Stadsraad van Alberton v Briti BK (138/2002) [2003] ZASCA 23 (26 March 2003)
























HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN SUID-AFRIKA



RAPPORTEERBAAR

Saaknommer: 138/02


In die saak tussen


STADSRAAD VAN ALBERTON APPELLANT


en



BRITI BK RESPONDENT








Coram: MARAIS, STREICHER, CONRADIE, CLOETE en LEWIS ARR


VERHOOR: 10 MAART 2003


GELEWER: 26 MAART 2003


OPSOMMING: Wet op Minerale 50 van 1991 - uitgrawing - herwinning van mineraal - klei - betekenis van 'myn'


_____________________________________________________________________


UITSPRAAK

__________________________________________________________________


CONRADIE AR:

[1] Die respondent, 'n vervaardiger van dak- en vloerteëls, beweer dat hy die slagoffer was van oorstromings wat die appellant, 'n plaaslike owerheid, op sy perseel veroorsaak het deur op nalatige wyse vloedwater daarheen af te voer.

[2] Die respondent se vervaardigingsaanleg is van klei voorsien uit 'n oopgroefmyn op dieselfde perseel. Een van die kleigroewe op die perseel, groef C, die enigste ter sake een, is die eerste keer in die reënseisoen van 1995 - 1996 oorstroom. Die groef het vol water gebly tot November 1999 toe dit ingevolge 'n ooreenkoms met die appellant leeggepomp is. Die verligting was van korte duur. In Februarie van die volgende jaar is die kleigroef weer oorstroom. Eers in Mei 2001 is dit deur die respondent uitgepomp nadat die appellant 'n nuwe stormwaterdreineringstelsel laat installeer het wat ten doel gehad het om verdere oorstroming uit te skakel.

[3] Luidens die vorderingsbesonderhede het die oorstroming die teëlvervaardigingsbedryf van die respondent op twee maniere nadelig getref. Eerstens, het 'n hoeveelheid klei in groef C geberg ontoeganklik geword; om hiervoor te vergoed, moes die respondent klei (van 'n laer gehalte) inkoop om produksie te kon handhaaf. Tweedens, het die watervlak op die respondent se perseel so dramaties gestyg dat die verhoogde voggehalte in die nabygeleë hoogoondvloere oormatige stoom tot gevolg gehad het en so die bak van teëls belemmer het. Die gevorderde skadevergoeding vir die respondent se verliese is die verskil vir die jare 1998, 1999, 2000 en 2001 tussen die wins wat hy beweer hy sou behaal het as dit nie vir die oorstromings was nie en die sterk verminderde wins wat hy inderdaad vir die betrokke jare behaal het.

[4] Die partye het by 'n voorverhoorkonferensie ooreengekom dat voorlopig net sekere van die geskilpunte tussen hulle op 'n afsonderlike verhoor kragtens die bepalings van reël 33(4) van die Eenvormige Hofreëls beslis word. Die hof a quo (Jordaan Wn R) het aan hulle versoek gehoor gegee. Die geskilpunte was of die respondent, as dit nie vir die oorstroming van kleigroef C was nie, klei daaruit sou ontgin het, of sodanige ontginning sonder die nodige magtiging sou geskied het, en of die ongemagtigde ontginning van die klei die verhaal van skadevergoeding vir die respondent se produksieverliese regtens ontoelaatbaar gemaak het.

[5] Die Hof a quo het die respondent by die beregting van wat die Hof as 'n spesiale pleit beskou het, gelyk gegee en 'n bevel uitgereik dat die 'spesiale pleit' van die hand gewys word. Ofskoon die verwere heeltemal los staan van die onregmatigheid van die appellant se optrede wat na bewering die respondent se skade veroorsaak het, is dit waarskynlik nie 'n spesiale pleit in die regstegniese sin nie. Die karakterisering van die pleit is egter onbelangrik en verdien geen verdere vermelding nie.

[6] Die partye is gevra om betoë oor die appelleerbaarheid van die hof a quo se bevel voor te lê. Hulle was dit eens dat die bevel appelleerbaar is. Ek stem saam en grond my beslissing op wat daar in Van Streepen en Germs (Pty) Ltd v Transvaal Provincial Administration 1987 (4) SA 569 (A) op 585F - H gesê is:

'Where, however, the question relates to a question of law or fact which, if decided in a particular way would be decisive of the case as a whole or of a substantial portion of the relief claimed, then a somewhat different position arises, and indeed in that event the advantages of expense and convenience may favour a final determination of the question on appeal, even though the proceedings in the Court a quo may not have been concluded. The advantages of having such a question of law or fact determined by the Court of first instance as a separate, preliminary issue are recognised by the provisions of rule 33(4).'

In die huidige geval was dit doelmatig en koste-effektief om die gemelde geskilpunte by wyse van 'n afsonderlike verhoor aan te spreek.

[7] Die respondent se lid, mnr Jurie Potgieter, was die enigste getuie. Hy verklaar dat die respondent, as deel van die bates van die onderneming wat hy by Corobrick gekoop het, 'n groot hoeveelheid reeds ontginde klei oorgeneem het wat jare lank aan die behoeftes van die vervaardigingsaanleg sou voldoen. 'n Deel van hierdie klei het in 'n voorraadhoop naby die aanleg gelê. 'n Ander gedeelte is in groef C opgepot. Na oorname van die onderneming het die respondent sy vervaardigingsbedrywighede voortgesit met klei wat hy uit die voorraadhoop geneem het. Die opgepotte klei in groef C het hy nie vir produksie nodig gehad nie. Al wat hy daarmee gedoen het, was om dit met 'n laaigraaf te bewerk om dit vir latere gebruik 'ryp' te maak. Toe groef C in die reënseisoen van 1995/96 oorstroom is, kon hy uit die aard van die saak nie met die rypmaking van die opgepotte klei daarin voortgaan nie, maar die klei uit die voorraadhoop was voorlopig nog genoeg om produksievlakke te handhaaf.

[8] Teen 1998 het die voorraadhoop begin opraak. Die appellant betoog dat, as dit nie vir die oorstroming was nie, die respondent op daardie stadium (in plaas van ingekoopte klei) onwettig ontginde klei vir sy produkte sou begin gebruik het. Daar word op twee alternatiewe feitestelle gesteun: in die eerste plek word gesê dat die respondent volgens sy eie erkennings, in stryd met die bepalings van die Wet op Minerale 50 van 1991 ('die Wet'), nog vóór die oorstromings uitgrawings in groef C gemaak het en dat ten minste 'n deel van die klei in groef C derhalwe onwettig opgepot is; hierdie onwettig opgepotte klei sou die respondent waarskynlik vir sy vervaardigingsaanleg gebruik het sodra die voorraadhoop opgeraak het. Hierdie feitevraag ontstaan nie werklik nie. Potgieter het in sy getuienis die respondent se eis beperk tot skade wat laasgenoemde gely het as gevolg daarvan dat hy klei wat wettig deur sy voorganger opgepot is nie kon benut nie. As dit dan so sou wees dat die respondent self in groef C klei van die aardkors losgemaak het, het hy, vanweë hierdie selfopgelegde beperking van sy eis, geen vordering ten aansien van skade wat voortgevloei het uit sy onvermoë om daardie besondere klei te gebruik nie.

[9] In die tweede plek voer die appellant aan dat as dit nie vir die oorstroming was nie, klei (ongeag wie dit opgepot het en of die oppotting daarvan wettig was of nie) vir gebruik uit groef C na die oppervlak van die uitgrawing gebring sou moes word: hierdie handeling, volgens die betoog, sou kragtens die omskrywing van die woord 'myn' in die Wet op sigself op die myn van die klei neergekom het; trouens, die verwerking daarvan ten einde dit ryp te maak, val ook, (so die betoog) binne die begrip 'myn' in die Wet.

[10] Klei word sedert die inwerkingtreding van art 5(2) van die Wet as 'n mineraal omskryf. Art 5(2) van die Wet bepaal -

'Niemand mag na 'n mineraal prospekteer of daarvoor myn nie sonder die nodige magtiging ooreenkomstig hierdie Wet aan hom verleen…'

Wanneer 'myn' as 'n werkwoord gebruik word, beteken dit ingevolge die omskrywing daarvan in art 1 van die Wet -

'…die maak van enige uitgrawing of boorgat bedoel in paragraaf (a)(i) of die ontginning van 'n mineraalafsetting op enige ander wyse, met die doel om 'n mineraal te win…'

Die 'uitgrawing of boorgat' waarna verwys word, word definieer as 'enige uitgrawing in die aarde…of in enige uitskot…hetsy dit gewerk of bewerk word of nie…gemaak met die doel om na 'n mineraal te soek of 'n mineraal te win;'

[11] Die klei wat die respondent uit groef C na die oppervlak sou gebring het (as dit nie vir die oorstroming was nie) en die rypmaakhandelinge wat die respondent in groef C uitgevoer het (en sou uitgevoer het as dit nie vir die oorstroming was nie) sou natuurlik nie op die maak van enige uitgrawing in die aarde neergekom het nie, en nog minder op die maak daarvan 'met die doel om na 'n mineraal te soek of 'n mineraal te win'. Die mineraal wat hier ter sprake is, was reeds gewin. Die verdere verwerking daarvan ten einde dit gebruiksgereed te maak en die vervoer daarvan na die vervaardigingsaanleg val nie onder die omskrywing van 'myn' in die Wet nie.

[12] In die lig van die gevolgtrekkings hierbo, is dit nie nodig om op die vraag in te gaan of die respondent waarskynlik sonder die nodige magtiging sou gemyn het nie.




[13] Die appèl word met koste van die hand gewys.





_______________________

J H CONRADIE

APPèLREGTER



MARAIS AR )Stem saam

STREICHER AR )

CLOETE AR )

LEWIS AR )


▲ To the top