die daad pleeg dat u 'n misdryf pleeg?

A. Ja.

V. Het die voorval plaasgevind op 10/4/2001 en te of naby Plot 40 Haakdoringboom in die distrik van Wonderboom?

A. Ja.


Hof is dan oortuig dat die beskuldigde al die elemente van die misdryf en die bewerings in die klagstaat erken.


Verrigtinge gestaak in afwagting van die opdrag van die DOV.' [Direkteur van Opbenbare Vervolging]



[4] Op dieselfde dag het die appellant 'n borgaansoek geloods voor dieselfde landdros wat die pleitverrigtinge hanteer het. Nadat die bewyslas wat op hom rus, aan hom verduidelik is, het appellant oa gesê :

HOF: Dit is nou met betrekking tot borg. Wat wil u vir die hof sê? ---Ek wil net sê ek is jammer wat ek gedoen het. Dit was verkeerd wat ek gedoen het. Ek was nie by my self gewees nie. Ek wou dit nie eintlik beplan het nie, maar ek weet ek het dit gedoen. Ek en sy, ons het 'n toekoms gehad. Ons sou saam iewers heen gegaan het. Ek weet nie hoekom nie.

U moet nou net mooi vir my sê, u sê nou nie u het nie geweet wat u doen nie. --- Ja.

U sê u het goed geweet wat u doen. --- Ja.

Maar u weet net nie hoekom het u dit gedoen nie? --- Ja.

Is dit korrek? --- Ja.'



[5] Die hof het ook die getuienis van Kaptein Fabricius, die ondersoebeampte in die saak, aangehoor. Aan die einde van die verhoor het die landdros beslis dat daar geen buitengewone omstandighede voor die hof geplaas is nie, en is die aansoek geweier.

[6] Die aangeleentheid is na die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof oorgeplaas vir verhoor. Die verhoor was geplaas vir 26 Februarie 2002, maar die aangeleentheid is uitgestel na 8 Maart 2001 vir die aanhoor van 'n borgaansoek.

[7] Op gemelde dag is die borgaansoek deur Stegmann R verhoor. Ook hy het, soos die landdros, beslis dat die appellant hom nie van sy wetlik opgelegde bewyslas gekwyt het nie. Die huidige verrigtinge is 'n appèl teen gemelde beslissing.

[8] Dit moet vermeld word dat die verhoor geplaas is in die Transvaalse Provinsiale Afdeling om 'n aanvang te neem op 26 Augustus 2002, dit wil sê vyf dae vanaf die datum van die verhoor van die appèl.

[9] Die aansoek voor die hof a quo is aanhangig gemaak kragtens art 60 van die Wet. Dit is gemeensaak dat die beskuldigde aangekla staan van 'n misdaad soos bedoel in Bylae 6 van die Wet, nl moord, waar dit beplan of met voorbedagte rade gepleeg is. In so 'n geval geld art 60 11 (a) van die Wet, wat soos volg lees :

'(11) Ondanks enige bepaling van hierdie Wet, waar 'n beskuldigde aangekla word van 'n misdryf bedoel in -

(a) Bylae 6, moet die hof gelas dat die beskuldigde in bewaring aangehou word totdat daar met hom of haar ooreenkomstig die reg gehandel is, tensy die beskuldigde, nadat hy of sy 'n redelike geleentheid daartoe gebied is om dit te doen, getuienis aanbied wat die hof oortuig dat daar buitengewone omstandighede bestaan wat sy of haar vrylating in die belang van geregtigheid veroorloof;'



[10] Artikel 60 van die Wet vind sy grondslag in art 35 (1) (f) van die Grondwet, en art 60 (11) het reeds die toets van grondwetlike geldigheid geslaag (sien S v Dlamini; S v Dladla and Others; S v Joubert; S v Schietekat 1999 (4) SA 623 (KH); 1999 (2) SASV 51 (KH). Die bepalings van art 60 (11) verskil wesenlik van dié van art 60 (4) - (9); dit doen meer as om net die voormalige borgtogbepalings te herhaal of te herformuleer (sien par [64] van S v Dlamini et al). Nogtans het die Konstitusionele Hof verklaar dat deur die toets van buitengewone omstandighede te stel, art 60 (11) (a)

' ... does not say they must be circumstances above and beyond and generically different from those enumerated [in ss (4) - (9)].'


(Sien par [76] van S v Dlamini et al.)

[11] Dit is gevestigde reg om ook in gevalle waar art 60 (11) (a) van toepassing is, maw afgesien van die waarskynlikheid dat die beskuldigde sal poog om sy verhoor te ontduik, die sterkte van die Staat se saak relevantheid te gee onder die rubriek van buitengewone omstandighede.

[12] Die eerste beslissing na die1998 - wysigings aan die Wet waarin die betekenis van 'buitengewone omstandighede' in die konteks van die sterkte van die Staat se saak behandel was, is S v Jonas 1998 (2) SASV 677 (SOK; per Horn Wnde R). In die betrokke saak het die appellant onbetwiste getuienis aangevoer waarin hy die klag teen hom ontken en getuienis aangebied het van 'n alibi wat, indien bewys, sou aantoon dat hy nie die misdaad hom ten laste gelê kon gepleeg het nie (sien 679 b van die verslag). Die Staat het geen weerleggende getuienis aangebied nie. Die hof het bevind dat die sterkte van die Staat se saak per se 'n buitengewone omstandigheid soos bedoel in art 60 (11) (a) kan wees.

'The term "exceptional circumstances" is not defined. There can be as many circumstances which are exceptional as the term in essence implies. An urgent serious medical operation necessitating the accused's absence is one that springs to mind. A terminal illness may be another. It would be futile to attempt to provide a list of possibilities which will constitute such exceptional circumstances. To my mind, to incarcerate an innocent person for an offence which he did not commit could also be viewed as an exceptional circumstance. Where a man is charged with a commission of a Schedule 6 offence when everything points to the fact that he could not have committed the offence because, eg he has a cast-iron alibi, this would likewise constitute an exceptional circumstance.' (Op 678 e - g)



(Sien egter oor die quantum van bewys S v Botha en 'n Ander 2002 (1) SASV 222 (HHA) par [21] die opmerking van Vivier Wnde AHR en sien infra.)

Voorts is bevind dat indien die beskuldigde verontskuldigende getuienis aanbied, die Staat, indien hy die aansoek met sukses wil opponeer, weerleggende getuienis moet aanbied (sien 679 e - h).

[13] S v Jonas, supra, is gevolg in S v Mauk 1999 (2) SASV 479 (W). Die beskuldigde, gestaaf deur die getuienis van 'n ander, het ontken dat hy 'n jong dogtertjie onsedelik aangerand en verkrag het. Die Staat het die beskuldigde se bewering nie met weersprekende getuienis weerlê nie. Die landdros het borgtog geweier. Die appèl voor Snyders R teen dié bevel slaag. Die geleerde regter verwys met goedkeuring na S v Jonas, supra, en beslis voorts dat die bewyslas wat op die beskuldigde rus, nie vereis dat hy moet bewys dat die Staat 'n buitengewone swak saak het nie en dat die bewysmaatstaf nie verhef moet word bo dié van 'n oorwig van waarskynlikhede nie (op 486 i - j).

[14] Sterk, onafhanklike getuienis aanduidend van die beskuldigde se onskuld (in casu 'n gestaafde alibi) is in S v Mohammed 1999 (2) SASV 507 (K) deur Comrie R in 'n beredeneerde beslissing as buitengewone omstandighede soos bedoel in art 60 (11) (a) van die Wet aanvaar (sien 517 i - j).

[15] Die bogemelde lyn van denke is voortgesit in S v Yanta 2000 (1) SASV 237 (Tk) op 247 b - c; S v Josephs 2001 (1) SACR 659 (K) op 667 a - g en S v Siwela 1999 (2) SASV 685 (W) op 704 d. In hierdie Hof in S v Botha en 'n Ander 2002 (1) SASV 222 (HHA) par [21] is die bewysmaatstaf soos volg gestel : bewys deur 'n beskuldigde dat hy waarskynlik onskuldig bevind sal word, sou wel as 'buitengewone omstandighede' kon dien.

[16] Die vraag voor ons is dus slegs of die appellant hom in die hof a quo van hierdie bewyslas gekwyt het.

[17] Die Staatsaak soos voorgehou by die verhoor van die borgaansoek berus op die volgende getuienis teen die appellant :

17.1 Die pleit van skuldig.

17.2 Die pleitverduideliking.

17.3 Die erkennings deur die appellant gemaak tydens die borg-verrigtinge voor die landdros.

17.4 'n Bekentenis afgelê deur die appellant op 29 Augustus 2001. Hierdie bekentenis is afgelê in die loop van 'n waarskuwingsverklaring, die relevante dele waarvan soos volg lees:

'Laat ek jou eers vertel wat het gebeur voordat ek die plek vir mnr gaan wys. Ek staan in die oggende gewoonlik so 04:45 op en maak klaar om werk toe te gaan.


Om ongeveer 05:20 sê ek vir my vrou koebaai en die oggend het ek dit vir haar gesê.

So 05:25 en 05:30 dan ry ek weg werk toe. Ek het tot by die boonste plot gery en oorkant die straat gestop. Ek het toe afgeloop na die huis. By die huis aangekom het ek deur die venster geklim. Vr. Wie se huis is dit? Dit is my huis ek huur hom by my pa. Ek het my vrou toe alleen in die bed gekry en haar keel afgesny.

Polisie-beampte: Stop ... mnr Viljoen. Deel hom mee dat wat hy nou doen 'n bekentenis is, verduidelik aan hom die implikasies van 'n bekentenis. Deel hom ook mee dat ek hom na 'n Landdros kan laat gaan om die verklaring daar te gaan aflê, Maar indien hy wil hy voor my ook kan voortgaan. Sy antwoord is.

Beskuldigde: Nee dit is reg ek wil voor jou voortgaan sodat alles afgehandel kry. Die oggend toe ek wegry werk toe wil ek die mes uit die toolbox by die huis gehaal, in my bakkie gesit, gery en gestop en toe ek uitklim en na my huis loop het ek die mes uit die bakkie gehaal, in my bakkie gesit, gery en gestap en toe ek uitklim en an my huis loop het ek die mes uit die bakkie gehaal en saam met my geneem. Vr. Hoekom het jy die mes saamgeneem? Ek weet nie, Ek was net blank gewees. Ek was nie by my volle bewussyn gewees nie. Ek weet nie. Vr. Was jy onder die inlvoed van enige drank of dwelms of iets? Nee. Ek het my vrou toe op die grond neergelê, dit was in ons slaapkamer. Ek het toe weer deur die venster waar ek ingeklim het uigeklim na my bakkie gegaan en werk toe gery. Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie. Tot vandagtoe weet ek nie hoekom ek dit gedoen het nie. Dit is al wat ek wil sê. Ons kan nou maar ry.'



17.5 Uitwysings gemaak deur die appellant op dieselfde dag. Die notule van dié uitwysings lees soos volg:

'14:17 Vertrek vanaf Moord en Roof Pretoria. Vr. Waarheen moet ons gaan? A. Moet ons eers gaan waar ek die goed weggegooi het of na die huis. Vr. Dit maak nie saak waarheen jy my wil neem nie. A. Ons gaan dan eers na die huis te Onderstepoort Plot 40. Mnr kan ry na Onderstepoort pad.


14:35 Ry met Onderstepoortpad - Waarheen nou? A. Ry net reguit aan.


14:43 Deel mee om nie te draai na regs by 'n Plot 40 waar staan Panelbeaters and Spray Painting (foto 5). Word geneem. Verdagte deel mee om te stop by woning. Verdagte wys aan my venster van woning aan die suidekant van woning. Vr. Wat het hier gebeur? A. Ek het die venster oopgemaak en toegang verkry tot die woning. Ek het ook weer by die venter uitgeklim. Die kamervenster was oop gewees toe ek hier gekom het. Foto 6 word geneem.


Verdagte stoot woning oop neem my die huis binne. Wys aan my die hoofslaapkamer uit. Vr. Wat het toe gebeur. A. Dit is waar ek my vrou op die bed gekry het en haar keel afgesny het. Foto 7 word geneem. Verdagte wys aan my die kamer uit. Naby deur van die kamer. Vr. Wat het hier gebeur. A. Ek het haar hier neergelê. Foto 8 word geneem.


Verdagte wys aan my venster en ander kamer uit. Vr. Wat het hier gebeur. A. Dit is die venster waar ek in gekom het en waar ek weer uit is.


Vr. Is die - (pen droog op) nog iets wat jy vir my wil wys. A. Ons is klaar hier ek sal jou gaan wys waar ek die mes en skoene weggegooi het. Vra fotograaf om foto van huis te neem. Foto 9 word geneem.


14:57 Klaar by woning. Vr. Waarheen moet ek nou ry. A. Jy moet ry na Rosslyn. Draai regs uit plot links uit Hebronpad. Km 107847 pad word aangewys deur verdagte. Draai regs met R80 (Pretoria) Km 107853. Draai links vanaf Mabopane hoofweg op R566 Rosslyn KM 107858. Draai regs met R566 Rosslyn Km 107859. Draai regs met Ketshofstraat Km 107862. Draai links met Hilliumstraat Km 107863. Deel mee om by 2de lamppaal te stop. Stop die veld in 20 tree tot waar bome afgekap is. Vr. Wat het hier gebeur. A. Ek het die my skoen wat vol bloed was en die mes wat ek gebruik het hier weggegooi. Foto 10 word geneem.


Wys perseel uit waar hy werksaam is. Foto 11 word geneem.


Dit is al wat ek wil wys. Ons kan teruggaan. Waarneming (deur polisie-beampte). Veld het gebrand wat verdagte uitwys'



17.6 'n Erkenning gemaak deur die appellant dat hy sy eggenote om die lewe gebring het en wel aan sy vader in die teenwoordigheid van kaptein Fabricius op 29 Augustus 2001, in laasgenoemde se motor.

17.7 'n Beëdigde verklaring deur die appellant se prokureur waarin hy meedeel dat appellant se moeder hom meegedeel het dat die appellant, op 'n vraag van haar, haar meegedeel het dat hy nie die dienste van 'n prokureur wil benut nie.

[18] In die verrigtinge voor die landdros het die appellant nie alleen skuldig gepleit, die genoemde pleitverduideling verstrek en getuienis waarin hy die moord beken het, afgelê nie, maar geensins aangevoer dat hy deur die polisie aangerand is of gedwing of gedreig is om skuldig te pleit nie. In die verrigtinge voor Stegmann R was dit egter sy saak dat hy aldus aangerand en gedreig was en dat hy inderdaad nooit opgetree het soos in sy bekentenis beweer is nie en soos wat hy gepleit het nie. Sy getuienis in hierdie verband lees soos volg :

'16

Op 29 Augustus 2001 het ek 'n oproep by my werk ontvang vanaf die Ondersoekbeampte. Hy was by die hoofhek van my werk en het my versoek om daarheen te gaan. Ek is toe versoek om hulle te vergesel na sy kantoor.

17

17.1 Ek is in sy kantoor deur 'n aantal mans aangerand en met die dood gedreig om te erken dat ek my vrou vermoor het. Hulle het my vasgemaak en 'n rubber handskoen oor my kop getrek sodat ek nie kon asem kry nie. Hulle wou van my weet wat ek met die moordwapen en my klere gedoen het. Ek het vir my lewe gevrees en het bloot om hierdie marteling vry te spring erken dat ek my vrou vermoor het. Ek het aangedui dat ek vir hulle sou gaan wys het waar ek die goed weggegooi het. Ek het 'n Polisiebeampte na 'n oop veld oorkant my werksperseel geneem alhoewel ek geweet het dat daar niks gevind sou word nie. Ek het hom ook na ons huis geneem. Ek het ook aan hom 'n weergawe verskaf van hoe ek die beweerde moord sou gepleeg het.


17.2 Alhoewel ek geweet het dat hierdie weergawe nie waar was nie, het ek dit as die enigste uitweg beskou om verdere marteling vry te spring.


17.3 Die Polisiebeampte aan wie ek die veld oorkant my werk gaan uitwys het, het my ook genooi om weg te hardloop sodat hy my kon skiet.


17.4 Nadat ek hierdie sogenaamde erkennings gemaak het, het die Ondersoekbeampte my beveel om in die hof skuldig te pleit. Hy het my duidelik laat verstaan dat indien ek iets anders in die hof sou sê, ek weer gemartel sou word soos die dag tydens my arrestasie.'


[19] Die Staat het in die borgverrigtinge in die hof a quo geen direkte getuienis ter weerlegging van die appellant se bewerings dat hy aangerand of gedreig is, aangebied nie. Wat die Staat wel gedoen het, is om te steun op die vorige verklarings van die appellant self waarin hy telkens verklaar het dat hy nie aangerand of gedreig is nie. Hierdie verklarings was voor die hof a quo deur die appellant gelê as deel van die aanhangsels tot sy eedsverklaring en is deur beide kante ontleed en behandel. Die verklarings is die volgende :

19.1 Voor die toepassing van die bepalings van artikel 112 (1) (b) van die Wet en nadat die appellant skuldig gepleit het, het die voorsittende landdros die volgende aan die appellant gesê en gevra :

'U het 'n pleit van skuldig aangebied. U sal nou ondervra word om te bepaal of u al die wesenlike elemente van die misdryf begryp en verstaan en of u dit vrywillig erken.


V. Verstaan u die uiteensetting wat aan u gegee is?

A. Ja.

V. Verstaan u die aanklag waarop u skuldig gepleit het?

A. Ja.

V. Het u vrywilliglik skuldig gepleit sonder enige dwang of onbehoorlike beïnvloeding?

A. Ja.'


19.2 Appellant het op geen stadium teenoor die landdros gekla dat hy aangerand, gedwing of gedreig was nie.

19.3 Nadat Senior Superintendent Viljoen die appellant geneem het om die uitwysings te doen op 29 Augustus 2001, het die appellant 'n dokument onderteken waarin die volgende vrae en antwoorde voorkom :

'10

Is u deur enige persoon aangerand, gedreig of beïnvloed om die aanwysings van die toneel (tonele) en/of punt(e) te doen?


Nee ek is nie aangerand nie.


11

Het u enige beserings of kneusings van welke aard ookal?

Indien dit vertoonbaar is wys dit asseblief aan my.


Nee.


12

Vertel aan my hoe u die beserings opgedoen het.


Rooi om gewrigte. Vra wat het gebeur.


Dit is die handboeie wat styf om my arms was.


Vra fotograaf om fotos te neem van verdagte. Fotos 1 tot 4 word geneem.


13

Noudat dit blyk dat die aanwyser:

1 By sy volle positiewe is;

2 Nie onbehoorlik daartoe beïnvloed is nie die bepalings van Artikel 35 van Wet 108 / 96 verstaan, en

3 Vrywillig en ongedwonge 'n uitwysing wil maak, word hy meegedeel dat hy nou kan voortgaan en die volgende word genotuleer.'



19.4 Op 30 Augustus 2001 het die appellant 'n waarskuwingsverklaring onderteken waarin hy sy vorige bekentenis bevestig waarin die volgende voorkom :

'VRAAG: Is u op enige wyse aangerand, gedreig of voorgesê?

ANTWOORD: Nee.

VRAAG: Indien wel deur wie, wanneer en waar?

ANTWOORD: n. v. t.

VRAAG: Het die feit dat u aangerand of gedreig of voorgesê is enige invloed op die aflegging van hierdie verklaring/beantwoording van die vrae?

ANTWOORD: Nee.

VRAAG: Het u enige beserings van watter aard ook aan u liggam? (Beampte moet ook eie waarneming maak en aanteken)

ANTWOORD: Geen.

(Indien JA, versoek die verklaarder om sy/haar beserings aan u te wys. Teken die beserings aan, indien die verdagte toestemming daartoe verleen. Indien die verdagte NEE antwoord, moet u steeds u eie waarnemings van beserings aanteken.


Geen.'



19.5 Die bewyslas wat op die appellant in die onderhawige saak rus, verg van hom om op 'n oorwig van waarskynlike oortuiging te bring dat sy bekentenis, pleit van skuldig, pleitverduideliking en getuienis by die borgverrigtinge voor die landdros, by die verhoor van alle krag ontneem sal word weens die beweerde onvrywllige en gedwonge aard daarvan. Ek meen dat die hof a quo tereg bevind het dat hy hom nie van hierdie bewyslas gekwyt het nie. Ek wys op die volgende faktore :

(a) Die appellant was tydens sy arrestasie en die beweerde aanrandings byna 27 jaar oud en het sy hoërskoolloopbaan voltooi met 'n weeklikse inkomste van tussen R1 500 en R2 000. Hy was toe al byna 3 jaar getroud. Hy is dus nie 'n kind of ongeleerde of onervare persoon nie.

(b) Sy vader en moeder was baie gou na sy arrestasie by hom. As hy aangerand was, sou hy sekerlik teenoor hulle gekla het. Hy doen dit nie; inteendeel beken hy sy skuld teenoor sy vader en deel sy moeder mee dat hy nie regsverteenwoordiging verlang nie.

(c) Hy kla nie teenoor die landdros nie.

(d) Die bewerings oor die aanrandings is vaag en onoortuigend. Die persone wat hom aangerand het, word nie geïdentifiseer nie.

(e) Die weergawe wat hy verskaf het aan die polisie en in die landdroshof strook in breë trekke met die wyse waarop sy eggenote om die lewe gebring is, nl, dat hy haar orent gehou het en haar keel met 'n mes afgesny het.

(f) Op die waarskynlikhede bestaan daar 'n motief waarom die appellant sy eggenote om die lewe gebring het. Hy het nie alleen die betrokke prostituut die aand voor sy eggenote se dood besoek nie, maar ook die aand van die dag waarop sy begrawe is, en, blykens haar verklaring, ook op verskeie ander geleenthede. Sy was 'n ou skoolvriendin.

(g) Daar is niks uit die huis waarin die appellant en sy eggenote gewoon het en sy om die lewe gebring is, gesteel nie. Geen motief of rede is aangetoon waarom enige ander persoon haar sou vermoor het sonder om enigiets te steel nie.

[20] Benewens sy onsuksesvolle pogings om sy vorige inkriminerende handelinge nou te ontsenu, het die appellant ook op 'n ander manier gepoog om aan te toon dat die Staat se saak nie steek hou nie, nl deur hom te verlaat op 'n alibi, te wete dat hy sy huis op die oggend van 10 April 2001 om 05:30 verlaat het, toe hy sy eggenote gegroet en R50,00 aan haar gegee het. Hy het om 05:55 by sy werk opgedaag en is om 08:15 huis toe ontbied, waar hy van sy eggenote se oorlye verneem het. Hy het gepoog om sy aankomstyd by die werk te staaf met 'n verklaring van ene Struwig, 'n medewerknemer wat beskryf word as 'security investigator' en as iemand wat toegang tot rekenaarsisteme en lêers het. Uit sekere 'entries' verklaar Struwig dan :

'Mr Viljoen entered the premises at the Vehicle Distribution Centre BMW SA in Rosslyn at 05:55 and reported for work. This time correspond with all other access times recorded by Mr Viljoen for previous periods.'



Die verklaring is niksseggend. Dit bevestig nie dat Struwig uit eie kennis en waarneming kan getuig oor wanneer die appellant by die werk opgedaag het nie. Die verklaring verwys glad nie eers na 'n bepaalde datum nie. Dit bevestig ook nie dat, sou die appellant op die betrokke dag wel om 05:55 by die werk was, hy dit nie daarna verlaat het nie. Die rytyd van sy huis na die werk en omgekeerd is volgens die appellant self ongeveer 20 minute.

[21] Dit laat die vraag ontstaan hoe laat die verwonding van die oorledene plaasgevind het. In hierdie verband het die appellant 'n verklaring van Dr Dada, 'n forensiese deskundige, voorgelê. Dit help die appellant geensins. Dr Dada het nie die post-mortem ondersoek gedoen nie en moet oor die basiese feite, soos die temperatuur van die liggaam van die oorledene toe die post-mortem gedoen is en die ambiënte temperatuur in die huis spekuleer. Hy doen twee teorieë aan die hand. Volgens een metode het die oorledene tussen 04:00 en 06:00 op die betrokke oggend gesterf. Op die appellant se getuienis was hy in daardie periode tuis.

[22] Volgens die ander metode bereken het die verwonding plaasgevind tussen 06:30 en 07:30 die betrokke oggend, ' ... if it is accepted that the deceased was alive at 07h30'. Die getuienis om laasgemelde veronderstelling te bevestig is, om die minste te sê, nie indrukwekkend nie. Hoe dit ook al sy, in die afwesigheid van oortuigende getuienis dat die oorledene in daardie periode onafgebroke by die werk was, is die alibi verweer ook nie op die waarskynlikhede bewys nie.

[23] Ek meen dus dat die appellant hom nie op 'n oorwig van waarskynlikhede van die opgelegde bewyslas gekwyt het nie.

[24] Daar is twee algemene aspekte wat in verband met borgaansoeke en -appèlle kommentaar verdien.

[25] Die eerste is die kritiek wat in die onderhawige appèl teen die geleerde regter a quo deur die appellant se regsverteenwoordigers uitgespreek is omdat hy, ten aansien van die appellant se bewerings dat hy deur polisie-beamptes aangerand is, gesê het dat dit 'n kwessie is wat beter deur die verhoorhof bereg kan word. Dit is wel so dat in sommige van die hierbo genoemde uitsprake (sien veral S v Jonas, supra, en S v Mauk, supra,) gesê is dat waar in 'n bestrede borgaansoek die beskuldigde feite aanvoer wat prima facie op sy of haar onskuld mag dui, die Staat nie bloot kan terugsit en geen weerlegging aanvoer nie. Dit volg uit die gewone en welbekende bewysregtelike beginsels betreffende die weerlegging van 'n prima facie-saak. Ek wil egter twee voorbehoude op hierdie uitgangspunt in borgaansoeke noteer. Die eerste is dat waar 'n beskuldigde wat met inagneming van dit wat reeds op rekord is, nie eers 'n prima facie-saak kan uitmaak nie, daar geen plig op die Staat rus om weerleggende getuienis aan te voer nie. Die tweede, en meer belangrike, voorbehoud is dat daarteen gewaak moet word om van elke borgaansoek 'n uitgerekte verhoor vóór die strafverhoor te maak. Neem as voorbeeld die onderhawige geval, waar daar herhaalde verklarings van die appellant was dat hy wel sy eggenote vermoor het en dit nou probeer ontsenu deur aan te voer dat hy deur polisie-beamptes aangerand en gedwing was om dit te doen. Moet, op die borgstadium, die beskuldigde viva voce-getuienis aflê wat deur viva voce weerleggende getuienis van een of meer polisie-beamptes weerlê moet word? Dieselfde toneel sal hom, binne korter of langer tyd, voor die verhoorhof afspeel. Kon dit ooit die bedoeling van die wetgewer gewees het dat borgaansoeke 'n volle kleedrepetisie van die verhoor moet wees? Ek betwyfel dit ten sterkste. Ek sou dus oordeel dat die verhoor van borgaansoeke binne redelike perke gehou moet word onderhewig aan die bepalings van die Wet en die regte van die beskuldigde.

[26] Tweedens is daar die kwessie van borgappèlle na hierdie Hof. Soos in die huidige geval, is so 'n appèl meestal op feite en afleidings daaruit gebaseer en behels nie enige regsvrae nie. So 'n appèl vanaf die uitspraak van 'n regter van die Hooggeregshof, as hof van eerste instansie, kan veel sneller en goedkoper deur die betrokke volle bank afgehandel word. Daar is tans nie 'n meganisme waarvolgens sodanige appèlle na die volle bank van die Hooggeregshof gekanaliseer kan word nie. Ek doen aan die hand dat die Departement van Justisie dringend aandag aan hierdie aspek skenk.

[27] Die appèl word van die hand gewys.


P J J OLIVIER AR

SAMESTEMMEND


NAVSA AR

MPATI AR


▲ To the top

Cited documents 0

Documents citing this one 1

Judgment 1
  1. Banger v S (195/2015) [2015] ZASCA 79 (28 May 2015)