MEC for Education and Culture, Free State v Louw and Another (483/2004) [2005] ZASCA 85 (23 September 2005)









DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA



Rapporteerbaar


SAAK NR: 483/04



In die saak tussen :



DIE LID VAN DIE UITVOERENDE RAAD VAN DIE

VRYSTAAT BELAS MET ONDERWYS EN KULTUUR Appellant



- en -



MANDA LOUW Eerste Respondent

MARTIN LOURENS OOSTHUIZEN Tweede Respondent

________________________________________________________________________

Coram: SCOTT, STREICHER, NAVSA, MTHIYANE & VAN HEERDEN ARR

Verhoor: 8 SEPTEMBER 2005

Gelewer: 23 SEPTEMBER 2005

Opsomming: Nalatige handeling deur 'n personeellid in diens van 'n openbare skool in die uitvoering van haar dienspligte - art 20(10) van Wet 84 van 1996 sluit nie Staat se aanspreeklikheid vir skade uit nie.

________________________________________________________________________


U I T S P R A A K

________________________________________________________________________


STREICHER AR


STREICHER AR:

[1] Kan die Staat aanspreeklik gehou word vir skade veroorsaak deur 'n nalatige handeling of versuim van 'n werknemer in diens van 'n openbare skool? Dit is die vraag wat in hierdie appèl beslis moet word.

[2] Die respondente het as eisers aksie ingestel in die Hoë Hof te Bloemfontein teen die appellant alternatiewelik die Primêre Skool Ficksburg (‘die Skool’) vir betaling van skadevergoeding ten opsigte van breinskade deur 'n skoolseun, Armand Louw, opgedoen, toe hy byna verdrink het. Die respondente het in hulle besonderhede van vordering onder andere beweer dat die voorval veroorsaak is deur die nalatigheid van 'n personeellid wat in diens van die Skool was en in die uitvoering van haar dienspligte gehandel het. Hulle het verder beweer dat die appellant ingevolge die bepalings van art 60(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (‘die Skolewet’) aanspreeklik is vir die skade of verlies veroorsaak deur die handeling of versuim van die personeellid.

[3] Beide die appellant en die Skool het 'n spesiale verweer ten opsigte van die respondente se vordering afgelewer ingevolge waarvan elkeen aangevoer het dat hy nie aanspreeklik gehou kon word vir die gevorderde skade nie. Die hof a quo het die Skool se spesiale verweer gehandhaaf en die respondente se eise teen die Skool van die hand gewys. Die appellant se spesiale verweer is egter van die hand gewys. Met die verlof van die hof a quo appelleer die appellant teen laasgenoemde beslissing.

[4] In sy spesiale verweer het die appellant aangevoer dat die Skool 'n openbare skool soos bedoel in die Skolewet was; dat die personeellid ingevolge die bepalings van art 20(4) alternatiewelik art 20(5) van die Skolewet deur die Skool in diens geneem is; dat die appellant vir doeleindes van die Skolewet die Staat is; en dat, ingevolge die bepalings van art 20(10), die Staat nie aanspreeklik gehou kan word vir 'n handeling of versuim van 'n persoon wat so in diens geneem is nie.

[5] Ingevolge art 15 van die Skolewet is elke openbare skool 'n regspersoon met die wetlike bevoegdheid om sy werksaamhede ingevolge die Skolewet te verrig. Artikel 20(4) bepaal, behoudens sekere voorbehoude, dat 'n openbare skool opvoeders in diens kan neem en art 20(5) bepaal, ook onderhewig aan sekere voorbehoude, dat 'n openbare skool nie-opvoeders in diens kan neem.1

[6] Artikel 60(1) van die Skolewet, synde die artikel waarop die respondente steun, bepaal dat die Staat aanspreeklik is vir enige skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg van enige daad of versuim in verband met enige opvoedkundige aktiwiteit wat deur 'n openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het by gebrek aan die bepalings van die artikel. Enige eis weens skade of verlies in die subartikel beoog, moet ingevolge subartikel (3) teen die betrokke Lid van die Uitvoerende Raad ingestel word soos wat in hierdie geval gedoen is.2

[7] In sekere gevalle word die aanspreeklikheid van die Staat egter uitgesluit. Artikel 20(10) bepaal naamlik dat ‘ondanks art 60’ die Staat nie aanspreeklik is ‘vir enige handeling of late by 'n openbare skool wat voortspruit uit sy kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeel aangestel ingevolge subartikels (4) en (5) nie’. Dit is op grond van hierdie bepaling dat die appellant aanvoer dat die Staat nie aanspreeklik gehou kan word vir die handeling of late van die betrokke personeellid nie.

[8] Die hof a quo het bevind dat art 20(10) slegs die aanspreeklikheid van die Staat uitsluit ten opsigte van 'n openbare skool se kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeellede wat deur die skool self aangestel is, soos byvoorbeeld die verpligting om 'n salaris te betaal. Die hof a quo was van mening dat die weglating in art 20(10) van die woorde 'skade of verlies' wat in art 60(1) gebruik word, die uitleg dat art 20(10) nie bedoel was om ‘delikte te betrek nie’ versterk. Verder dat die woorde ‘teenoor die personeel’ in art 20(10) daarop dui ‘dat die bedoeling was om te verwys na eise van die personeel self teen die skool en nie na eise van andere en wat voortspruit uit die skool se posisie as werkgewer van so 'n personeellid nie’.3

[9] Die advokaat vir die appellant het betoog dat die hof a quo fouteer het deur te bevind dat art 20(10) nie betrekking het op onregmatige dade nie. Hy het betoog dat art 60 nie die Staat aanspreeklik maak vir die kontraktuele verpligtinge van 'n openbare skool nie en dat die woorde ‘ondanks artikel 60’ in art 20(10) geen doel dien indien laasgenoemde artikel slegs bedoel is om die aanspreekliheid van die Staat vir die kontraktuele verantwoordelikhede van die openbare skool teenoor sy personeellede uit te sluit nie. Aldus sy betoog sluit die artikel aanspreeklikheid aan die kant van die Staat uit ten opsigte van skade of verlies gely as gevolg van 'n handeling of late voortspruitende uit die kontraktuele verhouding tussen die openbare skool en personeel aangestel deur die openbare skool ingevolge subartikels (4) en (5).

[10] Die hof a quo het dus beslis dat art 20(10) 'n openbare skool se aanspreeklikheid om 'n handeling te verrig of nie te verrig uitsluit terwyl die appellant betoog het dat die artikel aanspreeklikheid vir skade of verlies as gevolg van 'n handeling of late uitsluit.

[11] Die Engelse weergawe van art 20(10) lees soos volg:

Despite section 60, the State is not liable for any act or omission by the public school relating to its contractual responsibility as the employer in respect of staff employed in terms of subsections (4) and (5).’

Dit verskil van die Afrikaanse weergawe wat praat van 'n handeling of late ‘by’ (nie deur) 'n openbare skool. Die artikel is in die Wet ingevoer deur die Wysigingswet op Onderwyswette 100 van 1997 waarvan die Afrikaanse weergawe deur die President geteken is. Artikel 82 van die Konstitusie bepaal dat die ondertekende eksemplaar van 'n Parlementswet afdoende bewys van die bepalings van daardie wet is. 'n Hof kan egter die bewoording van 'n statutêre bepaling aanpas waar dit nodig is om gevolg te gee aan die duidelike bedoeling van die wetgewer.4 Dit is onwaarskynlik dat die bedoeling kon gewees het dat die Staat aanspreeklik sou wees vir die nakoming van kontraktuele verpligtinge teenoor personeel by die openbare skool maar nie elders nie. Dit is ewe onwaarskynlik dat die bedoeling kon gewees het dat die Staat nie aanspreeklik sou wees vir skade of verlies as gevolg van 'n handeling voortspruitend uit die kontraktuele verantwoordelikheid van 'n openbare skool teenoor sy personeel indien die handeling by die skool verrig is maar nie indien dit elders verrig is nie. Verder dui die feit dat die ‘handeling of late’ een moet wees wat voortspruit uit die openbare skool se kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer teenoor sy personeel daarop dat 'n handeling of late ‘deur’ die openbare skool, soos in die Engelse teks, bedoel word en dit is hoe die artikel na my mening uitgelê moet word.

[12] Artikel 20(10) handel dus met 'n handeling of late deur 'n openbare skool en nie met die verpligting van 'n openbare skool om 'n handeling te verrig of nie te verrig nie. Die woorde ‘ondanks art 60’ verleen steun aan hierdie uitleg. Artikel 60 handel met skade of verlies wat veroorsaak word deur 'n daad of versuim en nie met die verpligting om 'n handeling te verrig of nie te verrig nie. Die woorde dui dus ook daarop dat art 20(10) gerig is op die gevolge van 'n handeling of late deur 'n openbare skool en nie op die verpligting om die handeling te verrig of nie te verrig nie. Verdere steun vir hierdie uitleg is te vinde in die feit dat 'n openbare skool 'n regspersoon is. Dit volg dus nie uit die magtiging aan so 'n openbare skool ingevolge subartikels (4) en (5) om dienskontrakte aan te gaan dat die Staat aanspreeklik is vir die kontraktuele verpligtinge so deur die openbare skool aangegaan nie. Die Skolewet bepaal ook nie dat die Staat vir sulke kontraktuele verpligtinge aanspreeklik sal wees nie. Daar was dus geen rede om sodanige kontraktuele verantwoordelikhede uit te sluit nie wat dit onwaarskynlik maak dat dit die doel beoog met art 20(10) was.

[13] Hierdie uitleg van art 20(10) help die appellant egter nie, selfs nie indien aanvaar word dat die handeling of late van die betrokke personeellid 'n handeling of late deur die Skool was nie. Die aanspreeklikheid van die Staat word uitgesluit ten opsigte van 'n handeling of late wat voortspruit uit 'n openbare skool se ‘kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeel aangestel ingevolge subartikels (4) en (5)’. In hierdie geval het die personeellid se handeling of late moontlik voortgespruit uit haar kontraktuele verantwoordelikheid teenoor die Skool maar het dit duidelik nie voortgespruit uit die kontraktuele verantwoordelikheid van die Skool teenoor haar soos vereis deur die artikel nie.

[14] Artikel 20(11) sluit dus nie die aanspreeklikheid van die Staat uit ten opsigte van die skade wat deur die respondente gevorder word nie. Dit volg dat die hof a quo tereg die appellant se spesiale pleit van die hand gewys het.

[15] Die appèl word van die hand gewys met koste, insluitende die koste van twee advokate.



_________________

STREICHER AR



SCOTT AR)

NAVSA AR)

MTHIYANE AR) STEM SAAM

VAN HEERDEN AR)



1Artikels 20(4) en (5) lees soos volg:

'(4) Behoudens hierdie Wet, die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en enige ander toepaslike wet kan 'n openbare skool poste vir opvoeders instel en opvoeders in diens neem bykomstig tot die diensstaat deur die Lid van die Uitvoerende Raad bepaal ingevolge artikel 3(1) van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1994.

(5) Behoudens hierdie Wet, die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en enige ander toepaslike wet kan 'n openbare skool poste vir nie-opvoeders instel en nie-opvoederspersoneel in diens neem bykomstig tot die diensstaat wat ingevolge die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994), bepaal is.'

2Artikels 60(1) en (3) lees soos volg:

'(1) Die Staat is aanspreeklik vir enige skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg van enige daad of versuim in verband met enige opvoedkundige aktiwiteit wat deur 'n openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het by gebrek aan die bepalings van hierdie artikel.

(3) Enige eis weens skade of verlies in subartikel (1) beoog moet teen die betrokke Lid van die Uitvoerende Raad ingestel word.'

3Die volledige art 20(10) lees soos volg:

'(10) Ondanks artikel 60 is die Staat nie aanspreeklik vir enige handeling of late by 'n openbare skool wat voortspruit uit sy kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeel aangestel ingevolge subartikels (4) en (5) nie.'

4Durban City Council v Gray 1951 (3) SA 568 (A) at 580B.

▲ To the top