S v Erasmus (618/2004) [2005] ZASCA 70 (6 September 2005)





DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA


RAPPORTEERBAAR

Saaknommer : 618/04



In die saak tussen :


NORMAN WILLIAM ERASMUS APPELLANT


en


DIE STAAT RESPONDENT



CORAM : SCOTT, BRAND ARR et COMBRINCK Wnd AR


DATUM : 25 AUGUSTUS 2005


GELEWER : 6 SEPTEMBER 2005


Samevatting: Aanranding met die opset om ernstig te beseer – suur in die klaer se gesig gegooi – dolus eventualis voldoende - nie vereiste dat beskuldigde persoon die werklike erns van uiteindelike beserings moes voorsien het nie. Voldoende dat hy die moontlikheid van ernstige beserings voorsien het en hom daarmee versoen het.

_____________________________________________________



UITSPRAAK




BRAND AR/





BRAND AR :

[1] Hierdie saak het sy oorsprong in die streekhof van die Oos-Kaap waar die appellant, wat indertyd 18 jaar oud was, tereggestaan het op aanklag van poging tot moord. Ter ondersteuning van hierdie aanklag het die staat beweer dat hy op 11 April 2002 gepoog het om mnr Pieter Huishamen te vermoor deur swawelsuur in sy gesig te gooi. Aan die einde van die verhoor is hy onskuldig bevind aan poging tot moord maar skuldig aan aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hierop is hy gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is. Sy appèl na die Grahamstadse Hooggeregshof teen hierdie skuldigbevinding sowel as die vonnis wat hom opgelê is, is deur Jansen R, met wie Ndzondo Wnd R saamgestem het, van die hand gewys. Die verdere appèl na hierdie hof is slegs teen die skuldigbevinding gerig. Dit geskied met verlof van die hof a quo.


[2] Die gebeure wat tot die saak aanleiding gegee het is nie in dispuut nie. Die appellant erken dat hy die persoon is wat die swawelsuur in Huishamen se gesig gegooi het. Die gevolge wat sy daad vir Huishamen meegebring het, is eweneens gemenesaak. Dit was verskriklik. Die suur het die vel van Huishamen se gesig en bolyf gestroop en sy oë letterlik vernietig sodat hulle chirurgies verwyder moes word. Waar Huishamen voorheen 'n onafhanklike 36-jarige was wat sy eie besigheid bedryf het en 'n normale bestaan gevoer het, is sy hele lewe eensklaps omskep tot dié van 'n hulpelose invalide. Hy kan geen inkomste verdien nie en is afhanklik van 'n staatstoelaag. Hy word rondgelei waar hy ookal wil gaan en maak vir sy heel basiese versorging staat op die bystand van 'n lojale vriend wat op sy beurt ook sy werk moes bedank om na Huishamen om te sien.


[3] Die appellant ontken nie dat hy skuldig is aan aanranding nie. Die hele saak wentel om sy argument dat die addisionele element van opset om ernstig te beseer afwesig is. Inaggenome die skrikwekkende gevolge wat sy daad vir Huishamen meegebring het, mag hierdie argument met die eerste oogopslag ietwat verrassend voorkom. Wat egter in gedagte gehou moet word, is dat die onderskeidende element van die misdaad waaraan die appellant skuldig bevind is nie die veroorsaking van ernstige beserings is nie, maar die subjektiewe opset om dit te doen. Gevolglik sluit die erns van die gevolge nie noodwendig die appellant se verweer van afwesigheid van opset om ernstig te beseer uit nie.


[4] Tydens die verhoor het die appellant nie getuig nie. As basis vir sy verweer het hy gesteun op die self-begunstigende gedeeltes van twee verklarings wat buite die hof gemaak is en wat vir een of ander rede deur die staat voor die verhoorhof geplaas is. Die eerste van hierdie verklarings was inderdaad 'n bekentenis wat die appellant voor 'n landdros afgelê het. Hiervolgens het die appellant erken dat hy die suur in Huishamen se gesig gegooi het. Hy het ook verduidelik dat hy dit gedoen het op versoek van ene Gerrit Jacobs wat voorheen 'n homoseksuele verhouding met Huishamen gehad het en wat toe op hom wou wraak neem nadat die verhouding beëindig is. Woordeliks lui die tersaaklike gedeelte van die bekentenis soos volg:

'… Gerrit Jacobs [het] vir my gevra om een van my vriende te kry om vir Pieter Huishamen aan te rand. Ek het toe eers 'n swart vriend van my gekry maar omdat hy 'n seer vinger gehad het, kon hy nie gaan nie. Toe het ek 'n ander vriend van my gekry Stefan Nel. Hy het nie saam met my gegaan nie want hy wou nie. Toe het Gerrit Jacobs vir my suur gekry om vir Pieter Huishamen daarmee in sy gesig te gooi. Ek het toe die suur in Pieter Huishamen se gesig gegooi. Maar ons was eers by mnr Riaan Britz se huis gewees. Hy is 'n dokter by Green Acres Hospitaal…. Ek was deur Jacobs en Britz gesê dat die "acid" net sy [Pieter se] vel 'n bietjie rooi sal maak. Mnr Gerrit Jacobs het vir my 'n kar belowe en 'n selfoon as ek dit doen. Ek het die selfoon toe gekry maar nie die kar nie. … Ek het dit gedoen vir die geld want ons kry swaar. My ma het nie eintlik geld nie.'


[5] Dit tweede verklaring wat deur die staat ingehandig is, was dié van 'n bewaarder in die gevangenis waar die appellant aanvanklik weens die tersaaklike gebeure aangehou is. Daarvolgens het die appellant op die bewaarder se navraag, hoekom hy in aanhouding is, geantwoord dat hy suur in iemand se gesig gegooi het omdat 'hulle … gesê [het] dit nie soveel skade verrig nie'. In konteks moet hierdie ongeïdentifiseerde 'hulle' waarskynlik ook as 'n verwysing na Jacobs en Britz verstaan word.


[6] Jacobs en Britz is oorspronklik as medebeskuldigdes van die appellant aangekla. Britz is egter reeds deur die verhoorhof onskuldig bevind terwyl Jacobs se aanvanklike skuldigbevinding deur die hof a quo op appèl ter syde gestel is. Beide van hulle het in die verhoor getuig en enige kennis van die aanranding op Huishamen ontken. Die beweerde versekering aangaande die onskadelikheid van die suur wat die appellant in sy verklarings aan hulle toegedig het, is nooit in kruisverhoor namens die appellant aan hulle gestel nie.

[7] Stefan Nel na wie ook in die bekentenis verwys word, is deur die staat as getuie geroep. Hy het bevestig dat die appellant hom vertel het van sy twee homoseksuele vriende wat vroeër 'n verhouding gehad het en dat een van hulle, na die beëindiging van die verhouding, iemand gesoek het om 'acid' in die ander se oë te gooi. Op 'n stadium het die appellant dan ook die houer met die suur aan Nel gewys. Volgens Nel is hy toe genader om hierdie taak teen vergoeding te verrig, maar hy het nie die 'guts' gehad om dit te doen nie.


[8] Volgens die verhoorhof se benadering tot die saak, wat deur die hof a quo op appèl onderskryf is, het die oplossing van die geskilpunt, of die appellant slegs skuldig is aan gewone aanranding of dan wel aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, gewentel om twee vrae. Eerstens, of die self-begunstigende gedeeltes van die appellant se buiteregtelike verklarings, waarvolgens aan hom gesê is dat die suur nie ernstige skade sou aanrig nie, maar slegs die slagoffer se vel effens rooi sou verkleur, as getuienis toelaatbaar was. Tweedens, indien wel, watter gewig daar aan hierdie getuienis geheg moes word. Die regsbeginsels onderliggend aan hierdie vrae het die hof gevind in beslissings van hierdie hof soos, byvoorbeeld, R v Valachia 1945 AD 826 te 835, 837; S v Khoza 1982 (3) SA 1019 (A) 1039A; S v Yelani 1989 (2) SA 43 (A) 50A-C.) Ooreenkomstig hierdie beginsels het die self-begunstigende gedeeltes van die buiteregtelike verklarings toelaatbaar geword toe die staat hierdie verklarings voor die hof geplaas het. Soos hierdie beslissings egter ook aandui het die feit van toelaatbaarheid nie meegebring dat die self-begunstigende gedeeltes dieselfde gewig as die inkriminerende gedeeltes van hierdie verklarings moes dra nie. Afhangende van die omstandighede, kon die hof selfs laasgenoemde aanvaar en eersgenoemde as ongeloofwaardig verwerp.


[9] Aan die hand van hierdie beginsels het die verhoorhof toe bevind dat die onderhawige inderdaad 'n geval is waar die self-begunstigende gedeelte van die appellant se verklarings verwerp moet word. Wat die hof veral teen die appellant gehou het, was dat die beweerde gerusstelling wat in sy verklarings aan Jacobs en Britz toegedig word nie in kruisverhoor namens hom aan een van hulle gestel is nie. In elk geval, so het die verhoorhof beslis, is dit in die lig van algemene menslike ervaring aangaande die effek van suur, onwaarskynlik dat Jacobs en Britz so 'n gerusstelling aan die appellant sou gee. Op appèl het die hof a quo hierdie redenasie oorweeg en as oortuigend aanvaar. Ek deel egter nie hierdie oortuiging nie. Nadat Jacobs en Britz reeds pertinent enige kennis van die aanranding op Huishamen ontken het, sou 'n stelling van hulle beweerde gerusstelling teenoor die appellant nouliks van enige nut wees. Verder kan ek my ook goed voorstel dat Jacobs en sy vriend Britz juis so 'n gerusstelling aan die appellant kon gee in 'n poging om hom te oorreed om Jacobs se vuilwerk vir hom te doen. Soos ek die saak sien moet die self-begunstigende gedeelte van die appellant se verklarings dus op sigwaarde aanvaar word.


[10] Dit is egter nie die einde van die ondersoek nie. By verdere beoordeling moet in gedagte gehou word dat oogmerksopset geen vereiste is vir 'n skuldigbevinding aan die onderhawige misdaad nie. Aanwesigheid van opset in die vorm van dolus eventualis is voldoende. Die skuldigbevinding was dus geregverdig indien die appellant (subjektief) die moontlikheid van 'n ernstige besering voorsien het en hom daarmee versoen het. Die vraag of dit sy oogmerk was om ernstig te beseer, is onsaaklik. Verder moet in gedagte gehou word dat die vraag nie is of die appellant die uiteindelike gevolge wat sy optrede vir Huishamen gehad het in al sy verskriklike detail voorsien het nie. Solank die beserings wat hy subjektief as 'n moontlikheid voorsien het ernstig was, was die skuldigbevinding behoorlik verantwoord.


[11] Soos ek dit sien, wentel die appèl dus om die vraag of die afleiding in al die omstandighede geregverdig is dat die appellant, ten spyte van Jacobs en Britz se gerusstelling tog die moontlikheid voorsien het dat Huishamen ernstig beseer sou word en hom daarmee versoen het. Wat in die appellant se guns tel is dat hy op daardie stadium slegs 17 jaar oud was; dat hy slegs standerd 7 op skool geslaag het en dat hy blykbaar nie baie slim was nie. Voorts moet ook aanvaar word dat hy beïndruk kon wees deur die mediese kennis van Britz wat, hoewel nie 'n dokter nie, darem in 'n hospitaal gewerk het.


[12] Dit alles inaggenome is ek egter nie oortuig dat die appellant die wêrelvreemde stelling, dat die suur maar slegs Huishamen se vel 'n bietjie rooi sou verkleur, kon geglo het sonder om selfs die moontlikheid te oorweeg dat dit nie waar is nie. Menslike ervaring leer tog dat suur op 'n mens se vel en veral in die oë waarskynlik dramatiese beserings tot gevolg sal hê. Die toegedigte gerusstelling val byna op dieselfde vlak as die stelling dat 'n steekhou met 'n mes slegs 'n rooi kol op die slagoffer se vel sal laat. Dit is so ver van die werklikheid verwyder dat selfs die mees oningeligte dit nouliks kan glo. By ontstentenis aan enige getuienis deur die appellant self kan hy nie van die hof verwag om sonder meer te aanvaar dat hy nie die algemene kennis oor die effek van suur in 'n mens se oë met die res van die bevolking gedeel het nie.


[13] Wat meer is, 'n vraag wat die appellant homself onvermydelik moes afvra, is waarom Jacobs bereid sou wees om vir hom 'n motor en 'n selfoon te gee as dit wat hy gevra is om te doen weinig meer tot gevolg sou hê as 'n harde klap. Nog minder verstaanbaar in die omstandighede is die appellant se aanvanklike soeke na 'n plaasvervanger om hierdie relatief geringe beserings namens hom te veroorsaak en dit terwyl hy 'n ernstige behoefte aan geld gehad het. En dan weier Nel boonop om selfs teen vergoeding hierdie geringe beserings te veroorsaak omdat hy nie die 'guts' daarvoor het nie.


[14] In al die omstandighede is die afleiding dus myns insiens bo redelike twyfel geregverdig dat die appellant dit minstens as 'n moontlikheid voorsien het dat sy aanranding op Huishamen ernstige beserings tot gevolg sou hê en dat hy hom met daardie moontlikheid versoen het. Gevolglik is ek van oordeel dat die skuldigbevinding aan aanranding met die opset om ernstig te beseer moet bly staan.

[15] Derhalwe word die appèl van die hand gewys.





………………

F D J BRAND

APPÈLREGTER


Stem saam:


SCOTT AR

COMBRINCK Wnd AR

▲ To the top