Matlare v S (441/2003) [2004] ZASCA 5 (11 March 2004)


DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA


Saaknommer: 441/2003


In die saak tussen :



SAMUEL MAWAKE MATLARE APPELLANT


en


DIE STAAT RESPONDENT






CORAM : SCOTT, BRAND en LEWIS ARR


DATUM : 2 MAART 2004


GELEWER : 11 MAART 2004


Opsomming: Oortreding van a 34(1)(b) van Wet 90 van 1989 – aanbieding van vervalste banknote – die appellant se verweer dat hy geen aandeel gehad het in die aanbieding van die vervalste note deur sy medebeskuldigde nie – tereg deur die verhoorhof verwerp.

_________________________________


UITSPRAAK

_________________________________



BRAND AR/

BRAND AR:

[1] Die appellant en sy medebeskuldigde ('beskuldigde 2') het in die streekhof te Bela Bela, destyds Warmbad, tereggestaan. Die aanklag teen hulle was dat hulle op 28 Oktober 1999, 5 570 vervalste R200-note 'aangebied het, wetende dat dit vervals is' en hulle sodoende aan 'n misdaad ingevolge a 34(1)(b) van die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank 90 van 1989, skuldig gemaak het. Beide die beskuldigdes het onskuldig gepleit. Aan die einde van die verhoor is hulle egter skuldig bevind soos aangekla en albei gevonnis tot twaalf jaar gevangenisstraf waarvan vier jaar voorwaardelik vir 'n tydperk van vyf jaar opgeskort is. Die appellant se appèl teen beide hierdie skuldigbevinding en vonnis na die Pretoriase Hooggeregshof is van die hand gewys. Daarna het die hof a quo (Motata R en Jooste Wn R), sonder enige opgaaf van redes, aan die appellant verlof verleen om hierdie verdere appèl, weer eens teen beide skuldigbevinding en vonnis, aan hierdie hof te rig.


[2] Die appellant ontken nie dat die ten laste gelegde misdaad in sy teenwoordigheid gepleeg is nie. Sy weergawe is dat dit gepleeg is deur beskuldigde 2 en dat hy niks daarmee te doen gehad het nie. Die meriete van die appèl teen skuldigbevinding wentel uitsluitlik om die vraag of die verhoorhof se verwerping van die appellant se weergawe geregverdig was. Die Staat het slegs een getuie geroep, synde inspekteur O Oosthuizen, wat indertyd aan die bedrogtak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens verbonde was. In breë trekke kom Oosthuizen se getuienis daarop neer dat hy reeds aan die begin van 1999 inligting ontvang het van mense wat vervalste geld wil verkoop. Daarop het hy vir die voornemende verkopers 'n strik gestel deur dit rugbaar te maak dat hy in so 'n transaksie sou belangstel. 'n Paar dae later het ene Pieter, wat later geblyk het beskuldigde 2 te wees, in die strik getrap deur telefonies met Oosthuizen in verbinding te tree. Volgens Pieter, oftewel beskuldigde 2, wou hy vervalste note met 'n sigwaarde van om en by R1 miljoen 'verkoop'. Die note was egter nie by hom nie maar in besit van sy vriend Sam. Ten einde so 'n verkoopstransaksie te beklink het Oosthuizen verskeie afsprake met beskuldigde 2 gemaak. By elkeen van hierdie geleenthede het beskuldigde 2 egter sonder Sam en sonder die vervalste geld opgedaag. Gevolglik het geen transaksie by daardie geleentheid plaasgevind nie.


[3] Op die ou end het Oosthuizen egter die ontmoeting met beskuldigde 2 gereël wat tot die arrestasie van hom en die appellant aanleiding gegee het. Volgens Oosthuizen het hy en beskuldigde 2 vooraf afgespreek dat die ontmoeting op die betrokke aand van 28 Oktober 1999 sou plaasvind op die parkeerterrein van 'n winkel in Bela Bela en dat beskuldigde 2 sou opdaag in 'n wit bakkie waarvan hy 'n volledige beskrywing gegee het, onder meer, dat dit met 'n kappie en getinte ruite toegerus was. Ter nakoming van die afspraak het Oosthuizen toe die aand saam met twee ander polisiebeamptes op die afgesproke tyd en plek vir beskuldigde 2 en sy metgeselle ingewag. 'n Wit bakkie wat aan beskuldigde 2 se vooraf beskrywing voldoen het, het opgedaag. Daar was drie persone in die voertuig. Eers het slegs beskuldigde 2 uitgeklim. Oosthuizen het egter daarop aangedring dat die ander twee insittendes ook uitklim. Toe al drie buite was het Oosthuizen gevra waar die geld is. Hierop het beskuldigde 2 die appellant versoek om die sak geld voor uit die bakkie te gaan haal. Die appellant het aan die versoek voldoen en met 'n blou plastiese drasak te voorskyn gekom. Die sak is oopgemaak en die geld wat daarin was is aan die aanwesiges vertoon. By latere ondersoek het dit geblyk 5 570 vervalste R200-note te wees. Vervolgens het Oosthuizen en beskuldigde 2 onderhandel oor 'n prys. Tydens die onderhandelinge het beskuldigde 2 met die appellant gekommunikeer in 'n taal wat Oosthuizen nie verstaan het nie. Uiteindelik is daar toe op 'n 'koopprys' van R240 000 ooreengekom. Na sluiting van die ooreenkoms het Oosthuizen en sy kollegas hulle as polisiebeamptes geïdentifiseer en al drie insittendes van die bakkie gearresteer. Die appellant en beskuldigde 2 het egter daardie selfde aand nog vir die polisie gesê dat die derde insittende, wat later geblyk het mnr M Ngwane te wees, slegs die voertuig bestuur het en dat hy met die hele saak niks te make gehad het nie. Gevolglik is die vervolging teen Ngwane nie voortgesit nie. In kruisverhoor namens die appellant is nie aan Oosthuizen gestel dat sy getuienis in enige opsig betwis word nie.


[4] Die appellant se verweer was in wese 'n ontkenning dat hy hoegenaamd van die vervalste geld in die sak bewus was. Volgens sy getuienis het hy op die toneel van die misdaad beland omdat hy vir beskuldigde 2, vir wie hy ongeveer drie maande tevore ontmoet het, 'n guns wou bewys. Laat die namiddag van 28 Oktober 1999, so het die appellant verduidelik, het beskuldigde 2 hom in die dorp Northam genader vir 'n geleentheid na Bela Bela waar hy, beskuldigde 2, sy broer wou gaan sien. Die appellant kon nie aan die versoek voldoen nie omdat sy voertuig stukkend was. Tog wou hy graag vir beskuldigde 2 van hulp wees omdat dié hom vantevore uitgehelp het toe hy in die nood was. Toevallig het 'n ou bekende van die appellant, Ngwane, met sy wit bakkie op die toneel verskyn waarop die appellant hom genader het om vir beskuldigde 2 na Bela Bela te neem. Ngwane het ingestem op voorwaarde dat die appellant hulle vergesel aangesien beskuldigde 2 vir hom 'n totale vreemdeling was.


[5] So het die drie van hulle toe na Bela Bela afgereis voor in Ngwane se wit bakkie. Die appellant het gesien dat beskuldigde 2 'n blou plastiese drasak by hom het, maar hy het nie geweet wat in die sak was nie. In Bela Bela aangekom het beskuldigde 2 hulle na die parkeerterrein van 'n winkel beduie waar hy sy broer sou ontmoet. Daar het hulle, weer eens op beskuldigde 2 se aanwysing, langs die voertuig gestop waarin Oosthuizen en sy twee kollegas gery het. Beskuldigde 2 het met sy plastiese sak uit die voertuig geklim en met 'n man wat later geblyk het Oosthuizen te wees, gepraat. Hoewel hierdie gesprek in die appellant se teenwoordigheid plaasgevind het, kon hy nie sê waaroor hulle gepraat het nie. So het hy byvoorbeeld glad nie gehoor dat die bedrag van R240 000 genoem word nie. Op 'n stadium het hy wel in Setswana by beskuldigde 2 navraag gedoen waaroor die gesprek gaan waarop beskuldigde 2 geantwoord het dat Oosthuizen sê 'die geld wat hy vra is baie'. Hierdie antwoord, wat, sonder meer, onsinnig is, het die appellant nie verstaan nie. Hy het egter nie kans gehad om beskuldigde 2 verder uit te vra oor die betekenis daarvan nie omdat Oosthuizen en sy twee kollegas hulle op daardie stadium as polisiebeamptes geïdentifiseer het en vir appellant-hulle onder arres geplaas het. Volgens die appellant het hy geen idee gehad waarvoor hy gearresteer word nie. Van die vervalste geld in besit van beskuldigde 2 was hy geheel en al onbewus. Hoewel Oosthuizen se getuienis, dat dit die appellant was wat die geld in die bakkie gaan haal het en dat die inhoud van die sak op die toneel vertoon is, nie in kruisverhoor betwis is nie, het die appellant dit in sy getuienis as onwaar ontken. Oor waarom hy hom nie die betrokke aand teenoor die polisie verontskuldig het nie was die appellant se verduideliking dat hy nie die geleentheid daartoe gehad het nie. Daarteenoor het die appellant erken dat hy en beskuldigde 2 wel vir Oosthuizen gesê het dat Ngwane bloot die bakkie bestuur het en met die hele saak niks te make gehad het nie. Die appellant het ook toegegee dat hy oor die algemeen as 'Sam' bekend staan.


[6] Benewens die appellant self is Ngwane namens hom as getuie geroep. Hy het die appellant se weergawe in alle wesenlike opsigte ondersteun. Verdere getuienis namens die appellant het gehandel oor 'n brief wat na bewering deur beskuldigde 2 aan die appellant geskryf is welke bewering namens beskuldigde 2 ontken is. Hoewel daar tydens die verhoor van die brief heelwat gewag gemaak is, is dit in hierdie hof tereg namens die appellant toegegee dat die brief as onsaaklik buite rekening gelaat kan word.


[7] Namens beskuldigde 2 is in kruisverhoor aan die appellant gestel dat hy die eintlike verkoper van die vervalste geld was terwyl beskuldigde 2 slegs as tussenganger opgetree het. Hoewel die staat gepoog het om op hierdie stellings te steun, het beskuldigde 2 nie getuig nie en moet hierdie stellings namens hom derhalwe by die beoordeling van die appellant se weergawe buite rekening gelaat word.


[8] Die verhoorhof het Oosthuizen 'n geloofwaardige getuie bevind. In die lig daarvan het die hof beslis dat die appellant se weergawe nie redelik moontlik waar kon wees nie. Die hof a quo het hierdie bevinding sonder enige kenbare ontleding van die getuienis aanvaar. In hierdie hof is die geloofwaardigheidsbevinding ten gunste van Oosthuizen nie aangeveg nie. Desondanks is namens die appellant betoog dat 'n wesenlike gedeelte van die appellant se weergawe, soos gestaaf deur Ngwane, nie direk deur Oosthuizen betwis kon word nie en dat hierdie onbetwiste gedeeltes van die appellant se weergawe redelike twyfel oor sy betrokkenheid by die misdaad skep.


[9] As 'n algemene reël beteken die blote feit dat gedeeltes van 'n beskuldigde persoon se weergawe nie direk deur die staatsgetuies betwis kan word nie, nie dat daardie gedeeltes sonder meer deur die hof as die waarheid aanvaar moet word nie. Dit mag wees dat daardie gedeeltes, in die lig van die bewese feite, so onwaarskynlik is dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie. Myns insiens is dit presies wat hier gebeur het. Omdat Oosthuizen se geloofwaardigheid bo verdenking staan, moet sy weergawe as deel van die bewese feite aanvaar word. Hiervolgens is dit deel van die bewese feite dat beskuldigde 2 reeds ongeveer tien maande voor die voorval na sy meeloper verwys het as 'Sam' en dat hy reeds tydens die vooraf reëling van die betrokke ontmoeting, Ngwane se wit bakkie in besonderhede aan Oosthuizen beskryf het. Dit alles maak natuurlik die appellant se weergawe waarvolgens die teenwoordigheid van hom en Ngwane op die misdaadtoneel bloot toevallig was, hoogs onwaarskynlik.


[10] Voorts is daar 'n hele aantal oorwegings voortspruitend uit Oosthuizen se beskrywing van wat op die misdaadtoneel gebeur het wat net nie te rym is met die appellant se bewerings van salige onskuld nie. In die eerste plek sou beskuldigde 2 dit nouliks waag om in teenwoordigheid van 'n onskuldige buitestaander 'n ernstige misdaad te pleeg, en om dan boonop hierdie onskuldige buitestaander te vra om die sak met vervalste note uit die voertuig te haal. Voorts is dit hoogs onwaarskynlik dat die appellant niks sou agterkom uit die trant van die onderhandelinge tussen Oosthuizen en beskuldigde 2 nie. Die mees ooglopende onwaarskynlikheid is egter dat die appellant, selfs toe 'n groot bedrag geld in die plastiese sak vertoon is, steeds nie sou agterkom dat alles nie pluis is nie. Hierdie ooglopende onwaarskynlikheid is dan ook klaarblyklik die voor-die-hand-liggende rede waarom die appellant in sy getuienis ontken het dat die geld op die toneel vertoon is, terwyl hierdie feit nou, ooreenkomstig die toegewings namens die appellant, tesame met die res van Oosthuizen se getuienis, as 'n gegewe aanvaar moet word.


[11] 'n Verdere kraak in die appellant se verhaal is die teenstrydigheid dat hy wel tyd gehad het om vir die polisie te sê dat Ngwane met die hele saak niks te doen het nie, maar terselfdertyd onvoldoende geleentheid gehad het om sy eie betrokkenheid teenoor die polisie te ontken. In al die omstandighede was die verhoorhof dus myns insiens korrek in sy beslissing dat die weergawe wat deur die appellant en Ngwane voor die hof geplaas is so onwaarskynlik is dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie. Hieruit volg dat die appèl teen die skuldigbevinding nie kan slaag nie.


[12] Dit bring my by die appèl teen vonnis. In hierdie verband is die appellant se saak nie dat die verhoorhof enige wesenlike mistasting by vonnisoplegging begaan het nie. Die betoog namens hom was dat die opgelegde vonnis so buitensporig swaar is dat dit die afleiding regverdig dat die verhoorhof die erns van die misdaad ten koste van sy persoonlike omstandighede oorbeklemtoon het. Ek stem nie saam met hierdie betoog nie. Ooreenkomsig die besonderhede wat voor die verhoorhof geplaas is, was die appellant 'n 40-jarige eerste oortreder wat reeds 15 jaar by dieselfde werkgewer in diens was. Hy is ook die vader van drie minderjarige kinders wat deels van hom afhanklik is. Dit alles, sê die verhoorhof in sy uitspraak, het hy by vonnisoplegging in ag geneem. Daarteenoor wys die hof, myns insiens, tereg daarop dat die misdaad waaraan die appellant skuldig bevind is, ernstig van aard is. Die sigwaarde van die vervalste banknote het 'n aansienlike bedrag verteenwoordig en dit behoef nouliks enige betoog dat misdade van hierdie aard tot groot skade in die handelsverkeer aanleiding kan gee. In al die omstandighede kan die appèl teen vonnis, myns insiens, ook nie slaag nie.


[13] Die appèl teen die skuldigbevinding en vonnis word van die hand gewys.




......................

F D J BRAND

APPÈLREGTER


Stem saam:


Scott AR

Lewis AR

▲ To the top