Jayiya v Member of the Executive Council for Welfare, Eastern Cape Provincial Government and Another (264/2002) [2003] ZASCA 38 (31 March 2003)


Editorial note: Certain information has been redacted from this judgment in compliance with the law.

 

 

RAPPORTEERBAAR

 

 

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)

 

 

 

SAAKNR: A26/2002

 

 

In die saak tussen:

 

 

VALERIE WOLFAARDT Eerste Appellant

 

DEREK WOLFAARDT Tweede Appellant

 

 

en

 

 

DIE STAAT Respondent

 

UITSPRAAK GELEWER OP 26 AUGUSTUS 2003

 

 

 

 

TREURNICHT, WR:

 

 

Inleiding:

 

Die Appellante is in die Streekhof skuldig bevind op drie aanklagte van verkragting en is elk op 30 Oktober 2000 tot ‘n effektiewe termyn van 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. Beide se aansoek om verlof tot appèl teen die skuldigbevindings is op 30 November 2000 aangehoor ingevolge die destyds geldende bepalings van artikel 309B van die Strafproseswet, nr 51 van 1977, en van die hand gewys. ‘n Petisie ingevolge artikel 309C van die gemelde Wet is daarna buitenstyd tot die Regter-President van hierdie Afdeling gerig, maar die stukke daarvan het oënskynlik verlê geraak en kon nie voor ons geplaas word nie. Gevolglik het die Appellante ‘n aansoek om kondonasie vir die laat-voortsetting van die appèl gebring wat nie deur die Staat teengestaan was nie. Teen die agtergrond daarvan dat die bepalings van artikel 309B en 309C sedertdien ongrondwetlik verklaar is (sien S v Steyn 2001 (1) SA 1146 CC), die Staat se houding en die prima facie beskouing dat daar meriete in die appèlle is, soos aanstons sal blyk, is die kondonasie-aansoek toegestaan en die appelle aangehoor.

 

Feitestel:

Die agtergrond tot die Appellante se vervolging en skuldigbevinding blyk uit ‘n ongewone feitestel waarvan die kernfeite hieronder geskets word. Die Appellante is ‘n egpaar wat gedurende 1986 getroud is. Die klaagsters op aanklagte 2 en 3 is die susters van die Eerste Appellant. Hulle is, onderskeidelik, 10 en 20 jaar jonger as die Eerste Appellant. Die klaagster op die eerste aanklag is ‘n vriendin van die jonger suster van die Eerste Appellant (die klaagster op aanklag 3). Die gebeure wat tot die aanklagte gelei het, het oor ‘n aantal jare plaasgevind toe die klaagster op aanklag 1 (D.K.) slegs 13 jaar oud was (sy was by die aanvang van die verhoor 17 jaar oud), die klaagster op aanklag 2 (René L.) ook 13 jaar oud was (sy was by die aanvang van die verhoor 26 jaar oud), en die klaagster op aanklag 3 (S. Langeveld), slegs 9 jaar oud was (sy was by die aanvang van die verhoor ook 17 jaar oud). In hulle getuienis skets die drie klaagsters elk die verloop van die gebeure wat daartoe gelei het dat die Tweede Appellant geslagsgemeenskap met hulle gehad het. Daar is ‘n hoë mate van ooreenstemming in hulle beskrywings van die Appellante se modus operandi wat as volg opgesom kan word. Die Eerste Appellant sou reëlings tref dat een van die klaagsters na die Appellante se woonplek kom, en soms ook daar oorslaap. Die Eerste Appellant sou dan ‘n gesprek met een van die klaagsters voer waartydens sy haar meedeel dat sy en haar man ‘n probleem het om kinders te hê en dat die medici aangedui het dat dit opgelos kan word as haar man (die Tweede Appellant), met die klaagster kon “slaap”. Nadat die onderskeie klaagsters ingewillig het om die egpaar op hierdie wyse van hulp te wees, het die Eerste Appellant hulle laat uittrek en die gemeenskaplike slaapkamer verlaat waarop die Tweede Appellant ingekom het, homself ontklee het en dan met die klaagsters gemeenskap gehad het. Daarna het hy ‘n wit vloeistof van sy penis en die privaat van die klaagsters af in ‘n potjie gesit en aan die Eerste Appellant oorhandig. Die onderskeie klaagsters is altyd na die gebeure met geskenke oorlaai.

 

Wat die eerste aanklag betref was die klaagster (na wie ek voortaan as D. verwys), 13 jaar oud toe die gebeure met haar ‘n aanvang geneem het. Sy was destyds ‘n Sondagskoolleerling in die klas van die Eerste Appellant. Gedurende 1995 het haar moeder opgemerk dat daar iets met haar verkeerd was en haar na ‘n dokter geneem waar bevind is dat sy swanger was. Sy het haar moeder daarop van die gebeure vertel, ‘n aborsie ondergaan en die saak aan die polisie gerapporteer. Die Tweede Appellant is geïdentifiseer as die oorsaak van haar swangerskap. Die saak is uiteindelik nie verhoor nie omdat, volgens haar, ‘n persoon by die landdroshof (waarskynlik iemand verbonde aan die vervolgingsgesag), sou aangedui het dat daar nie meriete in die aanklag is nie. Beide Appellante het die weergawe van die gebeure ontken en aangevoer dat die klaagster, wat volgens hulle nog nooit by hulle huis was nie, eendag daar opgedaag het, gesê het dat sy swanger is van ‘n neef van haar, ene André, en om hulp gevra het. Toe hulle aandui dat daar met haar moeder gepraat moes word, het die klaagster egter weggehardloop en geskreeu dat sy later sou terugkom, wat sy nooit gedoen het nie. ‘n Dag of twee later het die polisie opgedaag en die Tweede Appellant gearresteer weens verkragting van die klaagster. Haar moeder beaam die gebeure rondom die vasstelling van haar swangerskap en hoe die klaagster haar in die dokter se teenwoordigheid vertel het van die optrede van die Appellante.

 

Wat die tweede aanklag betref, is die klaagster (na wie ek voortaan as René sal verwys), ‘n jonger suster van die Eerste Appellant en getuig sy dat dieselfde modus operandi wat vroeër hierin beskryf is, ook met haar gevolg is. Sy was destyds ook 13 jaar oud en het volgens haar ingestem om te help omdat sy die Appellante jammer gekry het aangesien hulle nie kinders kon hê nie. Sy het op twee geleenthede met die Tweede Appellant gemeenskap gehad en tydens die tweede geleentheid op ‘n stadium vir die Tweede Appellant gesê dat sy nie verder met gemeenskap wou voortgaan nie. Kort voor hierdie klaagster se 21ste verjaarsdag het sy en haar skoonsuster, Naomi Langeveld, die gebeure van destyds aan haar ouers openbaar gemaak wat daarop ‘n “familievergadering” belê het waartydens die Appellante met die gebeure gekonfronteer was, maar dit ontken het. Die getuie het daarna professionele hulp gesoek en berading ontvang tot kort voor die aanvang van die verhoor. Dit dien ook vermelding dat die betrokke klaagster se skoonsuster tydens die verhoor getuig het dat sy die betrokke klaagster se weergawe geglo het toe sy daarvan vertel is, omdat sy vroeër ook by ‘n geleentheid op dieselfde grondslag deur die Eerste Appellant genader was om gemeenskap met die Tweede Appellant te hê, maar geweier het.

 

Die derde aanklag het betrekking op die jongste suster van die Eerste Appellant (na wie ek voortaan as Sabriena sal verwys), wat ten tye van die gebeure net 9 jaar oud was. In haar getuienis vertel hierdie getuie van ‘n identiese modus operandi wat met haar gevolg is en dat sy destyds nie daaroor gepraat het nie omdat sy self te skuldig gevoel het oor die gebeure. Sy het uiteindelik wel oor die gebeure gepraat nadat haar suster René haar ondervinding aan haar ouers meegedeel het en terwyl hulle twee die aand in die bed was en haar suster haar gevra het of dieselfde nie met haar gebeur het nie. Nadat sy dit aanvanklik ontken het, het sy op verdere vrae van haar suster uiteindelik vertel dat dit wel met haar gebeur het waarop René dit toe ook aan haar ouers gerapporteer het. Nadat die feite op hierdie wyse bekend geword het, het daar ‘n verdere familievergadering plaasgevind waarop die Appellante voor ‘n ultimatum geplaas was om vir sielkundige behandeling te gaan binne drie weke andersins sou die onderskeie susters die sake aan die polisie rapporteer. Die beskuldigdes het geweier en die twee klaagsters het toe verklarings by die polisie afgelê. Die polisie het, met behulp van data wat op die rekenaar gestoor was, bewus geword het van die vroeëre klagte wat teen die Tweede Appellant gelê was deur D. (waarna ek reeds vroeër hierin verwys het).

Uiteindelik is die beskuldigdes toe op al drie aanklagte vervolg. Dit blyk uit die getuienis dat die vader van René en S. ‘n pastoor is wat klaarblyklik sy posisie in die kerk en as familiehoof ernstig opneem en deur die gebeure in twee geskeur was. Enersyds wou hy deurgaans die familie die skande spaar wat hy gevrees het sou volg as die gebeure rugbaar sou word en andersyds het hy besef dat hy nie werklik vir René en S. kon verhoed om die gebeure te rapporteer nie – veral nie nadat die Appellante die ultimatum om vir behandeling te gaan, in die wind geslaan het nie.

 

Evaluasie:

Die afhandeling van die verhoor het oor meer as ‘n jaar gestrek. Die oorkonde toon aan dat die klaagsters by tye gedurende hul getuienis emosioneel in die hof gereageer het op die gebeure. Dit is onmiskenbaar duidelik uit die getuienis dat die Eerste Appellant se twee susters dit veral moeilik gevind het om teen haar te getuig. Hulle wou op ‘n stadium selfs nie vrywilliglik hof toe kom nie. Nietemin het hulle deurgaans in hulle getuienis by hulle weergawes van die gebeure gehou. Hulle het die verhoorhof beïndruk as geloofwaardige getuies. Met sodanige bevinding is ‘n hof van appèl nie geneë om ligtelik in te meng nie (S v Francis 1991 (1) SASV 198 (A)). Waar ‘n verhoor oor ‘n lang tydperk en met soveel emosies soos die onderhawige gepaard gegaan het, is ‘n hof van appèl selfs meer as andersins aangewese om hom in ‘n hoë mate op die verhoorhof se beoordeling van die egtheid en waarheid van die getuienis te verlaat tensy dit oortuig is dat die verhoorhof gefouteer het in die aanvaarding daarvan.

Die Appellante se verweer was ‘n ontkenning van die gebeure. As ‘n rede waarom die getuies hulle valslik beskuldig van die misdade het hulle aangevoer dat D. hulle gebruik om ‘n swangerskap wat deur haar neef André bewerkstellig is, te probeer verberg en dat die susters René en S. se getuienis die gevolg is van ‘n familiesameswering teen hulle. Dit is natuurlik nie vir ‘n beskuldigde in ‘n strafsaak nodig om die hof te oortuig van redes waarom ‘n getuie valse getuienis teen hulle sou aflê nie, maar in die onderhawige geval is daar geen voor-die-hand-liggende rede waarom sulke getuienis gefabriseer sou word nie en kom dit my voor dat die gronde wat die Appellante daarvoor probeer aanvoer ‘n versinsel is.

 

Wat die getuienis van die Appellante aanbetref met betrekking tot die gebeure toe D. hulle beweerdelik sou genader het met die mededeling van haar swangerskap, is ek van oordeel dat dit só inherent onwaarskynlik dat dit as vergesog en vals verwerp moet word. Wat hulle getuienis met betrekking tot die sogenaamde familiesameswering aanbetref, is dit ewe vergesog en verwerplik en het mnr Van der Berg wat namens die Appellante voor ons opgetree het, tereg aangedui dat hy ons nie in besonderhede daaroor wou toespreek nie. Die voorbeelde van insidente tussen familielede wat oor baie jare strek en wat aan ons voorgehou is as rede waarom die hele familie teen die Appellante gekant sou wees, is glad nie sodanig dat dit hulle optrede sou verklaar nie. Meer nog, die familielede het juis die afwesigheid van vervolgsugtigheid bewys deur die Appellante ‘n geleentheid te bied om behandeling te ondergaan en dus sonder enige vervolging aan die gevolge van hulle optrede te ontkom. Die getuienis toon verder ook aan dat daar nog steeds toegeneëntheid by die klaagsters teenoor die Appellante bestaan en dat hulle dit moeilik gevind het om teen die Appellante te getuig. Daar is na my mening dus geen rede om met die verhoorhof se bevindings in te meng dat die optrede waaroor die klaagsters getuig het inderdaad teenoor hulle plaasgevind het nie en dat die Appellante se weergawe as vals verwerp moes word nie.

 

Toestemming:

Selfs al word dit aanvaar dat die Appellante opgetree het soos wat die getuienis te kenne gee, bly dit egter steeds ‘n vraag of hulle tereg skuldig bevind is aan verkragting. In hierdie verband ontstaan die vraag pertinent of die instemming wat die klaagsters betuig het met die optrede met die Tweede Appellant regtens toestemming tot geslagsgemeenskap is. Dit is waar die instemming deur ‘n bedrieglike wanvoorstelling verkry is en deur op die emosies en die toegeneëntheid van die klaagsters teenoor die Eerste Appellant staat te maak. Die benadering van die geleerde Streeklanddros ten aansien van hierdie kwessie, wat direk betrekking het op aanklagte 1 en 2, word as volg uiteengesit in sy uitspraak:

Wat D. betref aanklag 1 was sy duidelik die eerste keer toe gemeenskap met haar gehou was nie te vinde daarvoor nie. Daar was nie toestemming nie. Sy was boonop mislei. Die tweede keer was die toestemming gebaseer op ‘n misleiding deur nommer 2 wat aan haar gesê het maar sy is nou nie meer ‘n “virgin” nie, dis nou as gevolg van die eerste keer en dat sy haar maar kan help.

 

Die getuie D. het duidelik nie die volle implikasie verstaan van wat aangegaan het nie. So aanvanklik was daar dus nie toestemming nie. Terloops daar is geen, maar geen getuienis dat beskuldigde nommer 1 toestemming van enige van die klaagsters gevra het of gehad het nie. Sy optrede deur eenvoudig met gemeenskap voort te gaan dui duidelik op die beplande optrede tussen hom en sy vrou.

 

Wat R. L. aanklag 2 betref op die ouderdom van 13 jaar was sy ‘n kind. Dit is as gevolg van misleiding deur beskuldigde nommer 2 wat sy haar onderwerp het aan beskuldigde nommer 1. Daardie beïnvloeding en onderwerping kan nouliks as geldige toestemming aangemerk word. By die tweede keer toon sy haar onwilligheid eers nadat die seksdaad in aanvang geneem het. Dit is na die tweede voorval waar beskuldigde nommer 2 by haar sit en huil en haar R50 gee. Ons het te doen met misbruik van ‘n jong kind wat nie die volle implikasies besef het van wat aangaan nie. Net soos by die eerste klaagster. Dan wat Sabriena betref, die eerste voorval het plaasgevind toe sy nege jaar oud was. Sy kon in elk geval nie regtens toestem nie. Die opmerklik dat nommer 2 hier uiters subtiel te werk gegaan het. Die getuienis voor die Hof dui duidelik daarop dat Sabriena baie lief is vir beskuldigde nommer 2 soos die Hof reeds tevore gesê het en dat nommer 2 baie lief is vir haar. Nommer 2 het hierdie situasie uitgebuit en haar eie geliefde suster wat nie eers geweet het wat omgang beteken nie seksueel laat gebruik deur haar man.

 

Verder wat betref die kwessie van toestemming wil die Hof net verwys na Snyman se werk Strafreg, die tweede uitgawe op bladsy 135. Daar behandel die skrywer die elemente van toestemming. Een daarvan is gemerk paragraaf (d). Dit is op bladsy 135 en dit lees soos volg:

 

‘Die persoon wat die toestemming gee moet wilsvermoënd wees. Wilsvermoënd beteken nie dieselfde as handelingsbevoeg of toerekeningsvatbaar nie. Dit beteken dat die persoon oor die geestesvermoëns beskik nie net om te weet wat die aard van die handeling is waartoe hy toestemming nie, maar ook om die gevolge van die handeling te kan waardeer.’

 

Die Hof wil met respek aanvoer dat al drie daardie kinders val onder hierdie beskrywing. Hulle het nie geweet wat aangaan nie. Hulle was nie wilsvermoënd nie.

 

Dan oor die kwessie van wilsvermoëndheid net op bladsy 136, die derde lyntjie wat soos volg lees:

 

‘Hier is dit in elke geval ‘n feitelike vraag of die kind wilsvermoënd is of nie. ‘n Mens moet kyk na faktore soos die intelligensie, lewenservaring, algemene opvoedkundige peil en maatskaplike agtergrond van die kind.’

 

Kyk ‘n mens na D. byvoorbeeld se maatskaplike agtergrond, dis tragies. Sy is nie intelligent nie. Sy het nie lewenservaring nie. Sy is jonk en die Hof kan nie anders an as ‘n feit te bevind dat sy nie wilsvermoënd was nie.”

Ek kan ongelukkig nie met hierdie sienswyse saamstem nie. Soos uit die aangehaalde passasie blyk, het die Streeklanddros ten opsigte van D. bevind dat daar ‘n afwesigheid van toestemming was op die grondslag dat sy inderdaad geslagsgemeenskap geweier het, dat sy verder mislei was tot toestemming en uiteindelik dat daar ‘n gebrek aan wilsvermoë aan haar kant was. In die geval van René bevind hy dat daar misleiding was en dat sy ‘n gebrek aan wilsvermoë gehad het.

 

Alhoewel D. se getuienis was dat sy wel ingestem het tot die Eerste Appellant se versoek om hulle te help (deur by die Tweede Appellant te “slaap”), het sy ook by geleentheid gedurende haar getuienis getuig dat sy toestemming geweier het toe sy besef wat eintlik gaan gebeur. Daar is egter ander gedeeltes van haar getuienis wat ‘n ander indruk skep. Tydens kruisondervraging is haar destydse polisieverklaring wat sy in 1995 afgelê het, aan haar voorgehou waaruit dit blyk dat sy toe gesê het dat sy “ingestem het” om die Appellante slegs een keer te help (om ‘n kind te kry) aangesien haar neef haar tog destyds gebruik het (dit was ‘n verwysing na die feit dat sy ook in daardie verklaring genoem het dat haar neef haar lank tevore betas het en op haar gelê het). In kruisondervraging het sy ‘n soortgelyke antwoord gegee toe sy gevra was waarom sy nie vroeër die gebeure gerapporteer het nie en geantwoord het “... omdat ek tog ingestem het dat ek hulle gaan help, so niemand gaan my glo nie”. Die presiese konteks van hierdie stukkies getuienis was nie verder ondersoek tydens die verhoor nie en ek meen nie dat die verhoorlanddros in die lig daarvan bo redelike twyfel kon bevind het dat daar as ‘n feit nie toestemming was nie.

 

 

Regsposisie:

Dit laat ‘n verdere ondersoek na die gebrekkige wilsvermoë en die effek van bedrog op die toestemming van die klaagsters na vore tree. Met betrekking tot die bevinding rakende gebrekkige wilsvermoë steun die geleerde Streeklanddros op ‘n aanhaling uit die tweede uitgawe van die werk van Snyman : Strafreg. Soos uit die aanhaling self blyk, bedoel die skrywer in die gemelde passasie dat hy met wilsvermoëndheid bedoel die bestaan van geestesvermoëns wat die slagoffer in staat stel om die aard van die handeling te verstaan. Daar is geen getuienis wat daarop dui dat die twee klaagsters D. en René nie destyds oor die geestesvermoëns beskik het om die aard van die beoogde handeling te begryp nie. Dit sou na my mening verbasend wees om in hierdie dag en tyd normale 13-jarige meisies te vind wat nie besef het dat daar geslagsgemeenskap beoog was nie. Wat meer is, dit was aan hulle verduidelik dat hulle moes ontklee en in die Appellante se slaapkamer op Tweede Appellant wag en met hom moes “slaap”. In teendeel, dis duidelik dat hulle hulle tot geslagsgemeenskap bereid verklaar het omdat hulle beïnvloed was deur die storie wat die Eerste Appellant hulle vertel het en omdat hulle haar en haar man wou help. Daar kan gevolglik nie sprake wees van bewys bo redelike twyfel dat die klaagsters D. en René nie wilsvermoënd was nie.

Dit laat dan die vraag of die inwilliging tot geslagsgemeenskap wat deur misleiding bewerkstellig was sodanige toestemming was dat dit in die weg staan van ‘n skuldigbevinding aan verkragting.

 

In R v M 1953 (4) SA 394 (A) verskyn die volgende passasie (op 398A):

 

“In our law rape is a sub-species of vis (D.48.5.30.9). It is essential that the victim’s resistance be overcome by fear, force or fraud.”

 

Alhoewel die betrokke saak gehandel het met ‘n skuldigbevinding aan verkragting (wat tersyde gestel was), het die feite daarvan glad nie gehandel met bedrog of die invloed van bedrog op die kwessie van toestemming nie en kan die algemene trant van die opmerking nie as gesag daarvoor dien dat toestemming wat deur misleiding verkry is in alle gevalle neerkom op ‘n gebrek aan instemming nie. Dit lyk taamlik voor-die-hand-liggend te wees dat toestemming tot geslagsgemeenskap wat verkry is deur bedrog byvoorbeeld waar ‘n man valslik aan ‘n vrou voorhou dat hy haar lief het of een of ander sportheld is, inderdaad werklike toestemming is en nie net skyn nie. Sommige gevalle van toestemming wat by wyse van misleiding verkry is, sal egter inderdaad geen ware toestemming wees nie. Só byvoorbeeld is reeds gehou dat ‘n vrou wat instem tot geslagsgemeenskap nadat sy valslik onder die indruk gebring is dat dit met haar man is, nie toegestem het nie. (R v C 1952 (4) SA 117 (O)). Waar instemming tot geslagsgemeenskap egter verkry was onder die voorwendsel dat dit een of ander mediese voordeel vir haar inhou, word sy slegs mislei in verband met die resultaat van die geslagsgemeenskap en nie met betrekking tot die aard van die daad of die identiteit van die ander persoon nie. In só ‘n geval kan dus nie gesê dat daar nie toestemming tot geslagsgemeenskap was nie. Dit was ook die gevolgtrekking in R v Wiliiams 17 PH.H 38, ‘n geval waar toestemming verleen was op sterkte van ‘n (valse) bewering dat geslagsgemeenskap ‘n regstelling van die klaagster se baarmoeder sou bewerkstellig. ‘n Soortgelyke benadering is gevolg in R v K 1966 (1) SA 366 (RA) waar die valse bewering geleë was in die wysmaak van die slagoffer dat geslagsgemeenskap haar van onvrugbaarheid sal genees (‘n feitestel wat hoë ooreenstemming met die onderhawige geval toon).

 

Bevinding:

Ek is dus van mening dat daar inderdaad werklike toestemming was ten spyte van die misleiding en dat die skuldigbevindings aan verkragting op aanklagtes 1 en 2 tersyde gestel moet word. Aangesien die klaagsters beide ten tye van die pleging van die dade onder die ouderdom van 16 jaar was, het die Tweede Appellant hom steeds skuldig gemaak aan ‘n oortreding van artikel 14(1)(a) van die Wet op Seksuele Misdrywe, nr 23 van 1957 en was sy optrede bewerkstellig met die hulp van die Eerste Appellant wat dus ‘n medepligtige daartoe was. Sodanige oortreding is ‘n bevoegde uitspraak op ‘n aanklag van verkragting (sien artikel 261(1)(e) van Wet 51 van 1977). Gevolglik behoort die Tweede Appellant se skuldigbevinding vervang te word met een van ‘n oortreding van artikel 14(1)(a) van Wet nr 23 van 1957 en dié van die Eerste Appellant met ‘n skuldigbevinding aan medepligtigheid daartoe.

 

Wat die derde aanklag betref, was S. 9 jaar oud toe die geslagsgemeenskap met haar plaasgevind het. Aangesien ‘n meisie onder die ouderdom van 12 jaar onweerlegbaar vermoed word om nie in staat te wees om toestemming tot geslagsgemeenskap te verleen nie (R v Z 1960 (1) SA 739 (A) te 742), is die bevinding dat daar geslagsgemeenskap deur die Tweede Appellant met haar gehou was, afdoende vir die skuldigbevindings op aanklag 3. Daardie skuldigbevindings behoort dus na my mening bekragtig te word. Aangesien daar geen appèl teen die opgelegde vonnis is nie behoort dit gevolglik ook bekragtig te word.

 

Vanweë die vervanging van die skuldigbevindings op die eerste twee aanklagte met mindere misdrywe, verg die vonnis wat ten opsigte daarvan opgelê was, inmenging. Ingevolge artikel 22 van Wet nr 23 van 1957 is ‘n oortreding van artikel 14(1) daarvan strafbaar met ‘n maksimum van 6 jaar gevangenisstraf (met of sonder ‘n boete van R12 000‑00 daarbenewens). Na oorweging van die Appellante se persoonlike omstandighede en die feite en die omstandighede wat met die pleging van die misdrywe verband gehou het en die kumulatiewe effek van die vonnisse, meen ek dat ‘n vonnis van drie jaar gevangenisstraf op elk van aanklagte 1 en 2 ‘n gepaste vonnis daar sal stel. Ek is verder van mening dat sodanige vonnisse gelyktydig uitgedien moet word met die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf wat reeds opgelê is op die derde aanklag.

 

_____________________

N J TREURNICHT

Waarnemende Regter

 

 

 

______________________

 

Ek stem saam : MOOSA, R

 

 

Die appèl teen die skuldigbevinding op aanklag 3 word van die hand gewys en die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte daarvan word bekragtig.

 

Die skuldigbevindings en vonnisse op aanklagte 1 en 2 word tersyde gestel en vervang met die volgende:

 

Ten opsigte van die Eerste Appellant (Valerie Wolfaardt, wat Beskuldigde nr 2 tydens die verhoor was): Skuldig aan medepligtigheid tot ‘n oortreding van artikel 14(1)(a) van Wet 23 van 1957 en gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf.

 

 

Ten opsigte van die Tweede Appellant (Derek Wolfaardt, wat Beskuldigde nr 1 tydens die verhoor was) : Skuldig aan ‘n oortreding van artikel 14(1)(a) van Wet 23 van 1957 en gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf.

 

Dit word gelas dat die vonnisse op aanklagtes 1 en 2 gelyktydig uitgedien sal word met die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf wat aan elke Appellant opgelê is op aanklag 3.

 

 

......................................

E MOOSA

▲ To the top

Cited documents 0

Documents citing this one 1

Judgment 1
  1. D R v R R [2023] ZACC 5 (1 February 2023)