S v D (316/2006) [2007] ZASCA 42 (29 March 2007)







DIE HOOGSTE HOF VAN APPÉL

VAN SUID-AFRIKA



Rapporteerbaar

Saaknr: 316/06



In die saak tussen:



WILLEM JACOBUS DU PLESSIS Appellant



en



DIE STAAT Respondent



Coram: HEHER, MLAMBO ARR en SNYDERS Wnd AR

Verhoor: 22 MAART 2007

Gelewer: 29 MAART 2007

Opsomming: Onsedelike aanranding – vonnis ingevolge art 276(1)(i) bekragtig.


Neutral Citation: Du Plessis v Die Staat [2007] 42 (RSA)




U I T S P R A A K




SNYDERS Wnd AR/

SNYDERS Wnd AR:



[1] Die appellant is in die Distrikshof Wonderboom, gehou te Pretoria-Noord, skuldig bevind aan ‘n klag van bedrog, drie klagtes van diefstal en sewe klagtes van onsedelike aanranding. Nadat hy gevonnis is, het hy, met verlof van die verhoorhof, geappelleer na die Pretoriase Hooggeregshof teen sy skuldigbevinding en vonnisse op al die klagtes behalwe die klag van bedrog. Sy appèl is van die hand gewys. Nou is die appellant, met verlof van die Pretoriase Hooggeregshof, op appèl in hierdie hof teen sy skuldigbevinding op een van die klagtes van onsedelike aanranding, klagte 35, en die vonnisse op die klag van bedrog, klagte 5, drie klagtes van diefstal, klagtes 8, 9 en 10 en drie klagtes van onsedelike aanranding, klagtes 25, 29 en 36.


[2] Op elkeen van klagtes 5, 8, 9 en 10 is die appellant gevonnis tot een jaar gevangenisstraf ingevolge art 276(1)(i)1 van die Strafproseswet 51 van 1977 wat samelopend uitgedien moet word. Op elkeen van klagtes 25, 29 en 36 is die appellant gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf ingevolge art 276(1)(i) van die Wet wat ook gelas is om samelopend uitgedien te word.


[3] Klagte 35 spruit voort uit ‘n vlotvaart op die Hartebeespoortdam deur die personeel van ‘n laerskool waarvan die klaagster ‘n lid was en die appellant die skoolhoof. Tydens die plesierige uitstappie het die weer onverwags onguur geraak en almal het in ‘n bondel saamgedrom op die vlot teen die reën, koue en wind. Die drank het vryelik gevloei. Volgens die klaagster het die appellant tydens die samedromming aan verskeie vrouens probeer vat en het haar verskeie kere van agteraf vasgedruk. Die appellant se gedrag het die klaagster nie aangestaan nie, maar sy was ongemaklik om teen hom op te tree, daarom het sy ‘n mede personeellid en vriendin, Theresa van der Merwe, gevra om haar weg te roep uit die groep uit wanneer sy sien dat die appellant haar vasdruk. By geleentheid wat hy haar so vasgedruk het, het hy aan die knoop van haar langbroek gevroetel. Sy het omgekyk, hom weggestamp en gesê, ‘Nee man, los my uit. Los, wat maak jy.’ Van der Merwe het toe die klaagster weggeroep en toe sy wegtree van die groep af, het sy opgemerk dat haar langbroek se knoop los was.


[4] Van der Merwe het bevestig dat die appellant die klaagster herhaaldelik vasgedruk het, dat sy, volgens hulle afspraak, die klaagster weggeroep het en gesien het, toe die klaagster wegtree van die groep af, dat die knoop van haar langbroek los was.


[5] Die appellant, tydens sy getuienis, het ontken dat hy die klaagster se broek se knoop losgemaak het. Die klaagster is egter nie gekruisvra oor hierdie aspek van haar getuienis nie.


[6] Namens die appellant word in hierdie hof aangevoer dat: (a) die respondent nie die appellant se opset om onsedelik aan te rand bo redelike twyfel bewys het nie; (b) dat daar geen direkte getuienis teen die appellant is dat hy die klaagster se langbroek se knoop losgemaak het nie en dat die feite nie die afleiding regverdig dat hy dit gedoen het nie; en (c) dat die landdros hom wanvoorgelig het oor die appellant se verweer.


[7] Die bevinding van die landdros dat die betrokke twee staatsgetuies geloofwaardige getuies was en die appellant nie, word nie in hierdie Hof aangeval nie. Daar is ook niks in die rekord wat hierdie Hof sou noop om met daardie bevinding in te meng nie.2


[8] Benewens die feite wat blyk uit die getuienis van die klaagster en Van der Merwe het die Staat se saak die appellant ontbloot as iemand wat voortdurend seksueel uitlokkend teenoor vrouens opgetree het onder die waan van speletjies en grappies.


[9] Daar is geen direkte getuienis dat die appellant die klaagster se broeksknoop losgemaak het nie. Die knoop was los, die klaagster en Van der Merwe het dit vir die eerste keer opgemerk nadat die appellant die klaagster vasgedruk het en aan die knoop gevroetel het, volgens sy gewone uitlokkende gedrag. Hierdie getuienis regverdig die afleiding3 dat die appellant die klaagster aangerand het met ‘n onsedelike opset en sluit die afleiding uit dat die broeksknoop toevallig los gegaan het.


[10] Die appellant se verweer was ‘n blote ontkenning. Daar was geen wanvoorligting ten opsigte van die appellant se verweer deur die landdros nie. Inteendeel hy het die appellant tereg op hierdie klag skuldig bevind.


[11] Na ‘n uitgerekte verhoor het die verhoorhof namens die Staat die getuienis en verslae van ‘n assesseringsbeampte van die Departement van Korrektiewe Dienste, Fourie, ‘n proefbeampte van die Departement van Maatskaplike Dienste, Van Schalkwyk, en namens die appellant ‘n verslag deur ‘n kliniese sielkundige, Dr Uken, ontvang.


[12] Die appellant was die skoolhoof van ‘n laerskool ten tyde van die pleging van die misdrywe. Hy was ‘n gesiene en prominente leiersfiguur. Ten tyde van sy vonnis was hy 53 jaar oud. Hy is getroud, het twee kinders, onderskeidelik 22 en 19 jaar oud. Sy vrou is ook ‘n onderwyseres. Hy is ‘n kranige sportman. Gedurende die tydperk van die verhoor, vermoedellik aangevuur deur spanning, is die appellant se hele liggaam verlam en is hy gediagnoseer met Guillain-Barre Sindroom. Sedertdien is hy op ‘n stadige pad van herstel, hy het reeds die meeste van sy spierfunksies herwin, hoewel hy nog pyn verduur. As gevolg van sy skuldigbevinding het hy sy pos verloor, en het sy aansien in die gemeenskap verdwyn. Hy het sy gesin uitermatige hartseer, verleentheid en finansiële verknorsing besorg.


[13] Al die misdrywe waaraan die appellant skuldig bevind is, is gepleeg tydens die periode 1998 tot 2001. Die appellant is skuldig bevind aan bedrog4 omdat hy valslik en bedrieglik voorgegee het dat briefhoofde en besigheidskaartjies vir die skool gedruk is, met die gevolg dat die skool daarvoor betaal het, terwyl die drukwerk inderwaarheid vir sy vrou en haar besigheid gedoen is. Die appellant is aan diefstal skuldig bevind omdat hy 500 bakstene wat die skool se eiendom was, gebruik het om vir homself ‘n lapa op sy eie eiendom te laat bou,5 hy het 10 palmbome wat aan die skool geskenk is rondom sy eie lapa op sy eie eiendom geplant6 en hy het ‘n radio-kassetspeler van die skool vir sy seun gegee.7


[14] Selfs met inagneming van die feit dat die radio-kassetspeler teruggegee is aan die skool is hierdie ernstige misdrywe. Dit is gepleeg uit ‘n vertrouensposisie, ten opsigte van eiendom wat onder die appellant se direkte beheer was en aangewend moes word tot voordeel van die skoolgemeenskap.


[15] Die klagtes van onsedelike aanranding is gedurende dieselfde periode gepleeg en telkens in omstandighede waar die personeel op spanbou-, leierskaps- of sportnaweke moes gaan sonder hulle lewensmaats. Die appellant het so ver gegaan om, terwyl al die ander personeel op ‘n wildrit was, by een van die klaagsters wat wou rus, op haar bed te gaan lê, sy hand tussen haar bo-bene in te druk, haar te omarm en vas te druk en bo-op haar te probeer klim8 Toe dieselfde klaagster by ‘n ander geleentheid op die strand op haar maag in die son gelê het, het hy ‘n handdoek oor haar gegooi, sy hand onder haar ingedruk, aan haar bors gevat en woorde gebruik wat aan haar gekommunikeer het dat hy seksueel met haar wou verkeer.9 Hy het ‘n ander klaagster wat beskonke en naar was, se styfpassende bo-stuk opgetrek en aan haar bors gevat.10


[16] Die appellant was in ‘n gesagsposisie teenoor die klaagsters. Daardie posisie het hy uitgebyt om sy eie afwykende behoeftes te bevredig, tot hulle voortslepende nadeel en psigiese skade. Wanneer hulle reaksie teenoor hom nie na sy wense was nie, het hy hulle in die werksplek geviktimiseer. Hy het hulle soveel trauma besorg dat hulle terapie moes ondergaan.


[17] Die verdere verswarende faktore, relevant tot al die misdrywe, is nie net veelvuldig nie, maar ook aangrypend. Die aansien van die betrokke laerskool en die atmosfeer waarin leerders hulle bevind het, is belemmer as gevolg van die appellant se misdadige gedrag. In plaas daarvan dat hy dissipline tussen sy personeel gehandhaaf het en ‘n gesonde omgewing geskep het tot voordeel van die jong leerders van sy skool, het hy juis onmin, onvrede en ongelukkigheid gesaai en aangevuur. Aan die een kant het hy homself as ‘n rolmodel voorgedoen en aan die ander kant het hy verwerplik opgetree.


[18] Die appellant was uiters manipulerend. Nie alleen is dit die kern van die staatsgetuies se getuienis nie, maar beide Fourie en Van Schalkwyk het die appellant tydens hul onderhoude met hom manipulerend ervaar. Hy het selfs die persoonlikheidstoets wat afgeneem is deur Uken probeer manipuleer.


[19] Sy arrogansie dwarsdeur die verhoor was verbysterend. Hy het deurgaans andere probeer swart smeer. Hy het homself as die slagoffer van ‘n wrede komplot voorgehou en die klaers, klaagsters en staatsgetuies as gewetenslose konkelaars.


[20] Selfs tydens vonnisverrigtinge het die appellant nog geen insig getoon in sy misdadige gedrag nie en gevolglik was sy prognose op rehabilitasie en gedragsaanpassing uiters swak. Die drie deskundiges was eenstemmig hieroor, maar volgens Uken was die appellant weens die sielkundige krisis waarin hy hom bevind het as gevolg van sy misdade en gevolglike verhoor, nie in staat om insig of berou te toon nie. Die argument namens die appellant is dat die landdros hom inderwaarheid wanvoorgelig het deur hierdie getuienis van Uken te verwerp.


[21] Indien ‘n wanvoorligting voorgekom het, staan dit hierdie Hof vry om van nuuts af op die beskikbare getuienis ‘n gepaste vonnis te oorweeg.11


[22] Die landdros het nie hierdie getuienis verwerp nie, inteendeel, hy het dit in sy uitspraak aangehaal, maar het dit nie as ‘n versagtende faktor beskou nie. Uken se uiteensetting van die rede vir die appellant se gebrek aan berou bevestig dat die appellant se psige, op die stadium van vonnis, sodanig was dat hy nie insig in sy eie gedrag kon toon nie. In die afwesigheid van ‘n realistiese moontlikheid van rehabilitasie behoort straf, afskrikking en vergelding as oogmerke van vonnis swaarder te weeg. Die landdros het dus heeltemal tereg die getuienis van Uken in aanmerking geneem as ‘n verswarende faktor. Daar was dus geen wanvoorligting nie.


[23] Gevolglik is hierdie Hof slegs by magte om met die vonnis in te meng indien dit skokkend onvanpas is.12 Namens die appellant is geargumenteer dat dit inderdaad skokkend onvanpas is dat die appellant hoegenaamd tot direkte gevangenisstraf gevonnis is. Die appellant stel korrektiewe toesig ingevolge art 276(1)(h) van die Wet as die enigste gepaste vonnis voor.


[24] Die erns van die misdade, die verswarende faktore en die oogmerke van die oplegging van vonnis verg dat ‘n vonnis van direkte gevangenisstraf opgelê word. Die opmerkings van Cameron AR in S v Scheepers13 is toepaslik in die huidige geval:


The particular advantage of s 276(1)(i) should always be in the foreground when the sentencer considers that a custodial sentence is essential, but the nature of the offence suggests that an extended period of incarceration is inappropriate. In such cases, s 276(1)(i) achieves the object of a sentence unavoidably entailing imprisonment, but mitigates it substantially by creating the prospect of early release on appropriate conditions under a correctional supervision programme.’


[25] Die verhoorhof het in die uitoefening van ‘n diskresie behoorlike en gebalanseerde oorweging geskenk aan al die relevante feite en ‘n uiters geskikte vonnis opgelê.


[26] Dit was gemeensaak tydens vonnisverrigitnge dat die appellant sielkundige hulp nodig het. Volgens Van Schalkwyk is sielkundige behandeling in die gevangenis beskikbaar maar kan dit ook deur ‘n privaat sielkundige daar onderneem word.


[27] Die opgelgde vonnis spreek die spesifieke behoefte aan van toesig oor die appellant se behandeling en die geleentheid om die tydperk van direkte gevangenisstraf, na gelang van sy vordering, aan te pas.


[28] Op sterkte van die geykte reg is daar geen ruimte vir hierdie hof om in te meng met enige van die vonnisse nie.


[29] Die appèl ten opsigte van skuldigbevinding en vonnis word van die hand gewys.





____________________________

S SNYDERS

WAARNEMENDE APPèLREGTER





STEM SAAM:


HEHER AR

MLAMBO AR


1Artikel 276(1)(i) stel ‘n vonnis van direkte gevangenisstraf daar, aangesien ‘n persoon wat ingevolge daardie artikel gevonnis word, mag, volgens die diskresie van die Kommissaris van Korrektiewe Dienste, onder korrektiewe toesig geplaas word. Artikel 73(7) van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998 bepaal ‘n verpligte periode van gevangesetting van minstens een sesde van die vonnis ingevolge a 276(1)(i) voordat plasing onder korrektiewe toesig mag geskied, tensy die hof anders gelas het.

2Sien R v Dhlumayo 1948 (2) SA 677 (A) vir die welbekende beperkings op ‘n hof se bevoegheid om op appèl in te meng met geloofwaardigheidsbevindings van die verhoorhof.

3In S v Sesetse 1981 (3) SA 353 (A) te 369H-370A word die geykte beginsels vir die maak van afleidings uit omstandigheidsgetuienis soos vervat in R v Blom 1939 AD 188 herhaal:’In reasoning by inference there are two cardinal rules of logic which cannot be ignored: (1) The inference sought to be drawn must be consistent with all the proved facts. If it is not, the inference cannot be drawn. (2) The proved facts should be such that they exclude every reasonable inference from them save the one sought to be drawn. If they do not exclude other reasonable inferences, then there must be a doubt whether the inference sought to be drawn is correct.’

4Klagte 5.

5Klagte 8.

6Klagte 9.

7Klagte 10.

8Klagte 25.

9Klagte 29.

10Klagte 36.

11S v Zinn 1969 (2) SA 537 (A) te 540G.

12S v Pieters 1987 (3) SA 717 (A) te 734D-F; Director of Public Prosecutions, KwaZulu-Natal v P 2006 (1) SASV 243 (HHA) te 254c-f.

132006 (1) SASV 72 (HHA) para 10.

▲ To the top