Absa Bank Bpk v Du Preez en 'n Ander ; Absa Bank Bpk v Beyplas (Edms) Bpk en 'n Ander (343/06; 344/06) [2007] ZASCA 67 (29 Mei 2007)


DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA

 

Nie Rapporteerbaar

Saak nr: 343/06

 

In die saak tussen:

 

ABSA BANK BEPERK Appellant

 

en

 

PIETER HENDRIK DU PREEZ Eerste Respondent

 

NWK BEPERK Tweede Respondent

__________________________________________________________________________

 

EN:

__________________________________________________________________________

 

Saak nr: 344/06

 

In die saak tussen:

 

ABSA BANK BEPERK Appellant

 

en

 

BEYPLAS (Edms) BEPERK Eerste Respondent

 

NWK BEPERK Tweede Respondent

__________________________________________________________________________

 

Coram: Scott, Heher ARR et Hancke Wn AR

 

Datum van verhoor: 2 Mei 2007

Datum van lewering: 29 Mei 2007

 

Opsomming: Aard en omvang van aansprake ten opsigte van silosertifikate onderhewig aan feitedispute ─ In geval van halfhartige ontkenning moet hof steeds tevrede wees dat aansoekdoener se eedsverklaring inherent geloofwaardig is inaggenome die waarskynlikhede ─ Bevinding dat viva voce getuienis nie oorwig van waarskynlikhede sal versteur, nie moontlik. Hof a quo fouteer om die aansoek op die stukke te besleg ─ Aansoek om oorplasing ingevolge art 9 van die Hooggeregshof slegs toegestaan indien oortuig dat oorwig van gerief ten gunste van oorplasing ─ Aansoek ingevolge art 22 van die Hooggeregshof toegestaan ─ Hof het inherente bevoegdheid om misbruik van hofproses te voorkom.

 

Neutrale verwysing: Daar kan na hierdie uitspraak verwys word as ABSA Bank Bpk v Du Preez; Beyplas Edms Bpk [2007] SCA 67 (RSA).

______________________________________________________________

UITSPRAAK

______________________________________________________________

HANCKE Wn AR

 

HANCKE Wn AR:

 

INLEIDING

 

[1] Hierdie is ‘n appèl gerig teen ‘n uitspraak wat die appellant verbied het om met sekere silosertifikate te handel en om dit slegs aan ‘n instansie bekend as AT Grain BK (hierinlater na verwys as ‘AT Grain’) te lewer nadat betaling van die volle koopprys aan sekere produsente geskied het.

 

[2] Op Saterdag 26 Februarie 2005 het die eerste respondent in saak nr 343/06 (hierna ‘Du Preez’ genoem) ‘n dringende aansoek in die Bophuthatswana Provinsiale Afdeling geloods. Op dieselfde dag het ‘n groep van 57 boere, waaronder Beyplas (Edms) Beperk (eerste respondent in saak nr 344/06; hierna Beyplas genoem), ‘n aansoek in die Transvaalse Provinsiale Afdeling gebring. Op 27 Februarie 2005 is ‘n bevel nisi in die Du Preez-saak uitgereik en op 1 Maart 2005 ‘n soortgelyke bevel in die Beyplas-saak. Beide aansoeke is daarna geargumenteer en op 23 Junie 2005 het die Hof a quo die interim bevel bekragtig en bevind dat Du Preez en Beyplas aangetoon het dat dit ‘a clear right to the ownership of the silo certificates in dispute’ gehad het, en bygevolg ‘a right to vindicate their ownership to the silo certificates’.

 

[3] In die lig van die feit dat die skuldoorsaak in beide sake dieselfde is, met sekere verskille ten opsigte van die feite, waarin hierinlater na verwys word, het die partye se regsverteenwoordigers soos in die Hof a quo, die aangeleentheid gelyktydig voor hierdie Hof beredeneer, en in die lig van die slotsom waartoe hierin gekom word, is dit ook dienstig, ten einde duplikasie te voorkom, dat slegs een uitspraak hierin gelewer word.

 

 

 

 

 

 

WAT BESLIS MOET WORD

 

[4] Die vrae wat hierin onstaan is (a) die aard en omvang van Du Preez en Beyplas se aansprake ten opsigte van die betrokke silosertifikate1 en of hulle geregtig is op die lewering daarvan; (b) is daar sodanige feitedispute ter beslegting van die voorgaande dat dit vir verhoor verwys moet word; en indien wel (c) of dit na die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof ingevolge art 9 van die Wet op die Hooggeregshof, 1959 (Wet 59 van 1959), oorgeplaas moet word; en (d) of ABSA se aansoek om verdere getuienis ingevolge art 22 van die Wet op die Hooggeregshof, 1959 (Wet 59 van 1959) toegestaan behoort te word.

 

AGTERGROND

 

[5] Wat die feite betref, blyk dit dat Du Preez ‘n skriftelike ooreenkoms met AT Grain, verteenwoordig deur die enigste lid, Mnr Toerien, deur tussenkoms van Estelle Wessels (hierin later na verwys as ‘Wessels’), ingevolge waarvan AT Grain graan by Du Preez sou koop. Lewering van die graan sou geskied deur oorhandiging van die silosertifikate wat deur NWK uitgereik was en wat die besonderhede van die graan bevat het byvoorbeeld soort, hoeveelheid en plek van opberging daarvan. Daarna het Du Preez die silosertifikate in blanko onderteken en by ABSA se Lichtenburg tak ingehandig, waarna dit geëndosseer was op naam van Greater Grain BK (hierin later na verwys as ‘Greater Grain’) en daarna aan ABSA self. Laasgenoemde handelinge is deur Hantie Steenkamp, ‘n werknemer van die betrokke tak van ABSA verrig.

 

[6] In die Beyplas-saak het Mnr Beyers, ‘n direkteur van Beyplas, ‘n skriftelike ooreenkoms met AT Grain gesluit, waarna dieselfde plaasgevind het as in die Du Preez aangeleentheid.

 

[7] Beide Du Preez en Beyplas beweer dat die silosertifikate ingevolge ‘n mondelinge ooreenkoms met Hantie Steenkamp aan ABSA in blanko geëndosseer en oorhandig was, wat ingehou het dat sy slegs die silosertifikate sou oorhandig aan AT Grain nadat betaling geskied het. In die lig van die feit dat betaling nie geskied het nie moes ABSA nie die silosertifikate oorgedra het nie en is Du Preez en Beyplas as die onderskeie eienaars daarvan geregtig op teruggawe daarvan.

 

[8] Hierteenoor betwis ABSA die bestaan van die mondelinge ooreenkoms en beweer dat Du Preez en Beyplas elkeen aan ‘n skriftelike ooreenkoms met AT Grain gebonde is, ingevolge waarvan ‘n kredietkoop gesluit was. Hulle was verplig om die silosertifikate te onderteken en by ABSA tot voordeel van AT Grain in te handig. Beide sou eers later betaling ontvang en AT Grain het dus eienaar geword, omdat die silosertifikate met die nodige bedoeling aan AT Grain gelewer en aldus ontvang was.2 Die werklike rede vir die inhandiging van die silosertifikate by ABSA word dus in die skriftelike ooreenkoms tussen AT Grain aan die een kant en Du Preez en Beyplas aan die ander kant gevind. Verder beweer ABSA dat AT Grain die graan aan Greater Grain verkoop en gelewer het wat dit weer op hul beurt aan ABSA se korporatiewe- en aksepbank verkoop en gelewer het en wat betaling ten aansien daarvan aan Greater Grain gemaak het. ABSA het dus die eienaar van die silosertifikate, asook van die graan, geword.

 

[9] Dit is Du Preez en Beyplas se saak dat die betrokke silosertifikate deur ABSA gehou moes word totdat betaling ontvang is. Beide se bewering in hierdie verband is die volgende:

‘Dit was egter nie vir my aanvaarbaar (om die sertifikate te onderteken) nie aangesien ek eers met my bank te Lichtenburg die aangeleentheid wou bespreek. Vir hierdie doel het ek na ABSA Lichtenburg gegaan en in gesprek met Steenkamp getree. Sy het my meegedeel dat ABSA inderdaad betrokke is by voormelde aangeleentheid. Sy het verder bevestig dat die silosertifikate by die Lichtenburg tak ingelewer word en deur ABSA in veilige bewaring gehou sal word totdat betaling ontvang is, daarna individueel na die onderskeie boere se rekening oorgeplaas word, waaropvolgend die sertifikate aan AT Grain gelewer sal word.’

 

[10] In antwoord hierop verklaar Knipe, ‘n Bestuurder van die appellant (en bevestig deur Steenkamp), die volgende:

‘Sy het geen herinnering van enige persoonlike gesprek met die applikant nie. In die algemeen gesproke ontken sy egter nie dat sy onder die indruk was dat die betrokke boere (en dus ook die applikant) moes toestemming gee vir die vrylating van die silosertifikate nie. Sy bevestig egter ook dat sy nie die silosertifikate uit haar besit sal laat gaan sonder goedkeuring van Korporatiewe Bank nie.’

 

[11] Dit behoef geen betoog dat bogemelde bewerings van Steenkamp ‘n halfhartige ontkenning is en nie werklik ‘n feitedispuut daarstel nie, indien in isolasie beoordeel word.

 

[12] Indien die eedsverklaring van Knipe, ABSA se Bestuurder Globale Handels- en Kommoditeitsfinansiering in ag geneem word, blyk dit dat dit ABSA se praktyk is om nie betrokke te raak by die ooreenkoms tussen die produsent en die graanhandelaar nie. Die verhouding tussen graanhandelaar en produsent is iets wat nie deur ABSA gemonitor word nie. ABSA bemoei hom ook nie met die wyse waarop die graanhandelaar die silosertifikaat bekom nie en ook nie met die metode of tydstip van betaling waarop die graanhandelaar en produsent besluit nie. Dit blyk verder dat Steenkamp inelkgeval ontken dat die geld ‘individueel na die onderskeie boere se rekening oorgeplaas’ sou word aangesien talle van die boere al hier ter sprake nie rekeninge by ABSA gehad het nie.

 

[13] Wat Du Preez se gesprek met Gert Nel van ABSA betref, is dit duidelik dat dit ‘n oppervlakkige gesprek was op ‘n stadium toe Nel nie volledig kennis gedra het van al die feite onderliggend tot die bewaring van die sertifikate nie. In die geheel gesien, word Du Preez en Beyplas se bewerings dus wel in geskil geplaas.

 

 

 

REGSPOSISIE

 

[14] Al sou daar in die guns van Du Preez en Beyplas aanvaar word dat daar nie ‘n werklike feitedispuut op die stukke is nie, moet die Hof, alvorens dit ‘n finale bevel sou verleen, steeds tevrede wees dat die bewerings in hul funderende eedsverklarings inherent geloofwaardig is. In Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd 1984 (3) SA 623 (A) verklaar Corbett AR op 634I-635B die volgende:

‘The power of the Court to give such final relief on the papers before it is, however, not confined to such a situation. In certain instances the denial by respondent of a fact alleged by the applicant may not be such as to raise a real, genuine or bona fide dispute of fact. . .If in such a case the respondent has not availed himself of his right to apply for the deponents concerned to be called for cross-examination under Rule 6(5)(g) of the Uniform Rules of Court. . .and the Court is satisfied as to the inherent credibility of the applicant’s factual averment, it may proceed on the basis of the correctness thereof and include this fact among those upon which it determines whether the applicant is entitled to the final relief which he seeks.’

(My beklemtoning).

 

[15] Daar is ook sekere onwaarskynlikhede in Du Preez se weergawe wat ‘n skadu werp op sy geloofwaardigheid, indien bloot op die stukke beoordeel word. Hy beweer in sy funderende eedsverklaring dat die silosertifikate as ‘sekuriteit’ by ABSA ingehandig is. Op die stukke is dit duidelik dat hier nie sprake kan wees van sodanige sekuriteit nie en blyk dit ook nie ten opsigte waarvan dit as sekuriteit sou dien nie. In repliek poog hy om dit op te klaar deur die volgende te vermeld:

‘Die woord sekerheid sou dalk ‘n beter woordkeuse gewees het omdat die gegewe omstandighede. . .’

Dit volg dus dat daar nie bevind kan word dat viva voce getuienis nie die oorwig van waarskynlikhede, soos blyk uit die stukke, sal versteur nie.3

 

[16] Beide Du Preez en Beyplas se ooreenkoms met AT Grain is die standaard ooreenkoms wat gesluit word tussen AT Grain en hulle produsente. Gemelde ooreenkoms stipuleer optrede van die produsente wat moeilik versoenbaar is met die ooreenkoms wat hulle na bewering met ABSA gehad het, byvoorbeeld die produsent moet die silosertifikate aan AT Grain lewer sodra hulle in besit daarvan gekom het. Die belangrikste bepaling is die feit dat eiendomsreg nie voorbehou word in die AT Grain ooreenkoms totdat betaling van die graan geskied het nie. Du Preez en Beyplas se bewerings word verder weerspreek deur sekere van die bedinge vervat in die ‘silosertifikaat mandaat’.4 Wessels se weergawe is dat sy deur Steenkamp versoek was om sogenaamde kwitansies te teken as bewys van die silosertifikate wat ontvang is en dat sy in elkgeval nie magtiging gehad het om dit namens die betrokke kliënte te teken nie. Wat Wessels betref, onstaan die vraag wat haar rol in die hele debakel was en namens wie sy opgetree het. Aanduidings is dat òf sy òf Steenkamp vir Du Preez en Beyplas bedrieg het. Dit is egter aspekte wat deur middel van viva voce getuienis opgeklaar kan word.

 

[17] In die geval van Beyplas is daar ‘n verontrustende aspek wat die geloofwaardigheid van deponent Beyers in gedrang bring. In antwoord op sy eedsverklaring het ABSA daarop gewys dat Beyers besig was om in die ipsissima verba van Du Preez getuienis te gee aangesien dit opmerklik was dat beide deponente se bewerings in dieselfde woorde weergegee is. Daar is ook gewys op verskillende botsende aspekte in hierdie eedsverklaring. In sy repliserende eedsverklaring beweer Beyers dat hy nie die funderende eedsverklaring ‘in besonderhede gelees’ het nie. Hy was ook nou genoodsaak om te erken dat Theart, ‘n ander lid van Beyplas, die getekende silosertifikate aan Steenkamp oorhandig het maar beweer hy dat hy daarna ‘geskakel’ en ‘telefonies’ Theart se reëling met haar bevestig het. Hierdie optrede van Beyers in die Beyplas-aangeleentheid is van sodanige aard, dat sy inherente geloofwaardigheid op die stukke onbevredigend is.5

 

[18] Dit volg dus uit die voorgaande dat, in die lig van die feite dispute tussen die partye tesame met die vraagteken wat hang oor die inherente geloofwaardigheid van die betrokke deponente, die Hof a quo fouteer het om die aangeleentheid op die stukke te besleg. Weens die omvang van die feite dispute is dit ook ‘n gepaste geval om te voldoen aan die versoek van die advokaat namens die appellant, naamlik om die aansoek vir verhoor te verwys.6

 

AANSOEK OM OORPLASING IN GEVOLGE ART 9 VAN DIE HOOGGEREGSHOF WET, 1959

 

[19] Appellant het in die Hof a quo onsuksesvol aansoek gedoen dat die huidige aansoeke ooregeplaas word na die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof, met die gedagte om dit te konsolideer met 57 ander soortgelyke sake. Dit is die appellant se saak dat die geskilpunte in al hierdie sake wesenlik dieselfde is en dat dus gerieflik gelyktydig aangehoor en afgehandel kan word.

 

[20] ‘n Hof kan in gepaste gevalle ‘n oorplasing van verrigtinge van een afdeling na ‘n ander beveel.7 Alvorens dit sal geskied moet die applikant die Hof oortuig dat daar ‘n oorwig van gerief ten gunste van die oorplasing is.8 Die gerief van die partye, die gerief van die Hof en die algemene afhandeling van die geding sal in ag geneem word.9

 

[21] Die advokate namens Du Preez en Beyplas onderskeidelik, het die aansoek geopponeer en aangevoer dat sodanige oorplasing, en moontlike gepaardgaande konsolidasie van sake, ongerieflik sal wees vir Du Preez en Beyplas, aangesien die feitedispute in verskeie opsigte verskil. In hul geval is dit baie eng wat binne ongeveer tien dae besleg sal kan word, teenoor etlike maande wat dit in die TPA sou duur, indien die huidige aansoek toegestaan sou word.

 

[22] Dit blyk dat ‘n verhoordatum in die TPA-saak toegeken is vanaf Julie 2007 tot Desember 2007 om ononderbroke te loop. Dit is egter twyfelagtig om binne die bestek van een maand die voorgenome aansoek om konsolidasie af te handel èn behoorlik vir die verhoor voor te berei. Dit beteken dat gemelde verhoor uitgestel kan word, ten einde Du Preez en Beyplas te akkommodeer, met enorme koste-implikasies. ‘n Verdere faktor wat in ag geneem moet word is die feit dat Du Preez en Beyplas se regsspanne vir etlike maande betrek gaan word in ‘n verhoor waarin hulle ‘n baie beperkte belang het.

 

[23] Dit volg dus dat die oorwig van gerief nie die oorplasing van die huidige sake begunstig nie. By gevolg kan die aansoek dus nie slaag nie.

 

AANSOEK INGEVOLGE ART 22 VAN DIE HOOGGEREGSHOFWET 1959

 

[24] Na uitspraak van die Hof a quo was daar sekere verwikkelinge wat ABSA voor hierdie Hof wou plaas ingevolge gemelde aansoek, ten einde hulle regte te beskerm. Om die redes hierinlater vermeld, behoort gemelde aansoek toegestaan te word.

 

[25] Dit blyk dat tydens die aanhoor van ABSA se aansoek om verlof om te appelleer daar twee verdere aansoeke ter sprake was. Du Preez het ingevolge Hofreël 49 (11) verlof gevra vir onmiddellike eksekusie indien verlof om te appelleer aan ABSA toegestaan sou word, terwyl ABSA gevra het vir ‘n interdik ingevolge waarvan Du Preez verbied sou word om met die silosertifikate te handel tot na afloop van ‘n verdere aansoek om verlof om te appelleer na hierdie Hof, indien die Hof a quo die aansoek om verlof van die hand sou wys.

 

[26] Dieselfde het ook geskied in die Beyplas geleentheid. Alhoewel die Hof a quo ABSA se aansoek om verlof om te appelleer van die hand gewys het, het dit op daardie stadium geensins gehandel met laasgenoemde aansoeke nie. Nieteenstaande Du Preez en Beyplas se kennis van die hangende aansoek om ‘n interdik, en ABSA se aanduiding dat dit hierdie Hof vir verlof sou nader, het beide op dieselfde dag as wat die aansoek om verlof van die hand gewys was, naamlik 6 Oktober 2005, eksekusie gehef deur die silosertifikate te bekom, dit te verkoop en die opbrengs toegeëien. Die resultaat is dat beide Du Preez en Beyplas nie in staat is om die silosertifikate terug te gee indien die huidige appèl suksesvol sou wees nie.

 

[27] Bogemelde optrede is onaanvaarbaar en behoort nie toegelaat te word nie aangesien die partye vir hulself ‘n onbillike prosedurele voordeel skep wat grens aan regsverydeling. In hierdie verband verklaar Cloete R die volgende in Fedsure Life Assurance v Worldwide African Investment Holdings 2003 (3) SA 268 (W) op 276B-C:

‘As a matter of principle, and save perhaps in exceptional cases (of which the present is not one, in my view), a successful litigant who knows that an appeal is pending should not be permitted to present an appeal Court with a fait accompli brought about by its own voluntary conduct subsequent to the judgment appealed against and which relates to the subject matter of the appeal, and seek to have the appeal determined on the basis of such conduct ─ particularly where such conduct is inimical to the interests of the appellant.’

 

[28] ‘n Hof het die inherente bevoegdheid om ‘n misbruik van die hofproses te voorkom deur die belange van die benadeelde litigant te beskerm.10 In die omstandighede is ABSA dus geregtig dat sekuriteit gestel word vir die verkoopprys van die betrokke silosertifikate. Mnr Wepener, namens ABSA, het aan die hand gedoen dat Du Preez en Beyplas gelas word om alle tersaaklike dokumente ten opsigte van die verkoop van die silosertifikate te verifieer en binne vyf dae aan die Griffier te lewer. Hy het verder versoek dat sekuriteit de restituendo tot bevrediging van die Griffier vir die waarde van die silosertifikate in geskil, verskaf word. Alhoewel dit gepas is, na my mening, dat Du Preez en Beyplas gelas word om sekuriteit te stel, soos versoek, het ek ‘n probleem om die Griffier te belas met die vasstelling van die omvang daarvan. Die enigste bevoegdheid van die Griffier in hierdie verband, is die bepaling van die bedrag ten opsigte van die sekuriteit vir koste, soos in die vooruitsig gestel deur Hofreël 47 (2) en (6). Indien Du Preez en Beyplas sou poog om para 3(b) van die bevel te ontduik, of versuim om daaraan te voldoen, sal ABSA geregtig wees om die Hof te nader vir die nodige regsverligting, met ‘n gepaste kostebevel. Die verkoopprys van graan op SAFEX op 6 Oktober 2005, synde datum van eksekusie, is openbare kennis, en behoort dit nie moeilik vir ABSA te wees om dit vas te stel nie. Indien Du Preez en Beyplas ‘n ander prys elders verkry het, staan dit hulle vry om hierdie inligting aan ABSA te openbaar.

 

[29] Wat koste betref, is namens ABSA betoog dat ‘n bestraffende kostebevel verleen moet word ten opsigte van hierdie aansoek. Alhoewel hier sprake is van laakbare optrede aan Du Preez en Beyplas se kant, is dit, na my mening, nie van so ‘n ernstige aard om hulle met ‘n bestraffende kostebevel te penaliseer nie. Alhoewel hulle fouteer het, het hulle klaarblyklik die betrokke silosertifikate te gelde gemaak omdat hulle geglo het dat dit hulle s’n was.

 

[30] In die lig van die slotsom waartoe geraak is, is dit onnodig om te handel met die ander argumente geopper deur ABSA se advokaat.

 

[31] Bygevolg word die volgende bevele verleen ten opsigte van beide saak nr 343/06 en saak nr 344/06:

1. Die appèl slaag met koste, welke koste sal insluit dié verbonde aan twee advokate.

2. Die bevel van die Hof a quo en die bevel nisi, met gepaardgaande kostebevele, word ter syde gestel en vervang met die volgende:

‘(a) Die aansoek word na verhoor verwys.

(b) Die koste van die aansoek sal koste in die geding wees.

(c) Die kennisgewing van mosie sal as enkelvoudige dagvaarding en die antwoordende eedsverklaring as ‘n kennisgewing van voorneme om te verdedig staan.

(d) Die applikant word gelas om ‘n deklarasie te liasseer binne 30 dae vanaf datum van hierdie bevel.

(e) Die teenaansoek ingevolge art 9 (1) van die Wet op Hooggeregshof, 1959 (Wet 59 van 1959) word afgewys met koste.’

3. (a) Die aansoek ingevolge art 22 van die Wet op Hooggeregshof, 1959 (Wet 59 van 1959) slaag met koste.

(b) Die deklarasie in 2(d) hierbo mag nie afgelewer word alvorens die eerste respondent sekuriteit de restituendo vir die verkoopprys van die sertifikate in geskil, verskaf het nie.

(c) Indien die eerste respondent versuim om aan bevele 2(d) en 3(b) hierbo te voldoen, word verlof aan ABSA verleen om die saak op die rol te plaas en vonnis te neem vir die verkoopprys van gemelde silosertifikate.

 

 

___________________

S P B HANCKE Wn AR

 

STEM SAAM:

 

SCOTT AR

HEHER AR

1 Vir doeleindes van hierdie uitspraak is dit onnodig om volledig met die betekenis en regsgevolge van ‘n silosertifikaat te handel. Sien die artikel van S F du Toit The legal nature of silo receipts used in the future’s market and bills of lading Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg (TSAR 2007.1) p 56 en verder.

2‘Transferring the silo receipt will effect the transfer of the right to delivery embodied in the silo receipt, and may lead to the delivery of the grain in the silo, and thus potentially also to the passing of ownership of the grain if all requirements for the passing of ownership are met. Acquisition of the silo receipt is necessary for the new holder to become owner of the document and to be able to enforce the rights embodied in it.’ (TSAR 2007.1 op. cit. p 64.)

3Administrator Transvaal v Theletsane 1991 (2) SA 192 (A) te 197B; Trust Bank van Afrika Bpk v Western Bank Bpk 1978 (4) SA 281 (A) te 294C-E.

4 In Klousule 1.2 daarvan word magtiging aan ABSA verleen om die sertifikaat namens die kliënt te verhandel en oor te dra terwyl ‘n latere bepaling die bank se aanspreeklikheid uitsluit vir enige verlies of skade hoegenaamd wat dit mag ly met ‘n verdere bepaling dat alle handelinge op die produsent se eie risiko geskied. Insiggewend is die feit dat in beide sake betaling uitgestel was; in die Du Preez-saak sou betaling op 30 Maart 2005 en in die Beyplas-saak op 5 Maart 2005 geskied het.

5Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd, supra, p 635.

6Conradie v Kleingeld 1950 (2) SA 594 (O) te 597; Oblowitz v Oblowitz 1953 (4) SA 426 (K) te 434F-H.

7Artikel 9(1) van die Wet op Hooggeregshof 59 van 1959 lui soos volg:

‘Indien ‘n siviele geding of verrigtinge of ‘n saak in ‘n provinsiale of plaaslike afdeling aanhangig gemaak is, en dit vir die betrokke Hof blyk dat dit met groter gerief of gepastheid in ‘n ander afdeling verhoor of beslis kan word, kan daardie Hof, op aansoek van ‘n party daarby en nadat al die ander partye daarby aangehoor is, gelas dat die geding, verrigtinge of saak na daardie ander afdeling oorgeplaas word.’

8Kelly v Malherbe 1939 (2) PH F123; Swallow v Swallow 1947 (2) PH F91.

9Smith v Wilson and Another 1949 (3) SA 537 (N); Mulder and another v Beacon Island Share Block Ltd 1999 (2) SA 274 (K) te 277B-C.

10Western Assurance Company v Caldwell’s Trustee 1918 AD 262 veral te 271; Ecker v Dean 1937 AD 254 veral te 259.

▲ To the top