De Beer v Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (600/2004) [2005] ZASCA 115 (29 November 2005)



DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA


RAPPORTEERBAAR

Saaknommer : 600/04



In die saak tussen :


FREDERIK DE BEER APPELLANT


en


DIE RAAD VIR GESONDHEIDSBEROEPE

VAN SUID-AFRIKA RESPONDENT



CORAM : HARMS, STREICHER, BRAND, LEWIS et MLAMBO ARR


DATUM : 18 NOVEMBER 2005


GELEWER : 29 NOVEMBER 2005

Samevatting:

Appèl ingevolge art 20 van Wet 56 van 1974 – teen beslissing van die Geneeskundige en Tandheelkundige beroepsraad om die appellant se naam uit die register van geneeshere te skrap – geen wesenlike mistasting deur die raad – straf ook nie buitensporig swaar – appèl gevolglik van die hand gewys.

_____________________________________________________



UITSPRAAK




BRAND AR/



BRAND AR :

[1] Die respondent is deur die Wet op Gesondheidsberoepe, 56 van 1974 ('die Wet') tot stand gebring om as oorkoepelende liggaam vir die beroepsrade van die verskillende gesondheidsberoepe te dien. Een van hierdie beroepsrade is die Geneeskundige en Tandheelkundige Beroepsraad ('die raad'). Die appellant is by die raad as 'n algemene praktisyn geregistreer. Die appèl het sy oorsprong in 'n beslissing van die raad dat die appellant se naam uit die register van geneeshere geskrap word. Teen hierdie beslissing het die appellant ingevolge artikel 20 van die Wet na die Pretoriase Hooggeregshof geappelleer. In 'n uitspraak, wat intussen gerapporteer is onder die verwysing De Beer v Health Professions Council of South Africa 2005 (1) SA 332 (T), is dié appèl deur Patel R, met wie Maluleke R saamgestem het, van die hand gewys. Die verdere appèl na hierdie hof is met die verlof van die hof a quo.


[2] Voortspruitend uit formele klagtes van onprofessionele gedrag wat deur vier van die appellant se pasiënte teen hom gelê is, het die raad 'n tugkomitee onder voorsitterskap van een van sy lede aangestel om die aangeleentheid te ondersoek. Die tugkomitee het bestaan uit drie verteenwoordigers van die mediese professie wat bygestaan is deur 'n regsassessor. Die ondersoek het 'n aanvang geneem op 16 November 2000, dit is voordat die jongste regulasies betreffende sodanige ondersoeke op 24 Augustus 2001 (by wyse van goewermentskennisgewing R765) in die Staatskoerant afgekondig is. Ingevolge regulasie 12(2) van hierdie regulasies moes 'n ondersoek wat voor die inwerkingtreding daarvan begin het, afgehandel word onder die vorige regulasies wat op 28 September 1990 (by wyse van goewermentskennisgewing 2303) afgekondig is. Bygevolg was die bepalings van die 1990-regulasies deurentyd op die onderhawige aangeleentheid van toepassing.


[3] Volgens die klagstaat sou vier aanklagte van onprofessionele gedrag, almal van 'n seksuele aard, teenoor vier verskillende pasiënte, ondersoek word. By die aanvang van die ondersoek is aanklag 2 egter deur die pro forma aanklaer teruggetrek. Op aanklagte 3 en 4 is die appellant aan die einde van die vyf dae ondersoek deur die tugkomitee onskuldig bevind. In terme van die toepaslike regulasies was dit die einde van hierdie twee aanklagte. Die appèl wentel dus slegs om aanklag 1.


[4] Wat aanklag 1 betref het die tugkomitee by die raad aanbeveel dat die appellant skuldig bevind word aan onprofessionele gedrag wat skandelik van aard is. Aangaande die toepaslike straf was die tugkomitee se aanbeveling dat die appellant vir 'n tydperk van twee jaar in sy praktyk geskors word, maar dat die skorsing vir vyf jaar opgeskort word op voorwaardes waarna ek aanstons sal terugkeer.


[5] Hierdie aanbevelings is aan die raad voorgelê tydens sy vergadering in September 2001. Na oorweging het die raad besluit om die tugkomitee se aanbeveling ten opsigte van skuldigbevinding te aanvaar. Wat die aanbevole straf betref, was die raad egter prima facie van oordeel dat 'n opgeskorte vonnis as straf onvoldoende sou wees en dat die appellant se naam van die register verwyder behoort te word. Gevolglik is die appellant genooi om die raad deur skriftelike vertoë tot ander insigte te oortuig. Hierdie uitnodiging is deur die appellant aanvaar. In die skriftelike vertoë het die appellant ook gevra dat sy regsverteenwoordiger toegelaat moet word om mondelinge argument aan die raad voor te dra. Die volgende vergadering van die raad was op 4 en 5 Maart 2002. Tydens hierdie geleentheid is die appellant se versoek om mondelinge betoog geweier. Vervolgens is besluit dat as straf die appellant se naam uit die register van geneeshere verwyder word. Daarbenewens is die terugplasing van die appellant se naam op die register onderworpe gemaak aan die voorwaarde dat hy toepaslike psigiatriese behandeling ontvang vir die sielkundige probleme wat tot sy onprofessionele gedrag aanleiding gegee het en dat hy hierdie terapie suksesvol deurloop.


[6] Die appellant aanvaar dat hy tereg skuldig bevind is aan onprofessionele gedrag van 'n skandelike aard. Die beswaar is dus slegs teen die straf wat hom opgelê is. In wese is sy saak dat die raad die tugkomitee se aanbevelings moes aanvaar het. Ter ondersteuning hiervan is verskeie argumente aangevoer wat beter verstaanbaar is teen die agtergrond van die feite wat die aanklag waaraan hy skuldig bevind is ten grondslag gelê het.


[7] Die aanklag waaraan die appellant skuldig bevind is het betrekking op sy optrede teenoor een van sy vroulike pasiënte, mev M, op 25 September 1996. Hoewel mev M se naam in die uitspraak van die hof a quo vermeld word, vind ek herhaling daarvan onnodig. Howe moet meer bedag wees daarop om nie die name van onskuldige partye te openbaar waar sodanige openbaring geen bydrae tot die uitspraak lewer nie. Mev M het die appellant reeds ses maande vantevore vir die eerste keer besoek aan die hand van 'n verwysing deur 'n groep wat as die Depression and Anxiety Support Group bekend gestaan het. Hierdie groep het hulle daarop toegespits om pasiënte wat aan angs en depressie ly, tot hulp te kom. Die appellant het indertyd op die adviesraad van die groep gedien en was ook op die paneel van geneeshere na wie hulle gereeld pasiënte verwys het. Reeds tydens die eerste besoek het die appellant mev M gediagnoseer as 'n pasiënt wat emosioneel onstabiel is en wat aan erge depressie en angsversteuring ly, vir welke toestande hy medikasie voorgeskryf het.


[8] Tussen haar aanvanklike besoek in Maart 1996 en die gebeure op 25 September 1996, het mev M die appellant by ongeveer tien geleenthede besoek. Tydens elkeen van hierdie besoeke het die appellant haar in fyn besonderhede uitgevra oor die mees intieme aspekte van haar persoonlike lewe. Na aanleiding hiervan het sy hom onder meer meegedeel dat sy en haar man reeds vanaf die begin van hulle huwelik eintlik geen seksuele omgang gehad het nie. Sy was ongemaklik oor hierdie intieme ondervraging en het hom verseker dat seks nie vir haar belangrik was nie. Daarteenoor het die appellant al haar sielkundige probleme aan seksuele frustrasie toegeskryf en haar aangemoedig om oor seks te fantaseer.

[9] Volgens mev M se beskrywing van wat op 25 September 1996 plaasgevind het, het die appellant op dié dag, aan die einde van hul konsultasie, haar uit die bloute beveel om te ontklee. Toe sy haar onwilligheid te kenne gee, het die appellant kwaad geword en op intimiderende wyse daarop aangedring dat sy dit doen. Hierna het hy die konsultasiekamer verlaat met die opmerking dat hy na vyf minute sou terugkeer en dat sy intussen moes besluit 'of sy wou gesond word of nie'.


[10] Terwyl die appellant uit die kamer was, het mev M haar toe ontklee en 'n jurk aangetrek wat sy toegeknoop het. By sy terugkoms was die appellant se bui heel anders. Hy het haar met 'n glimlag versoek om op die bed te gaan lê. Hierop het hy toe haar jurk oopgeknoop, die gordyne rondom die bed toegetrek en begin om haar op mees intieme wyse te betas. 'n Uiteensetting van mev M se beskrywing van wat daarna gevolg het, blyk uit die klagstaat en uit haar getuienis waarvan 'n getroue weergawe in, onderskeidelik, para 4 en para 11 van die hof a quo se uitspraak (op 336C-G en 337F-I) te vinde is. Ek vind herhaling daarvan onnodig. Om dit kort te sny; op die ou end het die appellant orale gemeenskap met haar beoefen en homself in die proses tot by die punt van ejakulasie bevredig.

[11] Hoewel die appellant uiteindelik in sy getuienis nie mev M se beskrywing van die gebeure in enige wesenlike opsig betwis het nie, het hy, deur aanvanklik onskuldig te pleit, haar die verleentheid aangedoen om haar weergawe in al sy intieme detail voor die tugkomitee te herhaal. In die omstandighede is hierdie optrede nouliks verstaanbaar of verskoonbaar. Nog minder verstaanbaar was die wyse waarop mev M in kruisverhoor oor al hierdie intieme detail uitgevra is. Ek aanvaar egter ten gunste van die appellant dat hy nie persoonlik vir hierdie strategie verantwoordelik was nie en laat dit daar.


[12] Aan die einde van die gebeure op 25 September 1996 het die appellant, volgens mev M, aan haar voorgestel dat hulle 'n buite-egtelike verhouding aanknoop. Hoewel sy hoegenaamd nie hiervoor te vinde was nie, het sy vir omtrent twee weke die aangeleentheid verswyg. Daarna het sy vir die appellant 'n brief geskryf waarin sy hom in wese daarvan beskuldig het dat hy oneties en verkeerd opgetree het. Hierdie brief het sy persoonlik aan hom oorhandig en ook die inhoud aan hom oorgedra. Die appellant het toe met haar saamgestem dat dit wat hy aan haar gedoen het, professioneel oneties en moreel onregverdigbaar was. Hy het haar egter versoek om vir niemand van die voorval te vertel nie. Hoewel sy aanvanklik aan hierdie versoek voldoen het, sê mev M, het sy uiteindelik gevind dat sy nie met die ervaring kon saamleef nie. Gevolglik het sy bykans agt maande na die gebeure, in ongeveer Mei 1997, vir een van die sielkundiges by die Depression and Anxiety Support Group daarvan vertel. Op daardie stadium was sy in so 'n toestand dat sy onder meer na die hoof van psigiatrie by die Johannesburg Algemene Hospitaal, prof Michael Berk, vir behandeling verwys is.


[13] Mev M se openbaarmaking van die gebeure het daartoe gelei dat die appellant deur die voorsitter van die Depression and Anxiety Support Group, me Zane Wilson, en prof Berk daarmee gekonfronteer is. Volgens me Wilson en prof Berk, wat beide voor die tugkomitee getuig het, het die appellant reeds by hierdie geleentheid mev M se weergawe van die gebeure erken. Hy het toegegee dat hy 'n probleem het en onderneem om te gaan vir sielkundige behandeling. Hy het hulle ook meegedeel dat hy in elk geval van voorneme was om in die nabye toekoms sy praktyk op te gee en om as mediese adviseur vir 'n maatskappy te gaan werk. Dit alles het me Wilson en prof Berk laat besluit om nie die klagte teen die appellant verder te voer nie.


[14] Me Wilson se getuienis was dat sy toe weer in 1999 verdere klagtes ontvang het van pasiënte wat deur die Depression and Anxiety Support Group na die appellant verwys is dat hy hom weer aan ernstige wangedrag van 'n seksuele aard sou skuldig gemaak het. Hierop het sy besluit om die aangeleentheid by die raad aanhangig te maak. Die latere klagtes is, terloops, dié waarop die appellant op die ou end deur die tugkomitee onskuldig bevind is.


[15] Nadat die tugkomitee aangedui het dat hulle by die raad sou aanbeveel dat die appellant op aanklag 1 skuldig bevind word aan onprofessionele gedrag wat skandelik van aard is, is twee getuies namens die appellant ter versagting geroep, synde, sy gemeente predikant, ds P A Venter, en 'n psigiater, prof J L Roos. Volgens ds Venter het die appellant hom in die middel van 1997 kom spreek, onmiddellik nadat hy deur me Wilson en prof Berk met die klagtes teen hom gekonfronteer is. Die appellant het sy skuld erken en sy berou te kenne gegee. Hy was gebroke en het telkens in trane uitgebars. Vir ds Venter het die skuldbelydenis en berou eg oorgekom. Hy kon hom egter nie daaroor uitlaat of dit ook sou gebeur het indien die saak nie toe reeds op die lappe gekom het nie.


[16] Prof Roos is deur die appellant gekonsulteer met die spesifieke oogmerk om getuienis ter versagting af te lê. Een van die hoofoorsake van die gebeure was, na prof Roos se oordeel, dat die appellant, as algemene praktisyn, nooit behoorlik toegerus was om aangeleenthede van intiem persoonlike aard met pasiënte te hanteer nie. Hy is dus as 't ware aan die psigiatriese diepkant ingegooi. Prof Roos se aanbeveling was dat die appellant psigoterapie ontvang om 'n herhaling van sy optrede te voorkom en dat dit aan die betrokke sielkundige of psigiater opgedra word om die vordering met sodanige terapie aan die raad te rapporteer.


[17] Wat die appellant se professionele loopbaan betref, was die getuienis voor die tugkomitee dat hy in 1988 op 26-jarige ouderdom as geneesheer gekwalifiseer het en in 1992 met 'n privaat praktyk begin het. In 1997 het hy, soos wat hy vir me Wilson en prof Berk gesê het, sy praktyk gestaak en as mediese adviseur vir 'n maatskappy gaan werk. Hierdie maatskappy is egter in 1998 gelikwideer, as gevolg waarvan die appellant na sy privaat praktyk teruggekeer het. Aan die einde van 1999 het hy weer sy praktyk laat vaar en begin werk as 'n senior assistent in die trauma eenheid van 'n hospitaal in Johannesburg.


[18] In die lig van hierdie feite het die tugkomitee toe, soos ek reeds aangedui het, besluit om by die raad aan te beveel dat appellant vir 'n tydperk van twee jaar in sy praktyk geskors word, maar dat hierdie skorsing vir vyf jaar opgeskort word. Benewens die algemene voorwaarde dat die appellant hom nie gedurende die tydperk van opskorting weer aan 'n soortgelyke oortreding skuldig maak nie, het die tugkomitee die volgende twee opskortings-voorwaardes aanbeveel:

(a) Dat die appellant verbied word om 'kliniese werk binne privaat praktyk verband' gedurende die opskortingstydperk te doen.

(b) Dat die appellant hom onderwerp aan toepaslike psigoterapie deur 'n kliniese sielkundige en behandeling deur 'n psigiater soos deur hom/haar bepaal en dat, in dié verband, drie maandeliks verslae deur die twee terapeute aan die raad voorgelê word tot tyd en wyl die raad aandui dat hierdie verslae nie meer nodig is nie.


[19] Blykens die komitee se redes vir sy aanbeveling is as uitgangspunt aanvaar dat die appellant se oortreding so ernstig van aard was dat dit sonder meer sy skrapping van die register sou regverdig. Opweging van die strafversagtende omstandighede wat blyk uit die getuienis van ds Venter en prof Roos, so het die tugkomitee voortgegaan, het hom egter genoop om die oplegging van 'n opgeskorte skorsing aan te beveel. Die opskortings-voorwaarde dat die appellant hom aan psigiatriese terapie onderwerp ten einde 'n herhaling van sy optrede te voorkom, was op voorstel van prof Roos. Die toevoeging van die verdere opskortingsvoorwaarde, nl dat die appellant hom van kliniese werk in privaat praktyk weerhou, sou, volgens die tugkomitee se oordeel, voldoende wees om die publiek teen 'n herhaling van soortgelyke optrede te beskerm tot tyd en wyl die appellant die terapie suksesvol deurloop het. Uiteraard het die appellant se werk as senior assistent by 'n trauma eenheid binne die kader van hierdie opskortingsvoorwaarde geval.


[20] In die skriftelike betoog wat namens die appellant op uitnodiging aan die raad voorgelê is, is die tugkomitee se aanbevole straf ondersteun en die komitee se redes vir hierdie aanbeveling herhaal en onderstreep. In die loop van die betoog is weer eens besondere klem gelê op die versagtende omstandighede wat uit die getuienis van ds Venter en prof Roos blyk. Voorts is benadruk dat die appellant in die trauma eenheid waar hy werksaam is, waardevolle gemeenskapsdiens verrig en terselfdertyd, weens sy geringe kontak met pasiënte, slegs 'n geringe risiko skep dat hy deur herhaling van sy gewraakte optrede verdere nadeel kan veroorsaak.


[21] In die antwoordende beëdigde verklaring wat namens die respondent in die hof a quo geliaseer is, stel die voorsitter van die raad, dr L H Becker, dit onomwonde dat die raad, benewens die tugkomitee se aanbevelings en die redes wat ter motivering daarvoor verstrek is, ook die skriftelike vertoë namens die appellant, behoorlik oorweeg het. Desnieteenstaande, sê dr Becker, het die raad tot die slotsom gekom dat die opgeskorte vonnis wat deur die tugkomitee aanbeveel is, 'n ontoereikende straf sou wees.


[22] Blykens dr Becker se verklaring was die onderliggende oorwegings vir hierdie slotsom in wese tweeledig. Eerstens, dat die appellant in sy huidige psigiese toestand nie geskik is om as geneesheer te praktiseer nie omdat hy 'n risiko vir pasiënte inhou, welke risiko, na die raad se mening, nie voldoende ondervang sou word deur die voorgestelde opskortingsvoorwaardes nie. Tweedens, dat die skandelike gedrag waaraan die appellant hom skuldig gemaak het, so ernstig van aard was dat dit eenvoudig nie na behore deur die oplegging van 'n opgeskorte vonnis bestraf sou word nie. Anders gestel, dat die voorgestelde vonnis 'n verkeerde boodskap sou oordra aangaande die erns waarmee die raad wandade van seksuele aard deur geneeshere teenoor hulle pasiënte bejeen.


[23] Wat die raad, volgens dr Becker, in die onderhawige geval verswarend gevind het, was die feit dat mev M juis weens die sielkundige en emosionele probleme waarvoor sy by die appellant om hulp aangeklop het, besonder kwesbaar was en gevolglik swaar op die appellant geleun het. In die proses het mev M, volgens die appellant se eie getuienis, buitengewoon afhanklik van hom geraak en het daar 'n besondere vertrouensverhouding tussen hulle ontstaan waarin sy, onder meer, haar mees intieme geheime met hom gedeel het. Die appellant se brutale skending van hierdie vertrouensverhouding, so het die raad bevind, het die pasiënt ernstig benadeel.


[24] Dr Becker wys daarop dat dit spesifiek deur art 15A van die Wet aan die raad opgedra word (in sub-art (g)) om 'die waardigheid van die [mediese] beroep en die integriteit van die persone wat die beroep beoefen, te handhaaf en te bevorder' en (in sub-art (h)) om 'die publiek te beskerm'. In die lig hiervan, sê dr Becker, was die raad van oordeel dat hy, ten spyte van die klaarblyklike versagtende omstandighede waarna die tugkomitee verwys het, sou versuim om die pligte wat deur die Wet aan hom opdra word na te kom indien hy die tugkomitee se aanbeveling van 'n opgeskorte vonnis sou aanvaar.


[25] Dit is teen die agtergrond van hierdie feite wat die hof a quo geweier het om ingevolge art 20 van die Wet met die straf wat deur die raad opgelê is, in te meng. Wat blykens die hof se uitspraak 'n aansienlike mate van verwarring veroorsaak het, is die vraag of art 20 'n hersieningsaansoek of dan wel 'n appèl in die vooruitsig stel. Aan die einde van sy beredenering aangaande hierdie vraag (paras 35-38 te 343E-344C) kom die hof a quo, skynbaar op gesag van Simaan v South African Pharmacy Board 1980 (1) SA 764 (T) te 767G, tot die slotsom dat art 20 inderwaarheid 'n hersieningsaansoek beoog, wat daarop neerkom dat

'the Court cannot interfere with the finding of fact by the board if it had evidence before it upon which it could reasonably and honestly have arrived at the conclusion at which it did. ...'


[26] Hierdie siening oor wat art 20 van die Wet beoog, is eenvoudig verkeerd. Dit blyk onder meer uit die volgende dictum van Van Heerden AR in Health Professions Council of SA v De Bruin [2004] 4 All SA 392 (SCA) para 23 (te 403c-e):

'The appeal to the High Court created by s 20 of the Act has (in my view correctly) been described as "an appeal in the ordinary sense", i e "a rehearing on the merits but limited to the evidence or information on which the decision under appeal was given, and in which the only determination is whether that decision was right or wrong.'


[27] Soos egter ook in De Bruin (para 24 te 403h-404f) gesê word, is 'n appèl teen straf, soos die onderhawige, onderworpe aan die geykte beginsel dat die appèltribunaal, weens verskeie redes wat reeds by etlike geleenthede in die verlede geboekstaaf is, slegs met die opgelegde straf kan inmeng indien die strafoplegger 'n wesenlike mistasting ('misdirection') begaan het of indien die straf as 'ontstellend onvanpas' oftewel 'startlingly inappropriate' bestempel kan word (sien bv S v Whitehead 1970 (4) SA 424 (A) te 436C-E; S v Pillay 1977 (4) SA 531 (A) te 535E-G; S v Malgas 2001 (1) SASV 469 (SCA) para 12 te 478d-h). Dermate was die hof a quo dus reg in sy uitgangspunt dat sy bevoegdheid om in die onderhawige geval, in terme van art 20, met die opgelegde straf in te meng, beperk was. Dit was egter so, nie omdat art 20 'n hersieningsaansoek beoog nie, maar eenvoudig omdat dit 'n appèl teen straf was.

[28] Die 'wesenlike mistasting' wat die raad volgens die appellant se betoog begaan het, was om nie die tugkomitee se aanbeveling te aanvaar nie. Ter ondersteuning van hierdie betoog is aangevoer dat die posisie van die raad analoog was aan dié van 'n appèl tribunaal. Hiervolgens kon die raad dus slegs van die tugkomitee, as primêre strafoplegger, se aanbevole straf afwyk indien die tugkomitee 'n wesenlike mistasting begaan het of indien die aanbevole straf as 'ontstellend onvanpas' beskryf kon word. Myns insiens is daar geen meriete in hierdie betoog nie. Volgens regulasie 15(1) kan die raad 'die aanbeveling van 'n tugkomitee wysig of bekragtig of ... weier om dit te bekragtig of ... die saak na die tugkomitee verwys vir verdere oorweging en verslagdoening.' Hiervolgens maak die tugkomitee slegs 'n aanbeveling oor welke straf die raad moet oplê. Die tugkomitee lê self geen straf op nie. Die primêre strafoplegger is dus die raad, nie die tugkomitee nie. Van 'n appèl vanaf die tugkomitee na die raad kan daar geen sprake wees nie. Die hof a quo het die onderhawige betoog van die hand gewys op die grondslag dat die tugkomitee eintlik geen 'decision' of 'finding' gemaak het nie (sien paras 20-26 te 339F-341B). Dit is nie reg nie. Die tugkomitee het inderdaad 'n 'besluit' geneem en 'n 'bevinding' gemaak, maar die resultaat van hierdie besluit was slegs 'n aanbeveling en nie strafoplegging nie. Die strafoplegger was die raad.


[29] Die appellant se verdere kritiek teen die raad se werkswyse was gerig teen die weiering van appellant se versoek dat, benewens skriftelike vertoë, ook mondelinge betoog namens hom toegelaat word. In sy argument voor hierdie hof wou die appellant se advokaat nie hierdie punt van kritiek tot 'n bewering van 'n 'wesenlike mistasting' verhef nie. Ten besluite was dit dus geensins duidelik waarheen aanvaarding van die betoog veronderstel was om te lei nie. Hoe dit ook al sy, die punt van kritiek is in elk geval ongefundeerd. Soos in De Bruin (para 15 te 410A-B), op 'n uitleg van dieselfde regulasies beslis is, was die appellant nie geregtig om op mondelinge vertoë aan te dring nie en was die raad gevolglik geregtig om sy versoek te dien effekte te weier. Die appellant het klaarblyklik voldoende geleentheid gehad om sy saak te stel voordat die raad op 'n gepaste straf besluit het.


[30] Laastens, was die appellant se betoog dat die straf wat hom opgelê is in al die omstandighede ontstellend onvanpas was. Na my oordeel is daar hoegenaamd geen meriete in hierdie betoog nie. As vertrekpunt moet soos in De Bruin (para 23 te 403d-g) aanvaar word dat die raad en nie die hof nie die primêre custos morum van die mediese beroep is. Daarbenewens en in elk geval het ek reeds verwys na die oorwegings wat, volgens dr Becker, die raad se besluit ten grondslag gelê het. In die lig hiervan is die kort antwoord op die appellant se betoog, myns insiens, dat daar geen geldige kritiek ingebring kan word, teen óf die raad se onderliggende oorwegings, óf die slotsom aangaande die straf waartoe dit hom gelei het nie.


[31] Gevolglik word die appèl met koste van die hand gewys.





.......................

F D J BRAND

APPÈLREGTER


Stem saam:


HARMS AR

STREICHER AR

LEWIS AR

MLAMBO AR


▲ To the top