Ehlers NO en Andere v Graphorn NO en Andere (265/2003; 278/2003) [2005] ZASCA 6 (15 Maart 2005)







IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA


Rapporteerbaar / RNie rapporteerbaar


SAAK NR: 265/03


In die appèl van:


GERT LEOPOLD EHLERS NO Eerste Appellant

DANIEL HUGO EHLERS NO Tweede Appellant

WILLEM JACOBUS ERASMUS NO Derde Appellant

TANGENI BOERDERY NR 2 Vierde Appellant


- en -


HENDRIK GRAPHORN NO Eerste Respondent

DIE KWAZULU-NATAL NATUURBEWARINGSRAAD Tweede Respondent

ERF 1435 SINOVILLE (EDMS) BEPERK Derde Respondent



SAAK NR 278/03


In die appèl en kruisappèl van:


HENDRIK GRAPHORN Eerste Appellant

ERF 1435 SINOVILLE (EDMS) BEPERK Tweede Appellant


  • en –


DIE KWAZULU-NATAL NATUURBEWARINGSRAAD Respondent

______________________________________________________________________________

Before: STREICHER, BRAND, CLOETE, HEHER & VAN HEERDEN JJARR

Heard: 18 FEBRUARIEY 2005

Delivered: 15 MAART 2005

Summary: Nalatige wanvoorstelling – stilswyende term van 'n ooreenkoms.

______________________________________________________________________________


U I T S P R A A K

____________________________________________________________________________


STREICHER JAR


STREICHER JAR:

[1] Op 20 Junie 1998 het die Kwazulu Natal Natuurbewaringsraad ('die Raad') 'n wildsveiling gehou waartydens, onder andere, buffels verkoop is. Die buffels is in 'n katalogus en elders beskryf as siektevry wat aanduidend daarvan was dat hulle nie met korridorsiekte besmet was nie. Dit het egter geblyk nie die geval te wees nie. Van die buffels wat deur Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk ('Sinoville') op die wildveiling aangekoop is, is daarna, ingevolge `n kontrak met `n vennootskap, Tangeni Boerdery Nr 2 ('Tangeni'), losgelaat op die plaas Kleine Waterval waar Tangeni met, onder andere, beeste geboer het. Korridorsiekte is vanaf die buffels na die beeste oorgedra as gevolg waarvan talle van die beeste gevrek het en die buffels van kant gemaak is. Tangeni het daarna aksie vir skadevergoeding teen die Raad sowel as teen Sinoville ingestel. In die geval van die Raad beweer Tangeni dat die Raad 'n nalatige wanvoorstelling gemaak het dat die buffels siektevry was. In die geval van Sinoville beweer Tangeni dat dit 'n stilswyende term van sy kontrak met Sinoville was dat die buffels siektevry was. Sinoville het ook aksie teen die Raad ingestel vir skadevergoeding op grond van 'n nalatige wanvoorstelling dat die buffels siektevry was was, alternatiewelik vir terugbetaling van die koopprys op grond van dwaling ten opsigte van die koopsaak. Die aksies is in die Natalse Provinsiale Afdeling ('die hof a quo') ingestel. Hulle is gekonsolideer en die hof a quo het op versoek van die partye eers met die aanspreeklikheidsvraagstuk gehandel. Na die aanhoor van getuienis het die hof a quo bevind:

    1. Dat geen nalatigedie wanvoorstelling deur die Raad aangaande die siektevrye status van die buffels nie nalatiglik gemaak is nie en dat Tangeni sowel as Sinoville se eise teen die Raad gebaseer op 'n nalatige wanvoorstelling, van die hand gewys moes word.

    2. Dat die koopkontrak tussen die Raad en Sinoville gesluit is op die gemeenskaplike veronderstelling dat die buffels siektevry was; dat die dwaling van beide redelik was; dat die kontrak gevolglik nietig was; en dat Sinoville geregtig was op terugbetaling van die koopprys.

    3. Dat die kontrak tussen Tangeni en Sinoville nie 'n stilswyende term bevat het dat die buffels siektevry was nie en dat Tangeni se vordering teen Sinoville gevolglik van die hand gewys moes word.

[2] Met die verlof van die hof a quo appelleer Tangeni nou teen die afwysing van sy skadevergoedingseise teen die Raad en Sinoville, Sinoville appelleer teen die afwysing van sy skadevergoedingseis teen die Raad en die Raad appelleer teen die bevel dat hy die koopprys moet terugbetaal aan Sinoville. In die lig van die gevolgtrekking waartoe ek kom ten opsigte van Sinoville se skadevergoedingseis teen die Raad op grond van nalatige wanvoorstelling, sal dit blyk onnodig te wees om met Sinoville se alternatiewe vordering vir terugbetaling van die koopprys te handel.die laasgenoemde appèl te handel. Die enigste oorblywende geskilpunte waarmee gehandel moet word is of die voorstelling gemaak deur die Raad nalatiglik gemaak is en of dit 'n stilswyende term van die ooreekoms tussen Tangeni en Sinoville was dat die buffels siektevry sou wees.

[3] Korridorsiekte is 'n bosluis oorgedraagte siekte. Besmette buffels is gewoonlik simptoomlose draers van die siekte. Van besmette buffels kan die siekte deur 'n bosluis bekend as `n bruinoorbosluis oorgedra word na onbesmette buffels of beeste. Omdat buffels kudde diere is en baie noue kontak met mekaar het, sal daar baie gou verspreiding na al die ander buffels in 'n spesifieke populasie wees indien een van die buffels in die kudde besmet raak en daar bruinoorbosluise in die omgewing is. Wanneer die siekte na beeste oorgedra word is die gevolge rampspoeding aangesien meer as 80% van die aangetaste diere binne 'n periode van 'n maand na aantasting kan vrek.

[4] Die bruinoorbosluis is 'n driegasheerbosluis. Sy lewenssiklus begin by 'n eiertjie wat gelê word deur 'n wyfie nadat sy 'n bloedmaal van 'n gasheer geneem het. Die eerste stadium van die bosluis wat uit die eier uitbroei is 'n larfie. Dit is 'n sespotige bosluismodelletjie met 'n harde doppie wat kleiner as 'n speldekoppie is. Vir oorlewing moet hy 'n gasheer kry. Vir dié doel klim hy teen grashalmpies op waar hy sal sit totdat daar 'n gasheer verbyloop. Hy kan slegs 'n klein hoeveelheid bloed inneem en nadat hy dit gedoen het, los hy waar hy vasgebyt het en val af. Hy vervel dan en kom uit sy doppie as 'n nimf, synde 'n bietjie groter bosluismodel. Die nimf kan tot vyf maande lank oorleef in die veld en gaan deur dieselfde proses as die larf. Nadat hy vervel het verskyn hy as 'n volwasse vierpotige bosluis wat óf `n mannetjie óf `n wyfie kan wees. Ook die volwasse bruinoorbosluis kan vir etlike maande in die veld oorleef. Oorlewing van die spesie vereis nou nie alleen 'n maaltyd nie maar ook die vind van 'n maat. In die geval van die volwasse bruinoorbosluis is die voorkeur bytplek die ore. Dit is waar die mannetjie die wyfie sal vind en waar hulle sal kopuleer nadat albei vasgebyt het. Hulle kan vir 'n week of wat op 'n gasheer rondloop voordat hulle vasbyt en kan afgeskuur word of afval omrede hulle nie van die gasheer hou nie. Eers nadat twee bosluise gekopuleer het, sal die wyfie haarself vol suig. Die mannetjie daarenteen suig homself nooit vol nie. Hy soek wyfies en is meer beweeglik. Hy kan tot drie maande op `n buffel rondloop.

[5] Besmetting word nie van die wyfiebosluis na haar nageslag oorgedra nie met die gevolg dat die larf nie korridorsiekte kan oordra nie. Sou so 'n larf egter aan 'n besmette buffel suig kan hy besmet raak wat tot gevolg het dat hy in sy nuwe gedaante van nimf wel die besmetting kan oordra. Omdat 'n nimf klein is en klein volumes bloed inneem, is hulle oordragpotensiaal kleiner as dié van die volwasse bosluis. Onderhewig aan die kwalifikasie hierna vermeld verloor 'n besmette nimf of volwasse bosluis sy besmetting wanneer hy aan 'n onbesmette dier suig. Dit is egter nog nie wetenskaplik vasgestel of die mannetjie moontlik sy besmetting langer behou vanweë die feit dat hy klein hoeveelhede bloed per geleentheid inneem nie.

[6] Die buffels in die Addo Olifantpark ('Addo'), waar die bruinoorbosluis nie voorkom nie, is nie met korridorsiekte besmet nie. Hulle kan slegs so besmet raak indien hulle in aanraking sou kom met besmette bruinoorbosluise. Dit volg dat indien voorsorg getref word dat Addo buffels nie in aanraking kom met besmette bruinoorbosluise nie hulle vry van korridorsiekte gehou kan word.

[7] Ingevolge regulasies uitgevaardig ingevolge die Wet op Dieresiektes 35 van 1984 mag buffels slegs verskuif word indien gemagtig deur 'n permit uitgereik deur die verantwoordelike staatsveearts en dan slegs van grond e en na grond wat ingevolge die regulasies geregistreer is by die Direkteur van die Direktoraat van Dieregesondheid van die Departement van Landbou. Grond word geregistreer vir die aanhouding van buffels ooreenkomstig hulle siektestatus d.w.s. korridorsiektevrye buffels word aangehou op grond wat as korridorsiektevry geregistreer is.

[8] As gevolg van die beheermaatreëls het dit algemene gebruik geword om na buffels wat van Addo afkomstig was en hulle op geregistreerde buffelplase bevind, te verwys as siektevrye buffels of as Addo buffels, al was hulle reeds meerdere geslagte van Addo verwyder. Mettertyd het die beskrywing 'siektevry' ook ander siektes soos tering, bek-en-klouseer en besmetlike misgeboorte ingesluit.

[9] In 1998 was dit reeds moontlik om by wyse van patologiese toetse te bepaal of buffels inderdaad vry van korridorsiekte was al dan nie. Die koste van die toetse het tussen ongeveer R62050 en R1200 per buffel bedra. Vir doeleindes van die toetse moes die buffels geïmmobiliseer word ten einde bloedmonsters te bekom. Nieteenstaande die beskikbaarheid van hierdie patologiese toetse is algemeen aanvaar dat buffels wat van Addo oorsprong was en hulle op grond, geregistreer vir die aanhouding van siektevrye buffels, bevind het, siektevry was. Sulke buffels is algemeen bloot op die basisgrond van hulle herkoms as siektevry verkoop sonder dat die toetse op hulle uitgevoer is.

[10] Die buffels wat op die Raad se wildsveiling verkoop is, was afkomstig van die Weenen Natuurreservaat ('Weenen'). Voor 1983 was daar geen buffels op Weenen. Agtien buffels van Addo oorsprong is gedurende die periode 1983 tot 1984 op Weenen gevestig. Gedurende April 1990 is 10 buffels vanaf Weenen na Ithala Natuurreservaat ('Ithala') oorgeplaas. Op 6 Augustus 1996 is 'n verdere 24 buffels vanaf Spioenkop Natuurreservaat ('Spioenkop') oorgeplaas na Weenen. Geen ander buffels is op Weenen gevestig nie.

[11] Die Spioenkop-buffels het die volgende oorsprong: Vyf is gedurende September 1988 oorgeplaas vanaf die Willem Pretorius Natuurreservaat ('Willem Pretorius'); ses is gedurende 1989 oorgeplaas vanaf Willem Pretorius; en twee is gedurende 1991 oorgeplaas vanaf die Pretoria Dieretuin. Al hierdie buffels was van Addo oorsprong. Aanvanklik het die rekords van die Raad aangetoon dat 12 buffels vanaf 'n private landgoed in Spioenkop opgeneem is. Heelwat tyd is gedurende die verhoor in beslag geneem deur getuienis in hierdie verband. Aan die einde van die verhoor was dit egter duidelik dat aanvaar moes word dat die buffelkudde te Spioenkop geen ander oorsprong as Willem Pretorius en die Pretoria Dieretuin gehad het nie.

[12] Soos in die geval van Addo kom die bruinoorbosluis nie voor in die Willem Pretorius Wildreservaat nie. In Weenen en Spioenkop kom hy egter algemeen voor.

[13] Nadat 24 buffels gedurende Augustus 1996 vanaf Spioenkop na Weenen oorgeplaas is was daar nog slegs drie buffels te Spioenkop. Die oorblywende drie is voor einde September 1996 van kant gemaak. Na ongeveer nege maande is buffels, synde afstammelinge van Zoeloelandse buffels, wat te Kimberley siektevry geteel is, na Spioenkop oorgeplaas.

[14] In 'n brosjure waarin die wildsveilingwildveiling geadverteer is, sowel as in die katalogus met betrekking tot die veiling, word die buffels wat te koop aangebied is, as siektevry beskryf. Die afslaer het ook tydens die veiling na die buffels verwys as synde siektevry. Die stelling dat die buffels siektevry was, is nie gemaak op sterkte van enige patologiese toetse wat uitgevoer is om die siektestatus van die buffels te bepaal nie maar is bloot op die herkoms van die buffels gebaseer.

[15] Die veiling is bygewoon deur mnre Graphorn en Ehlers. Graphorn het namens Sinoville ses buffels (Lot 801) teen 'n koopprys van R636 000 aangekoop. Indien hy nie van mening was dat die buffels siektevry was nie sou hy hulle nooit aangekoop het nie. Buffels wat nie siektevry was nie, sou maar 'n prys van ongeveer R15 000 per buffel behaal het. Vanaf die veiling is die buffels geneem na 'n geregistreerde buffelplaas te Cullinan vanwaar hulle later (via ‘n geregistreerde buffelplaas te Rustenburg) geneem is na die plaas Kleine Waterval. Laasgenoemde verskuiwing het plaasgevind ingevolge 'n skriftelike ooreenkoms aangegaan tussen Tangeni verteenwoordig deur Ehlers en Sinoville verteenwoordig deur Graphorn. Die terme van die ooreenkoms is vervat in 'n brief geskryf deur Ehlers en lees soos volg:

'Hiermee stel ek voor dat u u buffels op my eiendom vestig, op die volgende voorwaardes.

1 Buffels gevestig bly u eiendom.

2 Dieselfde getal as buffels gevestig, se eerste kalwers bly u eiendom.

3 Alle kalwers daarna 50% u eiendom.

4 Verwydering van u buffels te eniger tyd.

5 Uitbreek van buffels of vrektes bly u risiko.

6 Verblyf op wildplaas gratis, met vooraf bespreking.'

[16] Die verskuiwing na Kleine Waterval het plaasgevind op 20 September 1998. Die bruinoorbosluis kom op die plaas voor. Gedurende Januarie en Februarie 1999 het meer as 200 van die beeste op die plaas gevrek as gevolg van korridorsiekte. Patologiese toetse het aangetoon dat die buffels wat op Kleine Waterval gevestig is, met korridorsiekte besmet was. Daaropvolgende toetse op die buffels te Weenen, Addo, Ithala, Pretoria Dieretuin, Spioenkop en Willem Pretorius het aangetoon dat die Weenen- en Spioenkop-buffels besmet was maar nie die ander nie. In die lig van die feit dat die patologiese toetse aangetoon het dat die Ithala-buffels siektevry was en dat die Kimberley-buffels na hulle verskuiwing na Spioenkop besmet geraak het, is die logiese gevolgtrekking, wat ook gemeensaak is, dat die Weenen-buffels na 1990 besmet geraak het; dat die Spioenkop-buffels wat in 1996 na Weenen oorgeplaas is, besmet was; en dat die laasgenoemde Spioenkop-buffels wat in 1996 oorgeplaas is na Weenen die besmetting oorgedra het na Weenen.

[17] Dit is gemeensaak dat óf die invoer van 'n besmette buffel óf die invoer van 'n besmette bosluis die besmetting van die Spioenkop-buffels veroorsaak het. Die partye het nie betoog en op die getuienis kan nie betoog word, dat een of meer van die buffels wat vanaf Willem Pretorius ingevoer is moontlik besmet kon wees nie. In die geval van die Pretoria Dieretuin is die posisie egter anders. In 1979 het 'n Amerikaanse bison wat in 'n hok net langs die buffels aangehou is, gevrek en die moontlikheid bestaan dat korridorsiekte die oorsaak was. Die feit dat die Pretoria Dieretuin-buffels in 1999 nie met korridorsiekte besmet was nie sluit nie die moontlikheid uit dat die buffels wat in 1991 daarvandaan oorgeplaas is na Spioenkop met die siekte besmet was nie. Dr Cooper, 'n veearts in diens van die Raad, het naamlik getuig:

'How (do)does the negative tests affect the possibility that there still (was) corridor disease at the Pretoria Zoo when buffalo (were sent)was send to Spioenkop? – It's possible that the infected buffalo were no longer there or if the buffalo had been kept under tick free conditions, the possibility might exist that they had lost that infection.'

Die advokaat wat vir die Raad opgetree het, het ook self aan dr Potgieter, die Waarnemende Direkteur van Onderstepoort, gestel: 'Wat dit vir ons sê is dat die Pretoria Dieretuin se buffels vandag die datum van die toets, negatief was, maar natuurlik weet ons nie wat `n moontlike toestand vroeër was nie.' Potgieter het bevestigend geantwoord. Op die getuienis is dit onwaarskynlik dat enige ander buffel verantwoordelik vir die besmetting van die Spioenkop-buffels kon wees.

[18] Indien 'n besmette buffel nie die oorsaak van die besmetting van die Spioenkop-buffels was nie, was 'n besmette bosluis waarskynlik die oorsaak. In Augustus 1999 het dr Cooper, 'n veearts in diens van die Raad,, in 'n memorandum aangaande, onder andere, die onderhoud van siektevrye buffelkuddes in die natuurbewarings beheerde gebiede van die Raad soos volg verslag gedoen:

'At this point in time it has not been possible to link the spread of corridor disease to the Spioenkop buffalo through the previous introduction of an infected animal. It is therefore necessary to consider the possibility that the infection may have been introduced through the introduction of an infected tick rather than an infected buffalo thus necessitating additional control measures.

. . .

At this point in time the only presumed disease free herd of buffalo left in NCS1 controlled areas is the Ithala herd. For obvious reasons everything possible must be done in order to maintain it as such.

. . .

Every precaution must be taken to ensure that no brown ear ticks are transported to Ithala either in capture vehicles or on materials used in capture operations. The risk is increased if the capture team has been working in a corridor and buffalo area such as HUP2 just prior to moving to Ithala. This should be taken into account when planning capture operations.

1) All transport vehicles must be thoroughly sprayed with an acaricide (Bayticol) prior to moving to Ithala.

2) Separate capture material such as netting and plastic should be obtained exclusively for use in Ithala and kept on the Reserve. As an interim measure the netting and plastic material intended for use in Ithala must be sprayed with Bayticol before being packed and transported to Ithala. In addition the material used in Itala should not have been used in a brown ear tick area where buffalo are present for a period of at least two weeks prior to being used in Ithala.

3) Capture and Veterinary staff who may be called to Ithala to treat or capture animals on an ad hoc basis must be aware that they may be carrying infected brown ear ticks and should take precautions to prevent this from occurring. At the very minimum a fresh change of clothing would be required before entering the Reserve.'

Nalatige wanvoorstelling

[19] Dit is gemeensaak dat die Raad 'n wanvoorstelling gemaak het dat die buffels siektevry was. Die hof a quo het egter bevind dat nie bewys is dat die voorstelling nalatiglik gemaak is nie en het gevolglik Tangeni sowel as Sinoville se eise teen die Raad op grond van nalatige wanvoorstelling van die hand gewys.

[20] Indien 'n redelike man in die posisie van die Raad onder die omstandighede nie die voorstelling sou gemaak het nie het die Raad nalatig opgetree deur dit wel te maak, andersins nie (sien Sea Harvest Corporation (Pty) Ltd v Duncan Dock Cold Storage (Pty) Ltd 2000 (1) SA 827 (SCAHHA) op 839G). Die hof a quo het sy bevindings dat die Raad nie die voorstelling nalatiglik gemaak het nie op die volgende bevindings gebaseer:

  1. Die deskundige getuies was van mening dat die Raad, deur nie die buffels voor die veiling patologies te toets nie, binne die aanvaarde norme wat gegeld het ten tyde van die veiling opgetree het en dat hulle self net so sou opgetree het.

  2. Die permitstelsel het vir baie jare gegeld en is beskou as voldoende maatreël ten einde die versppsreiding van siekte te voorkom.

  3. Die Departement van Veeartsenydienste het nie toetsing vereis nie en het die houding ingeneem dat dit nie nodig was om die buffels wat van Weenen na die kopers verskuif sou word te toets nie.

  4. Waar dit nie verklaar kan word hoe die buffels besmet geraak het nie dien dit as bewys dat die besmetting van die buffels nie redelik voorsienbaar was nie.

[21] Dr de Waal, die Assistent-dDirekteur: Parasitologie van Onderstepoort Veeartsenykunde Instituut het getuig:

'Gedurende daardie jare wat daardie stelsel gegeld het, (het u nooit gedink) dat daardie stelsel nie suksesvol sal werk en dat 'n mens 'n ander stelsel moet hê nie? – Nie spesifiek nie, nee.

En daardie praktyk om diere te verkoop of te vervoer, en hulle status te bepaal deur oorsprong, was algemeen dwarsdeur die land gebruik en toegepas? – So ver ek weet, ja.

Dit was die algemene praktyk wat almal wat buffels wou verkoop of skuif, toegepas het? – Korrek, ja.'

Dr Krige, wat tot kort voor die verhoor in die hof a quo die Adjunk-Direkteur van die Departement van Veeartsenydienste was, het getuig dat niemand wat in 1998 buffels wou verkoop daaraan sou gedink het om hulle te toets nie en dat om buffels sonder toetsing te verkoop en te vervoer redelike optrede was.

'n Gedeelte van mnr Lambrechts, voormalige Direkteur en Hoof van Natuurbewaring van Gauteng, se getuienis lees soos volg:

'So u sê dit was glad nie nodig om enige navrae of ondersoeke te doen in verband met sy siektetoestand nie? – 'n Addo buffel was skoon, so daarom was dit nie nodig nie.

Is dit nie so dat sy siektestatus was bepaal deur sy herkoms? – Dis korrek.'


Dr Potgieter het ook getuig:

'Iemand wat tot in 1998 in die natuurbewaringsbedryf buffels verkoop het en die status bepaal (het) deur herkoms, het redelik opgetree. – Edelagbare, hulle het binne die aanvaarde norme wat gegeld het ten tye, opgetree.'

Dit is op sterkte van hierdie getuienis wat die hof a quo beslis het dat die Raad binne die aanvaarde norme wat gegeld het ten tyde van die veiling opgetree het.

[22] Lambrechts het met sy verwysing na 'n Addo buffel bedoel 'n 'buffel wat sy oorsprong direk vanaf Addo gehad het, wat aangehou is onder omstandighede wat hy die benaming Addo buffel verdien'. Later het hy dit nog duideliker gemaak dat slegs in besondere gevalle op grond van oorsprong 'n aanname gemaak kon word dat buffels siektevry is. Hy het naamlik getuig:

'[A]s jy jou lyn sonder kontaminasie kan terugvoer na 'n skoon buffel en in alle opsigte dit kan waarborg, dan is u heeltemal korrek, dan was dit die gebruik om hulle nie te toets nie, want dit was nie nodig nie.'

'n Skoon buffel het in die merendeel van gevalle sy oorspsrong gehad vanaf Addo, wat daar 'n direkte lyn was vanaf Addo na die plek waar hulle aangehou was met geen sprake, geen moontlikheid van kontaminasie nie. Daarom is u heeltemal korrek om te sê in die volksmond word na die Addo of na die Willem Pretorius buffels verwys as synde Addo buffels, want daar is geen moontlikheid van kontaminasie nie, maar dit is vir seker nie die geval met buffels wat in gebiede gevestig is waar die oorsprong daarvan, van die diere, nie klinkklaar kon vasgestel word nie en veral waar daar 'n periode verloop het waar eksterne invloede wel 'n invloed kon gehad het, soos met Weenen.’

[23] Lambrechts se getuienis is duidelik korrek. Die feit dat verkopers buffels as siektevry verkoop het op grond van hulle oorsprong kan nie tot gevolg hê dat dit in alle omstandighede redelik is om dit te doen nie, selfs indien 'n redelike man sou voorsien het dat die buffels moontlik in aanraking gekom het met 'n besmette bosluis of 'n besmette buffel (in 'n gebied waarin die bruinoorbosluis voorkom) en hom sou vergewis het van die korrektheid van die voorstelling. 'n Persoon wat in sulke omstandighede 'n buffel as siektevry verkoop is per definisie nalatig. Insoverre De Waal, Krige en Potgieter bedoel het om te sê dat volgens die aanvaarde norme van die tyd `n buffel op grond van herkoms as siektevry verkoop kon word selfs in die voormelde omstandighede, moet hulle getuienis gevolglik verwerp word. Dit skyn egter vir my onwaarskynlik te wees dat hulle dit bedoel het. Indien wel was dit in stryd met ander getuienis deur hulle gelewer. De Waal het byvoorbeeld ook getuig dat indien sy advies gevra sou gewees het, sou hy aanbeveel het dat die buffels getoets word alvorens hulle as siektevry verkoop word. Krige het getuig dat as jy buffels as siektevry adverteer is die enigste aanvaarbare optrede om hulle deur 'n veearts te laat toets. Potgieter se getuienis was dat vanuit `n wetenskaplike oogpunt is daar geen regverdiging voor om die siektevrye status van buffels te bevestig sonder om toetse te doen nie. Hy het ook getuig:

'Indien honderd persent akkurate en betroubare lewensgeskiedenis van sulke diere voorsien kan word, wat wel op individuele basis identifeiseerbaar is, kan aannames gemaak word. Ondervinding het egter die risiko's van sulke aannames blootgelê en daarom is die reeks laboratoriumtoetse, die enigste betroubare bevestiging van die siektestatus van buffels.'

[24] In elke geval moet steeds bepaal word of 'n redelike persoon in die posisie van die Raad in die lig van al die omstandighede die voorstelling sou gemaak het dat die buffels siektevry was. Alvorens 'n redelike persoon so 'n voorstelling sou gemaak het, sou hy homself eers die vraag afgevra het of daar 'n moontlikheid bestaan dat die buffels sedert hulle, of hulle voorgeslagte, van Addo verskuif is, besmet kon geraak het. Die advokate wat vir die Raad opgetree het, het die korrektheid van hierdie stelling toegegee maar het betoog dat 'n redelike persoon, in die lig van al die omstandighede, sou geoordeel het dat die kanse dat die buffels op Spioenkop besmet was so gering was dat 'n redelike persoon nietemin die voorstelling sou gemaak het dat hulle siektevry was.

[25] Namens die Raad is, soos wat suksesvol gedoen is in die hof a quo, gesteun op die permitstelsel. Die permitstelsel kan egter hoogstens 'n faktor wees by beoordeling van die vraag of buffels moontlik sedert hulle verskuiwing van Addo besmet geraak het. Vir doeleindes van uitreiking van die permit het die betrokke staatsveearts niks meer gedoen as om hom te vergewis van die herkoms van die betrokke buffels en dat hulle verskuif word van grond na grond wat geregistreer is vir die aanhouding van siektevrye buffels nie. Geen ondersoek is gedoen om vas te stel of die buffels inderdaad siektevry was nie. Dit sou dus totaal onredelik wees om 'n permit as bewys van siektestatus te beskou. Dit is nooit as sulks bedoel nie.

[26] Die feit dat die Departement van Veeartsenydienste nie toetsing vereis het nie en die houding ingeneem het dat dit nie nodig was om die buffels wat van Weenen na kopers verskuif sou word te toets nie, kan ook nie beskou word as 'n vorm van versekering deur die Departement dat die buffels siektevry was nie. Die Departement gee nie voor kennis te dra dat die buffels nie aan besmetting blootgestel is nadat hulle of hulle voorgeslagte van Addo verwyder is nie en kan gevolglik nie geag word so 'n voorstelling te maak deur nie toetsing te vereis nie.

[27] Ek stem ook nie saam met die vierde rede verstrek deur die hof a quo naamlik dat nie verklaar kan word hoe die buffels besmet geraak het nie en dat dit as bewys dien dat die besmetting van die buffels nie redelik voorsienbaar was nie. Dit is gemeensaak dat die invoering van `n besmette buffel of bosluis of beide die besmetting veroorsaak het.

[28] Op die getuienis is dit moontlik dat een of beide van die buffels afkomstig vanaf die Pretoria Dieretuin besmet was. 'n Staatsveearts het wel 'n permit uitgereik vir die vervoer van die buffels vanaf die Pretoria Dieretuin na Spioenkop in welke permit die buffels as Addo-buffels beskryf is, maar dit dui niks meer aan as dat die buffels van Addo oorsprong was en dat Pretoria Dieretuin en Spioenkop geregistreer was as grond waarop siektevrye buffels aangehou kon word nie. Die permit dui nie aan dat die buffels inderdaad siektevry was nie. Onder die omstandighede sou 'n redelike man hom nie bloot op die permit verlaat het nie maar sou hy verdere navraag gedoen het om te bepaal of die buffels nie moontlik wel besmet was nie. Die Raad het egter geen sodanige navrae gedoen nie.

[29] Namens die Raad is betoog dat nie bevind kon word dat die Pretoria Dieretuin-buffels moontlik besmet was nie omrede hulle deur die partye as siektevry aanvaar is. Dit blyk wel dat nie in die hof a quo betoog is dat die Dieretuin-buffels die oorsaak van die besmetting was nie maar dit blyk ook dat dit nie tydens die verhoor toegegee is nie die geval te wees nie. Soos reeds aangetoon, is tydens die verhoor, meer spesifiek tydens die getuienis van Potgieter en Cooper, gehandel met die vraag of die Pretoria Dieretuin-buffels moontlik besmet was en was die getuienis dat dit wel 'n moontlikheid was. Onder die omstandighede en by gebrek aan enige getuienis tot die teendeel, moet bevind word dat daar wel so 'n moontlikheid bestaan het en dat navrae in die verband die moontlikheid aan die lig sou gebring het.

[30] Indien die Pretoria Dieretuin-buffels nie verantwoordelik was vir die besmetting van die Spioenkop-buffels nie moes dit 'n besmette bosluis wat van elders ingevoer is, gewees het. Verskeie van die getuies het getuig ten aansien van die moontlikheid dat 'n bruinoorbosluis Spioenkop binnegebring kon word. Geen een van die getuies kon die moontlikheid uitsluit nie en geen een kon die moontlikheid kwantifiseer nie. Krige het wel getuig dat 'n bruinoorbosluis 'met die hand' ingedra kon word maar dat die kans dat dit kon gebeur het, een in 'n paar miljoen was. Dit is egter duidelik dat hy geen basis vir sy kwantifisering van die moontlikheid gehad het nie. Later het hy getuig dat bosluise op nette kon voorkom maar dat die kanse skraal was en dat hy ook aan gras en hooi gedink het maar dat hy nie 'weet nie'.

[31] Volgens Potgieter word veesiektes dikwels van een gebied na 'n ander oorgedra deur besmette bosluise. Dit is 'n algemene praktyk om diere met bosluisdoders te behandel voordat hulle vervoer word ten einde die verspreiding van siektes te voorkom. Hy het getuig dat bosluise moontlik op ander diere of in vangnette wat gebruik is om diere te vang of in die 'beddegoed' van diere wat verskuif word vanuit bruinoorbosluis endemiese gebiede Spioenkop binnegebring kon gewees het.

[32] Dr W H Stoltsz, 'n senior dosent in die Departement Tropiese Siektes, Fakulteit Veeartsenywetenskap van die Universiteit van Pretoria, het wel getuig dat die kanse dat 'n besmette bruinoorbosluis Spioenkop op 'n gasheer binnegebring is 'rather remote' was maar 'for a lack of hard evidence' was hy nie in staat om 'n persentasie daarop te plaas nie. Hy was van mening dat die kanse van die invoer van 'n besmette bosluis so gering was dat niemand gedink het om voorsorgmaatreëls te tref nie. Tog het hy die moontlikheid genoem dat hulle in die beddegoed of in nette ingebring kon word en dat die kans dat dit kon gebeur van verskeie omstandighede afhanklik was.

[33] Dr L P Stoltz, 'n voormalige direkteur van die Vrystaatse Direktoraat Natuur en Omgewingsbewaring was van mening dat 'n besmette bosluis Spioenkop moontlik binnegebring kon wordgewees het maar dat dit onwaarskynlik was. J J Kooy, 'n professionele wildvanger, het getuig dat hy nie bewus is van 'n geval waar 'n siekte oorgedra is deur 'n bosluis wat deur hom vervoer is nie. Hy het verder getuig dat dit bykans nie moontlik is dat die besmetting van die buffels in Spioenkop veroorsaak kon gewees het deur 'n bosluis wat op 'n ander dier ingebring is nie. Hy kon geen redes vir hierdie stelling van hom verstrek nie. Hy het ook getuig dat bosluise in vangnette opgerol kon word maar dat hy nog nooit gesien het dat dit gebeur nie. Hy moes egter toegee dat hy nooit aandag daaraan geskenk het nie.

[34] Cooper het getuig dat dit, met inagneming van die lewenssiklus van die bruinoorbosluis en die feit dat hy sy besmetting verloor nadat hy 'n bloedmaal van 'n dier wat nie besmet is, geneem het, hoogs onwaarskynlik is dat 'n bruinoorbosluis die oorsaak van die besmetting kon wees. Hierdie getuienis van hom is egter geensins oortuigend nie. Dit is nie duidelik hoekom die lewenssiklus van die bruinoorbosluis die oordrag van besmetting deur 'n bosluis onwaarskynlik maak nie. Verder affekteer die feit dat die bruinoorbosluis sy infeksie verloor op die genoemde wyse nie die moontlikheid dat 'n besmette bosluis in beddegoed of nette of op 'n ander dier in 'n gebied ingebring kon word nie. Sy getuienis dat duisende diere vanuit bruinoorbosluis geaffekteerde gebiede na gebiede waar siektevry buffels voorkom deur die Raad oorgeplaas is en dat hy gesien het hoe nette onmiddellik nadat hulle in eersgenoemde gebiede gebruik is, in laasgenoemde gebiede gebruik word, versterk die moontlikheid dat 'n besmette bruinoorbosluis op diéée wyse Spioenkop binnegekom het. Die beddegoed wat gebruik is, is gekoop waar ookal gras beskikbaar was en is saam met nette en ander toerusting gehou in skure te Hluhluwe en Umfolozi waar die bruinoorbosluis vry algemeen voorkom.

[35] Die buffels is reeds vir etlike jare aangehou in 'n gebied waar die bruinoorbosluis voorkom en waar wild vanaf besmette gebiede ingevoer word. Onder die omstandighede was die gevaar van besmetting van die kudde deur die invoer van 'n bruinoorbosluis veel groter as byvoorbeeld in Willem Pretorius waar die bosluis nie voorkom nie of in gebiede waar nie soveel wild vanaf besmette gebiede ingevoer word nie. Die besmette bosluis sal sy besmetting verloor sodra hy aan 'n onbesmette buffel suig en al sou daardie buffel besmet raak, is nog bosluise nodig om die besmetting te versprei.

[36] Nadat die besmetting ondek is het die Raad klaarblyklik aanvaar dat 'n besmette bruinoorbosluis van een gebied na `n ander oorgedra kon word en is stappe geneem om dit te voorkom. Hierdie aanvaarding het nie gespruit uit enige nuwe kennis wat ten opsigte van die bruinoorbosluis opgedoen is nie. Volgens Cooper het hy steeds gemeen dat dit onwaarskynlik was dat 'n bosluis die besmetting oorgedra het maar was die bestuurders bekommerd en is algemeen bespiegel dat dit wel die geval was. Die bekommernis is gedeel deur G R Smith wat in beheer van Spioenkop was.

[37] Hierdie getuienis toon duidelik dat, as die Raad voor die wildsveilingwildveiling oorweging geskenk het aan die moontlikheid dat die buffels te Spioenkop besmet kon geraak het deur 'n besmette bosluis, hy tot die gevolgtrekking sou gekom het dat dit wel moontlik was, dat die moontlikheid nie gekwantifiseer kon word sonder 'n behoorlike studie nie maar dat dit nie 'n vergesogte moontlikheid was nie. Soos reeds gemeld sou 'n redelike man in die posisie van die Raad oorweging geskenk het aan die voormelde moontlikhede. Hy sou tot dieselfde gevolgtrekking gekom het.

[38] Die vraag ontstaan dan of 'n redelike man nietemin die voorstelling sou gemaak het dat die buffels siektevry was. Na my mening sou hy nie en wel vir die volgende redes:

  1. Die moontlikheid van besmetting kon nie gekwantifiseer word nie.

  2. Die gevolge, indien die buffels wel besmet was, kon katastrofies wees wat betref siektevrye buffelkuddes sowel as beeste.

  3. Hy kon homself teen minimale koste in vergelyking met die waarde van die buffels en die potensiële skade wat veroorsaak kon word, vergewis van die ware siektestatus van die buffels. Die immobilisasie van die diere sou geen probleme skep nie aangesien die diere in elk geval voor die veiling in bomas gehou is en verdoof is om etikette aan hulle ore te sit.

[398] Onder die omstandighede het die Raad se gedrag, gemeet aan die standaard van die redelike man, te kort geskietd. Die wanvoorstelling deur die Raad is gevolglik nalatiglik gemaak. Dit volg dat die hof a quo fouteer het deur Tangeni en Sinoville se vorderings teen die Raad gebaseer op nalatige wanvoorstelling van die hand te wys en deur slegs op grond van Sinoville se alternatiewe vordering teen die Raad ten gunste van Sinoville te bevind.. Dit volg dat Sinoville se appèl teen die Raad moet dus slaag en dat die Raad, wat aangevoer het dat Sinoville selfs nie op mindere regshulp geregtig was nie, se appèl teen Sinoville moet van die hand gewys moet word.

[39] Die partye is dit eens dat dit onder die omstandighede nie nodig is om te handel met Sinoville se alternatiewe vordering teen die Raad wat deur die hof a quo gehandhaaf is nie.


Tangeni se aksie teen Sinoville

[40] Soos reeds aangetoon het Tangeni beweer dat dit `n stilswyende term van die kontrak tussen Tangeni en Sinoville was dat die buffels wat ingevolge die kontrak op Kleine Waterval gevestig sou word, siektevry sou wees.

[41] Ehlers het getuig dat toe hy genader is in verband met die vestiging van die buffels het hy onmiddellik onthou dat dit sogenaamde 'skoon' buffels was. Hy het altyd die hoogste agting vir die Raad gehad en het kinderlik geglo dat as die Raad sê buffels is siektevry dan is hulle siektevry. Hy het dit duidelik gemaak dat hy nie vir Graphorn uitgevra het oor die siektestatus van die buffels nie, dat Graphorn nie gesê het dat die buffels siektevry was nie en dat hy, wat die siektestatus van die buffels betref, gesteun het op wat by die veiling gebeur het. As die Raad nie betrokke was nie sou hy aangedring het op `n toets ten einde die siektestatus van die buffels te bepaal. Hy het getuig:

'[E]k het hom [(Graphorn]) nog nooit op enige stadium kwalik geneem dat hy die skuld kan hê dat die buffels wel besmet was nie. Dit sou onbillik vir my gewees het, want ek weet presies waarvandaan die buffels kom.'

[42] Graphorn het ook getuig dat beide hy en Ehlers aanvaar het dat die buffels siektevry was en dat hulle glad nie daaroor gepraat het nie. Hy het wel ook getuig dat dit 'n term van die ooreenkoms was dat die buffels siektevry was en later dat dit 'n stilswyende voorwaarde was dat die buffels siektevry moes wees. In antwoord op die vraag of hy dan aanvaar dat hy versuim het om siektevrye buffels te lewer het hy egter geantwoord: 'nee, volgens my opinie het ons skoon buffels gelewer, want dit is – dit is wat ons gekoop het.' In die lig van hierdie antwoord is dit moontlik dat hy met sy stelling dat dit 'n term van die ooreenkoms was dat die buffels siektevry was, nie bedoel het om meer te sê as dat dit 'n term was dat hy die 'siektevrye buffels' wat hy by die Raad gekoop het, moes lewer nie.

[43] 'n Stilswyende term kan of die werklike bedoeling van die partye of die bedoeling wat hulle geag moet word te gehad het, weergee. Eersgenoemde sal die geval wees waar beide partye inderdaad aan die term gedink het en bedoel het dat dit deel van hulle ooreenkoms moet wees maar dit as so vanselfsprekend beskou het dat dit die geval was dat hulle dit nie uitdruklik vermeld het nie. 'n Term sal geag word deel van die ooreenkoms te wees indien, alhoewel die partye nie daaraan gedink het nie, met vertroue gesê kan word dat beide partye, indien hulle ten tyde van kontraksluiting daarna gevra sou gewees het, sou gesê het dat dit 'n term van die ooreenkoms was, dat hulle dit nie uitdruklik ooreengekom het nie omdat dit vanselfsprekend die geval is. (Sien Wilkins NO v Voges 1994 (3) SA 130 (A) op 136I-137D).

[44] In die onderhawige geval is dit duidelik dat nie bevind kan word dat die partye inderdaad bedoel het dat dit 'n term van die ooreenkoms moes wees dat Sinoville siektevrye buffels moes lewer nie. Uit Ehlers se getuienis blyk dit duidelik dat hy gesteun het op wat hy by die veiling gehoor het en nie op enige onderneming hetsy uitdruklik of stilswyend deur Graphorn nie.

[45] Dit is ewe duidelik dat Ehlers nie indien hy tydens kontraksluiting daarna uitgevra is, sou gesê het dat Sinoville aanspreeklik sal wees indien dit sou blyk dat die buffels inderdaad nie siektevry was nie. Wat die siektestatus van die buffels betref het hy gesteun op die wanvoorstelling deur die Raad.

[46] Namens Tangeni is betoog dat op grond van Graphorn se getuienis bevind moet word dat die term wel 'n stilswyende term van die ooreenkoms was. Aangesien 'n stilswyende term die bedoeling, werklik of geag, van beide partye weergee, volg dit, in die lig van Ehlers se getuienis, dat nie bevind kan word dat die term wel 'n stilswyende term van die ooreenkoms was nie wat ookal die bedoeling van Graphorn mag gewees het. In ieder geval is dit nie vir Graphorn om te sê of die term `n stilswyende term van die ooreenkoms was nie en is hy ook nie gekwalifiseerd om dit te doen nie. Dit is vir die hof om in die lig van die uitdruklike terme van die ooreenkoms, toelaatbare getuienis ten aansien van die omringende omstandighede en die gedrag van die partye na kontraksluiting te bepaal of dit die geval is. (Sien Wilkins NO v Voges op 136J-137A en 143C en Botha v Coopers & Lybrand 2002 (5) SA 347 (HHA) para 25.).

[47] Dit volg dat Tangeni se appèl teen Sinoville van die hand gewys moet word.

Bevel

  1. Die appèl van Tangeni Boerdery Nr 2 teen die Kwazulu-Natal Natuurbewaringsraad slaag met koste insluitende die koste van twee advokate.

  2. Die appèl van Tangeni Boerdery Nr 2 teen Erf 1453 Sinoville (Edms) Bpk word van die hand gewys met koste.

  3. Paragraaf 1(b) van die bevel gemaak deur die hof a quo in saakno. 2753/99 word vervang met die volgende bevel:

(b) Dit word verklaar dat die Raad aanspreeklik is teenoor Tangeni Boerdery Nr 2 vir die deliktuele skade gely deur Tangeni Boerdery Nr 2 as gevolg van die wanvoorstelling wat gemaak is deur die Raad, dat die buffels, synde Lot 801, wat verkoop is op die wildsveiling van 20 Junie 1998 gehou deur die Raad, siektevry was.

    1. Die Raad word beveel om Tangeni Boerdery Nr 2 se koste te betaal insluitende die koste van twee advokate en die kwalifiserende fooie en uitgawes van die deskundige getuies dr Krige, dr De Waal, dr Potgieter en mnr Lambrechts.’

  1. Die appèl van Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk teen die Raad slaag met koste en die appèl van die Raad teen Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk word van die hand gewys met koste..

  2. Paragraaf 2 van die bevel van die hof a quo in saakno 2058/01 word vervang met die volgende bevel:

'(a) Dit word verklaar dat die Raad aanspreeklik is teenoor Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk vir die deliktuele skade gely deur Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk as gevolg van die wanvoorstelling wat gemaak is deur die Raad, dat die buffels, synde Lot 801, wat verkoop is op die wildsveiling van 20 Junie 1998 gehou deur die Raad, siektevry was.

(b) Die Raad word beveel om die koste van Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk te betaal.'




...............................

STREICHER ARJA




BRAND AR)

CLOETE AR)

HEHER AR) STEM SAAM

VAN HEERDEN AR)


1 Nature Conservation Services.

2 Hluhluwe anden IUmfolozi Park.

▲ To the top